Die doop is ’n teken van die verbond

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-06-08
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 26
Preek Inhoud: 

Sondag 26

Ds C Kleyn - Sondag 8 Junie 2003

Lees:

Matthéüs 28:16-20; Romeine, 2:25-3:8; Sondag 26.
Sing: SB 27; Ps 87:1-5; Ps 103:7-9; Ps 111:4,5.

Tema:

Die doop is ’n teken van die verbond.

  1. Die doop is ’n teken van jou inlywing in die verbond; en
  2. Die doop is ’n teken van jou rykdom in die verbond.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die Heilige doop is iets waarmee ons steeds weer te make het. Hoe dikwels hoor ons nie die doopsformulier nie. En hoeveel preke het ons nie oor die onderwerp gehoor nie. ’n Mens sou sê: ons weet genoeg daaroor.

Tog broeders en susters, veral wanneer jy dinge meermale hoor, word die vraag dringend: besef jy nog werklik waaroor dit gaan? Doen jy nog iets daarmee? Watter plek neem jou doop in jou lewe in? Gebruik jy jou doop nog? Leef dit nog vir jou?

Elke doop herinner my aan my eie doop. Elke keer spreek God my weer persoonlik aan: onthou dat Ek ook vir jou gesê het, toe jy nog ’n baba was of later in jou lewe: Ek wil jou God wees, jy behoort aan My. Moenie jou doop vergeet nie. Werk daarmee in geloof. Tot eer van God en tot jou eie troos.

Daarom verkondig ek vir julle: die doop is ’n teken van die verbond

  1. Die doop is ’n teken van jou inlywing in die verbond
  2. Die doop is ’n teken van jou rykdom in die verbond.

By elke doop hoor jy die woorde: Ek doop jou in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Bekende woorde. Maar is dit ook ’n bekende saak? Om te weet waaroor dit gaan, is dit goed om te kyk na die verband waarin Christus hierdie woorde oorspronklik gespreek het.

Die woorde kom uit Mt 28. Hulle is deel van die groot sendingsopdrag. Kort voor sy hemelvaart het Christus sy dissipels opgedra: "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het."

Die apostels moet drie dinge doen: dissipels van alle nasies maak, hulle doop in die Naam van die drie-enige God en hulle leer om te onderhou alles wat Christus beveel het.

Eerstens, moet hulle dus dissipels van alle volke maak. In daardie tyd ’n opvallende opdrag. Voor daardie tyd was die heil vir die Jode. Israel was God se heilige nasie, die kerk. Daar was enkele vreemdelinge wat hulle by die volk van God aangesluit het, maar die nasies as sodanig was uitgesluit uit die burgerskap van Israel, vreemdelinge ten aansien van die verbonde met sy ryke beloftes, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

Maar nou hoor ons: Gaan heen, maak dissipels van al die nasies. Die evangelie moet uitgaan in die wêreld. Die muur wat Israel van die nasies geskei het, is besig om weggeneem te word. Die heidene moet medeburgers met God se volk word en huisgenote van God. Saam met die Jode moet hulle aan die belofte deelhê. Die seën van Abraham moet al die nasies bereik. Die opgestane Here eis die nasies vir homself op. Maak dissipels van al die nasies. Laat hulle buig vir My die opgestane Here. Maak hulle tot burgers van my koninkryk. Maak hulle tot toegewyde volgelinge van My.

En nadat dit gebeur het: doop hulle in die naam van die drie-enige God. Broeders en susters, probeer om voor te stel wat so ’n doop beteken het vir heidene wat tot geloof gekom het. Vergelyk dit met volwassenes wat op verskeie sendingsvelde deur onderdompeling gedoop word. ’n Indrukwekkende gebeure. Maar boweal: ’n beslissende gebeure. Wat beteken die doop vir hulle? Dit beteken ’n radikale breuk met die verlede. ’n Radikale oorgang na ’n nuwe lewe.

Die dopeling gaan die water in. Sy kop word onder die water gedruk. Hy moet as 't ware ’n bad kry. Die kinders kan ons wel vertel waarom iemand ’n bad moet neem of moet stort. Waarom is dit? In die reël is die bad nodig omdat jy vuil of besweet is. Die vuil of sweet moet afgewas word.

Dit beteken: elkeen wat homself laat doop, erken dat hy vuil is. Hy moet gewas word. Sy ou lewe is blykbaar vuil, onrein. Dis wat die eerste deel van die doopsformulier ons leer: "Ons en ons kinders is in sonde ontvang en gebore. Daarom rus die toorn van God op ons, sodat ons nie in die ryk van God kan inkom nie, tensy ons opnuut gebore word. Dit word aan ons geleer deur die indompeling in en besprinkeling met die water, waardeur die onreinheid van ons siele vir ons aangewys word. So word ons vermaan om ’n afkeer van onsself te hê, ons voor God te verootmoedig en ons reiniging en saligheid buite onsself te soek.

Iemand wat gedoop word getuig: ek is onrein, vuil en aan God se oordeel onderworpe. Ek moet heeltemal gewas, gereinig word. Dis, geliefdes, geen ligte saak vir volwasse heidene om dit te bely. Daardeur wys jy jou ou, heidens lewe af. Jy maak ’n definitiewe breuk met die tradisies van jou voorouers, met jou vroeëre godsdienstige praktyke.

Die dopeling gaan onder om weer bo uit die water uit te kom as ’n nuwe mens. Natuurlik is dit slegs simboliek. Maar dit is verstrekkende simboliek. Die bekeerlinge van die sendingsvelde ervaar dit nog steeds so. Die doop gee aan ’n radikale breuk met die verlede en ’n oorgang na ’n nuwe lewe, ’n nuwe gemeenskap. Ou bande word verbreek en nuwe bande word aanvaar. So is die doop ’n teken daarvan dat jy intree in ’n nuwe gemeenskap.

Dit word, gemeente, ook aangegee deur die doopsformule: Ek doop jou in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Jy word gedoop tot die Naam van die drie-enige God. Dit beteken: jy word oorgeplaas na die naam van God, na die gemeenskap van die drie-enige God. Jy ontvang publiek ’n nuwe status. Van nou af aan behoort jy by God. Van nou af staan jy as ’t ware op sy rekening. Jou doop gee die verandering van eienaar aan. Vergelyk dit met die oorplasing van geld in iemand se rekening. Die geld word oorgeplaas op sy naam. Op ’n vergelykbare manier word ’n dopeling oorgeplaas na die naam van die drie-enige God. Jy behoort nou heeltemal aan God. God aanvaar verantwoordelikheid vir jou.

Daarom: Maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Dis nie genoeg om mense tot geloof te bring nie. Dis nie voldoende om siele vir Christus te wen nie. Die mense moet ook in Christus se kerk ingelei word, hulle moet publiek in die christelike kerk ingelyf word. Die ingang in God se koninkryk moet gewys en verseël word.

Elkeen moet dit sien en weet: van nou af behoort hulle aan God, by God se volk. Soos die NGB dit formuleer: Deur die doop word ons in die kerk van God opgeneem en van alle ongelowiges en vreemde godsdienste afgesonder om heeltemal sy eiendom te wees en sy merkteken en vaandel te dra.

Maar, geliefdes, wanneer behoort jy God se merkteken te ontvang? Net wanneer jy as volwassene jou geloof bely soos bv die baptiste en mense van die Pinksterbeweging beweer? Nee, jy behoort die doop aan die begin van jou lewe met God te ontvang. Die doop is ’n teken van jou inlywing in die verbond. Die doop markeer die begin van jou lewe met God. Vir volwassenes wat sonder God grootgeword het beteken dit: by jou bekering, wanneer jy tot geloof gekom het. En vir die kinders wat hier sit, vir die kinders van gelowige ouers, beteken dit: aan die begin van jou lewe. Dis wanneer jou lewe met God begin, is dit nie so nie? God wil in die verbond met jou deur die lewe gaan vanaf die begin van jou lewe.

Tipies vir die teken van die inlywing in die verbond is dat die betrokke persoon passief is. Jy word gedoop. Dis nie toevallig nie asof dit nie anders kan nie. Waarom sou jy nie jouself kan doop nie? Jy kan jouself tog ook was? Nee, die feit dat jy gedoop word het alles te doen met die karakter van die verbond. Die verbond begin immers van een kant, van God se kant. Daarom die eensydige teken van inlywing: God in aksie terwyl die dopeling passief is.

Dit geld nie net vir kinders nie, maar ook vir volwassenes wat gedoop word. Maar is die volwassenes nie aktief wanneer hulle hul geloof bely nie? Ja, maar die belydenis behoort nie tot die doop self nie. Waarom dan die belydenis voor hul doop? Hul belydenis is slegs ’n indikasie dat God hul in sy verbond opgeneem het. Hul doop bly ’n eensydige handeling. Dit gee aan die eensydige begin van hul lewe met God. Die doop is ’n teken van jou inlywing in die verbond.

Nou die tweede punt: die doop is ’n teken van jou rykdom in die verbond.

Ons word gedoop in die naam van die drie-enige God. Hy wil ons in sy gemeenskap opneem. Hy wil met ons deur die lewe gaan. Werklik verbasend! Onreine mense. In sonde ontvang en gebore. Waardig om ewig deur God verwerp te word. Maar kyk: jy gaan die water in onrein, vuil. Maar jy kom weer daaruit skoon. God wil jou was.

Wat was dit immers wat jou verhouding met God verhinder het? Waarom was daar die skeiding, die vyandskap, die toorn van God? Vanweë die sonde. Maar Christus wil jou nou skoonmaak met sy bloed en Gees. Kyk maar na die water van jou doop. Hy wil jou was met sy bloed. Jy was skuldig voor God. Jy het die ewige doodstraf verdien. Maar Christus het sy lewe vir jou lewe gegee. Sy bloed vir jou vergiet. Daarom is jou skuld betaal.

Dit beteken nie dat alles nou voltooi is nie. Want ook al is jou skuld betaal, dit maak jou, ’n sondaar, nog nie nuut nie. Daarom wil Christus jou ook met sy Gees was. Hy wil jou verander, vernuwe. Die sonde moet uit jou lewe verwyder word. Jy moet ’n nuwe mens word, toegerus tot elke goeie werk. Daarom wil Christus sy Gees vir jou gee. So kan jy self weer met God gaan wandel in goeie werke.

Broeders en susters, hoe pragtig is die teken van die doop: ’n teken van die afwassing van jou sondes deur Christus se bloed en Gees. En daarom: opnuut lewe in die gemeenskap met God drie-enig. Ek doop jou in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Dit wys op jou saligheid. Soos die tweede gedeelte van die doopsformulier dit sê: "die doop bevestig en verseël aan ons die afwassing van die sondes deur Jesus Christus. Ons word mos gedoop in die Naam van God: die Vader en die Seun en die Heilige Gees." Waarna die formulier daaroor uitbrei wat die beteken om in die naam van die drie Persone van die Goddelike drie-eenheid gedoop te word.

Is ek ’n kind van God? Is so ’n vraag tereg? Ek is tog gedoop in die naam van die Vader? Die Vader het verklaar dat Hy my Vader wil wees en ek sy kind mag wees.

Wil God my sondes vergewe? Ek is tog gedoop in die Naam van God die Seun?

Wil God my lewe vernuwe? Ek is tog gedoop in die Naam van God die Heilige Gees?

Geliefdes, terwyl baie dinge ons kan bedreig en verontrus, moet ons ons vasklem aan die woorde wat God self by ons doop betuig en verseël het. Daar het God my by die naam genoem. Hy het my aanvaar. Hy het die sorg van my lewe op Hom geneem. As daar iets is waarop ek kan staatmaak, dan wel die woorde van hierdie verbondsgod. Sy verbondsbeloftes is die enige sekerheid, houvas in my lewe by die wisseling van die jare en omstandighede. Ek kan en ek mag daarop vertrou.

Die woorde is ook voldoende om my twyfel te bestry. Wanneer ek ander bewyse van God se guns soek, dan raak ek verstrik in voortdurende onsekerheid. As ek dit in my belewing soek dan bou ek op dryfsand. My enigste vaste basis is God se woorde, sy beloftes. Dit gee my sekerheid aangaande my redding. Die water van die doop op my voorhoof verseker my daarvan.

Geliefdes, wanneer jy die beloftes van God in geloof aanvaar, dan ontvang jy ook die inhoud van die beloftes. Dan mag jy sê: ek is van al my sondes gewas. Dis ewe seker as wat die doopwater op my voorhoof gesprinkel is. Nie net: ek sal van my sondes gewas word nie, maar nadruklik: ek is gewas. Let op die formulering van die Kat. "Christus het die uitwendige waterbad ingestel. Daarby het Hy beloof dat ek net so seker met sy bloed en Gees van die onreinheid van my siel, dit is van al my sondes, gewas is as wat ek uitwendig met die water gewas is wat die vuilheid van die liggaam wegneem." Dis nie iets wat moontlik kan gebeur nie. Ook nie ’n belofte vir die verre toekoms nie. Christus se beloftes is ’n teenwoordige werklikheid. Daarom moet ek nie twyfel nie. Ek moet durf sê: ek is gered. God het my verlos. Hy het dit geillustreer en verseker in my doop.

Maar geliefdes, is dit nie te sterk uitgedruk nie? Mag elke persoon wat gedoop is sê: Ek is gered? Elke dopeling is tog nie gered nie? Het ons nie aangaande die OT iese volk van God gelees: "Want nie hy is ’n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dit is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ’n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is die van die hart, in die gees, nie na die letter nie." Rom 2:28,29.

Dis inderdaad waar dat nie alle mense wat tot die verbond behoort gered is nie. Is God se verbondsbeloftes dan wel betroubaar? Ja seker, hulle is altyd betroubaar. God meen wat Hy sê. Ook die woorde wat Hy gesê het vir die seun of dogter wat niks meer daarvan wil weet nie. God se beloftes bly geld: Ek wil jou Vader wees, Ek wil jou sondes vergewe, Ek wil jou lewe vernuwe.

Alleen, die beloftes moet in geloof aanvaar word. Ja, ek moet hulle glo. Die vervulling van die beloftes is nie outomaties nie. Ek kan nie sê: Ek is gedoop, daarom is alles reg met my, maak nie saak hoe ek leef of dink nie. Ja, hierdie gevoel van vanselfsprekendheid is ’n dodelike gevaar vir ’n gevestigde kerk soos ons is. Pas op dat jy dinge nie vanselfsprekend ag nie en dat jy jouself nie in slaap sus met ’n skyn sekerheid nie.

Die doop het geen magiese krag nie. In die verbond spreek God jou aan met beloftes en eise. Jy word ook geroep en verplig tot ’n nuwe gehoorsaamheid. God wil jou Vader wees. Hy wil vir jou sorg. Hy wil met jou deur die lewe gaan. Maar wat as jy sy sorg weier? Wat as jy weier om met Hom deur die lewe te gaan? Dan kan jy tog nie die vervulling van die beloftes verwag nie. Jy het jouself dan onttrek aan God en sy skatte. Inderdaad, die beloftes bly, maar jy het hulle geweier. In ongeloof het jy die vervulling van God se vaste beloftes verhinder.

Maar, geliefdes, wanneer jy in geloof die beloftes aanvaar, in geloof wat blyk in nuwe gehoorsaamheid, dan mag jy bely: ek is gered. Dis so seker as wat ek gedoop is. Dit het dan niks te make met iemand wat homself in slaap sus met die gedagte: ek is in die verbond gebore, daarom is dit outomaties reg met my. Dit is eerder ’n kwessie van ootmoedig amen sê op God se ryke beloftes. Wat jy met die hart glo, bely jy dan ook met jou mond. Jy maak die beloftes tot jou eiendom. Jy sien agter jou doop die drie-enige God. Jy sien hoe Hy jou in sy gemeenskap gebring het. Hy het tog gesê: Ek doop jou tot die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Vir jou geloof is die doop voldoende bewys van God se genade. Die water is teken en seël van jou wassing deur Christus se bloed en Gees. Daarom die belydenis: God se woord is waar en seker, ek is gered.

Wat ’n ryke troos in lewe en in sterwe. My doop bly my aanspreek. Ook wanneer ek soms uit swakheid in sondes val. Dan moet ek nie aan die genade van God twyfel of in die sondes bly lê nie. Die doop is immers ’n seël en volkome betroubare getuienis dat ek ’n ewige verbond met God het.

Toe God sy verbond met my opgerig het, het Hy baie goed geweet watter soort persoon ek was, dat ek nie so ’n vrome persoon was nie, maar dat ek ’n sondaar is. Dit het Hom egter nie weerhou om na my toe te kom en my by die hand te neem nie. Ook al het Hy geweet hoe ek sou wees, het Hy my in die verbond aanvaar. Desondanks wou Hy my God en Vader wees.

Daarom wanneer ek in sondes val, kan ek pleit op sy genade. Die verbondsgod weier nie sy kinders wat met ’n gebroke en verslae hart tot Hom kom nie. Vader, ek het gesondig teen u. Ek is nie waardig om u kind te wees nie. Dan gedenk God sy verbond, sy verbondsbeloftes. Ook die belofte dat hy my sondes wil vergewe. En Hy vergeef. Binne die verbond bly die woorde van Ps 103 weerklink: "Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.

Wat ’n groot troos vir jonk en oud. Wanneer jy midde in die lewe staan met sy verleiding en valse godsdienstigheid. Jy mag tot God gaan, jy mag met Hom deur die lewe gaan. Hom wat jou Vader wil wees, jou sondes wil vergewe en jou lewe wil vernuwe.

Dit geld ook wanneer jy oud word en hulpbehoewend. Die teken van God se verbond bly daar op jou voorhoof. Daar is altyd die beloftes waarop jy kan staatmaak. Selfs op jou sterfbed. In geloof mag ek my hand op my voorhoof lê en bely: ek is gered. Vader, in u hande gee ek my gees oor. God se beloftes, verseël in my doop, gee my ’n vaste vertroue en ewige perspektiewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)