Goeie kommunikasie is ’n saak van die Gees van God.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-10-29
Text: 
Efésiërs 4
Preek Inhoud: 

Efésiërs 4:25-27; 29-32
Ds C Kleyn - Sondag 29 Oktober
2000

Lees: Efésiërs 4:17-5:5.
Sing: Ps 124:1,4; Ps 100:2,4; Ps 32:1,5,6; Ps
141:1-5; Ps 19:6,7.

Tema: Goeie kommunikasie is ’n saak van
die Gees van God.

Paulus wys ons op vier reëls:

  1. Spreek die waarheid;
  2. Koester geen toorn nie;
  3. Laat jou woorde opbouend wees; en
  4. Wees liefdevol teenoor mekaar.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Kommunikasie is een van die buitengewone gawes waarvan ons mag
geniet in die menslike verhoudings. Daar is niks wat die
vertroulikheid binne die verhoudings meer verryk nie as goeie
kommunikasie nie. So leer ’n mens mekaar ken. So kan ons
mekaar werklik help en opvang sodat ons saam groei.

Aan die ander kant, waar dinge in die onderlinge verhoudings
sleg gaan, daar hoor ’n mens dikwels die klag: ons
kommunikeer nie, of ons kan nie kommunikeer nie. Daardeur groei
mense uit mekaar. Hulle verstaan en ken mekaar nie meer nie, ook
al dink hulle miskien dat hulle mekaar juis te goed ken. Hulle
kan mekaar nie meer werklik help nie. In huwelike lei die gebrek
aan kommunikasie dikwels tot die gedagte dat alles verlore is.
Die man en vrou onttrek hulle emosioneel van mekaar. Hulle
besluit dat niks gedoen kan word nie.

Is dit so dat alles verlore is? Dat daar geen hoop is nie? Wat
dink u van die leiding en krag van die Heilige Gees? Kommunikasie
is ’n kuns wat die Heilige Gees ons wil leer. Dis ’n
kuns waartoe die Heilige Gees ons ook in staat wil stel. In die
teks van vanoggend staan die persoon van die Heilige Gees in die
middelpunt. Die teks staan in die verband van die vernuwende werk
van die Heilige Gees. Paulus herinner sy lesers aan hul vorige
wandel, toe hulle Christus nog nie leer ken het nie. Die wandel
van die heidene word gekenmerk deur verduistering van hul
verstand, vervreemding van God, onkunde, ongevoeligheid. Daardeur
gee hulle hul oor aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande
onreinheid te bedrywe (verse 17-19).

"Maar", vervolg Paulus, "julle het Christus nie
so leer ken nie, as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom
onderrig is soos die waarheid is in Jesus: dat julle, wat die
vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die
begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle
vernuwe moet word in die gees van jul gemoed en julle met die
nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid
en heiligheid." (Ef 4:20-24).

Paulus wys dus op ons bekering. Ons moet die ou, sondige mens
aflê en as nuwe mense lewe. As ek ’n ware gelowige is, dan
moet daar in my lewe ook ’n verandering plaasgevind. Nou
moet die innerlike vernuwing deur die Gees ook in my daaglikse
lewe sigbaar word. Ek moet myself as ’n christen wys, as
’n nuwe skepping, geskape in Christus Jesus tot goeie werke
(Ef 2:10).

Dit is die agtergrond en basis van die tekswoorde. Paulus gaan
nou spreek oor die christelike verhoudings. Hoe kan ek as
Christen groei in die onderlinge verhoudings? Slegs wanneer ek
die nuwe lewe in Christus in die verhoudings inbring en uitlewe.
Paulus lê dan veral die nadruk op die gebruik van die tong. Om
gesonde verhoudings te bou en onderhou is goeie kommunikasie
onmisbaar. So wil ek dan vanoggend God se woord aan u bedien
onder die tema:

Goeie kommunikasie is ’n saak van die Gees van God.

Paulus wys ons op vier reëls:

  1. Spreek die waarheid
  2. Koester geen toorn nie
  3. Laat jou woorde opbouend wees
  4. Wees liefdevol teenoor mekaar

Paulus begin: Lê die leuen af. Die vermaning saam met die
ander vermanings, klink ontnugterend. Paulus noem: die leuen,
toorn, diefstal, vuil taal, laster. Dit is pynlike onderwerpe.
Moet ek daarop aangespreek word? Tot my beskaming moet ek sê, ja.
Paulus ken die werklikheid van die lewe, ook van die lewe van
gelowiges. As christen is ek nie onmiddellik volkome vry van die
leuen ens nie. Was dit maar so! Ook christelike verhoudings het
nog met sonde en gebrokenheid te make. Ek moet aanhoudend teen
die sonde stry en dit afsweer. Daarom: lê die leuen af.

Omdat julle jul met die nuwe mens beklee het, lê die leuen af.
Wys dat jy ’n christen is. Die leuen is kenmerkend vir die
ou mens. Om te lieg mag ’n aanvaarde praktyk in die wêreld
wees. Dit behoort egter geen plek in die lewe van die christen te
hê nie. Die leuen behoort tipies by die duiwel. Hy is die vader
van die leuen. Die leuen versiek en bederf die onderlinge omgang.

Waarom gebruik ’n mens leuens? Ek gebruik dikwels die
leuen om myself te verdedig, om myself te beskerm of om myself
mooier voor te doen as wat ek is. Dalk is ek te bang of te trots
om eerlik te wees. My eie naam en eer is vir my te belangrik. Die
leuen word ook gebruik om ander neer te haal, seer te maak. Denk
aan woorde soos: "altyd" of "nooit", bv.
"Jy dink altyd dat jy reg is." "Jy het nooit tyd
vir ons nie."

Die leuen kom nie slegs tot uitdrukking deur leuenagtige
woorde nie. Ek kan ook, sonder om te spreek, lieg. Dit kan gebeur
deur te swyg wanneer ek sou moet spreek. Dikwels besef ons nie
eers dat ons op hierdie manier vir mekaar lieg nie. Tog is dit
iets wat maklik die verhoudings kan versteur. Ek weier dan om
eerlike en reguit antwoorde te gee op vrae wat vir my gestel word.
Ek draai om die saak heen. Ek weier om my ware gevoelens bloot te
lê. Daardeur gee ek die ander ’n verkeerde indruk van wat
ek voel of dink.

Dalk is daar bepaalde dinge wat my pla. Ek laat egter die
ander dit nie weet nie. Die ding wat pla kan dan met die tyd
groot vorme aanneem en verwydering veroorsaak. Was ek in die
begin maar oop en eerlik, dan sou dit saam deurgewerk en opgelos
kon word. Maar deur te swyg stel ek die verhouding op die spel.

Laat ons nie onderskat nie wat ’n skade veroorsaak word
deur gebrek aan openheid. Verskillende verhoudings, huwelike het
daardeur amper skipbreuk gely. Slegte kommunikasie veroorsaak dat
mense dinge veronderstel wat nie eers werklikheid is nie. Bv dat
die ander nie meer lief vir jou is, omdat hy hom terugtrek. Dit
is natuurlik wel belangrik hoe ons die dinge vir mekaar sê. Dit
moet met takt en sagmoedigheid gedoen word. Maar laat ons wel
eerlik vir mekaar wees en die sake wat ons pla werklik vir mekaar
noem. So alleen kan ons binne die verhoudings vir mekaar wees wat
God wil hê dat ons sal wees. So alleen kan ons saam groei.

Daarom sê Paulus: lê die leuen af en spreek die waarheid,
elkeen met sy naaste. Die leuen behoort by die duiwel. Die
waarheid behoort by die christen. Christus is immers die waarheid.
As christene kan ons nie goed saamloop nie, tensy ons dit doen op
grond van eerlikheid, openheid en waarheid. As ek nie die
waarheid spreek nie dan plaas ek die verhouding op die spel. Daar
lê dan iets tussenin, wat dit versteur. My lewe en gedrag word
dan ’n leuen. Die verhouding is dan op leuen gebou. Maak van
jou hart geen moordkuil nie. Maar spreek in liefde die waarheid.

Waarom moet ons die waarheid bly spreek? Paulus noem as motief:
want ons is mekaar se lede. Dis nie slegs so dat ons mekaar se
naaste is nie. Ons is mekaar se lede. Dis veel meer. Ons behoort
by mekaar binne die een liggaam van Christus. Dit maak dit des te
klemmerder dat ons die leuen aflê en die waarheid onder mekaar
spreek. As ek vir ’n ander lieg dan skaad ek nie slegs die
ander nie, maar dan skaad ek in sekere sin ook myself. Ek staan
immers nie op myself nie. Ek is deel van die liggaam. En as ek
’n deel van die liggaam seermaak dat ly die hele liggaam
daaronder. Dit sou tog dwaas wees vir die hand om die arm te
bedrieg of vir die oog om die oor te bedrieg? Binne ’n
huwelik is die band nog nouer en sou dit dus nog dwaser wees.

Christene moet bekend staan as eerlike en betroubare mense. My
ja moet ja wees, my nee, nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose
sê Christus (Mt 5:37). Kan ons werklik op mekaar staatmaak. Kan
my huweliksmaat werklik op my staatmaak? Word ons kommunikasie
onder mekaar werklike deur die waarheid pleks van die leuen
gekenmerk?

Nou die tweede: Koester geen toorn nie.

"Word toornig en moenie sondig nie." ’n Mens
kan kwaad word. Dit gebeur reëlmatig. Soms ook tereg. Jesus
Christus het ook heilige toorn geken. Sien Mk 3:5. Tog sien ons
dat die toorn van die mens maklik tot sonde lei. Daarom skryf
Jakobus: "So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou
wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.
Want die toorn van ’n mens werk nie die geregtigheid van God
nie." (Jak 1:19,20).

’n Mens sou ons teks met die Nuwe Vertaling so kan
vertaal: "as julle kwaad word, moenie sondig nie." Ons
toorn kan maklik selfsugtig wees. As ek nie my sin kry nie, dan
raak ek gefrustreer en word ek kwaad. Dalk maak ek bepaalde
planne, maar die ander stem nie saam nie en weier om saam te werk.
Daardeur word ek kwaad. Wat ons soms as heilige toorn sien, het
so dikwels sondige elemente. Ons kan slegs van heilige toorn
praat wanneer dit duidelik teen sonde gerig is en wanneer dit
volkome onder beheer is.

Daarom sê Paulus: "as julle kwaad word, moenie sondig
nie." ’n Mens kan op twee maniere toorn verkeerd
hanteer. Dit kan gebeur deur my humeur te verloor en uit te vaar.
In die boek Spreuke waarsku die Here ons daarteen. Bv Spr 25:28:
"’n Afgebreekte stad sonder muur, so is ’n man wat
sy gees nie kan inhou nie." Spr 29:11: "’n Dwaas
laat sy toorn uitvaar, maar ’n wyse bring dit eindelik tot
bedaring." Om my humeur te verloor is sonde. Daarmee doen ek
groot skade aan die verhouding. In my woede sê ek dinge wat diep
spore agterlaat en wat ek nie kan verantwoord nie. Dit bemoeilik
die pad na herstel. Ek moet dan immers eers daarvoor op my knieë
en om vergewing vra.

’n Ander manier om toorn verkeerd te hanteer is om dit op
te krop. Daarom skryf Paulus: "laat die son nie ondergaan
oor julle toorn nie." Bly dit nie koester nie. Gaan daarmee
nie bed toe nie. Dra dit nie oor na die volgende dag nie. Want
dan gaan dit verkeerd. Dan gee jy die duiwel ’n kans. Hy
versteur graag die verhoudings van christene. As ek die kwaadheid
gaan opkrop en daarmee gaan rondloop dan speel ek in die duiwel
se kaarte. Daarom moet ek, voordat die son ondergaan, die
kwaadheid uit my hart wegdoen.

Hoe kan ek dit doen? Deur dit eerlik te bely dat ek moeite het
om my humeur te bedwing. Daarmee wys ek die minste kan wees.
Daarmee bewys ek dat ek verantwoordelikheid vir my eie gevoelens
aanvaar. Ek is immers bereid om te erken dat ek self ’n
probleem het. Ek kan ook die ander vra om die saak vir nou te los
en my daarby te help om my gevoelens onder bedwang te kry.

Toorn wat gekoester word, verhinder ’n goeie verhouding
en kan ons uiteindelik duur kom te staan. Dit lei maklik tot haat
gevoelens, wrok, wraaksug. Daarom waarsku die Here Jesus daarvoor
dat toorn ons skuldig kan maak aan die sesde gebod, aan doodslag
(Mt 5:22). Paulus besef ook dat as ons wrok koester, dit ’n
verwoestende effek kan hê. Daarom: Koester geen toorn nie.
Probleme in die omgang met mekaar moet op ’n daaglikse basis
gehanteer word. Anders word dit ’n abses. ’n Abses wat
steeds pynliker word en skielik kan oopbreek en groot skade
veroorsaak. Ek wys myself dan as haatdraend. So ontstaan daar
’n magsstryd, waarby albei verloorders is. ’n Magsstryd
waarin ons oor en weer mekaar beskuldig en mekaar afbreek.

Ja, as ek met die toorn bly rondloop dan is ek as christen
onherkenbaar. Dit moet tog blyk dat ek die ou mens aflê en ek my
met die nuwe mens beklee? Soms bly christene dae lank, weke,
maande, selfs jarelang boos op mekaar. Hulle weier om dit goed te
maak en teenoor mekaar die minste te wees. Hulle bly toorn
koester. Dan kan die verhouding nie funksioneer nie. Want die
duiwel het daar vaste voet aan die grond gekry.

Dag by dag moet ek probleme in die onderlinge verhoudings
aanspreek. Ek mag hulle nie laat opstapel nie. Dit geld veral in
die christelike gesin en huwelik waar ons daagliks met mekaar te
doen het. Die Here Jesus sê vir ons: As iemand agter My aan wil
kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My
volg (Lk 9:23). Ja, ek moet elke dag my kruis op my neem en
myself verloën. Dan kan ek nie dinge laat staan nie. Vandag het
ek met God te doen, met sy genade in Jesus Christus. Dus vandag
moet ek dit probeer regmaak. Soms is dit nie moontlik om dit voor
die nag reg te maak nie. Dan kan ’n mens in elk geval vandag
’n tyd afspreek om die saak af te handel.

Nou die derde punt: Laat jou woorde opbouend wees.

"Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie."
Die woord vir "vuil" beteken letterlik, bedorwe, sleg,
soos bedorwe vrugte. Dis oneetbaar, onverteerbaar. Verwoestend,
beledigend, skadelik. Daarmee slaan jy die ander stukkend. As
christen kan ek nie die naam van die Here Jesus bely en
gelyktydig die tong gebruik om lelike dinge vir ander te sê nie.
Pleks van woorde wat die ander neerhaal en opbreek, soek Christus
woorde wat opbou. Daarom: "Laat daar geen vuil woord uit
julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir
die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit
hoor." Ja, vir die nodige stigting. Elke persoon en elke
situasie vra om gepaste woorde, woorde wat stig. Daarvoor moet jy
ook goed oplet en goed luister om te weet wat nodig is. Die
doelwit moet wees: sodat jou woorde genade kan gee aan die wat
dit hoor. Sodat die ander kan groei in die Here Jesus Christus.

Dis maklik om skerp kritiek teenoor mekaar te uit. Dis maklik
om iemand met ons woorde aan te val. Een snedige opmerking roep
die ander op. Ware kommunikasie stop. Allerlei vuil word in
mekaar se gesigte gesmyt. Respek en liefde verdwyn. Geen wonder
dat Paulus in hierdie verband die Heilige Gees noem nie: "En
bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël
is tot die dag van verlossing."

Die gebruik van my tong as christen raak die Persoon van die
Heilige Gees. Toe ek tot geloof gekom het, het ek ’n tempel
van die Heilige Gees geword. Die Heilige Gees het in my kom woon
en werk. Sy aanwesigheid in my is ’n waarborg van die
volkome verlossing. Hy wat ’n goeie werk in my begin het,
sal dit ook voleindig tot die dag van Christus. Dit is die Gees
wat lewend maak, wat lewens herstel en vernuwe. Wel, hoe kan ek,
wat die Gees het, dan daarop uit wees om ander met my woorde af
te breek? Dit kan tog nie? Dis daarom ’n ernstige saak
waarmee ons besig is. Ons bedroef daarmee die Heilige Gees.

As ek waarlik ’n nuwe skepping van God is, dan sal ek
’n nuwe manier van kommunikasie moet ontwikkel. Pleks van om
mense met my woorde seer te maak, sal ek my woorde gebruik om
hulle te help, te bemoedig en op te bou. Pleks van die persoon
aan te val, sal ek die saak aanspreek. Sodat die saak op ’n
christelike manier opgelos kan word. Sodat ons saam kan groei.
Ons lees in Spr 12:18: "Daar is een wat onverskillig woorde
uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is
genesing."

Nou die laaste punt: Wees vol ontferming teenoor mekaar.

As ’n persoon wat met die Heilige Gees verseël is, moet
ek radikaal breek met alle vorme van boosheid, met alles waaruit
’n verkeerde, sondige gesindheid blyk. Daarom skryf Paulus:
"Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering
moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid." U
herken die woorde. Alle bitterheid. Al die gif teenoor mekaar, al
die snydende, bytende opmerkings. Alle woede en toorn. Alle
onbeheerste en sondige uitinge van toorn. Alle geskreeu. Dit hang
dikwels saam met die voorgaande. In woede word daar allerlei
lelike dinge vir mekaar geskreeu. Alle lastering. Allerlei
beledigende en lasterende uitsprake oor die ander. Die goeie naam
van die ander word deur die modder gesleep. Kortom, as Christen
moet ek alle vorme van boosheid teenstaan, verwyder.

Bitterheid, woede, toorn, geskreeu en lastering is tipies
reaktief. Dit verwoes kommunikasie. Dit forseer die ander party
om defensief te wees omdat dit die ander persoon in sy
waardigheid aanval. Maar, gemeente, wees nie reaktief nie, maar
proaktief. "Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar;
vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het."
(vers 32).

Wat het ons ’n geweldige Verlosser. Hy het sy genade nie
gewys vir liefdevolle mense nie. Hy het vir my gesterwe toe ek
nog sy vyand was. Hy het my baie vergewe, ’n onbetaalbare
skuld. Sou ek dan nie die weinige wat ander my skuld vergewe nie?
As God goed en barmhartig oor die ondankbares en slegtes is (Lk 6:35)
sou ek dan nie vol ontferming oor my medegelowiges wees nie,
mense wat saam met my deur Christus gered is?

Dan sluit ek myself nie in hardheid van die ander af nie. Dan
skryf ek hom of haar nie af nie. Dit het Christus ook nie met my
gedoen nie. Maar dan is ek vol ontferming. Ek het ’n groot
hart vir die ander. Ek stel groot belang in sy geluk, sy ewige
geluk. Sy geluk is my geluk. Ons is immers mekaar se lede. Ek
vind dit dan verskriklik om die verkeerde dinge van die ander
onder sy neus te vryf. Dit gaan teen my nuwe natuur in. Ek wil
juis ’n seën vir ander wees, ander help in die stryd teen
die kwaad. Ek wil die ander vergewe soos God ook my vergewe het.

Sien hier broeders en susters, die deur die Gees vernude
omgang met mekaar. Goeie kommunikasie is immers ’n saak van
die Gees van God.

Paulus gee ons hier vier reëls:

  1. Spreek die waarheid.
  2. Koester geen toorn nie.
  3. Laat jou woorde opbouend wees.
  4. Wees vol ontferming teenoor mekaar.

So wys ek by wie ek behoort. Die duiwel of Christus. Nie dat
ek hierin reeds volmaak is nie. Ek moet nog daagliks teen my
sondige begeertes stry. Maar ek het deur die genade van die
Heilige Gees oor hierdie sonde van harte berou. En ek begeer om
volgens al die gebooie van God te lewe. So sal ek deur die krag
van die Heilige Gees steeds meer en meer die beeld van my Heiland
gaan vertoon. In woord en daad. In alle verhoudings.

AMEN

 

Liturgie: 

(kyk in preek)