Laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-09-21
Text: 
Kolossense 2
Preek Inhoud: 

Kolossense 2:8,16-23

Ds. C. Kleyn - Sondag 21 September 2003

Lees: Kolossense 2:4-3:4.
Sing: Ps. 122:1,2; Ps. 115:1,2; Ps. 84:1,6;
Ps. 25:2,4,6,7; Ps. 115:8,9.

Tema: Laat julle nie weer onder die juk van
diensbaarheid bring nie.

  1. Vers 8: Laat niemand julle as ’n buit wegvoer nie;
  2. Vers 16: laat niemand julle oordeel nie; en
  3. Vers 18: laat niemand julle van jul prys beroof nie.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons gaan vanaand verder met die uitspraak van die Kat: Ons mag
God op geen ander manier vereer as wat Hy in sy woord beveel het.
Vorige week het ons reeds gekyk na die tekste waarna ons kat
verwys. Ons het toe gekonkludeer dat die woorde nie slegs wys op
die openbare eredienste nie. Dit sien ook op ons verering van God
in ons daaglikse lewe. In die verering van God moet ons altyd
laat lei deur wat Hy beveel het. Ons mag nooit in stryd daarmee
handel nie. Menslike oorlewerings mag daarom ook nooit oor God se
woord gaan heers nie. Ons het ook gesien dat God nie alles vir
ons daaglikse en openbare verering van Hom uitdruklik gebied het
nie. ons moet ons hou aan die skriftuurlike beginsels en riglyne.

Vanaand wil ons kyk na Kol 2. Verbied daardie gedeelte nie die
hou van feesdae nie? Word in daardie gedeelte nie gewaarsku teen
die misleiding van mense wat met allerlei voorskrifte kom wat
gebaseer is op die oorlewering van mense nie? En word dit nie as
eiesinnige godsdiens skerp afgewys nie?

Kom ons kyk na daardie hoofstuk, veral die verse 8 en 16-23

Indien ons ’n opskrif oor daardie gedeelte soek dan sou
ons Gal 5:1 daarvoor kan gebruik. Daar lees ons: "Staan dan
vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat
julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie".
Veral die laaste woorde: Laat julle nie weer onder die juk van
diensbaarheid bring nie.

Kol 2: 8-19 bestaan uit drie waarskuwings. Vers 8: Laat
niemand julle as ’n buit wegvoer nie; Vers 16: laat niemand
julle oordeel nie; Vers 18: laat niemand julle van jul prys
beroof nie.

Eerstens dan, laat niemand julle as ’n buit wegvoer nie.
Daar is blykbaar mense in Kolosse wat daarop uit om die
Kolossense se aanhang te wen. Erger nog. Mense wat hulle met
liggaam en siel as buit probeer wegvoer. Hulle probeer gevange
neem. Paulus waarsku: as jy jou geestelike vryheid liefhet, kom
nie naby hulle nie. Laat jy jou nie weer onder die juk van
diensbaarheid bring nie.

Die middele waardeur die kapers werk, noem Paulus die
wysbegeerte en nietige misleiding. Die twee woorde vul mekaar aan.
Wysbegeerte is op homself nie verkeerd nie. In ons teks gaan dit
egter oor wysbegeerte wat ’n nietige misleiding is en wat
hom bo die woord van God verhef. Teenoor die evangelie wat die
woord van die waarheid genoem word, staan hierdie wysgerige
gedagtes wat bedrieglik is, sonder inhoud. Blykens het vervolg
het ons waarskynlik hier te doen met asketisme (dis die leer dat
’n mens deur selfkastyding en onthouding van singenot na
volmaaktheid kan strewe) en mistiek.

Paulus wys vervolgens op die beginsel van hierdie sogenaamde
wysbegeerte. Dit is volgens die oorlewering van die mense,
volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens
Christus nie. Die wysheid het as maatstaf die oorlewering van die
mense. So word hierdie wysbegeerte op een lyn geplaas met die
gewone Judaisme, wat hom by die Joodse oorlewering aansluit.

Van die dwaling word verder gesê dat dit volgens die eerste
beginsels van die wêreld is. Die uitdrukking word ook in Gal 4
genoem. Die kan hier en in Gal 4 die materiële bestanddele van
die wêreld beteken. In Gal 4 beredeneer Paulus dat die lewe
onder die wet ook ’n lewe volgens die eerste beginsels van
die wêreld was. Mense was onderworpe aan die materie, aan die
elemente waaruit die wêreld bestaan, aan stoflike dinge. Ook al
is die dwaling in Kolosse nie presies dieselfde as die in Galasië
nie, onderwerp die dwaling die godsdienstige lewe ook aan die
materiele dinge waaruit die wêreld bestaan. Die stoflike dinge,
so het mense geleer, is onder die mag van die bose geeste.
Onthouding, askese verlos van die materie en die magte wat daarin
woon. So word die swaartepunt van die godsdienstige lewe weer
verplaas na die verhouding tot die stof waaruit die wêreld
bestaan.

’n Ander verklaring is dat die uitdrukking "volgens
die beginsels van die wêreld" sien op die elementêre
leringe van die wêreld, die ABC onderrig. Soos ’n kind wat
nog nie volwasse is, beheers word deur allerlei reëls en
voorskrifte, so was ons voordat die evangelie deurgebreek het,
slawe van die eerste beginsels van die wêreld. Hier kan dit dan
beteken die elementêre reëls en voorskrifte waardeur beide Jode
en Heidene geprobeer het om verlossing te verwerf.

Die oorheersende beginsel van die dwaling in Kolosse is die
oorlewering van mense en die eerste beginsels van die wêreld en
nie Christus nie. Met nadruk plaas Paulus die beginsels teenoor
mekaar. En nie volgens Christus nie. Dit het met Christus niks te
make nie. Dis in stryd met sy persoon en werk. Die verlossing
word eerder in mense gesoek as in Christus.

Gemeente die probleem wat Paulus in hierdie vers blootlê is
dus dat die mense vanuit ’n verkeerde beginsel dink en
handel. Christus se Persoon en werk is nie die uitgangspunt en
maatstaf nie, maar die gedagtes van mense en die eerste beginsels
van die wêreld. Daarom moet dit ten sterkste afgewys word. Hier
het ons so ongeveer dieselfde situasie as wat ons vorige week
gesien het nav Mt 15. Daar het die Joodse oorlewering ook hoër
gesag gehad as God se woorde. Wat mense sê en dink neem die plek
van die evangelie in.

Nou die tweede waarskuwing van Paulus. In die verse 9-15 leer
Paulus dat die gelowiges met Christus gesterf en opgewek is.
Daarna sê hy in vers 16: "Laat niemand julle dan oordeel in
spys of in drank of met betrekking tot ’n fees en nuwemaan
of sabbat nie." Paulus keur dit duidelik af dat ons mekaar
sou beoordeel of veroordeel op die punt van spys en drank. Dis
vergelykbaar met wat hy skryf in Rom 14:3: "Hy wat eet, moet
hom wat nie eet, nie verag nie; en hy wat nie eet, moet hom wat
eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem." Paulus
leer dat jy nooit uit die gebruik van spys en drank ’n
oordeel kan vorm oor die staat van iemand se christen wees nie.
"Want," skryf Paulus in Rom 14:17, "die koninkryk
van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en
blydskap in die Heilige Gees."

Die dwaalleraars in Kolosse het in hul voorskrifte baie verder
gegaan as die Ou Testament. Die wet van Moses het slegs onreine
voedsel verbied. Oor die gebruik van drank het die wet geen reëling
getref nie, behalwe mbt diensdoende priesters en nazireers. Die
dwaalleraars verbied egter die gebruik van wyn en sterk drank aan
elke christen. Waarskynlik het hulle ook alle vleis gebruik
verbied en die vas voorgeskryf.

Broeders en susters, uit die Skrif weet ons dat Paulus geen
vyand van selfdissipline was nie. Die teendeel is waar. Paulus
gebruik meermale die beeld van ’n atleet wat op die baan
hardloop. Daarvoor moet ’n mens sy eetlus bedwing en homself
beheers. Soos hy skryf in 1 Kor 9: 25: "Elkeen wat aan
’n wedstryd deelneem, onthou hom in alles." Ons weet
ook dat Paulus die gewetensbesware van ander gelowiges op die
gebied van spys en drank gerespekteer het, ook al het hy hulle
oortuigings nie gedeel nie. Waarom waarsku Paulus sy lesers dan
teen hierdie praktyke van askese? Dit kan nie anders wees as
vanweë die waarde wat hulle daaraan toeken en die feit dat hulle
dit as verplig die gewetens oplê.

Die tweede kategorie sake waaroor hierdie mense ander
beoordeel, is die onderhouding van heilige dae. "’n
Fees of nuwemaan of sabbat" is woorde van die Ou Testament.
Dit vat saam die jaarlikse, maandelikse en weeklikse feesdae.
Onder die jaarlikse feeste kan ’n mens verstaan die
Paasfees, Pinksterfees, die groot versoendag ens. Die sabbat is
die weeklikse rusdag op die 7de dag van die week. Ook in Gal 4:10
word oor die onderhouding van heilige dae gepraat.

Die probleem waar Paulus in ons teks en in Gal 4 te doen het,
is nie die onderhouding van dae op sig nie. Wanneer ons Hand 20
en 21 lees, dan sien ons dat Paulus verlang om op die Pinksterdag
in Jerusalem te wees. Hy het dan ook geen probleem daarmee om die
Joodse gebruike en rituele (oorlewerings van die mense) na te kom
nie. Paulus wil daardeur die kwade gerug oor hom besweer. Paulus
het gehoor dat aan die gelowiges uit die Jode "aangaande u
vertel is dat u al die Jode onder die heidene leer om van Moses
afvallig te word deur te sê dat hulle die kinders nie moet besny
nie en ook nie volgens die sedes moet wandel nie" (Hand 21:21).

Daardie aanklag is nie waar nie. Paulus het die Jode nie
vertel dat hulle die praktyke moet staak nie. Hy het eerder
geleer dat hulle die heidene moet aanvaar as medegelowiges sonder
om hulle die onderhouding van die Joodse gebruike op te lê. Dit
stem saam met wat die apostels en ouderlinge in die spesiale
vergadering te Jerusalem besluit het: "Wat egter die
gelowiges uit die heidene betref, het ons geskrywe en besluit dat
hulle niks van die aard moet onderhou nie, maar hulle net moet
onthou van afgodsoffers en bloed en van wat verwurg is, en van
hoerery" (Hand 21:25).

Die probleem in Galasië en in Kolosse is dus nie die
onderhouding van dae op sigself nie. Joodse christene was nooit
verbied om hul spesiale dae te vier nie. Die probleem was eerder
dat sommiges geleer het dat die gelowiges uit die heidene nie
gered kon word tensy hulle ook die Joodse seremoniële
voorskrifte sou nakom. Dit gaan Paulus ook in ons teks oor die
waarde wat die mense aan die besondere dae heg en oor die
verpligting daarvan. Die onderhouding daarvan sou die kenmerk van
’n ware christen wees.

Paulus maak duidelik dat niemand op grond van hierdie sake die
ander mag beoordeel nie. En niemand mag hierdie dinge op die
ander oplê nie. Die christelike geloof het sulke dinge nie meer
nodig nie. Nog spys en drank, nog feesdag mag die maatstaf wees
waaraan die volheid van die christelike lewe beoordeel word.

Al die dinge, spyswette en heilige dae, is mos niks anders as
’n skaduwee van die toekomstige dinge; maar die liggaam, die
werklikheid behoort aan Christus. Die Ou Testament was vol
skaduwees. Dit maak dit nie waardeloos nie, maar jy moet wel
besef dat sy egte waarde in die toekoms lê. Dis ’n skaduwee
van die toekomstige dinge, die toekomstige heil in Christus. So
was die Paasfees ’n skaduwee van die ware paaslam, die
sabbat ’n skaduwee van die rus van God se volk en die
spyswette ’n skaduwee van die reinheid van die lewe. Die
werklikheid van al die dinge is by Christus te vind. Ons het nou
Christus leer ken, vol van genade en waarheid.

Daarom is dit vir die gelowiges van die Nuwe Testament ’n
agteruitgang om terug te keer na die Ou Testamentiese insettinge.
Dan gaan jy van die werklikheid in Christus terug na die
skaduwees. In die gemeenskap met Christus het die gemeente die
volle werklikheid van al daardie dinge. As jy dink dat jy al die
reëls nog moet nakom om ’n diepere kontak met God te hê,
dan het jy prakties gesien die waarheid wat by Christus behoort
ontken. Oorgeplaas na vandag: as jy dink dat jy kersfees moet
vier om ’n diepere kontak met God te hê, dan het jy,
prakties gesien, die waarheid wat by Christus behoort ontken.
Prakties gesien sê ek. Ons het geen rede om te dink dat die
valse leraars nie positief oor Christus gepraat het nie. Hoe sou
hulle anders christene vir hul gedagtes kan wen? Hulle het geleer:
ook al is jy in Christus, jy moet nog die volheid van heil soek
in allerlei voorskrifte. Paulus se antwoord is duidelik: as jy so
dink dan leef jy asof Christus nog nie gekom het nie, asof hy die
volheid van heil nog nie aangebring het nie. Om dit in die woorde
van ons Kat te sê: hulle verloën met die daad die enigste
Verlosser en Heiland, Jesus, alhoewel hulle met die mond in Hom
roem. Laat niemand jou terugvoer na die skaduwees nie. Hier vind
jy ’n aantasting van die christelike geloof in sy hartaar.
Die genoegsaamheid van Christus se werk.

So kom ons dan uit by die derde waarskuwing: Laat niemand
julle van jul prys beroof nie. Hier het ons te doen met die
uitspraak van die skeidsregter. Die Kolossense het goed geloop.
Maar nou is daar mense wat kom en sê dat hulle nie goed loop nie.
Hulle word gediskwalifiseer. As hulle so deurgaan sal die prys
nie vir hulle wees nie. So probeer die verkeerde leraars om die
lidmate hul prys van die oorwinnaar, die ewige lewe, te beroof.
’n Baie ernstig saak.

Hulle doen dit met ’n skyn van vroomheid. Hulle skep
behae in nederigheid. Dit kan wys op vas en selfverloëning. Dan
is daar die verering van die engele. Wat presies daarmee bedoel
word, is nie duidelik nie. Dit kan wees dat dit in verband staan
met hul valse nederigheid. Moontlik meen hulle dat God so
ongenaakbaar is, dat mense Hom alleen kan bereik deur middel van
tussenwesens, engele. Engele het mos in die Ou Testament dikwels
bemiddel tussen God en sy volk, boodskappe oorgedra. Dit kan ook
verband hou met wat vervolgens genoem word dat hulle indring in
wat hulle nie gesien het nie. Hulle hou hul besig met dinge wat
God vir ons verborge gehou het. Hulle beweer dat hulle ’n
diepere kennis van God en geestelike magte ontvang het as wat
reeds in die woord geopenbaar is. Niemand kan dit verifieer nie.

Hulle is sonder oorsaak opgeblase deur hul vleeslike
gesindheid. Ja, sonder oorsaak. Die dinge waarmee hulle kom is
mos dwase, ydele spekulasie, nietige misleiding. Hul oortuigings
kom nie van die Gees van God nie, maar van die vlees. Hul laat
hul deur die vlees beheers. Ook al sê hulle dat hulle alles doen
of nalaat om die vlees dood te maak. Die strenge askese wat
bedoel is om van die vlees te bevry, blyk vleeslik gedryf te wees.
Geen wonder nie, want ons verdorwenheid word net weggeneem in die
gemeenskap met Christus, en nie deur enige werk van die mens nie.

Paulus wys daarop dat hierdie mense nie vashou aan die hoof
nie. Soos reeds genoem, beteken dit nie dat hulle bewus en
openlik Christus, die hoof, verwerp nie. Dalk roem hulle in
Christus. Maar met die daad gee hulle Hom nie die eer as hoof nie.
Hulle soek nie hul kennis en groei in Hom as hoof nie.

Om na sulke dwaalleraars te luister hou die risiko in dat jy
jouself afsny van Christus. Daardeur verloor die kerk haar
eenheid. Die eenheid van die kerk is mos ’n eenheid in
Christus. Die hele liggaam is dan nie langer goed saamgebind soos
dit behoort te wees nie.

Die gevolg van die aanvaarding van die valse leer sal daarom
nie verryking en vernuwing wees nie, maar geestelike verarming en
’n opdroog van die bronne wat God gee. Alle voeding kom van
Christus die Hoof. Die gemeente kan net groei as elke lidmaat of
deel vashou aan die Hoof. So ontvang elke deel van Christus die
krag en lewe wat hy aan die geheel meedeel.

Gemeente die verse 20 –23 vorm ’n klimaks van Paulus
se oproep. Paulus het die Kolossense reeds op drie verkillende
manier gewaarsku oor die ware aard van die nuwe leer. Ten slotte
vra hy aan sy hoorders die indringende vraag. "As julle dan
saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf
het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe,
onderworpe aan insettinge soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan
nie?"

Dit gaan hier oor slawerny en vryheid. As jy met Christus
gesterf het, dan het jy nie meer onderworpe aan stoflike dinge
nie. Of aan die elementêre waarhede van die wêreld, die elementêre
gedagte dat jy self jou verlossing moet bewerk. Christus het jou
vrygemaak. Waarom is julle dan asof julle nog in die wêreld lewe
onderworpe aan insettinge? "Asof julle in die wêreld lewe."
Dit sien hier nie op die fisiese wêreld nie, (ons leef mos nog
in hierdie fisiese wêreld). Dit sien eerder op die wêreld in
etiese sin.

Ons is nie van die wêreld nie, ons behoort nie meer tot die
kompleks van die verganklike, sinnelike, vleeslike dinge nie, die
wêreld met haar skynwaarhede. Ons verhouding tot die dinge het
verander. Ons is nie meer daaraan onderworpe nie. En so ook nie
aan al die stoflike voorskrifte nie. Vergelyk dit maar met ’n
Zimbabwiër wat in ons land woon en hier as Suid Afrikaanse
burger genaturaliseer is. Die genaturaliseerde Zimbabwiër hoef
hom nie meer te onderwerp aan die diktatoriale wette van Mugabe
se regering nie. Hy is vry daarvan. So is ons vry van die
beginsels van hierdie wêreld met al sy religieuse voorskrifte.
Ons is burgers van ’n ander ryk, met die hemelse Koning
Jesus Christus. Wees bly, met Christus is jy vir ewig vry van die
wêreld se idee van godsdiens. Dan laat jy jou tog nie onderwerp
aan allerlei willekeurige menslike insettinge nie. Dit sou in
stryd wees met die groot bevrydings aksie van Jesus Christus, en
in stryd met die ons nuwe stand in Hom.

Gemeente, Paulus haal moontlik die eie woorde van die leraars
aan wanneer hy skryf: "raak nie, smaak nie, roer nie aan nie."
Hoe anders is God se woord wat, selfs in die Ou Testament, nie
alles tot in die kleinste besonderhede reël nie. So gaan dit met
hoogmoedige ritualisme. Daar is dan geen einde aan wat verbied of
gebied word nie. Dit word gebod op gebod, reël op reël.

Wat verbied word is egter van geen waarde nie. Paulus noem dit
dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan. Dit gaan hier
waarskynlik oor voorskrifte mbt spys en drank. God het daardie
dinge vir ons gebruik gegee, om ons te voed en te verkwik. Hulle
is nie sondig nie. Asketisme misken die seëninge van die Here en
die bedoelings van die Here met sy gawes. As jy soveel waarde heg
aan die onthouding van allerlei spys en drank, dan verval jy
maklik in ’n uitwendige godsdiens. Die onthouding van
voedsel word so maklik belangriker geag as die onthouding van
sonde. Hier neem die gebooie en leringe van mense die plek in van
die ware diens aan God op grond van Christus se versoeningswerk.
Hierdie dwaling blyk opnuut vergelykbaar met wat in Mt 15 genoem
word. Die gesag vir al die gebooie kom van die mens. Die mens
bepaal die godsdiens pleks van God self.

Alles het ’n skyn van wysheid. Hulle gee God baie meer as
hulle verplig is. Genoem word eiesinnige (of vrywillig gekose)
godsdiens, nederigheid en gestrengheid teen die liggaam. Dit maak
indruk op mense. Hulle lyk voorbeeldige christene. Dit het egter
geen waarde nie. Waarom nie? Die fokus van sulke godsdiens is
uiteindelik op die vlees en nie op Christus nie. Deur hul askese
wil hulle die liggaam bind, hulleself van die verdorwe natuur
bevry. Maar al hul godsdienstigheid strek juis tot versadiging
van die vlees, sê Paulus. Hulle streel daarmee hul eie eergevoel.
Kyk wat hulle almal vir God doen of nalaat om te doen! In feite
kom deur daardie praktyke nie aan God die eer toe nie, maar die
mens. Die godsdienstige mens word uiteindelik die belangrikste en
nie die Here Jesus Christus nie.

Nou terug na die vrae wat ons in die begin gestel het? Verbied
hierdie hoofstuk nie die hou van feesdae nie? Word in hierdie
gedeelte nie sterk gewaarsku teen die misleiding van mense wat
met voorskrifte kom wat gebaseer is op die oorlewerings van mense
nie? En word dit nie as eiesinnige godsdiens skerp afgewys nie?

Broeders en susters, in ons kerkorde (art 68) het ons
afgespreek dat die kerkraad op Kersdag, Goeie Vrydag, Pase,
Hemelvaartsdag en Pinksterdag die gemeente sal saamroep tot
openbare eredienste, waar die heilsfeite wat die gemeente op
hierdie dae in die besonder herdenk, verkondig word. Maak ons
kerke hulle hier nie skuldig aan die sondes wat Paulus so kragtig
in Kol 2 bestry nie? Voer ons daardeur die lidmate nie as buit
weg om hulle opnuut onder die juk van diensbaarheid te bring nie?

’n Mens kan met die kerke verskil van mening hê oor wat
die beste is om op daardie dae te doen. Maar is ons deur op
daardie dae die heilsfeite van Christus in ’n erediens te
verkondig skuldig aan die sonde wat Paulus so sterk afkeur? Laat
ons reg doen aan die konteks waarin Paulus daardie woorde skryf.
Geld vir ons as uitgangspunt en maatstaf die oorlewering van
mense, pleks van Christus se Persoon en werk? Neem by ons wat
mense sê en doen die plek van die evangelie in? Watter waarde
heg ons aan daardie dae? Is dit so dat ons mense leer dat ons nie
gered kan word nie, tensy ons daardie dae onderhou? Is dit so dat
ons die onderhouding van die dae op die mense oplê en hulle
veroordeel as minderwaardige christene as hulle dit nie onderhou
nie? As dit waar is, dan moet ons onmiddellik die kersdienste
ophef.

Broeders en susters, is ons besig om die lidmate terug na die
skaduwees te voer, asof dit belangriker sou wees as die
werklikheid Christus? Het ons deur daardie kerklike afspraak
Christus die Hoof losgelaat? Ontneem ons daardeur die lidmate hul
prys, die ewige lewe? Wil ons daarmee die plek inneem van die
ware diens aan God op grond van Christus se versoeningswerk?
Samevattend, is dit so dat die mens die uitgangspunt, die sentrum
en die fokus van ons kerklike gebruik is? Nogmaals as dit die
geval is, laat ons die eredienste onmiddellik staak. Hulle is dan
’n vervloeking.

Christus die waarheid het gekom. Seremonies het ons nie meer
nodig nie. Ook nie feesdae met allerlei rituele nie. Christus het
ons vrygemaak. Laat ons dan bly uitgaan van Christus se Persoon
en werk. Laat ons hom in die sentrum plaas. Alles op Hom fokus.
Ook in die manier waarop ons die kerklike feesdae invul.. Ons
hoef geen dienste te belê om die toegang tot God te
bewerkstellig nie. Ons het reeds volkome toegang tot die Vader,
deur Christus op grond daarvan kom ons saam. Daarom wil ons Hom
daarvoor loof en dank. Sy naam, waardeur mense gered moet word,
bely en verkondig.

Broeders en susters, ons teks leer ons ook dat ons nie mekaar
moet veroordeel op grond van spys, drank of feesdag nie. Die
dinge is op hulleself nie so belangrik nie. Hulle is stoflik en
verganklik. Laat ons mekaar nie bind op ondergeskikte dinge nie.
Die koninkryk van God is immers nie spys en drank nie, maar
geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees (Rom 14:17).
Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien. En
laat ons die blydskap in die Heilige Gees wys persoonlik en
gesamentlik. In ons lewe van elke dag en in ons openbare
eredienste.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)