Die heilige algemene christelike kerk.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-09-10
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 21
Preek Inhoud: 

Sondag 21
Ds C Kleyn - Sondag 10
September 2000

Lees: Johannes 10:1-30; Sondag
21.
Sing: Ps 122:1,2; Ps 95:4,5; Ps
100:1,2; Ps 23:1-3; Ps 48:4,5.

Tema: Die heilige algemene christelike kerk.

  1. Christus roep sy skape saam;
  2. Die skape luister na sy stem.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

As ons oor die kerk praat dan moet ons terug na
die basis, terug na die Woord van God. Oor die kerk heers
allerlei misvattings. Die praktyk blyk so weerbarstig te wees dat
mense verwar is, dat mense in al die verdeeldheid en
verskeidenheid geen weg meer weet nie. Wat moet ons byvoorbeeld
maak met al die kerke wat hulself gereformeerd noem?

Die gevaar dreig dat ons teveel uitgaan van die
verworde situasie. Dit belemmer dan ons sig op die werklikheid
van Christus se kerk. Op grond daarvan vorm ons ons eie idees oor
wat die kerk is en waar die kerk te vind is. Dan kan ons idees of
ons interpretasie van die belydenis maklik gaan heers oor die
Woord van God. Dit kan tot twee uiterste lei. Aan die een kant
kan dit daartoe lei dat ons baie van Christus se werk van
kerkvergadering diskwalifiseer. Dit kan gebeur dat ek die
kenmerke van die kerk op so ’n absolute manier hanteer dat
ek moet konkludeer dat daar geen troue kerke oorgebly het nie of
dat die VGKSA die enigste ware kerk in Afrika is. Ander kerke of
Christene word dan amper outomaties afgeskryf as ontrou.

Om die kenmerke van die kerk op ’n
intellektualistiese en absolute manier te hanteer sou beteken
– as ons tenminste konsekwent is – dat die kerk te
Korinte en die 7 kerke van Klein Asië met hul gebreke valse
kerke was. Dit wys dat so ’n benadering daarop neerkom dat
ons wyser as God wil wees.

Die ander uiterste is dat mense dink dat alles
goed is, solank as dit homself as Christelik voorstel. So lank as
mense sê dat hulle in Christus glo sou alles in orde wees. Hier
word die norme van die Skrif vir die kerk genegeer. Alle
kerkgrense word oorboord gegooi. Ook hier geld dat ons ons wyser
as God gedra.

Daarom is ons bly om terug na die woord van God
te mag gaan. Die kerk is ’n saak van die geloof. Dit is nie
’n saak van gevoelens of opinies nie. Ek kan my nie laat lei
deur wat ek sien of ervaar nie, of deur wat histories gegroei het
nie. Ons moet ons laat lei deur wat God in sy Woord bekendgemaak
het.

Ek verkondig die heilige algemene christelike
kerk.

Ons wil op twee dinge let:

  1. Christus roep sy skape saam
  2. Die skape luister na sy stem

Wanneer die Skrif oor die kerk praat, dan roem
hy beslis nie in die werk van mense nie. As dit van mense
afhanklik was, dan sou daar niks van die kerk teregkom nie.
Paulus siteer uit die Ou Testament wanneer hy sê: "Daar is
niemand regverdig nie, selfs nie een nie …Hulle het almal
afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen
nie, daar is selfs nie een nie." ( Rom 3:10-12). Ja, selfs
nie een nie. Selfs nie die groot kerkbouer Petrus, die rotsman,
die fondament van die kerk nie. Ook nie u en ek nie.

Ons praat daarom nie oor ons werk of ons kerk
nie. Die Kat praat juis oor die Seun van God wat vir Hom ’n
gemeente vergader. Ons bely Christus se werk, Christus se kerk.
Uit onsself kan ons nooit die kerk vergader nie. Van nature is
ons geneig om die gemeenskap af te breek. Binne in ons is daar
die kragte van ontbinding. Daarom kan ons slegs deur Christus
genade ’n positiewe bydrae lewer aan die bou van die kerk.
Ons is heeltemal afhanklik van Christus se genade en Gees.

Daarom bely ons ook die vergewing van sondes.
Om deel te wees van die gemeente wat tot die ewige lewe
uitverkies is, is slegs genade. Dis op grond van die voldoening
van Christus waardeur God al my sondes en ook my sondige aard
nooit meer wil dink nie. Is dit dan nie geweldig om te weet dat
dit Christus is wat sy kerk vergader en dat ons by Christus mag
behoort nie?

Hierdie boodskap kom duidelik na ons toe vanuit
die skrifgedeelte wat ons gelees het. Christus noem Homself die
goeie herder. Buite Hom is daar die slegte, valse herders, wat
die skape mislei en verstrooi. In teenstelling tot die valse
herders het die goeie Herder hart vir sy skape. Hy gee om vir die
skape. In alles soek hy hulle welsyn, hul behoud. Daarom lê hy
sy lewe af vir die skape. Om hulle te red. Watter herder sou dit
vir sy skape doen?

Ek is nie sommer ’n skaap van Christus nie.
Ek is nie sommer ’n Christen nie. Daarvoor moes eers die
bloed van Christus vloei tot vergewing van sondes. Daarom noem
die NGB in art 27 die kerk ’n heilige vergadering van almal
wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in
Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël
deur die Heilige Gees. Daarom sê art 29 dan ook van die lidmate
van die kerk, van die Christene, dat hulle altyd weer hulle
toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en
gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die
geloof in Hom vergewing van hulle sondes het.

Christus noem homself ook die deur van die
skape. Slegs in Christus kan ’n mens lewe en oorvloed hê.
Hoe onbarmhartig is dit dan om te doen asof mense ook sonder
Christus gered kan word. Dis iets wat ons vandag dikwels moet
hoor of lees. Christus is egter die deur. Slegs deur Hom kan ek
as skaap die veilige omheining van die skaapstal ingaan. Daar
word ek beskerm en onderhou teenoor dreigende gevare. Die skape
gaan ook deur die deur Christus buite toe, na die weivelde van
lewe en oorvloed. Kyk maar na vers 9: "Ek is die deur; as
iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en
uitgaan en weiding vind."

Christus noem ook ander skape wat nie aan
hierdie stal behoort nie. Christus moet hulle ook lei en hulle
sal na sy stem luister en dit sal wees een kudde, een herder.
Christus se herderlike werk gaan ook uit na hulle wat nog nie by
die kudde is nie, maar daar wel moet wees. Hy sien al sy skape
voor Hom, almal wat die Vader aan Hom gegee het, om hulle te red.
Dis wat ons Kat bely met die woorde: Dat die Seun van God uit die
hele menslike geslag vir Hom ’n gemeente wat tot die ewige
lewe uitverkies is, van die begin van die wêreld af tot die
einde toe vergader, beskerm en onderhou.

Let op die teenwoordige tyd. Christus is besig
om te vergader, te beskerm en te onderhou. Die kerk is nie
staties nie, maar ’n dinamiese saak. Die fondament is vas,
onbeweeglik. Maar die gebou self is nog in aanbou. Dit beteken
dat daar nog voortdurende aksie en beweging is. Christus doen
voortdurend ’n beroep op u en my om ons as lewende stene te
laat opbou tot ’n geestelike huis. Daarom moet ons as kerk
ons voortdurend bly reformeer. Anders kan dit gebeur dat dit wat
vandag nog deel van die kerk is, more miskien nie langer by die
kerk behoort nie. Die teenoorgestelde kan ook waar wees. Kerke
wat vandag ontrou is kan deur God se genade trou word.

Die algemene Christelike kerk word dikwels
geskei van die plaaslike kerk met sy ampte en dienste. Die
universele kerk word dan dikwels beskou as onsigbaar. Dit word
dan uitgespeel teen die plaaslike instituut van die kerk wat
sigbaar sou wees. Die onderskeiding tussen sigbare en onsigbare
kerk het baie skade gedoen. As ’n mens die twee van mekaar
losmaak dan lei dit amper vanself tot die gedagte dat dit nie
saak maak of ’n mens by ’n plaaslike kerk behoort nie,
so lank as ’n mens maar lid is van die onsigbare kerk, wat
dit ook mag wees.

Maar gemeente, kan ’n mens eintlik wel
spreek van ’n onsigbare kerk? ’n Skaapstal, ’n
vergadering, die huis van God, God se bruid is tog sigbaar? Dis
waar dat ek dit nog nie volkome kan oorsien nie. Ek sien slegs
’n klein gedeelte daarvan. Maar maak dit die kerk onsigbaar?

Die universele kerk is plaaslik sigbaar. Hoe
vergader Christus mos sy kerk? Is dit vaag en onsigbaar? Nee,
juis nie, dit is baie konkreet en sigbaar. Joh 10 vertel ons dat
Christus sy eie skape roep en hulle lei. Hy loop voor hulle uit
en die skape volg Hom, omdat hulle sy stem ken (vers 3,4). Ja,
die stem van die Herder is belangrik. Hoe dikwels word in Joh 10
nie gepraat van sy stem nie. Deur sy stem roep Hy sy skape saam.
En hoe hoor ek na Christus se dood en hemelvaart sy stem? In die
Woord van Christus. Christus het daarvoor gesorg dat sy stem nog
steeds gehoor kan word. Hy het sy dissipels sy woord gegee. Hy
het vir hulle sy Gees gegee om dit aan hulle te verkondig. U kan
die stem van die goeie Herder nog steeds hoor. Waar dan? Daar
waar die evangelie van Christus in getrouheid verkondig word.

Christus is die deur van die skape. Christus
maak gebruik van mense, onderherders. Maar om ’n ware
onderherder te wees moet ’n mens via Christus die deur na
die skape toe. Kyk maar na Joh 10:1, 7 & 8. Christus stel
homself voor as die deur waardeur ’n mens wettig die
skaapstal ingaan. Ware onderherders gaan na die skape met die
Christus van die Skrifte. Dit was reeds die ellende van die Ou
Testament dat die geestelike leiers met hul eie gesag en met hul
eie boodskap gekom het. Daarom word hulle diewe en rowers genoem.
Hul stem was nie die stem van die Herder nie. Ware onderherders,
ware ampsdraers, leraars word herken aan hul stem. Hulle kom deur
die deur Christus as ‘t ware. Hulle kom in die naam van
Christus en met die evangelie van Christus. In hul stem herken
’n mens die stem van die goeie Herder. Deur hulle vergader
Christus sy kerk.

Die opgestane Christus se daarom vir Petrus:
Pas my skape op, laat my skape wei (Joh 21). Namens Christus moet
die apostels sy kudde vergader. Christus se kerk is gebou op die
fondament van die apostels en profete (Ef 2:20). Die apostel
Paulus reis na heidense volke met die evangelie van Christus. Hy
laat Christus se stem hoor. Daardeur vergader Christus sy skape
op allerlei plekke. Paulus mag werk aan die konstruksie van die
een kerk op die een fondament. Daarom herken ’n mens bv in
die kerk van Efese die algemene christelike kerk. Christus laat
die kerk nie alleen agter met die verdwyning van die apostels nie.
Hy gee herders en leraars. In sy afskeidswoord aan die ouderlinge
van Efese sê Paulus: "Gee dan ag op julleself en op die
hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel
het, om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur
sy eie bloed verkry het." (Hand 20:28).

Laat ons daarom nie die sogenaamde onsigbare wêreldwye
kerk skei van die sigbare plaaslike kerk onder sy ampsdraers nie.
Christus praat van die een kerk uit alle volke en tale gefundeer
op die leer van die apostels en profete. Christus praat
tegelykertyd van die plaaslike kerk as deel van die algemene kerk.
Hy noem die gemeentes van Galasië, die sewe gemeentes in Asië:
die gemeente in Efese, in Smirna, in Pergamus, in Thiatira, in
Sardis, in Filadelfia en in Laodicea (Openb 1). Hy noem die
plaaslike ampsdraers, die 7 engele van die 7 gemeentes. Dit is
hoe Christus sy universele kerk vergader, beskerm en onderhou. Ek
kan daarom nie sê: dit maak nie saak of ek lid is van ’n
plaaslike kerk nie, ek behoort immers by die algemene christelike
kerk. As ek by die wêreldwye kerk wil behoort, dan moet ek
myself plaaslik deur Christus laat vergader. Die stem van die
Herder is immers nie vaag nie, verbind aan ’n onsigbare
werking van die Heilige Gees nie. Nee, die Herder bly sy skape
saamroep en onderhou op ’n baie konkrete manier. Ek kan dit
hoor en sien. Hoe dan en waar dan?

Daar waar sy volk in die weiveld van sy
evangelie gelei word dmv getroue onderherders. Daar waar Christus
sy volk deur die deur van die skaapstal lei sodat hulle lewe en
oorvloed kan hê, sodat hulle kan geniet van die vergewing van
sondes en van die begin van die ewige lewe. Daar waar die
gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik met die Here Christus
gemeenskap het en aan al sy skatte en gawes deel het.

Ja, dis inderdaad belangrik dat u waarlik deur
die geloof met Christus gemeenskap het. Dit durf u tog van uself
te sê? Sonder ’n lewende verhouding met die Christus staan
u buite. Maar hoe kom u tot geloof? Nie sonder die evangelie van
Christus nie. En hoe word die geloof onderhou? Tog nie buite die
kerkvergaderende werk van Christus nie? Buite die kerk hoef u die
weldade van Christus nie te soek nie. God het sy woord van lewe
aan Sy kerk toevertrou. Waar sien en ontvang ek die sorg van
Herder Christus? Daar waar sy Woord getrou verkondig word. Waar
die lidmate deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware
geloof verenig word. Daar waar hulle mekaar ondersteun, vermaan
en vertroos sodat ons saam by Christus bly. Daar waar die
christelike tug volgens Christus se woord bedien word.

Waar die stem van die goeie Herder nie meer
gehoor word nie, daar word die skape opgeroep om gehoorsaamheid
te weier. In Joh 10 praat Christus van diewe en rowers wat nie by
die deur in die skaapstal ingaan nie. Mbt hulle sê Christus in
vers 5: "Hulle (d.i. die skape) sal ’n vreemde nooit
volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die
vreemdes nie ken nie." Met hierdie woorde roep Christus die
skape weg van die valse herders wat op eie gesag spreek en met
’n eie boodskap kom en so die skape verstrooi pleks van om
hulle te vergader.

Daarom is daar die onderskeid tussen die ware
en die valse kerk. In die Bybel lees ons reeds van twee kerke wat
teenoor mekaar staan. Jerusalem teenoor Bethel. Die profete van
die Here teenoor die valse profete. Die gemeente wat deur die
apostels vergader word teenoor die mense wat deur die Joodse raad
vergader word. Hulle maak almal aanspraak daarop dat hulle die
Here dien. Maar wat sê die apostel Petrus in sy pinksterpreek?
"Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag" (Hand 2:40).
Dis dus ’n oproep tot afskeiding en terugkeer.

Christus waarsku ons vir valse profete wat in
skaapsklere na ons kom en van binne roofsugtige wolwe is (Mt 7:15).
Paulus praat van bedrieglike arbeiders wat hulle voordoen as
dienaars van geregtigheid (2 Kor 11:13-15). Hulle noem hulself
christene, teoloë. Hulle dink dat hulle God ’n diens bewys.
Maar hier geld die woorde van Mt 7:21: "Nie elkeen wat vir
My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele
nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is."
Laat jou nie mislei deur indrukwekkende dade in diens van
Christus nie. Christus vervolg: Baie sal in daardie dag vir My sê:
Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam
duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan
sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van
My, julle wat die ongeregtigheid werk! (Mt 7:22,23).
Gehoorsaamheid word dus gevra. Dit is die norm. Gehoorsaamheid
aan die Woord van God. ’n Luister na die stem van Christus.

Broeders en susters, wanneer u geroep word om
die kerk te onderskei dan moet die vraag nie wees: is daar nog
sommiges wat gehoorsaam is nie. Die vraag moet wees: is die kerk
in sy amptelike vergadering en dienste gehoorsaam aan die woord
van God? Word die kerk vergader op die een fondament Jesus
Christus soos Hy in die Skrifte geopenbaar is? Kom die
onderherders werklik met Christus se woord en in sy Naam? Word
Jesus Christus as die enigste Hoof erken en gevolg? Hieraan kan
ons met sekerheid die ware kerk uitken. Die kerk word ’n
pilaar en grondslag van die waarheid genoem (1 Tim 3:15). Dit
moet ’n mens beskerm teen elke wind van lering (Ef 4:14).
Daarom moet die valse leer en valse leraars onomwonde afgewys
word.

Christus vergader, beskerm en onderhou sy kerk
deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof. Dit
beteken nie dat kerk soos dit plaaslik vergader word reeds
volmaak is nie. Huigelaars is nog met die goeies vermeng. En die
ware gelowiges het nog hul swakhede en gebreke. Groot foute kan
in die kerk gemaak word. Sonde kan nog ’n groot invloed hê.
Kyk maar na die kerk te Korinte en die 7 gemeentes in Asië met
hul tekortkomings en sonde. ’n Mens kan die kerke nie sommer
vanweë hul foute afskryf nie. Christus kom met sy woord na hulle
toe en roep hulle op tot bekering. Slegs wanneer hulle weier om
na die oproep te luister en die woord van Christus weerstaan, hou
hulle op om kerk te wees. Dit is wat Christus vir die gemeente te
Efese ook sê: Bekeer jou … Anders kom Ek gou na jou toe en
sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie."
(Openb 2:5). Dis opvallend dat Christus dit sê vir ’n
gemeente wat juis sterk in leer en tug is maar wat die eerste
liefde verlaat het. ’n Kerk met ’n soliede leer en tug
kan ’n sinagoge van satan word as die liefde ontbreek. Laat
ons gewaarsku wees.

Geliefdes, die kat eindig met die belydenis dat
ek van die kerk ’n lewende lid is en ewig sal bly. Let op
die woorde: ’n lewende lid. Formele, uiterlike lidmaatskap
van ’n plaaslike kerk sê niks nie. Dooie lidmate kan op die
kerk se lede lys opgeskrywe staan. Maar hulle behoort nie by
Christus se kerk nie. Nee, ek moet ’n lewende lidmaat wees.
Ek moet opreg die goeie Herder ken en volg, luister na sy stem,
op Hom vertrou, Hom volg in sy werk van kerkvergadering.

Daarom broeders en susters, neem Christus se
werk van kerkvergadering ernstig. Wys jouself as lewende lidmate
daarvan, as lidmate wat in vlam staan vir die Here Jesus en sy
kerk. Dan kan julle geniet van die vrug van Christus se werk:
lewe en oorvloed. Aanskou, tussen die verwarring en gebrokenheid,
die kerk van Christus, soos Hy besig is om dit deur sy Gees en
Woord te vergader. Laat Christus se belofte en bevel julle lei.
Luister na sy stem en volg Hom waar Hy ook roep.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)