Psalm 141
1. As daar vir my geen hulp of raad is,
roep ek, o HEER, hoor my gebed!
Ag, haas U tot my hulp, en red
voordat dit hier met my te laat is.
2. Laat soos die geur van wierookbrande
my bee wees voor u aangesig;
soos offerspys, saans toegerig,
my biddend opgehewe hande.
3. Mag nooit my woord U smaad, o HEER, nie!
Rys smaadtaal uit die hart se grond -
ag, wil dit wegweer van my mond,
dat ek u Naam nooit mag onteer nie!
4. Bewaar my hart, gedagte en handel,
sodat ek nooit die vreug mag smaak,
of deel mag neem aan feesvermaak
van wie in goddeloosheid wandel.
5. 'k Voel my aan liefdetug verbonde:
soos hoofsalf vir my hoof is 't my
as die opregte my kasty;
want liefdetug die laat geen wonde.
6. Teen bose daad stel ek my bede.
Is hul verleiers swaar gestraf,
gestort van hoë bergrots af,
dan sal hul weet: my woord was vrede.
7. Net soos 'n ploeg langs donker vore
die kluite her- en derwaarts gooi -
so lê ons beendere verstrooi,
op velde van die dood verlore.
8. Op U rig ek my wenende oë;
by U, o HERE, skuil ek. Giet
my siel nie uit in my verdriet.
Ek soek my krag in u vermoë.
9. HEER, hou my in die regte spore,
want manne, vreemd aan trou en reg,
verberg hul vangnet langs my weg:
een misstap, en ek is verlore.
10. Laat hulle staan waar ek gestaan het;
laat hulle met hul plan en al
tesaam self in hul vangkuil val,
terwyl ek stil verbygegaan het.