Paulus spreek die gelowiges aan vanuit die geloof in die inwoning van die Heilige Gees

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-06-08
Text: 
Romeine 8
Preek Inhoud: 

Romeine 8:9

Ds C Kleyn - Sondag 8 Junie 2003

Lees:

Romeine 8:1-17.
Sing: Ps 98:1,2; Ps 101:1-4; SB 13:1-9; SB 14; Ps 72:10,11.

Tema: Paulus spreek die gelowiges aan vanuit die geloof in die inwoning van die Heilige Gees.

  1. Die feit van die inwoning;
  2. Die vrug van die inwoning; en
  3. Die noodsaak van die inwoning.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Op hierdie Pinksterdag wil ek U die ware geesdrif voorhou, die ware besieling deur die Gees van Christus. Dit vanuit Paulus se brief aan die Romeine. Die brief aan die Romeine kan gesien word as ’n soort samevattend dokument van Paulus se prediking. Teenoor die eie geregtigheid van die Judaisme benadruk Paulus as hart van die evangelie die geregtigheid van God deur geloof.

Ek kan onmoontlik deur die wet gered word. Christus ontslaan my van die vloek en straf van die wet. Daarom begin die gedeelte wat ons gelees het met die woorde: daar is nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie. Dit beteken egter nie dat die wet geen waarde meer het nie. Christus se dood het juis tot doel dat ons opnuut voor die Here sou leef in nuwe gehoorsaamheid. Uit onsself kan ons dit nie. Daartoe gee God ons sy Gees. Daarom moet die Gees hier wel ter sprake kom wanneer dit gaan oor die nuwe gehoorsaamheid.

Die eis van die wet kan alleen vervul word in hulle wat nie na die vlees leef nie, maar na die Gees. Paulus wys op die teenstelling tussen die wat na die vlees leef en die wat na die Gees leef. Kernagtig teken hy die gesindheid van die vlees teenoor tot die gesindheid van die Gees. In ons teks pas Paulus dit dan toe op die gemeente te Rome. "Julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van Christus in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, die behoort nie aan Hom nie."

Ek verkondig vir julle:

Paulus spreek die gelowiges aan vanuit die geloof in die inwoning van die Heilige Gees.

Ons let op:

  1. Die feit van die inwoning
  2. Die vrug van die inwoning
  3. Die noodsaak van die inwoning

Wanneer Paulus sê: "as naamlik die Gees van God in julle woon" stel hy dan nie die inwoning van die Gees twyfelagtig nie? Nee. Paulus wil juis benadruk dat die Gees in elke christen woon. Die woorde aan die begin van die vers: "julle is egter in die Gees" veronderstel dat die Gees in hul woon. Ons sou kan omskryf: vir julle christene geld nie wat in die voorgaande vers genoem word nie. Julle is nie in die vlees nie, maar in die Gees. Om dit te onderstreep voeg hy die opvallende woorde aan die einde van vers 9: Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, die behoort nie aan Hom nie. Hy is dan geen christen nie. As jy nie die Gees van Christus het nie, is jy geen christen nie. Die uitdrukking "as naamlik die Gees van God in julle woon" kan dan wat vreemd oorkom. Dis egter net ’n ander manier om te sê:
"aannemend dat die Gees in julle woon." Paulus gaan daarvan uit dat die Gees ’n sy lesers woon. Hy skryf mos vir gelowiges,
christene. Vir wie dit nie die geval is nie, die behoort nie werklik tot die gemeente nie. Sonder die Gees van God is ’n mens gewoon nie ’n christen nie. As ek ’n christen is dan woon die Gees van Christus in my.

Op die Pinksterdag het die Heilige Gees in die gemeente kom woon. Met groot geweld het Hy ingetrek om Hom daar te vestig. So kan die gemeente ’n woning van God in die Gees genoem word (Ef 2:22).

Dit was op die Pinksterdag nie vir die eerste keer dat daar sprake was van ’n woning van God by sy volk nie. Reeds in die Ou Testament, eeue voor die Pinksterdag, het God se volk geweet van die geweldige werklikheid. Solank die volk geweet het van die verbond, mog hulle ook hoor van die woon van God in hul midde. God wou daarmee die rykdom van die verbond tipeer. Die inwoning van God was toe steeds verbind met die ontmoetingsplek wat God gekies het: die tabernakel en die tempel. Maar hoe onvolkome was die inwoning van God in die dae van die ou verbond. Daar was nog die gordyn, die voorhangsel, wat skeiding gemaak het. Net die priester mog God se woning ingaan.

Op die Pinksterdag word die heerlikheid van die nuwe en beter verbond sigbaar. God gee sy grootste geskenk aan sy volk deur vir goed sy intrek in sy gemeente te neem. God gee Homself in sy Gees. Daar is nie langer die tempel met die ark as simbool van sy teenwoordigheid nie. Nou is die gemeente self die tempel waarin God wil woon. Op die Pinksterdag het God sy Gees op alle vlees uitgestort, op jonk en oud, op manne en vroue, op base en knegte. Ja, op alle gelowiges. Die Gees het in die gemeente kom woon, ook in elke individuele gelowige van die gemeente.

In die briewe van Paulus word beide die kerk as geheel en die individuele gelowige as ’n tempel van God getipeer. So kan Paulus aan die gemeente van Korinte skryf: "Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees" (2 Kor 6: 16). Hier haal Paulus ’n OT iese profesie aan en pas dit toe op die jong christelike kerk. Die ryke belofte van die nuwe verbond is aan ons as kerk en as gelowiges vervul. God het permanent in en onder ons kom woon. Hy kom nie net op besoek nie om daarna weer te vertrek nie. As ek die Gees het, word ek maar nie vir ’n oomblik geraak nie. Ek word permanent deur die Gees bewoon. So word ons liggaam ook ’n tempel van die Heilige Gees genoem. Ek is die huis, die woning van die Gees. Dit mag onder die gelowiges as ’n werklikheid veronderstel word. En ons vorm tog ’n vergadering van ware gelowiges? Ons is tog die liggaam, die kerk van Christus?

So beroep Paulus hom op iets wat sonder meer as aanwesig veronderstel mag word wanneer hy in 1 Kor 3:16 sê: Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?

Gemeente, besef u hierdie rykdom van die nuwe verbond wel voldoende? Staan ons nog wel in verwondering stil by die geweldige realiteit van die inwoning van die Gees? Ek staan nooit meer alleen in hierdie wêreld nie, ook al sou ek deur alle mense verlaat word. God se Gees woon immers permanent in my hart. Ook in die stryd van die geloof staan ek nie alleen nie. Die enigste Persoon wat die stryd teen die satan kan hanteer is by my aanwesig. So staan ons, as inderdaad die Gees in ons woon, sterk in die stryd teen die duiwel, die wêreld en ons eie vlees.

Broeders en susters, wanneer jy die verleiding tot sonde ervaar, onthou wie by jou kom inwoon het. Onthou dat jou liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is. Dikwels benader ons die situasie van die negatiewe kant, daarom faal ons dikwels. Ja, ons bid wel dat God ons van die sonde wil bevry, maar ons vergeet dat die Gees reeds vir ons gegee is. Daarom dink ons dat ons die sonde nie kan weerstaan nie. Ek wil wel maar ek kan nie, word dan gesê. Wat nodig is, is dat ons besef dat die Heilige Gees in ons harte woon. Dis die manier om die duiwel aan te vat. Ons moet nie negatief wees nie. Ons moet nie net vir verlossing bid nie. Besef wie in jou liggaam woon. Dan sal jy dit moeilik vind om die liggaam te misbruik. Laat ons meer oor hierdie dinge nadink, daagliks onsself daaraan herinner. Dis die geheim van die christelike lewe, van meer as oorwinnaars wees.

Gemeente, die Gees het nie net ’n besoek kom bring nie. Hy het in ons kom woon as ons aanvoerder, ons meester. Hy neem al ons sinne in beslag. Die gelowige word deur die Heilige Gees gedryf. Dan kan die vrug van die inwoning van die Gees nie uitbly nie. So kom ons by die tweede gedagte van die preek: die vrug van die inwoning.

Paulus skryf: Julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees. Met nadruk staan die woord julle voorop. Die gelowiges te Rome staan in skerp kontras met die ongelowiges soos die getipeer word in die voorgaande verse. In teenstelling tot die ongelowiges wat in die vlees is, word van die gelowiges gesê: julle is egter nie in die vlees nie. Wat bedoel Paulus met hierdie woorde? As gelowige bly jy tog, solank jy hier op aarde leef, in die vlees? Deur die geloof word ek tog nie uit my aardse liggaam geruk in ’n soort ekstase nie?

Uit die verband is dit duidelik dat Paulus hier nie die liggaam sonder meer bedoel nie. Hy kontrasteer 'in die vlees wees' met 'in die Gees
wees'. Hier word sowel die vlees as die Gees voorgestel as ’n sfeer, die element waarin iemand leef. Dis die magsgebied wat ’n mens se doen en late beheers. Soos die lug die lewenselement van ’n voël is, daarin is die voël in sy element, so is die vlees of die Gees die lewenselement van die mens. In een van beide is jy in jou element. Dit is dan jou lewenssfeer waarin jy jou besonder tuis voel.

Van die gelowige word gesê dat hy nie in die lewenselement van die vlees is nie. Jy staan nie langer onder die mag waaronder die mens van nature gevange sit nie. Die vlees is hier die aardse bestaan is sy sondige werklikheid. Voor hul bekering het ook die gelowiges in die vlees geleef. Ons lees in Rom 7:5: "Want toe ons in die vlees was, het die sondige hartstogte … in ons lede gewerk om vir die dood vrugte te dra." Hulle het toe in die natuurlike, sondige staat van die mens geleef, in die staat waarin die sonde heerskappy oor hulle gehad het. Wat dit beteken word duidelik uit die verse wat aan ons teks voorafgaan. Iemand wat in die vlees is, wandel na die vlees, bedink vleeslike dinge. En wat die vlees bedink is die dood. Die vlees is gerig op die dood in al sy verskyningsvorme: afbraak, verderf, onenigheid, onvrede ens. Vers 7 vat dit saam met die woorde: "wat die vlees bedink is vyandskap teen God; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie."

Die vernaamste betekenis van die uitdrukking: 'in die vlees wees', is dus die nie-wedergebore staat van die mens, wat net op die dood gerig is en ook self die dood is. Omdat Paulus hom in die brief aan die Romeine voortdurend konfronteer met die Jodedom sal in die uitdrukking 'in die vlees wees' ook deurklink: die lewe onder die wet. Elkeen wat dink dat hy sy eie geregtigheid kan verwerf deur die onderhouding van die wet, leef nog in die vlees. Elke vertroue op geboorte, kleur, ras of goeie werke hoort nog by die gesindheid van die vlees en nie by die lewe in die Gees nie. So staan feitelik die humanis en die Fariseër gelyk. Albei verwag dit van die mens. Albei wil dit uiteindelik self doen. Die eie ek is dan uiteindelik die norm, ook al sal die Fariseër dit nie erken nie. Daarom bly die dood in hul lewe heers.

Radikaal teenoor die lewe in die vlees is daar die lewe in die Gees. Die mees sekere kenmerk waardeur die gelowiges van die ongelowiges onderskei word is hul wedergeboorte deur die Gees van God. As gelowige het jy ’n ander staat van lewe. Jy is nou in die Gees. En jou veranderde situasie beteken nuwe lewe. Wat die Gees bedink is mos lewe en vrede, sê Paulus in vers 6. Jy is dan oorgeplaas van die dood na die lewe. Die verskil tussen ’n vleeslike en ’n geestelike mens is die verskil tussen dood en lewe.

As gelowige is ek nie selfstandig in die lewe van heiligmaking nie. Daar is iemand wat tot in my binnenste ingedring het. Die Gees van God is ’n nuwe mag en krag in my wat my in staat stel om te doen wat ek nie eerder kon doen nie. Die Gees bevry my van eie onmag. As ek aan myself oorgelaat word, kan ek die wet nie onderhou nie. Nou gee die Gees egter lewe en krag. Die Gees herskep my sodat ek hoe langer hoe meer my sondige vlees verloën en my sondige begeertes kruisig. Die sonde en die duiwel word deur die Gees oorwin. Hy wat in my is, is groter en sterker as wat in die wêreld is.

Gemeente, om in die Gees te wees beteken dat ek nou eindelik God se wet ken en die mag van die sonde. As iemand in die ryk van die Gees kom, dan sien hy skielik dat al sy vroeëre nalewing van die wet, sedelikheid maar waardeloos stukwerk is. Die ou regverdigheid waaroor hy vroeër gepog het, is nou van geen enkele waarde nie. As ek eenmaal die geestelike karakter van die wet ontdek, dan sien ek hoe hopeloos oppervlakkig my uiterlike korrektheid is. In die ryk van die Gees leer ek eie doemwaardigheid sien en word ek gedryf om my heil buite myself in Jesus Christus te soek.

En dan kom daar ’n nuwe motief, dryfveer in my lewe. Ek gaan nie meer goed en regverdig lewe uit vrees vir God of hel nie. In my strewe om goed te lewe rig ek my nie op selfbehoud, selfbevrediging nie. Deur die Gees ontstaan daar ’n werklik christelike lewe wat uiting wil gee aan die wederliefde tot God. So ’n lewe wil die dankbaarheid wys vir alles wat God in Christus vir ons gedoen het. Die nuwe motief vir ’n heilige lewenswandel is dan ware liefde tot God en die verlange om sy oorweldigende genade te verheerlik.

Ons leef dan nie meer onder die wet in ’n gees van slawerny nie, maar ons leef in die nuwe Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader. Bevry van alle uitsigloosheid en spanning mag ek nou leef in die vryheid van die kinders van God, ontspanne en bly. Die Gees gee my vreugde in die opneem van die ligte las van Christus. Daar is geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie. Die dood en die sonde het geen heerskappy meer nie. Die Gees is nou die lewensbeginsel wat die lewenswandel beheers en lei.

Die wil egter nie sê dat ons nou al die volmaaktheid sou kan bereik nie. In my stryd teen die sonde heers die sonde nie meer nie. Maar ek het die sondige vlees nog nie volkome in beheer nie. Daar bly swakhede. Ons is eintlik nog maar kinders in die geloof en in die nuwe lewe. Maar hoe dikwels ek ook al mag struikel, ek mag weet, danksy die inwoning van die Gees, dat ek nooit weer terug sal val tot die staat van 'in die vlees wees' nie.

Nou die derde gedagte: die noodsaak van die inwoning van die Gees. Paulus sluit ons teks af met die woorde: Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, die behoort nie aan Hom nie. Die woorde toon hoe noodsaaklik dit is om in die Gees te wees. Die persoon wat nie die Gees van Christus het nie, behoort nie aan Christus nie. Ek is dan nie die eiendom van Christus nie, ook al is ek lid van die gemeente. Sonder die Gees van Christus kan ek geen christen wees nie.

Die uiteindelike toets waardeur ek weet of ek ’n christen is, lê in hierdie woorde. As ek die Gees van Christus het, dan behoort ek aan Hom, dan is ek ’n
christen. Het ek, het jy die Gees van Christus? Woon die Gees van Christus in my? Hoe kan ek dit weet? Dis ’n diepere toets as die toets van my geloofsbelydenis. Ja seker, ons moet ons geloof bely. En ons weet dat daar ook iets is soos net ’n verstandelike instemming. Maar hier het ons ’n dieper toets. ’n Mens kan sê Ek het altyd geglo. Maar die vraag is: is die Gees van Christus in hom? Die toets is nie lidmaatskap van ’n kerk nie. Nie dat jy in ’n bepaalde gesin of land gebore is nie, nie jou belydenis van geloof nie, nie jou intellektuele instemming met ’n bepaalde leer nie, nie jou goeie werke nie. Is die Gees van Christus in jou?

Maar, hoe weet ek of ek die Gees van Christus het? Let daarop dat Paulus praat van die Gees van Christus. Hy kom van Christus. Die Vader het die Heilige Gees aan die Seun ter beskikking gestel. Na sy werk van versoening, het Hy die Gees dan uitgestort. Soos Petrus daarvan in sy Pinksterpreek spreek: Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dit uitgestort, wat julle nou sien en hoor (Hand 2:33). Die Pinksterfees blyk ’n Christusfees te wees.

Soos die Gees van Christus kom, so lei Hy ook na Christus toe. Hy verheerlik Christus. Dit het Christus reeds beloof: "Die Gees van die waarheid sal nie uit Homself spreek nie. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig"
(Joh 16:13,14). Die eerste ding wat die Gees doen is om die Seun van God te verheerlik, in sy Persoon en in sy werk. Daarom as iemand nie in Jesus Christus as die Seun van God en in sy werk van versoening en in al sy ander woorde en werke glo nie, dan het hy nie die Gees van Christus nie. Dan kan jy miskien ’n vriendelike en voorbeeldige persoon wees wat baie goeie dade verrig, maar dan het jy nie die Gees van Christus in jou nie. Want as jy die Gees van Christus het, dan aanbid jy die Here Jesus Christus as jou God en Verlosser, dan maak jy sy woorde en dade groot.

Die uiteindelike toets is my houding tot en my verhouding met die Here Jesus Christus. Die Gees van Christus lei my na die Christus toe en bind my aan Hom. Hy gee my ’n ware geloof waardeur ek aan Christus en al sy weldade deel kry. Hy maak tot my eiendom wat ek in Christus het, naamlik die afwassing van my sondes en die daaglikse vernuwing van my lewe. Die Gees is ook die onderpand van die volkome verlossing. As jy die Gees het, dan is die volkome oorwinning in beginsel reeds die joune.

Broeders en susters, sien hier die geweldige rykdom van die nuwe verbond. Dis onvoorstelbaar: die Heilige Gees woon in my en jou wat glo. Besef julle wat dit beteken? Dit wil sê dat ook die Vader en die Seun met jou is. Die Gees is in ons ’n onoorwinlike krag. Sou ons dan in die stryd van die geloof moed verloor of tou opgooi? Sou ons dan nie met nuwe moed en kragte volhard op die pad van die lewe nie? Sou ons dan nie wandel in die Gees nie?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)