Die vergewing van sondes.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-03-30
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 21
Preek Inhoud: 

Sondag 21, Vraag en Antwoord 56

Ds C Kleyn - Sondag 30 Maart 2003

Lees:

1 Johannes 1:1-2:2; Sondag 21, Vraag en Antwoord 56.
Sing: Ps 103:1,2; Ps 130:2,4 (1ste beryming); Ps 139:12; Ps 32:1-3; Ps 32:4-6.

Tema:


Die vergewing van sondes.

  1. Wat is die vergewing van sondes; en
  2. Wanneer ontvang ek die vergewing.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vorige week het ons gefokus op die gemeenskap van die heiliges. Vandag fokus
ons op die vergewing van sondes. Ons bely die een en die ander. Vorige week oor
die heiliges, vandag oor my sondes. Watter soort heiliges is dit?

Daar was ’n persoon wat reeds jare ’n christen was, wat gekla het dat hy
nog dinge doen het wat hy nie wil doen nie. Hy wil werklik goeie dinge doen.
Maar hy doen dikwels so anders. Soos wanneer jy leer om met ’n branderplank op
die branders te ry. Jy probeer om op die branderplank te bly en jy wil ook
werklik daarop bly, maar jy val voortdurend in die water. Die falende christen
was Paulus. Hy het homself beskou as ’n ellendige sondaar. Tog was hy ’n
heilige. Nie omdat hy amper nie meer gesondig het nie. Die Bybel praat nie van
sondelose heiliges nie. Dit praat wel van geroepe heiliges. Ek is ’n heilige
omdat Christus my uit hierdie verlore wêreld geroep het om vir Hom te wees.

Maar as al die heiliges in gebreke bly en steeds weer val, hoe is hulle dan
anders as alle ander mense? Ons antwoord is: die vergewing van sondes. Heiliges
is vergewe sondaars, verloste sondaars. God wil nooit meer dink aan my sondes
nie. Ook nie aan my sondige aard nie. Die heiliges is ook vernude sondaars. Ons
doen nie altyd dieselfde sondes opnuut nie. Koning Dawid het eens Uria laat
doodmaak omdat hy sy vrou Batseba wou hê. Nooit weer het hy die spesifieke
sonde gedoen nie. Na sy bekering het Paulus nooit weer die kerk vervolg nie.
Daar is sondes waarmee ons kan breek. Deur die vernuwende werk van die Heilige
Gees.

Maar die kwaad lê nie net in die slegte dade wat ek soms kan stop nie. Dit lê
dieper. In my sondige aard. Ek kan nie die sondige aard kwytraak nie. Ek neem
dit saam met my deur die lewe. Daarom doen ek dikwels nie die goeie wat ek wil
doen nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie. Ek doen slegte dinge omdat ek nog
my sondige natuur het.

Die Here wil ook dit vergewe. Die kat noem dit uitdruklik: Dat God aan al my
sondes en ook my sondige aard waarteen ek my hele lewe lank moet stry, nooit
meer wil dink nie.

Vanaand wil ek dan vir julle verkondig die vergewing van sondes. Ons let op
twee dinge. Eerstens wat is die vergewing van sondes en tweedens wanneer ontvang
ek die vergewing.

Laat ons eers kyk na die konteks van die belydenis. Dit gaan hier oor die
Heilige Gees en ons heiligmaking. In sondag 20 het ons bely dat die Heilige Gees
ook aan my gegee is sodat Hy my deur ’n ware geloof aan Christus en al sy
weldade deel laat kry. Die Heilige Gees doen dit deur die kerk, die gemeenskap
van die heiliges, sondag 21, vr en antw 54,55. En nou in vr en antw 56 word die
eerste weldaad van Christus genoem, die vergewing van sondes. ’n Weldaad
waaraan die Heiliges Gees my deur ’n ware geloof deel laat kry. Sonder die
Heilige Gees sou ek geen verbinding met Christus hê nie. Sonder die Heilige
Gees sou die seëninge van Christus nooit my deel wees nie. Die Heilige Gees
werk die geloof en maak my so een met Christus en al sy weldade.

Gemeente, van al die weldade noem die apostoliese geloofsbelydenis net die
vergewing van sondes, die opstanding van die vlees en die ewige lewe. Baie meer
seëninge sou genoem kan word soos die nuwe geboorte, die gawe van geloof,
heiligmaking, bewaring ens. Die apostoliese geloofsbelydenis noem net ’n paar
seëninge. Dit begin met die vergewing van sondes en eindig met die ewige lewe.
Jy sou kan sê dat dit alle ander weldade omvat. Dit kom neer op vergewing en
vernuwing. Vergewing word genoem as die mees basiese en sentrale seëning.
Waarom? Wel, hoe is die situasie sonder vergewing. Deur die sonde is ons
heeltemal bankrot, geskei van God deur ’n onbegaanbare kloof. Die sonde is die
hindernis tussen God en ons. Tensy dit verwyder word, is daar geen hoop vir ons
meer nie. Daar is dan niks anders as die dood, die ewige dood.

Wel, vergewing verander dit radikaal. Vergewing maak die pad na God toe weer
oop, herstel die gemeenskap met God, gee lewe en lig. In die Bybel gebruik God
verskillende uitdrukkings om die vergewing te omskryf.

In Jes 43:25 sê die Here dat hy ons oortredinge uitdelg en aan ons sondes
nie dink nie. Uitdelging van ons sondes, die Here verwyder die sondes uit die
verslae. In jou verslae skryf God nie net: vrygespreek nie. Nee, Hy verwyder
enige verwysing na jou sondes van jou lêer en vernietig dit sodat dit nooit
meer gesien of gelees kan word nie.

God delg nie slegs die sondes uit nie, Hy dink ook nie meer daaraan nie. Dit
beteken dat Hy die sondes nie meer teen my hou nie. Om die sondes uit te delg is
’n juridiese, regterlike daad. Dis ’n amptelike vryspraak van die hoogste
Regter. Om nie meer aan die sondes te dink nie is ’n relationele daad. Dit
beteken dat die beledigde party (hier God) alle gevoel van belediging en seerkry
laat vaar. Die relasie is herstel. God beloof om my sondes nooit weer op te
bring nie.

Dink aan ’n ongehoorsame en weerspannige leerling in die klaskamer. Openlik
weerstaan hy die onderwyser. Dit kan regterlike en relasionele gevolge hê.
Regterlik kan hy uit die skool uitgesit word. Relationeel kan die onderwyser
baie negatiewe gevoelens teenoor die leerling hê. Selfs as die leerling weer na
die skool mag terugkeer ( wat gelyk is aan ’n kwytskelding) kan die onderwyser
nog die negatiewe gevoelens teenoor die leerling behou en sy ongehoorsaamheid en
opstand in gedagte hou. Om weer ’n goeie plek in die klaskamer te kry, moet
die weerspannige leerling beide deur die skool leiding kwytgeskeld word en deur
die onderwyser vergewe word. Hy het nodig dat die onderwyser alle gevoel van
belediging prysgee en beloof om aan dit wat gebeur het nie meer te dink nie. Dws
dat hy die gedrag uit die verlede nie meer sal ophaal nie. Natuurlik moet die
leerling se houding en gedrag ook verander. Maar van sy kant moet die onderwyser
dit wat gebeur het heeltemal los, vergeet.

Dis wat God doen wanneer Hy ons oortreding uitdelg en nie meer aan ons sondes
dink nie. As die hoogste Regter gee Hy ons kwytskelding. As die beledigde party
vergeef Hy ons en beloof Hy om ons sondes nooit meer op te bring nie. Deur sy
dood het die Here Jesus nie net ons kwytskelding gewaarborg nie, maar het Hy ons
ook met God versoen.

In Ps 103:12 lees ons: "So ver as die ooste verwyderd is van die weste,
so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons." Hoe ver is die ooste verwyderd
van die weste? As jy van enige plek op die aarde na die noorde gaan, sal jy
uiteindelik die Noord Pool kruis en begin om na die suide te gaan. Maar dit geld
nie wanneer jy oos of wes reis nie. As jy na die weste reis en in die rigting
bly gaan dan sal jy altyd na die weste bly gaan. Noord en Suid ontmoet mekaar by
die Noord Pool, maar oos en wes ontmoet nooit mekaar nie. In ’n sekere sin is
hulle oneindig van mekaar verwyder.

Daarom as God sê dat Hy ons oortredinge van ons verwyder so ver as die ooste
van die weste verwyder is, dan sê Hy dat Hy ons oortredinge oneindig ver van
ons verwyder. God wys hierdeur dat sy vergewing totaal is, volkome. Hy hou nie
’n lys by van ons sondes nie. "Hy handel met ons nie na ons sondes en
vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie" (Ps 103:10). Ja, God sê dit! Ek
weet dat dit te goed lyk om waar te wees. God hou my sondes nie teen my nie, ook
nie my sondige aard nie. Hy aanvaar my soos ek is. Dis moeilik om te glo. Dit
pas nie by ons begrip van beloning en straf nie. Maar dit is wat God in sy woord
sê. Hoe kan God dit doen? Hoe kan Hy so volledig my oortredinge wegneem om te sê
dat Hy dit oneindig ver van my verwyder het? Die antwoord is: op grond van die
voldoening van Christus. Christus het die straf vir jou en my betaal.

Geliefdes, die bybel gebruik nog ander uitdrukkings om die omvang van God se
vergewing te beskryf. Neem die uitdrukking: U het al my sondes agter u rug
gewerp (Jes 38:17). As iets agter ons rug is, dan is dit nie langer sigbaar nie.
Jy kan dit nie meer sien nie. God sê dat Hy dit met ons sondes gedoen het.

Beteken dit dat God ons sondes ignoreer soos ’n permissiewe pa wat altyd
maar aan sy kinders toegee en hulle ongedisiplineerd en onmanierlik laat
grootword? Beslis nie. Ons hemelse Vader handel wel met ons sondes maar net op
so ’n manier dat dit vir ons goed is. Hy handel nie met ons na ons sondes nie,
dit sou straf beteken, maar na sy genade. Hy tugtig ons vir ons beswil.

’n Ander opvallende beeldspraak wat die volkomenheid van God se vergewing
uitdruk word in Miga 7:19 genoem: "Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons
ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see
werp." God werp ons sondes in die dieptes van die see, sodat hulle vir
altyd verdwyn, om nooit weer opgediep te word nie, om nooit weer teen ons gehou
te word nie. Soos God gesê het dat Hy my sondes agter sy rug gewerp het, so sê
Hy hier dat Hy die sondes in die dieptes van die see werp. Die sondes val nie
net oorboord nie. God sal hulle in die dieptes werp. Hy wil dat hulle vir ewig
verdwyn. Hy het met hulle vergoed afgereken in Jesus Christus.

Het julle ’n beeld van wat vergewing is, gekry? Sien jy dat God se
vergewing kompleet en onomkeerbaar is? Het jy begin om te verstaan dat, ongeag
hoe sleg jy was en hoe dikwels jy dieselfde sonde gedoen het, God volkome en vry
jou vergewe vanweë Christus? God het reeds in Christus met jou sondes
afgereken. Besef jy dat jy om die rede nie eers boete moet doen of ’n proeftyd
moet ondergaan voordat God jou kan seën en opnuut gebruik nie? Jy mag altyd God
se belofte van vergewing in 1 Joh 1:9 opeis: "As ons ons sondes bely, Hy is
getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid
te reinig." Maak nie saak hoe dikwels ek gesondig het nie. Vanweë die
volheid van God se vergewing in Christus. Christus se verdienste raak nooit
uitgeput nie. Dit is ’n oneindige bedrag.

Maar nou die vraag: wanneer ontvang ek die vergewing? Dis die tweede gedagte.

Op ’n manier kan ’n mens sê dat vergewing van sondes van ewigheid is.
Van ewigheid het God die Vader gekies om ’n sekere aantal mense te verlos. In
Ef 1:4 lees ons dat God ons in Hom, (dws in Christus) uitverkies het voor die
grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te
wees. En in vers 7: "In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die
vergifnis van die misdade". Dit is reeds van ewigheid af bepaal. In sekere
sin kan ons dus sê dat God toe reeds besluit het om die sondes van sy
uitverkorenes te vergewe. Sonder ewige verkiesing is daar geen versoening of
vergewing nie. Sonder die ewige vergewing in Christus, is daar geen vergewing in
die tyd nie.

Geliefdes, daar is ’n manier waarop ons ook kan sê dat die vergewing in
die volheid van die tyd plaasgevind het, toe God se Seun op aarde gekom het en
vir ons sondes gesterf het. Daar en toe, ongeveer 2000 jare gelede, is vir ons
sondes betaal. Volkome versoening is gedoen vir almal wat die Vader aan die Seun
gegee het. Dis waar ons sondes uitgedelg, uitgewis is, gewerp agter God se rug.

Die skrif praat egter meestal oor vergewing as iets wat in die tyd gebeur,
tydens ons lewe. Die grond daarvoor is Christus se offer 2000 jare gelede. Maar
hier en nou moet dit in my daaglikse lewe en stryd toegepas word. Ek moet
daagliks hierdie gawe van vergewing deur geloof aangryp. Vergewing is nie ’n
statiese werklikheid sodat ek kan sê: my sondes is vergewe, punt, daarom kan
niks verkeerds ooit meer met my gebeur nie. Wanneer ek werklik glo, dan kan ek
inderdaad roem in die vergewing: my sondes is vergewe. Ek het geen rede om dit
te betwyfel nie. Ek behoort by Christus wat vir my sondes uit die verlede, hede
en toekoms betaal het. ’n Wonderlike werklikheid. Niks kan ons skei van die
liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie.

Maar tegelykertyd is daar nog die sondige aard waarteen ek my hele lewe lank
moet stry. Waardeur ek inderdaad keer op keer weer sonde doen. En dit raak
verseker my verhouding met God. Deur die sonde is die verhouding nie so ryk en
vol soos dit behoort te wees nie. By tye kan dit selfs so wees dat ons God se
guns nie ervaar nie. In die sin is dit moontlik om die vergewing of die ervaring
daarvan vir ’n tyd te verbeur.

Neem 1 Joh 1:6,7. Daar skryf Joh aan jou en my: "As ons sê dat ons met
Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die
waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons
gemeenskap met mekaar en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van
alle sonde." Met ander woorde: as ek in die duisternis wandel en nie die
medegelowiges liefhê nie, dan sal die bloed van Christus my nie reinig van al
my sondes nie.

Vergelyk dit met die 5de bede: "Vergeef ons ons skulde soos ons ook ons
skuldenaars vergewe." In Mt 6 voeg Christus die volgende verklaring daarby:
"Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader
julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie,
sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie." Met ander woorde:
deur ’n gees wat nie wil vergeef, kan ek God se vergewing verbeur. Dieselfde
waarheid word ook geleer in die gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser (Mt
18:21-35). Die onbarmhartige skuldeiser is nie ’n heiden wat nooit God se
vergewing gesoek en ontvang het nie. Sy skuld was kwytgeskeld. Die Here het vir
hom alles vergewe. Bowendien spreek die Here Jesus in die gelykenis nie die
goddelose aan nie, maar sy volgelinge, die kinders van God. Die onbarmhartige
skuldeiser is die kind van God wat nie wil vergewe nie. Ondanks die feit dat God
hom soveel vergewe het, weier hy om sy mede dienskneg te vergewe. Die gevolg is
dat hy die seën van die vergewing verbeur.

Dis hoe konkreet en prakties God oor die vergewing praat sodat u en ek nie
selfvoldaan of onverskillig sou wees nie. Sodat die vergewing nie goedkoop sou
word nie. ’n Gees wat nie wil vergewe nie, gebrek aan liefde vir ander, sondes
wat jy nie wil bely nie, het terdeë ’n impak op jou verhouding met God en
raak jou ervaring van die vergewing.

Neem die voorbeeld van Dawid. Vir ’n tyd het hy geweier om sy sonde met
Batseba en teen Uria te bely, die sonde van egbreuk en moord. Kon hy in daardie
tyd roem in die vergewing? Dat God sy sondes tog vergewe het? Allermins! Hy het
tydens die periode God se genade heeltemal nie ervaar nie. Lees maar Ps 32:3-5.
Kom ons lees dit saam. Net toe hy sy sondes erken het, het God hom vergewe. Ons
verhouding met God is ’n lewende verhouding, met sy hoogtes en dieptes, met
die oomblikke waarin jy baie naby die Here is en oomblikke waarin daar so ’n
groot afstand lyk te wees.

Vergelyk dit met die verhouding tussen ouers en hul kinders. As ek as kind
nie eerlik met my ouers is nie en weier om te erken dat ek iets verkeerds
teenoor hulle gedoen het, dan het daar tussen my en my ouers iets tussengekom.
Die verhouding is versteur, is nie meer oop en ontspanne nie. Dit kan slegs
herstel word wanneer ek eerlik opbieg. Dan is die saak uit die pad geruim.

Wel, so is dit met God. Daarom skryf Joh: "As ons ons sondes bely, Hy is
getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid
te reinig." Daarom: bely jou sondes. Beken eerlik vir God wat jy gedoen het
of nagelaat het om te doen. Dan sal God vergewe, maak nie saak hoe dikwels jy
geval het nie. Dan sal die verhouding weer reg wees. Dan is daar geen aanklag
meer teen jou nie. Ja, jy gaan skotvry. Is dit hoe jy oor jouself dink? Of sien
jy jouself dikwels in gedagte voor God staan, terwyl jy die vonnis hoor:
skuldig? As dit die geval is dan leef jy nie uit geloof nie en nie deur genade
nie.

As jy nie die verlossing in Christus ken nie, deur in Christus te glo, dan is
jy natuurlik skuldig. Jy leef nie uit genade. Jy is dan eerder onder die toorn
van God en jy sal eendag die volle gewig van die toorn ervaar, tensy jy jou
bekeer. Ja, tensy jy jou omkeer na Jesus Christus toe, in geloof. Daar is nou
nog tyd daarvoor.

As aan die ander kant jy wel in Christus vertrou as jou verlosser, dan sal al
die uitdrukkings van God se vergewing vir jou waar wees. Hy het jou sondes
verwyder so ver die ooste van die weste verwyder is. Hy het dit agter sy rug
gewerp en dit in die dieptes van die see gewerp. Hy het dit uitgewis uit sy
boek. Hy belowe om dit nooit weer op te haal nie. Alle aanklagte teen jou het
verdwyn. Nie vanweë iets in jou nie. Maar vanweë Christus se voldoening. Is jy
bereid om hierdie magtige waarheid te glo? En daaruit te lewe?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)