Psalm 132
1. Gedenk aan Dawid; hoe hy, HEER,
u woning met sy sorg wou eer!
Gedenk sy eed, aan U gesweer;
aan Jakobs sterke God het hy
geloftewoord dus toegewy:
2. "Ek sal my woning nie betree,
my nie begeef na stille stee
waar ek my oë rus sal gee,
my oëlede sluimering,
voordat ek hierdie eed volbring,
3. "voordat ek Hom, die eewge HEER,
die Magtige van Jakob, eer;
voor 'k onder al die stamme weer
die eerbied-stille stee ontdek,
waar Hy sy woning kan betrek."
4. Die tyding gaan van mond tot mond:
in Efrata - so klink dit rond -
daar is die ark op Jaärs grond!
Daar het ons as geheimenis
dit weer gevind, die heil'ge kis.
5. Kom, laat ons na sy woning gaan
en, biddend in sy voorhof, aan
die voetbank van sy voete staan.
Staan op, u rusplek wag, o HEER,
U met die ark van sterkte en eer!
6. Beklee, o hoogste Majesteit,
u priesters met geregtigheid!
U volk moet juig, in U verblyd.
En wys om Dawids wil nie meer
u ryksgesalfde af, o HEER!
7. U het aan Dawid in u trou
gesweer dat U sy troon sal bou
wie kan U in u mag weerhou? -
"Jou seuns, tot in die verste lid,
sal 'k op jou glorietroon laat sit.
8. "Hou hul by verbond die wag,
gee hul op my getuig'nis ag,
dan rys oor hul 'n eewge dag:
wat ook mag wyk of ondergaan,
jou troon sal altyd vas bly staan."
9. Want Sion word deur God geëer,
as woonplek het Hy dit begeer.
"Dit is my rusplek, sê die HEER.
"Hier vestig ek my huis en troon,
en hier wil Ek vir ewig woon.
10. "In Sion is my seën groot,
hier reg Ek armes uit die nood,
hier is versadiging met brood.
My priesters sal 'k met heil beklee,
my gunsgenote jubel mee.
11. "Aan Dawid gee Ek heerskappy;
'n lamp is vir hom toeberei,
en skaamte oordek sy teenparty.
Maar op sy hoof sal wonderskoon
en ewig blink die gloriekroon."