PREEK OOR MATTHEUS 1: 18-25
LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 46: 1, 4
Gebed
L. Jesaja 7: 1-22
Ps. 130: 4 (eerste beryming)
T. Matth. 1: 18-25
Prediking
Ps. 89: 6, 7
Credo: Art. 18 NGB
SB. 5: 1, 2
Gebed
Ps. 27: 2, 4, 6
Broeders en susters,
Vir ons gevoel is Josef in die hele Kersgebeure maar 'n figuur op die agtergrond. Hy speel nie so'n groot rol nie. Maria, die moeder van ons Heiland, staan in die kollig.
Op skilderye en prentjies staan Josef ook altyd effens eenkant. Hy word dikwels afgebeeld as 'n bietjie ouer man, sorgsaam vir Maria en die Kind, maar ook taamlik onbetekenend.
As u egter die Skrif reg lees, kom u agter dat Josef 'n baie belangriker plek rond die geboorte van ons Here Jesus Christus ingeneem het as wat ons gevoel en die tradisie hom toebedeel het.
Mattheüs byvoorbeeld vertel eintlik niks oor Maria nie maar haal juis Josef in die kollig. Die lys van voorvaders van die Christus loop uit op Josef se naam, en vervolgens vertel Mattheüs hoedat Josef nadruklik deur 'n engel van God 'n belangrike plek aangewys kry by die koms van die Verlosser in die wêreld.
En kyk ook maar in hoofstuk 2: by die vlug na Egipte, die terugkeer uit Egipte en die gaan na Nasaret toe is dit steeds Josef wat die leiding moet neem.
Ook in Lukas se Evangeliebeskrywing speel Josef 'n groter rol as wat baie mense meen. Wanneer die engel Gabriël by Maria in Nasaret kom om vir haar te vertel dat sy die moeder van ons Verlosser mag word, lees ons (Lukas 1: 26 e. v. ) dat Gabriël deur God gestuur is "na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid". Ons aandag word dus eerste vir Josef gevra. En eers daarna word die naam van sy verloofde genoem: Maria.
Ook in Lukas 2 sien ons Josef in die hoofrol: hy moet na Betlehem toe gaan, die stad van Dawid, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was.
Vir ons gevoel mog Josef in die geboorte van die Christus deel omdat sy verloofde deur God gekies is om die moeder van die Verlosser te word. Die Skrif dwing ons egter om presies die omgekeerde te sê: Maria mog die moeder van haar Here word omdat God haar verloofde, Jósef, uit die huis van Dawid gekies het om die vader van die Christus te wees!
God se Seun moes as die Christus gebore word in die stad en in die huis van Dáwid. En vanuit daardie koningshuis moes Hy sy verlossingswerk begin en voleindig. So het God dit mos tevore belowe? Hy moes die Koning op die troon van Dawid word wat eindelik die ware vrede vir God se volk sou bring en tot in ewigheid handhaaf.
Daarom het God die stamhouer in Dawid se geslag Josef gekies om God se Eniggebore Seun as sy eersgebore seun in huis te haal en die afspringplek vir sy verlossingswerk te bied.
Josef mog dus juis 'n belangrike rol speel in die hele gebeure rond Christus se geboorte.
En tog, gemeente: wanneer God Josef roep en sy belangrike plek aanwys, leer Hy meteens vir hom dat sy belangrike rol by Christus se koms in die wêreld veral hierin bestaan dat hy moet erken hoe onbelangrik hy wat Josef is eintlik in die hele Kersgebeure is. Dit vertel Mattheüs in ons teks van vanoggend.
Josef moet by sy aanvaarding van die vaderrol van die Christus erken hoe onbelangrik Dawid se huis eintlik altyd was en al hoe meer geword het. Hy moet erken hoe afhanklik van God se troubeloftes Dawid se huis en Dawid se volk altyd was en al hoe meer geword het.
Josef se belangrike rol moet daarom wees om geheel en al van menslike vermoëns en moontlikhede af te sien en in die aanvaarding van Maria se kind te erken dat die Verlossing van God se volk nie deur Dawid se seuns nie, maar deur God se Seun bewerk moes word.
En dié erkenning, dié geloof waartoe God Josef beweeg het, vra God steeds van ons broeders en susters. Dié geloof is nodig om regtig Kersfees te kan vier en om vol verwagting Christus se tweede koms na die aarde te kan verwag.
Daarom vat ek die boodskap wat vanuit ons teks na ons toe kom, so saam:
ONS VERLOSSING KOM VAN GOD
- DIT MOES AGAS REEDS LEER IN JESAJA SE DAE
- DIT GELD DES TE MEER IN JOSEF SE DAE
- AS ONS DIT GLO KAN NIKS ONS DEER NIE IN AL ONS DAE
1. Nadat Mattheüs vertel het hoedat 'n engel van God Josef sy plek in die Kersgebeure kom aanwys het, lei hy ons gedagtes 'n oomblik terug na die profeet Jesaja se dae. Wie die eiennaardige inskakeling van Josef nadat God hom eers uitgeskakel het, ten volle wil verstaan, moet na daardie dae teruggaan.
Kom ons kyk daarom nog 'n slag na die hoofstuk wat Mattheüs aanhaal, Jesaja 7.
Die koning op Dawid se troon van daardie dae, Agas, is in die moeilikheid: sy klein koninkrykie word deur twee gevaarlike vyande bedreig. Hulle staan al byna voor die poorte. En hulle is veels te sterk om teen te veg. Die angs het koning en volk om die hart geslaan.
En nou loop Agas en oorweeg om die koning van die magtige Assirië om hulp te vra. Dit is wel 'n politieke waagstuk, want g'n mens weet natuurlik watter eise daardie maghebber sal stel nie. Maar liewer dit as om nou deur die vyand vernietig te word.
Terwyl koning Agas so loop en dink en onderwyl die watertoevoer na die stad kontroleer -daar moet in geval van 'n langdurige beleëring voldoende water in die stad wees!- loop hy skielik die profeet Jesaja raak, met sy seuntjie wat 'n opvallende naam dra: "Sjear- Jasjub": 'n res sal weerkeer. (Ek sal op daardie naam net-nou nog wel terugkom. )
En die profeet wys die koning na bo. Ons verlossing kom van God! Agas moenie in paniek raak nie. Hoekom vertrou hy nie op God nie? God het tog belowe dat Hy sy volk van al sy vyande sal red? Ook hierdie twee vyande wat tans op pad is na Jerusalem toe, sal niks kan uitrig nie. Inteendeel, God sal hierdie volke wat nou Juda wil uitwis, self binnekort van die wêreldkaart vee. Koning Agas moet net vertrou. Want as hy nie vertrou nie- ja, dán sal hy ook nie standhou nie.
Jesaja mag die koning selfs so ver tegemoet kom dat hy 'n teken mag aanbied. 'n Sigbare houvas as 'n ondersteuning dat hy die HERE maar op sy woord kan glo. Agas mag daardie teken self kies. Al moet die HERE iemand uit die dood weerbring of al moet daar iets gebeur aan die hemel- die HERE is bereid om dit te laat gebeur om sodoende sy woorde te onderstreep.
Maar Agas weier. Hy praat baie mooi: hy durf die HERE nie te versoek nie. Hy durf nie van die HERE te vra om deur 'n wonder by voorbaat te bewys dat Hy sy volk sal red nie.
Inderwaarheid glo Agas egter niks meer van God se beloftes van redding nie. Hy vertrou meer op politieke strategie.
Maar dan kry Agas nietemin 'n teken. God kies nou self 'n teken. 'n Opvallende rigtingwyser wat koning Agas tog steeds aan God se beloftes sal herinner.
'n Jonge vrou sal swanger word en 'n seun baar en hom Immanuel, God is met ons, noem.
Ons vertaling skryf in Jes. 7: 14: "'n maagd sal swanger word.... ".
Dié woord is deur die vertalers gekies omdat hulle in hierdie woord van Jesaja 'n regstreekse voorsegging van Christus se geboorte uit die maagd Maria gehoor het. Mattheüs sê mos in die eerste hoofstuk van sy Evangeliebeskrywing dat hierdie hierdie teks uit Jesaja 7 deur Jesus se geboorte vervul is.
Inderwaarheid het Jesaja egter 'n woord gebruik wat meer algemeen "'n jonge hubare vrou" beteken. Jesaja het nie direk aan die geboorte van ons Here Jesus in die verre toekoms gedink nie. Hy het die geboorte van 'n kind in koning Agas se dae aangekondig. God wou aan daardie ongelowige koning 'n teken gee. 'n Teken wat in daardie dae van betekenis sou wees. U kan dit ook sien uit die vervolg van Jesaja 7: voordat daardie seuntjie oud genoeg is om tussen reg en verkeerd te kan onderskei, sal Agas se vyande wat hom vandag so beangstigend bedreig, reeds ten onder gegaan wees. En dan sal hy, saam met die res van Juda wat wél aan God se beloftes geglo het (vlg. vs. 15 met vs. 22) dikmelk en heuning eet- voedsame kos waarmee God sy volk aan die lewe hou.
Die teken wat God aan Agas gee is dus dat daar in sy dae 'n gewone vrou sal wees wat in geloof haar eerste seuntjie Immanuel noem: God is met ons, Hy sal ons red, Hy is sterker as alle vyande. Ons verlossing kom van God.
Sommige uitleggers vermoed dat daardie jonge vrou Agas se eie vrou was en dat die seuntjie dus Agas se eie troonopvolger, die latere koning Hiskia was. Dié vermoede is egter nie baie aanneemlik nie. Hoekom lees ons dan verder nêrens in die Bybel dat Hiskia eintlik die naam Immanuel gedra het nie? En boonop: daardie aanduiding in vs. 15 dat die seuntjie Immanuel dikmelk en heuning sou eet, laat ons nie aan 'n prinsie in die paleis dink nie maar aan 'n kind van die eenvoudige boerebevolking.
Ons moet dan ook veral op die kontras let: 'n koning in die paleis, die afstammeling van Dawid, wat die groot voorbeeld vir die volk behoort te wees, weier op op God se betroubare beloftes van hulp en uitredding staat te maak. 'n Eenvoudige vrou uit die boerebevolking daarteenoor klamp haar juis aan daardie beloftes vas en noem haar eerste kind met die veelseggende naam Immanuel.
Daardie naam was nie 'n vonds van haarself nie. Sy het met daardie naam maar net aangesluit by dit wat die HERE regdeur Israel se geskiedenis aanhoudend aan sy volk verseker het: so het Hy vir Abram gesê: "Ek sal met jou wees!". Isak het dit uit God se mond gehoor. En Jakob. Met die belofte is Moses na die farao van Egipte gestuur en het God Josua in die land Kanaän laat binnegaan. En die belofte is weereens herhaal aan koning Dawid en sy seuns na hom. Steeds het God sy volk en sy leiers opgeroep om op Hom te vertrou. Om vol oorgawe die Psalm te sing waarmee ons hierdie diens vanoggend begin het, Psalm 46: "Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is 'n rotsvesting vir ons".
In Agas se dae loop daar in Juda 'n eenvoudige onopvallende kind rond wat opvallend aan daardie eeue-oue toesegging van God herinner. 'n Rigtingwyser vir die huis van Dawid. 'n Rigtingwyser na God terug. Maar daarom ook 'n waarskuwing: want die wat hom aan hierdie rigtingwyser nie steur nie, sal verdwaal en omkom. Wie nie op God vertrou nie, sal ook nie standhou nie, is die rympie wat Jesaja namens God aan Agas moet voorhou (vs. 9b).
Agas het nie standgehou nie. Hy het ook die teken wat God aan hom gegee het, geïgnoreer. En sy seuns na hom, behalwe 'n enkele goeie uitsondering het op daardie pad van ongeloof aangegaan. Daarom het God die boom van Dawid se koningshuis omgekap en die grootste deel van die volk in ballingskap verstrooi. En net 'n res bly oor waarmee God 'n nuwe begin sal maak. 'n Res wat mog terugkeer maar wat hom ook sal bekeer. Soos die seuntjie van Jesaja self met sy naam wat (soos ek al aangedui het) ook al so opvallend was, voorsê het: "Sjear- jasjub".
Maar vir daardie res sal dit dan ook des te duideliker wees dat dit God alleen is wat sy volk verlos! Uit genade alleen, ter wille van sy troubeloftes alleen.
Want in daardie dae het dit duideliker as ooit tevore geword dat mense self maar net die ene ellende kan veroorsaak.
2. Kan u verstaan, broeders en susters, dat Mattheüs ons gedagtes na daardie hoofstuk uit Jesaja se profesieë teruglei wanneer hy vertel hoe die HERE Josef geroep het om Israel se Verlosser in sy huis op te neem?
In Josef se dae het Dawid se koningshuis klaar 'n omgekapte boom geword waarvan slegs 'n stomp oorgebly het. Josef se eie lewe bewys dit. Pleks van dat hy op die troon in die hoofstad Jerusalem sit, staan hy op die boustellasies in die agterafdorpie Nasaret.
God se volk het 'n onbeduidende provinsie van die groot Romeinse Ryk geword.
En nou kom God opnuut na Dawid se huis toe met sy Imannuel-beloftes: God self sal sy volk verlos!
Moet maar kyk hoe die engel Josef nadruklik aanspreek: "Josef, seun van Dawid.... ".
Maar dié keer gaan daardie beloftes vervul word: God gaan nou die oorsaak van alle ellende vir sy volk wegneem. Hy gaan sy volk van hulle sondes verlos. En God gaan dit doen deur mooier as ooit te vore met sy volk te wees: Immanuel. Sy eie Seun, God uit God, gebore uit die Vader voor alle eeue, kom aarde toe en sal as 'n seun in die huis van Dawid verwag en gebore word, woon en werk en die sondelas van al sy mense op sy skouers laai en wegdra.
As God Josef deur middel van 'n engel met sy Immanuel-beloftes konfronteer, plaas Hy die huis van Dawid opnuut voor die keuse: Gee Dawid se geslag hom vol vertroue en vol besef van eie onmag aan God se ingrype van bo oor? Of bly Dawids huis dit nog steeds van die magte en moontlikhede van hier benede verwag?
Josef het aanvanklik nie mooi geweet wat om te moet maak nie.
Baie mense glo dat Josef Maria van owerspel verdink het toe dit duidelik begin word het dat sy verwagtende was. En dat hy toe, uit sagmoedigheid, om Maria 'n steniging te bespaar, haar stil-stil wou verlaat en sodoende die skyn van skuld op homself laai. Maar dis nie wat Mattheüs vertel nie.
Mattheüs noem Josef in vs. 19 'n regverdige mens. Dis iets anders as goedhartig of sagmoedig of soiets. Regverdig beteken dat jy jou deur God se wil en wet laat lei. As regverdige sou Josef Maria juis moes laat stenig het ingeval hy haar van huweliksontrou verdink het. Want al was hulletwee nog verloof, 'n verlowing het in daardie dae reeds die krag van 'n huwelik gehad. Daarom kan die engel in vs. 20 teenoor Josef Maria ook al "jou vrou" noem.
Mattheüs vertel ook nie dat Josef geweier het om Maria as vrou te aanvaar nie. Kyk weereens vs. 20: hy was bevrees om dit te doen. Hy het nie mooi gedurf nie.
Natuurlik het Josef geweet van die besoek van die engel Gabriël aan Maria en aan sy vreemde boodskap. Verloofdes práát mos met mekaar! Sou Maria wel vryuit met haar tante Elisabet oor die wonder in haar liggaam gepraat het en nie met haar verloofde Josef nie?
Maar toe dit duidelik sigbaar geword het dat die Heilige Gees 'n goddelike Kind in Maria se moederskoot begin laat groei het, het Josef nie meer mooi geweet wat om te moet maak nie. Hy het gedink hy moet seker maar padgee. Noudat God sy verloofde vir 'n goddelike wonderwerk opgeëis het, behoort hy sy regte op Maria prys te gee. God het hom blykbaar nie nodig nie.
Nee, God het Josef nie nodig gehad om tot die verwekking van die Verlosser in Dawid se huis te kom nie. Daarby het Hy inderdaad Josef opvallend uitgeskakel.
Want die verlossing kom nie mede deur Josef, die seun van Dawid, tot stand nie. Die verlossing kom van God alleen.
Maar God het Josef wel nodig om dít te aanvaar. Om as seun vad Dawid hiervoor gelowig te buig.
Daarom stuur God nou sy engel om vir Josef te sê dat juis hy nie moet padgee nie maar moet bly. Josef moet nie sy plek afstaan vir die wonder nie, maar die wonder 'n plek in sy huis gee. Hy moet die vaderskap oor hierdie goddelike Kind aanvaar.
En hy moet die geskiedenis van Jesaja 7 tot vervulling laat kom deur nou as seun van Dawid sélf 'n kind in Israel te laat rondloop met 'n naam wat tot 'n vaste geloof in God se beloftes van verlossing oproep.
Hy moet die kind wat Maria sal baar Jesus noem, die Griekse vorm van die Hebreeuse naam Josua. 'n Nuwe naam in die ou koningshuis van Dawid. Ons loop die naam nie een keer raak in die lange stamboom van vs 2-17. Jesus/Josua is 'n naam wat God se volk ken uit die priestergeslag van Aaron. Hy was die eerste hoëpriester in Jerusalem na die terugkeer uit die ballingskap. Hy is ook die man wat van God die belofte ontvang het (u kan dit lees in Sagaria 3: 9): "Ek sal die skuld van hierdie land op een dag uitdelg". Dié belofte kom hierdie nuwe Josua/Jesus vervul. Hy sal in die koningshuis van Dawid die priesterlike werk gaan verrig wat nodig is om die ongeregtighede van sy volk by God te versoen. Hy sal sy volk op een dag, die dag van sy eie kruisdood, van hulle sondes verlos.
Maria se seun sal in Josef se huis 'n hele ruk 'n onopvallende Kind wees. Maar Josef moet homself uitlewer aan God se beloftes wat in die naam van hierdie Kind uitgedruk lê: Ons verlossing kom van God! En die verlossing word nou volkome. God sal nou al sy beloftes van verlossing vervul. Deur die oorsaak van alle ellende weg te neem. Deur hierdie onopvallende kind met sy veelbelowende naam.
Dít wil Mattheüs vir ons duidelik maak in ons teks, gemeente: God het Dawid se huis geroep om weer voorop te loop in die geloof dat die verlossing alleen van God kom. En nie deur menslike inspanning en inset en berekening nie.
Dawid se huis moet sy eie kleinheid en onvermoë erken en bely en daarom alles van God verwag. Meer nog as daardie eenvoudige vrou in Agas se dae.
Josef het in geloof voor die boodskap van God se engel gebuig. Hy hét Maria as sy vrou geneem en sy eie onvermoë in God se verlossingswerk erken deur tot aan Jesus se geboorte geen geslagsverkeer met Maria te hou nie. Dit het die engel nie van hom gevra nie. Maar dit was sy eie besluit. Sy geloof in God se beloftes was so sterk dat hy bereid was om terug te staan vir 'n Kind wat nog nie eens gebore was nie. En toe hierdie Kind gebore was en geblyk het net so'n kind soos alle kinders te wees, glad nie opvallend nie, het Josef nogtans opnuut sy geloof dat God in hierdie Kind sy Immanuel-beloftes sou vervul, bely deur dit die naam te gee wat die engel genoem het: Jesus. Want as God iets beloof, gebeur dit! Hy sál sy volk van hulle sondes red! Al is daarvan ook nog niks te sien nie.
3. Vanoggend kom die HERE met hierdie oproep tot geloof in sy Immanuel-beloftes na u toe, gemeente. U wat vandag weer Kersfees vier en die koms van ons Verlosser in die wêreld gedenk.
Ons kan dierbaar praat oor die Kindjie in die krip en mooi liedere sing oor vrede op aarde, maar glo u nou ook met u hele hart dat God deur hierdie Jesus die lewe op aardse verlos. Dat Hy verlossing bewerk in Suid-Afrika en in Angola, in Somalië en Joegoslavië, in Noord-Ierland en Israel?
Ons sien mos nog altyd niks daarvan nie? Word die ellende in die wêreld nie maar net groter en groter nie? Ook vir die kerk?
U weet dat die Kind van Maria inmiddels as Koning in die hemel op God se troon mag sit en by sy hemelvaart gesê het: "Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleiding van die wêreld". Al is Hy vandag liggaamlik ook in die hemel, met sy Gees en krag bly Hy steeds by ons hier op aarde. Hy is steeds Immanuel: God met ons.
Maar glo u dit ook al die dae van u lewe?
Ons ervaar dit mos dikwels glad nie so nie? Hoe dikwels voel ons ons deur God en mense verlate?
God vra nog altyd baie geloof van sy volk, broeders en susters. Want ons kan van sy verlossingswerk inderdaad nog altyd so min sien. En 'n Kind in 'n krip is vir mense wat gewoond is om op invloed en aansien en krag staat te maak, nie bepaald 'n veelbelowende teken nie. 'n Koning aan 'n kruis nog minder.
Moet Hy die wêreld verlos?
'n Verlosser in die hemel lyk maar ver weg en glad nie by ons wel en wee betrokke nie. Wat verneem ons daarvan dat God in Christus met ons is, al die dae van ons lewe?
Eers as ons klein voor God geword het en leer besef het wat die oorsaak van alle ellende op aarde en in ons eie lewe is: ons skuld teenoor God - eers as ons ons eie onmag en onvermoë om die lewe op aarde te verbeter leer insien het - eers as ons God se Woord aanvaar dat Hy die lewe sal verlos deur ons sondes van ons af weg te neem - eers dan is dit nie meer moeilik om in te sien dat Jesus wat Maria in Josef se huis gebaar het, regtig die Verlosser is nie.
Eers dan glo ons dat die fondament vir die verlossing van die wêreld reeds gelê is deur Christus se sterwe op Golgota.
Dan weet ons, en sien ons, hoedat die verlossing vandag reeds in die wêreld gerealiseer word, orals waar die Evangelie van vergewing van sondes in Jesus se Naam gepredik en geglo word.
Dan weet ons, en ervaar ons, dat Christus al die dae van ons lewe, ook die dae wat so baie moeilik is, by ons is met sy troosvolle Woord en die krag van sy Gees. En dan kan niks ons meer deer nie. Want dan weet ons ook dat God in Christus met ons op pad is na die voleiding van die wêreld en dan onderweg alles aan daardie goeie reisdoel moet meewerk.
Glo u so in Jesus as die Christus, die Redder van die wêreld en van u lewe, broeders en susters?
U moet!
Want na hierdie Kind uit Maria gee God geen nuwe tekens meer nie. Jesus van Josef is sy laastse rigtingwyser dat ons van Hom verlossing mag verwag. Die wat God nou nog nie op sy Woord vertrou nie, sal in der ewigheid nie standhou nie. Dié sal vir ewig verlore gaan.
AMEN.
[Ds FJ Bijzet]
(kyk in preek)