Christus se hoëpriesterlike gebed vir sy gelowiges.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2001-05-06
Text: 
Johannes 17
Preek Inhoud: 

Johannes 17:20,21

Ds C Kleyn - Springs: Sondag 29
April 2001
Pretoria: Sondag 6 Mei 2001

Lees: Johannes 17.
Sing:
[Springs (uit "Die Berymde Psalms en die
Evangeliese Gesange Boek" van die NG-Kerk):]
Ps 100:1,2; Ps 119:1,2; Ps 100:3,4; Gesang 333;
Gesang 303.
[Pretoria:]
Ps 92:1,2; Ps 119:1,4; Ps 119:22,29; Ps 89:6,7; Ps
134:4; SB 43:4,5.

Tema: Christus se hoëpriesterlike gebed vir
sy gelowiges.

  1. Die inhoud van die gebed;
  2. Die gevolg van die gebed;
  3. Die grondslag/basis van die gebed;
  4. Die doel van die gebed; en
  5. Die vervulling van die gebed.

 

[Springs:]

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Eergister het ons as kerke die hand van
broederskap aan mekaar gegee. ’n Heuglike feit. Ons mog
mekaar ontdek, herken en erken as medegelowiges, medestryders in
die Here Jesus. Ons wil en mag die pad vorentoe saam stap. Ons
mag vorm gee aan die eenheid van die geloof. ’n Groot
voorreg.

Maar nou die vraag: Wat het ons eergister
presies gedoen mbt die eenheid van die geloof? Het ons die
eenheid tot stand gebring, geskep?

In ons teks bid Christus oor die eenheid van
die gelowiges. Die woorde uit Christus se gebed: "dat almal
een mag wees" is geliefde woorde. Dit sou die ideaal wees,
waaraan ons almal moet werk. Ons moet almal een wees. Dit het
kerke daartoe gebring om mekaar die broederhand te gee. Dit was
selfs die slagspreuk vir die oprigting van die wêreldraad van
kerke.

’n Belangrike vraag wat ons onsself moet
vra is: Is dit ons taak om die eenheid waaroor Christus gebid het
tot stand te bring? Of mag ons die eenheid ervaar en beoefen as
’n gawe van God? Wanneer ’n mens al die gepraat oor ons
roeping om een te wees hoor, dan sou ’n mens amper vergeet
dat Christus se woorde ‘dat almal een mag wees’ nie
’n gebod is nie, maar deel van ’n gebed. Christus is
hier besig om vir sy kerk te bid. Hy is nie besig om bevele te
gee nie. Ander gedeeltes uit die Bybel maak duidelik wat ons
roeping betreffende die eenheid van gelowiges is. Hier is
Christus egter besig om te bid. En ons moet die woorde laat staan
soos dit daar staan, as ’n gebed.

Waarom is dit so belangrik? Wel, indien u dit
as ’n bevel lees, dan sou die eenheid van u aksie afhanklik
wees. Dan sou u nooit van die eenheid seker kan wees nie. Dan sou
u ook maklik kon dink dat die eenheid nie ’n werklikheid is
nie. Kyk maar na al die kerklike denominasies.

As u egter die woorde as ’n gebed
respekteer, dan word u getroos en bemoedig. Christus het dit op
Hom geneem om vir die eenheid te bid as ons Hoëpriester. En sou
die Vader die gebed van sy Seun nie verhoor nie? Die hemelse
Vader bring die eenheid waaroor sy Seun gebid het tot stand.
Danksy Christus is die eenheid van die gelowiges nie van ons
menslike aktiwiteite afhanklik nie. Dis ’n gawe van God in
antwoord op Christus se gebed.

[Pretoria:]

Geliefde gemeente van ons Here Jesus
Christus,

Aankomende Sondag hoop ons weer die Heilige
Nagmaal te vier. Juis aan die Nagmaal word die aard van die kerk
sigbaar: sy is ’n vergadering van gelowiges. Juis aan die
tafel word die eenheid van die geloof tot uiting gebring.

In hierdie diens hoop Anja Kamphuis haar
geloof te bely. Sy voeg haar by die kerkkoor om die lied van
verlossing saam met ons te sing oa. aan die Heilige Nagmaal. Sy
wil wys dat sy saam met ons een in die geloof is. Sy wil aan die
eenheid van die geloof ook uitdrukking gee.

In hierdie diens hoop ons br Harm Snyder te
bevestig in die amp van ouderling. Christus wil ons deur sy Gees
en Woord in die eenheid van die ware geloof bly vergader, beskerm
en onderhou. Daarby skakel Hy mense in, ampsdraers as sy
onderherders. Om ons namens Hom te vergader, beskerm en onderhou
in die eenheid van die geloof.

Iets meer as ’n week gelede mog ons as
kerke die hand van broederskap gee aan die gemeente te Springs.
Ons mog mekaar ontdek, herken en erken as medegelowiges,
medestryders in die Here Jesus. Ons wil nou vorm gee aan die
eenheid van die geloof.

U sien: al die genoemde heuglike sake het
iets gemeenskaplik. Dis dat hulle almal betrokke is op die
eenheid van die geloof.

Maar nou die vraag: waar kom die eenheid
vandaan? Is dit iets wat ons tot stand moet bring? Of mag ons die
eenheid ervaar en beoefen as ’n gawe van God?

In ons teks bid Christus oor die eenheid.
Christus bid vir die wat deur die woord van die apostels in Hom
sal glo – dat almal een mag wees.

Wanneer ’n mens al die gepraat oor ons
roeping om een te wees hoor, dan sou ’n mens amper vergeet
dat Christus se woorde ‘dat almal een mag wees’ nie
’n gebod is nie, maar deel van ’n gebed. Christus is
hier besig om vir sy kerk te bid. Hy is nie besig om bevele te
gee nie. Ander gedeeltes uit die Bybel maak duidelik wat ons
roeping betreffende die eenheid van gelowiges is. Hier is
Christus egter besig om te bid. En ons moet die woorde laat staan
soos dit daar staan, as ’n gebed.

Waarom is dit so belangrik? Wel, indien u
dit as ’n bevel lees, dan sou die eenheid van u aksie
afhanklik wees. Dan sou u nooit van die eenheid seker kan wees
nie. Dan sou u ook maklik kon dink dat die eenheid nie ’n
werklikheid is nie. Kyk maar na al die kerklike denominasies.

As u egter die woorde as ’n gebed
respekteer, dan word u getroos en bemoedig. Christus het dit op
Hom geneem om vir die eenheid te bid as ons Hoëpriester. En sou
die Vader die gebed van sy Seun nie verhoor nie? Die hemelse
Vader bring die eenheid waaroor sy Seun gebid het tot stand.
Danksy Christus is die eenheid van die gelowiges nie van ons
menslike aktiwiteite afhanklik nie. Dis ’n gawe van God in
antwoord op Christus se gebed.

Laat ons nou nader let op Christus se gebed. Ek
verkondig vir U:

Christus se hoëpriesterlike gebed vir sy
gelowiges

  1. Die inhoud van die gebed
  2. Die gevolg van die gebed
  3. Die grondslag/basis van die gebed
  4. Die doel van die gebed
  5. Die vervulling van die gebed.

Wat is eintlik die inhoud van Christus se gebed?
U sê miskien, dis tog duidelik, hy bid tog vir die eenheid van
die gelowiges. Hy bid tog dat almal een mag wees.

Tog is dit die vraag of dit in hierdie verband
werklik die inhoud van die gebed is. Kyk maar na die opbou van
Jesus se gebed. In vers 20 sê Jesus: "Maar ek bid nie vir
hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal
glo." Hierdie woorde verbind die gebed vir die gelowiges met
die gebed vir die dissipels wat eerder genoem word. Ja, hierdie
woorde gee die indruk dat Christus dieselfde dinge vra vir albei
partye.

Wel, wat het Christus vir sy dissipels gebid?
In vers 11 bid Christus: "Heilige Vader, bewaar in u Naam
die wat U My gegee het sodat hulle een kan wees net soos Ons."
Let op die ooreenkoms van die laaste woorde "sodat hulle een
kan wees" met die woorde van ons teks. Dat hulle een kan
wees is nie die inhoud van die gebed nie, maar die gevolg daarvan.
Ons kan in ons teks die woordjie ‘dat’ ook beter met
‘sodat’ vertaal, soos dit in vers 11 gebeur. Christus
bid in vers 11 vir sy dissipels: Vader, bewaar hulle in u Naam,
sodat hulle een kan wees.

Christus wei daaroor uit in die verse wat volg.
Hy sê: Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in
u Naam bewaar. Ek het oor hulle gewaak en nie een van hulle het
verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf.

Christus het sy Vader se naam aan sy dissipels
bekendgemaak. Hy het hulle geleer wie die Vader is, dat Hy die
lewende God is, altyd aktief vir die verlossing van sy volk.
Christus het aan hulle die woorde van die Vader gegee (vers 8).
Hulle het die woorde geglo en bewaar.

Maar nou gaan Christus hulle agterlaat in
’n goddelose wêreld. In ’n wêreld vol van teenstand
en verleiding. Daarom bid Christus: Vader, bewaar hulle in u Naam.
Bewaar hulle in gemeenskap met Uself. Bewaar hulle in die geloof.
"Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar
dat U hulle van die Bose bewaar."(vers 15). En "Heilig
hulle in u waarheid; u woord is die waarheid."(vers 17)

Wel, gemeente, as u vers 20 in daardie verband
lees, dan mag u aanneem dat die inhoud van Christus se gebed
dieselfde is as by sy gebed vir die dissipels. Christus bid ook
vir hulle wat deur die woord van die apostels in Hom sal glo. Hy
bid dus ook vir u en my, wat glo. Hy bid vir ons bewaring. Dat
die Vader ons sal bewaar van die Bose en dat Hy ons in sy Naam,
in sy waarheid sal bewaar.

Wanneer die teks dan vervolg: dat almal een mag
wees, dan moet ons dit lees soos ons dit in vers 11 gelees het.
Dit dui die gevolg aan van God se werk van bewaring. As die Vader
ons bewaar, dan het dit tot gevolg dat ons een is, een bly.

So kom ons by die tweede gedagte: die gevolg
van Christus se gebed.

Ook al bid Christus streng gesproke nie direk
vir die eenheid van die gelowiges nie, stel Hy wel baie belang in
die eenheid. Wanneer Hy sy Vader vra om ons in die waarheid te
bewaar dan het Hy die eenheid in die oog. Hy is besig om vir die
eenheid te stry. Christus verlang na sy een bruid, waarvoor Hy sy
lewe wil gee. Hy het sy een volk in die oog, sy een liggaam.
Daarom: dat almal een mag wees. Dis van groot belang vir Hom.
Daarom wil Hy hê dat sy Vader hulle, ons, bewaar sodat die kerk
voor Hom gestel kan word as die een reine bruid.

Gemeente, wanneer ons ons Bruidegom hoor pleit
vir ons eenheid in Hom, dan ontdek ons opnuut wat die eenheid
eintlik is. Ons kan so maklik die eenheid sien as iets wat ons
self moet bewerk. Maar die wonderlike saak van Jesus se gebed in
Joh 17 is, dat die eenheid van die kerk heeltemal bepaal word
deur wat Christus gedoen het en deur wat die Vader nog sal doen.
Christus het sy naam aan sy dissipels bekendgemaak. Hulle het sy
woord geglo. Daarin het hulle reeds die ewige lewe, lees ons in
vers 3. Die enigste wat hulle nog nodig het, is dat die Vader
hulle bly bewaar. Hulle hoef nie ’n aparte eenheid te bewerk
nie, buite wat Christus hulle gegee het nie. Nee, hulle het slegs
nodig dat die Vader hulle heilig in die waarheid, bewaar in sy
naam. Sodat hulle dmv die onderlinge bewaring een mag bly. Die
eenheid van die gelowiges is daarom iets wat God self volkome
behartig. Dis so volkome dat daar niks aan ons oorgelaat word nie,
behalwe om dit uit te oefen, om uit te leef wat ons van God
ontvang het. En selfs ons beoefening van die eenheid is ’n
gawe van God. Iets wat God self in Christus gee.

Christus doen verslag aan sy Vader in Joh 17.
Hy het sy Vader se woorde aan die dissipels bekend gemaak. Dis
iets wat ’n mens kon hoor. En die dissipels het die woorde
geglo. Elkeen kan hul getuienis hoor. Daarom haat die wêreld
hulle. Dis ook iets wat sigbaar en hoorbaar is. Daarom is die
eenheid van geloof reeds ’n sigbare werklikheid, wat deur
Christus tot stand gebring is en deur God onderhou word.

[Springs:]

Daarom, broers en susters, wanneer u God se
naam in waarheid bely, wanneer u u afskei van hulle wat nie by
die kerk behoort nie, dan is dit God se antwoord op Christus se
gebed. Ook wanneer u u verenig met ander troue kerke. Dan is u
nie besig om ’n sogenaamde onsigbare eenheid van geloof
sigbaar te maak nie. Nee, Christus het die eenheid reeds sigbaar
gemaak. U is slegs besig om sy werk te erken. Dit is wat ons
eergister gedoen het op die Sinode. Daarom hoef u as kerk nooit
op grond van Christus se gebed te voel dat die taak om die
eenheid van die geloof tot stand te bring u taak is nie. Dit sou
’n onmoontlike taak wees. Nee, die enigste wat u hoef te
doen is om die Vader se naam trou te bely en sy woorde te bewaar.
Dan herken u in verwondering en dankbaarheid God se werk van
bewaring in antwoord op Christus se gebed. Hy het die wat aan Hom
behoort in die waarheid bewaar.

[Pretoria:]

Daarom, Anja, wanneer jy God se naam in
waarheid bely, dan is dit God se antwoord op Christus se gebed.
Wanneer ons aan die Heilige Nagmaal uiting gee aan die eenheid
van die geloof, dan is dit God se antwoord op Christus se gebed.
Ook wanneer ons ons verenig met ander troue kerke. Dan is ons nie
besig om ’n sogenaamde onsigbare eenheid van geloof sigbaar
te maak nie. Nee, Christus het die eenheid reeds sigbaar gemaak.
U is slegs besig om sy werk te erken. Dit is wat ons ’n week
gelede gedoen het op die Sinode. Dis wat ons volgende Sondag aan
die Nagmaal hoop te doen. Dis wat ons Daarom hoef ons as kerk
nooit op grond van Christus se gebed te voel dat die taak om die
eenheid van die geloof tot stand te bring ons taak is nie. Dit
sou ’n onmoontlike taak wees. Nee, die enigste wat ons hoef
te doen is om die Vader se naam trou te bely en sy woorde te
bewaar. Dan herken ons in verwondering en dankbaarheid God se
werk van bewaring in antwoord op Christus se gebed. Hy het die
wat aan Hom behoort in die waarheid bewaar.

So het die oppervlakkige geroep om eenheid wat
ons dikwels hoor niks te make met Joh 17 nie. ’n Massiewe
organisatoriese eenheid soos die Wêreldraad van kerke is
heeltemal anders as waarvoor Christus gebid het. Hulle wil vir
God ’n handjie bysit ten koste van die waarheid. Nee, wat
Christus op die oog het is nie ’n massiewe organisatoriese
eenheid nie, maar ’n eenheid in die ware geloof, ’n
eenheid in die waarheid. Daarom bid Hy vir die bewaring in die
waarheid en noem Hy almal wat deur die apostoliese woord in Hom
sal glo. Hy soek die eenheid wat gebaseer is op die onderlinge
aanvaarding van die apostoliese woord. Dan is dit pragtig om te
werk aan kerklike eenheid op grond van die waarheid. Maar onthou
dan wel waarmee u besig is. U is slegs besig om uitdrukking te
gee aan die eenheid wat God reeds in antwoord op Christus se
gebed tot stand gebring het. U is in werklikheid besig om God vir
sy werk van bewaring te eer.

Nou die derde punt: die basis van Christus se
gebed.

Christus bid: dat almal een mag wees net soos U,
Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees.
Indien u dit vergelyk met vers 22, ‘sodat hulle een kan wees,
net soos Ons een is’, dan sou u kan dink dat Christus besig
is om die eenheid van die gelowiges met die eenheid tussen Hom en
die Vader te vergelyk. In ’n sekere mate sal die eenheid van
die gelowiges die eenheid tussen die Vader en die Seun weerspieël.
In beide gevalle is die eenheid ’n geestelike eenheid, ons
is een van hart, gedagte en wil. In daardie sin is die Vader en
die Seun volmaak een. En Christus bid dat ons as gelowiges een
mag wees op ’n vergelykbare manier.

Maar, gemeente, hierdie woorde is meer as slegs
’n vergelyking. Hulle wys ook op die basis van Christus se
bede. Vergelyk dit maar met die 5e bede: "vergeef ons ons
skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe." Wat word
bedoel met die laaste woorde: "soos ons ook ons skuldenaars
vergewe"? Sê ons hier vir die Vader: Vader vergeef ons op
’n vergelykbare manier as ons ons naaste vergewe? Nee,
gelukkig nie, want dan sou dit maar sleg vir ons uitsien. Die
manier waarop ons ander vergewe is nie so voorbeeldig nie. Die
woorde: "soos ons ook ons skuldenare vergewe" wys ook
op die grond waarop ons by die Vader pleit. Ons wil daarmee pleit
op die genade wat God reeds daarin aan ons bewys het dat Hy ons
geleer het om ander te vergewe. So verklaar die Heidelbergse
Kategismus dit ook in Sondag 50: "Ons bid dit van u omdat
ons hierdie bewys van u genade in ons vind: dat ons die ernstige
voorneme het om ons naaste van harte te vergewe.

Wel, in ons teks funksioneer die woorde: "net
soos U, Vader, in My en Ek in U" op ongeveer dieselfde
manier. Christus pleit hier op die bestaande eenheid tussen Hom
en die Vader. Daarby dink Christus veral aan sy verhouding met
die Vader as ons Middelaar. Christus verwys voortdurend na die
werk wat Hy in Vader se naam, in gehoorsaamheid aan die Vader,
gedoen het. Hy het die werk gedoen wat die Vader vir Hom opgedra
het. Hy het die Vader se Naam bekendgemaak aan die wat aan Hom
behoort. Hy het hulle in sy Naam bewaar. Wel, Christus pleit op
sy volkome gehoorsaamheid as Middelaar en hoof van sy kerk. Hy sê:
dat die gelowiges almal een mag wees net soos U in My en Ek in U.
Ons verhouding is volmaak. Ek het u wil vir die verlossing van
almal wat glo gedoen. Wel, laat hulle almal in ons een wees.
Verhoor my gebed op grond van dit wat Ek volbring het en nog sal
volbring binne Ons verhouding: U in My en Ek in U.

En gemeente, wanneer u dit hoor, dan mag u
seker weet dat die Vader die bede van sy Seun sal verhoor.
Christus het sy lewe vir sy bruid neergelê. Sal God die Vader
dan weier om Hom die bruid te gee? Die eenheid van die Vader en
die Seun waarborg die eenheid van die kerk.

Christus vervolg: "sodat die wêreld kan
glo dat U My gestuur het." Dit bring ons by die 4e gedagte:
die doel van Christus se gebed.

Daar is mense wat glo dat hierdie woorde spreek
van die bekering van die wêreld. Die gelowiges moet almal een
wees sodat die wêreld daardeur beïndruk word, en so tot geloof
kom. Daarom word daar ook baie nadruk gelê op ’n groot
organisatoriese eenheid. So ’n groot sigbare eenheid sou
groot krag en invloed hê.

Maar, broeders en susters, is dit wat Christus
bedoel? Calvyn het reeds die genoemde verklaring afgewys. Waarom?
Omdat in hierdie hoofstuk die begrip "wêreld" steeds
gebruik word vir die goddelose, die goddelose wêreld. Bowendien,
almal wat glo word reeds genoem in vers 20: "die wat deur
hulle (d.i. die apostels se) woord in My sal glo". Die
gelowiges word duidelik van die wêreld onderskei. Dit sou vreemd
wees om te spreek van die bekering van die wêreld deur die sien
van die eenheid van die gelowiges. Nee, die bekering kom slegs
deur die apostoliese getuienis. Dit is logieser om die begrip
‘wêreld’ in ons teks te verstaan as die groot
meerderheid wat weier om die Christus te aanvaar. Christus gaan
nie die ongelowige wêreld los nie. Hulle wil hulle nie aan die
woord van die apostels onderwerp nie. Wel, ten spyte van
hulleself, sal hulle die waarheid van die apostoliese woord
ontdek. So word die woord ‘glo’ in vers 21 in ’n
figuurlike sin bedoel as ontdek, bemerk, weet. Vergelyk dit maar
met vers 23 waar daar staan: "En dat die wêreld kan weet
dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het soos U My liefgehad
het." Christus wil dat die gelowiges een is, sodat die wêreld
kan bemerk dat Hy waarlik van die Vader kom, uit die hemel.

Wanneer sal die wêreld dit bemerk? Sal dit
wees wanneer alle gelowiges een word in ’n superdenominasie?
Wanneer alle kerkmure omver gewerp sal word en alle kerke
saamgaan in een groot organisasie? Nee, verseker nie. Want wat
die wêreld dan kry om te sien is iets wat in sy smaak val, iets
van die wêreld. Nee, dis wanneer die wêreld nie weet wat om met
die kerk te maak nie, wanneer dit die kerk tot swye wil bring,
maar dit nie kan doen nie, dan, juis dan sal die wêreld ontdek
dat dit met die lewende Christus te make het. Soos dit die geval
was met die Jode na die Pinksterdag. Wanneer die wêreld die kerk
sien wat deur alle versoekinge en beproewinge heen volhard, dan
moet die wêreld wel tot die gevolgtrekking kom: Christus leef,
Hy was uit die hemel. Hoe anders sou die kerk kon volhard. Dis
anders onverklaarbaar. Die oë van die wêreld sal daarvoor
oopgaan dat daar in die kerk kragte aan die werk is wat nie
vernietig en onderwerp kan word nie. Die feit dat die kerk deur
die eeue heen een in die geloof bly, dat sy deur soveel krisisse
heen volhard, kyk, dit moet van bo wees, van die Vader.

Nou die laaste gedagte: die vervulling van
Christus se gebed

Die Vader vervul die bede van sy Seun. Die
vervulling is duidelik vir almal wat die moeite wil doen om te
kyk. Lees maar die eerste hoofstukke van die boek Handelinge. Toe
die kerk opgestaan het teen die valse kerk, die wêreld in Israel,
het die wêreld gesê: daar is niks wat ons daarteen kan sê nie
(Hand 4:14). Hulle probeer om die apostels die swye op te lê,
maar wat antwoord apostels? "Ons moet God meer gehoorsaam
wees as julle." Die Joodse raad wil hulle dan doodmaak, maar
die raad van Gamaliël wys hulle daarop dat hulle met God te doen
het. So gaan dit aan in die geskiedenis. Die Vader verhoor die
gebed van sy Seun. Hy bewaar – dikwels op wonderlike maniere
– sy kerk. Die bloed van die martelare het die saad van die
kerk geword. Die Vader bewaar die wat aan Hom behoort. In die tyd
van die groot Reformasie was die wêreld van die Roomse kerk
raadop in sy stryd teen God se troue kerk. By elke ware
reformasie het dit sigbaar geword dat kragte van bo werksaam was.

[Springs:]

Wel gemeente, u het Christus se hoëpriesterlike
gebed agter u. U het sy bloed onder u en ’n skare van
getuies rondom u. Loop dan met volharding die wedloop wat voor u
is. Vestig u oog op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die
geloof. Behou die geloof. Wees nie skaam oor u geskiedenis met sy
skeuringe en reformasies nie. En moenie dink dat u met u klein
gemeente die wêreld nie kan beïndruk nie en dat hulle daarom
nie die lewende Christus sal herken nie. Want juis die oorgeblewe
kerke wat waarlik trou aan God is, onder moeilike omstandighede,
verras die wêreld meer as die massiewe Wêreldraad van Kerke.
Hoe gebeur dit dat die klein oorgeblewe kerke nog aan die woord
van God bly vashou en sy gebooie bly onderhou? Ten spyte van die
groot offers wat hulle moet bring en die groot teenstand? Hemelse
kragte word sigbaar vir elkeen om te sien. Daarom, geliefdes,
dank God vir sy werk van bewaring, in antwoord op Christus se
gebed. Kyk, hoe Hy nog steeds vir Homself ’n volk vergader
in die eenheid van die ware geloof. Geniet van die eenheid en
beoefen dit met blydskap tot eer van God.

[Pretoria:]

Wel gemeente, julle het Christus se hoëpriesterlike
gebed agter julle. Julle het sy bloed onder julle en ’n
skare van getuies rondom julle. Loop dan met volharding die
wedloop wat voor jou is. Vestig jou oog op Jesus, die Leidsman en
Voleinder van die geloof. Behodie geloof. Wees nie skaam oor
julle geskiedenis met sy skeuringe en reformasies nie. En moenie
dink dat julle met jul klein gemeente kerkverband die wêreld nie
kan beïndruk nie en dat hulle daarom nie die lewende Christus
sal herken nie. Want juis die oorgeblewe kerke wat waarlik troaan
God is, onder moeilike omstandighede, verras die wêreld meer as
die massiewe Wêreldraad van Kerke. Hoe gebeur dit dat die klein
oorgeblewe kerke nog aan die woord van God bly vashoen sy gebooie
bly onderhou? Ten spyte van die groot offers wat hulle moet bring
en die groot teenstand? Hemelse kragte word sigbaar vir elkeen om
te sien. Daarom, geliefdes, dank God vir sy werk van bewaring, in
antwoord op Christus se gebed. Kyk, hoe Hy nog steeds vir Homself
’n volk vergader in die eenheid van die ware geloof. Luister
na die belydenis van die geloof van een jong lidmaat. Geniet van
die eenheid en beoefen dit met blydskap tot eer van God, vandag,
volgende week aan die Nagmaal, elke dag van lewe en stryd.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)