Ps 123: 1, 2
Ps 143: 5, 6, 7
Geloofsbelydenis
Ps 85: 3, 4
Lees: Matt 28: 16-20
Teks: Sondag 18
Brs en srs, kinders!
As mense vir altyd van mekaar afskeid moet neem, dan word by die laaste keer dat hulle by mekaar is meestal nog baie gesê. Nie baie in die sin van baie woorde nie, maar in 'n paar woorde kan soms baie gesê word.
Afskeidswoorde is vanweë die aard van die situasie in die algemeen ook sterk emosioneel.
In die laaste oomblikke probeer jy nog alles sê wat jy eintlik voel by die afskeid. Daarom bly die laaste woorde wat 'n geliefde vir jou gesê het, gewoonlik ook lank by jou. Soms weet 'n mens na jare nog woordelik te herhaal wat by 'n afskeidsgeleentheid gesê is.
So 'n situasie waarin die aanwesiges bewus is van die feit dat dit 'n laaste geleentheid is, beskryf Matteus in die slot van sy evangelie.
Die Here Jesus gee daar die laaste instruksies aan sy dissipels. Hy berei hulle voor op sy hemelvaart, op die tyd dat Hyself in die hemel sal wees en die dissipels hier op aarde 'n taak sal ontvang.
Hoe die Here Jesus dit doen, hoor ons in vanmiddag se evangelieprediking soos volg:
Die afskeidswoorde van die Here Jesus vir sy dissipels met die oog op sy hemelvaart
Hy oorwin
- hul twyfel
- hul vrees
- hul verdriet
Die HK vra vanmiddag ons aandag vir die hemelvaart van onse Here Jesus.
Met die hemelvaart van die Here Jesus het vir sy volgelinge 'n periode begin, wat ons kan tipeer as die periode van nie-sien. Ons kan ons Here Jesus nie sien nie, ons kan slegs in Hom en sy bestaan glo.
Hierdie situasie gee aan hierdie periode 'n spesifieke moeilikheid. Ons sou so graag wou sien. Maar ons word steeds terugverwys na ons roeping om te glo.
En dit kan soms so moeilik wees. Nou en dan bespring twyfelvrae ons:
Sê nou dat dit nie waar is nie?
Sê nou die hemelvaart van Jesus is slegs as fantasie van sy dissipels?
Sê nou die geloof van die eerste christene daarin is nie veel meer dan bygeloof wat nou maar kenmerkend is vir vroeëre tye?
Watter christen word nie nou en dan deur hierdie tipe vrae gepla nie?
Ons moet altyd maar weer glo en nog eens glo.
Wat sou dit heerlik wees om eens 'n slag te kon sien.
Watter wonderlike bevryding sou dit gee as ons eens 'n slag oog in oog met ons Heiland kon staan en vir hom die vrae kon vra wat ons dikwels pla.
Dit sou vir ons 'n ontsaglike bemoediging wees.
As Hy Homself maar een keer aan ons sou vertoon!
Dan sou ons vir altyd van al ons twyfelvrae verlos wees.
Vanmiddag het ons die slotgedeelte van Matt 28 gelees. Matteus vertel oor een van die laaste ontmoetings van Jesus met sy dissipels. Hy het vir hulle saamgeroep vir 'n ontmoeting iewers op 'n berg in Galilea.
En terwyl hulle daar saam is, is Hy skielik by hulle.
En toe hulle Hom sien het hulle Hom aanbid, vertel Matteus.
Hulle buig hulle op hul knieë en bring vir Hom eerbetoon.
Tereg lyk so vir ons.
Hy is mos die oorwinnaar van die dood!
Hy is die Gesalfde Messias!
God het Hom uit die dood opgewek.
Aanbid Hom! Gee Hom ere!
Maar nou staan daar skielik iets baie merkwaardigs. Die meeste dissipels gaan oor tot aanbidding, maar sommige het getwyfel.
Wat beteken dit nou?
Sommige het getwyfel. Aan wat?
Ons as kerk is heeltemal afhanklik van die ooggetuienis van die dissipels. Ons kan Christus met ons oë nie sien nie en met ons hande nie tas nie. En hulle, die dissipels is vir ons die waarnemers. Maar nou twyfel dan die getuies!
Die fondamente van die kerk. Hier blyk dat hulle ook maar swak mense is. Ook hulle twyfel...
Maar wat moet ons dan, hoe sal ons tot sekerheid in die geloof kom?
As ons onsself die situasie goed probeer indink, ontdek ons dat dit eintlik maar 'n baie snaakse twyfel is.
Toe hulle Hom sien.... het sommige getwyfel.
Dit is vreemd. Hierdie dissipels twyfel presies in 'n situasie waarin ons nou juis nie sou twyfel nie.
Immers ons hoor altyd oor die Here Jesus of ons lees van die Here of ons dink oor Hom. Maar sien doen ons Hom nooit nie.
Hoe graag wou ons Hom een keer sien.
Hom eenmaal aanraak.
Dan sou ons voortaan van al ons twyfels verlos wees. Wat sou ons dan oortuigde diensknegte van die Here Jesus op die aarde wees.
Wat sou ons dan maklik oor Hom as ons Heer kon praat!
Maar ons maak 'n vergissing as ons so dink.
Die dissipels het die Here Jesus gesien. Nog wel as opgestane Heer.
Wat wil 'n mens nog meer, is ons geneig om te vra.
Maar tog, sommige het getwyfel.
Ek dink ons kan iets leer van hulle twyfel op hierdie oomblik. Ons meen gewoonlik dit sou vir ons alles oplos as ons maar net 'n keer met eie oë kon sien.
Sien sal al die twyfel soos sneeu voor die son laat verdwyn.
Dit is wat ons dink. Maar dit is nie so nie.
Kyk na die dissipels.
Hulle sien Jesus weer. Hulle herken Hom duidelik.
En tog het hulle hul twyfels hul vrae.
Hy is dit wel, maar is Hy nou ook werklik die Seun van God?
Is Hy die ewig Lewende?
Is dit Hy wat die dood oorwin het en daarom die sleutels van die doderyk het?
Wat sien 'n mens daarvan as jy net na Hom kyk en Hom sien?
Moet ons Hom as die Seun van God aanbid?
Is dit nie te groot, te ondinkbaar vir 'n mens? Hulle aarsel.
En wat doen die Here Jesus dan? Bestraf Hy hulle vanweë hul twyfel?
Sê Hy dat hulle hulle moet skaam dat hulle nog steeds onseker voel oor die hele saak?
Nee, Hy kom vir hulle help. Hoe help Hy vir hulle?
Hy kom nader en praat met hulle. En dan gee Hy vir hulle 'n opdrag.
Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies...
Hierdie opdrag het alles te doen met hul twyfel.
Die Here Jesus sê eintlik: Moenie langer afwag nie, maar begin met julle werk, die werk waartoe ek julle geroep het.
Elkeen wat hierdie bevel gehoorsaam opvolg sal gaandeweg sy twyfel verloor.
Hy kom vanself agter dat die evangelie van Jesus Christus nie 'n kragtelose fantasie is nie, maar dat God self daaraan krag verleen. So oorwin die Here Jesus die twyfel by sy dissipels.
Dit is vir ons baie leersaam, gemeente.
Want hier in die slot van die Matteus evangelie praat die Here Jesus nie net met sy dissipels nie, maar hier is sy eerste gemeente byeen.
Hier kry die Kerk haar taak en roeping om in die wêreld te werk en die evangelie te verkondig van die Heer wat na die hemel gegaan het.
Dit is hierdie opdrag wat die kerk lewenskrag gee in die eeue wat kom. In die uitvoering van sy opdrag behou die kerk sy krag.
'n Kerk wat nie meer die evangelie na buite verkondig nie verloor sy vitaliteit.
Dit geld ook vir elkeen van ons persoonlik.
Die beste medisyn teen twyfelmoedigheid is om met blydskap oor jou Heiland te praat. Dit het elke mens nodig. En daarom is ons dankbaar vir so'n opdrag van ons Here.
Wie hom gehoorsaam aan die opdrag wy, groei langsamerhand oor sy twyfels heen.
Maar solank as wat jy eenkant bly staan en van 'n afstand bly vra: Kan dit waar wees, wie kan dit vir my bewys, sal jy nooit verder kom nie.
Slegs in gehoorsaamheid aan die opdrag van Jesus om met die evangelie as 'n blye boodskap te werk, kom ook die sekerheid dat dit inderdaad 'n betroubare woord is wat aanneming ten volle werd is.
2. Christus oorwin hul vrees.
Gaan heen, maak dissipels van al die nasies.
Dit is die opdrag wat Christus vir sy dissipels gee.
Maar watter gigantiese taak! En dit vir 11 mense!
'n Groep ongeveer so groot soos ons kerkraad. Sê nou dat ons kerkraad 'n opdrag sou ontvang om 'n totaal nuwe boodskap in die hele wêreld te verkondig. En dan ook nog met 'n waarskuwing daarby dat hulle nie moet dink die wêreld sit op hulle woord en wag nie. Verder moet ons ook nog bedink dat die manne wat hierdie opdrag kry nie geleerde mense met besondere gawes is nie. Hulle is slegs 'n groep van grotendeels voormalige vistermanne.
Waar moet jy begin met so'n opdrag?
Maar dit is nou juis die besondere van hierdie opdrag.
Die suksesvolle volbringing daarvan is nie afhanklik van hul kwaliteite as predikers nie, maar agter hulle boodskap staan die Here Jesus self!
En Hy sê nadruklik: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde.
Waarom kan die dissipels aan so'n onmoontlike opdrag begin?
Omdat Christus die Magtige is. Die Magtige wat wil dat sy evangelie verkondig moet word.
En waardeur het hulle inderdaad die wêreld kon verander met die boodskap wat hulle gebring het?
Kyk wat uit hul prediking voortgekom het!
Hoe kan dit?
Vanweë dieselfde. Aan Jesus Christus is alle mag in die hemel en op die aarde gegee.
God die Vader het dit self vir Hom gegee!
En dit gee vir ons wat leef in die tydperk dat ons Hom nie kan sien nie, 'n geweldige troos.
Ons leef in 'n wêreld wat moontlik vyandig gesind is teenoor die evangelie.
Maar een ding is in elk geval waar. Hierdie wêreld is die wêreld van Jesus Christus.
Hy oefen beskikkingsmag.
Hy bepaal hoe en waar ruimte gemaak word vir die verkondiging van die evangelie.
In vandag se wêreld wil dit soms voorkom asof die kerk aan 'n verlore front veg.
Waar is nog 'n oop oor vir die verkondiging van die evangelie?
Wie wil dit nog hoor?
Maar is dit waar dat dit juis in ons tyd so besonder moeilik is?
Was die situasie in die tyd dat die Here Jesus sy dissipels uitstuur werklik beter?
Ek dink nie so nie. Menslikerwyse het dit baie somberder gelyk.
Die probleem moet ons eerder by onsself soek.
Die groot vraag is veral of ons nog wel in staat is om hierdie woord te glo: "Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde".
Waar ons die woord glo raak ons nooit ontmoedig as dit oor evangelieverkondiging gaan nie. Nie binne die kerk nie. Ook nie buite die kerk nie.
Natuurlik sal ons dikwels ons teleurstellings hê.
Maar dan gee die Here aan die getroue werker aan sy opdrag ook weer nuwe moed.
Hy wys steeds weer dat Hy inderdaad alle mag het.
Daarom: Vrees nie. Aan Jesus Christus is alle mag gegee.
Hy het die oorwinning behaal.
Sy hemelvaart is daarvan die triomfantelike bevestiging.
Hy sal ook sy kerk lei na die volkome oorwinning.
Dus ons veg nie vir 'n verlore saak nie.
Nee, ons span ons in vir 'n saak waarvan die uiteindelike oorwinning vasstaan.
Gaan dus heen. Vervul julle opdrag.
Laat julle nie ontmoedig deur teenstand van die wêreld nie.
Want Jesus Christus, die Maghebber van hemel en aarde staan agter julle. Glo dit net.
3. Christus oorwin hul verdriet
Die laaste woorde van Jesus in die Matteusevangelie is afskeidswoorde. Hoe gaan dit as jy moet afskeid neem van mense wat jy leer liefkry het?
Dit is gewoonlik maar moeilik. Jy wil hulle net vashou. Jy sien nie kans om sonder hulle verder te lewe nie. So voel jy.
Die Here besef hierdie gevoelens by sy dissipels. Daarom gee Hy vir hulle 'n trooswoord.
Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.
Christus gaan wel, maar Hy bly tog ook.
Die gemeenskap tussen Christus en sy dissipels bly bestaan.
Hy beloof hulle sy permanente nabyheid.
Laat ons goed verstaan: dit is 'n woord gespreek tot die geloof. Dit is nie 'n woord waarvan hulle die waarheid met die oog kan waarneem nie.
Immers Christus bly nie liggaamlik by hulle nie, maar om dit met die woorde van die HK te sê: Wat sy godheid, majesteit, genade en Gees betref, bly Hy altyd by ons.
As Christus in sy Godheid by ons is, beteken dit dat Hy met sy goddelike krag by ons is. Hy ondersteun ons in die taak wat ons op aarde het. Hy skenk vir ons sy seën in die vervulling van ons opdrag.
Ook in sy majesteit is Hy by ons.
Hierdie majesteit is sy goddelike magsvertoon. Hy het reg op ons aanbidding, soos die dissipels hierdie keer vir die eerste maal voor Hom in aanbidding neergesink het. Jy mag Hom jou lof en dank bring. Dit laat jou sommer digby Hom voel.
Ook in sy genade is Hy by ons.
Sy genade is sy voortdurende liefdebetoon. Hy is nie net 'n Heer wat opdragte gee en ons is nie net knegte wat opdragte kry nie, maar ons is voorwerpe van sy genade.
As ons swaarkry in die lewe, as ons teleurgesteld raak in die effekte van ons inspannings in die kerk of in evangelisasie werk, dan staan Hy ons by in sy genade.
Hy lê 'n hand op ons skouer. Kom ons gaan verder. ek is mos met jou.
Tenslotte noem die Kategismus nog dat Christus wel wat sy menslike natuur betref nie meer by ons is nie, maar met sy Gees ons nooit sal verlaat nie.
In die Gees, met sy Heilige Gees bly Hy: Immanuel. God met ons.
En daarom kan ons altyd verder.
Christus Gees is by ons as ons verdrietig voel oor sy afwesigheid.
Sy Heilige Gees werk in die gemeente met soveel krag dat ons steeds weer wonders sien, namelik die wonder dat mense tot geloof kom.
die wonder dat sondaars hulle bekeer
die wonder dat brs en srs as gemeenskap met mekaar omgaan
die wonder dat ons wat nie sien nie, tog bly hoop
die wonder dat ons mense van vlees en bloed nie al ons hoop stel op hierdie aardse lewe nie, maar dat ons deur die krag van Christus begin soek wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit.
Dit wil sê: Ons strek ons uit na die beloftes van Christus.
Hy het beloof om Sy Konnkryk te vestig.
Ons glo dat Hy daartoe in staat is.
En daarom is ons nie verdrietig nie, maar ons is bly.
Wat wil ons nog meer as so'n belofte: Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld!?
God is met ons. Immanuel.
Die belofte verloor deur die hemelvaart van Christus nie sy krag nie, maar word daardeur eerder versterk.
God met ons. So 'n belofte gee houvas aan almal wat Christus liefhet en wag op sy koms.
Amen.
16-5-93
(kyk in preek)