Die posisie van die gehude vrou.

Minister: 
Ds C Kleyn
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-09-24
Text: 
Efésiërs 5
Preek Inhoud: 

Efésiërs 5:21-22
Ds C Kleyn - Sondag 24
September 2000

Lees: 1 Kor 11:2-16; Efésiërs
5:17-33; 1 Petrus 3:1-7.
Sing: Apostoliese
Geloofsbelydenis; Ps 135:1-3; Ps 119:10-13; Ps 123:1-2.

Tema: Die posisie van die gehude vrou.

  1. Haar gelykwaardigheid aan die man;
  2. Haar onderdanigheid aan die man.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

By elke huweliksbevestiging word die bruidegom
as volg aangespreek: "Bruidegom, u moet weet dat God u as
hoof van die vrou gestel het. U moet u vrou liefhê soos u eie
liggaam, soos Christus sy gemeente liefhet en Homself vir haar
geoffer het. U moet haar verstandig lei, onderrig, vertroos en
beskerm ens. Vir die bruid word gesê: Bruid, u moet u man liefhê
en aan hom onderdanig wees soos die kerk van Christus onderdanig
is. Aanvaar sy leiding en help hom in alle goeie dinge ens.

Wat dink u van hierdie wedersydse verpligtings?
Pas dit nog wel in hierdie geëmansipeerde tyd? Glo ons die
woorde nog wel? Glo ons nog in die hoofskap van die man en die
onderdanigheid van die vrou? Of is dit so dat ons die woorde
aanhoor terwyl ons met ons harte en dade anders wys?

Vandag is elke gedagte aan die hoofskap van die
man en aan die onderdanigheid van die vrou uit die mode. Wie durf
dit nog stel in ’n tyd van vryheid en gelykheid? As jy dit
wel durf dan kan jy baie protes verwag. Die laaste weke het
verskillende artikels en briewe in die Beeld hieroor verskyn.
Daar word beweer dat die taal van die huweliksformulier nie meer
sin maak vanuit die hedendaagse gelykheid in die
huweliksverhouding nie.

Dit sou die toenemende oortuiging onder baie
christene wees dat liefde en respek in hul verhoudings ’n
gelyke rolverdeling vereis. Pleks van die tradisionele
rolverdeling beskou die eggenotes hulself as gelyke vennote. In
’n hoofartikel word gestel dat vroue oor so baie dekades
heen die vernedering moes verduur om, kerklik gesproke, as die
man se ondergeskikte beskou te word. Die onderdanigheid van die
vrou word gesien as onderdrukking en vernedering. Die hoofskap
van die man word gelykgestel met baasskap wat die oorsaak sou
wees van kindermolestering, ernstige huishoudelike geweld en vele
ander euwels..

Gemeente, in verband met die heersende
opvattings oor hoofskap en onderdanigheid is dit belangrik dat
ons ons gedagtes hieroor toets aan die skrifte. Is ons gedagtes
in ooreenstemming met die Skrifte? Hoe spreek die Skrifte hieroor?
Wat bedoel die Skrif met die hoofskap van die man en die
onderdanigheid van die vrou? Moet die vrou haar in alles rig na
wat die man beslis? Mag die man as hoof gesag oor sy vrou laat
geld? In ander woorde: is hier sprake van ’n
gesagsverhouding?

Laat ons luister na die Skrifte.

Ek verkondig aan u die posisie van die gehude
vrou.

  1. Haar gelykwaardigheid aan die man.
  2. Haar onderdanigheid aan die man.

Voordat Paulus praat oor die onderdanigheid van
die vrou roep hy ons op om aan mekaar onderdanig te wees: "terwyl
julle aan mekaar onderdanig is in die vrees van God."
Hierdie vers is in die eerste plek verbind aan die voorgaande.
Alle werkwoorde van die verse 19-21 is afhanklik van die opdrag
van vers 18: "word met die Gees vervul." Wanneer jy met
die Gees vervul is, dan spreek jy onder mekaar met psalms en
lofsange en geestelike liedere. Dan sing en psalmsing jy in jou
hart tot eer van die Here. Dan dank jy God die Vader altyd vir
alles. Dan is jy aan mekaar onderdanig in die vrees van God. So
vorm vers 21 ’n afsluiting van daardie gedeelte.
Tegelykertyd is vers 21 duidelik verbind aan wat volg. Die oproep
tot onderlinge onderdanigheid lei tot die eis van onderdanigheid
van vroue, kinders en slawe. So mag ons vers 21 sien as ’n
oorgangsvers, ’n brug tussen die twee gedeeltes van Paulus
se brief.

Wanneer die Gees die gemeente vervul, dan is
ons ook onderdanig aan mekaar. Christene behoort aan mekaar
onderdanig te wees. Ek mag as Christen nie selfsugtig wees nie,
nie my eie belange vooropstel nie, sodat alles sou moet gebeur
soos ek dit wens nie. Ek mag ook nie die ander in hoogmoed afwys
of links laat lê nie. Dis soos Paulus aan die Filippense skrywe.
Ek moet nederig genoeg wees om die ander hoë te ag as myself en
om na sy belange om te sien. Dit in navolging van Christus.
Christus het Homself ontledig deur die gestalte van ’n
dienskneg aan te neem. Hy het Homself verneder deur gehoorsaam te
word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis (Fil 2:3-8).

Wees mekaar onderdanig in die vrees van God,
dws in verwondering en eerbied oor wat God vir ons gedoen het.
Die grondreël geld vir elkeen van ons. Die reël geld vir vroue,
maar ook vir manne, vir kinders, maar ook vir volwassenes. In die
gemeente behoort vroue aan ander vroue, maar ook aan die manne en
die kinders onderdanig te wees. Manne behoort onderdanig te wees
aan manne, maar ook aan die vroue in die gemeente. Kinders
behoort onderdanig te wees aan volwassenes, maar volwassenes ook
aan die kinders. So moet ook die ampsdraers onderdanig wees aan
hulle wat aan hul sorg toevertrou is. So allesomvattend sê
Paulus dit.

Maar hoe kan Paulus sê dat gesagdraers aan hul
onderhoriges onderdanig moet wees? Hy kan dit sê omdat die
gesagdraers geroep is om te dien. In die uitoefening van my gesag
mag ek nie as heerser wees nie, maar moet ek ’n dienaar wees
(1 Pt 5:3).

Die onderdanigheid wys op die houding van
diensbaarheid. Om mekaar onderdanig te wees wil sê dat jy
vrywillig jou onder ’n ander skik. Dws jy stel jouself tot
iemand anders se beskikking. Daaroor gaan dit. In die gemeente
behoort ons onsself beskikbaar te stel. Vrywillig. As jy sien dat
iemand jou nodig het, stel jouself dan tot sy of haar beskikking.
Dit maak nie saak wie dit is nie. Sorg daarvoor dat jy tot sy of
haar beskikking staan. Dit verwag Christus van jou.

Dit is vir ons mense beslis geen kleinigheid
nie. Dit gaan teen ons natuur in. Daar is die drang om die eerste
viool te wil speel, om die meeste te sê wil hê, om die baas te
wil speel, om te domineer. Dis moeilik, of nie soms, om mekaar se
dienaar te wees, om mekaar se voete te was. Daarom voeg Paulus
daaraan toe: "in die vrees van God" of "in die
vrees van Christus". Ons is slegs in staat om dit te doen as
ons God en Christus ken. As ons onder die indruk is van wat Hy
vir ons gedoen het. As ons sy groot verlossingswerk ken. Juis die
ontsag vir God, aan wie ek my verlossing dank, verplig my
onderlinge onderdanigheid. Ons is dienaars van mekaar om Christus
ontwil.

So roep Paulus ons in Ef 4:2 op om met alle
nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid mekaar in liefde
te verdra. Ons is immers een in die geloof. Dit is immers een
liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van
julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader
van almal (Ef 4:4-6). Voor God is ons almal gelykwaardig as
medebegenadigdes, wat ons posisie, geslag of ras ookal mag wees.
Daarom Skryf Paulus in Gal 3:28 "Daar is nie meer Jood of
Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie; want julle is
almal een in Christus Jesus."

Gemeente, hierdie teks word dikwels gebruik om
die skriftuurlike onderskeid tussen man en vrou weg te werk. Die
algemene strekking van die teks is egter dat die Christen homself
nie ten koste van die ander mag verhef op grond van ras, stand of
geslag nie. Paulus pleit daar nie vir ’n verwydering van die
natuurlike en maatskaplike verskeidenheid nie. In Christus is nie
meer man en vrou nie. Die uitdrukking ‘in Christus’ wys
op die nuwe lewe van elke gelowige. Tav die ewige heil is elkeen
voor God gelyk.

Ondanks alle verskeidenheid is daar ’n
fundamentele eenheid in die geloofsband met Christus. Die roeping
en die belofte van die evangelie geld in gelyke mate vir manne en
vroue. Dit sluit elke diskriminasie in die onderlinge omgang uit.
As ek hierdie gelykwaardigheid in Christus erken, dan kan ek nie
myself oor ander verhef nie. Uit die optrede van Paulus blyk dan
ook dat hy groot agting vir vroue gehad het. Paulus het oog gehad
vir hul insette en hul aktiewe betrokkenheid by die arbeid in God
se koninkryk (lees bv maar alle name wat Paulus in Rom 16 noem).

Wat Paulus in Gal 3:28 skryf, moet daardie tyd
rewolusionêr geklink het. Daarmee tas hy die eensydige
mannemaatskappy tot in die wortel aan. Hy verklaar sommer dat die
vrou ’n mondige en volwaardige lid van Christus se gemeente
is. Die rabbyne het die Jode geleer om elke dag te bid: "Geloof
is U, o God, dat u my nie as ’n heiden, as ’n slaaf of
as ’n vrou geskep het nie." Nou moet dieselfde Jood
leer dat hy in Christus nie meer as ’n heiden, slaaf of vrou
is nie. Wat ’n rewolusionêre gedagte.

Gemeente, hierdie gelykwaardigheid van die vrou
blyk reeds by die skepping. Die mens, man én vrou, is geskape na
die beeld van God (Gen 1:27, 5:1,2). In hierdie opsig is man en
vrou gelykwaardig. Beide is die beeld van God. Dit onderskei
hulle van die diere. Hulle is die kroon van God se skepping.
Beide word betrek by die kultuurmandaat en beide ontvang God se
seën. Dit sluit elke seksisme, elke diskriminasie van een van
die beide geslagte prinsipieel uit. Man en vrou is volkome
gelykwaardig voor God se aangesig. In sy verlossingswerk herstel
Christus die gelykwaardigheid. Dit blyk uit Gal 3:28. Dit blyk bv
ook uit 1 Pt 3:7. Daar word die manne opgeroep om verstandig met
hulle vroue te lewe en hulle eer te bewys omdat hulle ook mede-erfgename
van die genade van die lewe is.

Om sinvol oor die onderdanigheid van die
getroude vrou te kan praat moet ons eers haar waardigheid erken (Ef
2:19). Voor God is die vroue, die meisies gelykwaardig aan die
mans en die seuns. Hulle is een met alle gelowiges, medeburgers
van die heiliges en huisgenote van God. Dit sal ook die houding
van ons seuns teenoor die meisies moet bepaal.

Nou dan die tweede gedagte: die onderdanigheid
van die gehude vrou aan haar man.

"Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig."
Na die woorde van vers 21: "wees aan mekaar onderdanig,"
klink dit wat vreemd. Die opdrag van vers 21 geld tog vir beide
die man en die vrou in die gemeente? Hulle moet hulself binne die
gemeente aan mekaar gee in onderdanigheid. Hoe paradoksaal dit
ook mag klink, as lidmaat van die gemeente is die man geroep om
aan sy vrou, ’n medelidmaat, onderdanig te wees. Hy moet
haar as ’n mede-erfgenaam van die lewe behandel. Om
onderdanig te wees beteken in vers 21 immers om mekaar in liefde
te dien. Christus, as Hoof, dien sy gemeente in liefde. So moet
die man as broeder ook sy vrou in liefde dien. Die omskrywing wat
Paulus oor die taak van die man gee maak hom in feite tot iemand
wat vir sy vrou in toegewyde diensvaardigheid sorg. Hierdie
wederkerige liefde en diensvaardigheid moet ook blyk in die
huwelik waarin die man die hoof van sy vrou genoem word en waarin
die vrou aan haar man onderdanig moet wees.

Gemeente, hierdie paradoks kan ek slegs
verstaan wanneer ek duidelik onderskei tussen die persoon en sy
amp. As persoon is die man gelykwaardig aan die vrou. Maar as
ampsdraer van God is die man die hoof van sy vrou. Ook al is
manne en vroue gelykwaardig voor God, God het hulle ander
verantwoordelikhede gegee. God het ’n bepaalde orde ingestel.
In die samelewing moet daar orde wees. Die grondbetekenis van die
woord ‘onderdanig wees’ is dat ’n mens hom voeg na
die bestaande Godgegewe orde. Die vrou moet haar dus onderwerp
aan die orde wat God ingestel het. Haar onderdanigheid het dus
niks te doen met minderwaardigheid nie, asof die vrou
minderwaardig sou wees. Die vrou hoef ook nie aan haar man
onderdanig te wees omdat hy groter, sterker of wyser sou wees nie.
Dikwels is die teenoorgestelde waar. Die roeping tot
onderdanigheid is daar vanweë God se skikking, God se bevel. God
het die man tot hoof van sy vrou aangestel.

So kan die vrou haar tog nog in onderdanigheid
skik ‘terwille van Christus ‘soos aan die Here’ (vers
22) De Here Christus self het daarin ’n duidelike voorbeeld
gegee. Hoewel Hy God was, was Hy tog onderdanig aan sy aardse
ouers. Waarom moet die vrou haar dus aan haar man onderwerp?
Omdat God die man ’n gesaghebbende plek gegee het.

Twee redes word genoem vir die onderdanigheid
van die vrou. Die eerste rede is: die man is die hoof van die
vrou. Dit gaan terug op die skepping. God die Skepper het dit so
in sy skepping vasgestel. Die tweede rede is: Christus is die
hoof van sy kerk. Dit gaan terug op die herskepping, die
verlossing.

Die hoofskap van die man word dus as eerste
rede vir die vrou se onderdanigheid genoem. Die oorsprong daarvan
word hier egter nie uitdruklik vermeld nie. Dit noem Paulus in 1
Kor 11:3-12 en 1 Tim 2:11-13. In beide gedeeltes verwys Paulus
terug na die skepping. In 1 Kor 11 motiveer Paulus die vrou se
onderdanigheid deur te sê: "die vrou is die heerlikheid van
die man. Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit
die man. Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape
nie, maar die vrou ter wille van die man." (1 Kor 11:7-9).
In 1 Tim 2:13,14 motiveer Paulus die onderdanigheid so: "Want
Adam is eerste gemaak, daarna Eva. En Adam is nie verlei nie,
maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom."

Teenwoordig word die woorde van Paulus afgedaan
as tydgebonde en kultuurgebonde, uitsprake wat geen universele
waarde het nie. As ons wel die geldigheid van sulke tekste vir
vandag bepleit dan word gesê (Ek siteer nou uit die Beeld):
"As ons dit sou wou doen, moet ons ten minste eerlik wees en
ook die reëlings tussen eienaars en slawe wat Paulus later in
dieselfde hoofstuk hanteer universeel maak." Die groot
verskil tussen die twee sake word egter genegeer. Wanneer Paulus
hy praat oor die gehoorsaamheid wat die slawe aan hul eienaars
verskuldig is, dan gryp hy nie terug na ’n goddelike
ordinansie insake slawerny nie. Paulus doen dit egter wel as die
gaan oor die verhouding man-vrou. Dit is ’n
skeppingsordening. En wat God by die skepping verorden het, kan
geen kultuur verbreek nie.

Gemeente, die onderdanige posisie van die vrou
as gevolg van die mans se hoofskap, beteken nie dat die man dan
’n vrybrief het om met sy vrou te doen wat hy wil nie. Ook
die man moet die ordening van God respekteer. Daaroor hoop ek
volgende Sondag te preek. Dit skep verpligtings vir hom. Daarom
kry die man ook onmiddellik te hore dat hy sy gesag nooit in
hardheid en willekeur mag uitoefen nie, maar slegs in liefdevolle
diensbaarheid.

Maar, gemeente, wat moet ’n vrou maak as
haar man nie in liefde haar lei en versorg nie. Haar
onderdanigheid word nie deur die optrede van die man bepaal nie.
Christus se ordening bepaal dit. Wat Paulus in 1 Petr 2:18, 19
tot die diensknegte sê geld ook hier: "wees onderdanig, nie
alleen aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die
wat verkeerd is. Want dit is genade as iemand, ter wille van die
gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly." Voor
die vroue word die moontlikheid dat hul mans ongehoorsaam is
’n rede te meer genoem om onderdanig te wees. "Net so
moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as
sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel
van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine,
godvresende wandel aanskou het.(1 Petr 3:1,2).

Daar word op ons christene noukeurig gelet. As
ek met ’n ongelowige of ongehoorsame eggenoot leef, dan leef
ek voortdurend onder die oplettende oë van my eggenoot.
Inkonsekwente en/of verkeerde woorde of dade word onmiddellik
opgemerk. Wat sien my huweliksmaat in my? Die evangelie? Herken
hy of sy in my Christus? Dit let dus nou dat ek nie in stryd met
my geloof handel nie, maar dat ek die Woord van God nalewe.
Ongehoorsames kan hul ore wel wil toesluit vir die Woord van God,
maar dit kan vir hulle nie onopgemerk bly as hulle die evangelie
in praktyk sien in die lewe van hul eggenotes. Daarom praat
Petrus van die aanskou van jul reine, godvresende wandel.

Gemeente, die betekenis van die woord
onderdanigheid hang nou saam met die verhouding waarin dit
toegepas moet word. Dit sal duidelik wees dat die onderdanigheid
van kinders teenoor hul ouers en van slawe teenoor hul eienaars
anders is as dit van vroue teenoor hul mans. Die verskil het
veral te make met die verantwoordelikhede van beide die
gesagdraers én die onderdaniges. Manne mag bv hul vroue nie
hanteer as hul persoonlike slawe nie, nog as kinders wat opgevoed
moet word. Hulle moet liefdevolle leiding aan hul vroue gee.
Vroue word opgeroep om hul gesag, hul hoofskap vrywillig aan te
neem. Hul taak sit veral in die hulp wees vir die man.

Iemand het die posisie van die vrou vergelyk
met die pianis wat ’n sanger moet begelei. Dis nie maklik om
as pianis ’n sanger of sangeres goed te begelei nie.
Sommiges laat hul piano party domineer, sodat die sangparty
oorstem word. Hulle stel hulself nie ter beskikking van die solis
nie, maar stoot hom van sy plek weg. Ander doen presies die
teenoorgestelde. Maar dit is nie minder fataal vir die uitvoering.
Hulle maak hulself piepklein en onderworpe sodat daar van die
piano party niks oorbly nie. Dit is ook nie die bedoeling nie.
Want so kom die sanger ook nie goed tot sy reg nie. ’n Goeie
begeleier sorg daarvoor dat sy pianospel die sangparty nie
oorstem nie, maar dit ondersteun en dit tot sy volle reg laat kom.

"Dit is die taak van die vrou in die
huwelik. Met haar spel moet sy haar man ondersteun en tot sy reg
laat kom. Dis beslis geen minderwaardige funksie nie. Die vrou
word daardeur nie tot die voetveeg van haar man verlaag nie. Daar
is wel mense wat dit dink. Daar is baie feministe wat op hierdie
funksie neersien en niks daarvan wil weet nie. Hulle neem geen
genoeë met die taak van begeleiding en ondersteuning nie. Hulle
begin keihard op die piano te slaan om goed te laat hoor dat
hulle daar ook is. Maar die uitvoering word so wel ’n
mislukking. Dit word ’n aanfluiting….Met ander woorde:
’n vrou wat haarself nie ter beskikking van haar man stel
nie, maar wat wil domineer en wat as konkurrent van haar man
optree, verwoes haar huwelik."

Wat dan as haar man nouliks inisiatiewe
ontplooi? Paulus sê: wees onderdanig. Voer nie die botoon nie,
maar bly op die agtergrond stimuleer en korrigeer. Sodat die man
soveel as moontlik tot sy reg kan kom. En steeds meer vir sy
gesin gaan beteken, vir die samelewing en in die gemeente.

Sien daar u eervolle taak in diens van God.
Gelykwaardig voor God maar onderdanig aan die gesag van die man,
as hulp wat by hom pas. Hoe kan u dit doen? Slegs deur te sien op
Jesus Christus. Hy is u verlosser. Hy is u eienaar. Hy wil vir u
sy genade en Gees gee.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)