Volkome genade in Christus.

Minister: 
Ds RM Retief
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-10-19
Text: 
Efésiërs 1
Preek Inhoud: 

Efésiërs 1:3-6

Prop. R.M. Retief - Sondag 19 Oktober 2000

Lees: Efésiërs 1:1-23.
Sing: Ps.150:1-3; Ps.25:3-6; SB 24:1-3; Ps.33:1,6,11;
Ps.105:1,2,4,5.

Tema: Volkome genade in Christus.

  1. Wat die oorsaak is waarom God ons uitverkies het; en
  2. Wat die doel daarvan is dat God ons uitverkies het.

 

Inleiding

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Geseënd is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Die
‘83-vertaling vertaal dit met: "Aan God…kom al die
lof toe!"

Die apostel aanbid God en dank Hom vir sy genade. In ‘n
stortvloed van danksegging maak hy aan ons die grootheid van God
se verlossing bekend. Maar almal van ons het moeite om werklik
die heerlikheid daarvan te begryp. Daarom bid die apostel dat die
Vader ons oë sal verlig, sodat ons in staat sal wees om te
begryp hoe wyd en lank en diep en hoog die genade is wat die
Vader ons in Christus skenk, en dat ons sal groei in die kennis
daarvan.

God se vrymag in die betoning van sy onbeskryflike genade,
word hier aan ons bekendgemaak sodat ons Hom sal bewonder en
aanbid. Ons moet die grootheid van sy genade begryp, sodat ons
Hom daarvoor kan dank.

Kortliks sê die apostel dat die Vader louter uit genade
besluit het om Homself en al sy rykdom aan ons te skenk in en
deur Christus, en dat ons die Vader daarvoor moet dank. Ons
ontvang al die seëninge wat daar in die hemele is, omdat die
Vader besluit het om ons as sy kinders aan te neem. Ons leer in
hierdie verse wat die grond van ons uitverkiesing is, en ook wat
die doel daarvan is. Dit is dan ook die twee sake waarna ons nou
gaan kyk:

  1. Wat die oorsaak is waarom God ons uitverkies het; en
  2. Wat die doel daarvan is dat God ons uitverkies het.

Die oorsaak van ons uitverkiesing

Die uitverkiesing word hier aan ons voorgehou as die
vernaamste rede waarom ons God moet dank. Want al die seëninge
in die hemele wat ons geskenk word, is die vrug van sy verkiesing.
Dat die Vader ons uitverkies het om sy kinders te wees, is die
grootste genade denkbaar!

As ons nou soek na die oorsaak van hierdie uitverkiesing, is
dit hoegenaamd nie in onsself te vind nie. Met ander woorde: God
het ons nie uitverkies omdat Hy iets goeds in ons gevind het nie.
Die Vader het al die rykdom in die hemel aan ons bemaak, ons het
die erfgename geword van ‘n onbeskryflike heerlikheid, toe
die Vader louter uit genade besluit het om ons as sy kinders aan
te neem.

Hy het die besluit geneem toe die hemel en die aarde nog nie
daar was nie; toe het Hy ons reeds by die naam geken en ons
uitverkies. Hy het besluit om ons lief te hê en om al sy rykdom
aan ons te bemaak.

Hy het egter besluit om net party mense te red, en om die res
van die mensdom oor te gee aan die verderf waarin hulle hulself
gestort het. Hy het besluit om hulle te laat bly onder sy
regverdige oordeel.

Die vraag is nou: Het ons al die geestelike seëninge in die
hemele ontvang, omdat ons beter is as die wat verlore gaan? As
ons beter is as die wat verlore gaan, dan kan ons onsself
gelukwens. Dan het ons rede om trots te wees op onsself. En dan
is daar geen sprake meer van genade nie.

Die uitverkiesing kom egter as ‘n skok vir die natuurlike
mens. God sê aan ons dat Hy ons nie uitverkies het omdat Hy iets
goeds in ons gevind het nie. Toe Hy na ons gekyk het, het Hy niks
in ons gevind wat sy liefde kon opwek nie. Inteendeel! Hy het net
sonde en verderf gesien en kon nie anders as om ons te haat vir
wat ons is nie. Dit is die natuurlike status wat ons voor God het.
Elkeen van ons word gebore onder sy toorn en oordeel.

So stel die apostel dit in hoofst.2:3. Nadat hy hier in hoofst.1
God se genade aan ons uitgespel het, kontrasteer hy dit in hoofst.2
deur ons te herinner aan ons natuurlike staat: "…ons
was van nature kinders van die toorn". Dit wil sê: die
natuurlike staat waarin ons gebore is, is sondig en doemwaardig.

Die Vader kón ons nie uitverkies omdat Hy iets goeds in ons
gevind het nie. Al wat Hy in ons kon vind was vyandskap en totale
verdorwenheid. Glo u dit?

Dit is juis die rede waarom die apostel nou oorloop van
danksegging, omdat ons die teenoorgestelde ontvang van wat ons
verdien. Ons verdien die dood, maar ontvang al die geestelike seëninge
in die hemele. Ons verdien om deur God gehaat te word en om sy
ewige oordeel te ontvang, maar ons ontvang al sy liefde. Ons
verdien verwerping, maar word aangeneem as sy kinders en as
erfgename van sy ewige en onbeskryflike rykdom. Dit is genade!

Waarom loof die apostel die Vader? Nie omdat hy hierdie lewe
so aangenaam vind nie! Ook nie omdat hy iets in homself ontdek
het waarop hy trots kan wees nie, maar omdat die Vader ons
uitverkies het om sy kinders te wees. Dit is die rykdom waaroor
hy hom verbly.

Al ons lof en al ons dank moet nou na bo gerig word tot die
God en Vader van ons Here Jesus Christus, omdat al die seëninge
van Hóm kom, en omdat Hy dit aan ons skenk terwyl ons niks
anders as die dood verdien nie.

As alle mense in sonde gebore word en dieselfde oordeel
verdien, waarom het God dan juis óns uitverkies? Op grond
waarvan het Hy ons uitverkies? Wat het Hom laat besluit om ons
aan te neem as sy kinders? Daar is net een antwoord: God het uit
eie wil besluit om ons genadig te wees, sonder dat Hy iets goeds
in ons gevind het. Die besluit berus in die welbehae van sy eie
wil.

Ons mag dit al baie gehoor het, maar ons het nodig om nou na
te dink oor die betekenis daarvan. Hy sê hier dat ons uitverkies
is in Christus. Dit beteken dat ons alleen deur Christus
aangeneem word as kinders. Dit beteken dat God ons nie liefhet
nie, behalwe as ons deel is van Christus se liggaam. In onsself
is ons vir God verwerplik, maar in Christus het Hy ons lief
– nét in Christus.

Die apostel beklemtoon dit oor en oor. Ons lees dit hier in
elke vers. Vers 3 sê dat Hy ons al die seëninge geskenk het
"in Christus". Vers 4 sê dat die Vader ons
"in Hom", dit wil sê in Christus, uitverkies
het. Vers 5 sê dat die Vader vooruit besluit het om ons aan te
neem as sy kinders deur Jesus Christus. Vers 6 sê dat die
Vader ons genadig was "in die Geliefde". Hy kan
dus nie van die genade praat sonder om ons telkens daarop te wys
dat dit in en deur Christus na ons toe kom nie!

Buite Christus en sonder Christus is ons totaal verlore,
sonder hoop en sonder God. Daarom besef ons nie regtig hoe groot
God se genade aan ons is, voordat ons nie weet van ons verkiesing
in Christus nie. Ons is niks en ons het niks gedoen om te
kwalifiseer vir hierdie genade nie, anders sou dit nie meer
genade wees nie.

Ons is besig om die vraag te beantwoord waarom God juis óns
uitverkies het. Ons is besig om te sien dat die oorsaak van ons
uitverkiesing nie te vind is in iets wat óns is of doen nie.
Maar nou sal iemand dalk vra of dit dan nie ons geloof is wat ons
van ander mense onderskei nie. Sê die Skrif dan nie dat dit ons
geloof is wat ons red nie? Nee, dit is nie jou groot of goeie
geloof wat jou red nie. Dit is God wat jou red en jou die geloof
skenk. Jou geloof is een van die seëninge wat jou in Christus
geskenk is. Die Vader skenk jou die geloof deur sy Gees omdat Hy
reeds tevore besluit het om jou te red.

Dit is wel waar dat ons al die seëninge ontvang deur die
geloof. Maar ook die geloof self word ons uit genade geskenk,
omdat Hy ons uitverkies het.

Ons geloof is dus nie die oorsaak van God se genade nie; God
se genadige verkiesing is die oorsaak van ons geloof. Ek wil dit
weer sê: God is ons nie genadig ómdat ons glo nie. Ons glo
omdat God ons genadiglik die geloof geskenk het. Die geloof is
immers een van die geestelike seëninge wat hier genoem word, wat
ons geskenk is in Christus. Al die seëninge en gawes, ook ons
geloof, spruit uit sy genadige verkiesing.

Nou is daar diegene wat sê dat die Vader vooruit geweet het
wie in Christus sal glo, en dat Hy bloot besluit het om almal te
kies wat in Christus sal glo. Maar die Skrif leer ons tog
duidelik, bv.in hoofst.2, dat ons van nature geestelik dood is en
nie kán glo as God ons nie die geloof skenk nie. God kon dus
geen geloof in ons sien voordat Hy nie self besluit het om die
geloof in ons te plaas nie. Begryp u? Hy kon nie dié uitverkies
wat in Christus sal glo nie, want niemand sóú in Christus glo
nie. Eers nadat Hy besluit het om die geloof in ons te plaas, sou
ons die geloof ontvang.

En Hy het nie die geloof aan almal geskenk nie, anders sou
almal glo. "Uitverkies" beteken juis om sommige tussen
ander uit te kies. As álmal gekies is, is daar geen uitverkiessing
nie.

Kyk maar net na die samelewing om ons, en die uitverkiesing is
duidelik sigbaar. Miljoene mense gaan verlore sonder hoop en
sonder God. Daar is miljoene der miljoene mense verlore wat nooit
eens die voorreg gehad het om die evangelie een keer te hoor nie.
Dink maar aan die heidennasies in die tyd van die Ou Testament.
God het sy profete na Israel gestuur, nie na die ander volke nie.
Dink maar aan ‘n land soos China vandag, of dink aan Afrika
vyfhonderd jaar gelede toe hier in Suid-Afrika geen kerk of
sendeling onder die inboorlinge en swart volkere was nie. Niemand
van hulle kon gered word nie, omdat hulle nooit van Christus
gehoor het nie. Hoe kan iemand in Christus glo as hy nooit van
Hom gehoor het nie? Geloof is net moontlik waar God se
geopenbaarde Woord verkondig word (Rom.10:13-17), en dit word
duidelik nie aan almal verkondig nie! God besluit aan wie Hy die
evangelie wil stuur, en Hy stuur dit nie na almal nie.

Dit is dan alreeds ‘n genade om die evangelie te mag hoor,
‘n genade wat nie aan almal betoon word nie.

Maar verder is daar baie wat die evangelie hóór, maar nie
tot geloof kom nie. Baie is geroep, maar min uitverkies. Net die
uitverkorenes kán tot geloof kom, omdat God besluit het om die
geloof aan hulle te skenk – besluit het om hulle geestelike
oë en ore te skenk. So lees ons byvoorbeeld in Hand.13:48 dat
almal gelowig geword het wat verordineer was tot die ewige lewe.
Almal wat daartoe bestem was, het gelowig geword.

Kom ons neem nog ‘n voorbeeld. Twee broers word in
dieselfde huis groot, ontvang dieselfde opvoeding en onderrig.
Hulle is ‘n tweeling. Hulle name is Jakob en Esau. Voordat
hulle nog gebore is en van goed of kwaad geweet het, het God vir
Jakob liefgehad en vir Esau gehaat. Hy het nie vir Jakob gekies
omdat daar iets goeds in Jakob was nie. Jakob was net so sleg
soos Esau, niks beter nie. Inteendeel, wat status betref was hy
die jonger broer, wat karakter betref was hy ‘n onderkruiper
en bedrieër – dit is wat sy naam beteken en sy jong lewe
het dit gewys. Waarom kom Jakob tot geloof en Esau nie? Omdat God
besluit het om Jakob lief te hê; en vir Esau laat Hy oor aan sy
eie sonde en verderf.

Ons moet nie verbaas wees dat God Esau gehaat het nie; hy was
‘n sondaar en het die dood verdien. Waaroor ons eerder
verbaas moet wees, is dat ‘n heilige en regverdige God
‘n sondaar soos Jakob kon liefhê!

Ja, ons geloof is, net soos die ander seëninge in Christus,
‘n gawe van God. Dink byvoorbeeld aan ‘n sending
situasie. Tien mense hoor dieselfde evangelie, maar net een kom
tot geloof. Waarom glo die een en die ander nie? Is dit omdat hy
slimmer is as die ander, of meer begaafd? Is dit dalk omdat hy
beter is as die ander? Of glo hy miskien omdat hy minder sonde
het as die ander? Nee, die een wat glo, glo nie omdat hy slimmer,
of beter, of heiliger is as die ander wat nie glo nie. Die wat
gered word, is net so sleg soos die wat verlore gaan, want ons
word almal uit Adam gebore in sonde. Ons word almal geestelik
dood gebore in sonde; daar is geen onderskeid nie.

Wat meer is, dit is dikwels die slegstes en die swakstes en
die wat minder begaafd is en die onedelstes en die vuilstes wat
tot geloof kom. Die Vader het juis dié uitverkies wat veragtelik
is, die dwase, dié wat niks is nie! En waarom? Sodat geen mens
kan sê dat die verkiesing berus op iets goeds in die mens nie.

Ons is uitverkies voor die grondlegging van hierdie wêreld.
Dit wil sê ons was nie eers daar gewees nie, ons kon dus geen
prestasie lewer om onsself te kwalifiseer vir die uitverkiesing
nie. Ons het reeds daarop gelet dat ons uitverkies is in Christus,
dit wil sê nie in onsself of op grond van iets in ons nie. En
dan vind ons hier nog ‘n rede waarom die verkiesing louter
genade is, naamlik dat ons nie van nature God se kinders
is nie, maar aangenome kinders.

Van nature het ons die duiwel as vader en wandel ons volgens
sy wil (Jh.8:44; Ef.2:1-3). Van nature is ons kinders van die
toorn, dit wil sê gebore in sonde en onder die oordeel van God.
Dit is ons natuurlike staat. Van nature het ons dus nie die reg
om onsself kinders van God te noem nie, en is ons dit nie. Adam
word wel die seun van God genoem (Luk.3:38), maar na die sondeval
as aangenome seun. Na die sondeval is ons natuur totaal verdorwe
en het ons geen kindskap of geboortereg of edele herkoms nie.

Jesus Christus is die eniggebore Seun van God. Net Hy kan
aanspraak maak op natuurlike kindskap. Hy is ook die Geliefde,
soos Hy hier in vers 6 genoem word. Hy is die enigste Een van wie
die Vader kon sê: "Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n
welbehae het"(Mt.3:17). Maar van ons het die Here verklaar:
"Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg…want
dit berou My dat Ek hulle gemaak het"- Gen.6:7.

Eers wanneer ons as lede van Christus se liggaam met Hom
verenig is, word die God en Vader van ons Here Jesus Christus ook
ons God en Vader.

Om dit alles nou kort saam te vat, kan ons sê dat die Vader
ons al sy seëninge skenk omdat Hy ons uitverkies het, en dat Hy
ons uitverkies het ten spyte van onsself. Die oorsaak van ons
verkiesing lê in die welbehae van God se eie wil. Ons word dus
geleer om nie die rede vir ons verlossing in onsself te soek nie,
maar om volledig te vertrou op God se genade in Christus.

As iemand nog daarop wil roem dat hy self die vermoë en die
vrye wil het om vir God te kies, doen hy dit omdat hy geen
werklike besef het van sy verlore toestand nie.

Die doel waarom ons uitverkies is

Eers lees ons in vers 4 dat ons uitverkies is om heilig en
sonder gebrek te wees. Ons is dus uitverkies om heilig te
wees. Daaragter sit egter ‘n doel wat nog verder strek, wat
in vers 6 genoem word, dat ons uitverkies is "tot lof van
die heerlikheid van sy genade".

Hierdie twee redes gaan saam. Wanneer ons geheilig word en
heilig leef, dan word God se Naam daardeur verheerlik omdat dit
Hy is wat die goeie in ons werk.

Dit sou dus dwaas wees om te sê: "O, ons is uitverkies,
daarom kan ons nou maar sondig, want ons verlossing hang tog nie
af van iets wat ons doen nie!" So ‘n gesindheid sal die
bewys wees dat jy nog nie tot geloof gekom het nie, en dat jy
geen reg het om jou op die uitverkiesing te beroem nie.

Die vrug van die uitverkiesing word juis sigbaar deur ‘n
heilige lewenswandel.

Natuurlik is ons nie in onsself heilig en sonder gebrek die
oomblik wat ons tot geloof kom nie. Selfs tot aan die einde van
ons aardse lewe, bly ons onvolmaak en sondig. Ons het nog nie
geariveer nie. Ons is nog pelgrims op pad na die nuwe Jerusalem.
Daar is nog steeds baie in elkeen van ons wat tot ons eie skande
strek. Solank ons in hierdie tentwoning is, sug ons en verlang
ons om verlos te word van ons sonde.

As ons dan steeds ‘n stryd het teen ons eie sonde, moet
ons nie moedeloos word asof ons nie God se kinders is nie. Wie in
Christus glo, kan verseker weet dat Hy uitverkies is. Want
niemand kan in Christus glo voordat hy nie uit God gebore is nie.
Wie die geloof het, kan verseker wees van sy kindskap in en deur
Christus. Ons verlossing is vas en verseker en verseël omdat God
ons van ewigheid af bestem het om heilig en sonder gebrek te wees.

Hy voeg die woorde by: "in liefde". Ja, want, hoe
lyk die vrug van die uitverkiesing? ‘n Heilige en
godvresende lewenswandel in liefde. Ons het lief, omdat Hy ons
eerste liefgehad het. Sy liefde dra vrug in ons lewe en is die
vervulling van die wet. Dit is die doel van die uitverkiesing. En
uiteindelik dat God se Naam deur ons verheerlik en geseën en
geloof sal word vir die onuitspreeklike genade dat Hy ons
aangeneem het as sy kinders.

Om sy seëninge beter raak te sien, word ons geleer om op te
kyk, om die dinge te bedink wat daarbo is. Want die ewige rykdom
wat Hy ons beloof, word hier geestelike seëninge genoem –
geestelik, omdat dit nie te vind is in die dinge van hierdie wêreld
nie. Ons word geleer om ons gedagtes te vestig op ‘n
geestelike rykdom. Dit is wel onsigbaar vir die ongelowiges, maar
‘n absolute werklikheid vir die wat glo. Solank ons oë
gevestig bly op al die geestelike seëninge in Christus, sal ons
daardeur aangevuur word om God te dank met alles wat ons is, met
alles wat ons het, en deur alles wat ons doen. Dit is die doel
waartoe die Vader ons uitverkies het.

Ten slotte

Die uitverkiesing is ‘n geheimenis, ons verstaan nie
alles nie, maar dit is genoegsaam geopenbaar om ons die grootheid
van God se genade te toon en ons geloof deur die kennis daarvan
te versterk. Omdat dit ‘n ewige verkiesing is van voor die
grondlegging van die wêreld, is dit vas en verseker, en het ons
daardeur volle geloofsversekerdheid, omdat ons verlossing ‘n
werk is wat God in ons begin het.

God het ons uitverkies na die welbehae van sy wil, met ander
woorde: uit sy eie goedheid volgens sy eie wil en voorneme sonder
dat Hy onder enige verpligting teenoor ons gestaan het. Ons
verdien die dood en het geen reg op die lewe nie, sodat sy genade
volkome genade is.

Die uitverkiesing neem alle roem en eer van ons weg omdat ons
in onsself niks van God se goedheid verdien het nie, en dit dring
ons daartoe om net God te dank vir sy verlossing – vir al
die geestelike seëninge in die hemele wat Hy in en deur Christus
aan ons geskenk het.

As Hy dan die reg het om te kies en te verwerp wie Hy wil, dan
besef ons ons eie doemwaardigheid, ons eie onwaardigheid en
nietigheid, en besef ons iets van die omvang van sy vrymag, en
kom ons daartoe om die grootheid van sy genade aan ons te
bewonder.

Laat ons dan nou onsself verneder voor God en leer om ons eie
lewe te haat, sodat ons Hóm sal aanhang en dien. Hy verdien al
ons liefde en dank vir die ewige onverganklike rykdom van sy
liefde en genade wat vas en verseker ons erfenis geword het deur
Christus. Laat ons ons oë gevestig hou op hierdie geestelike
rykdom, sodat ons nie moedeloos word en dalk begin om te kla oor
ons lot nie.

Ons verlossing is volkome uit God, alles kom van Hom en
behoort aan Hom. Daarom sal dit ons pas om ons hele lewe aan Hom
te wy as ‘n offer van danksegging.

AMEN

 

Liturgie: 

(kyk in preek)