Christus se verskyning aan Thomas ter wille van sy kerk.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2002-04-14
Text: 
Johannes 20
Preek Inhoud: 

Johannes 20:24-29

Ds C Kleyn - Sondag 14 April 2002

Lees:

Johannes 20:19-31.
Sing: Ps 96:1,2; Ps 96:5,8; Ps 40:5,8; Ps 134:4; SB 43:4,5.

Tema:


Christus se verskyning aan Thomas ter wille van sy kerk.

  1. Christus soek die gawe fondament van die kerk;
  2. Christus ontvang die pragtige antwoord van Thomas; en
  3. Christus wys op die voortreflike pad van die geloof.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Waaroor gaan dit in ons teks? Gaan dit oor die persoon Thomas? Wil die teks
ons ’n beskrywing van Thomas gee, van hom as twyfelaar, as verteenwoordiger
van elkeen in die kerk wat twyfel? Om te twyfel is menslik. Wie worstel by tye
nie met twyfel nie? Selfs onder die dissipels is daar so ’n persoon. Wil die
Here elkeen in die kerk wat twyfel troos? Deur sy groot geduld en sy soekende
liefde te wys? Het Hy nie aan Thomas verskyn om hom van sy twyfel te bevry nie?
Wys Hy ook vandag nie dieselfde geduld en liefde vir hulle wat twyfel nie?
Thomas die twyfelaar word nie afgewys nie. Christus soek hom in liefde op.

Geliefdes, wat ons net nou genoem het, het ook sy plek in hierdie
geskiedenis. Christus wys hulle wat twyfel nie sommer af nie. Hy wil hulle in
liefde soek met sy woord van verlossing. Maar dit is nie die belangrikste nie.
Die teks gaan nie in die eerste plek oor die persoon Thomas as verteenwoordiger
van hulle wat twyfel nie. Hoe word Thomas in die teks voorgestel? Hy word
voorgestel as een van die twaalf. Dis ’n belangrike aantekening. Dit gaan hier
nie oor die persoon Thomas nie, maar oor die ampsdraer Thomas. Die twaalf wys
mos na die kring van die dissipels wat apostels moet word. Die twaalf is die
getuies van Jesus Christus, hulle wat Christus gesien en gehoor het. Die wêreld
is van hul getuienis afhanklik. Die toekoms van die kerk hang af van hul
getuienis.

Thomas is een van Christus se getuies. Sy naam moet ook op die fondament van
die hemelse Jerusalem genoem word. Kyk maar na Openb 21:14: "En die muur
van die stad het twaalf fondamente gehad, en daarop was die name van die twaalf
apostels van die Lam." Die getuienis van wat hy gehoor en gesien het, mag
nie verlore gaan nie. Die geloof van die kerk moet rus op die eenparige
getuienis van die twaalf. Daarom verskyn Christus aan Thomas. In hierdie
geskiedenis is Christus met sy kerk besig, met u en my. Moenie dit vergeet
wanneer u hierdie geskiedenis lees nie. Sien die groot sorg wat Christus vir u
wys.

Ek verkondig vir U: Christus se verskyning aan Thomas ter wille van sy kerk.

  1. Christus soek die gawe fondament van die kerk
  2. Christus ontvang die pragtige antwoord van Thomas
  3. Christus wys op die voortreflike pad van die geloof

Wat is die situasie? Wanneer die opgestane Here op die paasaand aan sy
dissipels verskyn, is Thomas afwesig. Hy is nie saam met die ander nie. Terwyl
hy daar behoort te wees. Wat gebeur mos op die paasaand? Christus wys opsetlik
die littekens op sy hande en sy sy. Die apostels moet die littekens van Goeie
Vrydag verifieer. Hulle moet kan sê: dit is die Here self. Die gekruisigde Here
leef! Hulle moet dit kan getuig vir die wêreld.

Wat doen Jesus nadat Hy hulle sy hande en sy gewys het? Hy benoem hulle in
hul besondere amp: "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle
ook." Dis ’n belangrike oomblik in die kerkgeskiedenis. Christus sorg vir
betroubare getuies. Hy benoem en bevestig hulle in hul amp. Hul getuienis van
Jesus Christus moet uitgaan oor die lengte en breedte van die aarde.

Thomas is egter by die bevestiging afwesig. Dit is ’n slegte saak. Nie
slegs vir Thomas nie, maar veral vir die kerk. Vir u en my. U geloof moet mos op
die eenparige getuienis van die apostels rus. Dus ook op die getuienis van
Thomas.

Wat sal van die kerk word as Thomas nalaat om saam met die ander van die
waarheid te getuig? Of as sy getuienis in stryd met hul getuienis is? Wat sal
van die kerk word as die ander sê: die Here het waarlik opgestaan, ons het Hom
gesien, terwyl Thomas volhou: daar is niks van waar nie? Ja, dis Thomas se
aanvanklike reaksie. Opgewonde vertel die ander apostels oor hul ontmoeting met
die Here: Ons het die Here gesien! Maar Thomas weier om te glo. Heel nadruklik sê
hy: "As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek
in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo
nie."

Thomas het die oop graf van Lasarus gesien. Hy het Christus toe hoor sê: Ek
is die opstanding en die lewe. Nou hoor hy die getuienis van sy mede apostels:
ons het die Here gesien. Maar dit het geen effek op hom nie. Thomas kyk nog nie
verder as die dood nie. Dood is vir hom die einde. Christus se eie woorde en die
getuienis van die apostels kan dit nie verander nie. Thomas glo dit nie. Dit is
Thomas se sonde. Sy sonde is nie dat hy die Here se wonde wil sien en voel nie.
Dis op sigself nie verkeerd nie. Christus wou self sy wonde vir sy dissipels
wys. Hulle moes dit sien. Hulle moes getuies daarvan wees dat die Here werklik
uit die dood opgestaan het.

Wat so erg is, is dat Thomas nie die getuienis van die ander apostels glo
nie. Hy beskou dit as fiksie, as ’n mooi versonne storie. Dis ’n kritieke
situasie. Nie slegs vir Thomas nie, maar vir die hele toekomstige kerk. Die kerk
is mos afhanklik van die apostoliese getuienis. Daarop moet die geloof van die
kerk rus. Soos Paulus dit noem in Ef 2:20 waar hy skryf dat God se woning, die
kerk, gebou is op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus
Christus self die hoeksteen is. Maar as Thomas in sy ongeloof volhard dat sal
die apostoliese getuienis nie eenparig wees nie. Dan is daar ’n skeur in die
fondament van die kerk.

Die skeur in die fondament moet verdwyn. Die kerk het ’n gawe fondament
nodig. Daarom verskyn Christus aan sy dissipels die tweede keer, agt dae later.
Opnuut op ’n Sondag, die Nuwe Testamentiese dag van die Here. Christus dra
sorg vir die fondament van die kerk.

Op die tweede Sondag is die situasie ongeveer dieselfde as op die paasaand.
Die dissipels is weer saam. Die deure is weer gesluit. Die enige verskil is dat
Thomas nou aanwesig is. Dit maak die tweede verskyning so belangrik.

Skielik staan Christus in hul midde en sê: Vrede vir julle. ’n Normale
Joodse groet. Tog het hierdie woorde uit die mond van ons opgestane Here ’n
diepere betekenis. Aan die kruis het Hy die vrede tussen God en ons mense
verwerf. Daarom kan Hy ook die ware vrede gee. Sy groet is dus meer as slegs
’n wens: mag vrede jou deel wees. Nee, met die woorde gee Hy ook sy vrede. Hy
self het vrede gemaak. Ja, Hy is ons vrede. Nou verklaar Hy sy vrede vir sy
dissipels. En deur hulle vir sy kerk. Daarom mag u elke Sondag die verklaring
van Christus se vrede hoor: genade vir u en vrede van God ons Vader en die Here
Jesus Christus..

Na die groet rig Christus Hom onmiddellik tot Thomas. Hy wag nie vir Thomas
nie. Christus neem self die inisiatief. Hy soek self die een apostel op. Die een
wat weier om te glo. Voordat Thomas self iets kan sê of doen, sê Jesus vir
hom: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit
in my sy. Thomas, wil jy sien en voel? Kom, jy mag rustig sien en voel. Jy moet
dit sien net soos die ander apostels dit reeds gesien het. Jy moet dit sien as
een van my kroon getuies. Ter wille van die kerk van alle tye. Jy moet dit sien,
voel en glo.

Christus beweeg Thomas tot geloof: en moenie ongelowig wees nie, maar
gelowig. Christus verdoesel nie die waarheid nie. Hy sê ronduit wat Hy bedoel.
Hy verskoon nie wat verkeerd is nie. Hy noem dit by sy naam: moenie ongelowig
wees nie. Dis ongeloof. Dis nie maar ’n karakter eienskap nie. Dis ongeloof.
’n Weiering om die apostoliese getuienis te aanvaar. ’n Weiering om die
Woord van God te aanvaar. ’n Afwysing van God se woord wat praat van Christus
se lyding, dood, maar ook sy opstanding op die derde dag. Thomas, laat jou
ongeloof vaar. Glo die woorde wat jy van My en van jou mede apostels gehoor het.

Dis ’n belangrike oomblik in die geskiedenis van die kerk. Sal die skeur in
die fondament van die kerk herstel word? Sal daar ’n eenstemmig apostoliese
getuienis wees?

Dan hoor ons die pragtige belydenis van Thomas: My Here en my God. Dis die
tweede gedagte van die preek: die pragtige belydenis van Thomas.

Thomas kom uit bo die ander woorde waarmee tot nou toe die geloof in Jesus
bely is. Joh het verskillende belydenisse in sy evangelie opgeneem. Daar was die
belydenis van Natanael: Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van
Israel. Daar was die belydenis van Petrus: U is die Christus, die Seun van die
lewende God. En nog meer. Maar al die belydenisse word nou oortref. Hulle bereik
hul hoogtepunt in hierdie belydenis van Thomas. Christus word hier erken en bely
is sy volle glorie. Thomas laat geen twyfel daaroor bestaan: ons het sy
heerlikheid gesien, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader
kom – vol van genade en waarheid.

Hierdie belydenis is ook baie persoonlik: My Here en my God. Nie slegs
Rabboeni, Meester, soos Maria haar opgestane Here aangespreek het. Nee, my Here,
my Heer, my eienaar, my Meester. En: My God. U is nie slegs ’n unieke mens
nie. U is ook God, my God.

Thomas is nou waar hy moet wees. Hy gee die pragtige antwoord van die geloof:
my Here en my God. ’n Pragtige belydenis ook vir vandag, vir u en my. Is dit
ook jou belydenis: my Here en my God. My Here: ek behoort aan U. Ek is tot u
beskikking, om u wil te doen. Ek onderwerp my aan U. En: My God.

Broeders en susters, dit vorm ’n pragtige afsluiting van Joh se evangelie.
Christus het sy troue getuies geformeer. Hy het hulle tot geloof in Hom wat leef
gebring. Hy het die krag van ongeloof gebreek. Met Thomas se belydenis het Joh
se evangelie sy klimaks bereik.

In Joh 1 was dit nog so dat God alleen die heerlikheid van sy Seun wat vlees
geword het, geken het. Maar nou word die heerlikheid deur die apostels gesien en
bely. Uit die mond van Thomas. Jesus is waarlik God. Hierdie belydenis is van
groot belang. U verlossing hang daarmee saam. Christus het Thomas sover gebring
ter wille van die kerk, ter wille van u en my.

Nou die derde gedagte: Christus wys op die voortreflike pad van die geloof.
Ons hoor Christus sê: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is
die wat nie gesien het nie en tog geglo het.

Klink hierin ’n verwyt na Thomas toe, so van: dis ’n skande dat jy eers
moes sien om te glo? Nee, hier konstateer Christus slegs hoe dit tot nou toe
gegaan het: sien en dan glo. Christus het mos fisies en sigbaar in hul midde
verkeer. Maar salig is die wat na my hemelvaart glo sonder om My te kan sien.
Dit sal die normale pad wees. Die voortreflike pad.

Die voortreflike pad? Het Christus nie eers vir sy dissipels gesê:
"Salig is die oë wat sien wat julle sien; want Ek sê vir julle, baie
profete en konings het gewens om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien
nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie" (Lk
10:23,24). Die dissipels word daar dus gelukgewens. Hulle het die voorreg om te
sien wat baie profete en konings nog nie mog sien nie. Maar nou sê ons
opgestane Here: Salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het. Die sien
van die apostels is meer as al die woorde van die profete. Maar tegelykertyd is
dit minder as die geloof wat nie hoef te sien nie.

Christus se woorde is raaiselagtig. Is dit nie baie ryker om Jesus fisies en
sigbaar in jou midde te hê nie? Is ek nie gelukkiger indien my geloof gesteun
word deur iets wat sigbaar is nie? Gebeur dit somtyds nie dat ons ’n bietjie
jaloers is op die Jode wat Christus se bediening op aarde meegemaak het nie? Was
Christus nou maar in ons midde, sigbaar en hoorbaar. Dan sou ek nie so dikwels
twyfel nie. Dan sou die gemeentelewe baie anders uitsien. Dan sou ons mos ’n
sigbare bewys van die evangelie hê?

Verkeer ons dan nie in ’n slegter posisie as die apostels wat Jesus mog
sien en meemaak nie? Christus sê: nee, julle is in ’n beter posisie. Julle is
salig. Julle, wat Jesus nie kan sien en tog glo, julle word gelukgewens. Julle
is nog ryker. Thomas moes sien om te glo. Die apostels moes sien en voel. Hulle
oë was die oë van die kerk. Hulle hande was u hande. Dmv die apostels het u
self gesien en gevoel.

Wat hulle gesien en gehoor het, het hulle vir u verkondig. Dit word nou ook
vir u verkondig. Sodat u met hulle gemeenskap sou hê. Christus het na die hemel
opgevaar. Daarna was dit Pinkster. Die Gees van Christus het die kerk in die
hele waarheid gelei. Die fondament van die kerk is gelê. U het die leer van die
apostels en profete in die voltooide woord van God. U is ryker as die mense uit
die tyd van Jesus se omwandeling op aarde. U het die hele waarheid in die
komplete Bybel.

Die pad van die geloof is ook ryker na hemelvaart en Pinkster. Wat is mos
geloof? Is dit afhanklik van sien? Onder mense is dit dikwels die geval. Ons is
dikwels slegs bereid om iets te glo indien ons dit sien. Maar wat is ryker: om
te glo nadat ons gesien het of om te glo sonder om dit te sien? Wat is meer? Wat
is dieper? Om van sigbare bewyse afhanklik te wees of om God eenvoudig op sy
woord te glo? Wat is geloof in wese? Is dit nie: om God op sy woord te aanvaar
nie?

Salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het. Ons het eerder genoem
dat twyfel ons soms kan pla. Hoe oorwin ek die twyfel wat soms in my hart opkom?
Salig is elkeen wat sy of haar twyfel oorwin deur gewoon terug te gaan na die
geskrewe woord van God en God weer op sy woord aanvaar.

Broeders en susters, seuns en dogters, julle word gelukgewens wanneer julle
tydens die weekliks feesdag van die kerk kan sê: sy woord is vir my genoeg.
Ander het dit vir my gesien en gehoor. Amptelik, ter wille van die kerk. En ek
het hul getuienis ontvang. Daar is geen twyfel daaroor: Jesus Christus is die
Seun van God. Hy is my Here en my God. Hy het ter wille van ons saligheid mens
geword. Hy het gely, is gekruisig, het gesterf. Op die derde dag het Hy volgens
die Skrifte opgestaan. Hy het na die hemel opgevaar. Hy sit aan die regterhand
van die Vader en Hy sal met heerlikheid terugkom. Op die oomblik verskyn
Christus nie in die vlees nie, sigbaar. Hy verskyn egter wel deur sy woord en
Gees. In die volheid en krag van die Gees van Pinkster. Dan verlang ek tog nie
terug na die verlede nie, na die tyd van Christus se bediening op aarde?

Salig is hulle wat nie terug na die verlede wil nie, maar wat voorwaarts wil
gaan, met die woord. Salig is hulle wat verlang na die groot voltooiing van
Christus se werk. Wanneer ek op die groot toekoms fokus, dan wil ek Hom tog nie
ophou nie? Dan wil ek doen wat ek kan om die voltooiing van sy werk te bevorder.
Voor die groot dag moet nog soveel gebeur. Ek wil dan nie selfsugtig wees nie.
Maar ek hou my dan aan die instruksies van my Here. Ek volg geduldig die pad wat
Hy gewys het vir hierdie pinkster bedeling. Gewillig en met vreugde wend ek my
gawes aan tot nut en saligheid van ander. In die amp van alle gelowiges maar ook
in die besondere amp, as ouderling of diaken. Ek wil die dag as ’t ware
verhaas. Want ander moet nog geroep en vergader word. Daar moet kom die groot
menigte wat niemand kan tel nie. Niemand mag ontbreek nie. Eers wanneer die
laaste persoon gereed is, kan die fees begin, die bruilof van die lam.

Geliefdes, wil u vandag Christus sien en voel? Dan sou u sy koms vertraag.
Dan sou u die bevrediging van u eie gevoelens bo die belang van die kerk stel.
Die kerk wat Hy besig is om te vergader uit alle volke en tale. Sal ek Hom dan
vra of ek Hom vandag mag sien? Laat ek eerder bely: ander het vir my gesien en
dit vir my vasgelê in die komplete Bybel. Ek mag die volle waarheid besit. En
op grond daarvan loof en werk na die voltooiing van God se ryk. In die volheid
en krag van die Gees.

So sien ons die geskiedenis van ons teks. Christus verskyn aan Thomas en die
ander apostels ter wille van sy kerk. Ter wille van u en my. Hy het sorg gedra
vir ’n gawe fondament van die kerk. Hy het die pragtige belydenis van Thomas
ontvang. Hy het my die pad van die geloof gewys. ’n Geloof sonder om self te
sien. Sal ons die pad dan blymoedig volg? En ywerig bou op die gawe apostoliese
fondament. Gelukgewens, met God se woord en Gees en met die geweldige taak wat u
daarmee ontvang!

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)