Waarlik, God is goed vir Israel, vir die wat rein van hart is.

Minister: 
Ds RM Retief
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-05-02
Text: 
Psalms 73
Preek Inhoud: 

Psalm 73

Prop. R.M. Retief - Sondag 2 Mei 2000

Lees: Hebreërs11:13-16, 24-27, 35-40; Psalm
73.
Sing: Ps.89:1,6; Ps.32:1,3,6; Ps.42:1-3; Ps.73:2,5,11;
Ps.111:1-3.

Tema: Waarlik, God is goed vir Israel, vir die wat rein van
hart is.

  1. Die goddelose se voorspoed;
  2. Die goddelose se einde;
  3. Die regverdige se rykdom.

 

Inleiding

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Jy vertrou op die Here, maar soms lyk dit of Hy jou verlaat
het. Van die mense ontvang jy veragting, en van die Here ontvang
jy tugtiging. Jou lewe is ‘n stryd. Dan kyk jy om jou rond,
en jy sien dat die goddelose voorspoedig is. Dit gaan goed met
hulle, hulle leef onbesorg en in weelde, hulle is magtig en in
aansien. Dan begin jy wonder. Ek het dan soveel stryd en ellende!
Is dit nie dalk vergeefse moeite nie? Wat baat dit my dat ek
‘n stryd het om my hart rein te hou en opreg te wandel? Ek
word geslaan en verag, terwyl die goddelose voorspoedig is. Dit
word vir die gelowige ‘n versoeking en ‘n beproewing
wanneer hy sy eie swaarkry vergelyk met die voorspoed van die
goddelose.

Nou kry ons boonop mense wat gierigheid deel maak van hulle
godsdiens. Mense wat dink dat die geloof ‘n winsgewende
besigheid is (1Tim.6:5). Hulle sê: "Word ‘n Christen,
dan sal dit net goed gaan met jou in hierdie lewe. Jy is ‘n
koningskind, eis van die Here net wat jy wil hê en Hy sal dit
vir jou gee – dit is jou reg! Swaarkry is nie vir ‘n
Christen bedoel nie! As jy swaar kry, of as jy nie kry wat jy wil
hê nie, dan is dit net omdat jou geloof te klein is!" Dit
is ‘n aantreklike evangelie en baie populêr.

Maar wat leer die Skrif ons? Het die goddelose nie groter
voorspoed as die regverdige nie? Die skrywer van Psalm 73 het met
hierdie vraag geworstel. En uiteindelik kom hy daartoe om te sê:
"Waarlik, God is goed vir Israel, vir die wat rein van
hart is". Dit is die tema van hierdie psalm. Ons wil na
drie sake kyk:

  1. Die goddelose se voorspoed
  2. Die goddelose se einde
  3. Die regverdige se rykdom.

Die goddelose se voorspoed

Bo aan die Psalm staan: ‘n Psalm van Asaf. Dit kan vanuit
die Hebreeus net so goed vertaal word met: "‘n Psalm
vir Asaf". Dit sou beteken dat hierdie psalm, soos byna al
die ander, ook deur Dawid geskryf is, en dat Asaf net die
musiekleier is. Dawid se naam staan byvoorbeeld ook nie by Psalm
2 nie, maar dan vertel die Nuwe Testamnet ons dat dit wel deur
Dawid geskryf is. Ons mag dus net so wel aanneem dat Ps.73 ook
‘n Psalm van Dawid is.

Dawid, of as u wil, Asaf, het so pas deur ‘n worstelstryd
gegaan. Is God werklik goed vir Israel? Is die ander nasies nie
groter en magtiger nie? Is God se goedheid werklik vir die wat
rein van hart is? Gaan dit nie beter met die goddelose nie? Ja,
dit gaan beter met die goddelose. Die goddelose het meer
voorspoed op aarde as die regverdige. En tog, nadat die gelowige
skrywer met hierdie vrae geworstel het, kom hy tot die
gevolgtrekking dat God waarlik goed is vir Israel, vir die wat
rein van hart is.

Hy het amper geval, hy het byna die vrees van die Here laat
vaar. Maar nou, asof hy uit die magte van die hel verlos is, roep
hy dit uit: Waarlik, God is goed vir Israel! Hy was
dwaas en sonder verstand soos ‘n redelose dier, toe sy oë
‘n tyd lank verblind was deur die god van hierdie wêreld.
Maar die Here het sy hand gevat en sy klein geloof te hulp gekom.
Met vreugde en volle oortuiging kan hy nou uitroep dat die Here
waarlik goed is vir Israel.

Israel is dié wat rein van hart is – nét die wat rein
van hart is. Die ander word uitgesluit. Hy praat hier van Abraham
se geestelike nageslag, want nie almal wat uit Israel gebore is,
is rein van hart nie.

Maar wat homself betref, sê hy: ek het amper geval toe ek
sien hóé voorspoedig die goddelose is. Hy was afgunstig op
hulle, hy het begeer om sy lot met hulle lot te ruil toe hy sien
hoe goed dit met die goddelose gaan. Hy sê: "Ek was
afgunstig op die onsinniges" Hy noem die goddelose
onverstandig; onverstandig omdat hulle nie die Here vrees nie.
Tog het hulle lewe vir hom begeerlik gelyk.

Die goddelose se voorspoed word vir ons beskryf van vers 4 tot
12. Hulle het geen kwellings nie, hulle is sterk en gesond. Hulle
het geen moeite nie en geen plae tref hulle nie. Hulle is trots
en magtig. Al die begeertes van hul hart word bevredig. Hulle
spot en praat uit die hoogte. Hulle ag hulleself so groot dat
hulle niks in die hemel of op aarde ontsien nie. Hulle drink
mense soos water, met ander woorde hulle verslind mense om hul
eie dors te bevredig, asof ander mense ter wille van hulle gebore
word. En dan het die goddelose boonop geen las van ‘n gewete
nie. Hulle reken dat hulle nooit sal hoef rekenskap te gee nie,
en dat God niks weet nie. So leef die goddelose onbekommerd voort
in weelde, terwyl hul rykdom net al groter word.

"Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my
hande in onskuld gewas." Wat help dit my? Terwyl dit so
voorspoedig gaan met die goddelose, word ék elke dag geslaan,
elke môre begin my dag met tugtiging, sê hy. Is daar werklik
‘n God wat leef? Sien Hy my ellende? Waarom straf Hy nie die
goddelose nie? Sal dit nie vir my beter wees om soos een van
hulle te wees nie? Sal ek nie dan ook ryk en magtig kan wees nie?
Dan sal ek ook voorspoedig wees. Waarom sal ek my moeg maak met
‘n hopelose stryd en geswoeg wat geen loon ontvang nie?

U sal dalk wonder of dit nie oordrewe is nie. Dit gaan mos nie
só sleg met die gelowige nie, en die goddelose het ook mos teëspoed?
Is die beskrywing van die goddelose se voorspoed in verse 4
–12 nie dalk te eensydig en oordrewe nie? Daar is tog baie
goddelose wat ook arm is, wat gestraf word, wat nie voorspoedig
is nie? Die antwoord hierop is tweeledig. Eerstens moet ons
verstaan dat wanneer die goddelose wel gestraf word en teëspoed
het, God daardeur sy toorn openbaar sodat sy goddelike wraak nie
heeltemal verborge is vir die mens nie. Aan die ander kant sien
ons dat daar goddelose is wat as’t ware deur God op ‘n
verhoog geplaas word en met rykdom en voorspoed oorlaai word en
in hierdie lewe geen oordeel ontvang nie, sodat die voorspoed van
die goddelose dien om die regverdige se geloof te toets.

Die profeet Jeremia sien die voorspoed van die goddelose en sê:
"Regverdig is U, o HERE, as ek met U sou twis. Tog wil ek
oor regsake met U spreek: Waarom is die weg van die goddelose
voorspoedig? Waarom lewe hulle rustig, almal wat ontrou bedrywe?
U het hulle geplant, ook het hulle wortel geskied; hulle groei,
ook dra hulle vrugte…"- Jer.12:1,2. Hy vra en hy wonder.
Dit is vir die regverdige ‘n versoeking en ‘n bepoewing
wanneer hy sien hoe voorspoedig die goddelose lewe, terwyl hyself
verag en getugtig word.

Die beskrywing van die goddelose hier in Ps.73 is dus nie
oordrewe of onwaar nie. Die skrywer het hom nie misgis nie. Hy
het hom nie net verbeel dat die goddelose voorspoedig is nie, hy
sien dit. Dit is nie iets wat hy self uitgedink het nie. Nugter
beskryf hy die skokkende werklikheid – ‘n werklikheid
wat sy geloof byna vernietig het! Kain was geen swerwer of
vlugteling nie! Hy gaan woon op een plek, in land Nod. Hy bou
daar vir homself ‘n stad. Hy is vrugbaar en het ‘n
groot nageslag, trotse manne wat heers met mag en geweld. Kain se
nageslag is op die voorpunt van ontwikkeling. As Dawid die
goddelose se voorspoed, mag en rykdom klaar beskryf het, sê hy:
"Kyk, so is die goddelose mense, en altyd onbesorg
vermeerder hulle die rykdom!"(vers 12).

Vers 11 gee die rede waarom hulle so onbesorg is. Hulle sondig
sonder om hulle daaroor te bekommer, hulle is vreesloos, want
hulle sê: "Hoe sou God dit weet, en sou daar kennis by die
Allerhoogste wees?" Moontlik het hulle dit nie in soveel
woorde gesê nie, maar hulle hele lewe roep dit uit dat hulle
geen vrees vir die Here het nie. Spr.14:16 sê: "Die wyse
vrees en wyk af van die kwaad, maar die dwaas bruis op en is vol
selfvertroue". Die wyse vrees die Here, daarom is hy bang om
sonde te doen, wyk hy af van die kwaad; maar die goddelose vrees
nie die Here nie, daarom is hulle nie bang om te sondig nie.
Onbesorg gaan hulle met hul goddeloosheid voort en hulle word
steeds magtiger en ryker.

Vers 11 openbaar dus aan ons wat in die goddelose se hart
omgaan. Hulle reken dat God hulle nie sien nie en niks weet nie.
Daarom is hulle vry en onbesorg om te doen wat hulle wil. Die
teenoorgestelde daarvan is om voor die Here se aangesig te wandel.
Voor sy aangesig beteken voor sy oë. Voor sy aangesig wandel,
beteken dus om voor sy oë te leef, om te weet dat Hy alles sien
wat ek doen, dat Hy alles hoor wat ek sê, en selfs my gedagtes
ken. Maar wanneer die goddelose sondig, vra hulle: "Hoe sou
God dit weet, en sou daar kennis by die Allerhoogste wees?"
So getuig hulle dat hulle ver van sy aangesig leef. Hulle reken
dat die Here baie ver op ‘n ander plek woon, sodat Hy nie
kan sien wat die mens doen nie. Daar is by hulle geen besef van
sy teenwoordigheid nie. Daarom was Kain nie bang om vir die Here
te lieg nie. Hy dag God het niks gesien nie. Daarom het hy
gereken dat hy geen rekenskap hoef te gee nie. Dit was vir hom
‘n verrassing dat God iets van die saak af weet. Die
goddelose reken dat hierdie wêreld aan die noodlot oorgegee is.
Daar is by hulle geen besef dat God regeer en alles beheer nie,
dus gaan hulle rustig en skaamteloos voort om hulleself te verryk
met mag en geweld.

Die voorspoed wat die goddelose geniet is nie net groot nie,
dit is ook bestendig! Die woord wat in vers 12 vertaal is met
"altyd", word meer dikwels vertaal met "ewig".
Dit lyk of die goddelose se voorspoed vir ewig duur, asof daar
nooit ‘n einde aan kom nie.

Die skrywer se eie toestand steek pynlik af teen soveel gerief
en weelde. Die versoeking word vir hom te groot, want hyself
verkeer in ellende. "Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein
gehou en my hande in onskuld gewas." Wat hét ek daarvan? Ek
word die hele dag lank geslaan en getugtig. Hoe moet ek dit
verstaan? Sal dit nie dalk met my beter gaan as ek ook die vrees
van die Here laat vaar nie?

En dan sê hy: Ek het daaroor nagedink. Ek wou dit graag
verstaan. Waarom is die goddelose so voorspoedig en ek so
ellendig? Is die Here werklik so goed vir die wat Hom vrees? Ek
het ‘n antwoord gesoek maar kon dit nie vind nie, totdat ek
in die heiligdomme van God ingegaan en op hulle einde gelet het.

Die goddelose se einde

In vers 17 sê hy dat daar vir hom lig opgegaan het toe hy in
die heiligdomme van God ingegaan het en op die goddelose se einde
gelet het. Die lig is dat die goddelose wel geoordeel sal word.
Vers 18-20 beskryf die goddelose se einde, hoe God hulle
uiteindelik sal oordeel en vernietig. Hy het hul einde en hul
oordeel gesien toe hy in die heiligdomme van God ingegaan en op
hul einde gelet het. God se wet was in die heiligdom bewaar, en
sy priesters het onderrig gegee. Sy bedoeling is dat die hele
saak vir hom duister was, totdat God sy leermeester geword het.
Die mens is nie in staat om met sy eie verstand die raadsplan van
God te begryp nie. Vir ons lyk die wêreldgebeure en selfs ons
eie lewe deurmekaar en onverstaanbaar. Dit lyk asof alles aan
hulleself oorgelaat word en asof daar geen orde of sin in dit
alles is nie, totdat ons in die geloof luister na God se Woord.
Dan ontdek ons dat daar ‘n God is wat alles werk volgens die
raad van sy wil, wat in beheer is.

Waar sal ons dié wysheid vandaan kry, as God dit nie aan ons
skenk deur sy Gees en Woord nie? Dawid gaan soek die antwoord by
God. Die heiligdom was toe nog net ‘n tent, maar dit is die
plek waarheen hy gaan vir wysheid. Waar anders sal hy ‘n
antwoord kry?

Toe hy op die goddelose se einde gelet het, het hy nie gekyk
na hul heengaan uit hierdie wêreld nie. Want alle mense sterf,
die regverdiges ook. Die regverdige Abel sterf en Kain leef.
Prediker sê: "…daar is ‘n regverdige wat ondanks
sy regverdigheid omkom, en daar is ‘n goddelose wat ondanks
sy goddeloosheid lank lewe" – Pred.7:15. Wat het Dawid
dan gesien? Hy het God se oordeel oor die goddelose gesien.

U sal vra: Kon hy dit nie op ‘n ander plek sien nie,
waarom moes hy na die heiligdom gaan om dit te sien? Want daar is
die wet van God, daar verklaar God sy oordeel oor die goddelose.
Nadat Dawid die bril van die wet opgesit het, kon hy die
goddelose se einde sien. Onthou, hy het pas tevore in vers 12 gesê
dat die goddelose altyd voortgaan om in rus en vrede hul rykdom
te vermeerder. Ons het daarop gelet dat die woord "altyd",
wat daar in die Hebreeus gebruik is, ‘n lang of ‘n
oneindige tyd is. Dawid bedoel nie dat hulle vir ewig leef nie,
maar wel dat hulle bestendig is in hulle voorspoed, dat daar soms
in hierdie lewe geen einde aan is nie. Dit gebeur dat goddelose
lank leef en nooit tot verantwoording geroep word nie. Maar in
die wet verklaar God sy oordeel en belig Hy dit met voorbeelde.
Kyk na Sodom! Kyk na Farao! "Waarlik, U stel hulle op gladde
plekke; U laat hulle in puin val. Hoe word hulle in ‘n
oomblik ‘n voorwerp van verbasing, vergaan hulle, raak hulle
tot niet deur verskrikkinge!" Dit is asof God hulle ‘n
tyd lank hoog opgetel het, net sodat hulle val soveel swaarder
kan wees.

Noudat hy in God se heiligdom ingegaan het, gaan sy oë oop en
sien hy God se oordele oral om hom. Die Here verklaar sy toorn en
sy wraak, en dan aanvaar Dawid deur die geloof dat ongelukke en
rampe nie die goddelose per toeval tref nie. Daar is ‘n Here
wat leef, wat alles sien en wat oordeel. En wanneer dit gebeur
dat die goddelose lank en voorspoedig leef en selfs in vrede
sterf, dan weet hy dat die laaste dag nog nie aangebreek het nie.
Daar is ‘n Regter wat die hele aarde sal oordeel (Gen.18:25).

Die voorbeelde van God se oordele in hierdie lewe is sodat ons
oë nie te swaar en duister word nie, sodat ons steeds deur die
geloof sy oordeel verwag oor almal wat goddeloosheid bedrywe.
Daar kom ‘n dag wat Kain weer sal opstaan. Dan sal hy nie
weer gaan en vir homself ‘n stad bou nie, dan sal hy nie
meer vrugbaar wees en die voorspoed van sy kinders sien nie. Dan
sal hy ‘n swerwer en ‘n vlugteling wees. Abel sal dan
die belofte van die vyfde gebod ontvang: ‘n lang lewe,
‘n ewige lewe in die land wat die Here sy God hom sal gee.

God se woorde is waarheid, wat Hy gesê het sal so wees. Maar
wat dan as dit in hierdie lewe nie so is nie? Wat dan as Abel
sterf en Kain leef? As hierdie lewe die enigste werklikheid was,
dan sou ons moes sê dat Abel, die regverdige, nie geseënd is
nie, en dat die Here se vloek oor Kain, die goddelose, net woorde
in die wind was. Wanneer die goddelose se oordeel uitgestel word,
en daar in hierdie lewe geen sigbare bewys van hulle vloek is nie,
dan dwing dit ons om te wag op ‘n toekomstige oordeel. Dan
verwag ons die opstanding van die dode en ‘n verskriklike
oordeel oor elkeen wat goddeloos geleef het.

"Soos ‘n droom nadat ‘n mens wakker word, o
Here, so verag U, as U opwaak hulle beeld!" Dit is ‘n
treffende beeld wat hy hier gebruik. Wanneer jy in die môre
wakker word, weet jy soms nie eens dat jy gedroom het nie. Die
nag is verby. In die helder sonlig is jou brein weer nugter, en
vergeet jy gou wat jy gedroom het – want dit was net ‘n
droom! Daar word geen waarde aan geheg nie. Dit maak nie deel uit
van die werklikheid nie. So is die goddelose se voorspoed.
Wanneer die nuwe dag aanbreek, en die goddelose hul oordeel
ontvang, dan sal die voorspoed wat hulle gehad het vergete wees,
net soos droombeelde verdwyn in die glans van sonlig.

Wat ons tot nou toe gehoor het, dien vir die regverdige as
vertroosting en bemoediging om voort te gaan met die goeie stryd
van die geloof. Dalk word u op allerlei maniere getugtig, en
miskien word u beproef soos die regverdige Job. Laat die
voorspoed van die goddelose jou nie ontstel nie. Dink daaraan dat
dit soos ‘n droombeeld sal verdwyn, ook jou ellende, wanneer
die ewige dag aanbreek. Op daardie dag sal die bordjies verhang
word. Wanneer ons ons eie toestand vergelyk met die voorspoed van
die goddelose, mag ons verseker weet dat daar ‘n einde aan
sal kom, selfs al sou ons in hierdie lewe geen bewyse daarvan
sien nie.

Die regverdige se rykdom

Aan die een kant het ons nou gesien dat die goddelose, al is
hulle so voorspoedig, tog vervloek is. Aan die ander kant sal ons
nou sien dat die regverdige ongelooflik ryk is, al is hy arm! Die
regverdige is welgeluksalig, al is hy ellendig!

Dawid bely dat hy verbitterd geword het. Sy afguns het
oorgegaan in bitterheid toe hy sien hoe voorspoedig die goddelose
is, en hoe ellendig hyself is. "Toe was ék dom en het niks
geweet nie; ek was ‘n dier by U." Hy vergelyk sy eie
dwaasheid met die redeloosheid van ‘n dier, wat net gedryf
word deur sy dierlike instinkte. Die mens se vleeslike gedagtes
is nie hoër as dierlike instink nie. Toe hy begin twyfel oor die
Here se voorsienigheid en trou, het hy soos ‘n dier geword
sonder verstand.

Hoe het hy sy verstand weer teruggekry? Wat het gemaak dat sy
voet nie gegly en hy in goddeloosheid verval het nie? Vers 23 gee
die antwoord: die Here self het hom bewaar. Hy sê: "Nogtans
is ek altyddeur by U; U het my regterhand gevat". Toe sy
voete amper gegly het, was die Here langs Hom om sy regterhand te
vat. Toe Dawid self probeer het om ‘n antwoord te vind, was
dit tevergeefse moeite in sy oë en was hy verbitterd. Hy was nie
in staat om deur eie vermoë of deur sy goeie verstand terug te
keer na die Here nie. In sy onvermoë was hy soos ‘n
redelose dier. Daarom gee hy die eer aan God. Die Here self het
my van struikeling bewaar.

Ons moet onsself nie verbeel dat dit maar ‘n klein
versoekinkie is nie. As die Here u nie bewaar nie, sal u geen
krag hê om teen die geringste versoeking te stry nie. En hierdie
is geen geringe versoeking nie. Dink ‘n oomblik na. Het u
nie dalk lankal reeds so wêreldgelykvormig geword dat geld nou
vir u belangrik is nie? Hoeveel is u nie reeds bereid om te offer
op die altaar van voorspoed nie? Is u nie dalk reeds in
kompetisie met die voorspoed van die goddelose nie? Meet u nie
dalk u eie sukses in wêreldse terme nie? Het u nie dalk in
sekere opsigte reeds die vrees van die Here laat vaar sodat u kan
meeding met die voorspoed van die goddelose nie? Dit is ‘n
versoeking wat ons geloof kan vernietig.

Wanneer ons die Here dien en geen sigbare voorspoed geniet nie,
terwyl dit ongelooflik goed gaan met die goddelose – wie van
ons sal dan bly staan, as dit nie die Here self is wat ons hand
vat en weer krag gee om in die geloof te volhard nie?

In vers 24 tot 28 vind ons nou ‘n beskrywing van die
regverdige se rykdom. Dit is geen sigbare rykdom wat hier beskryf
word nie. Die Here self is ons rykdom! Hy sê: "U sal my lei
deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem. Wie het ek buiten
U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie. Al
beswyk my vlees en my hart – God is die rots van my hart en
my deel tot in ewigeheid".

Beteken dit dat die gelowige geen aardse seëninge ontvang nie?
Tog nie, ons ontvang nou reeds beskerming en versorging in
hierdie lewe, te midde van stryd en lyding. Maar u sal sien dat
Dawid

net God alleen voor oë het wanneer hy hom verbly in sy rykdom.

In vers 24 sien ons dat Dawid nou sy aandag op die toekoms
vestig. In die vorige vers erken hy die Here se troue bewaring
wat hom tot hier gebring het. Nou sê hy dat net soos die Here
hom van struikeling bewaar het toe hy amper alle godsvrees laat
vaar het, net so sal die Here hom ook verder lei en verstand gee
om op die regte pad te wandel. En daarna sal die Here hom opneem
in heerlikheid. Sy oë is gerig op die heerlikheid wat God hom
sal skenk, al sien hy nou geen sigbare bewys daarvan nie. En wat
is hierdie heerlikheid wat hy so begeer? Vers 25 sê: "Wie
het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die
aarde nie". Sien u wat die begeerte van sy hart is? Hy
begeer niks op die aarde nie, hy begeer ook niks in die hemel nie,
behalwe vir God self! Die Here is sy rykdom! Hy sê verder dat al
gaan dit so sleg hier op aarde met hom dat sy lewe uitteer en
vergaan, dan is God self sy erfdeel tot in ewigheid!

Dawid sê dieselfde in Psalm 16. Hy sê daar: "Ek het tot
die Here gesê: U is my Here; vir my is daar geen goed bo U nie…Die
Here is die deel van my erfenis en van my beker; U onderhou my
lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my
erfenis is vir my mooi" (verse 2,5,6).

Hy gebruik weereens ‘n treffende beeld. Toe Israel die
beloofde land binne gaan en die grond verdeel is, het dit geskied
deur die lot daaroor te werp (Jos.18:6 ens.). Elke stam se
erfdeel is deur die lot bepaal. Maar die stam van Levi het geen
erfdeel ontvang nie, omdat die Here hulle erfdeel is. Nou sê
Dawid hier in Psalm 73:26 dat die Here sy deel is tot in ewigheid.
In Ps.16 is dit baie mooi uitgespel wat dit beteken om die Here
as jou deel te hê. Dit beteken dat Hy jou afgemete erfdeel is in
die beloofde land.

In Num.18:20 sê die Here aan Aäron: "Jy sal in hulle
land nie erwe nie, en jy sal geen deel onder hulle hê nie. Ek is
jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel". In
Deut.10:9 sê die Here dat die stam van Levi geen deel of erfenis
saam met sy broers het nie; die Here is sy erfdeel. Verder staan
daar: "Die Levietiese priesters, die hele stam van Levi, mag
geen deel of erfenis saam met Israel hê nie…hy mag geen
erfdeel hê onder sy broers nie; die Here is sy erfdeel soos Hy
hom beloof het" – Deut.18:1,2. Wanneer Israel dan die
beloofde land ingaan kry die stam van Levi niks nie. Wanneer die
erfenis verdeel word onder die stamme, lees ons in Jos.13:33:
"…maar aan die stam van Levi het Moses geen erfdeel
gegee nie; die Here, die God van Israel, is self hulle erfdeel,
soos Hy hulle beloof het". Verder sê die Here in Eseg.44:28:
"Ek is hulle erfdeel; en julle mag aan hulle geen besitting
in Israel gee nie: Ek is hulle besitting".

Nou verstaan ons wat Dawid hier in Ps.73:26 bedoel as hy sê
dat God sy deel is tot in ewigheid. Die Here is sy erfdeel, sy
besitting! Dit is die rykdom waarin hy hom verheug. Hy verlang
geen ander erfdeel hier op aarde nie, ook nie in die hemel nie
– God self is sy erfdeel.

Maar Dawid is uit die stam van Juda; hoe kan hy dan
byvoorbeeld in Ps.16 so duidelik aanspraak maak op die erfenis
van Levi? Hoe kan hy hier in Ps.73 die Here sy deel noem? Het hy
vandag geleef, kon hy dit maklik doen, want in die Nuwe Testament
is alle gelowiges priesters. Petrus noem al die uitverkorenes
‘n heilige priesterdom - 1Petr.2:5,9. Dawid leef nog onder
die ou bedeling, maar hy sien reeds deur die geloof dat Levi se
erfdeel die ware erfdeel van Israel is. Daarom roep hy dit uit
dat hy geen ander besitting of erfdeel begeer in hemel of op
aarde nie – die Here is my deel tot in ewigheid!

Wat is die begeerte van jou hart? Watter erfdeel sal jy kies
hier op aarde? Is dit om ryk en magtig te wees op aarde en te
deel in die voorspoed van die goddelose, of verkies jy om geen
erfdeel hier te ontvang nie, sodat die Here self jou erfdeel kan
wees? "Deur die geloof het Moses, toe hy groot geword het,
geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy
verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van
God as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die
smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van
Egipte, want hy het uitgesien na die beloning" – Hebr.11:24-26.
Verkies u om liewer sleg behandel te word? Verkies u om verag te
word, eerder as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê?
Wat is die loon waarna u uitsien? Kan u saam met Dawid sê dat
die Here u hoogste begeerte is; meer nog, dat u buiten Hom niks
begeer nie?

Dit is ook wat die apostel Paulus bedoel as hy sê: "Geseënd
is die God en Vader van ons Here Jesus Christus wat ons geseën
het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus…"
(Ef.1:3). In Christus het ons al die geestelike skatte van die
hemel ontvang. Deur Hom is God ons Vader. En in Rom.8:32 hoor ons:
"Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir
ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles
genadiglik skenk nie?" Die Here gee Homself vir ons, hoe sal
Hy dan enige ander seëninge weerhou?

Is daar ‘n groter erfenis denkbaar? Kan ‘n mens
groter rykdom besit as om die Here as besitting te hê?

Die Here is my rots, op Hom vertrou ek; die Here is my deel
tot in ewigheid, hoe sal ons dan afgunstig wees op die goddelose
se erfenis? Ja, ek was dwaas, my voete het amper gegly, maar nou
weet ek dat God waarlik goed is vir Israel, vir die wat rein van
hart is.

Die wat van Hom afhoereer agter ander skatte aan, sal vergaan.
Die Here self sal hulle uitroei soos onkruid. Dawid se hart het
tot rus gekom. Hy skuil nou by die Allerhoogste. Daarmee bely hy
sy afhanklikheid. Hy is tevrede wanneer hy naby God kan wees, dit
is al wat hy begeer. Hy vertrou dat die Here hom ook verder sal
lei totdat die dag aanbreek dat Hy hom sal opneem in heerlikheid.

In die taal van die Nuwe Testament kan ons hierdie rykdom
saamvat deur te sê: Vir my is die lewe Christus en die sterwe
wins! Buiten die Here is daar niks wat my hart begeer nie. Vir
Israel, vir die wat rein van hart is, is daar geen goed bo God
nie. Hy is al ons rykdom.

Ten slotte

Die evangelie word in die Ou Testament verkondig met hierdie
woorde: Ek sal vir jou ‘n God wees. Dit is ‘n belofte,
maar sonder die geloof sou dit vir ons niks beteken nie. Want wat
beleef ons in hierdie lewe; is dit nie moeite en verdriet nie? En
dit terwyl die goddelose voorspoedig is! Waar is die bewys dat
godsvrug nie tevergeefs is nie? Daar is geen sigbare bewys nie.
Die gelowige hou vas aan onsigbare beloftes van seëninge, al
sien hy daar niks van nie, ja, selfs al lyk die teendeel waar.

Kain was, wat die sigbare betref, voorspoedig; nie Abel nie.
Abraham het nie die belofte in hierdie lewe ontvang nie, hy was
‘n vreemdeling en bywoner op aarde, hy het selfs nie ‘n
voetbreed van die beloofde land ontvang nie, sê Hand.7:5. So het
al die gelowiges deur al die eeue volgehou soos mense wat die
Onsienlike sien.

As die Here ons oë oopgemaak het sodat ons die rykdom in
Christus sien, dan kan ons nie meer gebind word of verhinder word
deur omstandighede in hierdie lewe nie. Dan het die goddelose se
voorspoed geen betowering meer vir ons nie. Ons is ryk al het ons
niks. Ons is geseënd al is ons ellendig. En ons ruil hierdie lot
vir niks op aarde nie. Laat ons mekaar dan bemoedig met hierdie
woorde, dat God waarlik goed is vir Israel, vir die wat rein van
hart is.

AMEN

 

Liturgie: 

(kyk in preek)