Julle is lig, wandel dan soos kinders van die lig.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-11-05
Text: 
Efésiërs 5
Preek Inhoud: 

Efésiërs 5:15-17
Ds C Kleyn - Sondag 5 November
2000

Lees: Efésiërs 5:1-21.
Sing: Ps 98:1,2; Ps 98:3,4; Ps
116:7,9,10; Ps 67; Ps 89:6,7; Ps 28:6-8.

Tema: Julle is lig, wandel dan soos kinders
van die lig.

Dit beteken:

  1. Wees wakker;
  2. Versprei die lig; en
  3. Ken die wil van God.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die apostel Paulus sê heerlike dinge oor die
kerk. Veral in sy brief aan die Efesiërs. Die kerk is ’n
wonderwerk van God se verkiesing. Julle het die woord van die
waarheid, die evangelie, gehoor en geglo. Julle is verseël met
die Heilige Gees. Julle dra die merkteken van die Here. Paulus
praat van die geloof in die Here Jesus en die liefde tot al die
heiliges. Paulus skryf: Maar God wat ryk is in barmhartigheid,
het ons deur sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook
toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met
Christus - uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie
uit julle self nie: dit is ’n gawe van God. So is julle dan
nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die
heiliges en huisgenote van God.

In Efese, die drukke wêreld stad, bloei die
lewe in die kerk. Nie omdat die lidmate so braaf is nie. Maar
omdat Christus Hom vir haar gegee het en die nuwe lewe vir haar
verwerf het. Daarom staan daar sy lewende kerk in ’n dooie wêreld.
En waar lewe is, daar is lig. Lig en lewe behoort by mekaar. Soos
duisternis en dood by mekaar behoort. Daarom sê Paulus in
hoofstuk 5, kort voor ons teks: "Want vroeër was julle
duisternis, maar nou is julle lig in die Here." Van nature
was ons almal duisternis. Verlore is sonde en skuld. Maar in
Christus het ons lig geword. Lig in ’n wêreld vol
duisternis. Dit is nou julle posisie. Dit het dan as gevolg:
"wandel soos kinders van die lig" (5:8).

Daaroor wil ek vanoggend preek onder die tema:
Julle is lig, wandel dan soos kinders van die lig.

Dit beteken:

  1. Wees wakker
  2. Versprei die lig
  3. Ken die wil van God

Geliefdes, julle het almal jul plek in hierdie
wêreld. Dis hier waar julle moet werk en studeer. Niemand kon
hom uit die wêreld onttrek nie. God het julle met jul voete,
hande en hersens hier ’n plek gegee. In ’n wêreld vol
duisternis. Paulus noem die dae boos. Die tyd, toe en nou, is
deurdrenk met boosheid, slegtheid. Die bose laat oral sy
aanwesigheid voel. Hy weet dat sy tyd beperk is. Die invloed van
die christelike geloof word steeds minder in ons land en
samelewing. Daardeur vertoon ons samelewing steeds meer die
kenmerk van die kwaad, van die lewe buiten God, die lewe in die
duisternis. Alles word daarmee deurtrek, soos dit was in Paulus
se tyd toe die samelewing nog heidens was.

Sonde versprei. Ons het daagliks daarmee te
make. Die sedelike gedrag en die vlak van lewe word slegter. Die
kwaad bly nie buite ons deure nie. Dit vind sy pad binne die deur
via radio en televisie, koerante en boeke, kassetspeler en video’s,
ja via ons sondige harte. Jy het daarmee te make tydens jou
studie en by die werk. Niemand kan daar onderuit nie: ons leef in
’n wêreld waarin die kwaad steeds meer invloed en mag het,
waarin ongeloof en goddeloosheid toeneem. Miskien lyk dit nie so
sleg nie. Baie mense is nog vriendelik en gedra hulle goed. Maar
sonder ware geloof is dit tog ’n lewe sonder God, in
duisternis.

Geliefdes, in so ’n wêreld moet julle nou
woon en werk. Dan is dit baie belangrik hoe julle dit doen.
Paulus skryf: "Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as
onwyse nie, maar as wyse." Julle gedrag, by die huis, by die
skool, by die werk is van groot belang. Pas goed op, sê Paulus.
Aan alles wat die moeite werd is, moet sorg bestee word. Dit doen
julle tog mbt die dinge wat julle belangrik vind: bv jul werk,
jul studie, jul sport, jul kleding ens. Hoe is dit dan met die
christelike lewe? Bestee julle ook daaraan besondere sorg? Laat
julle ook sien dat dit ’n ernstige saak vir julle is, van
groot waarde, iets waar jy nougeset op let? Paulus skryf: "Pas
dan op dat julle nougeset wandel." Sorg daarvoor dat julle
nie as onwyse mense wandel nie, nie as mense wat die lig negeer
en die duisternis opsoek nie. Let sorgvuldig daarop dat julle as
wyse julle gedra, as mens wat in die lig lewe.

Om dit te doen, moet jy daarop let dat jy
wakker bly. Mense wat in so ’n dreigende situasie in slaap
val is in groot gevaar. Slapers word sommer meegesleur deur die
bekoring van die sondige wêreld. Daarom skryf Paulus in vers 14:
"Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en
Christus sal oor jou skyn."

Vir wie skryf Paulus hierdie woorde? Ons sou sê,
dit moet wel vir die ongelowiges bestem wees. Hulle slaap immers
in die donker nag van die ongeloof. Nog sterker: Hulle is nog
dood in hul sondes. In die vorige hoofstuk het Paulus van die
ongelowiges gesê dat hulle verduister is in die verstand en
vervreemd van die lewe van God (4:18). ’n Mens sou sê: die
woorde: "Ontwaak , jy wat slaap, en staan op uit die dode"
pas goed by die ongelowiges. Dit moet wel vir hulle wees.

Maar, broeders en susters, Paulus rig hierdie
woorde nie tot buitestaanders nie. Hy rig hom tot lidmate van die
kerk. Vergis u nie! Kerkmense kan in slaap val. Kerkmense kan
meegesuig word deur die sondige wêreld. Moontlik slaap sommiges
reeds. Sommiges van hulle wat hier in die kerk sit. Wanneer slaap
jy dan? Wanneer jy jou besondere posisie nie meer besef nie, dat
jy in Christus lig is. Jy sien nie meer duidelik die onderskeid
tussen lig en duisternis nie. Die onderskeid het vir jou vervaag.
Is daar wel soveel verskil? Wat is verkeerd met die lewe van die
ongelowiges? So is daar die gevaar dat jy die christelike
lewenstyl prysgee en jou aanpas aan die wêreld. Let wel, jou
aanpas aan die wêreld waaroor die nag van die dood gedaal het.

Daar lê dan die slapers, tussen die mense wat
dood is deur hul sondes, tussen hulle wat geestelik dood is. Daar
lê dan die kinders van die lig, aan die slaap. Hoe dwaas! Wie
gaan nou slaap tussen die dooies! Maar dit is presies wat jy doen,
wanneer jy jou oë toesluit vir jou besondere posisie in die wêreld
en wanneer jy nie meer raaksien die verskriklike posisie van
hulle wat God nie ken en dien nie. Dan slaap jy tussen die
geestelik dooies. Terwyl jy juis ’n draer van die lig moet
wees. Julle is mos lig in die Here! Laat dan die lig skyn in die
wêreld.

"Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit
die dode." Staan op uit die midde van die dooies. Breek met
die kwaad. Wandel as wyse. As mense wat deur Christus die
waarheid, wysheid ontvang het. As mense wat geleer het om anders
teen die dinge aan te kyk. Mense wat geleer het om deur die skyn
heen te kyk en so die werklike waarde van die dinge te peil. As
mense wat die aardse dinge op hul juiste waarde weet te takseer
en so ook die juiste plek aan die dinge toeken. Nie as doel in
homself nie, maar as middele met die oog op God se groot doel. As
mense wat nie opgaan in die dinge van elke dag nie, maar dit
diensbaar maak aan die groot saak van God in hierdie wêreld.

Waarom is dit so belangrik hoe jy wandel, hoe
jy jouself gedra, dat jy dit as wyse doen? Dit is nie slegs
belangrik vir die eer van God nie. Dis ook belangrik vir die
naaste, om hom of haar vir Christus te wen. Mense kyk na jou. As
jy sê dat jy ’n christen is, dan let hulle noukeurig op jou.
Die aansien van die evangelie het alles te make met die manier
waarop jy jouself gedra. Mense wat nie die Bybel lees of die
prediking hoor nie, sien wel die lewe van hulle wat dit wel lees
en hoor. En dienooreenkomstig vorm hulle hul oordeel, positief of
negatief. Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie,
maar as wyse. Julle is lig, wandel dan as kinders van die lig.

Dit beteken in die tweede plek: versprei die
lig.

Die teks vervolg: "En koop die tyd uit,
omdat die dae boos is." Omdat die dae boos is, let dit des
te nouer dat jy die tyd uitkoop. Jy het geen tyd om te vermors
nie. Daar is te veel op die spel. Wyse mense weet dat tyd ’n
waardevolle gawe is. Elkeen van ons het dieselfde tyd tot ons
beskikking, met 60 minute in die uur en 24 uur in die dag.
Niemand kan die tyd uitrek nie. Maar wyse mense gebruik die tyd
optimaal. Ons weet dat die tyd verby vlieg en ook dat die dae
boos is. Moenie jou vergis nie, die bose maak optimaal gebruik
van sy tyd. Hy weet dat hy min tyd het.

In ’n wêreld vol sonde en verleiding kan
ek my nie veroorloof om te verslap nie. Die sonde loer van alle
kante. Verslapping kan fataal wees, dodelik, soos ons dit onder
die eerste punt gesien het.

Broeders en susters, in die lig van Kol 4:5 kan
die woorde van ons teks ook verwys na ons christelike getuienis
in die wêreld. Ons wil dit verder uitwerk. As ek lig in die Here
is, dan moet ek elke geleentheid om die lig te laat skyn uitbuit.
Hoe kan ons mos die tyd uitkoop? Wat moet ek dan doen? Ek moet as
’n kind van die lig wandel. Ek moet lig wees. In alles wat
ek doen moet die lig uitstraal. So koop ek die tyd uit.

Die gunstig geleentheid is nie altyd daar nie.
Soms kan jy die evangelie nie kwyt nie. Soms gaan die deure toe
voor die evangelie. Mense wil niks daarvan hoor nie. As jy dan
bly aangaan, dan kan jy die situasie erger maak. Hulle wat vloek,
gaan nog erger vloek. So ’n situasie kan jou moedeloos maak.
Dit kan by jou die neiging opwek om die wêreld maar aan homself
oor te laat. Die mense moet dit maar self weet. Ek trek my met my
geloof en met my getuienis terug in my eie veilige kring. By die
werk of by die skool hoef hulle niks van my geloof te weet nie.
Dit is ’n persoonlike, private saak.

Broeders en susters, wat dink u, is dit korrek?
Hoe kan dit korrek wees? U is tog lig? En lig het tog die
eienskap om uit te straal? Wandel as kinders van die lig. Dit
doen jy nie slegs in jou binnekamer nie, maar ook in die wêreld,
waar jy jou ookal bevind. Jou christen wees kan nie verborge bly
nie. In jou woorde en dade sal die sigbaar wees of nie? Die lig
is tog daar om te skyn? Die evangelie is daar om geleef te word,
om uitgedra te word.

Wat doen ’n sakeman as die nie so goed met
sy besigheid gaan? Sluit hy onmiddellik sy besigheid omdat daar
minder belangstelling vir sy produkte is? Sou hy onmiddellik
ophou om sy produkte aan te bied? Sou hy nie eerder hom des te
meer beywer om tog nog ’n mark vir sy produkte te vind nie.
Dit vra ekstra inspanning en sorg. Maar dit is vir die sakeman
die moeite werd. So moet die kwaad van ons tyd ons juis daartoe
dring om noukeurig te soek na die mees geskikte geleentheid, en
om die geleentheid uit te koop.

Dit moet by ons gaan soos by die boer. In
’n nat oestyd sal hy elke geleentheid aangryp wat die
sonnige dae bied. Dit is vir hom goud werd om sulke geleenthede
uit te buit. So moet ons die moontlikhede om die evangelie uit te
leef en uit te dra ten volle benut. Nie slegs na buite nie, maar
ook na binne, binne in jou eie gesin of kerkgemeenskap. Dit tyd
is kosbaar. Want die dae is boos. Dis tog verskriklik dat baie
mense nog deur duisternis en dood gevange is. Jy begeer tog hul
redding?

In die praktyk is dit nie ’n saak van baie
woorde nie. Nie die veelheid is goed nie, maar die goede is veel.
Een enkel woord op die juiste tyd is baie meer werd as baie
woorde op ’n ongeleë tyd. "Laat julle woorde altyd
aangenaam wees, met sout besprinkel," sê Paulus in Kol 4:6.
Hoe gaan dit onder die mense waar julle mee omgaan? Sien en hoor
hulle in julle gedrag en woorde dat julle anders is. Sien hulle
dat julle dwase en lawwe praatjies vermy en dat julle lewe deur
dankbaarheid en afhanklikheid van God gekenmerk word? Die
onderwerp van jou gesprekke en die manier waarop jy oor die dinge
praat, verraai wat in jou hart is en waarvoor jy lewe. Laat,
broeders en susters, jul lig skyn in ’n wêreld vol
duisternis. Versprei die lig.

As julle dit doen, dan sal julle die werke van
die duisternis ontmasker. Die skyn-waarhede van die wêreld sal
aan die lig kom. Dink maar aan die drogredeneringe van die geëmansipeerde
wêreld wat steeds maar praat van vryheid en onafhanklikheid,
terwyl hulle slawe van die sonde is. Mense stel dikwels die dinge
anders voor, sodat baie verlei word. Sonde word dikwels
goedgepraat met ’n verwysing na die leiding van God of die
gebod van die liefde. Hoe durf jy om dit sonde te noem, word vir
jou gesê. Seksuele omgang voor of buite die huwelik word as
normaal voorgehou. Durf jy dit sonde noem? Maak nie saak wat God
se wet sê nie. Ons leef vandag tog in ’n ander tyd en ons
het tog veel meer kennis, probeer die liberale profete ons wys te
maak.

As kinders van die lig moet julle die
drogredeneringe ontmasker. Julle moet die werke van die
duisternis aan die kaak stel. Ookal lyk dit aantreklik vir ons
hart en lewe. Dit is ons taak. Julle is tog lig in die Here? Wys
die ware aard van die gedagtes en praktyke. Wys hulle aan as
sonde. Bly die sonde ook sonde noem. As julle dit nie meer doen
nie, as die kerk dit nie meer doen nie, wie dan wel? Hoe moet die
mense dan weet wat lig is en dat hulle in die duisternis lewe?
Dan verdwyn die lig uit die wêreld. Dan sal daar slegs
duisternis oorbly.

Geliefdes, julle is baie bevoorreg. Julle mag
lig wees. Christus, die Lig, het in julle harte geskyn. Versprei
dan die lig. Koop die tyd uit. Sodat ander uit die duisternis
gered word en getrek word tot God se wonderbare lig.

Om dit te doen moet julle die wil van God ken.
So kom ons by die derde gedagte van die preek: ken die wil van
God.

Paulus skryf in vers 17: "Daarom moet
julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van
die Here is."

As jy lig is, dan wil jy nie meer ’n dwaas
wees nie, ’n dwaas wat nie weet wat hy doen nie of hom nie
bekommer oor wat hy doen nie. Verlig deur die Gees wil ek in die
lig wandel. Wil ek die lig my pad laat beskyn. Ek het ontdek dat
eiewilligheid dwaasheid is. Deur my eie natuurlike begeertes en
gedagtes te volg, mislei ek myself. Dit is duisternis. Terwyl ek
lig is. Daarom beteken God se begeertes en gedagtes alles vir my.
Dit is lig in ’n donker wêreld.

Jesus Christus het self tot die Vader gebid:
"Nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil." Hy het
ons ook geleer om te bid: "Laat u wil geskied, soos in die
hemel net so ook op die aarde." Sien hoe belangrik die wil
van God is! Dis onmisbaar! Bevrydend! Normatief.

Daarom moet julle nie onverstandig wees nie,
maar verstaan wat die wil van die Here is.

Die wil van die Here kan geken word. Dit is nie
vaag nie. Nee, God het sy wil bekendgemaak. Dis waar, in algemene
terme. Nie in allerlei besonderhede nie. Hy het bv jou nie vertel
watter werk jy moet doen nie, waar jy moet woon, of jy moet trou
of met wie jy dan sou moet trou nie. Maar selfs betreffende
hierdie sake, het God se geopenbaarde wil baie te sê.

Om God se wil te verstaan, is nie iets wat
vanself kom nie. Jy moet daarvoor wel iets doen, jou daarvoor
inspan. Soos jy jou ook inspan vir dinge wat belangrik in jou
lewe is. Lees die Bybel waarin God sy wil in groot lyne
bekendmaak. Bestudeer dit. Terwyl jy bid vir die verligting van
die Gees. Oordink dit, bespreek dit met ander. Vra advies van
wyse en ervare christene. Sodat jy die wil van God mag verstaan
ook vir die konkrete situasie van jou lewe.

Op hierdie manier kan julle lewe as wyse mense.
Dan ontdek jy wat die Here welbehaaglik is en dan doen jy wat vir
Hom welbehaaglik is. Jy wandel dan in die lig en versprei die lig
sodat ander daardeur heil ontvang en God se naam verheerlik word.

Broeders en susters, seuns en meisies, sien
hier julle ryke roeping in ’n wêreld vol duisternis en dood.
In ’n wêreld waarin baie mense op pad is na die donkerste
duisternis. Vroeër was julle ook duisternis, maar nou is julle
lig in die Here. Wandel dan soos kinders van die lig. Dit beteken:
Wees wakker; versprei die lig; ken God se wil.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)