Hoofstuk 3 en 4 - DIE VERDORWENHEID VAN DIE MENS, SY BEKERING TOT GOD EN DIE WYSE WAAROP DIT PLAASVIND

1.  Die mens is van die begin af na die beeld van God geskep. Verstandelik was hy toegerus met ware en heilsame kennis van sy Skepper en van geestelike sake. In sy wil en hart was hy met geregtigheid toegerus, en sy hele gesindheid was suiwer. Hy was dus volkome heilig. Maar deur die ingewing van die duiwel en uit sy eie vrye wil het hy hom van God losgeskeur en homself van hierdie uitnemende gawes beroof. Daarenteen het hy in die plek daarvan oor homself gebring: blindheid, verskriklike duisternis, ydelheid en verdorwenheid van verstandelike oordeel, boosheid, rebellie en hardheid van sy wil en hart sowel as onsuiwerheid van sy hele gesindheid.

2.  Net soos die mens ná die val was, so was ook die kinders wat hy voortgebring het. As verdorwene het hy verdorwe kinders voortgebring. Dit hou in dat die verdorwenheid, volgens die regverdige oordeel van God, van Adam af op al sy nakomelinge oorgegaan het. Net Christus is hierin 'n uitsondering. Die verdorwenheid van die mens ontstaan dus nie deur navolging, soos die Pelagiane vroeër beweer het nie, maar deur die voortplanting van die bedorwe natuur.

3.  Alle mense word daarom in sonde ontvang en as kinders van die toorn gebore, onbekwaam tot enigiets goeds wat sou kon salig maak, geneig tot die kwaad, dood in die sonde en slawe van die sonde. Sonder die genade van die Heilige Gees, wat die wedergeboorte skenk, kan en wil hulle nie tot God terugkeer of hulle bedorwe natuur verbeter of onderneem om dit te verbeter nie.

4.  Na die sondeval het daar in die mens tog nog 'n bietjie van die lig van die natuur oorgebly. Daardeur het hy 'n mate van kennis van God, van die natuurlike dinge, van die onderskeid tussen die betaamlike en onbetaamlike bly behou en vertoon hy in 'n sekere mate 'n strewe na deug en uiterlike tug. Vir die mens is dit egter onmoontlik om deur hierdie lig van die natuur tot die saligmakende kennis van God te kom en hom tot God te bekeer. Gevolglik kan hy selfs in natuurlike en burgerlike sake hierdie lig nie reg gebruik nie. Hoe ook al, veeleer bederf hy dit heeltemal op verskillende maniere en hul hy dit in ongeregtigheid. Omdat hy dit doen, is daar vir hom geen verontskuldiging voor God nie.

5.  Net soos met die lig van die natuur is dit ook gesteld met die Tien Gebooie, wat God deur Moses in besonder aan die Jode gegee het. Die Wet vlek wel die grootheid van die sonde oop en kla die mens hoe langer hoe meer van sy skuld aan, maar dit dui geen geneesmiddel aan en deel geen kragte mee om uit hierdie ellende te kom nie. Omdat die Wet dus deur die sondige natuur kragteloos gemaak is, laat dit die oortreder onder die vloek bly. Daarom kan die mens nie deur die Wet die saligmakende genade verkry nie.

6.  Wat nie deur die lig van die natuur of deur die Wet gedoen kan word nie, dit doen God deur die krag van die Heilige Gees, deur midddel van die Woord of die bediening van die versoening. Dit is die evangelie van die Messias, waardeur God besluit het om die gelowiges in die Ou sowel as in die Nuwe Testament salig te maak.

7.  Hierdie verborgenheid van sy wil het God in die Ou Testament aan min mense bekend gemaak, maar in die Nuwe Testament, waar die onderskeid tussen die volke nou weggeneem is, openbaar Hy dit aan meer mense. Die oorsaak waarom hierdie bedeling so verskillend is, moet nie aan die waardigheid van die een volk bo die ander of aan die beter gebruik van die lig van die natuur toegeskryf word nie maar aan die volledig vrye welbehae en onverdiende liefde van God. Daarom moet hulle wat sonder en teen enige verdienste so 'n groot genade deelagtig word, dit met 'n nederige en dankbare hart erken. Hulle moet, ten opsigte van die ander, wat hierdie genade nie ontvang nie, saam met die apostel die strengheid en regverdigheid van die oordele van God eerbiedig sonder om dit nuuskierig te ondersoek.

8.  Almal wat egter deur die evangelie geroep word, word in alle erns geroep. Want in alle erns en waarheid betuig God in sy Woord wat sy wil is: Die geroepenes moet na Hom toe kom. In alle erns belowe Hy ook aan almal wat na Hom toe kom en glo, rus vir hulle siele en die ewige lewe.

9.  Baie mense wat deur die bediening van die evangelie geroep is, kom nie na Hom toe nie en bekeer hulle nie. Die skuld hiervoor lê nie in die evangelie of in Christus, wat deur die evangelie aangebied is nie, ook nie in God, wat mense deur die evangelie roep en aan hulle verskillende gawes gee nie. Die skuld lê by die geroepenes self. Sommige neem deur sorgeloosheid die Woord van die lewe nie aan nie. Ander neem dit wel aan maar nie in die binneste van hulle hart nie, met die gevolg dat hulle na 'n kortstondige blydskap van die tydelike geloof weer terugval. Ander weer, laat die saad van die Woord deur die dorings van die sorge en deur die welluste van die wêreld verstik en dra geen vrugte nie, soos ons Verlosser dit in die gelykenis van die saaier leer (vgl. Matt. 13).

10.  Ander mense, weer, wat deur die bediening van die evangelie geroep is, kom en word bekeer. Dit moet egter nie aan die mens toegeskryf word nie asof hy hom deur sy vrye wil van ander onderskei wat eweveel of genoegsame genade tot geloof en bekering ontvang het. So stel die hooghartige kettery van Pelagius dit. Dit moet aan God toegeskryf word. Hy het hulle van ewigheid af in Christus as sy eiendom uitverkies. Hy roep hulle almal kragdadig in die tyd en skenk hulle geloof en bekering. Nadat hulle uit die mag van die duisternis verlos is, bring Hy hulle oor in die ryk van sy Seun, om die deugde van Hom, wat hulle uit die duisternis tot hierdie wonderbare lig geroep bet, te verkondig en om nie in hulleself nie maar in die Here te roem. So getuig die apostoliese geskrifte telkens.

11.  Verder: Wanneer God sy welbehae in die uitverkorenes tot uitvoering bring en die ware bekering in hulle werk, laat Hy die evangelie nie net uiterlik aan hulle verkondig nie. Hy verlig ook nie net hulle verstand kragtig deur die Heilige Gees, om die dinge van die Gees van God reg te verstaan en te onderskei nie. Maar deur die kragtige werking van dieselfde Gees, wat die wedergeboorte skenk, dring Hy ook deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is, en besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en versterk die wil sodat dit, soos 'n goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra.

12.  Dit is die wedergeboorte, die nuwe skepping, die opwekking uit die dood en die lewendmaking waarvan die Skrif so heerlik spreek, wat God sonder ons in ons werk. Dit alles word glad nie deur die uiterlike prediking alleen, deur morele oorreding of op soortgelyke wyse in ons gewerk nie, sodat na die voltooing van God se werk die mens by rnag sou lê om weergebore te word of nie, om bekeer te word of nie. Dit is 'n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif, wat deur Hom, die Outeur van hierdie werking geïnspireer is, is dit deur sy krag wat nie minder of geringer as die skepping of as die opwekking van die dooies is nie. Die gevolg is dat almal in wie se harte God op hierdie wonderbaarlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore word en daadwerklik glo. Dan word die wil, wat nou vernuwe is, nie alleen deur God gedryf en beweeg nie, maar omdat dit deur God gedryf word, werk dit ook self. Daarom word ook tereg gesê dat die mens, deur die genade wat hy ontvang het, glo en hom bekeer.

13.  Die aard van hierdie werking kan die gelowiges in hierdie lewe nie volkome begryp nie. Intussen is dit vir hulle 'n gerusstelling dat hulle weet en ervaar dat hulle deur hierdie genade van God van harte glo en hulle Verlosser liefhet.

14.  So is die geloof dan 'n gawe van God, nie omdat dit deur God aan die vrye wil van die mens aangebied word nie maar omdat dit inderdaad aan die mens geskenk word en vir hom ingegee en in hom ingestort word. Ook is dit nie so dat God net die vermoë om te glo gee en daarna van die mens se wil instemming of daadwerklike geloof verwag nie. Maar Hy bring sowel die wil om te glo as die geloof self in die mens tot stand. Hy wat immers in die mens werk om te wil sowel as om te werk, bewerk alles in almal.

15. Hierdie genade is God aan niemand verskuldig nie. Wat sou God immers aan iemand skuld wat Horn vooraf niks kan gee nie om dan daarvoor vergoed te word? Inderdaad, wat sou God aan die mens verskuldig wees wat self niks anders as sonde en leuens het nie? Die mens wat hierdie genade ontvang, is aan God alleen ewige dankbaarheid verskuldig, en dank God ook daarvoor. Die mens wat hierdie genade nie ontvang nie, heg geen waarde aan hierdie geestelike dinge nie en skep net in sy eie dinge behae of beroem hom sonder om na te dink tevergeefs op wat hy het, terwyl hy niks het nie. Verder moet oor hulle wat hulle geloof in die openbaar bely en hulle lewe verbeter, volgens die voorbeeld van die apostels, baie gunstig geoordeel en gepraat word, want die binneste van die hart is aan ons onbekend. 
Vir die ander, wat nog nie geroep is nie, moet ons tot God bid, wat die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan. Ons mag ons volstrek nie teenoor hulle in trotsheid verhef asof ons onsself so van hulle onderskei het nie.

16.  Die mens het egter nie deur die sondeval opgehou om mens, toegerus met verstand en wil, te wees nie. Die sonde, wat die hele menslike geslag deurdring het, het die natuur van die mensdom nie weggeneem nie maar dit bederf en in geestelike sin gedood.
Daarom werk hierdie Goddelike genade van die wedergeboorte nie in die mense asof hulle stokke en blokke is nie; ook vernietig dit nie die wil en sy eienskappe nie en dwing dit nie met geweld teen sy sin nie. Die genade maak die wil geestelik lewend, genees, verbeter en buig dit tegelykertyd lieflik en kragtig. Terwyl sondige opstandigheid en verset dit vroeër volkome oorheers het, begin 'n gewillige en opregte gehoorsaamheid aan die Gees nou die oorhand daaroor kry. Hierin lê die ware en geestelike vernuwing en die vryheid van ons wil.
Inderdaad, as die uitnemende Werkmeester van alle goeie dinge nie so met ons gehandel het nie, sou die mens glad geen hoop gehad het om deur sy vrye wil uit die sondeval op te staan nie. Deur sy vrye wil het hy homself, toe hy nog gestaan het, in die verderf gestort.

17.  Die almagtige werking van God, waardeur Hy ons natuurlike lewe skep en onderhou, sluit nie die gebruik uit van die middele waardeur God na sy oneindige wysheid en goedheid hierdie krag van Hom wil uitoefen nie, maar eis juis dat hulle gebruik sal word. Net so sluit bogenoemde bonatuurlike werking van God, waardeur Hy ons weer gebore laat word, volstrek nie die gebruik van die evangelie uit en werp dit ook nie omver nie; inteendeel, die alwyse God het dit tot 'n saad van die wedergeboorte en tot voedsel vir die siel bestem. Die apostels en die leraars wat hulle opgevolg het, het dan ook die mense gelowig oor hierdie genade van God tot sy eer en tot onderdrukking van alle hoogmoed onderrig. Hulle het ook nie nagelaat om die mense ondertussen deur middel van heilige vermanings uit die evangelie onder die bearbeiding van die Woord, van die sakramente en van die kerklike tug te hou nie. Net so moet hulle wat nou in die gemeente onderrig gee, of die wat onderrig ontvang, hulle ook nie aanmatig om God te versoek deur die dinge te skei wat Hy na sy welbehae wou saamvoeg nie. Deur die vermanings word die genade immers gegee, en hoe gewilliger ons ons amp uitoefen, des te heerliker word die weldaad wat God in ons werk, openbaar. So vorder God se werk op die allerbeste manier. Aan dié God alleen kom al die heerlikheid van die middele sowel as van die heilsame vrug en die krag daarvan tot in ewigheid toe. Amen.