Die ewige vreugde van die gelowiges.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-04-06
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 22
Preek Inhoud: 

Sondag 22

Ds C Kleyn - Sondag 6 April 2003

Lees:

Lukas 16:19-31; Philippense 1:12-26.; Sondag 22.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydens; Ps 63:2,3,4; Ps 73:10-12; Ps 16:4,5.

Tema:


Die ewige vreugde van die gelowiges.

  1. Dit begin hier en nou;
  2. Dit word verdiep wanneer jy sterf; en
  3. Dit word voltooi by Christus se wederkoms.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Waar dink julle aan wanneer die ewige lewe genoem word? Is dit iets wat ver
weg in die toekoms lê, iets van na hierdie lewe? Is dit iets wat jy ver voor
jou uit skuif? Iets wat buite my daaglikse lewe op aarde staan? Iets waar ek nie
aan hoef te dink nie wanneer ek nog jonk en sterk is? Is dit iets vir die siekes
en die bejaardes om oor na te dink? Soms lyk dit so. Die lewe hier en nou lyk
dan alles te wees. Die einddoel van al ons denke en strewe.

Die Skrif en daarvolgens die kat maak egter duidelik dat die ewige lewe nie
buite ons daaglikse lewe staan nie. Nog minder staan dit teenoor ons daaglikse
lewe. Wanneer ek glo dan mag ek bely: ek ervaar nou reeds die begin van die
ewige vreugde in my hart. Ja, nie eers later nie, maar nou reeds.

Ek verkondig vir julle:

Die ewige vreugde van die gelowiges

  1. Begin hier en nou
  2. Word verdiep wanneer jy sterf
  3. Word voltooi by Christus se wederkoms

Die ewige vreugde begin nou, ek mag nou alreeds die begin van die ewige
vreugde in my hart ervaar. Wat is dit om die vreugde in my hart te ervaar? Moet
ek ’n spesiale gevoel in my hart hê? Wat as ek nie die gevoel in my hart het
nie?

Hierdie ervaring is meer as net ’n gevoel. Moenie met jou gevoel begin nie.
Ons gevoel is baie wisselvallig, dit gaan op en neer, kan kom en gaan. As die
begin van die ewige vreugde daarvan sou afhang, dan was dit maar somber gestel
met my lewe.

In Joh 17:3 sê die Here Jesus in sy hoëpriesterlike gebed: "Dit is die
ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U
gestuur het." Wat is dus die ewige lewe? Dat ek God die Vader ken en sy
Seun Jesus Christus. Die ewige lewe begin dus hier en nou wanneer ek glo. En
jy/u glo tog in die Vader en die Seun? Dan besit jy/u die ewige lewe. Daarom sê
die Here Jesus ook in Joh 11: 25,26: "wie in My glo, sal lewe al het hy ook
gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid
nie." Is dit hoe jy jouself sien: as ’n mens wat glo en daarom nooit tot
in ewigheid sal sterwe nie? Julle verstaan tog wat ek bedoel? Wanneer ek glo,
dan besit ek reeds die ewige lewe. En ’n ewige lewe is wat dit sê: ewig,
sonder einde. Ek sal dus nooit werklik sterwe nie, ook al vergaan my liggaam.

Ondertussen praat die kategismus van die ervaring van die ewige vreugde. Dit
begin by geloof. Maar die geloof bly nie net ’n saak van jou verstand en wil
nie, dit raak ook jou gevoel en hart. Jy begin om dit te ervaar. Jy begin om jou
band met die Here te ervaar, om die vreugde in die Here te ervaar. Jy het die
Here lief met jou hele persoon, met jou hele hart, met jou hele siel en met jou
hele verstand.

Daarom is dit nie net ’n saak van: ek glo dat God bestaan en ek hou daarmee
in my lewe rekening nie. Ek wil mos nie hel toegaan nie. Nee, geloof is dat ek
helder sien: God het my lief. Hy het sy liefde vir my gewys. Hy het dit gewys op
’n baie wonderlike manier toe Hy sy geliefde Seun verlaat het sodat ek nooit
meer deur Hom verlaat sou word nie. Eerder as om my sondes ongestraf te laat
bly, eerder as om my ewig verlore te laat gaan, het Hy sy Seun vir my laat
sterwe. Niemand het ooit soveel liefde vir my gewys nie. Wanneer ek dit besef,
dan kan dit my nie koud laat nie. Inteendeel, dit maak my gelukkig, bly,
oorstelp van vreugde en liefde vir Hom wat my eers so liefgehad het.

Gemeente, wanneer die liefde my hart begin vul, dan is die lewe vir my
Christus, soos Paulus dit in Fil 1:21 formuleer. Dis ten dele vergelykbaar met
’n baie diepe verhouding wat ons ook hier op aarde kan hê. Soms hoor jy
egpare sê: my maat beteken alles vir my. Ek kan my lewe nie voorstel sonder die
maat nie. Ek kan nie sonder hom of haar nie. Met ander woorde die lewe is vir my
hom of haar. So mag ons met Paulus sê: die lewe is vir my Christus. Kernagtige
woorde. Vir my is die lewe Christus. Mense, wil jy weet wat my lewensgeheim is
en wat my lewensdoel is: dit is Christus. Christus is die een wat sin en
betekenis aan my lewe gee. Hy is die een op wie alles aankom, sonder wie ek nie
kan lewe nie.

Om te lewe is vir my om Christus te ken, om Christus lief te hê, om Christus
te dien, om Christus se saak te bevorder, om vir Christus te ly. My hele lewe,
my handel en wandel is op Christus gefokus, wil Christus my Redder grootmaak. My
lewe word so deur Christus beheers, dat Christus as 't ware my lewe self geword
het. Vir my is die lewe Christus. ’n Pragtige belydenis. Kan u/jy dit Paulus
nasê? So ja, dan sal die eer van Christus die doel van jou lewe wees. Dan sal
die genade van Christus die krag van jou lewe wees. Dan sal die Woord van
Christus ryklik in jou woon en jou gids wees. Dan sal die diens van Christus die
vreugde van jou lewe wees.

Natuurlik is daar nog baie dinge in ons daaglikse lewe wat op die volle
Christus-lewe en op die vreugde in die Here ’n demper sit. Daar is veral die
sondes, die tekortkomings. Dieselfde Paulus wat skryf: vir my is die lewe
Christus, skryf ook in Rom 7 "As ek die goeie wil doen, is die kwaad by my
aanwesig…Ek ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie
dood?" Daarom verlang hy na die volmaakte vreugde en lewe. Daarom vervolg
hy ook: vir my is die sterwe wins. Dit neem egter nie die begin van die ewige
vreugde uit sy hart weg nie. Die begin is daar in ieder geval hier en nou, sodra
ek en solank as ek glo.

"Vir my is die lewe Christus," impliseer dat ek God dank vir sy
verlossing van my lewe. Ek dank Hom dat hy nie onmiddellik ’n einde aan die wêreld
gemaak het vanweë die sonde nie. Ek dank Hom dat Hy nie onmiddellik met ons
sondige mensekinders afgereken het nie, maar dat Hy sy Seun gestuur het om met
die sondes af te reken. Ek dank Hom vir die lewe en ruimte wat Hy nog gee en dat
Hy my lewe voor sy aangesig opnuut weer wil laat opbloei. Ek dank Hom vir sy
goeie sorg. Dat God die Vader my God en Vader wil wees. Wie sou nie gelukkig
wees met so ’n God en Vader, met so ’n Skepper en Verlosser nie? So mag ek
hier en nou reeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar.

Ook wanneer ek in moeilike omstandighede verkeer. Dink aan Lasarus, die arm
bedelaar. Hy het verskriklik gely. Hy het vol swere daar gelê voor die poort
van die ryk man. Maar die ryk broer het nie vir hom omgegee nie. Lasarus is arm
en bly arm en siek. Tog mag hy die begin van die ewige vreugde in sy hart
ervaar. Sy uiterlike mens mag dan wel vergaan, nogtans word sy innerlike mens
dag na dag vernuwe (vgl 2 Kor 4:16). Hy ken mos die Here. Hy glo. Let maar op
die naam wat die Here Jesus vir hierdie arm man gee: Lasarus. Dit beteken: God
help of God het gehelp. Dis die boodskap wat hy ontvang in sy verskriklike
situasie: God help. Dis wat in sy hart troos en vreugde gee, ondanks die
uiterlike ellende.

Is dit nie opvallend dat Jesus die arm man juis hierdie naam gee nie? Vir die
natuurlike oog lyk dit asof die teendeel waar is. Lasarus, God help. Waar is dan
God se hulp? Maar dit is volle werklikheid. Die Here het spesiaal hierdie naam
aan die man gegee. God help hom. Terwyl die ryk man geen naam ontvang nie. En
ook geen hulp ontvang nie. God laat die ryk man met al sy rykdom verlore gaan.

Dis ’n duidelike waarskuwing vir elkeen van ons. Leef met Christus. Jy het
God as helper nodig. Wees nie skaam om ’n Lasarus te wees nie. Jy is dalk nie
so arm as die bedelaar van die gelykenis nie. Ook al ervaar jy miskien baie
moeites en voel jy jou by tye miskien baie ongelukkig. Eensaam of moeg. Laat die
boodskap van die naam Lasarus jou bemoedig: God help. Sy hulp laat ’n mens
nooit beskaamd staan nie. Dit gee die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Dit
laat ’n mens bly wees in die Here, by alle droefheid wat daar ook al is.

So is daar ook perspektief vir vigs pasiënte wat geen uitsig op herstel het
nie. Wanneer ’n vigspasient die Here mag leer ken en dien dan is daar uitsig.
Dan is daar ’n toekoms. Dit is mos die ewige lewe dat ons God die Vader mag
ken en sy Seun, ons Here Jesus Christus. Daarom is dit so belangrik dat die
evangelie in ons land verder verbrei word onder alle bevolkingsgroepe. Dan kan
’’n uitgeteerde vigspasient wat werklik op die Here vertrou ’n voorsprong
op ons gesonde mense hê. Wanneer ons jong en gesond is, welvarend, dan is die
gevaar daar dat ons volledig gefokus is op ons lewe hier en nou. Ons wil dan
geniet van die lewe. Of ons laat ons heeltemal opsluk deur die jag na aardse
skatte en welvaart en geluk. Miskien dink ek: Later sal ek ernstiger word, sodat
Christus my lewe word.

Maar, geliefdes, pasop vir so ’n houding. Want met ’n pragtige posisie in
hierdie wêreld kan ek my posisie by God verloor. Dink aan die ryk man. Daarom
geniet die lewe met die Here ook as jy jonk en sterk is. Bly dit geniet ook as
jy oud word. Dan kan jy in vrede die toekoms tegemoet gaan. Dan hoef jy nie
desperaat te probeer om jonk te bly nie. Dan hoef jy ook nie senuweeagtig die
gedagte van die dood weg te skuif nie. As jy deur geloof lewe dan is die toekoms
mos joune.

Nou die tweede gedagte: die ewige vreugde van gelowiges word verdiep wanneer
jy sterf.

Dis waar ek hoef die gedagte aan die dood nie vreesagtig weg te druk nie. In
Christus kan ek mooie dinge sê van wat gebeur wanneer ek sterf. Dit beteken
egter nie dat ek die dood self mooi moet maak nie. Die dood bly iets
verskrikliks. ’n Mens verlang nie na die dood op sigself nie. Dit sou teen
natuurlik wees.

Bowendien, die Here noem die dood ’n vyand, die laaste vyand wat oorwin
moet word. Die dood is nie mooi nie. Die dood verbreek pragtige bande wat God
geskep het. Die band van die huwelik, die band met jou kinders, met jou ouers,
met jou vriende. Die dood veroorsaak dat jy niks meer vir mekaar kan sê of vra
nie. En ’n liggaam wat tot stof terugkeer is iets verskrikliks.

Daarom mag ek as christen met die verval van my lewe moeite hê. Daarom mag
ek as christen verdrietig wees oor die verlies van ’n geliefde. Die dood bly
verskriklik. Jy raak nooit daaraan gewoond nie.

Maar, broeders en susters, ’n christen bly nie in sy verdriet steek nie.
Want daar is meer wat ons daaroor kan sê. God het ook daaroor sy goeie nuus
laat hoor. Selfs die dood, wat ’n kwaad is, werk ten goede vir hulle wat God
liefhet. Die dood bly verskriklik. Maar as gelowige mag ek weet: wanneer ek
sterf dan sal my siel dadelik tot Christus my Hoof opgeneem word. In beginsel is
die dood reeds oorwin. Ek mag dan met Christus wees. Iets geweldigs. ’n Stap
vooruit. ’n Promosie.

By tye kan ek dit baie moeilik vind. Die dood lyk die einde te wees. Maar die
Here leer ons om in geloof te bely: die dood is nie die einde nie. Wanneer ek
sterwe word my siel tot Christus opgeneem. Dink aan die arm Lasarus. Wanneer
Lasarus sterf, gryp die engele onmiddellik in. Hulle neem hom op en dra hom na
die hemel, na die boesem van Abraham. Voordat my liggaam klaargemaak word vir
die begrafnis, laat die Here reeds sy engele hul werk doen. Hy laat my nie op my
sterfbed lê nie. Hy maak seker dat ek opgeneem word.

Vir Lasarus was dit ’n wonderlike fees. Want hier op aarde het die man niks
gehad nie. Hy was afhanklik van die vrygewigheid van God se volk. Maar hulle het
hom in sy ellende laat lê. Dan gryp God in. God help. Hy gee aan Lasarus ’n
baie besondere plek. Langs Abraham , die vader van alle gelowiges. Langs Abraham
die spesiale vriend van God. God het die waarheid van Lasarus se naam gewys. Hy
het gehelp.

God se genade is groot. Dis geweldig om dit te weet. Wanneer ’n geliefde
sterf. Wanneer jy oud word. Wanneer jou liggaam aftakel en jy afhanklik word.
Alles kan agteruitgaan, versleg. Maar ek mag tog sterk wees. Want die Here help.
Ek sal nie verslaan word nie. Selfs nie op die oomblik van my dood nie.

Dink aan Paulus. Hy het gesê: vir my is die lewe Christus. Ons het onder die
eerste punt daarna verwys. Maar dis slegs die helfte van wat hy gesê het. Hy
het die sin voltooi deur te sê: en die sterwe wins. Waarom? Want dan sal ek met
Christus wees, verklaar hy later. Dis hoe dit gaan. Die Here Jesus het self vir
een van die misdadigers aan die kruis gesê: vandag sal jy saam met My in die
Paradys wees. Dink ook aan die woorde van Ps 73:24: "U sal my lei deur u
raad en my daarna in heerlikheid opneem." Die wins van die geloof blyk
wanneer ek sterf. Dit is baie vertroostend.

Dis ook ’n baie ernstige saak. Sonder Christus is en bly die dood
verskriklik. Dink aan die ryk man van die gelykenis. Dis nie iets wat jy
onmiddellik sien nie. Miskien het die ryk man voor die oog van die mense in
vrede gesterf. Maar na die oomblik van die dood sien die ryk man dadelik sy
verskriklike situasie. Ook in sy oordeel verspil God geen tyd nie. Hy gryp
onmiddellik in. God is vinnig met sy oordeel. Ook vinnig met sy genade. God laat
ons nie wag nie. Wanneer ek sterf, dan laat Hy my nie aan my lot oor nie. Hy
laat my ook nie in ’n diepe en lange slaap val nie. Nee, in geloof mag ek
bely: hy neem my dadelik op tot Christus. Daarom, ondanks die verlies deur die
dood, gee die dood ook groot wins: my ewige vreugde word verdiep, ek is dan by
my Here Christus.

Nou die derde gedagte: die ewige vreugde van die gelowiges word by Christus
se wederkoms voltooi, volmaak.

Die Here laat dit nie by die wins van die siel na die dood nie. Daarbo sal Hy
my op die laaste dag volkome heerlikheid gee, met siel en liggaam. My vernederde
liggaam, wat afgebreek word, sal dan aan die verheerlikte liggaam van Christus
gelykvormig word. Dan sal die volkome, volmaakte vreugde en saligheid geniet
word.

Solank dit nog nie die geval is nie, bly daar die dood. God se kinders staan
reëlmatig langs die graf. Dan is daar die verdriet wat nie weggesteek hoef te
word nie. Ons moet dit onder oë sien en dit leer hanteer. Onthou egter dat die
Here ook by die graf besig is. Hy help en red. Ook daar. Die lewelose liggaam is
ook sy eiendom. Daarom moet die christen die liggaam nie as iets minderwaardigs
behandel nie. Daarom kremeer ons nie die liggame nie. Ons begrawe die liggaam
met sorg en eer. Die begrafnis is eintlik ’n kwessie van saai. Vergelyk 1 Kor
15. Die saad sterf af. Dan maak Christus iets moois daarvan. ’n Verheerlikte
liggaam. Sonder kanker, sonder degenerasie van die harsings, sonder artritus,
sonder die gebreke van die ouderdom, sonder psigiese probleme, sonder enige
gebrokenheid of spanning.

Dan word die lewe so mooi dat die kat slegs kan aandui wat dit nie is nie.
’n Saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen
mense ooit opgekom het nie. Dis te mooi om te kan omskryf. Dan is ek met liggaam
en siel met Christus. Ek woon saam met Hom. Die groot fees kan begin. Die
bruilof van die Lam.

Nee ons sien dit nie altyd so nie. Ons het ons eie gedagtes en verlangens.
Ons vra dan nuuskierig: sal ons mekaar daar herken. Ons beskou dit as een van
die grootste dinge dat ons ons geliefdes, ons vriende weer sal sien. Ja, daar
sal ons almal ontmoet wat in geloof gesterf het. Nie net ons bekendes nie. Baie
meer, almal wat werklik by die Here behoort. Ek sal hulle almal ontmoet. En tog
sal ek vir niemand ’n vreemde wees nie. Niemand sal my die rug toedraai nie.
Elkeen sal die ander liefhê met ’n volmaakte liefde. Daar sal geen
eensaamheid wees nie. Geen vervreemding van mekaar nie.

En die mooiste van alles is: daar sal ek by ons Here Jesus wees. Hom wat sy
liefde vir my gewys het meer as enig iemand. Meer as enig iemand op aarde dit
kon gewys het. Niemand het my ooit soveel liefde gegee as Hy nie. Daarom is dit
so geweldig om juis Hom te ontmoet, om Hom te dien. Sonder belemmering deur
sondige selfsug. Ongehinderd deur slapheid of siekte. Dan sal ek werklik volkome
die Here kan dien. Dan sal ek ook niks anders as dit wil doen nie. Ek ken dan
slegs suiwer begeertes. Daar is geen gemis of droefheid meer nie.

Dis waar, die lewe hier op aarde is dikwels reeds mooi, iets waarvan ek kan
en mag geniet. Maar daardie lewe sal baie mooier wees. En dit sal mooi wees vir
elkeen wat aan die Here behoort. Want die ervaring van die ewig vreugde hier en
nou is slegs ’n begin. Soms ’n moeilik begin. ’n Begin wat nog dikwels
deur pyn en verdriet oorskadu word. God se kinders word nog dikwels verneder,
seergemaak, vervolg. Die sonde veroorsaak ook nog baie moeite en verdriet. Maar,
geliefdes, in dit alles mag ons uitsien na die vervolg, na die verdieping van
die vreugde by ons sterwe en na die volmaking van die vreugde by Christus se
wederkoms. Ons mag uitsien na die groot dag van ons Here Jesus Christus wanneer
God alles in almal sal wees.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)