Voor diens: Ps 86: 1, 2, 3, 4
Ps 48: 1, 4
Ps 48: 5
Ps 130: 1, 2, 3, 4 (1)
Skb 20: 5, 6, 7, 8
Lees: Hand 1: 1-14
Teks: Hand 1: 14
Brs en srs, gemeente van ons Here Jesus Christus,
Sinds die vorige eeu ken die NG-kerk die tradisie dat in die tien dae tussen hemelvaart en Pinksterfees elke aand 'n bidstond gehou word ter voorbereiding op die koms van die Pinksterfees. Tydens die verskillende Pinksterbidure word gewoonlik ook baie aandag gegee aan die voortgang van die Koninkryk van Jesus Christus deur middel van die sending.
Hierdie tradisie word teruggevoer op ons teks van vanoggend.
Ons lees daar dat die apostels van die Here Jesus saam met die eerste gelowiges byeen is om biddend die koms van die beloofde Heilige Gees af te wag.
Vanuit hierdie teks is dit nie moeilik om 'n kritiese opmerking te maak oor die Pinksterbidure van die NG-kerk nie.
Ons sou byvoorbeeld kon wys op die feit dat hierdie tiendae- periode wat in Handelinge 1 beskryf word, volstrek eenmalig is.
Die Heilige Gees hoef maar net een keer te kom. As Hy eenmaal aan die kerk gegee is, hoef jy nie elke jaar opnuut om die koms van die Gees te bid nie.
Dit is waar natuurlik.
Maar daar is ook 'n ander kant. Ons bely in die Heidelbergse Kategismus, dat God sy Gees slegs wil gee as ons sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.
Die Heilige Gees is nie 'n geskenk wat 'n mens een keer moet ontvang en as jy dit eenmaal ontvang het, is jy vir altyd die gelukkige besitter van hierdie geskenk.
Nee, die Heilige Gees is 'n Persoon van die Goddelike Drieëenheid. Hom kan jy as mens nooit hê nie. Jy kan Hom slegs ontvang. En weer ontvang.
Op jou gebed. Inderdaad, om hierdie geskenk van die Heilige Gees moet ons sonder ophou bid.
En om dit gedurende 'n sekere tyd van die jaar ekstra te doen, daarmee is niks verkeerd nie. Ewemin om juis in hierdie tyd van die kerklike jaar ekstra aandag aan die voortgang van die evangelie op die sendingveld te gee nie.
As ons maar steeds besef dat ons nie meer staan waar die eerste gemeente van Christus gestaan het nie. Want juis die die verhoring van die eendragtige gebed van die eerste gelowiges het 'n groot voortgang gebring in die geskiedenis van die heil van Christus.
Ons hoef nie meer terug te keer na die gebed van die begin nie, maar ons moet ons vol geloof in die krag van die gebed uitstrek na verdere vervulling van Gods beloftes aan sy kerk.
Ons tema vir vanoggend se preek is:
Die eendragtige gebed om die koms van die Gees
Ons let op
- die bron van hul eendrag
- die gerigtheid op hul opdrag
Hulle almal het eendragtig volhard in gebed.
Hulle almal. Wie is hierdie 'almal'? Die vorige vers gee daarop 'n antwoord. In vers 13 noem Lukas al die name van die dissipels wat die Here Jesus eendag geroep het. Daar is elf name op sy lys.
U weet dat daar eerder twaalf was. Maar Judas Iskariot het afgeval. Dus die rekensom is maklik. Elf bly oor.
Maar gemeente, hier is iets meer van te sê as om 'n rekensom te maak. Want dit is nie minder as 'n wonder dat hierdie elf nog by mekaar is.
Of liewers dat hulle weer by mekaar is.
Dit is inmiddels ses weke na die Paasfees. Onthou U dat op Goeie Vrydag die hele groep uit mekaar geval het? Elkeen het sy eie weg gegaan. Hulle het bang geraak vir die mense. In hul vrees het hulle alkante toe gevlug.
Op die Paasdag het die Here Jesus baie werk om hulle weer by mekaar te kry. Ons kry selfs die indruk dat dit 'n hele paar weke duur voordat hulle almal as een groep as die elf dissipels weer 'n slag by mekaar is.
Maar nou is hulle hier saam in Jerusalem. Hul getal is kompleet. Daar ontbreek die keer niemand nie.
Hoe kan dit?
Wel, dit is nou die gevolg van die bevel van Jesus.
Hy het gesê: Gaan na Jerusalem en wag daar vir die belofte wat Ek julle gegee het.
Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees sal kom.
In gehoorsaamheid aan daardie bevel is hulle nou daar. Hulle dae word dae van Advent. Dae van verwagting op die vervulling van 'n belofte.
Nee, nou is daar niemand wat twyfel of hierdie belofte wel ooit in vervulling kan gaan nie. Die Here het self belowe.
Hy gaan weg. Maar Hy stuur die Gees as Trooster.
Dat hulle dus almal eendragtig by mekaar is, moet ons sien as die werk van Jesus Christus. Dit is sy vergaderkrag wat hierdie resultaat tot gevolg het.
Dit is dan ook nie 'n vraag wat hulle daar saam moet doen nie.
Stry hulle daaroor wie van hulle na Jesus vertrek die belangrikste gaan wees?
Vra hulle mekaar se aandag vir mekaar se stories?
Nee, tans het hulle daarvoor nie tyd nie.
Dit gaan hulle nou almal om die saak van Jesus Christus.
Daar sal binnekort groot dinge gebeur en hulle weet dat hulle daarin 'n rol moet speel. En daarom konsentreeer hulle nou heeltemal op die sake wat staan te gebeur.
Hulle weet nie presies wat hulle moet verwag nie. Maar hulle glo. Hulle glo ook daarin dat hulle nou verantwoordelik is vir die werk wat gaan kom.
Hulle is nou die gemeente van Christus. Hulle is sy kerk.
En daarom is hulle hier verenig in gebed.
Eendragtig volhard hulle in gebed.
Ek dink sowel die eendrag as die volharding is kenmerkend hier.
Hul eendrag kom voort uit hul onderwerping aan die bevel van Christus. Waar gehoorsaamheid aan Christus is, is ook eendrag onder die gelowiges. en waar eendrag onder die gelowiges is daar kan jy seën verwag.
Eendrag in die gebed maak die gemeente sterk. Wanneer ons saam bid vir 'n saak, ook saam bid om eenheid te mag vind, dan kan dit nie anders of ons vind mekaar en hou mekaar vas in die sake wat daarop aankom.
Die volharding in die gebede is ook kenmerkend. Die dissipels het goed verstaan: 'n belofte word nie vanself werklikheid nie, maar jy moet daarom vra.
As God beloftes gee, dan word dit nooit sommer vanself vervul nie. Hy skakel sy kinders altyd in by realisering van sy beloftes. Daarby moet hulle dikwels wag. Hulle moet leer om te wag. Hulle moet leer om met volharding te bid.
Die dissipels het vermoedelik nie geweet wanneer presies die belofte van die Gees vervul sal word nie.
Ons weet dat hul volharding in gebed tien volle dae geduur het, maar dit kan ons agteraf vasstel. Hulle het self nie geweet dat die uitstorting van die Heilige Gees op die Joodse Pinksterfees sou plaasvind nie.
Hulle het maar net gebid en gewag.
Ek stel my voor dat hulle hul gebede afgewissel het met bespreking van wat die Here Jesus presies gesê het.
Hoe hulle na die Pase daarvan meer begin verstaan het.
Hoe Hy moes ly en sterf en bergawe word en opstaan uit die dood en na die hemel moes gaan. Hulle het met mekaar opgehaal: Onthou jy hoe Hy gesê het?
Ek verstaan nou, Hy het dit so bedoel...
En dan het hulle weer hul knieë gebuig en saam gebid. Here, gaan nou verder. U het ons reeeds groot en wonderlik dinge laat sien.
Maar U het ook nog verdere beloftes gedoen. U gaan nou U Koninkryk oor die hele wêreld vestig.
Here, gaan verder daarmee en gebruik ons in u genade.
En so is die dissipels hier ingeskakel in die voortgang van die werk van Jesus Christus.
Hier is die begin van die kerk, die biddende kerk.
Die kerk bid om die koms van die Gees.
Want die Gees is die groot gawe aan die kerk.
Ek wil vanoggend 'n strepie sit onder die woordjie kerk.
Die Heilige Gees is die groot gawe aan die kerk.
Ek sien vandag veral as dit gaan oor die gawe van die Heilige Gees 'n baie sterk neiging tot individualisme.
Mense soek die gawe van die Heilige Gees.
Maar heel dikwels is hierdie soeke 'n vorm van eiebelang. Geestelike eiebelang.
Jy wil vervul wees met die gawe van die Gees.
Waarom jy?
Omdat jy meen dat dit so'n heerlike ervaring vir jou moet wees?
Wil jy dalk graag met daardie gawe spog?
Of dink jy dat jy met die besit van so'n gawe meer is as die broeder of suster van jou wat dit nie soos jy sien nie?
Dit gebeur dikwels dat mense begin neersien op broers en susters omdat hulle by die ander 'n gebrek aan werking van die Heilige Gees meen te sien. Waar dit gebeur moet jy jou afvra of jy jou self wel werklik deur die Gees laat lei.
Kyk, hier, in die groepie mense wat daar by mekaar sit en bid daar is die belofte van die Heilige Gees.
Soek hulle daardie Gees vir hulleself?
Vir hulle eie geestelike gevoel?
Nee gemeente, nie vir hulleself nie.
Hulle is maar net vervul van een ding.
Die Ryk van Christus moet kom.
Sy kerk moet gebou word.
En hulle het hulself afgevra, wat is nou ons taak op hierdie oomblik?
En hulle het hul taak gesien: Ons moet bid om voortgang van die Ryk, want sonder die beloofde Gees kan ons nie verder nie.
En dus is dit altyd onvanpas om die Gees as gawe vir jouself te soek. Dit is nog meer onvanpas om met so'n gawe as jy dit het jouself bo die ander te verhef.
Want elke gawe wat God gee gee Hy om daarmee diensbaar te wees in sy gemeente.
Hierdie mense wat eendragtig gebid het, hulle was maar net diensbaar. Hulle het niks vir hulleself gesoek nie.
Hulle was slegs vervul van een ding. Van die werk van Jesus Christus. Hy het hulle geroep tot 'n taak in sy Ryk.
En al wat hulle wil is: diensbaar wees.
2. die gerigtheid op hul opdrag
Hulle het eendragtig volhard in hul gebed.
Wat het hulle eintlik gebid? Waarvoor het hulle presies gevra?
Die antwoord is nie so moeilik nie.
Die Here Jesus het vir hulle by sy hemelvaart nog een keer saamgevat wat sy bedoeling is.
Hulle het nou 'n hele paar jaar met Hom saam deur die land getrek. Hulle het al sy woorde gehoor. Hulle was getuies van die tekens wat Hy gedoen het.
Wel, daaruit vloei vir hulle 'n opdrag voort.
'n Opdrag wat ons saamgevat vind in die woorde van Hand 1: 8: "Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria tot aan die eindes van die aarde. "
Julle sal My getuies wees.
Dit is hul taak.
Hulle sien uit daarna om te begin.
Maar die Here Jesus het daarby gesê: "Julle moet wag tot julle krag sal ontvang wanneer die heilige Gees kom. "
Julle kan nie op eie krag aan my opdrag begin nie, maar julle benodig die krag van die Heilige Gees.
En so is hulle daar by mekaar en bid. Wagtend op die koms van die Heilige Gees, seker, maar die koms sien hulle in direkte verband met die opdrag wat hulle klaar ontvang het.
Saam met die apostels is daar 'n aantal vroue. Ons kan maar reken dat die apostels wat getroud was hul vroue saamgeneem het. Maar daar was ongetwyfeld ook ander vroue by, die vroue wat so'n belangrike rol gespeel het in die lewe van Jesus. Steeds weer ontmoet ons hulle. Hulle stel hul dienste beskikbaar aan Jesus Christus. Hulle reis saam met die reisgeselskap.
Maar nie net as helpsters wat by die eintlike saak nie betrokke is nie. Inteendeel. Ons ontmoet hier die vroue weer, volop betrokke by die eintlike werk.
Hier vorm hulle saam die gemeente van Jesus Christus.
Dit is eintlik heel opvallend vir daardie tyd.
In die Joodse sinagoge was dit eintlik maar net 'n mannebesigheid.
Ons is hierdie situasie in die kerk vandag nog nie heeltemal ontgroei nie, daarom is dit goed om hier in die teks vas te stel dat die vroue so volop betrokke is in die diens van die gemeente.
Daar is 11 mans aangewys as apostel, maar die vroue is nie net in die kombuis besig, terwyl die mans vergader nie. Nee, hulle is heeltemal deel vandie gebedsgeselskap wat hier byeen is.
Soos gesê, hulle is hier gemeente van Jesus Christus.
Saam is hulle en voel hulle verantwoordelik vir die verbreiding van die evangelie. Dit moet aan die hele wêreld bekendgemaak word sodat dit alle mense sal bereik.
En daarvoor bid hulle hier.
Dat dit verder kan gaan.
Agteraf kan ons sê: dit is deur hulle volhardende gebed dat die Gees gekom het. Dit is ook deur hul volharding dat die evangelie oor die wêreld kon uitgaan.
Dit is deur hul gebedsworsteling dat die evangelie ons bereik het.
Kyk, as hulle daar net vir hulle self sit en bid het, sou hulle gebid het vir dinge wat vir hulle op kort termyn belangrik is.
Dan sou die evangelie nooit by ons uitgekom het nie.
Daarom is hul gebed hier van heilshistoriese belang.
Dit is deur hulle gebed om die koms van die Gees dat die evangelie verder kon gaan.
Hulle het in hul tyd hul taak op hulle geneem in die Koninkryk van God.
Dit is die glorie van hierdie vergaderde gemeente. Hulle was klein in getal, maar groot in krag.
Was hulle groot in krag omdat hulle so intensief gebid het?
Omdat hulle mekaar steeds afgewissel het en met hul gebede die hemel bestorm het, sodat God tenslotte wel moes luister?
Nee, die krag van hul gebed was so groot omdat hulle in gehoorsaamheid gewag het. In geloof gebid het om die vervulling van die belofte!
Hulle het gebid: Kom Here, kom. Kom met U Heilige Gees.
Vervul u belofte.
Hulle het in hul situasie hul plek volgestaan en die diens verrig wat van hulle verwag is.
Hulle het nie gebid vir hulle self nie maar vir die toekoms van die kerk van Jesus Christus.
En so kon die Here verder met sy Ryk.
Ons leef soveel eeue later.
Wat bid ons in verband met die heilige Gees?
Bid ons dat ons vir onsself soveel as moontlik gawes sal ontvang om daarvan vir onsself te geniet?
Of gaan dit ons regtig om die vordering van die Koninkryk?
Daar is 'n manier om dit te toets.
Hoe dikwels bid ons intensief om die voortgang van die Koninkryk van Christus?
En nou bedoel ek nie vir die verdere verbreiding van die Evangelie oor die aarde nie, maar ek dink aan die maranata -gebed om die koms van Christus.
Die broeders en susters uit ons teks het gebid om die koms van die Gees, want dit was die belofte vir hulle tyd.
Ons het 'n ander belofte. Christus sal terugkom op die wolke.
Hoe dikwels bid ons intensief: Kom Here jesus Kom!?
Of mag wat ons betref, die wederkoms nog wel 'n bietjie uitgestel word?
En as ons voel, laat die wederkoms nog maar 'n bietjie wag, wat is dan ons motiewe? Is dit nie eintlik ons eie situasie?
Dit gaan nie so sleg dat ons voel daar moet maar gou 'n einde aan kom. Ons hou nie langer uit nie.
Is ons gebede nie veels te veel ek-gerig nie?
Ek vra maar net.
Die bybel leer vir ons dat die geloof steeds na Christus self vra. Wat bevorder sy Ryk?
Wat bevorder die eer van sy Naam?
En vandaaruit is ons roeping duidelik.
Ons mag, ja ons moet die dag van die wederkoms van Christus na ons toebid.
Ook ons moet leer om op die knieë te gaan om op ons plek ons opdrag te vervul.
Kom, Here Jesus kom!
Laat die wêreld nie verder van u af wegval nie, maar kom en red.
Red u volk.
Red u kerk.
Red die eer van u Naam.
Amen.
(23 Mei '93)
(kyk in preek)