Psalm 90
1. U was, o HEER, vanaf die vroegste jare
vir ons 'n vlug- en skuilplek in gevare.
Voordat die rotsgebergtes was gebore,
die aarde uit niks geroep was, lank tevore -
is U, o HEER, dieselfde God van mag,
onwankelbaar in wese en in krag.
2. Hoe nietig is die mens! Wat is sy lewe?
Wat het die mens, al is hom veel gegewe?
U knak die steel van sy geswinde jare,
en hy gaan heen net soos die najaarsblare.
Want in u oog is duisend jare, HEER,
'n enk'le dag, 'n nagwaak en niks meer.
3. Wat is die mens as U hom soos met strome
so snel oorgolf? Sy lewe is slaap en drome!
Die môre staan hy nog omhooggehewe
soos gras wat spruit in eerste jonkheidslewe.
Maar sawens al, dan word hy afgesny,
dan droog hy weg, en dis met hom verby.
4. U toorn verslyt ons in ons aardse swerwe,
deur skrik vir gramskap bly ons lewe - sterwe.
Ons sondes, ook uit dae lank vervloë,
ons misdaad, nog bedek voor mense-oë,
staan naak en klaar, o God, voor u gesig,
wat die geheim ontsluier met u lig.
5. So gaan u gramskap met ons deur die lewe -
die skaduwee wat swart oor ons bly swewe;
ons lewe, 'n som van droewe dae en nagte,
ons jare bring ons deur soos 'n gedagte.
Die sterkste klim ten hoogste tot die top
van sewentig of tagtig jare op.
6. En ag, wat is dit as dit klaar gebloei het?
Die yd'le pronk van wat ons net vermoei het!
Hul gaan so gou verby, ons lewensdae,
net soos 'n wolk gedryf deur onweersvlae.
Wie ken u toorn in al sy woede en krag,
wie ken u gramskap met 'n regte ontsag?
7. Maar wie kan leef met enkel voort te klae?...
Leer ons dan so te tel ons lewensdae
dat wysheid ons kan voortlei in ons gange,
ons hart kan vul met dankb're lofgesange.
Hoe lank, o HEER?... Ons dae gaan verby!
Keer tot ons weer, betoon ons medely!
8. En as die leed van jare uitgely is,
verkwik ons vroeg, wanneer die nag verby is;
ag, skenk ons, HEER, die blyk van welbehae,
verbly ons na die smart van al ons dae
en na die swaarte van die sware proef,
waarmee U ons wou tugtig en bedroef.
9. Laat ons u werk aanskou wat nooit beswyk nie!
Laat van ons kroos u heerlikheid nie wyk nie!
Laat oor ons aanlig al u lieflikhede!
En, HEER, verhoor ons in ons laaste bede:
Bevestig by die onguns van die tyd,
bevestig tog ons werk in ewigheid.