Die spanning van die Prediker omtrent die vervulling van die messiaanse beloftes

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-12-31
Text: 
Prediker 1
Preek Inhoud: 

Prediker 1:2,3; 3:14
Ds C Kleyn - Sondag 31 December
2000

Lees: Prediker 1:1-11; 3:1-15
Sing: Ps. 73:1,2; Ps. 111:1,2;
SB. 27; Ps. 73:10-12

Tema: Die spanning van die Prediker omtrent
die vervulling van die messiaanse beloftes.

  1. Alles lyk tevergeefs te wees; en
  2. Alles word deur God bestuur.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs. Dit
is bekende woorde uit die boek Prediker. Woorde wat mense
aanspreek. Een van die kenmerke doel van ons tyd is immers dat
mense moeite het met die van hulle bestaan. Is dit nog wel sinvol
hier in Suid Afrika? Mense wys voortdurend op die vrugteloosheid
en uitsigloosheid van die lewe. Watter uitsig is daar behalwe die
uiteindelike dood, wat vroeër of later sal toeslaan? Is ons
bestaan nie ’n tragiese werklikheid wat uitloop op ’n
mislukking? Die beste wat die mens in hierdie lewe kan doen is om
dit as ’n held te aanvaar. Om van die lewe te maak wat jy
nog daarvan kan maak.

Hier het u te doen met die geestelike krisis
van ons tyd. Deur die verlating van die ou bekende christelike
norme en waardes het daar vir baie ’n geestelike leegte
ontstaan. Die wêreld bied niks waarop die mens kan terugval nie.
Daar tree ’n gevoel van eindelose leegte op, waarin elke
moontlikheid tot oriëntasie ontbreek. Alle objektiewe sekerheid
en vastheid het verdwyn. Die mens word terugverwys na homself,
met as gevolg ’n gevoel van onsekerheid, angs of selfs
wanhoop. Die werklikheid word as ’n voortdurende bedreiging
ervaar.

Gemeente met die ontkenning van God as die
hoogste gesag word die mens ’n daklose swerwer. Hy kom op
homself te staan in die diepste eensaamheid. Hy is gedoem om ewig
in die sirkel van sy vereensaamde bestaan opgesluit te sit,
sonder ’n positiewe antwoord te kan gee op die vraag na die
sin van die lewe. Alles lyk uitsigloos en sinloos.

Nou die boek Prediker. Het die boek nie
ontsaglik veel gemeen met die uitkyk op die lewe van baie mense
in ons tyd? Word die moderne lewensgevoel in die boek nie pragtig
weergegee? Prediker begin tog om te kla oor die vrugteloosheid
van alle bestaan? Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles
tevergeefs, dit is alles tevergeefs. Watter voordeel het die mens
van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son? Kom ons
nie naby die lewensuitkyk van baie in hierdie tyd nie?

As ons egter goed let op die boek Prediker, dan
blyk daar ’n fundamentele verskil te wees. Terwyl die
moderne mens uitgaan van ’n geslote wêreld, ’n wêreld
sonder God en dus sonder hoop, spreek die Prediker oor die wêreld
as skepping van God. Prediker bely dat God alles mooi gemaak het
op sy tyd en dat alles van God se hand kom. Prediker ken ook
’n toekomsverwagting. Hy ken God as die Regter van lewende
en dooies. Hy weet dat die gees van die mens terugkeer tot God
wat dit geskenk het.

Die skrywer van die boek Prediker is nie ’n
skrywer wat met God afgereken het nie, maar ’n geïnspireerde
skrywer wat juis vanweë sy geloof in God, geroep het van die
sinloosheid op aarde. Die boek Prediker is eers goed te verstaan
in die lig van die heilsverwagting van die gelowiges. Die heil
wat God aan sy volk beloof omvat alles. Dit sien nie slegs op die
hiernamaals nie. Ons verlossing en saligheid is nie slegs dat ons
na hierdie lewe in die hemel kom nie. Christus se verlossingswerk
is breër. God het in die Ou Testament gespreek van berge wat
vrede sal dra en die heuwels geregtigheid (Ps 72:3). Hier benede
moet alles verander. Vir ’n doringboom sal ’n sipres
opgaan; vir ’n distel sal ’n mirteboom opgaan (Jes 55:13).
Ons verwag die wederoprigting van alle dinge (Hand 3:21).

Gemeente slegs as ons vir die breë en kosmiese
aspek van Christus verlossingswerk oog het, dan sal ons raad weet
met die boek Prediker. God het ons hier geskep. Ons het hier
gesondig. In hierdie wêreld het die sonde gekom en met die sonde
die vloek. So moet hier benede die mag van die sonde en van die
dood oorwin word. As die lewe op aarde nie verlos word nie, dan
is daar geen verlossing nie.

God het aan Abraham en in hom aan Israel en aan
die hele wêreld sy belofte gegee, naamlik die stad met
fondamente. As ons dit besef, dan sien ons ook wat die vromes van
die ou verbond eintlik begeer het en waarna Prediker gehunker het.
Dit het hulle nie slegs gegaan om die uitsig na die dood nie.
Hulle het geweet dat hulle na hul dood in die skoot van Abraham
geborge was, as erfgename van God. Dit het hulle egter gegaan om
die koms van God in Christus, deur wie Hy alle dinge nuut sou
maak en sy verloste kinders die geseënde aarde sou laat erf.
Hulle het dus geleef in die geloofsverwagting om, uit die hand
van die vyande verlos, God te kan dien sonder vrees in heiligheid
en geregtigheid al die dae van hul lewe. Daarom het hulle gebid
vir die deurbraak en oorwinning van die messiaanse heil in die
stad met fondamente. So is die boek Prediker ’n skreeu om
die koms van die Christus.

Ek verkondig God se woord aan u onder die tema:

Die spanning van die Prediker omtrent die
vervulling van die messiaanse beloftes.

  1. Alles lyk tevergeefs te wees
  2. Alles word deur God bestuur.

Prediker tree op as ’n profeet van die
Here. Dit kom uit in die naam waarmee hy homself voorstel. ’n
Prediker is immers iemand wat die woord voer in die gemeente van
die Here. Hy het ’n bepaalde amptelike funksie om te vervul.
Hy moet die woord van die Here verkondig, die wysheid wat God aan
sy volk wil openbaar. In die samekoms van die gemeente het immers
alleen die woord van God gesag. So het die Prediker gespreek en
alles met behulp van die goddelike wysheid ondersoek. Hy staan in
diens van die wysheid.

Maar, gemeente, blyk dit wel uit die manier
waarop hy voortdurend praat oor die vergeefsheid van al die
moeite onder die son? Hier moet u let op die manier waarop God sy
openbaring aan sy profete kan gee. Hy kan sy profete regstreeks
laat sien wat gaan kom. So kan die profete juig oor die
toekomstig heil, om so die strydende volk van God te bemoedig.
’n Mens sou dit kan noem die pad van die toekoms na die hede.
God kan egter die volgorde ook omkeer. Hy kan sy knegte die hede
laat aanskou om van daaruit die aandag te rig op die toekoms. Hy
kan die oë van sy knegte verlig sodat hulle die wêreld met sy
boosheid en verderf raaksien. Hy kan hulle deur sy goddelike
wysheid die lewe op aarde laat sien, die smarte van hierdie wêreld,
wat nie in homself die krag het om daarvan verlos te word nie. Hy
kan sy knegte wys op die armoede, die ellende, die onreg, die
verganklikheid van alles wat bestaan, om so, van benede af die
noodsaak te laat sien van ’n verlossende ingryping van God,
die wederoprigting van alle dinge, die koms van Hom wat sê: kyk,
ek maak alle dinge nuut.

So moet dan die Prediker met wyse oë die wêreld
inkyk. Hy ken die beloftes aan Abraham, aan Dawid en sy huis.
Maar hoe is die werklikheid? Alles tevergeefs, roep hy uit, alles
tevergeefs, alles is leeg, sinloos, doelloos.

Hier het u die tema van die Prediker, ’n
tema wat as ’n somber refrein deur die hele boek heen gehoor
word. Prediker het die wêreld ingekyk, maar hy het daarin geen
doel kan ontdek nie. As ek let op wat voor oë is, as ek uitgaan
van die ervaring, dan moet ek wel konkludeer: Alles is sinloos.
Die een geslag gaan, en die ander geslag kom. Die son gaan op, en
die son gaan onder. Die lyk asof alles in ’n ewige kringloop
voortbeweeg: die son, die wind, die water en ook die mens. Die
son het al duisende jare op en ondergegaan. Dit is vandag nog so.
Wat gebeur het, dit sal weer gebeur. Mense het al duisende jare
gewerk. En dit doen hulle nog. Die natuur en die geskiedenis
vertoon dieselfde beeld. Daar is niks nuuts onder die son nie.

Broeders en susters, ons loop die gevaar dat
ons onmiddellik die woorde van die Prediker veralgemeen. Prediker
sou dan daaroor kla dat al die menslike moeite tevergeefs is. Ons
sal hierdie woord eers moet lees vanuit die situasie van die
Prediker. Dit gaan hier nie om die sin van die geskiedenis in die
algemeen nie, maar om die sin van die geskiedenis van God se volk.
Die Prediker ken die messiaanse beloftes vir Dawid en God se volk.
Wie dan met die beloftes na die werklikheid kyk, word oorval deur
’n bitter teleurstelling. In Jerusalem blyk dit donker te
wees. Die Prediker sien die sonde en dwaasheid triomfeer, die
onreg en verdrukking. Die kerk, waar alles om draai, Jerusalem,
is ’n geknegte kerk, moeg en aangeval. In daardie situasie
sien die Prediker in Jerusalem die een geslag gaan en die ander
geslag kom, terwyl die aarde maar steeds bly bestaan. Hy sien
hier die son steeds op en ondergaan, hy hoor die winde waai. Maar
die beloofde verlossing, die bevryding van die vreemde mag, die
wederoprigting van alle dinge, kom maar nie tot stand nie.

So vorm die woorde van die Prediker die sug van
die kerk: waar bly die vervulling van die messiaanse beloftes?
Dit is nie die klag van die moderne mens wat die sin van die
bestaan nie kan vind nie. Die kerkmens is hier aan die woord. Hy
sien die sug van die skepping waar Paulus oor skryf in Rom 8.
Alles is aan die nietigheid onderworpe in die hoop egter dat ook
die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die
verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die
kinders van God (Rom 8:20,21). Daar is hoop. Dit is die hoop op
die komende heerlikheid, wanneer alle gevolge van die sonde sal
verdwyn en die heerlikheid alles sal deurstraal. Paulus spreek
dan ook van die sug van die hele skepping as ’n sug in
barensnood. Dit is geen sterwenswee nie. Die sug is nie doelloos
nie. Dit bring iets moois tevoorskyn.

Daarvan sien ’n mens nog min of niks in
die tyd van die Prediker nie. Hy het hom beywer om ’n
ondersoek in te stel na alles wat onder die hemel geskied. Maar
hy het onmiddellik in aanraking gekom met dit wat krom is, die
sonde en die onreg. Juis deur die goddelike wysheid was hy in
staat om ’n onnoemlike hoeveelheid dwaasheid en sonde in die
menslike besigheid raak te sien. Dit blyk dat alles onherstelbaar
is. Waar wysheid en dwaasheid teen mekaar bots, daar wen die
dwaasheid dit steeds weer, ook in die kerk, nie slegs nou nie,
maar ook vroeër.

Let maar op die geskiedenis van Israel. Ook
daar triomfeer die dwaasheid. Daar is baie wat daar nie moet wees
nie, en daar ontbreek baie wat daar wel sou moet wees. Wat het
daar tereggekom van Dawid se koningshuis? Na ’n kort herstel
was daar weer ’n opdringende deformasie. Dit gaan weer
eindeloos deur en dit lyk asof mense nie verder kom nie. Daarom
die konklusie: alles is tevergeefs en ’n gejaag na wind. Dit
geld vir alles wat hier gebeur en ook van die ondersoek daarvan.
Hoe meer wysheid iemand vergader, des te smartliker word sy
ontdekkings: oral heers dwaasheid. Die kragte van vernuwing kan
van benede uit nie kom nie. As God nie ingryp nie, dan is alles
verlore. As God die kringloop onder die son, van opgaan, blink en
versink, nie deurbreek nie, dan bly daar slegs volkome
sinloosheid oor. As Hy nie ingryp en aangaan met sy werk nie, dan
is alles tevergeefs.

Maar Prediker weet meer. As hy let op wat voor
oë is, dan lyk dit op ’n eindelose vermoeiende sirkelgang.
Maar hy weet dat sy God op pad is na die vervulling van sy
beloftes. Ook in die skynbare kringloop, volg God sy regte pad na
die wederoprigting van alle dinge. Ook al lyk alles sinloos en
doelloos, in feite is dit nie so nie. God bestuur alle dinge.
Alles kom uit sy hand. En so is dit nou nog. Wie kan eet en
geniet buite Hom om? Die mens is in alles afhanklik van die wil
van God. As ek my verheug, as ek eet en drink en die goeie geniet
by al my moeitevolle arbeid dan is dit ’n gawe van God.

Alles het sy bepaalde tyd in God se plan. In
hoofstuk 3 som die Prediker ’n lys teenstellinge op. Daar is
’n gesette tyd vir die een, maar ook vir presies die
teenoorgestelde: om gebore te word en om te sterwe, om te plant
en om uit te roei, om af te breek en om op te bou, om te ween en
om te lag ens. God het al die dinge aan ons mense gegee. God wil
die afwisseling. Hy het alles op sy tyd mooi gemaak. Daar is
’n bepaalde lyn, orde in God se werke.

Natuurlik probeer die mens, juis die kerkmens,
die sisteem in God se werke uit te vind. God het die eeu immers
in hulle hart gelê (vers 11). Eeu beteken hier soveel as:
tydsverloop, die samehang van die dinge. Die mens probeer om
klaar te kom met die vraag hoe die geskiedenis in mekaar sit. Ons
wil die groot lyne ontdek van die begin tot die einde. God het
tog die messiaanse beloftes gegee, ’n messiaanse eeu in die
vooruitsig gestel? So probeer die kerkmens dan sig te kry op die
weg wat God met sy kerk gaan, ook deur onreg en verdrukking heen.
Tog sal niemand God se werk van die begin tot die einde deurgrond
nie. Dit beteken nie dat God sy beloftes vergeet nie. Maar Hy
gaan daarmee ’n eie pad, wat ons nie kan voorreken en
nareken nie.

Alles wat God doen bestaan vir ewig. Dit lê in
sy hand. Dit staan altyd vas en onveranderlik. Daaraan kan ’n
mens niks wysig nie. Daaraan kan hy niks byvoeg en daarvan kan hy
niks wegneem nie.

Maar waarom doen God alles soos Hy dit doen?
Hierom: opdat die mens voor sy aangesig sou vrees. God is met ons
besig as ’n pedagoog. Hy het die wêreld na die sondeval aan
die nietigheid onderwerp. Waarom? Sodat ons Hom sou vrees. Die
skynbare vergeefsheid van ons bestaan, die terugkerende
afwisseling moet ons op ons knieë bring. Ons word met die harde
feite gekonfronteer. Waarom? Sodat ons ons eie nietigheid en
ellende sou verstaan. Die kragte van vernuwing kan van benede uit
nie kom nie.

Ons sien dit in ons tyd. Mense is besig met hul
eie ideale. Maar waar loop alles op uit? Jare terug was Mugabe
die held van Zimbabwe. Die land het vir ’n rukkie ’n
oplewing gehad. Maar hoe is dit nou? Voor 1990 was daar in Suid
Afrika die vryheidstryd van die ANC. Hulle het hul vryheid gekry
en hulle mag nou die land regeer. Maar waar gaan dit na toe in
ons land? Is al die burgers van ons land, ook die gewone man of
vrou in die townships of plakkerskampe, of in die landelike
gebiede werklik beter af? En wat van die massale voorkoms van
vigs ’n ramp wat ons te wagte staan? Sal die ANC in die
toekom die groot meerderheid van stemme in ons land kan behou?
Moet ons nie konstateer dat die lewe gekenmerk word deur opgang,
blink en versink.

Ons kan God se weg nie deurgrond nie, God se
verlossingsweg met die wêreld. Ons weet egter wel waarom God die
skynbare tevergeefsheid op sy tyd gee: sodat die mens voor sy
aangesig sou vrees. Ons moet steeds weer ons eie nietigheid as
gevolg van die sonde besef. Die vernuwende kragte van benede uit
loop steeds weer dood. Ons sien dit met alle politieke sisteme.
Wat is daar oor van die stad van die mens? Apartheid het nie die
heilstaat op aarde kan bring nie, ewemin die huidige veelkleurige
demokrasie. Kommunisme het nie die heilstaat op aarde kan bring
nie, ewemin kapitalisme. Die oplossing van bepaalde probleme skep
weer nuwe probleme. Ons huidige regering weet dit uit ervaring.
Die mens kom te staan voor sy eie dwaasheid en onvermoë. Daar is
wat dit betref niks nuuts onder die son nie. Die lewe is
voortdurend ’n kwessie van opgang, blink en versink. Ook die
kerklike lewe.

Daarom, broeders en susters, laat u tog lei
deur u hemelse pedagoog. Hy roep u deur alles heen om Hom te
vrees. Hy wil dat u u eie nietigheid erken en dat u u toevertrou
aan Hom. Hy wil dat u Hom erken as die almagtige, as die koning
van die konings en heer van die here, wat alles na sy welbehae
beskik. U glo tog nog wel die woorde van Spreuke 21:1 "Die
koning se hart is in die hand van die Here soos waterstrome: Hy
lei dit waarheen Hy wil." Laat alle mense tog hul
afhanklikheid van Hom erken voordat dit te laat is.

Gemeente, laat ons dan God se soewereiniteit
bely by die wisseling van die jare. Hoe dwaas en sinloos die lewe
ook al mag lyk God trek in die skynbare kringloop van die
gebeurtenisse, die regte lyn na die vervulling van al sy beloftes.
Hy werk heen na die wederoprigting van alle dinge, die nuwe hemel
en nuwe aarde waarin reg en vrede woon.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)