Die posisie van die kinders van gelowiges.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-10-22
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 27
Preek Inhoud: 

Sondag 27
Ds C Kleyn - Sondag 22 Oktober
2000

Lees: Matthéüs 19:13-15; 21:1-17; Sondag 27.
Sing: Ps 93:1,2; Ps 93: 3,4; Ps 118:13,14; SB 15:1-3;
Ps 71:9-12.

Tema: Die posisie van die kinders van
gelowiges:

  1. Die kinders van gelowiges behoort by die gemeente;
  2. Die kinders word groot met God se woord; en
  3. Die kinders neem God se woord op hul lippe.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat is die posisie van die kinders in die kerk? God wil hulle
betrek. Hy wil hulle gebruik om sy lof te verkondig. In daardie
verband is Ps 8 baie opvallend. Daar word eers gepraat van die
heerlikheid van God op die ganse aarde. "O Here, onse Here,
hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde! U wat u majesteit gelê
het op die hemele." Onmiddellik daarna word die kinders
genoem: "Uit die mond van kinders en suigelinge het U
sterkte gegrondves, om u teenstanders ontwil, om die vyand en
wraakgierige stil te maak." In die verheerliking van God
blyk die kinders ’n belangrike rol te speel. Hulle blyk
magtige instrumente te wees om God se vyande stil te maak.

Vanaand wil ek vir u verkondig:

Die posisie van die kinders van gelowiges:

  1. Die kinders van gelowiges behoort by die gemeente
  2. Die kinders word groot met God se woord
  3. Die kinders neem God se woord op hul lippe

Kan u dit voorstel? Op ’n sondag oggend gaan u kerk toe
met u kinders. Daar staan mense by die ingang van die kerk wat u
kinders teenhou en wegstuur. Ek is seker dat u behoorlik ontstel
sou wees en kwaad op die persone wat so iets doen. Kinders
teenhou en wegstuur, van die Here weg? Hoe durf hulle om so iets
te doen? Wat besiel hulle?

Tog, gemeente, iets dergeliks het gebeur. Deur niemand minder
as die dissipels van die Here Jesus nie. Ouers het hul
kindertjies na Jesus gebring. Die dissipels is nie bly daaroor
nie. Hulle raak omgekrap daaroor. Hulle bestraf die ouers. Wat
gee die ouers die reg om Jesus se aandag vir hul kinders op te
eis? Jesus het meer om te doen, dinge van groter belang.

Dis moeilik om so iets voor te stel. Dit is ’n manier van
dink waaraan ons nie gewoond is nie. ’n Denkwyse wat deur
die Fariseërs beïnvloed is. U is waarskynlik op die hoogte van
die belangrikste leerstelling van die Fariseërs. Hulle het
geleer: in jou lewe met God moet jy leer om te doen wat goed is.
Jy kan slegs reg met God wees indien jy doen wat goed is. Jy moet
goeie werke doen, jy moet self iets presteer, jou eie heil
verdien.

Met die oog hierop het die leraars in Israel ’n
uitvoerige lys gemaak van dinge wat jy moet doen en dinge wat jy
nie moet doen nie. Dit was om jou so naby as moontlik by die wet
van God te hou. Allerlei besonderhede moes gereël word, sodat jy
geen risiko sou loop nie, en jy presies sou weet wat van jou
verwag word. As jy jou aan die voorskrifte, die wette, hou, dan
is jy veilig. Slegs dan sou dit reg tussen God en jou wees.

In so ’n klimaat tel ’n kind amper mee. Solank jy
nog ’n kind is, moet jy agter bly, op die agtergrond. Jy ken
nog nie al die reëls nie. Jy moet leer om hulle te onderskei.
Eers dan kan jy begin om op die pad van die wet te wandel. Ja,
daarvoor, aan die begin van jou lewe is dit onmoontlik. Jy kan
nog nie loop nie. Laat staan dat jy sou uitmunt in die wet.

Jy begin eers mee te tel wanneer jy wat ouer is, en as seun of
dogter van die wet die kennis het. Eers na talryke lesse word jy
binne die gemeenskap toegelaat. Dan bereik jy die vlak waarin die
lewe hom afspeel.

Gemeente, ons tref ’n vergelykbare denkwyse in ons
huidige samelewing. Dikwels tel jy slegs werklik mee wanneer jy
produktief kan wees, wanneer jy self iets kan presteer. Jong
kinders word soms as duur gesien. Hulle kos baie geld en bring
geen geld in nie. Dit is waarom die werkloses dikwels so sleg
voel oor hul situasie. Hulle kry die gevoel dat hulle nutteloos
is, nie meer meetel nie. Hulle is immers onproduktief in ’n
maatskappy waar alles om geld draai.

Op die geestelik vlak tref ons ook iets dergeliks. ’n
Groot aantal moderne christene wys die kinderdoop af. Waarom?
Omdat hulle dink dat die persoon wat gedoop word eers sy eie
keuse moet maak. Jy moet eers iets van jouself aan die Here
aanbied. Jy moet eers wys dat jy geloof het. Tot daardie oomblik
behoort jy nie by die verbond nie. Ja, jy mag wel kerk toe gaan,
maar jy behoort nie wesenlik by God en sy gemeente nie. Jy tel
nog nie werklik mee nie.

Wel, broeders en susters, die Here Jesus wys hierdie denkwyse
af. Hy wag nie tot die kinders grootgeword het nie. Tot hulle
self iets kan presteer nie. Hy gee baie eerder aandag aan die
kinders. Hy het groot belangstelling vir die kinders. Hy bestraf
sy dissipels omdat hulle die kinders verhinder het. Hulle moet
die kinders toelaat om na Hom te kom. En Jesus slaan sy arms om
hulle. Hy laat hulle deel in sy gemeenskap en seën hulle.

Die Here leer sy dissipels ’n belangrike les. Jesus wil
gemeenskap hê met die kinders. Hy wil hulle, wat na menslike
maatstawwe nog nie daaraan toe is nie, sy seën gee. Wie gee nou
sy liefde vir hulle wat nog niks van hul kant kan aanbied nie?

Met verbasing sien die dissipels wat Jesus doen. Hy wag nie
totdat die mense, op hul eie inisiatief, na Hom toekom nie. Hy
wag nie totdat mense iets aan Hom kan aanbied nie. Hy neem self
die inisiatiewe en gee sy liefde en seën aan die klein kinders
wat die ouers na Hom bring. Ja, Hy gee sy liefde en seën aan
hulle wat dit nog nie kan verstaan of daarop kan reageer nie.

Gemeente, in julle lewe met God kom alles van God se kant. Dis
hoe dit begin. Daarom vind die doop plaas aan die begin van my
lewe met God. Die doop is ’n eensydige sakrament. Ek word
gedoop. Dit word aan my verrig. By die doop is ek passief. Die
Here is die aktiewe party. Hy kom my lewe binne met sy liefde en
seën. Alles kom van God se kant. Daarom wys die doop die
eensydige oorsprong van die verbond.

Daarom moet ek ophou om te bou op my geloof of op my
prestasies. Hulle is altyd onvolmaak. Hulle is slegs ’n vrug
van God se werk wat daaraan voorafgaan. Die enigste wat ek kan
doen is: God vashou en alles van Hom verwag. Wees soos ’n
klein kind. Besef u volkome afhanklikheid van genade. U kan niks
aan God aanbied om sy guns te wen nie. U hande is leeg soos die
hande van die jong kinders wat na Christus gebring word. Daarom
verneder julle voor God. Aanvaar sy genade, sy onverdiende guns.

Gemeente, in die geskiedenis van die jong kinders wat na Jesus
gebring word, sê Jesus: "Laat die kindertjies staan en
verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort
die koninkryk van die hemele." In die evangelie volgens
Markus lees ons daarby: "Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen
wat die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie,
sal daar nooit ingaan nie" As u die koninkryk nie soos
’n kindjie, sonder pretensies, ontvang nie, sal u dit nie
ingaan nie. Daarom ontvang, aanvaar die koninkryk as ’n
genadegawe.

Nou die tweede punt. Die kinders van gelowiges word groot met
God se woord.

Die Here Jesus slaan sy arms om die kinders wat by Hom gebring
word, lê sy hande op hulle en seën hulle. Hulle mag in sy
gemeenskap deel en ontvang die seën van die verbond. Die woord
van verlossing is ook vir hulle, die belofte van die evangelie:
God se genade en vrede.

Ons katekismus formuleer dit so: Ook aan hulle word nie minder
as aan die volwassenes nie, deur die bloed van Christus, die
verlossing van die sondes en die Heilige Gees, wat die geloof
werk, belowe.

Wat is dan so spesiaal daarmee dat ’n mens by die verbond
behoort? Dit, dat die Here gemeenskap met jou wil hê en met jou
deur die lewe wil gaan, met sy woord van verlossing. Die woord
van verlossing maak die verskil in jou lewe. Die woord onderskei
jou van die ongelowiges. Die woord wat voortdurend tot jou
gespreek word en vir jou bevestig is in jou doop. Jy mag
grootword met die woord van verlossing, die woord van lewe.

Terwyl ander mense sonder God grootword en in hul sonde en
ellende gelaat word, mag jy met God grootword. Jou doop is ’n
teken van God se seënryke bemoeienis met jou lewe. Daarin sien
en hoor jy God se roeping. Uit jouself is jy ook dood in sonde en
skuld. Aan die ewige oordeel onderworpe. In duisternis. Maar God
het ingegryp in jou lewe. As ’n roepende God. Hy soek jou
hart en lewe.

En as God roep dan gaan dinge verander. Dan moet die
duisternis verdwyn. In plaas daarvan kry jy die lig. God roep
immers sy kinders uit die duisternis tot sy wonderbare lig. Hy
plaas jou lewe in die lig. Soos Hy dit met die herders op die
veld gedoen het. Hy plaas jou in die lig van sy liefde en genade.
Op daardie manier vernuwe Hy jou lewe. Die dood moet wyk. God
maak die dooies lewend. Deur sy woord. Deur sy roepstem. Wanneer
Hy spreek dan kom dinge tot stand. Soos dit was by die skepping.
Hy roep dinge wat nog nie is nie, tot stand. Sondaars, vyande
word liewe kinders en erfgename.

Daarom, broeders en susters, is dit God se roeping wat u in
die verbond bring. Nie jou geboorte uit gelowige ouers as sodanig
nie. Nee, dit is God se kragdadige roeping wat beslissend is.
Dink maar aan wat Petrus op die pinksterdag gesê het: "want
die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver
is, die wat die Here ons God na Hom sal roep." (Hand 2:39).
God roep julle via julle geboorte uit gelowiges ouers. Of via jou
hoor van die evangelie. God plaas jou onder die bereik van sy
roeping. Daarom neem jul ouers julle saam, want God wil julle
saamneem. In werklikheid is dit die hande van God wat via jul
ouers na julle uitreik. Julle is immers heiliges wat deur God
geroep is.

Ja, seuns en dogters, julle is geroepe heiliges. God het julle
geroep. Hy bly julle roep. Hy het reeds daarmee begin aan die
begin van julle lewe. By julle doop het Hy sy woorde vir julle
gespreek, ook al kon julle toe nog niks daarvan verstaan nie. Hy
het julle uit die duisternis, waarin ons van nature lewe, geroep
tot sy lig. Hy het julle op die pad wat lei na lewe en
heerlikheid gesit. Hy het julle onderskei van die kinders van die
ongelowiges. Deur die water wat Hy op julle voorhoof gesprinkel
het. ’n Teken van verlossing en vernuwing. Die water is
immers ’n teken van die afwassing van die sondes. Julle gaan
dus deur die lewe met ’n teken en seel van verlossing. En
julle ouers lei julle van stap tot stap verder op die pad van
verlossing. Dmv hul christelike opvoeding. So bly God vir julle
roep. So gaan Hy met julle deur die lewe met sy lewende en
kragtige woord, waardeur dooies lewend gemaak word. So soek Hy
jou hart en lewe, om dit te vernuwe.

Daarom is die christelike opvoeding so belangrik. Die laaste
vraag van die doopsformulier is nie slegs daar vir die sier nie.
Die vraag: "Belowe u en neem u dit op u om hierdie kind
wanneer hy dit kan verstaan, in die genoemde leer na u vermoë te
onderrig en te laat onderrig?" In sy heilwerk maak die
roepende God gebruik van ons as ouers. Hy wil ons monde en hande
gebruik om in te gryp in die lewe van ons kinders. Sodat hulle sy
evangelie hoor. Sodat hulle onder die invloed en krag van sy
woord bly. Ja, sodat Hy waarlik met hulle deur die lewe gaan.

As ek as ouer hierdie onderrig in die leer nie ernstig neem
nie, dan maak ek die verbond betekenisloos. As ek die doop van
die christelike opvoeding skei dan skei ek die doop van die
beslag wat God op die lewe wil lê. Dan groei my kind nog op
sonder God, in die duisternis. Sulke ouers het dan niks verstaan
van die verbond en die doop nie. Die lewende en roepende God kom
nie die lewens van ons kinders binne op ’n misterieuse
manier nie. Nee, Hy kom normaalweg hul lewens binne dmv ons as
ouers. Via ons as ouers wil Hy ons kinders met sy evangelie bly
roep. Om hulle te vernuwe, om hulle te red. Die geroepe heiliges
moet leer om hul roeping te verstaan. Hulle moet begin om as
heiliges te lewe.

Die lewe in die verbond is nie outomaties nie. God roep sy
kinders na Homself. Hy plaas hulle op sy pad van verlossing. Maar
nou moet die kinders ook self begin om langs die pad te loop. Dit
gebeur nie vanself nie. Daarvoor is die Heilige Gees nodig. En
die Gees werk via die christelike opvoeding en onderrig. Dan eers
kan ’n mens sê dat God en die mens werklik saam deur die
lewe gaan. Die geroepe heiliges begin om as heiliges te lewe. God
se roeping ontvang ’n antwoord. Die antwoord van die geloof.
So kom ons by die 3e punt: die kinders van gelowiges neem God se
woord op hul lippe.

In Ps 8:3 lees ons: "Uit die mond van kinders en
suigelinge het U sterkte gegrondves, om u teëstanders ontwil, om
die vyand en wraakgierige stil te maak." Die teks spreek
selfs van babas, suigelinge. God grondves of berei lof uit die
mond van kinders en peuters. Om die vyand en wraakgierige stil te
maak. Om sy vyande stil te maak. Die jong kinders is baie
waardevol vir God. ’n Waardevolle wapen. In staat om die
vyand stil te maak.

Maar broeders en susters, hoe moet ons dit verstaan? Hoe kan
selfs die suigelinge vyande oorwin? Wel, wat hoor jy uit die mond
van die kinders? Nie slegs liedjies en gebede nie. Die jongstes
kan dit nog nie eers doen nie. Hulle kan slegs onverstaanbare
geluide maak of huil. Tog is die onverstaanbare woordjies as
musiek in God se ore. Waarom? Omdat hulle reeds sy kinders is.
Hulle behoort reeds by Hom. God het hulle uit die hande van satan
geruk om saam met Hom te lewe. Satan weet dit. Wanneer Hy die
baba hoor huil dan word hy herinner aan sy neerlaag. Solank as
daar nog kinders van God is, daardie kinders van die kerk, is
satan ’n verloorder.

Die babas word groter. Dan begin hulle om te sing en om te bid.
Die kinders kan dit nie uit hulself doen nie. God bewerk dit. Op
die manier is Hy besig om sy soldate te oefen. So is Hy besig om
sy vyand te oorwin. Die kinders sing Psalms, hulle sê hulle
gebede op. Hulle word onderrig in God se woord, by die huis, in
die kerk, op die skool, by die katkisasie, op die vereniginge ens.
As hulle die pad bly volg dan word hulle ware profete, priesters
en konings van God. Hulle word christelike studente, christelike
werkers, christelike ondernemers. So het God steeds sy
christelike soldate en getuies in hierdie wêreld. Meer as
oorwinnaars deur Hom wat hulle geroep het.

Daarom vind satan dit verskriklik wanneer hy sien dat kinders
vir die gelowiges gebore word. Daarom vind hy dit verskriklik
wanneer hy die verbondskinders God se lof hoor sing. Hy haat die
uitvoeringe waarin die kinders Psalms en geestelike liedere sing.
Die kinders is vir hom te magtig. Hy is ’n verloorder.
Wanneer hulle God loof en prys dan word satan stil gemaak. God
kies wat swak en onbeduidend lyk om die hoogmoedige vyande te
beskaam.

Ons sien dit gebeur in die geskiedenis van Mt 21. Jong kinders
sing tot lof van die Here: Hosanna vir die Seun van Dawid.
Christus was in die tempel besig om blindes en kreupeles gesond
te maak. Die kinders sien dit en is verbaas. Hulle herinner die
woorde van lof wat die skare die vorige dag gesing het, toe Jesus
in Jerusalem ingekom het. Spontaan begin hulle om die woorde
opnuut te sing: Hosanna vir die Seun van Dawid.

Die owerpriesters en skrifgeleerdes is woedend. Hulle het ook
Jesus sy wonders gesien. Maar hulle weier om Hom as die Messias
te aanvaar. En hulle wil dat die kinders stil gemaak word. Maar
wat sê Christus? "Het julle nooit gelees: Uit die mond van
kinders en suigelinge het U vir u lof berei nie?" Jesus
aanvaar die lof van die gewone kinders, die straat kinders. Dit
is musiek in sy ore. Die kinders is diegene wat die waarheid
opgevang het, of hulle dit nou volledig besef of nie. Hulle is
diegene wat die waarheid bekend maak, dit uitroep onder God se
volk. God se waardevolle getuies. Wat die leiers van die volk
beskaam.

Daarom broeders en susters, onderskat nooit die waarde van die
kinders in die kerk nie. God hou daarvan om hulle daarby te hê.
Hy hou daarvan om hulle te hoor. Hulle behoort werklik by die
gemeente. Hulle word groot met God se seën, met God se lewende
en kragtige woord. Hulle beskaam dikwels die volwassenes. Dikwels
prys hulle God waar ons stil bly. Uit skaamte of vrees. Dank God
vir die kinders. Dank God vir sy werk in en deur hulle. Hulle is
waardevolle lidmate van God se koor, van sy gemeente.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)