Psalm 41
1. Welsalig wie die arme in verdriet
sy hulp en bystand bied!
God sal hom red, en in die dag van kwaad
is Hy sy Toeverlaat.
God sal sy lewe in kommernis bewaak
en hom gelukkig maak;
hom nimmer oorgee, dat sy teenparty
oor hom ooit voordeel kry.
2. As hy in krankheid op die siekbed is,
gee God hom lafenis;
sy liggaamswee en alle ongeneug
verander Hy in vreug.
Daarom roep ek: Wil my genadig wees
en my, o HEER, genees!
Want, ag, ek weet die oorsaak van my wee:
ek het teen U oortree!
3. My vyande oorstort my met ellend
en hunker na my end.
Hul sê: Wanneer kom hy tog tot 'n val,
hy, met sy naam en al?
Hul kom asof hul op my siekte ag;
hul hart die lieg en lag!
Want gaan hul heen en is hul op die straat,
dan laster hul my staat.
4. My haters kom byeen, staan skelm opsy
en fluister kwaad teen my!
Hul sê: "Iets skand'liks is op hom gestort;
toe het hy krank geword!
Nou dat hy lê, sal hy nie opstaan weer."
Selfs wie met my verkeer,
my troue vriend, my disgenoot, dié hef
sy voet om my te tref.
5. Wil my, o HEER, weer oprig uit my kwaal
dat ek hul dit betaal!
Hieraan weet ek dat U, my so naby,
behae het in my:
geen vyand wat oor my verhoopte val
sal juig met vreugdgeskal;
in my opregtheid steun U my, o HEER,
U lig straal op my neer.
6. Geloofd sy God, die God van Israel!
Laat elk sy roem vertel!
Van ewigheid tot ewigheid gee eer
aan onse God en HEER!