PREEK OOR HEBR. 12: 25
LITURGIE:
L. Hebr. 12: 11-28
Ps. 68: 4, 8
Ps. 68: 16
Ps. 132: 5, 9, 10
Ps. 95: 4, 6
Ps. 2: 6
Broeders en susters in ons Here Jesus Christus,
Die waarskuwende woorde van ons teks van vanmôre is nie net vir Sr. Postma en Br. Van Dongen bestem nie.
Die HERE spreek in hierdie teks ons almal aan vanmôre, wanneer Hy sê: "Pas op dat julle Hom wat spreek nie afwys nie!".
Die kerkraad moes in diè diens/ verlede sondag aan u meedeel dat twee lidmate hulle/ een lidmaat hom (ens. ) aan die gemeenskap van die kerk onttrek het. In albei die gevalle het daar in hul lewe 'n toenemende afwysing gekom van, soos ons teks dit uitdruk: "Hom wat uit die hemele tot ons spreek". 'n Al hoe slordiger lewe in die diens van die HERE, 'n toenemende ongehoorsaamheid en onverskilligheid, ten spyte van baie waarskuwings. En nou dus 'n volledige onttrekking aan die Woord van die HERE wat in die kerk aan ons bedien word.
As dit goed is het hierdie aangrypende ontwikkeling in die lewe van twee lidmate van ons u diep geskok, broeders en susters. Ek neem aan dat u, al het dit dalk nie meer heeltemal onverwags gekom nie, daarvan geskrik het dat dit op die ou end sòver met hulle gekom het. Ons huiwer wanneer ons aan die gevolge dink. Waarop sal dit met hulle uitloop as hulle op hierdie pad aangaan?
As daar geen bekering kom nie, wag die verterende vuur van God se toorn! Dan is daar nie aan te ontkom nie.
Maar het u ook oor usèlf geskrik?
En oor u kinders?
Kry die skok van diè mòre heilsame gevolge vir u eie lewe met die HERE? Besef u weer des te meer hoe gevààrlik dit dus is as u geen erns maak met wat die HERE in sy Woord aanhoudend aan u voorhou nie?
Want dit wat met hierdie twee lidmate gebeur het, kan ook ons oorkom. Ook by ons kan 'n bose en ongelowige hart groei sodat ons van die lewende God afvallig word. Ook ons kan ongehoorsaam word en ons algaande van Hom wat uit die hemele sy Woord laat hoor, afwend.
Daarom kom vanmôre tot ons almal soos ons hier sit die
WAARSKUWING OM GOD SE WOORD NIE AF TE WYS NIE.
Ons teks wys daarop dat
- GOD SE WOORD VIR ONS AAN WAARDE GEWEN HET
- GOD SE WRAAK VIR ONS DAAROM DES TE GEVAARLIKER GEWORD HET
1. Mens sou partykeer wens, gemeente, dat dit in die kerk nog soos onder die ou verbond was.
Toe het die HERE tog maar baie sigbaar Homself laat hoor. Toe het Hy sy aanwesigheid tog maar meer as een keer baie indrukwekkend laat blyk, sodat elkeen seker geweet het: dit is God se stem! Hier is God se eie hand voelbaar!
Mens sou partymaal begeer dat die HERE Homself vandag nòg aan ons sou openbaar op 'n wyse soos wat Hy dit in die woestyn Sinai, by die berg Horeb, gedoen het, en waaraan die skrywer van die brief aan die Hebreërs in ons teks en die voorgaande verse herinner.
As dit tog nòg 'n keer so sou gebeur soos destyds- as die HERE dit 'n keer sou laat storm en donder in hierdie kerkgebou, as Hy 'n laaiende vuur hierbo in die kerk sou laat loei sonder dat daar iets sou verbrand; as Hy 'n keer onsigbare basuine deur hierdie ruimte sou laat skal, buite tot ver in die omtrek hoorbaar; as die HERE 'n keer die hemel bo hierdie preekstoel sou oopmaak en sy engele in groot aantalle sou laat neerdaal en opstyg - dan sou ons in een keer van al ons twyfels en van ons kleingeloof verlos wees, dan sou die opgroeiende jeug opeens almal aan die einde van hierdie jaar belydenis wil aflê, dan sou moeisame evangelisasie werk om mense tot Christus te bekeer nie meer nodig wees nie, want die hele Pretoria sou uitstroom en ons kerk sou heeltemal te klein wees om alle mense te ontvang, dan sou Sr. Postma en Br. Van Dongen direk hul onttrekking weer ongedaan maak en met skaamte erken hulle was besig om 'n heillose pad te loop.
As dit tog nog 'n keer so kon gebeur.....
Want ons kan ons as kerk van die nuwe verbond soms so arm voel in vergelyking met die kerk onder die ou verbond. Toe was daar so dikwels iets sigbaars, tàsbaars, sê vs. 18. Nou lyk dit alles meestal so ongrypbaar. Ons kerkdienste is so eenvoudig, daar is so weinig om te sien, nog minder om te tas. Ons moet die meeste na wòòrde luister. Woorde waaraan ons self wel eens twyfel. Woorde waarmee ons so moeilik 'n ander kan oortuig en vashou.
Nogtans, gemeente, moet ons maar nie na die situasie onder die ou vrebond terugverlang nie. Terugkeer na God se spreke van destyds sou 'n terugvàl beteken. ons sou nie ryker daarvan word nie, maar juis armer. Want God het met ons inmiddels al baie verder gekom. En sy Woord vir ons het enorm aan waarde gewen. Al het ons miskien ook te min 'n oog daarvoor, of liewer: te min oor daarvoor.
Die brief waaruit ons teks geneem is, is dan ook geskrywe om ons 'n oog en 'n oor daarvoor te gee. U weet dalk, dat die hele brief aan die Hebreërs een lange lofsang op die rykdom van die nuwe, die vernude verbond bo die ou verbond is.
Die skrywer val in hoofstuk 1 direk met die deur in huis met die woorde: "Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun.... "
En dan handel heel die verdere brief oor die verlossingswerk van hierdie Seun, die bewerker van ons saligheid wat van 'n nuwe en beter verbond die Borg geword het.
Maar telkens word die vergelyking met die ou en verouderde verbond wat in die dae van Moses in die Sinai begin het, gemaak.
Aan die einde van ons tekshoofstuk, in die verse voor ons teks, word so nog 'n keer die wins van die nuwe verbond bo die ou verbond aan ons voorgereken en uitgeteken in 'n opeenstapeling van veelseggende woorde. Die lewe van die Nieu-Testamentiese gemeente van Christus word nog 'n keer teenoor die instituering van die Ou-Testamentiese kerk in die Sinai geplaas.
En dan blyk die teëstelling in meerder opsigte tog wel baie groot te wees! In die ontmoeting met God in die nuwe verbond is tog wel 'n groot vooruitgang geboek ten opsigte van diè onder die ou verbond.
Dit word in ons teks tenslotte so saamgevat, dat God vroeër op die aarde sy stem laat hoor het, terwyl Hy nou uit die hemele spreek.
Toe het God na sy volk op die aarde neergedaal.
Nou trek God sy volk na Homself in die hemele omhoog.
God het met sy volk van die Sinai na die Sion gekom. En dit is 'n hemelsbreë verskil!
In gunstige sin.
Want toe God Hom met donder en geweld op die top van die Sinai aan sy volk geopenbaar het, in laaiende vuur, wat in die duisternis opgelig het, met 'n loeiende storm en onder basuingeklank wat al hoe luider geklink het, was dit wel indrukwekkend - maar dit was terselfdertyd ook angswekkend. Die geweld van God se majesteit het die berg en sy omgewing soseer onder hoogspanning gesit dat dit vir die volk amper ondraaglik geword het.
Maar God openbaar Homself aan ons vandag vanuit Sion, en dààr heers ondanks hoogspanning tog een en al ontspanning. Opsetlik kies God se Woord die veelseggende naam "Sion" vir die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem, die residensie van God, die hemelse heiligdom waar Christus aan God se regterhand op die troon sit en waar ons noù God mag ontmoet. Want die naam Sion (ons het dit gesien in die serie preke oor die Sionspsalms) spreek vanouds van rus: daar wil God by sy volk woon om sy volk daar met oorvloed te seën. Want daar word die sondes versoen en die lewe weer oopgesluit. "In Sion", so het ons met Psalm 132 gesing, "is Gods seèn groot, daar red Hy armes uit die nood". God maak die lewe in Sion tot 'n fees. Geen vrees dus meer nie vandag, maar fees! Ons mag vandag alreeds by God woon in Sion. Die werklike Sion is in die hemel, maar die kerk is die voorportaal van die hemelse Sion, waarvan ons deur Christus burgers geword het.
Toe God op die berg Sinai neergedaal het, was die omgewing daarvan deur derduisende engele afgepaal. En hulle moes onmddellik enige skepsel wat dit sou waag om te naby kom, met die dood straf.
Maar noudat God ons na die berg Sion omhoog trek, is die tienduisende engele juis uitgestuur om ons te haal en te help en te begelei. Nou omring hulle ons soos 'n vurige muur en dra hulle ons op die hande sodat ons ons voet nie aan 'n klip stamp nie. En hulle sing vir ons die loflied op God se grootheid voor, om die hemelse liturgie vir ons te leer.
Toe God sy stem vanaf die top van die Sinai op die aarde laat dreun het, was dit vir die volk destyds al gou genoeg. Dit het vir hulle veels te veel geweld geword. En hulle het halsoorkop vir Moses laat vra of daardie stem asseblief maar sou swyg. Moses moes maar vir hulle tot die HERE nader, maar hulleself wou maar liewerste op 'n groot afstand bly.
Maar noudat God uit die hemelse Sion tot ons spreek, maak ons ons ore nie toe en vlug ons nie weg nie, maar kom ons juis digterby, vol vrymoedigheid. Daardie uitdrukking is tiperend vir die nuwe verbond: met vrymoedigheid toetree.
Want onder doe ou verbond het toe die een Moses as Middelaar van die aarde hemel toe geklim, God tegemoet; die volk moes agterbly. Maar daarna moes Moses tog ook weer terug aarde toe. En hy was self verskrik en het gesidder.
Maar in die nuwe verbond het God se eie Seun as Middelaar vir ons uit die hemel aarde toe gekom en daarna weer terug hemel toe, waar Hy nou vir ons 'n plek berei om ons almal saam met Hom na God toe te neem.
Op die Sinai het God Homself as 'n Regter laat ken wat oombliklik enige oortreding van sy verbondswet streng bestraf het. Sonder ontferming is elkeen wat sy wet verwerp het, deur steniging gedood.
Maar in Sion is dieselfde Regter oor almal vol genade en vergewing en spreek Hy die wat met belydenis van skuld voor sy troon van die genade verskyn, vry.
Want onder die ou verbond het God 'n wet wat wel die dood oor sondige mense moes bring, afgekondig. Die wet was te goed en dus te swaar vir mense wat onbekwaam tot enigiets goeds en geneig tot alle kwaad is.
Maar in die nuwe verbond kondig God vrede en versoening af wat die ewige lewe gee. Danksy die offer van God se groot Seun, Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond wat daarvoor met sy eie bloed betaal het.
Kon die bloed waarmee Moses die ou verbond ingewy het, slegs die sondes in herinnering hou, aangesien dit onmoontlik is dat die bloed van bulle en bokke die sondes wegneem, sodat diè bloed net soos die bloed van Abel, maar net om wraak oor die sondes kon roep - die bloed wat die Seun van God gegee het is nou 'n aanhoudende roep by God om van die wraak af te sien aangesien die skuld geboet is. Die bloed van Christus roep nou om vergewing. En God skrik ons nie meer af met sy toorn nie, maar soek ons met sy vrede.
Wanneer u dit alles bedink, gemeente- wanneer u hierdie spreke van God tot u vandag, vanuit die hemel, deur die Gees van die Here Jesus Christus- wanneer u sy boodskap van genade en vrede tot u laat deurdring en op u laat inwerk, besef u dan dat ons maar liewer nie na God se spreke onder die ou verbond moet terugverlang nie? Al gaan God se Woord vandag ook met heelwat minder geweld as vroeër gepaard, dit is nie minder werd as vroeër nie.
Dit het vir ons juis aan waarde gewen!
God spreek ons nou nie meer aan deur Moses of 'n ander profeet op aarde nie, maar Hy spreek ons nou aan deur sy Seun, ons Borg in die hemel. Uiterlik mag God se spreke dan aan krag verloor het, innerlik het dit aan krag gewen. Die Heilige Gees van Christus kom nu uit die hemel na ons toe, in die boodskap van die Bybel, en trek ons agter ons Middelaar en Verlosser omhoog na God se troon. En wie homself lààt meetrek deur die Gees, wie gehoorsaam homself aan die hemelse roepstem gewonne gee, sal ervaar hoedat die kragte van die toekomstige eeu in sy lewe losgemaak word: hy word 'n heeltemal ander mens. Die paradyslewe kom in sy lewe terug. En dit bring 'n vrede en 'n rus in die lewe, die lewe word weer 'n wandel met God en in die grootste smart bly nogtans sy hart op die HEER vertrou. Hy kan getroos lewe en sterwe.
Dit is die kragte, die geweld van die nuwe verbond!
En as u nou maar eers daarvoor 'n oog het, broeders en susters, wil u nooit meer na die tyd voor Christus terug nie.
Dit lyk so simpel en sober in die kerk vandag. Ons ontmoeting met God in die erediens lyk so weinig oortuigend en daar is soveel gelòòf nodig om die kragte van die toekomstige eeu te ontdek. Maar wie net een en al oor wil wees vir dit wat God in sy Seun vandag vir ons te sê het, diè weet hoe onmisbaar en waardevol die lewe by God in die kerk is.
2. Maar, en dit is nou die waarskuwing in ons teks: hoe groter waarde God se Woord gekry het, des te groter het ook die gevaar vir ons geword.
"Pas op dat julle hom wat spreek nie afwys nie" is die waarskuwing. "Want as die Israeliete nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde 'n goddelike waarskuwing laat hoor het, veel minder òns, as ons ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek".
Ten spyte van die indrukwekkende en ontsagwekkende openbaring van God vanaf die Sinai het heel veel Israeliete hulle nie deur God se spreke werklik laat imponeer nie. Hulle het hul deur die hoogspanning van daardie ontmoeting nie ten volle laat laai nie. Al gou het hulle God begin teëpraat, "wederstrewig" soos die Bybel dit noem, en het God deur hulle ongeloof en ongehoorsaamheid verbitter.
Maar hulle het dit agtergekom! Dit het nie ongestraf gebly nie. Hulle het God se vergelding nie ontvlug nie. Die woestyn na die Sinai het besaai met lyke kom te lê. Die vuur van God se toorn het aanhoudend uitgeskiet om die wederstrewiges te verteer. Meer as een keer letterlik!
Want ons God is 'n verterende vuur.
Maar wat dit betref is God nog altyd Dieselfde, broeders en susters.
En dus het dit vir ons onder die nuwe verbond nou des te gevaarliker geword. Want nou dat God alle afsettings opgeruim het en die engele ons nie meer keer nie, maar juis stimuleer om toe te tree tot die lewende God om by Hom te woon, nou sal ons ons slegs dan nie aan God se heiligheid verbrand nie, as ons Hom welbehaaglik dien met eerbied en vrees. As ons ons nie van sy Woord afkeer in onverskilligheid of eiewilligheid nie.
Dit word nou baie gevaarlik, as ons in ons kerkgang maklik word en uit ons sommer oor allerhande uitvlugte wegbly uit die dienste laat blyk dat ons God se Woord feitlik minag.
Dit word nou baie gevaarlik as ons meen ons het aan een preek 'n sondag ook wel genoeg. Dit word heel gevaarlik as ons in ons houding en ons gedrag tydens die dienste laat uitkom dat ons nie besef dat ons hier regstreeks voor die lewende God verskyn en dat sy heilige engele sien hoedat ons tydens die diens hier sit nie.
Dit word nou heel gevaarlik as ons onverskillig soos Esau ons gedra. Onverskillig op hierdie wyse naamlik, dat ons wel 'n kerklidmaat wil bly, maar nie regtig uit die verbond met God wil lewe nie.
Dit word heel gevaarlik as ons as kerklid naas God ook graag die wêreld te vriend wil hou.
Dit word nou heel gevaarlik as ons seuns en dogters, net soos Esau, hulleself nie so druk maak daarom dat hulle 'n huweliksmaat binne die kerk vind nie....
Ja, gemeente, dit word oor die volle breedte van ons lewe nou van lewensbelang wat ons met die Woord van Hom wat uit die hemel tot ons spreek, maak. Het sy Woord nou die eerste en die laaste woord? Is daardie Woord vir ons nou wet? Is ons aan daardie Woord onvoorwaardelik en vol oorgawe gehoorsaam?
Dit word nie eers gevaarlik as 'n kerklid onder die tug geplaas moet word of homself aan die kerk onttrek nie. Die gevaar begin al veel eerder. In 'n ontroue kerkbesoek, in 'n slordige lewe in die verbond, 'n oppervlakkige luister na God se Woord, in 'n verwerping van die waarskuwings van die ampsdraers, in 'n eiewillig wil dien van die HERE.....
Daar alreeds word mos sigbaar dat 'n mens besig is om hom van Hom wat uit die hemel spreek af te keer. Daar word duidelik dat God se wraak nie gevrees word nie.
God se wraak wat in die nuwe verbond des te gevaarliker geword het. Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar 'n verskriklike verwagting van oordeel en 'n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.
As God onder die ou verbond die verwerping van sy Woord alreeds so gestraf het, hoeveel swaarder straf, dink julle, sal Hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die verbond waardeur hy geheilig was, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? Het God nie gesê nie: "My kom die wraak toe, Ek sal vergelde"? Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God!
Besef u nog, gemeente, hoe vreeslik of dit is? !
Ek vra my soms af, of ons nog wel regtig met vrees vir God se wraak vervul is, nie net wanneer ek sien hoe dat party van ons lewe nie, maar ook as ek sien hoe weinig ons ons nog inspan daarvoor om ons broeder of suster uit die hande van die lewende God te red deur hom of haar uit alle mag na die lewe ooreenkomstig sy Woord terug te roep.
Wat het u gedoen om (Sr. Postma en Br. Van Dongen) aan die verterende vuur van God se toorn te laat ontkom? Wat doen u aan ander van wie u weet dat hulle besig is om hulle van God en sy verbond af te keer?
Maar as ons so weinig druk maak daarom of 'n medekerklid wel die wraak van God sal ontvlug, vrees ons dan self nog wel ons God as 'n verterende vuur?
Laat ons tog bly bedink dat in die nuwe verbond die afstand tussen ons en die lewende God kleiner as ooit tevore geword het. Dus is dit brandgevaarlik vir ons!
Daar is maar een moontlikheid om nie vir ewig verteer te word nie. En dit is: sy Woord ten volle ernstig neem.
AMEN.
[Ds FJ Bijzet]
(kyk in preek)