Psalm 6
1. Wil my, o HEER, nie straf nie,
wys my in toorn nie af nie,
sien my genadig aan;
laat in my teëspoede
'n alte strenge roede
my nie met gramskap slaan!
2. Laat, HEER, u oog in strakheid
nie neersien op my swakheid.
Genees my, merk tog hoe
die smart my siel beswaar het,
die skrik in my gevaar het
tot in my beend're toe.
3. My siel, deur skrik bewoë
smeek om u mededoë;
my hart keer om en om.
In my verbrysling kla ek,
o HEER, hoe lank nog, vra ek,
voor daar verligting kom?
4. Keer weer tot my bevryding,
verlos my uit my lyding,
straal goedheid op my af.
Want daar's geen lofgedagte
vir U in dood se nagte,
geen lofstem in die graf!
5. Hoe moeg is al my lede,
daar ek in bangighede
van geen verposing weet.
Die ganse nag deurweek ek
my bed met trane, smeek ek
om redding uit my leed.
6. My oog is deur my kwale
verdof en sonder strale,
verouderd van geween;
daar ek in my ellende
verdruk word deur 'n bende
van haters om my heen.
7. Wyk weg in julle broosheid,
o werkers van godd'loosheid,
want God kom naderby.
In my geween en smeking,
verbrys'ling en verbreking
verhoor die HERE my.
8. Waar is my teenpartyders?
'n Skrik het my bestryders
verstom en om laat keer.
Hul hoogheid lê aan bande,
'n oogwink - en hul skande
daal op hul koppe neer.