Die Gees maak ons tot kinders van God.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-10-12
Text: 
Romeine 8
Preek Inhoud: 

Romeine 8:15-17

Ds. C. Kleyn - Sondag 12 Oktober 2003

Lees: Romeine 8:1-30.
Sing: SB. 28:1,2; SB. 28:3,4; Ps. 103:6,7;
SB. 33; Ps. 33:11.

Tema: Die Gees maak ons tot kinders van God.

  1. Ons is geen slawe meer nie;
  2. Ons is vrye kinders; en
  3. Ons is erfgename van God.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe ervaar julle die lewe in die verbond? Is dit ’n
plesier om in die verbond te verkeer? Om deel van God se gesin te
wees? Voel jy jou ryk in die verbond met die Here? En gelukkig?
Skep die verbond nie allerlei verpligtings nie. In jou
persoonlike lewe? In jou huwelik en gesin? In die opvoeding van
jou kinders, in jou lewe as kind. Skep dit nie verpligting, by
die skool, in jou lewe as student, by die werk, in jou vermaak
nie. Wat ’n verpligtings! Jy kom nooit los van die verbond
nie. Nooit los van die beloftes en eise nie.

En watter eise! Luister maar na die doopsformulier: "Daarom
word ons ook weer deur God in die doop geroep en verplig tot
’n nuwe gehoorsaamheid. Om moet naamlik hierdie enige God,
Vader, Seun en Heilige Gees aanhang, vertrou en liefhê met ons
hele hart, met ons hele siel, met ons hele verstand en met al ons
kragte; ons moet van die wêreld afsien, ons ou natuur doodmaak
en ’n godvresende lewe lei." Wat ’n
allesomvattende verpligting! Niks val daarbuite nie. Selfs nie my
privaat lewe nie, my ontspanning en vermaak nie, my sport en
musiek.

Miskien het jy die afgelope week geswoeg en geslaaf. Sodat jy
elke dag weer moeg en uitgeput gevoel het. As jy dan ook nog naas
jou daaglikse werk allerlei verantwoordelikhede in die kerk het,
dan kan dit lyk asof daar vir jou geen rus is nie. Jy voel jy kan
nie ontspan nie. Jy voel opgejaag deur al jou verpligtings.

Seuns en dogters, broers en susters, hoe ervaar julle dit om
in die verbond te lewe? Verstaan julle waaroor dit gaan? Om dit
goed te verstaan moet jy God se vaderskap bly raaksien en dat jy
’n kind van Hom is. As daardie werklikheid jou nie beheers
in al jou werk, gebede en uitkyk op die lewe nie, dan maak jy die
lewe in die verbond onmoontlik. Die vaderskap van God en jou kind
van Hom wees is die geheim van die lewe in die verbond.

Laat ons vanoggend daarop fokus wanneer ek vir julle verkondig:
die Gees maak ons tot kinders van God

  1. ons is geen slawe meer nie
  2. ons is vrye kinders
  3. ons is erfgename van God.

Romeine 8 vorm ’n duidelike hoogtepunt in Paulus se brief
aan die gelowiges te Rome. In die voorgaande hoofstukke het
Paulus breed oor die verlossingswerk van Christus gepraat. In
hoofstuk 8 trek hy konklusies. Elkeen wat in die Here Jesus glo,
mag in sy oorwinning roem. Jy staan dan nie meer onder die mag
van die sonde, die wet en die dood nie. Jy mag dan lewe onder die
heerskappy van die Gees. Die Gees van Christus het dan die
leiding oor jou gekry. "Want almal wat deur die Gees van God
gelei word, die is kinders van God." Dit beteken ’n
radikale ommekeer in jou lewe. Slawe van die sonde gaan as
kinders van God wandel.

Paulus waarsku onmiddellik vir ’n misverstand. Wanneer
die Heilige Gees ons lei, dan beteken dit nie dat ons opnuut
onder ’n slawejuk kom nie. "Julle het nie ontvang
’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het
ontvang die Gees van aanneming tot kinders." Let op die
teenstelling tussen slawerny en aanneming tot kinders.

Slawerny, wat is dit? Ja, wat is dit om ’n slaaf te wees?
’n Slaaf is die eiendom van sy heer. Hy is gekoop om vir die
eienaar te werk. Sy waarde lê juis in die werk wat hy vir sy
heer kan doen. Hy moet die bevele van sy heer opvolg. Doen hy dit
nie dan kom hy in moeilikheid. Hy moet presteer. Om gewaardeer te
word. Om waarde te hê. So word sy lewe deur vrees beheers.
Presteer ek wel voldoende? Het ek my heer wel tevrede gestel?

Wat ’n verskil met die kinders van die eienaar. Hulle het
’n totaal ander posisie. Hulle het ’n vertroulike band
met hom. Hulle noem hom pa, vader. Jy hoef as kind nie te werk om
vir pa waardevol, dierbaar te wees nie. Jou waarde hang nie af
van wat jy presteer nie. Natuurlik is dit pragtig as jy ook iets
presteer, maar ook voordat en sonder dat jy dit doen is jy
dierbaar vir jou pa. Jy is immers sy kind. Jy mag deel in pa se
besit. Sy huis is so te sê jou huis. Sy grond is jou grond. En
wanneer jy kan werk dan doen jy dit in ’n ander gees. Nie as
’n slaaf nie, maar as ’n kind wat pa uit liefde wil
help, as een wat werklik belangstel in die pa se dinge.

Broeders en susters, die lidmate van die gemeente te Rome was
eertyds Jode en heidene. Moontlik was hulle toe ook baie
godsdienstig en vroom. Maar op ’n joodse of heidense manier.
Daardeur was hulle in al hul godsdienstigheid slawe. Deur angs en
vrees beheers.

Kom ons kyk na ’n Jood wat in daardie tyd geleef het. Hy
leef uit die wet. Nie volgens die onderrig wat die Here in die Ou
Testament aan sy volk gegee het nie. Want as jy daarna luister,
het jy vrede met God. Die regverdiges, ook onder die Ou verbond,
wat God se beloftes glo en na sy vaderlike onderwysing leef, is
geen slawe nie, maar kinders van God. Maar die Jode het van die
heerlike wet ’n swaar juk gemaak. Hulle het die Vader nie
meer as Vader gesien nie. Hulle het nie van sy genade geleef nie,
maar hulle wou deur hul werke die guns van die Here verdien. Die
Fariseërs het die volk opgejaag met hul gebod op gebod, reël op
reël. Die mense het gesug en geswoeg om maar die vrede met God
te verkry. Hulle het gedink dat hulle eers rustig kon wees as hul
goeie prestasies hul slegte dade oortref het. Hulle was beheers
deur ’n gees van slawerny. En van vrees.

Met die heidene is dit nie baie anders gestel nie. Heidense
godsdienste kom met allerlei verpligtings. Deur al die pligte na
te kom moet jy die guns van die gode verkry. Maar jy weet nooit
reg of dit wel genoeg is, wat jy doen. Jy bly ’n slaaf en
vind nooit egte rus nie. Dieselfde geld vir die Moslems. Hulle is
nie kinders van ’n hemelse vader nie. Allah is nie ’n
vader nie, maar ’n ontoeganklike heerser wat onderwerping
eis.

Gemeente, Paulus skryf vir ons: Julle het nie ontvang ’n
gees van slawerny om weer te vrees nie. Kenmerkend vir die
gemeente van Christus is: lewe sonder vrees. Lewe sonder die
vrees wat daar altyd is wanneer jy jouself moet probeer verlos,
wanneer jy self vir ’n goeie verhouding met God moet sorg.
Op die pad word jy voortgejaag. Dan is daar steeds weer die vrees
wanneer jy die balans opmaak.

Aan die tyd van slawerny het vir ons ’n einde gekom.
Deurdat die evangelie ons bereik het en die Gees ons geloof gegee
het. Die Heilige Gees dryf ons nie weer tot slawerny nie. Hy wil
nie sien dat jy as ’n slaaf lewe nie, vol angs vir die sweep
van die harde meester. Hy wil jou as vrye kinders laat lewe. Die
heilige Gees is immers die Gees van die aanneming tot kinders. Hy
is die Gees van die genade en die gebede. Hy leer ons om as
kinders met Vader om te gaan. Hy leer ons om ons saligheid buite
onsself in Jesus Christus te soek. Hy leer ons om uit genade
alleen te leef. Hy maak ons van slawe tot kinders, van diensbare
mense tot vrye mense. Wat is dit ’n bevryding om te leer
sien dat die Here geen behae in slawediens het nie, maar in die
blydskap van sy kinders.

Maar nou die praktyk. Hoe leef ons in die verbond met die
Here? Besef jy wel voldoende wie jy in Christus is? Dat jy ’n
vrye kind is? Leef ons soms ook nie met ’n slawe mentaliteit
nie? Ek sien God dan as ’n harde meester wat onderwerping
eis. En dan is ek eintlik nie lus om baie vir Hom te doen nie. As
ek die kans kry, dan probeer ek om sy strenge oë te ontduik om
my eie dinge te doen. Om te geniet van die lewe. So kry jy die
uitspattings waarby ons ons misgaan. Sondag voor die oë van die
kerkmense doen ek dan my deel, maar daarbuite, gelukkig sien
hulle dit nie. Dis soos slawe dikwels teenoor hul heer gedoen het
en werkers dit vandag nog dikwels teenoor hul base doen. As die
baas in die omgewing is, dan word hard gewerk, maar sodra die
baas weg is dan verslap hulle. Jy stel dan eintlik geen belang in
die baas se bedryf nie, as jy maar jou baas tevrede kan hou en jy
jou loon kry. Jy wil dan niks meer doen as wat streng nodig is
nie. Seun, dogter, broer, suster, is dit hoe jy in die verbond
lewe? Soos ’n werker teenoor sy baas?

Hoe anders is die verbond bedoel. Ons het mos nie ontvang
’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar ons het
ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep:
Abba, Vader. So kom ons by die tweede gedagte van die preek: ons
is vrye kinders van God.

Ons is geen slawe meer nie, maar kinders van God. Ons noem
hierdie werklikheid asof dit die gewoonste saak van die wêreld
is. Maar wat is dit ’n geweldige wonder. Om kinders van God
te wees. Om die regte van kinders te hê. Om van God se guns te
geniet. Om God se liefde en genade te mag deel. Om kinderpligte
te mag hê. Ja, om dit te mag hê. Is dit nie heerlik om God as
Vader te mag eer en dien nie? En as kinders te mag sê: Vader?
Teen die groot, magtige en barmhartige Vader van ons Here Jesus
Christus? Is dit nie werklik salig nie?

Wat ’n verskil tussen slawe en kinders. Om dit skerp te
sien moet jy maar kyk na Jesus Christus, die enige natuurlike en
sondelose Seun van God. Hoe was Jesus se verhouding met die
Vader? Het Hy die werk van die Vader gedoen net omdat Hy geen
ander keuse gehad het? Was daar by hom oëdiens, ’n poging
om voor die oog Vader te behaag terwyl Hy heimlik anders was?
Christus sê self vir sy dissipels: My voedsel is om die wil te
doen van Hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring (Joh 4:34).
Dit was sy lus en lewe om die wil van sy Vader te doen. Dit het
sy hele doen en late bepaal, deurtrek. Hy het werklik
belanggestel in Vader sy Naam, Vader se koninkryk, Vader se wil.
Daarom het hy van harte die wil van Vader gedoen. Hy was ook
voortdurend in kommunikasie met die Vader. Hy het hele nagte met
Vader gepraat, gebid. ’n Vertroulike omgang met Vader gehad.

Nou gemeente, dieselfde houding wat Jesus Christus teenoor sy
Vader gewys het, mag ons ook teenoor die Vader hê. God het ons
uit genade tot sy kinders aangeneem. Deur Jesus Christus. En die
Gees laat dit vir ons ’n werklikheid wees. Hy leer ons om te
roep: Abba, Vader. Ons mag kinders van God wees, broers en
susters van Jesus Christus. Daarom praat Christus ook kort voor
sy hemelvaart van my Vader en julle Vader, en my God en julle God
(Joh 20:17). Is dit nie geweldig nie? In 1 Johannes 3:1
teken Johannes ons kind van God wees as die uitnemende gawe van
God se liefde. "Kyk wat ’n groot liefde die Vader aan
ons gegee het, dat ons kinders van God genoem kan word!".

Soos Christus mag ons eerbiedig en vrymoedig tot Vader gaan.
Omdat ek kind en geen slaaf is nie, is Vader se Naam, Vader se
koninkryk, Vader se wil vir my dierbaar. Dit het my volle
belangstelling. Dis my lus en lewe om daarmee besig te wees. Ek
het immers met ’n liefdevolle Vader te doen en nie met
’n harde, ontoeganklike Heerser nie. Dan leef ek nie in die
gees van: ek hou my aan ’n aantal reëls van die Here en van
die kerk en dit moet dan voldoende wees. Dan is dit vir my ook
nie ’n vraag of ek alles in die Bybel ernstig moet opneem
nie? Die hele bybel is immers die woord van my Vader, sy
liefdesbrief. Dan het ek ook geen behoefte om te knaag aan die
rand van God se geopenbaarde wil nie om te sien wat net net
aanvaarbaar is of nie. Ek wil my Vader in alles behaag.

Dit beteken nie dat ek dan soveel werkies in God se kerk en
koninkryk aanneem, sodat ek geen enkele aand tuis kan wees nie,
dat ek nooit my kan ontspan nie. God is geen slawedrywer nie. Hy
vra nie meer as wat verantwoord is nie. Hy wil vrye en blye
kinders sien. Wat met vreugde hulle vir sy saak inspan. Nie
oorwerkte arbeiders nie.

Die Heilige Gees leer ons en spoor ons aan om Abba, Vader te
roep. Hy doen dit deur die evangelie op ons hart te bind. Deur
ons God se grondelose barmhartigheid voor te hou. Deur ons te wys
op die bloed van Jesus Christus wat van alle sondes reinig. So
leer Hy ons roep: Abba, Vader. Uit die grond van ons hart. Met
vaste oortuiging. Met volle vrymoedigheid. In volle
geloofssekerheid. Dit mag. Dit moet selfs. Dit wil die Here. Dis
behaag Hom. Dat ons Hom aanspreek met die heerlikste van alle
name: Abba, Vader.

Ter wille van sy Joodse en Grieks sprekende lesers noem Paulus
die aramese en die griekse woord vir Vader. Jy mag God in jou
moedertaal Vader noem. In die taal wat jou die meeste aanspreek.
In kinderlike vertroue. God is vir jou nie ’n vreemde verre
God nie, maar ’n liefdevolle Vader. Met wie jy vertroulike
omgang mag hê.

Wat ’n voorreg om God almagtig so te mag aanspreek. Is
daar enige vader wat jy met Hom kan vergelyk. Hy is almagtig en
volmaak in sy liefde en trou. Hy is die ewige God wat jou nooit
ontval nie. Hy kan en wil en sal in nood, selfs as ons sidder vir
die dood, volkome uitkoms gee. Hier het jy ’n Vader wat
werklik belangstel in jou lewe. In jou teleurstelling en
verdriet, in jou stryd en moeite. Wat werklik na jou luister. Wat
ook werklik kan help. Wat jou sondes vergewe en jou nuwe kragte
skenk. Hernude vreugde.

Gemeente, die roep van die naam Vader wat die Heilige Gees ons
leer, gebeur juis in die gebed. Die gebed is die mees kenmerkende
van die kind van God. Om my as ’n verloste kind van die
hemelse Vader te gedra, blyk eerstens in my gebed. Wanneer ek die
hoë, heilige God as Vader aanroep dan skitter my kind wees van
God. Daarom noem ons kategismus die gebed ook die vernaamste deel
van die dankbaarheid. Om teen die sonde te stry en om gehoorsaam
na God se wil te lewe is deel van jou kindwees van God. Maar die
eerste en belangrikste is die gebed. Daarin word die vertroulike
omgang met die Vader op sy sterkste beleef. Dis die Heilige Gees
wat ons voor alles leer roep: Abba Vader.

Van die Gees word ook gesê dat Hy saam met ons gees getuig
dat ons kinders van God is. Ons roep: Abba, Vader. Ons bely ons
geloof in God die Vader. Ons getuig daarmee dat ons kinders van
God is. Die getuienis staan nie alleen nie. In en met ons
getuienis getuig ook die Heilige Gees. Dink aan wat ons lees in
Gal 4:6: "En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy
Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader."
Saam met ons gees getuig die Heilige Gees dat ons kinders van God
is. Die Gees sê dit ons voor. Ons kan dit mos nie uit onsself sê
nie. En die Gees bly dit saam met ons sê.

Die duiwel kla my aan, saai twyfel: is ek werklik ’n kind
van God? Die wêreld vra spottend: is dit ’n kind van God?
Wanneer ek myself beproef, dan kan die twyfelvraag opkom: Is dit
moontlik? Ek met soveel sondes en swakhede ’n kind van God?
Maar dan rig die Heilige Gees my geloof op die evangelie van
Jesus Christus. Hy leer my opnuut om saam met die gemeente te
roep: "Ons Vader wat in die hemel is." En so getuig die
Heilige Gees met ons gees dat ons kinders van God is.

Gemeente, wanneer ons praat oor ons kind wees, dan moet ons
oppas dat ons nie aan die verkeerde kant begin nie. Moenie begin
by jou kind wees nie, maar by God se vaderskap. Sou jy as jy van
jouself uitgaan durf getuig dat jy ’n kind van God is? As jy
egter van die evangelie van God se liefde uitgaan, dan word dit
anders. God het sy eniggebore Seun gegee sodat ons in Hom tot
kinders aangeneem sou word. In die lig van die evangelie, wat in
die doop bevestig en verseël is, durf ’n mens weer Abba,
Vader roep. So weet ons weer: ons is kinders van God.

En as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en
mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly,
sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

Die derde gedagte: ons is erfgename van God.

Dat ek Vader mag sê, beteken ook dat ek erfgenaam is. Waarom
het mense in die ou tyd seuns aangeneem? Dit was om ’n
erfgenaam te hê, iemand wat die familienaam en besit kon
voortdra. Ons is ook aangeneem om erfgename te wees. Paulus
verwoord dit in ons teks. As ons kinders is, dan ook erfgename,
erfgename van God en mede-erfgename van Christus. Alle erfgoed
behoort aan die kinders. Daarom lees ons in 1 Kor 3:21-23: "Alles
behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus en Christus
aan God."

Wat ’n duiselingwekkende gedagte: "alles behoort aan
julle." Ons kry nie die honderdduisend nie. Ons wen nie die
5 miljoen nie. Ons erf alle dinge. Ons Vader is immers eienaar
van alle dinge, van die lug en die grond, van die hele skepping,
van die visse en die voëls, van die diere en die plante, van die
berge en die bosse, ja van alles. Daar is niks wat nie aan Hom
behoort nie. As kind mag ek deel in al die besit van Vader. Vader
sy huis is so te sê die kind se huis. Vader se engele is my
engele. Vader se wêreld is my wêreld. So is ek erfgenaam van
alles.

Hoe anders kyk ek dan aan teen die skepping waarbinne ek
’n plek het. Dis Vader se skepping en so ook myne. Iets waar
ek met liefde en sorg mee omgang. Die skatte wat hierdie aarde
oplewer, is Vader se skatte en so ook myne. Iets om met gebed en
danksegging te gebruik. Sou ek dan nie geniet van hierdie lewe
nie? As Vader se kind en erfgenaam? Daarom sê die Here ook in
Prediker 11: "Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat
jou hart vrolik maak in die dae van jou jonkheid … En dink
aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid."

Nee, dis nog nie sover dat alles ook werklik in ons hande is
nie. Ons erfenis word nog bestry. Vader, die eienaar, word nog
misken. Sy eiendom word verskriklik misbruik. So noem Paulus ook
die lyding saam met Christus. "As ons naamlik saam met Hom
ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word."

Saam met Christus ly, wys nie net op vervolging, martelaarskap
nie. Jy kan vanweë jou konsekwente liefde vir jou Vader en sy
skepping jou vriende verloor. Selfs van jou eie familielede
vervreemd raak. Jy kan jou werk en inkomste verloor. Jy kan
bespot, verag, verneder word. Maar jy hoef nie die moed verloor
nie. Jy is mos skatryk. Jou teenstanders kan nou onregmatig Vader
se besit hulleself toe-eien en misbruik. Maar eendag sal jy
regmatig alles van Vader kry. Jy sal saam in die heerlikheid van
Christus deel. Jy sal soos jou groot broer wees. Die sonde en die
dood wat alles nou nog bederf sal dan vir goed tot die verlede
behoort. Wat ’n geweldige vooruitsig. Iets wat my nou reeds
laat straal.

Seuns en dogters, broers en susters, verstaan julle die geheim
van die lewe in die verbond? Die groot geheim is dit dat jy kind
van die Vader mag wees. Nie ’n slaaf nie, maar kind en
erfgenaam. Jou Verlosser is jou broer. Jy is sy mede-erfgenaam.
Dit gee ’n heeltemal ander perspektief op die lewe. Op die
werk binne en buite die gemeente. Laat daarom die Heilige Gees
jou steeds weer daaraan herinner. Dit vir jou voorsê en dit saam
met jou sê: Abba, Vader. Dis die geheim van ’n christelik
lewe. Van ’n lewe wat God verheerlik. Van die lewe in die
verbond vir jonk en oud.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)