Die wynstok Christus maak ons weer vrugbaar vir God

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 32
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 32 H.K.

LITURGIE:
L. Johannes 15: 1-8 & D.L. III/IV art. 11
SB. 24: 1, 2
SB. 24: 6
Ps. 80: 5, 6, 8
Ps. 107: 18, 21
Ps. 67: 2, 3

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons moét goeie werke doen!

Dit wil Sondag 32 van die Kategismus vir ons duidelik maak. Geen onkuise, afgodsdienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes kan die Koninkryk van God beërwe nie. Wie nie homself daarvan tot God bekeer en volgens die wil van God weer in goéie werke begin lewe nie, kan nie salig word nie.

Ons moet goeie werke doen!

Maar watter snaakse eis is dit skielik in die Kategismus? !

Dit is vir enige mens mos 'n onmoontlike eis?

Ons het alreeds in Sondag 24 geleer dat die goeie werke wat voor God se strafgerig bestaan kan, heeltemal volmaak moet wees en in alle opsigte met God se wet moet ooreenstem -daardie ou paradyswet waarin die HERE 'n lewe van 100% liefde eis. Watter mens kan aan die liefdeseis nog in alle opsigte voldoen? Het Sondag 24 ook nie vir ons geleer dat selfs ons beste werke in hierdie lewe almal onvolmaak en met sondes besmet is nie?

Liefde vra God- maar enige mens is mos vanaf die sondeval geneig om God en die naaste te haat? Ja, ons is so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goed te doen nie en tot alle kwaad geneig. Dit het ons alreeds in Sondag 2 en 3 van die Kategismus geleer.

Stel die Kategismus dan nie nou skielik 'n onmoontlike eis nie?

Boonop: dit is tog ook 'n onnódige eis? !

In die hele tweede deel van die Kategismus is aan ons duidelik gemaak dat ons sonder enige verdienste van ons kant, sonder enige bydrae van ons kant, sonder enige goeie werk van ons kant, van die heerskappy van die duiwel verlos is. Alleen deur die goeie werk van God se eie Seun, ons Here Jesus Christus. Alleen uit genade. Alleen deur 'n ware geloof in Hom.

Waarom moet ons dan nog goeie werke doen?

U sê dalk, broeders en susters: uit dankbaarheid. En u bedoel: God verwag nou 'n soort teëprestasie van ons kant na alles wat God in Christus eerste vir ons gedoen het. Staan dit ook nie bo Sondag 32 in die Kategismus nie? : "Die dankbaarheid wat ons aan God vir die verlossing verskuldig is".

Maar dit kan natuurlik nie die bedoeling wees nie, gemeente. Daar word van ons geen teëprestasie gevra nie. Want as ons so sou meen, sou ons weer midde-in die Fariseese en Roomse dwaling wat ons eers so kragtig moes leer verwerp, vasgevang raak. Immers, ons sou dan feitlik tog toestem dat ons met die werk wat Christus vir ons gedoen het, nie klaar is nie; dat ons ook self nog iets moet doen. 'n Soort aanvulling van dankbaarheid wat nodig is om in God se ryk te kan ingaan.

En dan sou Christus geen volkome Verlosser wees nie.

Maar waarom klink dan tog die eis dat ons goeie werke van dankbaarheid moet doen? !

Wel, gemeente, dit is nie eintlik 'n eis wat die HERE aan óns stel nie.

Hy het hierdie eis aan Homsélf gestel! Hy is nie daarmee tevrede dat ons net vergewing van ons sondes ontvang nie. Hy wil dat die vergewing ook 'n vervolg kry. Dat dit deur 'n vernuwing van ons lewe gevolg word. Daar moet by ons weer vrugte van dankbaarheid kom. Ons mag nie aangaan met 'n selfgesentreerde, eiewyse lewe nie, maar ons lewe moet weer groei en bloei vir Hom.

Hy wil hê so moét dit weer wees.

Maar daarom sal Hy dit ook sélf by ons bewerk. Want Hy weet baie goed dat ons dit uit onsself nooit regkry nie. Maar moet maar kyk in antw. 86 van Sondag 32: ons hoéf dit ook nie self regkry nie- God gaan dit in Christus regkry, deur sy Heilige Gees.

Dus hoef ek vanaand/vanoggend nie 'n onmoontlike en onnodige eis van God aan u voor te hou nie, maar ek mag u die evangelie verkondig dat ons Here Jesus Christus sy verlossingswerk in ons lewe voltooi: Hy bewerk na die vergewing van ons sondes ook die vernuwing van ons lewe.

Ek het my boodskap soos volg saamgevat:

DIE WYNSTOK CHRISTUS MAAK ONS WEER VRUGBAAR VIR GOD

HY DOEN DIT

  1. TOT GOD SE EER
  2. TOT ONS TROOS
  3. TOT HEIL VAN ONS NAASTE

1. Ja, ek praat in hierdie preek van die "wynstok" Christus, gemeente Want die beeld van 'n wynstok en lote kan baie mooi duidelik maak waarom ons lewe weer vrugbaar vir God moet word. En tegelyk hoe dat ons lewe weer vrugbaar vir God kán word.

Daardie beeld is van ons Heiland self afkomstig. Ons het dit gelees in Johannes 15.

Die beeld van 'n wynstok was 'n bekende beeld vir die dissipels. Die Here Jesus het Hom aangesluit by die metafoor wat sy Vader in die Ou Testament meer as een keer vir God se volk gebruik het. Ons het byvoorbeeld Psalm 80 gesing:

U, HEER, het ons in vroeëer dae
geken, en in u welbehae
'n wynstok uit Egipteland
gebring, en self hier ingeplant;
U het die nasie uitgeroei,
en in hul plek u volk laat groei.

Israel was vir die HERE soos 'n wynstok wat Hy na die vrugbare grond van Kanaän oorgebring het sodat dit daar vir Hom 'n ryk oes sou oplewer. Dit was 'n hele onderneming, maar terwille van die vrugte was geen moeite of sorg teveel vir God nie.

Ons lees dieselfde beeld in Jesaja 5, die lied van die wyngaard wat die profeet moet sing. Maar hierdie lied is alreeds 'n lied van teleurstelling: die HERE het verwag, gesien sy intensiewe bearbeiding van sy wingerd, dat dit baie heerlike druiwe sou dra, maar dit het net wilde druiwe voortgebring.

En dan kan ek u ook nog maar herinner aan die gelykenis waarin die Here Jesus nogmaals die vergelyking van 'n wingerd vir God se volk gebruik: die gelykenis van die onregverdige pagboere wat God se wingerd in beheer gekry het maar weier om die vrugte daarvan aan die Eienaar af te dra (Matt. 21).

Ons vind 'n baie opvallende toepassing van hierdie beeld by die profeet Esegiël. Die HERE vra vir sy profeet (hfst. 15): "Mensekind, wat is die hout van die wingerdstok meer as al die hout? ". Die antwoord kon net wees: Niks nie! Hout van 'n wingerdstok -u sal dit weet- is ongeskik vir bewerking. Jy kan niks daarvan maak nie. Wie hout soek, soek nie dit nie. Daar is baie beter houtsoorte. Nee, hout van die wynstok is net geskik as brandhout.

Maar daarmee wil die HERE sê: 'n wynstok het slegs waarde as dit vrugte dra! En Ek soek vrugte! Daarvoor het Ek Israel as my wynstok na Kanaän oorgeplant. Daarvoor hou Ek 'n volk op aarde in stand.

Ja, broeders en susters, die HERE soek vrugte. 'n Godvrugtige lewe by sy volk. En dit het ons ook in Joh. 15 gelees. Die Here Jesus Christus sê daar: "Hierin is my Vader verheerlik -hiermee is Hy bly, hierdeur word Hy geëer- dat julle veel vrug dra".

Maar dit is ook presies die probleem in ons lewe, gemeente. Ons kán uit onsself nie meer vrugte dra nie. Ons lewe het deur die sonde heeltemal onvrugbaar geword. Kom ons maak die beeldspraak van 'n wingerd maar 'n bietjie ekstreem: Die sonde het die aarde tot 'n woestyn gemaak. Daar het 'n verwoestende storm deur God se wingerd gejaag en dit het al die ranke afgebreek en orals rondgestrooi.

Maar wat is lote wat geen verbinding met die stok meer het nie? Waardeloos. Nie eens geskik as timmerhout nie. Brandhout!

So is enige mens deur die sondeval. Brandhout, net nog geskik om deur die vuur van God se toorn verteer te word.

Maar God het Hom by die gevolge van die sondeval nie gelate neergelê nie. Hy het dadelik die herstelwerk in sy wingerd begin.

Hy was bereid om die hoogste prys betaal om tog weer 'n vrugbare wingerd te kry. Hy het dié wynstok gevind waarmee Hy die ontsaglike skade aan sy wingerd kon te bowe kom. 'n Wynstok met oneindig kragtige lewensappe. Sy eie Seun.

God het dié wynstok in sy wingerd geplant. En vervolgens het Hy besiggegaan om dié lote wat Hy in sy genadige welbehae uitgekies het, weer op daardie lewende wynstok te ent. Sy Heilige Gees maak al daardie verdorde, waardelose lote bymekaar en maak hulle weer vas aan die Wynstok Christus. Hy lyf ons deur die geloof in by die Here Jesus Christus, sê die Kategismus met bietjie ander bewoordings.

Dit is die wonder van ons lewe, gemeente. Terwyl ons almal dit verdien het om as brandhout bymekaar gemaak en verbrand te word, gee God in sy genade ons weer 'n plek in sy wingerd. Danksy die ware wynstok Jesus Christus mag ons weer saam God se druiweplant wees. En pleks dat God ons in die vuur gooi, versorg Hy ons weer met liefde en aandag.

Maar dan verstaan u nou tog ook dat die Landbouer nog maar halfpad is wanneer die dooie ranke weer aan die lewende wynstok vasgemaak is? Hy soek weer vrúgte uit sy wingerd. Die ranke wat al heeltemal afgesterf het, moet weer tot lewe kom.

Maar hulle kóm ook weer tot lewe! Die lewensappe van die wynstok is so kragtig dat hulle selfs die ranke wat reeds heeltemal afgesterf en verdor het, begin vervul en tot nuwe lewe wek. En kyk, daar begin alreeds groen blare uitspruit, pril blommetjies bars oop en dit kan nie anders nie of dit groei uit tot ryp druiwetrosse.

Ja, dit kan nie anders nie. So het die Kategismus dit reeds in Sondag 24 vir ons geleer: "Dit is onmoontlik dat 'n mens wat deur 'n ware geloof in Christus ongeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie".

En dit wil vanoggend/vanaand ook Sondag 32 aan ons leer. Nadat Christus ons by Hom ingelyf en van die vuur van God se gerig gered het, vervul Hy ons so met sy Heilige Gees dat ons heeltemal tot sy ewebeeld vernuwe word. En u sal nou daardie uitdrukking verstaan: "tot sy ewebeeld": ons word net soos Hy is. Die lewensap wat Hom laat groei en bloei en vrugte dra vir God, vervul ook ons en bewerk by ons dieselfde vrugbaarheid. Die Heilige Gees wat Hom beheers, begin ook ons deurstroom.

En só word ons lewe weer soos God dit altyd gesoek het: vol vrugte van dankbaarheid. En moet onder daardie dankbaarheid maar maie meer as net 'n dankbaarheid oor ons redding deur Jesus Christus verstaan, gemeente. God soek in ons lewe 'n dankbaarheid oor ál sy weldade, oor al sy goeie en geduldige sorg en aandag en liefde vir ons. 'n Dankbaarheid soos daar was by die mens in die paradys, voor die sondeval. God wil in ons lewe die resultaat van sy werk aan ons vind: verwondering, vreugde, eerbied en ontsag. Hy wil deur ons geprys word. Ja, Hy moét weer deur ons geprys word. Eerder is Hy nie tevrede nie.

Maar Sondag 32 vertel dus vir ons: God sál weer deur ons geprys word. Danksy die wynstok Christus en sy Heilige Gees.

Sondag 32 pla ons, na die pragtige tweede deel van die Kategismus oor ons verlossing deur genade alleen, nie skielik in hierdie derde deel met 'n onverwagse en onmoontlike eis nie. Maar die Evangelie wat ons alreeds mog hoor, word nog mooier: God soek en bewerk die totále verlossing van ons lewe. Hy is met die helfte nie tevrede nie. Dat dooie ranke uit die vuur geruk word, dis vir Hom nie genoeg nie. Eers as ons weer volop groei en bloei en vrugte dra vir Hom sal Hy tevrede wees. Hy soek die paradys in ons lewe terug.

Daar moet weer goeie werke in ons kom!

Hy sal self bewerk dat hulle kom!

Hy stel aan ons geen onmoontlike eis nie. Dit is selfs nie so dat Hy vir ons 'n kans gee om dit nou beter te probeer nie. Ons sou niks regkry nie. Sonder die wynstok kan 'n rank geen vrugte dra nie. "Sonder My kan julle niks doen nie", het ons Here Jesus Christus duidelik vir ons laat weet. Maar ons hoef self ook niks te doen nie. Dis genoeg om ons in verwondering aan sy ontferming oor te gee. In Hom bly- soos Hy dit self in Joh. 15 uitgedruk het. En dan doen Hy alles.

Maar daarom kan die Kategismus in hierdie selfde Sondag 32 ook so onomwonde sê: die wat nou nog in 'n goddelose lewe volhard, sonder vernuwing na Christus se ewebeeld, sonder goeie werke, die wat, met ander woorde, dus nou nog 'n onvrugbare lewe bly lei, dit kan alleen maar 'n rank wees wat nie regtig 'n verbinding met die wynstok Christus gekry het nie. Hy het wel tussen die ander ranke wat gered is, geraak en is saam met hulle na die wynstok gedra. Maar hy is nie, soos die ander, ook geënt nie.

Of hy het dadelik weer losgeraak. Hy het in elk geval onvrugbaar gebly. As die Landbouer dit agterkom, is dit duidelik wat Hy sal doen: so'n onvrugbare rank word asnog tot brandhout gemaak.

2. Die Kategismus vertel vir ons in Sondag 32 vervolgens, gemeente, dat 'n gelowige by homself ook mag opmerk dat sy lewe in gunstige sin verander vandat hy deur die geloof by Christus ingelyf is.

"Ons kan vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kry"- so het die opstellers van die Kategismus dit uitgedruk.

Dit is bietjie 'n moeilike sin, wat reeds heelwat misvattings veroorsaak het.

Al heelparty kinders van die HERE het hierdie sinnetjie so opgevat, dat hulle hulself eers by Christus ingelyf mog weet as hulle die duidelike resultaat daarvan in hul lewe kon wys. Hulle het geglo, jy mag jouself eers as 'n rank aan die wynstok Christus en dus gered van die vuur beskou, as die klaarblyklike vrugte daarvan in jou lewe sigbaar geword het.

Maar met die gevolg dat party van hulle hul hele lewe lank na sulke duidelike vrugte bly soek het en al hoe onsekerder moedeloser geraak het. Terwyl ander juis al gou gedink het daar is soveel vrug in hul lewe, dat húlle daarna vol selfvertroue meer op daardie vrugte as op die wynstok vertrou het.

Maar dit kan natuurlik nie die bedoeling van hierdie sinnetjie in Sondag 32 wees nie, gemeente. Ons bely in Art. 24 NGB: "Al doen ons ook goeie werke (al groei daar ook vrugte van dankbaarheid), maak ons dit glad nie tot die grond van ons saligheid nie, want ons kan geen werk doen wat nie deur ons sondige natuur besmet en ook strafwaardig is nie. En al kon ons ook één goeie werk lewer, is die herinnering aan net een sonde vir God genoeg om dit te verwerp. Op hierdie manier sou ons altyd in twyfel verkeer, heen en weer geslinger sonder enige sekerheid, en ons arme gewete sou altyd gekwel word as dit nie op die verdienste van die lyding en sterwe van ons Verlosser steun nie".

Wat bedoel die Kategismus dan wel in Sondag 32?

Miskien kan ek dit so uitdruk: dis nie so dat ek in my eie lewe moet probeer agterkom óf ek wel in die wynstok Christus ingeplant is nie, maar ek mag in my eie lewe agterkom hoe goéd dit is om by die wynstok Christus ingeplant te mag wees.

Die nuwe lewe wat vanuit die wynstok ook in my opgestoot word, word nie net met blydskap deur die Landbouer opgemerk nie, maar ek mag dit ook self tot my blydskap opmerk. Ek mag ondervind dat daar iets in my lewe verander.

Nee, dit is nie meteens groot dade van gehoorsaamheid en ywer vir God nie. Maar nogtans, ons merk dit tog dat die begeerte by ons groei om nie meer vir onsself nie, maar vir ons God te lewe?

En ons ondervind tog, dat dit ons lewe nie moeiliker maak nie, maar juis ryker? Meer vrugbaar? Ons lewe verloor sy leegheid en oppervlakkigheid en word meer sinvol, doelgerig. En dit bring 'n wonderlike blydskap in ons lewe, 'n rus en 'n voldoening. Ons kom agter dat as gevolg van ons band aan Christus daar ook 'n beter band met ons medemense groei. Die liefde vir God veroorsaak ook 'n onbaatsugtige en vergewingsgesinde liefde teenoor ons naaste.

En wat dalk wel die grootste wonder is: as ons baie swaarkry, as ons lewe in ellende ondergedompel word, blyk daar by ons 'n krag van aanvaarding te wees wat ons vir opstandigheid en moedeloosheid bewaar. In die grootste smarte bly nogtans ons harte op die HEER vertrou. Ons weet dat die die hand van die HERE is waardeur ons so swaarkry, en nogtans vlug ons tot die HERE om troos en raad. En hoewel daar trane in ons oë kan is, kom daar nogtans geen verkeerde woord oor ons lippe nie.

Dit is alles vrugte wat voortspruit uit ons band aan die wynstok Christus, broeders en susters. Dit is vrugte wat God in ons lewe soek, en bewerk.

Kom ons kyk nog 'n keer na Joh. 15. Ons het gelees dat Christus sê (vs. 2): "Elke loot wat vrug dra, word deur my Vader as die Landbouer skoon, sodat dit meer vrug kan dra". Die woordjie "skoonmaak" beteken hier: uitdun, bepaalde vruggies wegsny, sodat die ander trosse groter sal word. Dis dus nie dat verkeerde goed, wilde uitlopers en so meer weggesny word nie. Maar vrugte wat as sulks goed is, word verwyder. Dit behoort by die versorgingsproses om die eindresultaat beter te kry.

So snoei die HERE ook aan u en my lewe. Hy ontneem ons bepaalde moontlikhede wat as sodanig nie verkeerd was nie. Siekte, 'n liggaamlike stremming, 'n kind van ons wat Hy weer van ons af wegneem, 'n bankrot vir ons besigheid- daarmee sny die Landbouer in ons lewe en Hy sny iets weg wat in ons oë juis vrugbaar vir Hom gemaak kon word.

Maar Hy maak dus so om die ander vrugte, soos ons volharding in die geloof, ons blydskap wat ook in groot verdriet bly bestaan, nog groter te maak.

En hoe bemoedigend mag dit dan vir onsself wees om dit in ons lewe te leer opmerk: kyk hoe verander ek! Kyk watter bo-menslike kragte werk daar blykbaar in my! Kyk hoe dat my hele lewe weer na die HERE toegroei. Kyk hoedat die begin van die nuwe Paradys in my lewe alreeds merkbaar word!.

Dan spog ons nie met ons eie lewe nie, maar ons herken aan die vrugte die boom: die wynstok, Christus. Net Hy is mos die wortel van dit alles. En ons begeer nog meer om in Hom te bly.

En ons prys nog des te meer sy hemelse Vader, wat Hom tot ons redding gegee het.

3. Ons bespeur nie net sélf sulke wonderlike gevolge van ons band aan die wynstok Christus nie. Ook ons naaste kom dit agter.

U weet wel dat die mense rondom ons baie meer let op dit wat ons doén en nie doen nie, hoe of ons leef, as op dit wat ons sê. Nie ons woorde nie, maar veral ons dade word fyn dopgehou.

Maar dan sal hulle ook aan ons doen en late gaan agterkom dat daar kragte in ons lewe werk wat ons hele lewe omvorm. U is anders as baie ander mense. In u ywer en trou in die diens aan die HERE, in u houding teenoor u naaste, en veral in u onverwoesbare blydskap en hoop in weerwil van die grootste teleurstellings en verdriet. Ook ons naaste, ons bure, mense by die werk, ons dokter ens. kom dit agter dat daar bo-menslike kragte in ons werk.

Sodat hulle nuuskierig en verwonderd gaan soek en vra na die oorsaak hoekom ons so anders is. Sodat hulle gaan begeer om self ook by hierdie wynstok ingeplant te mag word en die wonderlike krag wat van Hom uitgaan, te mag ondergaan. Aangesien u lewe vir hulle wys dat die lewe daardeur eers regtig goed word.

Ook dáárom wil God hê moet daar goeie werke in ons lewe kom, broeders en susters: om ook ander mense vir God se wingerd te wen. Sodat ook hulle eendag saam met ons ryk vrugte vir God sal oplewer.

En God se oes nog groter sal wees.

Waarom moet ons nog goeie werke doen? Waarom moet daar in ons lewe vrugte van dankbaarheid kom?

Dit is nou vir ons tog geen vraag meer nie, broeders en susters?

Hoe meer vrugte, hoe meer vreugde!

AMEN.

(Pretoria, 24 Junie 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)