Ps. 115: 1, 2
Ps. 115: 6, 8
Ps. 121
S.B. 3O: 1, 2, 3
S.B. 30: 4, 5, 6
Lees: Gen. 3: 1 - 24
Teks: Gen. 3: 22 - 24
Broeders en susters, gemeente van onse Here Jesus Christus.
Daar lewe in elke mens wel iets van 'n verlange na 'n beter wêreld. Na 'n wêreld sonder haat en afguns, 'n wêreld sonder oorlog, sonder onderdrukking of vervolging.
Kortom 'n wêreld waar 'n mens rustig kan lewe sonder om voortdurend deur berigte van allerhande rampe opgeskrik te word. So 'n verlange sou 'n mens 'n Paradysverlange kan noem.
Daar is baie mense wat probeer het om so 'n Paradysverlange in hierdie wêreld in praktyk te bring. So het daar byvoorbeeld mense hulle self teruggetrek met 'n groep van gelykgesindes, om saam op eenvoudige wyse te gaan lewe en langs hierdie weg het hulle gehoop om die volmaakte te kan bereik. 'n Soort van paradys op aarde.
Daar is verskillende van daardie eksperimente bekend, maar na korter of langer tyd het so 'n groep altyd weer uitmekaar geval. Daar het tog weer onderlinge spannings gekom en die ideaal het op die werklikheid stukkend gebreek.
Maar die ideaal bly aantreklik.
Daardie ideaal tref ons ook aan in die strewe na 'n heilstaat, soos die kommunistiese ideologie dit voorstel: As die hele wêreld bevry is van die onderdrukking deur die kapitalisme en as elke vorm van godsdiens uitgeroei is, dan sal die arbeider werklik vry wees. Dan is ook die heilstaat daar.
Die Paradys op aarde.
Broeders en susters, ek kan u al by voorbaat verseker dat al hierdie strewe na 'n paradys op aarde, gedoem is om te misluk.
Immers, sal daar ooit so 'n paradys kom, dan moet eers die oorsaak, die bron van alle ellende uit die wêreld weggedoen word.
Solank 'n mens die oorsaak op die verkeerde plek soek, soos byvoorbeeld die kommuniste dit doen, wat maar net die kapitalisme as oorsaak aanwys, of soos bevrydingsteoloë, wat wys op die maatskaplike strukture, solang sal daardie Paradys onbereikbaar bly. Immers, die eintlike oorsaak van al die ellende in die wêreld is die sonde, die opstand van die mens teen die gebooie van die Here. Daardie sonde sal altyd sterker blyk te wees as watter menslike ideaal ook.
God self het die Paradys vir die mens afgesluit. Daarom sal die Paradys nooit deur die mens herower kan word nie. Tensy.... God self die paradys weer vir die mens oopsluit.
En Hy het belowe om dit in Christus te doen.
Ek verkondig u vanoggend:
GOD SIT DIE GERUBS TUSSEN DIE MENS EN DIE BOOM VAN DIE LEWE.
- So verhinder Hy die eiemagtige greep na die lewe.
- So open Hy die weg van die geloof in Christus.
1. In ons teks van hierdie oggend, broeders en susters, kom ons by die klimaks van die verhaal van Genesis 3. Die hoofstuk wat ons die sondeval van die mens in die Paradys skilder. Nou hoor ons die afloop van daardie verhaal. Die vonnis word uitgevoer. Adam en Eva word uit die tuin van Eden weggestuur. Die Here stuur hulle die wêreld in, wat om hulle ontwil vervloek is.
In die eerste vers van ons teks, hoor ons die Here praat: Hy gee 'n beoordeling van die situasie wat nou ontstaan het, en Hy oorlê by Homself wat nou moet gebeur. Nou gaan dit hier nie om dat Hy dit vantevore nie geweet het nie, dus asof die Here hier hardop staan en dink nie. Nee, wat hier staan is spesiaal vir ons geskrywe, sodat ons kan weet waarom die Here nou die mens uit die tuin wegstuur. Dit moet vir ons baie duidelik word wat ons situasie is. En die situasie is hier, dat deur ons eie skuld die paradys vir ons ontoeganklik geword het.
Kyk, sê die Here dan, "Nou het die mens geword soos een van Ons, deur goed en kwaad te ken".
Dit lyk vir my 'n uitspraak, wat by ons baie vrae oproep. Wie is daardie 'Ons'. Is dit God? En: Hoe sou 'n mens soos God kan word? As ons die betekenis van hierdie uitspraak wil verstaan, sal ons eers daaroor moet nadink, wat die kennis van goed en kwaad beteken. Dit sal onmiddellik duidelik wees, dat dit iets met die eet van die boom van kennis van goed en kwaad te doen het. Blykbaar het die mens kennis van goed en kwaad verkry, deur te eet van daardie boom.
En wat beteken dit?
Wel, u onthou dat die Here in die tuin daardie spesiale boom aangewys het, en gesê het: Van daardie boom mag julle beslis nie eet nie. As julle dit doen, verspeel julle jul lewe.
Waarom was dit so gevaarlik om van daardie boom te eet?
Was daar giftige vrugte aan daardie boom, of sou dalk die eet van daardie vrug iets in die mens teweegbring, waardeur hy kennis kry van goed en kwaad?
Nee, dis nie die probleem nie. Die vrug as sodanig was volkome ongevaarlik. Hy was goed om van te eet.
Nee, die enigste rede waarom hulle nie van daardie vrug mog eet nie, was in die verbod van die Here.
Hy het dit verbied, en daardie woord van die Here moes vir die mens 'n beslissende krag gehad het. Hulle moes Hom geglo het op Sy Woord. Dan was dit goed. Dan sou die mens op die plek gebly het waar hy behoort het, naamlik in gehoorsaamheid aan God. Dan was daar lewe vir hom. Die gehoorsaamheid aan God was 'n lewensvoorwaarde vir die mens. En daarom word daardie boom: Boom van kennis van goed en kwaad genoem. Dus dan gaan dit om die vraag: Wie bepaal wat goed en wat kwaad is. Doen die Here dit of doen die mens dit self!
Daarom is die naam 'proefgebod' 'n sinvolle naam. Uit hierdie proef sou blyk wat die mens wil. Selfstandig bepaal wat goed en kwaad is, of die Woord van die Here as 'n norm vir sy dade aanvaar. Van daardie ander boom, die boom van die Lewe geld ongeveer dieselfde. Ons moenie dink dat daardie boom spesiale vrugte gehad het, waardeur 'n mens vanself die ewige lewe kry nie. Asof daar 'n spesiale sap in was, wat 'n tipe ewige jeug waarborg nie. Beslis nie.
Die eet van daardie boom het iets te doen met die lewe in 'n noue gemeenskap met die Here. Die boom was 'n teken, 'n simbool van blywende gemeenskap met God.
In daardie gemeenskap lê die lewe vir die mens. Daarom sou 'n mens die boom 'n tipe sakrament kan noem. Ons hoop later daarop terug te kom.
Dit gaan daar nou om dat die mens vir daardie keuse gestaan het. Eet van die boom van die Lewe - dit beteken, lewe in gehoorsaamheid aan en dan ook gemeenskap met God.
Of eet van daardie ander boom - dit is - self die wet bepaal.
En vir hierdie laaste het Adam en sy vrou gekies, toe hulle geluister het na die woorde van die slang.
Uit ons teks, waar die Here vasstel dat die mens soos een van Ons geword het, deur goed en kwaad te ken, blyk dat daar 'n sekere waarheid in die woorde van die slang geskuil het. Hy het mos gesê: Julle sal soos God wees, deur goed en kwaad te ken.
Maar juis in die skyn van waarheid was die groot leuen. Die slang het dit laat voorkom asof die mens soos God sal word, en dat die mens ook goed en kwaad kan ken.
Maar wat die Here hier vasstel is dit, dat die mens op die punt van kennis van goed en kwaad, net op hierdie punt vergelykbaar geword het aan God naamlik, as 'n persoon wat bepaal wat goed en wat kwaad is.
Die mens het homself as 'n norm gestel vir goed of kwaad.
En dis 'n baie ernstige saak.
Dis nie minder as revolusie nie. Dit is 'n opstand teen die wettige gesag. Die mens het hom buite God om geëmansipeer.
Die onderkoning het homself tot koning verhef.
Daar is die sonde!!
Die sonde van 'n mens wat hom verhef bo die plek wat God vir hom gee. 'n Mens wat sê: Die hemel is vir God, maar hier op aarde is onsself baas.
Adam het daarmee begin, en dit is nog altyd so.
Dit is ook maar 'n klein treetjie. As jy nie gehoorsaam wil wees nie, as jy 'n selfstandige kennis begeer, dan lê daar 'n breë pad vir ons oop. Ons verwerp die onderwys van die Here en volg die lokstem van die leuen.
Dan word gesê: Die Woord van die Here, dit mag waar wees, maar ons wat in die twintigste eeu lewe, weet dinge tog baie beter as die Bybelskrywers van 2000 jaar terug. Onder baie Christene is dit origens nie anders nie. 'Wat toe in daardie tyd dalk waar was, hoef nie noodwendig vandag nog so te wees nie'; so word daar dikwels gepraat.
Die Skrifkritiese teologie, verslaan sy duisende, en die resultaat is dat die kruis van Christus, met sy boodskap van sonde en genade, vervang word deur 'n vorm van humanisme met 'n bietjie Christelikheid. Maar kom, ons wil nie skinder op ander mense of kerke nie, laat ons liewers na onsself kyk.
Hoe is dit onder ons? Probeer ons nog in allerhande beslissings noukeurig te luister na die Woord van die Here? Of wil ons eintlik ook maar liewers onsself red, bepaal ons liewers self wat ons doen of nie doen, in ons lewe nie?
Lewe ons nog werklik uit die Woord van die Here, of gaan ons eie paaie, wat ons wil goedpraat met allerhande redeneringe?
Ek vra maar net. Dit is goed om daaroor na te dink, en ons eie lewe en lewensstyl krities te bekyk
Ons keer terug na ons teks.
Die Here stel vas dat daar revolusie is. Die mens het geword soos een van ons. Kyk nou, sê die Here, daar is nog iemand wat meen dat hy die wet kan uitmaak.
Die onderkoning wil self die troon beklim.
Dis 'n ernstige saak. 'n Staatsgreep.
Nou moet daar iets gebeur. Of die mens moet weg, of God sal self as koning moet aftree.
Dis daarom dat God nou teëmaatreëls gaan tref.
Die mens het die beslissende keuse gemaak, tussen die twee bome. Nou dat hy van die een geët het, moet hy die ander laat staan. God wil nie die kombinasie nie.
Dit was: Of eet van die boom van die Lewe of van die boom van kennis, maar nie van altwee nie.
Daarom gaan die Here nou die weg tot die boom van die Lewe afsluit. Ons het sopas die boom van die Lewe 'n soort sakrament genoem. 'n Sakrament is 'n teken en seël waarin iets sigbaar gemaak word van wat 'n mens anders nie kan sien nie. Dink byvoorbeeld aan die Doop wat die afwassing van sondes sigbaar maak.
Wel, so het die boom van die Lewe gedien vir die mens as 'n onderpand van wat kom. Dit was 'n waarborg dat die mens blywend met God sou lewe. Dit was 'n onderpand van 'n ewige lewe met die Here. Maar nou dat vir die ander boom gekies is, mag ook nie meer van hierdie boom geëet word nie. Dit kan nou nie meer nie. 'n Boom van die Lewe as 'n onderpand dat die mens altyd kan bly lewe, soos tot nou toe, het volkome ondenkbaar geword.
En daarom word die mens van die eet van hierdie boom uitgesluit. Hy word geëkskommuniseer! Nie meer toegelaat tot hierdie sakrament van die gemeenskap met God nie!
Dit was so pragtig, en so eenvoudig ook: jou hand uitsteek, neem eet en lewe in ewigheid. So het dit in die Paradys toegegaan.
Maar dis verby!
Adam kry sy ontslag. Hy word op die daad afgedank!
Adam het sy werk gehad in die tuin soos ons lees in Genesis 2: 15 'Die Here God het die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel, om dit te bewerk en te bewaak'.
Maar nou gebeur die omgekeerde. Die Here werp hom uit die tuin! Hy stuur hom weg!
Nou kan hy gaan, en werk buitekant die tuin, om die grond te bewerk waaruit hy geneem is. Baie fynsinnig word die mens hier op sy plek gesit, deur hom aan sy afkoms te herinner. Stof is die mens en tot stof sal hy terugkeer, ook al het hy self gedink om soos God te wees.
Die vroeëre onderkoning word 'n slaaf, 'n slaaf op 'n weerbarstige aarde.
Dit is 'n verskriklike degradasie.
Die Here dryf die mens die tuin uit. In vers 24 klink dit nog smadeliker as in vers 23. Hulle word uit die tuin weggedrywe, en wel op so 'n wyse, dat hulle daarin nooit meer kan terugkeer nie.
Want die Here stel as bewakers gerubs aan. Wat of wie dit presies is weet ons nie. Ons tref hulle later in die Bybel aan bo die versoendeksel van die verbondsark, in die tabernakel. Maar ook op ander plekke.
Miskien kan ons in hierdie verband veral dink aan tipe engele. As in die Bybele die gerubs genoem word, het hulle altyd iets te doen met God se heiligheid.
Hulle tree op as 'n soort lyfwag van God.
Hulle verhinder dat mense hulle vergryp aan die heerlikheid van God, dat mense vermetel met die Allerheiligste omgaan.
'n Soortgelyke funksie het hulle ook hier. Hulle versper die weg terug, na die plek waar eendag God so 'n noue gemeenskap met die mens gehad het.
In ons vertaling is sprake van gerubs met 'n swaard wat vlam en flikker. Dit suggereer dat hulle die swaard in die hand hou. Ek dink so is ook ongeveer die populêre voorstelling. Tog staan dit hier 'n bietjie anders.
Letterlik staan hier: God het die gerubs daar gesit en ook 'n vlammende swaard wat heen en weer beweeg.
Die vlam van 'n vurige swaard is 'n selfstandige mag.
Daardie vlam, hierdie vuur het opnuut te doen met God se heiligheid. Met die heiligheid van Sy troon, sy woonplek.
En so is die toegang tot die paradys definitief versper. God self het daardie toegang onmoontlik gemaak. Dit word op hierdie wyse vir Adam en Eva sigbaar gemaak. Daar is vir hulle nie 'n weg terug nie. Nie 'n regstreekse een nie.
Dit alles is die gevolg van die sondeval. Die tuin word nou teen die mens bewaak deur knegte van God. Voel u die diepe vernedering vir die mens wat eendag self onderkoning was?
Eers moes hy die Paradys bewaar en bewaak.
Nou word daardie selfde Paradys teen hom bewaak.
Duideliker kan nie getoon word, dat die pad van revolusie, die pad van die selfverheffing van die mens, 'n doodlooppad is nie. Dis vandag nog so.
Nie gehoorsaamheid aan die Here? Dan ook nie 'n boom van die lewe nie.
En dus: Nie lewe nie. Want lewe is daar net by die Here.
2. Die Here open die weg van die geloof in Christus.
Ons het gesien hoe die Here die mens die tuin uitgestuur het. In vers 24 staan: So het Hy die mens weggedrywe. Daar lê 'n bietjie nadruk op daardie woordjie 'die': die mens. Hierdie mens kan God in die paradys nie handhaaf nie.
Hierdie mens wat teen die Here opgestaan het.
Die gerubs sorg daarvoor dat hierdie mens, hierdie sondige mens ook nie op eie krag na die Paradys kan terug keer nie.
Maar tog, in die uitvoering van hierdie vonnis, in die verbanning van Adam en Eva uit die tuin, straal ook die lig van God se genade.
Dit sien ons hierin: die Paradys word nie vernietig nie. God sluit net die hek toe.
En daarby, ook die mens word nie vernietig nie.
God stuur hom die wêreld in. Hy ontvang 'n opdrag om te werk.
Maar tegelykertyd neem hy 'n belofte saam. Want eendag aan die einde van 'n baie baie lang pad, 'n pad vol distels en dorings, sal daar tog 'n oorwinning wees. Dink aan die belofte van Genesis 3: 15. Deurdat die Here Adam en Eva so, met 'n belofte, die wêreld instuur, open die Here 'n nuwe weg.
Dat 'n mens self kan neem en eet van die boom van die Lewe, is nie meer moontlik nie.
Maar die Here open 'n nuwe weg, die adventsweg na Christus.
Adam en Eva, hulle laat 'n Paradys agter hulle, maar in die belofte van die Here mag hulle weet, daar is ook 'n Paradys vorentoe. Dit sal langs 'n lang ompad wees. Die ompad van die kruis op Golgota.
Maar net langs daardie weg kom daar weer 'n oop weg na die Paradys. Ons kan iets daarvan reeds hoor in die wonderlike kruiswoord van die Here Jesus, vir die moordenaar wat om vergewing gevra het: Vandag sal jy met My in die Paradys wees. Die pad na die Paradys loop via Golgota.
Alleen, en in eie krag kan niemand daar kom nie. Maar daar is een wat dit kan belowe: Dis onse Here Jesus Christus.
Jy sal met My in die Paradys wees. Met My, deur My en danksy My. En as jy in die Paradys kom, dan word die boom van die Lewe ook weer toeganklik. In die laaste Bybelboek, die boek Openbaring, kom die die Lewe opnuut ter sprake. Christus die Heer, laat dit deur sy dienskneg Johannes aan die gemeente weet: Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die Lewe, wat binne-in die Paradys van God is.
Hy wat oorwin. Jesus praat hier van die oorwinning van die geloof. Hy wat tot die einde toe die belofte van die Here Christus vashou, hy mag eet van die boom van die Lewe in God se Paradys. Die ou pad in die Paradys was: jou hand uitsteek na die boom van die Lewe, neem en eet en lewe tot in ewigheid.
Daardie pad is afgesluit.
Maar sien hier die nuwe pad: jou hand ophou en dan gee Christus vir jou om te eet van die boom van die Lewe. Dis genadebrood, maar 'n genade wat tot die ewige lewe lei.
In die slothoofstuk van die boek Openbaring hoor ons opnuut van die boom van die Lewe.
Daar sê Christus: En kyk Ek kom gou, en My loon is by My. Salig is die wat My gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die Lewe.
Christus ontvang die mag, die bevoegdheid om die ou Paradys geskenke opnuut uit te deel. Net Hy en niemand anders nie.
Wat is dit 'n ontsaglike ryk woord, broeders en susters, dat die Here dit op hierdie wyse wil doen. Dat Hy hierdie pad vir ons oopsluit. Ons kan ons klere wat vuil is deur ons sondes, was in die bloed van Jesus Christus, wat Hy op Golgota gestort het.
Daardie pad wat die Here vir ons wys, sal ons moet gaan. In gehoorsaamheid aan God se Woord
Teenoor al ons pogings om self die Paradys te herower, sê God: Onmoontlik. Jy kan nie self die wet uitmaak, en tegelykertyd 'n pad na die toekoms oophou nie.
Daar is net een pad. Dit is gehoorsaam wees, en jou in alles onderwerp aan die gebooie van die Here. Maar bedink, dat nie die gehoorsaamheid aan die wet van God jou kan red nie. Jy kan maar net pleit op die gehoorsaamheid wat Christus vir ons volbring het.
Dit is die nuwe pad na die Paradys, wat God vir ons wys. Jesus Christus.
Maar hierdie pad kan uitsluitlik in die geloof bewandel word.
AMEN.
(kyk in preek)