Die bruilof van die Lam.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-11-12
Text: 
Openbaring 19
Preek Inhoud: 

Openbaring 19:7
Ds C Kleyn - Sondag 12 November
2000

Lees: Openbaring 19:1-10;
Matthéüs 22:1-14 (1ste tafel); Johannes 3:26-30 (2de
tafel); Efésiërs 5:22-27 (3de tafel).
Sing: Ps 76:1,6; Ps 79:5,6,9; SB
29:6-9; Ps 103:1,2; Ps 45:9,10; Ps 45;1,2,16; SB 8:2; Ps 13:5.

Tema: Die bruilof van die Lam.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In ons teks hoor ons die groot kerkkoor sing
oor die bruilof van die Lam. Die sangers wek mekaar op: Laat ons
bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die
bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.

Wanneer begin dan die bruilof? Aan die einde
van hierdie Nuwe Testamentiese geskiedenis. In die vorige
hoofstuk, Openb 18, word die oordeel oor die hoer genoem, die
oordeel oor die valse kerk wat een met die wêreld geword het. In
Openb 19 hoor ons stemme van vreugde nou dat God afgereken het
met die groot hoer.

Ons hoor een halleluja na die ander. Totdat
selfs ’n stem uit die troon uitgaan wat al God se
diensknegte oproep om God te prys. Daarna laat die kerkkoor sy
halleluja hoor.

Die bruilof van die Lam vind dus plaas aan die
einde van hierdie geskiedenis. Maar watter soort bruilof is dit
dan? Ja, wie is die partye?

Die teks noem die Lam en sy vrou. In die Nuwe
Testament word die Here Jesus meermale geteken as die bruidegom.
Terwyl die kerk sy bruid genoem word.

Die terme bruidegom en bruid is besonder geskik
om die noue en intieme verhouding tussen Christus en sy kerk aan
te dui. Christus is nou aan ons sy kerk verbind. Die verhouding
is so intiem en heg dat Christus Homself ons bruidegom en die
kerk sy bruid noem. Is dit, gemeente, hoe u uself sien? As
Christus se bruid? Wat ’n voorreg en eer om bruid van
Christus te wees.

In die Ou Testament word dieselfde beeld
gebruik om die verhouding tussen God en sy volk aan te gee. Afval
van die Here, ontrou, word getipeer as hoerery.

In ons teks is die aanduiding van die kerk as
Christus se vrou baie toepaslik. Openbaring, veral die hoofstukke
17 & 18, noem ook ’n ander vrou, die groot hoer. Dit is
die vrou wat ontrou geword het, die vrou wat haar Here verlaat
het om agter ander minnaars aan te gaan. Dit is die vrou wat
opgegaan het in die aardse skatte en haar hemelse heerlikheid
verkwansel het. Dit is die vrou wat reeds hier en nou heerlikheid,
eer en mag soek en daarom kompromie met die wêreld aangaan.

Wel, teenoor die hoer, is daar Christus se
bruid, die ware kerk wat haarself voorberei op die hemelse
bruilof. Dis merkwaardig, gemeente, dat die bruilof die bruilof
van die Lam genoem word? Waarom nie die bruilof van Jesus
Christus nie? In Openbaring word die Here Jesus meermale die Lam
genoem. Die Lam, dit herinner ons aan Christus se offer aan die
kruis vir ons sondes. Hy het Homself as ’n lam na die
slagbank laat lei, ons Paaslam. Mense, die bruilof kon nie sommer
aangerig word nie. Daar moet eers ’n groot prys vir ons, vir
ons sondes, betaal word. Christus het as Lam die prys betaal. Die
fees kan nou voorberei word, die bruidskat is betaal.

Bruidegom en bruid behoort by mekaar, maar
hulle lewe nog nie saam nie. Die bruilof moet nog kom. U kan dit
vergelyk met die huwelikspraktyke van die Jode. Die Jode het die
verlowing beskou as ’n definitiewe verbintenis tot die
huwelik. Vanaf daardie oomblik was hulle die wettige man of vrou
van mekaar. Dink maar aan die posisie van Maria as Josef se vrou
voordat hulle saamgewoon het. Tussen die verlowing en die bruilof
was daar die tyd om die bruidskat te betaal en alle
voorbereidings te tref. Eindelik het dan die bruilof begin nadat
die bruidegom, vergesel deur familie en vriende, sy bruid
opgehaal het.

So gaan die as ’t ware met Christus en sy
kerk. Ons wat glo, is, om so te sê, Christus se verloofde, sy
bruid. Ons behoort aan Christus soos die bruid by die bruidegom
behoort. Die bruilof moet egter nog plaasvind.

Die bruilof sal plaasvind. Daaraan is geen
twyfel moontlik nie. Die Here verseker ons nadruklik daarvan. U
bruilof is aanstaande. As ons rondkyk in hierdie sondige wêreld
dan lyk dit nie baie daarop dat die bruilof sal kom nie. Wat sien
ons van Christus se mag en van die heerlikheid van die kerk? Maar
die groot kerkkoor verseker ons: "Halleluja! Want die Here
God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar." Alles is
onder beheer. God die Almagtige is besig om sy plan uit te werk.
Sy doel sal bereik word. Vind u dit moeilik om voor te stel dat
die bruilof van die Lam sal plaasvind? Vanweë u sondes en
tekortkomings? Vanweë die heerlikheid en mag van die goddeloses?
Luister na die groot koor: want die bruilof van die Lam het gekom
en sy vrou het haar gereed gemaak.

Hulle sing asof die bruilof reeds aangebreek
het. So seker is hulle daarvan. Die bruilof sal kom en die bruid
sal gereed wees. Niks kan dit verhinder nie. Geen satan, geen
dier, geen hoer, geen sonde en swakheid wat teen ons wil in ons
oorgebly het nie. Vind u dit nog moeilik om te glo? Die Here neem
ekstra maatreëls om u te oortuig. Joh ontvang die opdrag om te
skryf: "salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van
die Lam." God wil dit swart op wit hê, sodat u dit kan lees
en herlees. En die engel voeg daaraan toe: "Dit is die
waaragtige woorde van God." U kan daarop staatmaak. Daarom
kan u seker wees dat die bruilof van die Lam sal kom. Die fees
van die volmaakte en ongestoorde eenheid tussen Christus en sy
kerk. ’n Fees sonder einde. Bruidegom en bruid sal vir ewig
saamwees in volmaakte geluk.

Wel, broeders en susters, as u van so ’n
wonderlike fees seker is, wat doen u dan? Dan sal u tog alles wil
doen om uself daarop voor te berei? Wat doen ’n meisie
wanneer sy gaan trou? Sy is opgewonde. Sy kan nie wag nie. Sy
laat vir haarself ’n mooi trourok maak. Daarom vervolg die
teks: en sy vrou het haar gereed gemaak. Op watter manier het sy
haarself gereed gemaak? Dit word verklaar deur die woorde van
vers 8: "En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en
blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van
die heiliges."

Daar het u Christus se bruid in haar trourok.
Wat ’n kontras met die kleding van die hoer. Van daardie
vrou lees ons in Openb 17:4 dat sy met purper en skarlaken
bekleed is en met goud en kosbare stene en pêrels versierd is.
Daarmee het die hoer opgeval, die aandag getrek. Sy wou haarself
vir elkeen mooi maak, want sy was te koop.

Maar Christus se bruid beklee haarself met rein
en blink fyn linne. Inderdaad, dis dure kleding. Maar dis totaal
anders as die pronkgewaad van die hoer. Dis rein en blink. Vir
wie klee die bruid haarself aan? Ter wille van die gaste? In ons
huidige samelewing sou ’n mens dit soms kan dink. Maar die
bruid maak haarself tog mooi vir haar bruidegom. Daarom lees ons
in Openb 21: 2 dat die kerk toeberei is soos ’n bruid wat
vir haar man versier is. Die ware bruid set haarself in fyn linne
terwille van die bruidegom. Ja die rok word aan har gegee, lees
ons.

Maar wat is die fyn linne, die trourok? Dit
word in vers 8 verklaar as die regverdige dade van die heiliges.
Die bruid is dus versier met goeie werke. Dit wys hoe belangrik u
goeie werke is. Dis ’n saak van voorbereiding op die bruilof.
As ek weet dat my bruilof aanstaande is, dan is ek tog gefokus op
my bruidegom? Hy is alles vir my. Ek wil Hom behaag in alles wat
ek doen. Ek verlang daarna om by Hom te wees.

Is dit, broeders en susters, u houding wanneer
u die Heilige Nagmaal vier? Besef u nog wel dat hierdie fees nog
inkompleet en onvolmaak is. Die bruidegom is hier nie in lewende
lywe aanwesig nie. Die ware fees moet nog kom. En dit sal kom.
Daarom, sien daarna uit. U het alle rede om opgewonde te wees oor
wat kom. Berei uself daarop voor. Laat ons daarom bly wees, ons
vreugde wys en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam
kom.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)