As jy noukeurig let op die kerk, dan sal jy die Here loof.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2003-03-09
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 21
Preek Inhoud: 

Sondag 21, vraag & antwoord 54

Ds C Kleyn - Sondag 9 Maart 2003

Lees:

Psalm 48; Openbaring 21:9-27; Sondag 21, vraag & antwoord 54.
Sing: Ps 148:1,5; Ps 113:1,2; SB 45:1,10,12; Ps 48:1,5; Ps 123:1.

Tema:

As jy noukeurig let op die kerk, dan sal jy die Here loof.

  1. Let goed op; en
  2. Loof die Here.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wie durf in hierdie tyd die kerk nog aan te prys? Ja, wie durf nog om te sing
van die heerlikheid van die kerk?

Die heerlikheid van die kerk? Is dit ’n werklikheid? Is die kerk werklik
mooi? Baie mense beskou die kerk eerder as ’n deurmekaarspul, as ’n
puinhoop. Kyk na al die verdeeldheid, al die liefdeloosheid, die gemors van
mense. Sou ons nie eerder moet huil oor die kerk, kla oor haar ontrou, haar
verval, haar verdeeldheid nie?

Sommige mense sien geen toekoms vir die kerk nie. Hulle is teleurgestel in
kerkmense, in die ampsdraers van die kerk en in haar dienste. Die kerk sou jou
slegs verhinder in jou geloofservaring. Hulle soek dit in die vrye groepe bv
groepe met ’n charismatiese inslag. Hulle dink: so lank as jy maar ’n
persoonlike verhouding met God het. Jy het die kerk daarvoor nie nodig nie. God
en die kerk word van mekaar geskei.

Geliefdes, wat is so opvallend in Ps 48? Dit: God en sy kerk word nou aan
mekaar verbind. Waaroor gaan die Psalm? Gaan dit oor die Here of oor Jerusalem?
Oor Sion se God of oor God se Sion? Dis moeilik om te sê. Ons hoef ook geen
keuse te maak nie. God en Sion behoort by mekaar. Niemand mag die twee uit
mekaar ruk nie. Jerusalem is mos die kerkstad, die stad van ons God. So sing die
Psalm van die heerlikheid van Sion se God en van die heerlikheid van Sion, die
stad van God. Die lof is gelyktydig vir God en vir sy stad. Die Here is groot en
baie lofwaardig, vers 2, en: Skoon is die berg Sion, die stad van die groot
Koning, vers 3. As jy jou God wil loof, sal jy ook sy stad, sy kerk, liefhê.
Tegelykertyd, as jy die kerk liefhet, sal jy die Here loof.

Ek verkondig vir julle: as jy noukeurig let op die kerk, dan sal jy die Here
loof.

  1. let goed op
  2. loof die Here

Geliefdes, is dit nie moeilik om die kerk lief te hê nie? Is dit nie vreemd
om te sing van die skoonheid van die kerk nie? Tog nooi die Koragiete jou met
entoesiasme uit om ’n toer rondom Sion te kom maak. Hulle wil graag jou gidse
wees om jou Jerusalem te laat sien. Kyk na die torings daar. Kyk hoe baie daar
is. Vergeet nie om te let op sy skanse nie, die walle wat as versterking rondom
die stad opgewerp is. Sien jy daar die paleise, die versterkte geboue van
prominente burgers? Stap rustig rond. Neem die tyd om alles goed te bekyk. Prent
dit in in jou geheue.

Maar geliefdes, is wat jy sien dan so uitsonderlik? Torings, skanse en
paleise is ook in ander stede te vinde en dan nog groter en mooier. Wat is
Jerusalem in vergelyking met die groot stede van die wêreld, bv vergeleke met
Babel? In vergelyking met die magtige en mooie stede is Jerusalem nie baie
indrukwekkend nie. En is die situasie vandag veel anders met betrekking tot die
kerk? As jy uitgaan van wat jy so op die oog af sien, dan beteken die kerk nie
baie in die wêreld nie. Geen massale, invloedryke vergaderings nie. Niks
besonders nie. Die eenvoudige vergaderings van God se kerk word byna nie
opgemerk nie. Dit trek nie die aandag van die joernaliste nie. Die Maandag se
koerante is vol met ander dinge. Sport word as baie belangriker beskou. Is die
kerk dan so besonder?

Ja, sê die Koragiete: Skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele
aarde is die berg Sion. Die kerk van Christus mag ook die vreugde en heerlikheid
van die hele aarde genoem word. Hoekom? Wel, daar het jy die Here, die groot
Koning. Sion is die residensie van die groot Koning van die wêreld. God het Hom
in sy paleise bekend gemaak as ’n rotsvesting (vs 4). Vanweë God se
teenwoordigheid en hulp val Sion op as ’n veilige rotsvesting, ’n sterk
stad, onoorwinlik.

Ja, geliefdes, om dit te sien moet jy wel noukeurig kyk. Jy moet goed oplet.
Laat niks jou aandag ontglip nie. Anders sal jy nooit Sion se glorie ontdek nie.
Die torings, die skanse en die paleise staan nie op sigself nie. Daar is ’n
hele geskiedenis aan verbonde, ’n hele geskiedenis van God se bevryding en
bewaring. God het daarvoor sorg gedra dat Jerusalem in stand gebly het. In die
verse 5-8 hoor ons die Koragiete vertel hoe God die aanvalle van vyandelike
nasies afgeweer het. Vyande het planne gemaak om die stad te verwoes. Hulle het
kragte saamgespan en het saam opgetrek. Maar die Here het die geallieerde magte
verdryf. Sodra die Here op die toneel verskyn het, het magtige leërs
teruggedeins. Dapper soldate het skielik gaan bewe van skrik. Hulle kon nie gou
genoeg wegkom nie, hulle het gevlug vir hul lewe. En die stad van God het
ongedeerd gebly.

Ja, as jy die stad op daardie manier bekyk, dan sien jy sy skoonheid. Wat
’n stad! ’n Goddelike wonder. Die digters het die verhaal gehoor van God se
magtige dade van verlossing. Die vaders het daaroor gepraat. Hulle het daarvan
gelees in die heilige boeke. En hulle het dit ook met hul eie oë gesien. God
het sy stad bewaar. God het opnuut sy trou gewys. Hy bevestig sy stad tot in
ewigheid. As jy goed oplet dan kan jy nie anders as om God te loof nie. Want in
die stad wys God Homself in sy heerlikheid.

So moet jy ook vandag goed oplet. Anders sal jy nooit die kerk liefkry nie,
laat staan dat jy ooit van die skoonheid van die kerk sou kan sing. Wanneer jy
vlugtig en oppervlakkig na die kerk kyk, dan sien sy net mense, onvolmaakte
mense, sondige mense. Kyk maar na die broer of sus. Kyk maar na die dominee, die
ouderling of die diaken. Jy moes eers weet hoe hulle my behandel het of my
verwaarloos het. Kyk maar na die selfversekerde broer of suster. Kyk maar na die
pessimis wat vol twyfel rondstap. Kyk maar na die opstandige broer of sus wat
skynbaar nooit vrede met God se weg kan maak nie. Kyk maar na die ondankbare
lidmaat wat byna niks anders doen as kla nie. Kyk maar na die onverstandige of
ongevoelige broer of suster wat sommer sê wat hy dink sonder om rekening te hou
met hoe die woorde oorkom, watter hartseer en skade dit veroorsaak. Kyk maar na
die oppervlakkige lidmaat, die slappeling, wat behoorlik wêrelds oorkom. Ens
ens. As jy net na mense kyk dan sal jy nêrens kom nie. Jy sal heeltemal
ontnugter wees. Laat ons eerlik wees, elkeen moet maar by hom of haarself begin.
As ek na myself kyk, dan het ek genoeg rede om te kla. Ek moet mos bely dat my
lewe ver van volmaak is, soms selfs aanstootlik. Nie iets waaroor jy ’n
loflied sou ophef nie.

Broeders en susters, as jy vlugtig na die kerk kyk, dan sal jy nooit die kerk
werklik sien of verstaan nie. Dan sal jy net mense sien, sondige mensekinders.
Maar die kerk is nie net ’n versameling van mense nie, nie ’n klub nie,
gelyk aan enige ander vergadering of geselskap nie. Nee, die kerk is die stad
van God. God se huisgesin. Daarom moet jy jou nie blind staar op allerlei
uiterlike dinge nie, deur net na mense te kyk nie.

Jy moet goed oplet om God se werk te ontdek. Spoor God se voetstappe op, volg
sy werk van vergadering en bewaring van sy kerk. Dan sal jy in staat wees om jou
in die kerk te verheug as God se meesterstuk. Dan sal jy God se verkiesende
liefde ontdek. Dan sal jy sy krag sien waardeur hy nog steeds die harte en
lewens van mense vernuwe. Bly dit nie ’n wonder dat vyande van God op hul knieë
gebring word. Dis ’n wonder wat deur God se Gees bewerk word. Vergelykbaar met
die opwekking uit die dood. Dis ’n nuwe geboorte van bo. Deur sy Gees open God
geslote harte en versag Hy harde harte. Hy keer lewens om. Hy werk geloof en
bekering.

As jy noulettend kyk, sien jy Christus dan nie besig om sy kerk te vergader
nie? Om sy kerk te bou op die fondament van die apostels en profete? Op die
fondament van die waarheid? Is dit nie geweldig om te sien hoe Hy voortdurend
besig is om mense in sy gesin op te neem deur vir hulle geloof te gee. Hoe
dikwels gebeur dit ook nie dat kinders gedoop word nie. God lyf hulle in in die
christelike kerk. Hy bou sy kerk ook langs die pad van huwelik en gesin. By
hoeveel van die kinders sien jy ook nie geloof en liefde vir God groei. So sien
jy die gebou van God rys. Ons is verbaas. Dis ’n wonder van God se verkiesing.
’n Wonder van God se bewaring. ’n Wonder van God se Gees wat lewend maak.
Die kerk is mos nie ’n produk van mense nie. Dis ’n huis van God, ’n
woning van God in die Gees.

Broeders en susters, hoekom sien baie mense die skoonheid van die kerk nie
meer nie? Hoekom sien hulle slegs ’n deurmekaarspul, ’n puinhoop? Het hulle
wel goed opgelet? Het hulle wel goed ag gegee op God se dade? Sy dade van
bevryding en bewaring? Sy werk van reformasie van die kerk? Die vyande was altyd
aktief. Hulle probeer om die kerk te verneder. Hulle probeer om haar te laat
val. Om haar te laat konformeer aan die wêreld en opgesluk te laat word deur
die wêreld. Maar keer op keer het God tot haar redding gekom. Hy het die vyande
gedwing om hulle terug te trek. Hy het sy kerk gered. Hy het by die waarheid
bewaar. Hy het reformasies bewerk. Sodat die eenheid van die geloof gehandhaaf
sou bly. So onderhou Christus sy kerk in die eenheid van die ware geloof.

Geliefdes, om dit te sien moet jy goed oplet, moet jy jouself inspan om te
kyk. Jy moet jouself op die hoogte stel van die kerkgeskiedenis. Ongelukkig is
daar vandag baie min kennis van die kerkgeskiedenis. ’n Gevaarlike
ontwikkeling. Want as ons nie God se magtige dade raaksien nie, dan word ons
kennis van God vaag. Dan kan ek miskien baie oor Jesus weet, maar ek herken Hom
nie meer in aksie nie. Dan volg ek nie sy spore wat lei na sy wederkoms nie, sy
konkrete stappe van vergadering en bewaring van sy kerk.

Geliefdes, let goed op God se werk. Verdiep jou in die geskiedenis van die
kerk. Ook al is dit op ’n eenvoudige manier, jy sal geen spyt hê nie,
tenminste as jy werklik in jou God belangstel. Dit sal vir jou vreugde gee en
bemoediging. Want dit laat jou die stad van God sien, die kerk van ons Here
Jesus Christus, werklik ’n wonder. Ja, dit laat jou God self ook beter in
beeld kry. Dan sal jy wel nalaat om voortdurend oor die kerk te kla, ook al is
daar miskien groot bekommernis oor die plaaslike gemeente. Dan bly jy nie steek
in jou verdriet oor die kerkskeurings, afskeidings, reformasies nie. Elke
skeuring veroorsaak inderdaad groot verdriet en pyn in persoonlike lewens, in
gesinne en in gemeenskappe. Onderskat dit nie. Woorde kan dit nie beskryf nie.

Maar as jy goed oplet, dan sien jy meer en dan kan jy ook God dank, ondanks
die pyn van die skeiding. God het sy kinders in die waarheid bewaar en Hy het
’n terugkeer na sy woord bewerkstellig. Hy het reformasie gegee teenoor die
deformasie, die verval. Sou jy dan bly treur oor die nodige skeidinge wat
plaasgevind het? Ons treur wel oor ons sondes en tekortkomings wat sigbaar
geword het, ook in die situasie, tydens God se werk van reformasie. Maar ons wil
nie God vergeet nie wat die pad van reformasie gewys het en wat mense op die pad
gelei het. Hy wil daarvoor geprys word. Hy wil die eer ontvang wat Hom toekom.
Daarom het ons die kerk lief. Daarom sing ons van haar heerlikheid. Sou Christus
in sy werk van kerkvergadering ’n puinhoop daarvan maak? Hoe durf ons om dit
te suggereer. Ons mense is diegene wat die puinhoop teweegbring. So het selfs
Jerusalem by tye in ’n puinhoop verander.

Soms lyk daar min lewe en fleur in die sigbare kerk te wees. Daar kan wettige
redes wees om te kla. Kan jy dan nog met lof praat van Christus se werk? Ja, ook
in so ’n situasie kan dit, want Christus gaan aan met sy Gees en Woord. Hy bly
vir homself ’n volk vergader wat tot die ewige lewe uitverkies is. Hy bewaar
altyd sy kerk deur die krisisse heen. Daarom is die deurmekaarspul, die puinhoop
ondraaglik. Jy kan jou nooit daarin berus nie. Jy moet Christus volg in sy werk
van kerkvergadering. Met al jou wysheid en krag moet jy werk aan die herstel van
die mure, om weer iets moois daarvan te maak. In navolging van Christus sal jy
aan reformasie werk. Jy sal sy kudde soek waar sy woorde van lewe te vinde is.
Jy sal na die woord alleen terugroep. Jy sal die eenheid in die ware geloof
soek. Dit kan op ’n sekere oomblik beteken dat jy moet breek met ’n
gedeformeerde kerk wat nie langer die naam kerk kan dra nie. Jy kan nie
gemeenskap bly onderhou met ’n gemeenskap wat die stem van die goeie Herder
Jesus Christus verag nie. Dink aan wat Paulus skryf in 2 Kor 6:14-18. Laat ons
dit saam lees.

Daarom is dit so erg dat mense bly sit in gemeenskappe waar die waarheid en
die leuen gelyke regte ontvang het, waar Christus en Belial langs mekaar ’n
plek ontvang het. Dit is ondraaglik. As jy in so ’n situasie geen verwagting
meer van die kerk het nie, dan verwar jy twee dinge met mekaar. Jy is besig om
die gedeformeerde gemeenskap van mense met die kerk van Christus te verwar. Die
gedeformeerde gemeenskap het inderdaad geen vooruitsigte nie, tensy dit homself
reformeer. Die kerk van Christus het egter altyd toekoms. As jy Christus in sy
werk van kerkvergadering volg, heel konkreet, sigbaar en hoorbaar deur sy Gees
en Woord, dan sien jy opnuut die lig. Jy is nie betrokke by ’n verlore saak
nie. Christus self bevestig sy kerk tot in ewigheid. Hy self sorg daarvoor dat
dit voltooi word: mure van jaspis en strate van suiwer goud. Hy is daarmee
ingenome en laat dit trots vir Joh sien: Kom, sê Hy, Ek sal jou die bruid toon,
die vrou van die Lam.

Sou ons dan nie noukeurig kyk nie? En ons daarin verheug nie? Dan sal jy ook
nalaat om te praat van my stad, my kerk. Sodra dit my of ons kerk word, dan is
dit nie meer kerk nie, maar ’n menslike bedryf of klub. Die kerk is egter die
stad van God, die stad van die groot Koning. Hy is diegene wat besig is om die
stad so mooi en onoorwinlik te maak. As jy Jerusalem, die kerk, liefhet dan sal
jy ook die Here loof.

Dan sal jy uitroep: Halleluja, loof die Here. Dis wat gebeur aan die einde
van Ps 48. Waarom gee die Koragiete jou ’n begeleide toer rondom Jerusalem?
Waarom moet jy goed oplet, alles goed opneem? "Sodat julle dit aan die
volgende geslag kan vertel" (vers 14). Wat moet jy dan aan die kinders
vertel? Wat jy gesien het natuurlik. Sion se veiligheid en skoonheid. Maar wat
is die belangrikste van dit alles? Luister maar na die verse 14 en 15:
"sodat julle dit aan die volgende geslag kan vertel, dat hierdie God onse
God is, vir ewig en altyd; Hy sal ons lei tot die dood toe."

Ja, seuns en dogters, hierdie God is onse God. Jy leer Hom ken uit sy werke.
Kyk maar na sy stad, sy kerk. Hy is die God van verkiesing. Uit al die stede van
die wêreld het Hy die stad Jerusalem uitgekies. Uit die hele menslike geslag
het Hy vir Homself ’n volk uitverkies. Hy verbind Homself met ’n stad en
’n volk. Hoewel elkeen van ons die ewige dood verdien het. Hy soek verlore
sondaars soos ek en jou op. Hy wil onse God wees. Hy wil met ons saamgaan. Dan
sien jy iets gebeur. Vyande lê jou voor. Hulle val aan. Hulle wil jou van God
wegtrek. Hulle wil jou laat val. Hulle wil God se handewerk stukkend maak. Maar
wat sien jy? God dryf die vyande terug. Hy hou jou vas.

Kyk maar na sy stad. Het Hy sy kerk nie bewaar deur alle soorte krisisse heen
nie? Ondanks die teenstand, bly die kerk bestaan. Danksy God se ingryping, sy
beskerming en bewaring. Teenoor die verwoestende mag van die sonde het Hy sy
groter mag van bewaring gewys. Merk op sy trou en almagtige krag. Geen vyand is
te sterk vir Hom nie. Hy is die groot koning. Die Heerser van die wêreld. Die
Here van die leërskare. Wat legioene engele tot sy beskikking het. Die God wat
alle magte in hemel en op aarde tot sy beskikking het. Vyandelike magte kan niks
doen sonder sy wil nie.

Wel, hierdie God is onse God. Ja, onse God. Wat ’n magtige God het ons.
Onvoorstelbaar groot en goed. Hoe het Hy sy trou gewys. Sy trou teenoor sy volk.
Die hele geskiedenis van die kerk getuig daarvan. Jy kan altyd op Hom staatmaak.
Hierdie God is onse God vir ewig en altyd. Die onveranderlike God. Wat dieselfde
is gister, vandag en tot in ewigheid. Hy sal ons lei tot die dood toe, tot die
einde toe.

Wat wil jy nog meer? Wie sou so ’n Leier nie volg nie? So ’n Herder en
Generaal? Sonder fout lei Hy ons na die groot doel: die stad met twaalf
fondamente, met sy mure van jasper en sy strate van goud. Satan en sonde kan dit
nie verhinder nie.

Broeders en susters, seuns en dogters, wie durf nog met veragting oor die
kerk te praat? As jy die Here liefhê, sal jy ook sy kerk liefhê. En as jy die
kerk liefhê sal jy jou God loof. As jy noukeurig na Jerusalem, na die kerk,
kyk, dan sal jy die Here loof. Daarom: let goed op en loof die Here.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)