PREEK OOR OPENBARING 22: 17A
LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps 130: 3, 4
Wetslesing
Ps 130: 2
L. Openb 21: 1-11
Gebed
Kollekte
Ps 70: 1, 2
Prediking
SB 38: 3
Gebed
SB 50: 1, 4, 5
Seën
Broeders en susters,
"Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. "
Hierdie vanselfsprekende woord het ons Heiland op 'n stadium gespreek toe Hy wou waarsku vir die gevaar om hier op aarde skatte bymekaar te maak.
Wie hier skatte versamel, bly ook sommer met sy hart aan daardie verganklike goeters hang en vergeet dat slegs die hemelse skatte 'n blywende waarde het.
Die wat sy skat in die hemel het, sal ook dáár met sy hart wees - dit spreek mos vanself.
Ons kan vir mekaar sê, broeders en susters: die kerk het vandag die grootste Skat in die hemel gekry wat ons maar kan begeer. Ons Here en Heiland Self.
Skat - is dit nie 'n kosbare woord uit die taal van die liefde nie? Is dit nie die tere en intieme woord waarmee 'n man en 'n vrou mekaar benoem nie?
Maar dan mag ons as kerk hierdie woord mos ook vir ons Here in die hemel gebruik? Ons mag onsself mos Christus se bruid weet na wie al sy liefde uitgaan. Hy wil mos ons Bruidegom wees wat ons wederliefde soek.
Nou ja, dan is Christus mos ons grootste Skat in die hemel aan Wie ons hang met ons hele hart.
Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees - daardie woord van Christus het vir ons as bruidskerk 'n ekstra dimensie gekry vandat Hy Self na die hemel toe gegaan het.
Waar sou Christus se bruid anders met haar hart wees as by haar Bruidegom in die hemel; by Hom wat vandag nog daar is maar beloof het om gou terug te kom?
Die kerk se hart is by Hom en daarom sien sy elke dag vol verlange uit na sy koms. Sy kom nie eerder tot rus voordat die dag van die hereniging aangebreek het nie.
Hoelang nog?
Is ons nog so bruidskerk, gemeente?
Ons het weer in nuwe jaar ingeskuif. Die tyd staan nie stil nie. En alles lyk alweer so gewoon.
Maar besef u nog dat ons weer 'n jaar digter by die terugkeer van ons Bruidegom gekom het? Verheug u u nog daaroor dat sy terugkeer elke dág naderby kom?
Ons het natuurlik almal ons planne en verlangens mbt tot die tyd wat voorlê. Maar is dit nog u grootste begeerte dat ons Bruidegom hierdie jaar weerkeer?
So 'n kerk, 'n bruid wat haar hart by haar Skat in die hemel het en vol begeerte om sy terukeer roep, teken ons teks van vanoggend vir ons.
Ek wil saam met u daarna gaan kyk.
As ek dit saamvat hoor ons in hierdie Skrifgedeelte hierdie boodskap:
DIE ROEP OM DIE BRUIDEGOM SE KOMS BEHEERS DIE LAASTE DAE
- CHRISTUS VERNEEM DAT DIE GEES EN DIE BRUID IN HIERDIE ROEP SAAMSTEM
- CHRISTUS VERLANG DAT BAIE MENSE MET HIERDIE ROEP INSTEM
1. In ons teks is 'n blye Bruidegom aan die woord, gemeente. Christus in die hemel konstateer dankbaar dat sy bruid op aarde haar hart by haar Skat het en dat sy haar hele verlange saampars in daardie een aanhoudende roep: "Kom!".
Ja, die Here Jesus is hier Self aan die woord, nie die apostel Johannes of 'n engel nie. Dit blyk mos duidelik as u kyk na die voorgaande en die volgende vers: in vs 16 is dit Christus wat sê: "Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester. "
En is vs 18 is dit steeds Christus wat praat as daar gesê word: "Ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: niemand mag by hierdie dinge byvoeg of daarvan wegneem nie... "
Ook in vs 17, ons teksgedeelte, is dit dus die Bruidegom Self wat met blye verwondering die roep verneem wat van die aarde af sy ore bereik: "Kom!"
Hy mag dankbaar vasstel: dis by my kerk nie: uit die oog, uit die hart nie. Inteendeel, haar hart het by My gebly en sy reken op my terugkoms.
Op die dag van sy hemelvaart moes Christus sy bruidskerk op aarde agterlaat. Toe Hy die hemelse heerlikheid mog binnegaan, moes Hy haar agterlaat, midde-in die moeite en misère waarvan hierdie wêreld so vol is.
Hy het geweet dat sy vertrek vir 'n tammelike lank tyd sou wees. Dit sou eeue duur voordat Hy definitief sou terugkom om sy bruid weer in sy arms te vou.
Sou Hy na al daardie eeue steeds 'n wagtende en verlangende bruid weervind; 'n kerk by wie die liefde onverswak gebly het??
U sal verstaan, broeders en susters: die saak het ons Heiland na aan die hart gelê.
Dis dié dat Hy direk sy Heilige Gees vanuit die hemel na die aarde toe gestuur en aan sy bruidkerk verbind het. Hy het geweet dat die kerk alléén, sonder die hulp van die Heilige Gees, nie met haar hele hart aan Hom sou bly hang nie. Die verlange sou gou slyt en die skatte van benede sou begin lok en trek. Hulle is immers tasbaar en direk voor hande! Hulle kan die oë verblind en die begeerte sommer dadelik bevredig.
Christus het geweet dat Hy sy kerk, sy liewe bruid, aan die skatte van benede sou kon verloor. Daarom het Hy die Heilige Gees aan die kerk gegee.
Die Gees moet die herinnering aan Christus lewendig hou. Die Gees moet Hom daarvoor beywer, al die eeue tussen hemelvaart en wederkoms, dat die liefde van die kerk vir haar hemelse Bruidegom nie verflou nie.
Die Gees moet haar Christus se woord op die hart bind - daardie Woord van sy liefde vir haar en sy sorg vir haar vanuit die hemel uit; daardie Woord wat wederliefde wil wek, die oorgawe van die hele hart; daardie Woord vol beloftes ook, beloftes vir die toekoms, vir die moeilike tyd wat sy eers moet deurmaak; beloftes mbt die dag waarop Hy terugkom en al sy en haar vyande in die ewige verdoemenis sal werp maar haar as sy uitverkore bruid by Hom sal neem in die ewige heerlikheid.
Met daardie Woord het Christus sy Gees aarde toe gestuur, na sy kerk toe, sodat die roep om sy terugkoms nie sou verstom nie.
En direk vanaf die Pinksterdag het die Heilige Gees aan hierdie belangrike saak begin werk.
Hy het apostels geïnspireer om briewe te skryf waarmee die kerk eeuelank vorentoe sou kan gaan. Hy het ampsdraers ingeskakel wat in Christus se diens sy bruid na die dag van die hereniging moet begelei en wat ook hulle bes daarvoor moet doen dat sy op daardie dag sonder vlek of rimpel, as 'n reine maagd voor haar Bruidegom sal verskyn.
Die Heilige Gees laat elke week die Woord van die Bruidegom hoor in preke en katkisasies om by die kerk die verwagting van die die voorbereiding op Christus se wederkoms nie te laat verslap nie.
En wanneer die heilige nagmaal gevier word, gebruik die Heilige Gees daardie eenvoudige maaltyd om te bereik dat Christus se bruid haar hart weer ophef na die hemel waar sy haar Bruidegom mag weet en waarvandaan sy Hom mag terugverwag.
Ja, by die nagmaalsviering gee die Heilige Gees aan die bruid al 'n voorsmaak van die komende vreugde as Christus die wyn met haar nuut sal drink in die Koninkryk van sy Vader.
In al hierdie dinge worstel Christus se Heilige Gees vandag hier op aarde om ons hart by ons Here te hou, gemeente. So leer Hy ons om na die hemel te bly te roep: "Kom, Here Jesus, ja, kom gou. Ons behoort tog bymekaar? U die Bruidegom, ons die bruid. Sonder U kan ons nie lewe nie. Sonder U wíl ons nie lewe nie!"
Nou ja, en nou is dit die mooie van ons teks, broeders en susters, dat Christus Self mag konstateer dat alle moeite nie verniet gedoen is nie. Die roep wat die Gees aan die bruid vóór-gesê het, word deur haar ná-gesê. In die roep om die Here se terugkeer het Gees en bruid gaan saamstem. Die Gees én die bruid sê: "Kom!"
En hierdie roep bly die laaste dae beheers. Die Gees kry die kerk so ver, dat sy haar hoof omhoog hou en haar aandag nie na alle kante toe laat wegtrek nie.
Die Gees bereik dat die kerk nie haarself verloor in die alledaagse dinge nie, maar haar aandag gevestig hou op die dag van môre, die dag van haar Bruidegom se terugkeer.
Christus verneem die resultaat van die werk van sy Gees: daar is 'n bruid op aarde wat met haar hele hart na Hom uitsien!
Daar klink 'n triomfantelike toon in hierdie teks, gemeente.
"Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees" is 'n vanselfsprekende saak, het ek in die begin van hierdie preek gesê.
Maar dat ons as bruidskerk ook ons hart by ons Skat in die hemel hou, dit is glad nie vanselfsprekend nie.
Om dít sover te kry moet daar eers baie vleeslike weerstand oorwin word.
Christus se bruid kry mos nie die kans om maar dadelik met haar kop in die wolke te gaan loop nie, soos by ons 'n meisie wat hoop om binnekort te trou al dae van tevore in 'n opgewonde stemming verkeer nie.
Christus weet maar al te goed dat die roep van sy bruid 'n roep uit die diepte is. Die dae wat aan die hereniging voorafgaan, sal vir die kerk op aarde swaar en moeilike dae word. Sy sal van alle kante bedreig word. Sy sal moet vlug en as 't ware in die woestyn leef omdat die duiwel, die groot rivaal, dit op haar gemunt het.
Dié boodskap moet die Heilige Gees die bruid ook bybring.
Die Bruidegom kom gou - Hy het dit belowe: "Kyk, Ek kom gou" - maar Hy het nie verswyg nie dat Hy moet terugkom langs 'n weg van bloed, vuur en rookdamp.
Is juis hierdie laatste bybelboek, waarmee die liefdesbriewe van Christus vir sy kerk afgesluit word, nie vol daarvan nie?
Die weg van die wederkoms is 'n weg van oorlog, honger, epidemies en dood.
'n Weg van natuurrampe en geestelike omgewingsbesoedeling. 'n Weg veral ook van kerkvervolging, boikot, haat en moord.
Die bruid weet dit alles by voorbaat. Daar is niks aan haar verswyg nie. Sy weet waarop sy kan reken.
En dat sy desondanks, in weerwil van al daardie ellende, nie die moed verloor nie, maar volhardend bly roep: "Kom, Here Jesus!" - dit is die wonder wat Christus in ons teks triomfantelik vasstel. Sy sê dit darem, midde-in 'n kokende wêreld vol doodsvyande: Kom!, terwyl sy baie goed weet wat sy met hierdie geroep losmaak. Sy sink nie weg in die chaos nie, sy laat haarself nie saamsuig deur verleidende geeste nie, sy loop nie vas in haar angste en spanning nie, sy gaan nie kapot aan al die leed en lyding nie, maar sy bly standvastig roep om die koms van haar Bruidegom.
Natuurlik, dit gaan natuurlik op en neer. Dit gebeur ook wel dat die bruid geneig is om haar kop te laat hang as die ellende haar bo die hoof groei. Soms lyk die toekoms sonder uitsig, donker en dreigend, en juis in sulke dae lyk die Bruidegom so ver weg.
Dan weet sy nie meer hoe en wat sy moet bid nie.
Maar dan is daar altyd die Gees van Christus wat haar in haar swakeid te hulp kom. Die Gees trek die bruid weer los uit haar kortsigtigheid en moedeloosheid en rig haar hart weer op haar Bruidegom wat haar regtig nie vergeet het nie. Sodat sy dit weer weet:
Dreig daar geweld van alle sye,
al gaan dit nog so hoog,
my bloed, my trane en my lye
is dierbaar in sy oog.
As alles donker word, open die Gees die kerk se oë weer vor die mooi naam waarmee haar Bruidegom Homself benoem het: "die blink môrester".
Die nuwe dag is in aantog! Die dag van die volmaakte, verheerlikte lewe se eerste strale het al sigbaar geword bo ons menslike horison.
En as die bruid daardie môrester weer sien, kan sy weer roep, saam met die Gees: Kom! Laat die lig sterker word. Laat die dag van ons hereniging nou ook aanbreek.
En as die bruid haar hart weer ophef, kan sy ook haar hoof weer ophef.
Hieraan, broeders en susters, is die kerk op aarde herkenaar as Christus se bruid. Aan hierdie lewenshouding: daardie opgehewe hart en daardie opgehewe hoof.
So moet ons in hierdie wêreld Christus se terugkoms tegemoet leef en ons daaglikse lewensstyl inrig. Dit moet my prediking en katkisasies en die huisbesoeke van u ouderlinge en diakens beheers. Dit moet sentraal staan in u gesprekke by die huis en in die onderrig aan ons Gereformeerde kleuter- en laerskool.
Want as dié houding verdwyn, is ons nie meer bruid nie. Dan word ons hoer, prostituut.
U weet, daardie vrou staan ook beskrywe in die laaste Bybelboek. Sy is nie daarop uit om met al haar liefde en al haar moontlikhede haar man te behaag nie. Sy verkoop haar bates om daarmee haarself te verryk. Sy soek bevrediging by die skatte van benede. Dié trek haar aan, en daarvoor wil sy aantreklik wees.
U ken hulle tog ook wel, broeders en susters, daardie kerkgemeenskappe wat al hoe meer aardsgerig geraak het? Die kerke vir wie dit die belangrikste lyk te wees om vandag in hierdie wêreld, in die politiek en so meer, te kan saamdoen en hul deel te ontvang.
Christus weet ook van daardie hoerery. Daarom verbly Hy Hom des te meer daaroor dat Hy aan sy bruid die laaste woord kan gee in die Bybel. Hy sal Self daarvoor sorg, deur sy Heilige Gees, dat daar altyd 'n verwagtingsvolle bruid op aarde sal bly.
Sy bly na sy koms uitsien. Sy weet: as Hy kom, moet ek gereed wees. En ek mag my nie deur sy koms laat oorval nie.
2. Christus is bly met hierdie lewenshouding van sy kerk, broeders en susters, omdat nie net in die Bybel nie, maar ook in die geskiedenis hierdie houding die laaste woord moet kry.
Hierdie lewensstyl van die kerk wat haar lewe laat beheers deur die koms van die Bruidegom, moet aansteeklik werk.
Nie net die Gees en die bruid nie, maar "elkeen wat dit hoor, moet sê: Kom!"
Dit is een van Christus se laaste bevele aan die wêreld; nie net 'n wens nie, maar baie duidelik 'n bevel.
Elkeen wat die roep van die Gees en die bruid verneem, kan dit nie vir kennisgewing aanneem nie, maar moet dit oorneem. Hy moet saamdoen, saamroep, daarmee instem. Die koor van roepers moet al hoe groter word.
Die roep om sy koms moet, namate die dag van sy terugkeer nader kom, al hoe luider en uit al hoe meer monde klink.
Ook daarom moet die verwagtingsvolle roep van die bruid in die wêreld opklink, teenoor die leë reklame van die hoer.
Sodat elkeen gedwing word om te reageer, om te kies.
Daarom moet u by ons teks natuurlik ook nie net dink aan 'n biddende bruid in die binnekamer, wat haarself met haar stil verlange uit die drukke gewoel om haar heen terugtrek nie. Nee, dit gaan hier baie duidelik oor 'n lewenshouding wat opval, wat die aandag trek, wat aansteeklik werk.
Ons aanhoudende roep om die koms van ons Bruidegom moet 'n roep van ons laat uitgaan.
Dus is die roep van die bruid om die koms van haar Bruidegom ook nie net 'n saak vir die siekes in die kerk, en die bejaardes, vir die mense wat tog verder niks meer van die lewe kan verwag en in die kerk tog verder niks meer het om te doen nie.
Die verwagting van Christus se terugkoms moet ewe goed die lewe van die jongmense in die kerk beheer, en van die lidmate wat midde-in die volle lewe staan. Almal se daaglikse lewenspraktyk en toekomsplanne moet onder die hoogspanning van die wederkoms staan.
En hierdeur moet ons die aandag trek in hierdie wêreld: dat ons 'n heeltemal ander lewensstyl as die ander mense vertoon omdat ons die toekoms en die wederkoms nooit van mekaar losmaak nie.
Dié houding moet almal wat met ons in aanraking kom, voor die keuse plaas en dwing om te gaan saamroep: "Amen, ja, kom, Here Jesus!"
Almal wat die bruid raakloop, moet met haar saamgaan: na die dag van die Bruidegom se terugkeer toe. Elkeen moet haar lewensstyl oorneem omdat hy eenvouding g'n ander keuse het nie.
Dit moet so wees, dat dié wat nie met die roep om die koms van Christus wil instem nie, nog slegs kan teëpraat, omdat daar nie 'n tussenweg is nie.
Dié wat Christus se bruidskerk ontmoet het en haar lewensstyl opgemerk het, en dan nog bly swyg en nie gaan saamroep om die koms van Christus nie, versit hom teen die Gees van God.
En daar is geen groter sonde wat God meer vertoorn nie!
Almal wat hierdie roep aan hulle laat verbygaan, laat álles aan hulle verbygaan, en hou dus niks meer oor nie.
Hulle mis die wagwoord van hierdie laaste dae en kan dus nie in God se feessaal binnegelaat word nie.
Want Christus se kerk leef nie by illusies en wensdrome nie. Sy weet waarop sy mag wag: sy het dit uit Christus se eie mond gehoor.
Eendag kom die Bruidegom, en neem Hy sy bruid saam in die feessaal in.
Maar as op daardie dag haar roepe verhoor is en haar Bruidegom uiteindelik gekom het, wat sal dan gebeur met al die mense wat deur sy koms onaangenaam verras word omdat hulle Hom nie verwag het nie; omdat hulle die roepe van die kerk onverskillig aan hulle laat verbygaan het; omdat hulle hul nie deur die Heilige Gees laat vervul het nie, maar slegs vervul was van hul eie leë praatjies en plannetjies?
Wat sal gebeur met daardie mense wat nie wou saamroep: "Kom, Here Jesus!" nie?
Die Here sal vir hulle sê: "Gaan weg, Ek het julle nooit geken nie".
AMEN.
[Ds FJ Bijzet]
(kyk in preek)