’n Vrou wat die Here vrees, sy moet geprys word.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-10-15
Text: 
Spreuke 31
Preek Inhoud: 

Spreuke 31:10-31
Ds C Kleyn - Sondag 15 Oktober
2000

Lees: 1 Petrus 3:1-7; Spreuke
31:10-31.
Sing: Apostoliese
Geloofsbelydenis; Ps 111:4,5; Ps 128:1-4; Ps 115:6,7,8.

Tema: ’n Vrou wat die Here vrees, sy moet
geprys word.

  1. Haar werk;
  2. Haar geheim; en
  3. Haar loon.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe staan dit met die posisie van die huisvrou
in die gesin? Is die kuns van huisvrou wees nog wel in ere? Kuns?
Eer? Ja, seker, om huisvrou te wees is ’n kuns en een eer.
’n Huisvrou moet kreatief wees, wys, en ondernemend. Elke
dag moet sy weer ’n ander, gebalanseerde maaltyd berei wat
pas binne die begroting. Sy moet mense onthaal. Sy moet weet hoe
om ’n sukkelende plant of ’n ondeunde kind te hanteer.
Sy moet by tye ’n verpleegster, ’n onderwyseres, ’n
sekretaresse en ’n naaldwerker wees. Is dit geen kuns om al
hierdie rolle en nog meer gelyktydig te vervul nie? ’n Ware
huisvrou verdien lof en eer.

Spreuke 31 gee ons ’n portret van ’n
ware huisvrou. Dit is in die vorm van ’n alfabetiese gedig
gesit. Elke vers begin met die opeenvolgende letter van die
hebreeuse alfabet. Die eerste vers, vers 10, begin met die
hebreeuse letter alef, ons a. Die volgende vers met die letter
bet, ons letter b ens. Dit maak dit makliker vir God se volk om
die lied te memoriseer. Hierdie gedeelte is so belangrik vir die
lewe van God se volk dat dit gememoriseer moes word. Gememoriseer
deur meisies en jong vroue, sodat hulle daardeur rigting ontvang
in hul lewe. Gememoriseer deur seuns en jong manne sodat hulle so
’n godvresende vrou soek. Ja, gememoriseer deur almal, sodat
almal ’n suiwer beeld mag hê van die geheim van die ware
huisvrou.

Gemeente, dis duidelik dat hierdie deugsame
vrou in ’n ander kulture situasie verkeer. Sy is die vrou
van ’n ryke en vooraanstaande boer. Tog het die lied oor vir
ons baie te sê. Ons meisies en vrouens word daardeur gestimuleer.
Ons seuns en manne leer waarop te let en wat werklik lof verdien.

Die stimulans is in ons tyd baie nodig. As ek
hoor hoe vernederend mense vandag oor die tradisionele rol van
die huisvrou praat, dan sou ek amper nie ’n huisvrou durf
wees nie en dan sou ek amper medelye met myself as huisvrou moet
hê. Watter vrou stel daarin nog belang om haarself te wy aan die
sorg vir man en kinders? Is dit nie ’n ingeslote bestaan? Is
dit nie ’n verkwisting van jou talente? Is dit nie ’n
belemmering vir jou ontwikkeling? Werk buiten die huis en vir
geldelike beloning word as die ideaal voorgehou. Dit sou dan baie
meer voldoening gee en beter wees vir die persoonlike
ontwikkeling van die vrou. So word ons tenminste wysgemaak in ons
land en kultuur. Gelukkig laat God ons nie aan ons lot oor nie.
Hy leer ons om perspektief te hou.

So verkondig ek aan u: ’n vrou wat die
Here vrees, sy moet geprys word.

  1. Haar werk
  2. Haar geheim
  3. Haar loon

In die loflied op die deugsame vrou word
allerlei werksaamhede genoem. Sy is ’n baie besige vrou.
Waar is sy dan mee besig? Die digter lei ons rond as ’t ware.
Ons sien hoe dinge in die tradisionele boerdery toegaan. Dit val
op hoe veelsydig die werk is. Een oomblik is die vrou met dit
besig, dan weer met dat. Sy is hier, daar en orals besig met
allerlei soorte werk.

Is dit nie hoe dit dikwels gaan in die gesin
nie? Soms kan ma bepaalde werk gewoon nie afmaak nie. Steeds wees
kom daar ander dinge tussen, wat haar aandag opeis. In ’n
besige huishouding gebeur daar baie van vroeg in die oggend tot
laat in die aand. En ma die huisvrou moet dit alles maar by
mekaar hou. Sy is immers in beheer van die huishouding.

Wat doen die vrou almal? Sy reël alles. Sy
verdeel die take. Sy is self ook nie vies vir harde werk nie.
’n Groot deel van haar tyd bestee sy aan die vervaardiging
van tekstiel. Sy sorg vir klere vir haar man en kinders en vir
die aankleding van haar huis. In daardie tyd moet sy dit nog van
die grondstowwe, soos wol en katoen, maak. Daarby kom die handel
in grondstowwe en materiale, die aankoop en verkoop van produkte.

Die huisvrou van Spr 31 doen baie op die gebied
van handel en industrie. Nie omdat sy so graag ’n loopbaan
buite die huis wil opbou nie. Nee, sy het haar gesin op die oog.
Sy wil haar huis van allerlei goeie en nodige dinge voorsien. Sy
wil goed vir haar man, kinders en bediendes sorg. Waar nodig sorg
sy selfs vir die uitbreiding van die grond vir akkerbou (vers 16).
Sy is ’n baie ywerige en hardwerkende vrou.

Broeders en susters, wat ons in hierdie gedig
opval is die rol van haar man. Haar man word onmiddellik in die
verse 11 en 12 genoem: "Die hart van haar man vertrou op
haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie. Sy doen aan hom
goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe" By al haar
besighede gaan dit vir haar nie om haarself nie. Sy plaas nie
haarself sentraal nie. Sy verhef nie haarself bo haar man nie.
Dis iets wat maklik kan gebeur, veral as jy so ’n begaafde
en bekwame vrou is. Jy kan dan maklik jouself gaan soek , jou eie
eer en voordeel. Jy wil dan jou eie dinge doen, dinge waar jy
self beter van word, pleks om jou te skik na jou man en sy
belange.

Dis egter opvallend dat hierdie huisvrou alles
doen ter wille van haar man. Van begin tot einde gaan dit vir
haar om die belang van haar man en sy bedryf. Dis vanweë haar
trou teenoor haar man, dat haar man heeltemal op haar kan vertrou.
Hy weet dat sy huis en boerebedryf goed versorg is. Daarom kan hy
die publieke funksie in die poorte van die stad vervul.

Wat doen die man daar in die stadspoorte? Hy is
nie ’n man wat daar gesellig by die poort sit te kuier,
terwyl sy vrou haar afsloof by die huis nie. Die poort was die
plek waar die oudstes van Israel vergader het. Dit is waar hulle
die volk geregeer het en waar die regspraak plaasgevind het. Haar
man het dus ’n belangrike publieke amp beklee.

Wel, dit alles is moontlik deur die troue sorg
van sy vrou by die huis. Hierdie man sit in die poorte en word geëer,
grootliks vanweë die vrou wat God vir hom gegee het. Is dit nie
dikwels die geval nie, dat groot manne groot is vanweë die
grootheid van hul vroue? Hierdie deugsame vrou ken haar plek,
haar onderdanige, maar tegelyk baie belangrike plek. Sy is
werklik ’n hulp wat by haar man pas. Daarom lees ons dat
haar man op haar vertrou en dat dit hom aan wins nie ontbreek nie.
Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe.

Laat ons daarom nie dink dat die werk van
huisvroue minderwaardig is nie. Die teendeel is waar. Dit is baie
belangrike werk, van fundamentele waarde vir kerk en staat. Baie
invloedryk. Huisvroue is diegene wat so te sê gewillige, bekwame
en gedissiplineerde werkers in die kerk en in die maatskappy
produseer. Laat niemand onderskat die langtermyn effek van ma se
onderrig van haar kinders. Hierdie grootmaak van kinders, in
’n sfeer van liefde en geborgenheid, bly die kinders by in
hul verdere lewe. Huisvroue produseer toekomstige leiers en stel
mense in staat om leiers te wees. Wat ’n geweldige
verantwoordelikheid en bydrae!

Hierdie vrou is ’n ware tuisteskepper.
Hoewel sy in ’n heel ander kulturele situasie geleef het,
bly die algemene prinsipes van krag. Dit is ook duidelik wanneer
alles saamgevat word in vers 27: "Opmerksaam gaan sy die
werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy
nie." In Spreuke 14:1 lees ons: die wysheid van die vroue
bou die huis. Wel, dit is wat hierdie vrou doen, sy bou die huis.
Sonder haar liefde en trou sou die huis nie ’n tuis wees nie.

Maar wie kan hierdie besonder vrou ewenaar? Sy
lyk so volmaak, begaaf en bekwaam. Dit sou ’n mens jaloers
kan maak of minderwaardig laat voel. Ons moet egter onthou dat
ons nie die dinge presies so hoef te doen soos sy dit gedoen het
nie. Die meeste vroue van vandag is nie in dieselfde kulturele en
finansiële posisie as haar nie. Die manier waarop ’n vrou
en moeder haar taak vervul het ook te make met die posisie van
haar man en die behoeftes van die gesin. Bowendien, is nie elke
vrou so sterk en bekwaam soos hierdie vrou nie. God gee
verskillende talente en bekwaamhede. Ook verskillende beperkings.

Tog bly die algemene prinsipe van hierdie teks
geld. Die vrou moet nie daarop gespits wees om ’n eie
loopbaan op te bou nie. Haar prioriteit is haar gesin. God het
haar in die eerste plek as vrou en moeder aangestel. Dit is haar
eerste roeping en eer. Daarom sal die huisvrou ook baie goed moet
nadink voordat sy werk buite die huis aanvaar of soek. Hierdie
primêre verantwoordelikheid mag nie verwaarloos word nie. Sy is
die vrou en die ma.

Die taak van die vrou by die huis het op ’n
bepaalde manier beperkter geword as in die tyd van die Skrif.
Allerlei werksaamhede wat toe deur die vroue tuis gedoen is, word
nou oorgeneem deur instansies in die maatskappy (bv vervaardiging
van klere en die aankoop van kos wat elders gegroei en berei word).
Bowendien het die moderne huisvrou baie meer hulpmiddele as vroeër.
Dink bv aan die wasmasjien, stofsuier, mikrogolfoond, koelkas en
elektriese naaimasjien. Miskien dat dit ook daaraan bydra dat
huisvroue ook bepaalde besighede buitenshuis soek. Maar vergis u
nie. Baie take in die huis het wel ligter geword. Maar die taak
van die opvoeding het aanmerklik swaarder geword. Bowendien, kan
’n mens sê dat die tendens om buite die huis te gaan werk
in die algemeen nie meer geluk gebring het nie, nie meer stabiele
gesinne of meer aangepaste kinders gebring het nie. Die finansiële
wins is dikwels ten koste van die gesonde ontwikkeling van die
kinders en ware geestelike geluk.

Let op dat hierdie vrou in beslag geneem word
deur wat baie mense as minderwaardige take beskou. Sy is die
eerste uit die bed. Sy maak die ontbyt gereed. Sy kla nie, maar
doen met blydskap en ywer haar werk. "Sy lag oor die dag wat
kom" vers 25. Sy is ’n son in huis.

Tog is sy nie slegs na binne gerig nie. Sy werk
met haar vensters en deure oop na die wêreld as ‘t ware.
Tuis funksioneer as haar hoofkwartier. Maar sy rus haar man en
kinders toe vir die wêreld. En waar moontlik is sy betrokke by
die nood van ander. So lees ons in vers 20: "Sy brei haar
handpalm uit na die ellendige, en sy steek haar hande uit na die
behoeftige." Met ons huidige hulpmiddels is die moderne
vroue des te meer in staat om hierdie diakonale take binne of
buite die kerklike gemeenskap aan te vat. Of is dit vir ons
belangriker om ’n eie loopbaan op te bou en geld te maak?

Die ywerige huisvrou van Spr 31 stel ook
werklik belang in die geestelike welsyn van haar gesin. "Haar
mond maak sy oop met wysheid (sy laat haarself vul met die
wysheid van God), en vriendelike onderrigting is op haar tong (vers
26). Sy uit geen onwyse woorde nie. Sy leen haarself nie vir
skinder en laster nie. Wanneer sy praat dan bou sy op sodat ander
daardeur bemoedig word. Daarom hou die kinders ook van haar.

Wel, gemeente, hoe kan die vrou wees wat sy is
en doen wat sy doen? Wat is haar geheim? Dit bring ons by die
tweede punt: haar geheim.

Haar geheim is dat sy die Here vrees. Dit is
die beslissende verskil met ander vroue. Die digter waarsku ons
teen bevalligheid en skoonheid. Vandag kry uiterlike skoonheid
alle aandag. Kyk maar na al die advertensies in die koerante.
Alles word gefokus op die menslike liggaam, die mooi figuur. As
sodanig is dit nie verkeerd om aan ons uiterlik aandag te gee nie.
Ons liggame is tempels van die Heilige Gees. As christene wil ons
ook die heerlikheid van ons Skepper weerspieël in ons uiterlike
vertoning. Dit word ook veronderstel in vers 22 waar daar staan
dat haar tabberd van fyn linne en purper is.

Die Bybel wys nie die dra van mooie klere af
nie. As ons maar nie daarin opgaan nie, asof dit die belangrikste
sou wees. Uiterlike skoonheid, ’n mooi figuur is op sigself
slegs oppervlakkig, verganklik. Baie mans het dit tot hul eie
verdriet ontdek. As jy jouself slegs deur die uiterlike skoonheid
laat lei dan sal jy bedroë uitkom. Dan kry jy dalk wat jy wou hê,
maar dan word jy wel jou lewe lank herinner aan die les van die
teks: "Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is
nietigheid."

Die skoonheid van die ware huisvrou lê nie in
haar natuurlike kwaliteite en moontlikhede nie. Dit lê in haar
vrees van die Here, in haar godsvrug, haar heiligheid. As ek die
Here vrees, dan ken ek my eie plek en dan respekteer ek die plek.
Ek neem dan God se woorde ernstig waarin Hy my vertel wat Hy wil
hê dat ek sal doen as man of vrou. Ek aanvaar die taak wat God
my as vrou en moeder gee, in al sy verskeidenheid en skoonheid.
Ek waardeer die verskillende posisie en verantwoordelikhede wat
God vir man en vrou beskik het. Die man as hoof van sy vrou en
die vrou as hulp wat by hom pas. Daardeur kom beide die man en
die vrou tot hul reg. Daardeur ontvang beide hul eer.

Broeders en susters, die vrees van die Here
bevry ons van selfsug, dat ons alleen oor onsself bekommer is,
oor eie eer en posisie. Godsvrug stel my in staat om daar vir
ander te wees, om ander te dien. Die man, die vrou, die kinders
die, personeel, selfs die samelewing baat daarby. Die huisvrou
self blom daardeur. Ek voel myself dan nie minderwaardig nie. Ek
ervaar die sorg vir my huis nie as ’n gemors van my tyd en
talente nie. Nee, ek sien dit as ’n eer waartoe God my nou
roep. Ek sien ook die veelsydige eise wat aan my gestel word. Ek
moet op alle markte tuis wees. Ek moet kreatief wees, ywerig en
wys. Ek moet kan organiseer. Ek moet geld kan beheer. Ek moet as
verpleegster, sielkundige, trooster en onderwyseres optree ens.
Daar is soveel wat my aandag vra en om oplossings wag. Gemeente,
as u besef wat almal in die christelike gesin gebeur, dan sal u
nie min dink van die werk van die mas, die huisvroue nie. Probeer
dit maar vir ’n rukkie en u sal dit ontdek.

Om die huis te beheer is ’n gekompliseerde
besigheid. Tenminste vir die godvresende vrou wat die taak, in sy
veelsydigheid, raaksien,. Dit omvat alles. Ek sit dan nie gevange
binne die vier mure van my huis nie. Ook al is my huis my
koninkrykjie as ‘t ware. Ek is veelsydig. Ek tree op na
binne en na buite. In die sorg vir my huis het ek God se
koninkryk op die oog. Daarom sien ek ook die nood van ander, van
die kerk, die land en die maatskappy. So ’n godvresende
huisvrou is waarlik ’n werkende vrou in die breedste sin van
die woord. Geen betaalde werk kan dit oortref nie.

Maar hoe kan ’n vrou so ’n
veeleisende en veelsydige taak vervul? Is hierdie vrou nie te
ideaal, onwerklik nie. Wat van hulle wat worstel met ’n
slegte gesondheid, hulle wat hulself voortdurend swak en moeg
voel? In ’n sekere sin ontvang ons inderdaad ’n ideale
portret. Solank ons maar nie dink dat dit onwerklik is nie. Want
hier ontvang u ’n tekening van ’n vrou wat deur Jesus
Christus vernuwe is. Reeds in die Ou Testament sien ons God in
Christus besig met die herskepping van die lewe, ook van die
huwelikslewe.

Hierdie vrou word geteken volgens God se
vernuwende krag. Sy is nie volmaak nie. Maar sy gaan na God toe,
sy leef en werk met God. Sy soek Hom voortdurend in gebed. So
ontvang sy vir haar gebreke en sondes vergewing deur die bloed
van Christus. So ontvang sy ook kragte van bo om weer aan te gaan
met die taak waartoe God haar roep. Haar taak in die gesin is
immers geen keuse van haarself nie, maar ’n roeping van
Godsweë.

Wat doen jy dan as jou krag en geduld opraak?
As die lyk asof jy in die gesin niks meer kan verdra nie. ’n
Godvresende vrou soek dan God op. Jy stort jou hart uit vir die
Here. Jy smeek vir sy genade en Gees. Ja, jy vra om kragte om
jouself weer te beheers en om wysheid om die situasie te hanteer.
God wil sulke godvresende gebede verhoor. Hy stel jou weer in die
ruimte. Jy leer opnuut om verby die vervelende momente te kyk en
die doel van jou werk raak te sien. Naamlik om namens God ’n
tuis te skep vir man en kinders, ’n oase van rus in ’n
onrustige, gejaagde wêreld, om kinders groot te bring met
gesonde liggame en ’n gedissiplineerde gees sodat man en
kinders werklik dienaars kan wees in God se koninkryk.

God wys ons almal opnuut ons plek en taak. Of
ons nou getroud of ongetroud is, man of vrou. En Hy sit ons aan
die werk. Deur sy Gees bekwaam Hy ons om die plek in te neem. So
dat ons kan begin om die rol te vervul wat Hy vir ons bepaal het,
tot sy eer en vir die welsyn van ons gesinne en die samelewing.

Hulle wat dit gewillig en trou doen verdien lof.
So kom ons by die derde punt: haar loon.

Die huisvrou wat haarself wy aan haar gesin,
kom nie tekort nie. Inteendeel! Daar is geen groter eer vir haar
as dat haar man geëer word nie. As dit goed met sy bedryf gaan,
dan is sy bly. As dit goed met die kinders gaan, en hulle hul op
’n gepaste en christelike manier gedra, dan is sy die mees
gelukkige vrou. Juis omdat sy nie daarop uit is om haarself op
die voetstuk te sit, sit haar man en haar kinders haar op die
voetstuk. Haar kinders is trots op ma. Hulle hou daarvan om haar
te prys. Daar is geen ma soos u nie, so lief en sorgsaam. En haar
man is ook vol lof: jy is die beste van die wêreld. "Baie
dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal."
(vers 29).

En dit is nog nie alles nie. Haar eie werke
bring vir haar lof in die poorte van die stad. Sy word van alle
kante geprys. Mense se vir haar man: wat ’n flinke vrou het
jy. Vir die kinders word gesê: wat ’n liewe en wyse ma het
julle.

Ma hoor dit van alle kante: wat ’n gawe
kinders het jy, wat ’n pragtige gesin. Daar is geen einde
aan die lof nie. Dit is die loon vir hulle wat in geloof hulself
verloën om goed te sorg vir hul mans en gesin. Wat dit as die
prioriteit sien, wat God vir hul gegee het. Dit is die loon van
ware godvresende huisvroue.

Broeders en susters, neem hierdie les ter harte.
’n Vrou wat die Here vrees, sy moet geprys word. Die vrees
van die Here, dit is beslissend, dit is die geheim van ’n
ware huisvrou. Dit is wat ons jong mans moet soek in hul maat.
Dit is wat ons meisies en vroue moet sien as die belangrikste van
hul lewe. Daardeur bekyk jy die dinge anders en gedra jy jou
anders. U weet self wel dat by enige werk jou houding teenoor die
werk bepalend is. ’n Positiewe christelike instelling maak
so ’n verskil.

Laat julle nie bedrieg deur uiterlike skoonheid
en ’n mooi voorkoms nie. Dit is slegs uiterlik en verganklik.
Soek na die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en
stille gees, wat baie kosbaar is voor God (1 Pet 3:4). Met die
geestelike skoonheid sal jy ’n seën wees vir almal rondom
jou, in jou gesin, in die kerk en in die samelewing.

Geliefdes laat ons eer wat God self deur Jesus
Christus in eer herstel het, naamlik die christelike gesin. En
laat ons eer gee aan hulle wat eer verdien: die godvresende
huisvroue en mas.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)