Skrifberyming 21
1. Al sou 'k die skoonste taal kon spreek,
in eng'le-lofstem uit kon breek,
en 'k had die liefde nie daarby,
dan was nogtans my stem en taal
net maar 'n klinkende simbaal
wat harteloos sy klank verbrei.
2. Al had ek kennis, dat ek wis
al wat verborge en donker is,
die gawe van die profesie;
al had ek die geloof, ook dit,
sodat ek berge kon versit,
en had daarby die liefde nie -
3. al deel ek al my goed're uit,
al gee 'k my liggaam self as buit,
al laat ek dit verbrand tot as -
dan was dit net vergeefse vlyt,
vergeefse moeite en ydelheid,
wanneer ek sonder liefde was.
4. Lankmoedig is die liefde in pyn
en vriend'lik waar sy ook verskyn.
Afgunstig is die liefde nooit,
of opgeblase of hoog van spraak;
niks wat hier onwelvoeglik maak,
kleef aan die daad van liefde ooit.
5. Sy soek haar eie voordeel nooit,
niks maak haar hart verbitterd ooit,
en sy vergeld geen kwaad met kwaad.
Geen ongeregtigheid wil sy,
maar net die waarheid maak haar bly -
die waarheidsklank van woord en daad.
6. Die liefde lê die kwaad nie oop,
sy dra, verdra en glo en hoop -
Die profesie sal nie bestaan,
ons taal en kennis gaan tot niet;
maar - hoogste lofprys van my lied -
die liefde alleen sal nooit vergaan.