Die rykdom van die kinderdoop.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-06-15
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 27
Preek Inhoud: 

Sondag 27

Ds C Kleyn - Sondag 15 Junie 2003

Lees:

Genesis 17:1-14; 1 Korinthiërs 7:10-16; Sondag 27.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 78:2,3,4; Ps 71:4,5,10; Ps 115:7,8.

Tema: Die rykdom van die kinderdoop.

Die afwysing van die kinderdoop beteken

  1. Dat God te min eer ontvang; en
  2. Dat die mens te veel eer ontvang.

 

Geliefde gemeente van onse Here Jesus Christus,

Vanaand hoop ons om op die kinderdoop te konsentreer.

Kinders behoort aan die Here. Daarvan is ons seker. Hulle behoort aan die Verbond. Hulle behoort aan die Kerk. Hierdie seuns en dogters is ons broers en susters in Christus. Hulle behoort daarby. Dit is duidelik. Maar is dit ook duidelik hoekom hulle daarby behoort? En wat dit beteken dat hulle daarby behoort?

Om dit in beeld te kry sal dit goed wees om eers te kyk na hulle wat die kinderdoop verwerp. Vandag is daar steeds meer mense wat ’n probleem met die kinderdoop het. Baptiste,
Pinkstergroepe, maar ook bv. mense uit liberale hoeke. Hulle agtergronde is wel verskillend. By die Pinkstergroepe sien jy ’n duidelik reaksie teen die gewoontes in die groot
volkskerke. In daardie kerke het die kinderdoop ’n plegtige handeling, sonder enige konsekwensies, geword. Duisende kinders word gedoop, maar daarna kom hulle amper nooit meer in die kerk nie. Daarna sal hulle hoogstens miskien nog ander seremonies bywoon soos troues of begrafnisse. Teen hierdie agtergrond bestry Pinkstergroepe die kinderdoop.

Die besware uit die liberale kringe kom gewoonlik uit ’n ander agtergrond. Die nadruk daar lê op die selfbeskikkingsreg van die mens. Wat gee ons die reg om vir ons kinders te besluit?

Tog kom die besware uit altwee kringe op dieselfde neer – al verskil hulle agtergronde. Altwee lê klem op die persoonlike keuse van die gelowige. Daarby beroep hulle hul op die woorde van Mark 16:16 : "Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word." Staan daar nie dat ’n mens eers moet glo en daarna die doop kan ontvang nie?

Hierdie beswaar kan jy maklik bestry deur te wys dat Mark 16:16 (en Mt 28:19) ’n sendingsituasie beskryf. In so ’n geval word die evangelie eers aan die volwassenes verkondig – hulle moet dissipels van Christus gemaak word – en daarby is die volgorde: eers geloof en daarna die doop.

So het dit reeds met Abraham gegaan. Hoe het hy die teken van die verbond ontvang? Deur geloof. Daardie geloof was hom tot geregtigheid gereken. Daarna het hy die besnydenis ontvang (as ’n teken van die geregtigheid wat hy deur geloof gehad het nog voor hy besny is).

So het dit ook gegaan in die nuwe verbond met die Etiopiër, Cornelius, Lydia en die tronkbewaarder van
Filippi. So gaan dit nog steeds in die kerk van vandag. As ’n buitestaander homself by die kerk aansluit is die volgorde: eers geloof, daarna doop.

Hiermee het ons egter nog niks oor die kinderdoop gesê nie. Hoe kan ons tot die gevolgtrekking kom dat kinders wel gedoop moet word? En is dit regtig verkeerd om slegs volwassenes te doop?

Vanaand wil ons daarna kyk om die rykdom van die kinderdoop uit te lig. Die besware teen die baptistiese denkwyse van die doop kan soos volg geformuleer word:

Die afwysing van die kinderdoop beteken

  1. dat God te min eer ontvang
  2. dat die mens te veel eer ontvang

Eers dan die punt: die afwysing van die kinderdoop beteken dat God te min eer ontvang. Hoekom? As jy die kinderdoop verwerp vernou jy die pad van God se genade. Jy sê dus dat God in sy genade slegs met gelowiges wil optrek, met individuele gelowiges.

Hier het ons te doen met die kwaad van individualisme. Individualisme sien mense slegs as individue. Losgemaak van alle verbande en verhoudings. Individualisme gee net aandag aan die enkeling met sy eie persoonlike keuses.

Individualisme is, broeders en susters, ’n kwaad van hierdie tyd. ’n Plaag wat orals heers. Wat op alle terreine deurwerk. In die maatskappy, in die gesin en in die huwelik. Dit is teen die natuur. ’n Belediging vir God.

Want hoe sien God die mense : as losstaande individue? Hoe het God die mens geskape? God het Adam eerste gemaak. Daarna Eva, as die hulp wat by hom pas. Hulle is afhanklik van mekaar. Hulle vul mekaar aan. Man en vrou het God hulle geskape. Adam en sy vrou het die opdrag gekry om vrugbaar is wees. Om die aarde te vul. Kinders moes gebore word. Gesinne, geslagte, stamme, volke. God wou gesinsbande hê. Hy het self die gesinsbande geskep. Op hierdie manier wou hy die menslike geslag bou.

Maar toe kom die groot versteuring, die val in sonde. Individualisme. Die mens het sy eie belange gesoek. Die vrou het afstand geneem van die man en die pad gelei na die kwaad. Adam het afstand geneem van sy vrou deur die verwyt: "Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet". Verwoestende individualisme.

Broeders en susters, wat het God toe gedoen? Het hy die werk van sy hande gelos? Het hy sy skepping verlaat? Sy skeppingstrukture? Het hy die bande van huwelik, gesin, geslagte laat vaar? Die strukture wat Hy van die begin af in sy gedagtes gehad het?

Nee, God het sy skepping opgesoek, die strukture van sy skepping, die verhoudings. Hy wou hulle verlos. Die vrouesaad moes opstaan teen die
slangesaad. Dit beteken: ’n huweliksband, ’n intieme verhouding wat gesinne, geslagte bou.

So kom gesinsbande weer in beeld. God het hulle ingeskakel in sy heilsplan. So het God dan ’n verbond met Abraham gesluit. Met Abraham as ’n individuele gelowige? Nee, met Abraham as die hoof van ’n gesin. God respekteer lewensverhoudings wat Hy self gemaak het. Die huwelik van Abraham en
Sara. Die gesin wat gebou word. Die geslag. God sluit ’n verbond met Abraham en sy nageslag in hulle geslagte. Alle mans en seuns in sy huis moet besny word, of hulle daar gebore is of as slaaf gekoop is. Toe God met Abraham wou omgaan wou hy met die hele huis van Abraham omgaan.

Ja, gemeente, wanneer God na ons toekom met sy genade, vergeet Hy nie van die strukture wat Hy self geskep het nie. Hy het die huwelik, gesin, geslag en nasie hulle eie plek gegee. Hoe sou Hy ooit sulke verhoudings kon vergeet?

God se genade staan dus nie teenoor die natuurlike lewensverhoudings nie. Die genade breek nie die verhoudings op nie. Nee, God se genade soek die herstel van daardie verhoudings. Dus soek God die gesinne op. Hy wil nie net deur volwassenes gedien word nie, maar ook deur spelende kinders. Kinders wat nog deur hulle ouers opgevoed en gelei moet word. Kinders wat nog nie hulle geloof kan bely nie.

Maar, gemeente, waar staan dit in die Bybel dat God in die NT op dieselfde manier werk? Die feit dat God nog die skeppingstrukture respekteer en gebruik in sy heilswerk is duidelik uit bv. 1 Kor 7. Daar word gemengde huwelike deur Paulus behandel: getroude paartjies waarvan een ’n gelowige geword het terwyl die ander ongelowig gebly het. So ’n situasie bring verskillende vrae op.

Wat moet ’n gelowige doen in so ’n geval? Kan ’n gelowige man nog bly by sy ongelowige vrou? Kan ’n ma wat tot geloof gekom het, nog bly in haar gesin? By haar man? En by haar kinders? ’n Gelowige in ’n heidense omgewing? Eis God dat gevestigde verhoudings opgebreek moet word om sy ontwil? Die verhouding tussen man en vrou? Tussen ouers en kinders?

Nee, die Here eis dit nie. Hy skeur nie uitmekaar wat hy eers saamgevoeg het nie. As die ongelowige party gewillig met die gelowige wil saambly moet die gelowige dit aanvaar en nie skei nie. En as daar kinders is, hoef die gelowige ouer nie die taak van opvoeding op te gee nie.

"Want," sê Paulus, "die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig."

Deur daardie een gelowige werk die Here heiligmakend in die hele gesin. Die krag van God se genade is so sterk dat selfs die kinders in so ’n gesin heilig beskou word.

Heilig, dws afgesonder deur die Here om Hom te dien. Die Here het sy hand op hulle gelê. Nee, daar word hier nie oor die doop gepraat nie. Tog is dit duidelik dat die kinders aan God se verbond behoort. Selfs kinders wat uit ’n gesin kom wat verdeeld is. As een ouer heilig is, so ook die kinders. As altwee ouers heilig is, so ook die kinders. As die ouers lede is van Christus se kerk, so ook die kinders.

God maak nie skeiding tussen ouers en kinders nie, sodat een in die gemeenskap met Hom opgeneem word en die ander nie. Asof hulle los individue is, geisoleer van alle bande. Dit is nie hoe God hulle geskep het nie. Dit is nie hoe God hulle wil behandel nie. Saam met die ouers is die kinders ook deur die bloed van Christus naby gebring. Dit is ’n houvas volgens 1 Kor 7:14 selfs in gesinne waar so ’n pynlike kloof deurheen loop.

God laat nie vaar die werk van sy hande nie. Hy hou vas aan Sy skeppingstrukture: huwelik, gesin, geslagte. In sy genade lê Hy beslag op hulle. Hy gebruik hulle in sy heilsplan.

Dit word bevestig deur die woorde van die apostel Petrus op die Pinksterdag: "Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep." Dit word ook bevestig deur die sogenaamde huistekste in die NT. Tekste wat praat van die doop van gesinne, huise. Cornelius en sy huis, Lydia en haar huis, die tronk bewaarder van Filippi en sy huis.

Gemeente, mag ons dan God se genade beperk tot individuele gelowiges? Soos gedoen word deur die teenstanders van die kinderdoop? Dit is ’n belediging vir God ons Skepper en Heiligmaker. ’n Belediging van God wat gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde bly. God laat nie vaar die werke van sy hande nie. Verwerping van die kinderdoop gee nie die eer aan God wat Hom toekom nie. Hy wat groot is in barmhartigheid en vir ewig sy verbond onthou.

Afwysing van die kinderdoop beteken in die tweede plek dat te veel eer aan die mens gegee word. Wanneer jy die kinderdoop verwerp gee jy te veel eer aan jouself. Te veel eer aan jou geloof.

Volgens daardie siening is die doop niks meer as ’n besluit wat die gedoopte persoon self maak. Jy stel jouself beskikbaar vir die Here. Jy lê ’n eed van trou aan die Here af. Jy kom eerste met jou geloof. Jou persoonlike geloofskeuse is die bepalende faktor.

Die gees van die tyd maak die siening van die teenstanders van die kinderdoop aantreklik. Ons leef immers in die eeu van die mens. Die eeu van die geemancipeerde mens wat opkom vir eie regte. Dit impliseer dat jy nie besluite vir ander kan neem nie. Mense moet hulle eie besluite maak, hulle eie toekoms bepaal, hulle is hul eie heer en meester.

Sekerlik, ons kan nie die pinkstergroepe of alle baptiste beskuldig van sulke wêreldse motiewe. Tog staan die selfbeskikkingssreg van die mens sentraal. Eers moet ’n persoonlike keuse vir die Here gemaak word en daarna kom die Here met die doop. Die doop, as teken en seël waarvan? God se verbond? Nee, hulle gee min aandag daaraan. Die doop word die teken en seël van die vroomheid van die mens, van sy
geloofskeuse. Die mens met sy geloofskeuse kom eerste. En God is afhanklik daarvan. Wat ’n oorskatting van die mens! Asof die mens die pad kan lei en God moet volg.

Broeders en susters, die struktuur van God se verbond is hier in geding. Hoe gaan dit in die verbond met God? In die verbond kom God altyd eerste met sy genade. Die eerste daad kom van Hom. Hy moet die eerste wees om op te tree. Anders sou ons nooit na Hom kon toekom nie. Want ons is van nature dood in ons sonde. Vyande van God. Onderwerp aan God se oordeel. Kan jy enigiets verwag van mense wat dood is in hulle sonde? Voor daar verandering kom moet die Here eers ingryp. Net Hy alleen kan die inisiatief neem. Dus verleen die verbond sy ontstaan alleen aan God se eensydige handeling. God gryp in met sy liefde. Hy is voor ons. Hy lei die weg. Dit is die struktuur van die verbond met God – die genadeverbond. God het in Sy genade na ons uitgereik nog voor ons self iets kon doen of kies, ja, nog voor ons gebore is.

En, broeders en susters, hierdie struktuur van die verbond is duidelik sigbaar in die eerste sakrament, die doop. Dit behoort tipies by die doop dat jy gedoop word, dat jy passief is terwyl iets aan jou gedoen word. Die Here is die aktiewe party by jou doop. Hy kom jou lewe binne met sy lewende en lewendmakende woord, met sy beloftes. Die evangelie word deur die water van die doop bekragtig.

Die doop fokus dus nie op jou keuse of daad nie. Die doop wys die eensydige handeling van God aan. Die doop fokus op die God van die verbond. Op sy uitnemende daad. Op sy liefde waardeur hy ons gekies het nog voor ons vir Hom kon of selfs wou kies.

Daarom, moenie die mens en sy keuse sentraal by die doop stel nie. Asof jou keuse die beslissende faktor is nie. Dink net wat dit sou beteken, as alles afhanklik was van jou keuse, as jou geloofskeuse eerste moes kom. Waarin sou jy dan jou houvas soek? Dan sou jy nie jou sekerheid in God se beloftes soek nie maar in jou eie geloof, ervaring, siel. Jou geloof sal dan die anker van jou siel moet wees. In pleks van die hoop waarvan die Skrif praat. Die hoop wat seker en veilig is, vas geanker in Gods se onwankelbare trou. In voorspoed en teenspoed – selfs as jy die dood in die gesig staar – sou jy rus moet vind, nie in die betroubare Woord van God nie, maar in die dryfsand van jou eie ervarings, in die toestand van jou eie hart. In jou geloof en ongeloof. In jou sekerheid en onsekerheid. In jou hoop en wanhoop. Kan hierdie wisselende gevoelens enige houvas bied?

Afgesien van dit, bring hierdie gedagtegang: eers jou geloof dan God se belofte, jou baie naby aan ’n ou dwaling, naamlik dat ons verlossing nie enkel en alleen God se werk is nie. Maar dat jy self ook ’n bydra moet lewer. Asof jou geloof die eerste bydra moet wees om redding te verdien.

Tog, broeders en susters, beteken verlossing volgens die Skrif nie dat jy ’n reg op die ewige lewe verkry danksy jou bydra nie. Want God het self daarvoor gesorg. Hy alleen. Hy volkome.

Maar watter plek neem die geloof dan in? Niks anders as dit: dat jy God se woorde as waar aanvaar. Dat jy God betroubaar ag. Dat jy aanvaar wat God aan jou beloof het. Geloof is die pad waarlangs God se seën na jou toekom, die vervulling van sy belofte. Dit is die hand wat aanneem wat God gee.

God beloof die vergewing van sondes en die ewige lewe ook vir die kinders. Hy beloof ook aan hulle die vergewing deur die bloed van Christus en die vernuwing deur sy Gees. Hoe ontvang jy daardie vergewing en vernuwing? Outomaties? Vanselfsprekend? In die sin van: ek is gedoop, alles is in orde, niks kan verkeerd gaan nie?

Nee, nie so nie. As jy in die teken van die doop vertrou sonder om in God se beloftes te glo, sal jy bedroë uitkom. God moes sy volk aanhoudend waarsku teen so ’n valse sekerheid. Maar hoe kan God dan die doop die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sonde noem? Sê Hy dan nie dat die doop self die afwassing van die sondes is nie?

God praat hier baie nadruklik. Opsetlik. Om dit aan ons hart te bind dat Hy bedoel wat Hy sê, dat Hy doen wat Hy beloof, dat ons ten volle op Hom kan vertrou. God waarborg die belofte van vergewing en vernuwing. Dit is waar en seker. So seker soos jy met water gewas word, so seker wil Hy jou was met Christus se bloed en Gees.

Hier het jy ’n seël by ’n belofte. ’n Seël waaraan jy kan vashou. ’n Pand van God se guns. Maar jy moet in daardie geseëlde belofte glo.

Die doop skep nie ’n valse sekerheid nie. Dit roep ons op tot geloof. Vergelyk dit met ’n seël op ’n dokument. Stel die seël die aanvaarding van daardie dokument aan die kant? So dat jy nie rekening hoef te hou met die inhoud nie?

Natuurlik nie. Die seël bevestig die betroubaarheid van daardie dokument. Dit vra dringend vir die aanvaarding van die boodskap.

Dieselfde geld vir die seël van die verbond. God se Woord is waar en seker. Hy het dit met ’n Goddelike eed bekragtig. Wie sou durf om daardie woord, daardie belofte van God te verwaarloos? Sulke beloftes slaan jy mos nie in die wind nie? Sulke beloftes van lewe! In gemeenskap met God. Tensy jy die dood verkies. Want almal wat nie glo nie, sal veroordeel word.

Daarom, broeders en susters, wees bly met jou doop. Ook met die doop wat jy as kind ontvang het. Juis daarin blyk die grootheid van God se genade. Hy gaan voorop met sy liefde.

Daarom, moenie te veel van jouself dink nie. Van jou geloofskeuse. Bedink liewers die grootheid van jou God. Moenie bou op jou geloof, jou ervaring nie, maar bou op God se onwankelbare beloftes. Dit alleen gee sekerheid. In alle versoekings, sondes en stryd van die geloof. Gryp altyd terug na jou doop. Die seël van God se belofte. Daarin het jy ’n houvas: die Here het gesê – en Hy bedoel dit ook – dit is waar en seker – Die Here het gesê: Ek wil jou sondes vergewe. Ek wil jou lewe vernuwe. Hoe diep jy ook al geval het, jy mag altyd weer na My toekom. Nie vanweë jou wonderlike
geloofskeuse. Maar omdat Ek so gesê het.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)