God regverdig sondaars deur die geloof.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-04-13
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 23
Preek Inhoud: 

Sondag 23

Ds C Kleyn - Sondag 13 April 2003

Lees:

Romeine 3:9-31; Sondag 23.
Sing: Ps 9:1,2; Ps 9:7,8; Ps 53:1-3,6; SB 10:1-6; Ps 33:11.

Tema:


God regverdig sondaars deur die geloof.

  1. Wat is die regverdiging?
  2. Hoe kan dit plaasvind?

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat baat dit jou dat jy dit alles glo? Watter voordeel het jy deur te glo in God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees? Ja, is daar enige voordeel? Mense het altyd reeds met die vraag geworstel. Dink aan Asaf in Ps 73. Hy het groot moeite met voorspoed van die goddeloses. Dit lyk vir hom asof die goddeloses ’n geweldige tyd het. "Hulle het geen kwellings nie" skryf Asaf, "hulle is sterk en gesond, hulle het nie sorge soos ander mense nie, hulle het nie teëspoed soos ander nie. Daarom hang die trots aan hulle soos ’n halssnoer" ens. In selfvertroue kan hulle maak wat hulle wil. Asaf som dit op: "Kyk so is die goddelose mense en altyd onbesorg vermeerder hulle die rykdom." Dis hoe Asaf die posisie van die goddeloses ervaar.

Wat ’n kontras met sy eie posisie as gelowige. "Die hele dag tog is ek geslaan, en my tugtiging was daar elke more." Kan jy dan die klag voorstel: "Waarlik tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas"? Tevergeefs het ek geglo. Wat baat dit dat ek glo? Dikwels lyk dit asof dit niks help nie. Wanneer jy werklik en konsekwent in die Here glo, kan jy baie kritiek te verduur hê, jy kan ’n verstoteling wees, afgewys deur jou klasgenote of span of werkkring. As sakeman kan dit vir jou baie kontrakte en besigheid kos, omdat jy nie bereid is om saam te doen met oneerlike en onwettige praktyke nie. Jou geloof kan jou jou posisie as werknemer laat verloor. Dit kan jou kanse op werk baie beperk. Wanneer jy ’n huweliksmaat soek kan dit jou baie beperk in jou keuse. Die geloof beperk jou in jou genot van aardse genietings.

Ja, wat baat dit jou om te glo? Asaf het met die vraag geworstel. Baie worstel vandag met die vraag. Asaf het die antwoord op die vraag opnuut ontdek. Nie deur rond te kyk in die samelewing nie. Maar deur na die tempel te gaan. Deur in God se teenwoordigheid te kom. Daar het hy opnuut sy groot God leer sien, sy getroue en regverdige God, wat die sonde nie ongestraf laat bly nie, en tog elkeen vergewe wat na Hom kom. Asaf het die offerdiens in die tempel gesien. Hy het sy genadige God gesien. Toe het hy opnuut besef hoe oorweldigend ryk hy is om te mag verkeer in die teenwoordigheid van so ’n God.

Asaf moes erken dat hy ’n dwaas was sonder verstand toe hy aanvanklik geredeneer het asof die goddeloses beter af sou wees. God se teenwoordigheid het hom herinner aan die dwaasheid van die goddeloses en hulle einde. God ken en sien hul dade terdeë. Hy is die regverdige regter. Daarom is die goddeloses wat God nie aanvaar nie op pad na hul ongeluk. "Waarlik U stel hulle op gladde plekke; U laat hulle in puin val. Hoe word hulle in ’n oomblik ’n voorwerp van verbasing, vergaan hulle, raak hulle tot niet deur verskrikkinge. Soos ’n droom nadat ’n mens wakker word, o Here, so verag U, as U opwaak, hulle beeld." Ps 73:18-20.

Broeders en susters, die geloof fokus nie op die afwesigheid van sigbare voordeel nie. As gelowige weet ek dat ek feitelik eers alles moet verloor om alles te kry. Dis mos waaroor dit gaan wanneer ek Christus volg, dat ek myself verloën en my kruis opneem. Ek moet bereid wees om nee teen myself te sê en seer te kry. Dis nie maklik nie. Maar die volg van Christus beteken uiteindelik groot wins solank as ek my oë daarvoor oophou. Die kat wys daarop wanneer dit as blywende baat noem, dat ek in Christus voor God geregverdig en ’n erfgenaam van die ewige lewe is.

Ek verkondig vir julle: God regverdig sondaars deur die geloof.

  1. Wat is die regverdiging?
  2. Hoe kan dit plaasvind?

Wanneer ons kat ons regverdiging noem dan gebruik dit ’n regterlike term. Ons is betrokke in ’n regsaak. Elkeen van ons moet voor God verskyn, voor sy regterstoel. En dit nie net na hierdie lewe nie, maar reeds hier en nou. In feite kan ’n mens sê dat die stoele van die gerig hier in die kerk reeds opgestel is. Wanneer jy die prediking van die woord hoor, is jy as 't ware betrokke in ’n regsaak. Die Regter doen uitspraak.

Watter vonnis spreek God uit? Wanneer ek voor die heilige Regter staan soos ek is, op myself, dan kan ek net ’n negatiewe oordeel verwag, veroordeling, ek is skuldig.

Luister maar na die aanklagte teen my: Ek het teen al die gebooie van God swaar gesondig. Al die gebooie van God oortree. Ek het gedoen wat ek nie mog doen nie. Nie net so nou en dan nie. Dit was nie net ’n tydelike onbesonnenheid, ’n ongeluk, ’n onbedagte woord nie. Nee, ek het teen al die gebooie van God swaar gesondig. Waarskynlik besef ek nie eers in watter mate, hoe swaar ek gesondig het nie. God se woord lê die sonde bloot. Wanneer die volle lig van God daarop skyn bly niks verborge nie. God se woord, ja, God self dring deur tot die diepste gedagtes en motiewe. Hy weet alles. As ek Hom my gewete laat verlig, vorm, dan sal ek moet konkludeer: ek het teen al die gebooie van God swaar gesondig. Ek het baie dinge gedoen wat ek nie mog doen nie, woorde uitgespreeek wat ek nie mog sê nie, gevoelens geken wat ek nie mog ken nie.

Maar nie net dit nie: ek het ook nie een van die gebooie gehou nie. Positiewe gehoorsaamheid aan God se wil het by my ontbreek. God het my hart gevra: my seun gee my jou hart. Hy het volmaakte liefde vir Homself en my naaste gevra, met my hele hart, met my hele siel en met my hele verstand. Het ek die liefde by die huis, by die skool, by die werk gewys? In die manier waarop ek met ander mense omgegaan het? Selfs my beste werke is met sonde bevlek. Hoe dikwels bederf sondige motiewe dit wat anders goed sou wees.

Maar die ergste is dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is. Juis die bron van my bestaan is bedorwe. Ek is in sonde ontvang en gebore. Van nature is ek geneig tot alle kwaad. Dis slegs deur God se genade dat ek nie altyd die neigings opvolg nie. Hy weerhou my. Maar steeds weer ontdek ek die bedroewende werklikheid dat die neigings daar nog is. Ek is nog ’n sondaar.

Geliefdes, wanneer jy die drievoudige aanklag hoor: ek het gedoen wat ek nie mog doen nie. Ek het nagelaat om te doen wat ek moes gedoen het en ek is nog tot alle kwaad geneig, dan sou die logiese gevolg moet wees: ek is skuldig en aan die ewige verdoemenis skuldig. As ek voor God verskyn soos ek is, uit myself dan kan ek slegs veroordeling verwag, om deur God se toorn verteer te word. Ek het niks anders verdien nie. Soos die Psalmis se: "As U, Here, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?" God die regter kan dit nie ontken nie: ek is skuldig. My skuld is deur die feite aangetoon. Ek verdien die ewige dood.

Is dit dan vreemd dat baie mense gevrees het vir die ontmoeting met die hemelse regter nie? Martin Luther was een van hulle, voordat hy die ware evangelie ontdek het. Ons kan baie leer van sy lewensgeskiedenis. Ons kan daaruit leer om die evangelie van genade weer raak te sien. Vandaar dat ek ietwat daaroor wil uitbrei. Vir jare het Luther geworstel met die vraag: hoe kan ek gered word? Hoe kan ek met God versoen wees? Luther het die toorn van God gevrees, die angs van die hel. Daarom het die hewige storm met weerlig en donder hom doodbenoud gemaak. Hy het belowe om ’n monnik te word. Hy wou homself beveilig teen die toorn van God. Hy het gedink: in die klooster sal ek heilig word.

Maar tydens die eerste jare in die klooster het sy angs net erger geword. So gaan dit as jy op jouself bly fokus. Hy het meer en meer bewus geword dat ondanks al sy inspanning hy nooit heilig, in die sin van volmaak, sal wees nie. Daarom het die woorde uit die brief aan die Romeine oor die geregtigheid van God hom doodsbenoud gemaak. Bv die woorde van Rom 1:17: "Want die geregtigheid van God woord daarin (in die evangelie) geopenbaar uit geloof tot geloof." Luther het gedink dat die woorde verwys na God se wrekende geregtigheid, dat God elkeen gee wat hy verdien, dat Hy elkeen vir sy sondes sal straf. Hy het God gesien as ’n strenge Regter, as die God met ’n groot stok wat steeds gereed staan om jou te slaan sodra jy verkeerd doen. Daarom het Luther van alles gedoen om te probeer om die oordeel vry te spring: ’n bedevaart na Rome, vas, gebed, selfkastyding. Later sê hy van homself: as daar iemand was wat deur sy kloosterlewe gered sou kan word, dan was dit ek gewees.

Maar niks van dit alles het hom vrede gegee nie. Hy het dikwels veroordeel en verlate gevoel en kon selfs die God van geregtigheid haat. Hy het onseker gebly totdat die volle lig van die evangelie deur gebreek het. In sy bestudering van die brief aan die Romeine het Hy ontdek dat die geregtigheid van God wat in die evangelie geopenbaar word nie die wrekende geregtigheid is nie. Die geregtigheid is die vrug van Christus se werk, dit is die toegerekende geregtigheid, die geregtigheid wat aan die gelowiges gegee word. Dis ’n gawe van God wat in die Skrif aangebied word. Dit word verkry deur geloof, sonder die werke van die wet. Die regverdige sal uit geloof lewe. "Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus." (Rom 5:1).

Luther het toe ’n ander mens geword. Hy was bekeer tot die evangelie. Hy het ervaar dat die paradys vir hom oopgegaan het. Hy kon nou sonder verskrikking voor God verskyn. Die evangelie sê nie net: jy is skuldig nie. Nee, die goeie nuus is: sondaars word in Jesus Christus vrygespreek. Daaraan herinner Sondag 23. My gewete kla my aan en God kan dit nie ontken nie: ek is skuldig. Tog sê die goddelike regter: Ek verklaar jou onskuldig. Ek het niks teen jou nie. Jy is nie in gevaar van jou lewe nie. Jy hoef nie die angs van die hel te vrees nie. Nee, jy het reg op die ewige lewe. Gaan in tot die ewige lewe.

Sondaars word vrygespreek. Sondaars kan verskyn voor God sonder om deur sy brandende toorn verteer te word. Ek kan voor Hom bestaan. Meer nog: ek mag ingaan in sy heerlikheid.

Hoe is dit moontlik? En dit terwyl die goddelike regter niks oor die hoof sien nie. Alles lê oop en bloot vir Hom. Hy sien niks deur die vingers nie. Hy sê nie: jy is wel skuldig, maar sand daaroor, laat ons nie meer daaroor praat nie. Nee, Hy is ’n regverdige regter.

Tog spreek Hy sondaars vry. Hoekom? Dit is slegs moontlik deur die tussenkoms van Christus. Christus tree op as my advokaat. ’n Baie uitsonderlike advokaat. Het jy hier op aarde ooit gehoor van ’n advokaat wat borg wil wees vir die beklaagde wat hy moet verdedig? Het jy ooit gehoor van ’n advokaat wat die skuld van die beklaagde op homself wil neem, ja, selfs die skuld van die ewige toorn van God? Tog is dit wat Christus my advokaat doen. Hy sê vir Vader die Regter: Vader, straf my in sy of haar plek. Hoewel Hy volkome onskuldig was, het Christus homself tot sonde laat maak. Hy het die plek van skuldige sondaars soos jy en ek ingeneem. Hy het my skuld betaal.

En nou is Hy in die hemel as my pleitbesorger, as my advokaat wat kan wys op sy volbragte werk: Vader, die beklaagde daar het inderdaad ’n sondige hart en vuil hande. Hy het teen al u gebooie swaar gesondig. Ek het egter die straf daarvoor gedra. Ek het die skuld betaal. Vader, die beklaagde het nie een van u gebooie gehou nie. Positiewe gehoorsaamheid aan u wil het ontbreek. Ek het egter in sy plek u wil gedoen. Ek het positiewe gehoorsaamheid volbring. Vader, die beklaagde is nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig. Ek het my egter volkome aan U gewy. My hart is suiwer op U gerig.

Gemeente, vanweë die getuienis van my advokaat en borg Jesus Christus verklaar die goddelike regter my vry van skuld en straf. Hy aanvaar die lewe en sterwe van Christus in my plek. So bly Hy die regverdige regter ook as Hy hulle regverdig wat uit die geloof in Jesus is. Hy het die skuld reeds vir hulle laat betaal. Hy het Christus die skuld laat betaal en Hom daarvoor gestraf. Dan kan Hy tog nie ’n tweede keer die skuld laat betaal nie? Dit sou nie regverdig wees nie. My rekening is eens en vir altyd betaal.

God reken my Christus se werk toe asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het. Hy doen dit sonder dat daar enige verdienste van my kant is. Uit louter genade skenk Hy my die volkome genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus. God regverdig dus nie die beste en mees deugsame mense wat eers van alles gepresteer het nie. Hy regverdig sondaars, sondaars wat bid: o God wees my sondaar genadig.

En, gemeente, hierdie regverdiging is volkome: Hy reken my dit toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het. Hy behandel my asof ek Christus self is. Hy sien my aan asof ek my hele lewe ewe suiwer, heilig en gewillig was as sy Seun Jesus Christus.

So word sondaars geregverdig. Ondanks my natuurlike skuld – niemand is daarvan vry nie – word ek tog vrygespreek. Ek mag sonder verskrikking voor my goddelike regter verskyn. Daarom hoef die woord van God, wat alle skuilhoeke van my hart blootlê, my nie meer bang te maak nie. Daarom is die verskyning van die Here vir my nie meer skrikaanjaend nie. Die gelowige kan bestaan. Want Christus het voldaan.

Wat baat dit my dat ek glo? Nie dat ek daardeur beter punte kry nie. Ook nie dat ek daardeur vinniger geskikte werk kan vind nie. Ook nie dat ek meer aardse voorspoed kan verwag nie. Ook al het my geloof wel ’n positiewe impak op daardie dinge, my voordeel is meer as die waardevolle dinge van hierdie aarde. Naamlik: dat ek voor God vrygespreek word en reg het op die ewige lewe. Dit is die voordeel wat die geloof vir my bring. ’n Onvoorstelbare groot voordeel!

Maar waarom is dit juis die geloof wat die voordeel bring? Dis omdat die geloof my aan Jesus Christus verbind. Jesus Christus die weg, die waarheid en die lewe. In antwoord op die vraag: Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het? bely ons in Sondag 7: "Nee, maar slegs die wat deur ’n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem." Om hoop en lewe te ontvang moet ek in Christus ingelyf wees, moet ek een met Hom wees.

Die geloof verenig my met Christus sodat God my as Christus kan beskou en behandel. Die geloof is die instrument waardeur ek deel kry aan Christus en al sy weldade. Dit is die hand waarmee ek die grootste geskenk van alle tye in ontvangs neem. Daarom kan die kat sê dat jy slegs deur die geloof voor God regverdig is.

Gemeente, moenie dit egter so verstaan asof die geloof self jou regverdig nie. Ek is nie regverdig vanweë my geloof nie. Gelukkig nie. Dan sou ek maar min hoop hê. Hoe is mos my geloof? My geloof is nog swak en onvolmaak. Net Christus se geregtigheid kan my red. Indien dit van my geloof sou afhang dan sou ek nooit sekerheid verkry nie. Is my geloof sterk en vas genoeg? Dank God dis nie op grond van my geloof dat ek aanvaarbaar vir God is nie, maar slegs deur die geloof. My geloof is net die instrument waardeur ek Christus my geregtigheid omhels. Dis nie die instrument wat my ryk maak nie, maar Christus. Laat ons dus bly fokus op Hom en nie roem in ons geloof nie.

Kan ’n bedelaar wat sy hand uitsteek om geld in ontvangs te neem, roem in sy eie verdienste? Sy hand is nie meer as die middel waardeur hy die gawe in ontvangs neem nie. Hier het jy die funksie van die geloof. Dit is om iets aan te neem. Dit is die weg waarlangs God ons sy gawes gee. Die hand waarmee ons die gawes dankbaar aanvaar.

Broeders en susters, bly die middel gebruik. Glo God se troosryke woord. Want in die evangelie kom die vryspraak na jou toe. Elke sondag ontvang jy die bediening van die versoening. Aan jou wat glo, word openlik betuig dat al jou sondes in Christus vergewe is. Wil jy weet watter voordeel jy het deur om te glo? Wel, hier het jy die voordeel: jou sondes is vergewe. Jy mag die ewige lewe beërwe. Pleks van die vloek is daar nou die seën. Jy mag studeer, werk toe gaan, jou besigheid bedryf, jou huishouding doen as geseënde mense, as begunstigdes van die Here. Dis mos weer reg tussen God en jou. Deur Jesus Christus. Dit beteken alles vir my. Meer as enige tydelike aardse rykdom. Daarby is ek ook nog erfgenaam van die ewige lewe. Is ek nie Skatryk nie?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)