God se reg eis versoening deur voldoening

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 5
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 5 H.K.

LITURGIE:
L. Hebr. 9: 1-23 & Hebr. 10: 1-10
Ps. 40: 3, 4
Ps. 40: 2
Ps. 50: 2-7 Ps. 51: 8
SB. 8: 2

U sal dit dalk wel eens eerder gehoor het, broeders en susters: daar is al heelwat kritiek uitgeoefen op Sondag 5 van die Heidelbergse Kategismus. Is hierdie vrae en antwoorde nie veels te saaklik, veels te nugter en veral: veels te logies nie?

Die een nugter vraag na die ander word gevra. Alle moontlikhede om van Gods ewige toorn verlos te kan word, word saaklik ondersoek, todat die logiese gevolgtrekking oorbly dat ons 'n Middelaar wat tegelyk God en mens is, moet soek.

Probeer ons so nie om puur verstandelik die weg wat God gegaan het om ons te verlos, te beredeneer nie?

Is dit nie 'n ongepaste poging om die Middelaar wat God vir ons gegee het logies verklaarbaar te maak nie?

Moet ons God soms gaan nareken, hoekom Hy sy eie Seun as ons Verlosser in die wêreld gestuur het?

Telkens as God hierdie Verlosser aangekondig het, het mense in gejubel uitgebreek- lofsange wat ook vir ons in die Bybel bewaar is.

Staan die geredeneer van Sondag 5 nie ver van hierdie jubelsange af nie?

Hierdie kritiese vrae is al dikwels deur verskeie mense gevra, gemeente.

Maar sing ons nie dikwels (dis Psalm 111): "Gods werk is groot die wêreld deur dit word deur almal nagespeur; wat daarin soek 'n welgevalle"

Maar dis dan ook maar net wat die Kategismus in Sondag 5 doen, soos trouens ook in Sondag 4 en Sondag 3, en hierna in Sondag 6.

God se groot werk om ons te verlos, word eerbiedig nagespeur.

Nie asof ons diè verlossingsweg self nog moes uitsoek nie.

"Naspeur" is tog nie dieselfde as "uitsoek" nie? Ons hou ons in Sondag 5 nie dom nie, asof ons nog nie van Christus sou weet nie.

Maar ons vra nog eens na die bekende weg. Die weg van versoening alleen deur voldoening. Ons gaan nog eens saam na, waarom ons God juis hierdie pad gekies het om ons weer in genade aan te neem.

Ons staan opnuut stil by daardie wonderlike weg - om daaroor vèrwonderd te bly.

Die geredeneer van Sondag 5 stoot die lofsange nie na die agtergrond nie, maar stimuleer dit juis. Want al gaan die Persoon van ons Verlosser ook ons verstand te bowe - ons hoef daarom nog nie ons verstand uit te skakel nie. Ons mag dit selfs nie!

En al skiet ook ons woorde wel te kort- ons hoef daarom nog nie te swyg nie.

Dit was die wil van God self dat ons sy groot werke gedurigdeur eerbiedig sou naspeur, dat ons Hom maar sou nareken in sy plan aangaande ons verlossing. Nie vir niks het Hy daaroor in die Bybel bladsye vol laat skryf nie.

Ons trae mensebrein moet aan die werk sodat so ons mensetonge gaan loskom in 'n verwonderde loflied op die onmoontlike wat nogtans moontlik geword het in die wêreld. 'n Loflied op Hom, ons God, wat daardie onmoontlike ding moontlik gemàà het.

Daarom bedien ek u nou vanuit Sondag 5 God se Woord oor God se raad aangaande ons verlossing, onder hierdie tema:

GOD SE REG EIS VERSOENING DEUR VOLDOENING

Hierdie eis van voldoening

  1. is vir enige skepsel te swaar
  2. en vereis daarom die bloed van die van God ontvange Middelaar.

1. In Sondag 5 word aan ons die rekening gepresenteer, broeders en susters. Die rekening vir wat ons in God se goeie wêreld verniel het. God sal ons dit betaal sit!

Het u gesien dat tot 3 maal toe die woordjie "betaal" in hierdie Sondag gebruik is? Ons is mense wat by die HERE 'n onbetaalde rekening oopstaan het. Ja, ons maak ons skuld by Hom selfs elke dag nog groter.

En ons kom nie van Hom af as daar nie ten volle betaal word nie. God wil dat aan sy reg voldoen word. Hy wil die rekening eers verskeur as daar "voldaan" op geskrywe is.

Alleen versoening deur voldoening. Dit kan nie goedkoper nie.

Ek kan my voorstel, gemeente, dat u uit die vrae en antwoorde van hierdie Sondag skaars kan agterkom dat ons nou oorgestap het uit die deel wat oor ons ellende gehandel het na die deel wat oor ons verlossing sal gaan.

Dit staan wel bo Sondag 5: "Die verlossing van die mens". Maar het die strenge toon van die vorige Sondae ook maar 'n bietjie milder geword?

As u gedink het dat dit stadigaan tyd geword het vir woorde soos "vergewing", "genade" ens., dan maak die Kategismus direk duidelik dat ons nie sommerso onder ons skuld by God uitkom nie. Wie te snel die woordjie "genade" na hom toe wil haal, word deur die Kategismus in Sondag 5 teruggestoot.

"Is daar 'n weg om van God se straf bevry en weer in genade aangeneem te word.......? " Jawel, sê Sondag 5- maar dan alleen hierdie weg dat aan God se verbondsregte voldoen word. Alleen as ons òf deur onsself òf deur 'n ander ten volle betaal.

Alleen versoening deur voldoening.

Die lyn van Sondag 4 word gewoon deurgetrek.

Ons het geleer dat die HERE onveranderlik bly vashou aan die verbond waarmee Hy met ons begin het. Al het ons ook verander, Hy het dieselfde gebly. Hy kom vir ons nie van sy troon nie, maar Hy bly ons wel voor sy troon ontbied. Hy wil ons in die situasie van die paradys terughê. Hy wil niks liewer nie as dat die verbond tussen Hom en ons, wat ons verbreek het, weer word soos dit was. Hy wil ons as sy kinders by Hom terughê, so, dat alles wat skeiding gemaak het volkome weggeneem is.

Maar dit is vir Hom maar langs een weg moontlik. Hy het dit by voorbaat gesê: wie breek, moet betaal! Die verbreking van die paradysverbond sou die mens duur te staan kom. Die verhoudings sou dan alleen nog herstel kan word as die skuld van die verbreking ten volle vereffen sou word.

En hierdie "betaal" beteken hier, gemeente, dat aan God asnog die liefde gegee word waarop Hy as ons hemelse Vader reg het. Meer het Hy mos nooit gevra nie. Maar net dat ons Hom sou liefhê met ons hele hart, met ons hele siel, met ons hele verstand en met alle kragte, 'n lewe vol liefdevolle gehoorsaamheid.

Ons het hierdie liefde vanaf die sondeval aan Hom onthou. Ons het Hom daarin ontsaglik tekortgedoen. Daarom sal al daardie agterstallige liefde asnog opgebring moet word, deur God se verdiende toorn daaroor te aanvaar en te dra.

Die HERE kan nie sommer oor die skuld wat daar tussen Hom en ons hoog opgestapel lê, heenstap nie. Hy sou Homself tekort doen!

Dit kom nooit meer regtig goed as die skuld nie ten volle vereffen word nie.

Ons moet in Sondag 5 eers leer, broeders en susters, dat die terugkeer na God en die herstel van die paradys nie goedkoop is nie. Ons loop in die deel van die verlossing dieselfde God raak as in die deel van ons ellende. God se regte moet hooggehou word!

Wie nie eers daarvoor 'n oog gekry het nie, sal ook nooit die enigste werklike verlossingsweg vind nie. Want die enigste weg na die verlossing kan alleen diè wees wat aan God se reg voldoen.

Die vraag is nie maar net: hoe kan ek so gunstig moontlik die straf vryspring? nie. Hoe verseker ek myself van 'n plekkie in die hemel? Hoe ontkom ek aan die hel?

Dit is wel eg menslike vrae, maar dit beteken feitlik nog altyd 'n sondige selfhandhawing teenoor die HERE, soos ek ook in die preek oor Sondag 4 al gesê het. Ons is dan uit op eie belang, en dis nou presies die eerste en oudste sonde waarmee alle ellende begin het. Wie maar net soek om die straf vry te spring, om aan die hel te ontsnap, soek te min.

Die belangrikste vraag is: hoe kom dit tussen die HERE en my weer heeltemal goed? Hoe kan God se regte, wat ek geskend het, weer herstel word.

Dit is die eerste stap op die pad na die verlossing: insien dat God regte het wat ons vertrap het. Sodat die vraag homself opdring: hoe kan ons dit ooit weer goed maak?

En dan het God maar een antwoord: daar moet betaal word.

Ons kry die rekening gepresenteer. En hierdie rekening word nie met 'n rojaal gebaar van die tafel gevee nie. Maar God eis: voldoening.

God het hierdie eis sy volk eeuelank ingeprent deur die veelomvattende erediens rond die tabernakel en later die tempel in Israël, broeders en susters. Daardie diens van versoening by die altaar, wat om voldoening gevra het.

As die skrywer van die brief aan die Hebreërs ons die wonderlike verlossingsweg oor Jesus Christus beskryf, haal hy daarom nog eens uitvoerig daardie Outestamentiese erediens vir ons aandag.

Hy wandel met ons nog eens deur die heiligdom. Ons staan 'n oomblikkie stil by alles wat daar te sien was. Maar hy vra veral ons aandag vir die bordjie "Verbode toegang" wat voor die agterste gedeelte van die heiligdom aangebring was. Daaragter het God gewoon, Hy het daar getroon op die ark van die verbond, tussen die gerubs. Maar Hy was onsigbaar, ongenaakbaar. 'n Dik en donker gordyn het die toegang tot die troonsaal afgesluit. 'n Gordyn waarop ook nog weer almal gerubs afgebeeld was.

Daardie gerubs het herinner aan die gerubs met die swaard wat vlam en flikker by die toegang tot die paradys nadat Adam en Eva vanweë hul sondeval daaruit verdrywe was. "Halt- terug!" het dit beteken.

God hèt na die sondeval nog weer by die mens kom woon. Hy het sy tent onder die mense opgeslaan. Die troon van God was by die mense. Soos God dit altyd begeer het. Hy het die heiligdom daarom ook "tent van samekoms" laat noem.

Maar hoe naby God so ook gekom het- Hy het nogtans op 'n afstand gebly. In die tent, en later in die huis van samekoms is die ontmoeting tussen die HERE en sy volk demonstratief gehinder deur daardie dik gordyn wat nimmer opsy geskuif mog word nie.

Wie dit sou probeer om tog hierdie gordyn te ingnoreer, sou onverbiddelik deur die vuur van God se heiligheid verteer word. Want eintlik kon God heeltemal nie by die mense woon nie. 'n Muur van sonde het dit onmoontlik gemaak.

Dat God nogtans die tent nie gesluit het nie, was alleen te danke aan 'n stroom van bloed wat deurentyd by hierdie heiligdom bly stroom het.

Daardie bloed het daar op God se eie voorskrif gestroom. Die skrywer van die brief aan die Hebreërs wys daarop hoe belangrik daardie bloed in die Outestamentiese erediens was. "Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie", so vat hy dit in hoofstuk 9: 22 sondermeer saam. En daarmee gryp hy terug op wat die HERE self gesê het in die boek Levitikus: "Ek het die bloed aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed werk versoening"

Daardie bloed het sprekend aan God se regte in die verbond herinner. In daardie bloed het God voortdurend aan die oopstaande rekening wat om betaling gevra het, herinner.

Immers, waar bloed wegvloei, vloei lewe weg. Kinders weet dit al: 'n mens of 'n dier kan doodbloei. "Die siel is in die bloed", sê die HERE ook in Levitikus.

Ons mense het dit verdien om almal dood te bloei- dis wat God met daardie offerbloed wou sê. Geen mens, ook onder God se eie volk nie, is die lewe nog werd. "Jy sal sekerlik sterwe" was mos die straf op die sonde.

Wanneer die mens nie meer sy lewe vol oorgawe aan die HERE wil gee nie, dan neem die HERE dit. Dan laat Hy dit wegvloei in die dood. Dit is die voldoening wat Hy eis as die lewe nie vrywillig aan Hom geoffer word nie.

Daar was al baie verset, gemeente, teen hierdie onderwys uit die boeke van Moses wat deur die skrywer van die brief aan die Hebreërs nog weer eens bo gehaal word. Baie mense, ook teoloë, wil en wou nie aanvaar dat God bloèd sou eis om die sondes te versoen nie. "Bloed-teologie" is dit wel smalend genoem. En allerlei alternatiewe versoeningsteorieë is ontwikkel om maar aan die leer van alleen versoening deur voldoening te kan ontkom.

Maar wie die middelaarskap wil verstaan van ons Here Jesus Christus, God se eie Seun, wat gekom het om sy lewe te gee as 'n losprys vir baie, sal onder hierdie bloed-eis van die HERE nie kan uitkom nie. Ons moet weet dat ons geen reg op lewe meer het nie. Ons het daardie regte deur die sonde verspeel.

Gòd het reg op ons dood, as ons nie ons lewe aan Hom wil gee nie.

Dit het Hy vir sy volk al die eeue van die Ou Verbond baie duidelik gemaak, deur 'n stroom van bloed wat aanhoudend die voorhof van die heiligdom rooi gekleur het, terwyl die hoëpriester een maal in die jaar dit ook tot agter daardie "Verbode toegang"-gordyn moes bring, op die versoendeksel van God se troon.

Daardie bloed was 'n aanhoudende herinnering aan die sondes en het aan God se reg herinner: alleen versoening deur voldoening.

Daardie bloed moes tegelyk die volk laat besef dat God se eis veels te swaar was vir sondige mense.

Die stroom van bloed kon mos nooit ophou nie. Nooit was die versoening ten volle bereik nie, ten spyte van al die bloed wat gegee is.

Hierdie bloed kon geen egte versoening bewerk nie. Dit was vir God geen voldoende betaalmiddel nie.

Want dit was dierebloed, van bulle en bokke, en dit kan geen menseskuld vereffen nie.

Vir versoening deur egte voldoening sou daar mensebloed geoffer moet word. Die mens het in ongehoorsaamheid sy lewe aan God onttrek- die mens sal nou ook sy lewe in die dood aan God moet gee as 'n betaling vir sy sonde.

Maar as God sover sou gaan met sy eis, sou die verbond kompleet vasloop in die dood. Dan sou almal hul lewe in die dood verloor en sou God geen volk oorhou nie.

Dis hoekom God voorlopig genoeë geneem het met dierebloed: plaasvervangend. Maar daardie bloed het bèter bloed geeis. Suiwer soenbloed.

En so het dit die mens dag in dag uit gedwing om sy volslae magteloosheid om nog ooit weer regtig by God te woon, onder die oë te sien.

God se eis is te swaar. As dit van die mens moet afhang, het die lewe 'n doodlopende saak geword.

Tog het Israël hierdie doodernstige les van die diens van versoening by God se heiligdom al gou in sy eie voordeel verdraai, gemeente. Hulle het na verloop van tyd gaan dink hulle kon met daardie offers van diere die HERE afbetaal. Hulle het gemeen hulle kon Hom gunstig stem met 'n hele klompie offers. In Psalm 50, wat ons gesing het, verwyt die HERE dit sy volk.

2. Sondag 5 wil dat ons ten volle daarvan bewus bly, gemeente.

Want dan alleen gaan vir ons die wonder van God se verlossingsplan in sy eie Seun oop.

God het dit wat by die mense onmoontlik geblyk het tenslotte self moontlik gemaak.

Toe ons die weg van versoening deur voldoening nie kon gaan nie, het God hierdie weg nie afgeskaf nie.

Maar Hy het self diè weg gaan loop!

Hy het uit die hemel sy eie Seun gestuur as mens onder die mense om sy lewe te gee as 'n losprys vir baie en om sy bloed te vergiet tot 'n versoening van ons sondes.

Daar moes mensebloed vloei, vrywillig geoffer aan God. Deur 'n sondelose mens wat nie alleen vir homself nie, maar vir al God se kinders die las van die ewige toorn van God wou ondergaan, sonder om daarin onder te gaan. Daar was 'n middelaar nodig wat vir almal die muur van sonde met sy eie bloed kon wegbreek en die weg na God se heiligdom vir eens en vir altyd weer oop kon lê.

Maar waar was so'n borg, so'n middelaar ooit te vind?

God het Hom lankal gevind. Hy het hierdie Verlosser lankal agter die hand gehad; en die hele versoeningsdiens van die Ou Testament was tenslotte bedoel om die sig op Hom oop te breek.

God het self vir die Middelaar gesorg -heeltemal mens, en nogtans ook sterker as alle skepsels: terselfdertyd ware God.

Ons staan hier aan die grense van ons dinke, gemeente: 'n ware en regverdige mens- wie het dit ooit gesien sinds die sonde die wêreld verower het? Maar terselfdertyd: ware God. Ons kan daar met ons verstand nie by nie en woorde skiet hier tekort. Maar nogtans moet ons dit weet: so alleen kon bereik word dat aan God se reg voldoen kon word, dat ons die straf kon vryspring en weer in genade aangeneem te kan word.

So alleen kon dit, so alleen moes dit.

Hierdie Middelaar het met die eise van God se reg tog klaargekom: versoening deur voldoening.

Toe Hy eenmaal in die wêreld gekom het, het hy alle offerdiere uit God se heiligdom uitgeja omdat hy geweet het: "Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, o God. Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. Daar was meer nodig om aan u eise te kan voldoen: volmaakte toewyding tot in die dood. Maar kyk, Ek kom om U wil te doen. U het vir My mos 'n liggaam berei en in die wette van die Ou Testament feitlik oor My al geskrywe. U self het My toeberei om die volmaakte Middelaar te wees. U het My -God met U- mens gemaak, sonder sonde- en Ek wil u wil doen in die plek van al daardie ander kinders van U wat alleen maar kan te kort skiet. Ek gee vir U my lewe, my bloed. Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie. Ek gee my bloed".

So het God ontvang wat Hy mog eis, gemeente. Versoening deur Voldoening. Deur die bloed van 'n Middelaar wat Hy self vir ons gegee het.

Hy het ons skuld Hom betaal gesit en kon op die ou end "voldaan " op ons rekening skryf, toe Christus op Golgatha uitgeroep het: "Dit is volbring".

Sondag 5 presenteer vir ons die rekening, broeders en susters.

Met nugter, onomwonde vrae en antwoorde.

Maar u verstaan nou tog wel dat dit maar net gebeur om ons heen te drywe na hierdie goddelike Borg toe, wat met bloedrooi letters vir "voldaan" gesorg het?

AMEN.

(Pretoria, 11 Sept. 1988; gelees deur br. C.Roose)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)