Ons moet ryk wees in God

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 42
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 42 H.K.

LITURGIE:
L. Lukas 12: 13-44
Ps. 62: 1, 7
Ps. 62: 8
Ps. 89: 1 na die Doop
Ps. 49: 3, 4, 7
SB. 17: 5
Ps. 52: 3, 4

Broeders en susters,

"'n Ryk man sal beswaarlik in die Koninkryk van God ingaan!".

Dis nie 'n bewering van my nie, nee, dis 'n waarskuwende woord van ons Here Jesus Christus: "Voorwaar Ek sê vir julle dat 'n ryk man beswaarlik in die Koninkryk van die hemele sal ingaan. "

Dit gaan so moeilik, dat dit makliker is vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die Koninkryk van God in te gaan!

Ons kan eenvoudig nie aan hierdie waarskuwende woord van ons Heiland verby lees nie. Ons kan dit nie net vir kennisgewing aanneem nie. Daarvoor raak dit ons mos alte regstreeks.

Want soos ons hier vandag sit is ons almal ryk.

Nee, nie sodanig dat die miljoene daagliks deur ons vingers gaan nie. Maar wel sodanig dat ons daagliks oor heelwat meer as die hoognodige kan beskik. Die welvaartsberg in Suid-Afrika mag dan vinnig afbrokkel, ons ontvang darem tot nou toe nog ruimskoots ons deel daarvan. Ons het nagenoeg alles wat ons hartjie begeer.

Was dit vroeër so dat daar 'n hele tyd gespaar moes word om allerhande noodsaaklike dinge te kan aanskaf, teenswoordig weet ons nouliks meer wat om op ons wenslysie te sit as ons weens 'n verjaarsdag of 'n jubileüm so'n lysie moet maak.

Ons het met die gedagte vertroud geraak -veral ons jeug-: dat mens kan koop wat jy graag wil hê. Die geld daarvoor is tog daar?

Bruidspare kan in die meeste gevalle 'n heeltemal luuks ingerigte woning betrek, heel anders as toe hulle ouers indertyd hulle huwelik begin het. En daarvoor het hulle in hul verlowingstyd rêrig nie armoede hoef te ly nie.

Wat nog nie so lank terug nie luukse artikels was, het nou binne elkeen se bereik gekom. Die nuutste resultate van die tegniese ontwikkeling word selfs vir die mense met 'n minimumloon betaalbaar.

Ons kan vakansies hou en reise maak waarvan ons vroeër nie durf droom het nie.

Besef ons nog wel hoè ryk ons is, gemeente? Ons kan ons so blindstaar op dit wat ons in die laaste paar jaar moes inlewer, dat ons glad nie meer raaksien hoeveel ons nog oorgehou het. Sekerlik veel, as ons dit vergelyk met 'n groot deel van die swart bevolking van Suid-Afrika.

Ook op ons is daarom daardie indringende woord van die Here Jesus Christus regstreeks van toepassing: 'n ryk mens sal beswaarlik in die Koninkryk van die hemele ingaan.

Dit is 'n woord wat ons maar eens mooi tot ons moet laat deurdring. Rykdom maak die ingang in God se Koninkryk dus nie makliker nie. Rykdom kan 'n belemmering vorm om daarin in te kom. Ons geld en goed kan ons by God vandaag hou. 'n Kameel kruip nog makliker deur die oog van 'n naald as wat 'n ryk mens in die Koninkryk van God binnegaan.

Daardie woord is so ernstig, dat die dissipels wat dit gehoor het, maar een gevolgtrekking kon maak: hulle was baie verslae en het gesê: "Wie kan dan gered word? ".

Daarop het Christus toe maar hierdie een antwoord gehad: "By die mense is dit ook onmoontlik. Moenie dink dat Ek oordryf nie. Maar by God is alle dinge moontlik".

Daar is maar een weg waarlangs arm en ryk in die Koninkryk van God kan ingaan: die weg van die totale verlossing deur God se Seun. God moet volslae ander mense van ons maak en deur die Heilige Gees van sy Seun die Wette van sy Koninkryk op ons harte skrywe- ook die Wet met betrekking tot geld en goed.

Nou goed, broeders en susters, die Heilige Gees wil ook vanmôre die Wet van God se Koninkryk op u harte skrywe, sodat u -alhoewel u ryk is- daardie Koninkryk mag beèrwe. Kom ons luister na God se wil in die Agtste Gebod, wat ek soos volg kan saamvat:

ONS MOET RYK WEES IN GOD

Dit beteken:

  1. NIE RENTENIER NIE
  2. MAAR RENTMEESTER WEES.

1. As 'n ryk man dan so beswaarlik in God se Koninkryk kan ingaan, moet ons dan maar nie liewerste van al ons rykdom en welvaart afstand doen en ons voortaan tot die allereenvoudigste lewensomstandighede beperk nie? Terug na die mees simpele woninkies, soos baie swartes, weg met ons motors, radio, televisie, wasoutomate en al derglike luukse artikels?

Daar was 'n tyd dat dit as die koninklike weg om in God se Koninkryk te kan ingaan in die kerk gepredik is. Fransiscus van Assisi was hierby die inspirerende voorbeeld. Hy het die woord van Christus tot die ryk jongman: "As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes" ook vir homself ernstig geneem en dit letterlik uitgevoer het. 'n Ryk man kan nie in God se Koninkryk binnegaan nie- Fransiscus wou arm wees en baie mense opwek om sy voorbeeld te volg. Hy het vir vrywillige armoede gekies en het dit as 'n christelike deugd aangeprys.

Maar met alle respek vir sy moed- dit was darem nooit God se bedoeling met sy waarskuwing teen die gevaar van die rykdom nie. God het nooit sy kinders uit die wêreld van geld en goed, van handel en sake dryf, besigheid en besit wil weghaal nie. Kerkmense hoef geen kloosterlinge te wees nie. God vra maar net dat hulle met al hul rykdom hier op aarde ryk in Hom bly.

Toe die volk Israel die Agtste Gebod ontvang het, was hulle op pad Kanaän toe, na die goeie beloofde land. Hulle mog daar net- nou in vryheid 'n nuwe lewe opbou. Dit sou beteken dat baie mense 'n familiebedryf aan die gang sou sit, met 'n uitgebreide veestapel. Ander sou 'n plaas met landbou begin of hulle aan die wynbou wy. Daar sou werktuigmakers kom..... daar sou dus 'n hele ekonomie ontwikkel van handel en bedryf, sake dryf en wins maak, kapitaalaanwas en besitsvorming.

Die HERE het dit nie verbied nie. Inteendeel, Hy wou selfs sy seën daaroor gee. Hy het sy volk 'n welvarende lewe toegesê. Indien Israel maar ryk sou bly in Hom.

U kom dit ook agter aan die woordkeus van die Kategismus, broeders en susters dat dit nie God se bedoeling is dat ons met die wêreld van geld en goed, besit en bedryf breek en vir die bedelstaf kies nie.

Die Kategismus spreek mos in Sondag 42 van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere, geld... Dit is woorde uit die alledaagse handelslewe van winkel en fabriek. In diè wêreld leef ons, in diè wêreld het God Self ons 'n plek gegee. In diè wêreld mag en moet ons nou dus ook ons plek volstaan. Ook as God ons daarin baie gee en ryk maak.

Die kwaal van die ryk dwaas uit die gelykenis wat ons vanmôre gelees het, was dan ook nie dat hy ryk was nie.

Uiteindelik het hy mos alles uit God se hand ontvang. Hy het 'n mooie besigheid gehad en goed geboer. Maar hy het dit slegs aan sy God te danke gehad. En daaroor sou die HERE hom dus ook geen verwyte maak nie.

Die fout van daardie man was ewemin dat hy baie aandag aan die opslagruimte vir die oes bestee het nie. Sy skure het te klein geword om alles te bêre. Dus het hy besluit om hulle deur groter en meer praktiese geboue te vervang. Maar ook daarin lê geen rede tot verwyt nie. Suinig wees en spaar is geen sonde. Sê die Kategismus nie, dat God ook alle verkwisting van sy gawes verbied nie? As jy dan soveel inoes dat die bêreplek te klein word, dan is dit tog 'n kwessie van goeie beheer as jy daarvoor maatreëls tref?

Ek vermoed dat vandag baie mense hierdie man 'n kapitalis sou genoem het, 'n grootgrondbesitter, 'n hereboer en so meer; en hom alleen al daaroor sou veroordeel het. Onder die invloed van die Marxisme word teenswoordig enige vorm van besit al diefstal genoem. En wie die eienaar van 'n florerende besigheid is, word dadelik 'n vuile kapitalis genoem.

Maar vir God was die ryk dwaas nie verwerplik oor hy 'n kapitalis sou wees nie. Al sou hy ook 'n rasegte sosialis wees- God verwerp hierdie man omdat hy 'n materialis is. Hierdie man het die waarskuwing van Psalm 62 in die wind geslaan:

As rykdom jou sy vreug berei,
jou met sy skynsel wil verlei,
laat dan jou hart nie daaraan hang nie!

Hy het by homself gesê: Man, dit het baie goed gegaan hierdie jaar. Jy kan vereers vir jare vooruit. Neem rus, eet, drink en wees vrolik. Jy kan voorlopig gaan rentenier.

Sy besittings was vir hom geen gebruikmiddele meer nie, maar genotsmiddels. Hulle het 'n doel in sigself geword, losgemaak van die lewe met God en die diens aan God. Sy skat was op aarde en daar was ook sy hart. En God het daar heeltemal buite gestaan.

Hy het sy heil in die genieting van sy goedere gesoek en gemeen dat kos, drank, klere, geld, luukse en so meer 'n waarborg vir 'n aangename lewe vorm. Dis hoekom hy aanhoudend in sy lewe besig gewees het om skatte vir homself bymekaar te maak. Hy het sorgvuldig en suinig gespaar om maar so lang as moontlik daarvan te kan geniet.

Teen diè materialistiese mentaliteit waarsku Christus hier. "Hebsug" noem Hy dit: "Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug". Hebsug is die begeerte om te hê. Die hê is doel in sigself. Jy sien 'n ding en wil dit hê. En jy sal alles doen om dit te kry. Maar as jy dit eenmaal het, rig jou begeerte hom dadelik weer op 'n ander ding wat jy wil hê. Jy raak nooit meer tevrede nie. Jy bly ja om te kry en te hê asof jou heil daaraan hang. En jy koester en bewonder met trots en welgevalle al jou kosbaarhede.

So'n hebsug trek onvermydelik die hart by God vandaan en kweek mense met meer liefde vir genot as vir God. Klipharde, selfsugtige mense, wat die meeste met hulleself besig is en 'n ander veral nie meer gun as wat hulle self besit nie. Gierigheid, afguns, afpersing, diefstal, korrupsie- dit alles begin met hebsug.

Diè mentaliteit vloek met die styl van God se Koninkryk, en daarom moet God se kinders in hierdie opsig heeltemal anderste wees.

Ons leef midde-in 'n wêreld, broeders en susters, wat van hierdie materialisme en sulke hebsug deurtrek is. Alles draai om geld en goed, kry en hê, koop en verkoop, en ryk dwase woon in enige stad en in enige dorp.

Die hebsug word ook op allerlei maniere aangewakker deur handelsflitse en vertoonvensters, aksies en spele. En wat van die Kasino's en weddenskappe op perdewedrenne?

Dit is vir ons as God se kinders 'n gevaarlike wêreld. 'n Wêreld waarvan daar 'n geweldige verleiding uitgaan. Ons is sommer heeltemal besmet deur die materialistiese leefklimaat rondom ons.

Kerkgangers verander dan van sondag op maandag in volslae onherkenbare mense: hulle verdwyn sommer in die massa en hardloop saam met die ander in die jag na luukse en gerief. Hul gesprekke draai al eweseer om geld en geldverdien, die ekonomiese teruggang en die aaklige gevolge daarvan, die stygende rente en petrolpryse en so meer. Hulle snap nie hoekom jy as 'n christen nie sou kan saamdoen aan 'n onskuldige winkelaksie waarby mens iets kan wen as jy toevallig die goeie nommer het nie. Die inrigting van hulle huis, volgens die nuutste snuffies, dure vryetydsbesteding, ver vakansiereise- dit alles neem hulle kompleet in beslag en hulle het baie daarvoor oor. Hulle geluk word feitlik daardeur bepaal.

Buiten God en Christus om. Stoflike dinge het doel in sigself geword, losgemaak uit 'n lewe met en vir God.

Maar weet dan dat die HERE vir sulke mense sê: u is vir My 'n dief! Al was u dalk nog nooit met die polisie in aanraking nie, al sal u wellig ook nooit daarmee in aanraking kom nie, Ek noem u 'n dief. Want u is nie ryk in My nie. U het u welvaart van My en die diens aan My losgemaak. U leef net vir u self. En u besef nie dat alles wat u momenteel besit deur My aan u gegee is en daarom ook deur My van u gevra mag word vir my diens nie. Ek verkwalik u nie dat u ryk is nie. Maar Ek verkwalik u wel dat u nie ryk in My is nie. U is 'n ryk dwaas.

En wat met sodanige mense kan gebeur, wys Christus vir ons in daardie gelykenis, gemeente. Toen die ryk dwaas as 'n rentenier op sy louere wou gaan rus, het hy skielik onder 'n louerkrans kom te rus. In 'n graf. Hy het gesterf. God het hom in een nag al sy rykdom afgeneem en hom met leë hande die dood ingeja. Sodat hy sou agterkom hoe verganklik aardse skatte is. Geen skatte volg hom op diè donker spore. wat hy verwerf het, is vir hom verlore.

Wie nie ryk in God wil wees nie, word doodarm!

2. En nou sê ek weereeens, broeders en susters, dat die Here ons nie uit die wêreld van gerief en gemak wegroep nie. Die wat 'n mooie besigheid het, hoef dit nie te laat verloop nie. Hy mag dit selfs nie.

As u 'n goeie inkomste het, hoef u u geld nie weg te gooi nie. U mag dit selfs nie.

Die Here vra van ons ook nie dat ons sonder ons gerieflike huise, sonder motors, sonder vakansies, sonder vryetydsbesteding moet klaarkom nie.

Hy wil nie hê ons versamel skatte vir onsself, om onsself te gerief en om daarvan te rentenier nie.

Maar Hy gee ons wel baie skatte om dit vir Hom as rentmeesters te beheer. 'n Rentmeester mag die besit van sy heer beheer- hy mag natuurlik self ook daarvan lewe. Maar hy het dit nie in beheer gekry om self ryk te word nie, maar om sy heer ryker te maak.

Nie omdat die man ryk was, het die boer uit die gelykenis te gronde gegaan nie. Maar oor hy so dwaas was om met alles wat God hom gegee het te gaan rentenier pleks van om dit as rentmeester sorgvuldig te beheer in die diens van sy God. Want alles wat God ons gee, is nie bedoel vir besitsvorming en kapitaalvergroting vir onsself, nie ten dienste van die mens nie, maar ons ontvang dit om God daarmee te dien. Soos ons so pragtig bely in Art. 12 N.G.B.: die HERE sorg vir baie gawes uit sy skepping "om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien".

As Hy ons geld in die hande gee, 'n goeie verdienste, 'n florerende besigheid, dan maak Hy nie so sodat ons onssèlf daarmee sou verryk nie. Maar dan maak Hy so sodat ons ryk sal wees in Hom. Ons ontvang alles uit sy hand, om dit alles weer in sy hande terug te gee.

Rykdom en armoede, oorvloed en skaarste, altwee kom uit Gods een hand. God gee vir elkeen 'n verskillende deel. Die een meer, die ander minder. Maar elkeen moet nou ook sy eie deel, op diè plek waar God hom of haar geplaas het, trou en verantwoord beheer. En hoe meer besit- des te groter verantwoordelijkheid. Want God vra rekenskap van enige uitgawe en enige aanskaf, tot op doe laaste sent.

Dan is dit selfs plig om ywerig te werk en suinig met dit wat ons in die hande kry om te gaan. As ons dit maar in die diens aan die HERE doen, Hom as die eintlike Eienaar bly beskou, en nie net onsself en ons eie genoeë soek nie.

Dan is dit geen sonde om 'n gerieflike huis te hê nie, of 'n goeie motor, 'n wasoutomaat en so meer. As dit maar in die diens aan ons God funksioneer. Steeds is dit die vraag: waarvoor skaf ons dit aan en waarvoor gebruik ons dit? As genotmiddel of as gebruiksmiddel wat ons in God se diens benodig?

In die diens aan God is daar geen ruimte vir selfgesentreerde eiebelang nie. Inteendeel, in diè diens draai alles om God se belange en om dit van ons naaste. Wat God ons gee, gee Hy alles ryklik om te gebruik, om goed te doen en ryk te wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, het die apostel Paulus vir Timotheüs geskrywe (1 Tim. 6).

In hierdie sin spreek ook die Kategismus. Die Agtste Gebod word in hierdie een woord vervul: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself, ook met die geld en goedere wat God jou gegee het. En dan kan niemand van sy bankrekening sê: dit is privaatsake nie. Want ons het by God geen privaatsake. Al ons sake moet sy saak wees. Ons geld en ons besit is uiteindelik sy geld en sy besit. En Hy vra rekenskap daarvan, hoedat ons daarmee omgaan.

Maar dit beteken wel dat God se kinders as rentmeesters heel andere uitgawes as die ryk dwase van hierdie wêreld doen.

Vir hulle staan die instandhouding van die erediens sentraal en die voortgang van God se saak op aarde deur middel van sending en evangelisasie. Gereformeerde skoolonderwys vir ons kleuters en kinders en dergelike sake. Hulle het daarvoor nie net 'n fooi oor nie, 'n luttel bedraggie in vergelyking met wat alles hulle vir hulle eie plesier uitgee- nee, daarvoor wil hulle offers bring. Hulle is bereid om hulleself daarvoor dinge te ontsê.

Hulle het 'n oog vir armoede en ellende om hulle heen en werk nie slegs om hul eie gesinnetjie te onderhou nie, maar om ook iets te hê om die behoeftiges te kan help. Die diakonie beskik altyd ruimskoots oor die middele om die nood in die gemeente te lenig. En ook die naastes buite die gemeente ervaar die vrygewigheid en behulpsaamheid van die burgers van God se Koninkryk.

Kyk, gemeente, so'n styl wil God by sy kinders sien.

Dit is die styl wat sy Gees die deur Christus verloste burgers van sy ryk weer leer.

En dan word ons regtig nie armer daarvan nie. Inteendeel: wie God se Koninkryk soek, die diè sal al die ander dinge bygevoeg word.

Kan 'n ryk man in die Koninkryk van God ingaan?

Dis nie so maklik nie.

Dis alleen moontlik as die ryk man nie 'n dwaas is nie.

Maar ryk in God.

Wie is dan die getroue en verstandige rentmeester? Gelukkig is daardie dienskneg wat sy heer, as hy kom, so besig sal vind. Waarlik, ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.

AMEN.

(Pretoria, 23 Julie 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)