Skrifberyming 1
1. Ek wil die hoogste Heer
met blye roemtaal eer,
my Redder en Bewaker.
In nederige staat
wou Hy my nie verlaat,
my God en Saligmaker.
2. Van nou af sal hul roem:
hul sal my salig noem,
want God was my gedagtig;
sy wonderwoord aan my
het God bevestig, Hy
wat heilig is en magtig.
3. Barmhartigheid verleen
Hy deur geslagte heen
aan wie in Godsvrees lewe.
Sy arm, gedurigdeur,
tot kragdaad opgebeur,
is magtig, hoog verhewe.
4. Soos stoppels voor die wind
dryf Hy die mensekind,
met al sy trotse planne.
Sy arm, met sterkte omgord,
het van hul troon gestort
maghebbers en tiranne.
5. Wie klein is voor sy oog,
het God in eer verhoog,
wie honger is, versadig;
maar Hy 't in onspoeds-uur
die rykes weggestuur,
verleë en onversadig.
6. Hy het sy bondsbestel
vervul aan Israel,
sy eewge heilsgedagte;
ontferming toegeseg
aan Abraham, sy kneg
tot verre nageslagte.
Skrifberyming 2
1. Loof nou die God van Israel
wat op sy volk se roepstem merk,
wat na sy vaste bondsbestel
vir ons verlossing wil bewerk.
Hy het 'n horing opgerig:
'n sterkte in Dawids huis gestig,
tot heil van al sy knegte.
Profetestem het dit geprofeteer
van aanbegin af, altyd weer,
totdat die raad vervul was van die Heer.
2. Die Heer hou sy verbond in stand
en maak ons van ons vyand vry,
Hy red ons van die harde hand
wat ons wil kneg in slawerny -
om aan ons vaders te gedenk
en hul barmhartigheid te skenk.
Aan sy verbond gedagtig,
kan nooit sy eed Hom immermeer berou,
maar sal Hy, aan sy woord getrou,
aan Abraham al sy beloftes hou.
3. Hy maak na sy beloftenis,
dat ons - verlos van bande en vrees,
verlos van wie ons vyand is -
sy knegte immermeer sal wees;
om, tot 'n hoër diens bereid,
Hom reg te dien in heiligheid
in al ons lewensdae.
En jy, o kindjie, aan die Heer gewy,
die Hoogste se profeet is jy,
herout van Hom wat groot is en naby.
4. Jy sal, o kind, vooruit moet gaan
om voor die Heer se aangesig
die weë voor sy voet te baan:
jy sal sy volk eers moet verlig
met kennis van die saligheid;
want God skeld nou die sondes kwyt
uit innerlike erbarming.
Nou rys 'n ligglans aan die donker boog,
nou sal die Heer op hart en oog
die lewenslig laat neerstraal van omhoog.
5. Die ligstraal sal hul ook verlig
wat nou nog woon in duisternis;
dit sal ons wank'le voetstap rig
op paaie waar dit vrede is.
Skrifberyming 3
1. Neem nou maar, Heer, u kneg
na u belofte weg,
en laat hom gaan in vrede -
nou hy die saalge dag,
so lank deur hom verwag,
gesien het op sy bede.
2. 'n Lig het opgegaan,
'n helder stralebaan
skiet deur die donker wolke.
Dit is Immanuel,
die Vors van Israel,
die Lig van alle volke.
Skrifberyming 4
1. En daar was by Betlehem
in die stilte van die nag
herders in die vrye veld
by hul skape op die wag,
toe 'n engel van omhoog
skielik neerdaal voor hul oog.
2. Voor die heerlikheid van God
het die donker nag moes swig,
maar die herders het gevrees
vir die wonderbare lig
wat met hemelse gestraal
skielik oor die velde daal.
3. Maar die engel het geroep:
"Moenie skrik nie, moenie vrees,
want ek boodskap vreugde wat
vir die hele volk sal wees."
"Die Verlosser", juig sy stem,
"is gebore in Betlehem."
4. "Hy, die Heer en Christus, lê
- dis die teken van die Kind -
rustig in die voerkrip neer
en in doeke toegebind."
En toe klink 'n lofsang daar
van 'n ganse engelskaar:
5. "Eer aan God, die hoogste Heer!"
ruis dit uit 'n stemmesee.
"Vrede op aarde, vrede weer!"
En die donker nag ruis mee.
"Welbehae, eind'loos groot,
in die mens, Gods gunsgenoot!"
6. Toe die engele weer gaan
na die hemel, hoog en klaar,
en dit stil was op die veld,
sê die herders vir mekaar:
"Laat ons gaan en sien die saak
deur die Heer bekend gemaak!"
7. En die herders het gegaan;
en hul het die Wonderkind
in die voerkrip toegedek
by die moedermaagd gevind,
en hul het in blye taal
van die Wonderkind verhaal.
8. Almal was verwonderd oor
wat die herders openbaar;
maar Maria het die woord
peinsend in haar hart bewaar.
En hul stem het God geprys
vir sy woord en gunsbewys.
Skrifberyming 5
1. Die Woord het vlees geword
en onder ons gewoon.
Ons het sy heerlikheid aanskou,
die van Gods eenge Soon;
2. die heerlikheid van Hom
wat van die Vader kom,
wat vol genade en derenis
en vol van waarheid is.
Skrifberyming 6
1. Oor die kruis neersinkend, bid Hy:
"Vader, ag vergeef hul dit,
want hul weer nie wat hul doen nie."
As Hy so sy bede bid,
dan weerklink daar, slag na slag,
hamerhoue van die wag.
2. Aan die moord'naar, haas verlore,
word die hoogste guns bewys:
"Hede sal jul met My saam wees
in die vredesparadys."
Dan troos vrede in volle vloed
die verbryselde gemoed.
3. By die kruispaal staan Maria,
en Johannes word haar kind:
deur die kruiswoord: "seun" en "moeder",
word sy aan sy sorg verbind.
En hy't haar, van nooddruf vry,
al sy liefde toegewy.
4. Middagklare son word duister:
deur die duister noodgeskrei:
"O my God, my God en Helper,
waarom tog verlaat U My?"
Jesus sink, na sware stryd
in die dubb'le donkerheid.
5. In 'n wêreldwye dorheid,
met 'n brandend-droë bors,
roep die Heer van alle dinge,
Skrifvervullend: "Ek het dors!"
En hul het Hom in sy wee
edik uit 'n spons gegee.
6. Toe die offerwerk verby was,
na Gods hoë ordening,
het die Heer, sy daad deurgrondend,
uitgeroep: "Dit is volbring!"
En, die hoof omlaag gebuig,
het Hy sterwend dit betuig.
7. Laaste en luide roep van Jesus,
en dan skei Hy uit die vlees:
"Vader, in u veil'ge hoede,
in u hande ontvang my gees."
Aardse en helse raserny
snel ontwykend, is Hy vry.
Skrifberyming 7
1. Wie het gelowig hart en oor
geneig om na Gods Woord te hoor?
Die arm van God, aan wie en waar
is dit in krag geopenbaar?
Hy tog, die swakke loot, het uit
'n dorsland voor Hom opgespruit,
en prag of heerlikheid vir wie
Hom aansien, had die spruitjie nie.
2. Hoe sou ons Hom dan kon begeer?...
Hy was verlate, ongeëer,
vir almal net 'n smarteman,
die lydensnaar altyd gespan.
Vir Hom, deur wreedste smart geterg,
het ons die aangesig verberg;
en in die ruwe lydensnag
het ons Hom in sy leed verag.
3. Hy het die lyde op Hom geneem,
wat nou ons hart van Hom vervreem;
en al die smarte wat ons pla,
het Hy gewilliglik gedra.
Maar ons het in sy ongeluk
gesien die hand van God wat druk,
wat, om sy lyde te verskerp,
Hom altyd dieper neer wou werp.
4. Die misstap wat ons voet begaan,
die misdaad deur ons hand gedaan,
die straf uit swaarste regsgeding,
wat ons die volle vrede bring,
die wonde wat ons wonde heel -
dit alles was sy lydensdeel.
Ja, al die kwaad deur ons gedaan,
het God die HEER oor Hom laat gaan.
5. Terwyl ons op die dwaalweg gaan,
storm al ons sondes op Hom aan;
maar Hy 't mishandel, neergebuk,
sy mond nie oopgemaak in druk.
'n Lam, ter slagting heengelei,
so stil en stemmeloos was Hy,
en soos 'n skaap voor wie hom skeer,
so stil en sonder teëweer.
6. Uit druk en strafgerig bevry,
merk niemand dit met medely
dat Hy van mense weggestoot
en prysgegee is aan die dood.
My volk se sonde het op Hom
as sware smartplaag neergekom,
en hul het Hom 'n grafstee by
die goddelose toeberei.
7. En Hy, van aardse goed ontbloot,
was by 'n ryke in sy dood;
want Hy 't geen onreg ooit gedaan, '
geen leu'n het uit sy mond gegaan.
Dit het die Here self behaag
Hom te verbrysel. Toe sy plaag
die diepste lydensgrond genaak,
het God sy kneg doodkrank gemaak.
8. Het eers sy offerbloed gevloei,
dan sal vir Hom 'n nakroos bloei,
en eeu-omvattend bring sy hand
Gods werk voorspoediglik tot stand.
Hy sal, vir al sy sielsverdriet,
sy werk aanskou en vol geniet,
en deur sy suiwer kennislig
regverdig maak en vryheid stig.
9. Dan kom 'n leërskaar hierna
vir wie Hy al die skuld wou dra;
en aan Hom word met grotes mee,
met magtiges 'n deel gegee,
omdat sy siel in lydensnood
vol uitgestort is in die dood,
en Hy, deur smaadheid diep gekwel,
by die oortreders is gestel.
10. Hy het gedra die sondelas
wat op sy hart gebonde was,
en het - 'n lydenswonder dit! -
vir hul behoudenis gebid.
Skrifberyming 8
1. Aan U, o Lam van God, 'n nuwe lofgesang!
Want U is waardig om die wonderboek te ontvang
en oop te breek - die boek van toekoms en verlede
en van wat word, geskrif van Gods verborgenhede.
U 's waardig, U alleen, omdat die werk volbrag is,
toe U as offer vir ons sondeskuld geslag is
2. U 't van die hemel hoog op aarde neer wou daal,
en ons vir God gekoop uit alle volk en taal.
Die losprys was u bloed, wat U vir ons gestort het,
waardeur ons, rein gewas, 'n priestervolk geword het
en konings in die ryk van onverstoorb're vrede,
om God te dien en eer in eind'lose ewighede.
3. Toe sien ek hoog bo my die skaar van eng'le staan
en 'k hoor hul sanggeluid wat deur die hemel gaan.
Hul staan wyd om die troon, self heerskappye en magte,
rondom die oudstes en die gérubs groot van kragte;
ontelbaar is hul tal, dis duisende maal duisend,
en 'k hoor hul koorgesang soos baie waters bruisend:
4. "Die sondelose Lam, vir sondeskuld geslag,
is waardig om te ontvang die rykdom, wysheid, krag,
en eer en heerlikheid en dankb're seëninge!
En al wat leef en roer, al die geskape dinge
op aarde en diep omlaag, of in die hoë hemel,
al wat die see bewoon en in sy dieptes wemel -
5. die ganse skepping sing met krag van jubeltoon:
"Aan Hom wat heerlik is, hoog op die wêreldtroon,
en aan die Lam van God, self eewge Skeppings-Here,
sy ewig lof en prys en krag en roem en ere!"
Met "Amen, Amen!" het die gérubs opgeswewe.
Die oudstes het aanbid voor Hom wat ewig lewe.
Skrifberyming 9
1. Toe staar ek deur die wêreldnagte
- lighoogtes het my oog geboei -,
en 'k sien uit alle mensgeslagte
'n skaar, ontelbaar, saamgevloei.
Hul staan, uit alle volke en lande,
nou voor die Lam en voor Gods troon,
die vredespalmtak in die hande,
hul wit gewaad in eenvoud skoon.
2. Ek hoor hul stem die lug deurbewe:
"Die reddingseer", so hef hul aan,
"bring ons aan God, so hoog verhewe,
en aan die Lam wat by Hom staan!"
En om die troon en ouderlinge,
en viertal wesens wonderbaar,
sien ek in altyd wyer kringe,
oneindig ver, die eng'leskaar.
3. Hul 't neergesink in sagte deining,
al verderweg in ordekring,
en almal, by hul knielverkleining,
die lof van God die Heer gesing
met "Amen! Lof aan God die Here,
en wysheid, dank en majesteit,
en mag en krag en sterkte en ere,
van nou af tot in ewigheid!"
4. Ek sien toe weer in hemelsfere
die skaar wat ligtend voor God staan.
Hul was bekleed met lang wit klere:
maar wie is hul, en waarvandaan?
Toe kom by my gesigsverrukking
'n stem my ruisend tegemoet:
"Die skaar kom uit die groot verdrukking,
gereinig in die Lam se bloed.
5. "Hul 't in die bloed, deur Gods genade,
hul kleed gewas, en vlekloos rein
mag hul nou in hul straalgewade
as priesters voor Gods troon verskyn;
hul mag aan Hom hul dienswerk heilig,
en altyd in sy tempel bly.
God self sal hulle daar beveilig
as Hy sy tentseil oor hul sprei.
6. "Hul sal nie langer honger kry nie,
geen son sal oor hul hoofde brand;
hul sal nie langer dors meer ly nie
by sonstraal in die somerland.
Langs altyd helder waterbane
lei nou die Lam hul voetstap heen:
en God veeg van hul oog die trane
deur hul in droefenis geween."
Skrifberyming 10
1. Wie kan ons voor die regter daag?
Gods uitverkore kind verklaag?
Waar is die mond wat durf verdoem
as God sy kind regverdig noem?
2. Dis Christus wat die skuld wou dra,
die dood vir ons gesterf het, ja,
wat, opgewek, in glorie sit
en altyddeur vir ons wil bid.
3. Wie sal ons, van die skuldstraf vry,
van Christus en sy liefde skei?
Verdrukking of vervolgingsnag?
Benoudheid wat ons hier nog wag?
4. Of honger, naaktheid of gevaar?
Die swaard van die geweldenaar?
(As skape word ons nou geag,
klaar vir die mes wat ons wil slag!)
5. Maar nee, ons sal oorwinnaars bly
deur Hom vir wie ons leef en ly.
Ja 'k weet gewis, geen lewe of dood,
geen eng'lemag, bo-menslik groot,
6. geen skepsel in die skepping wyd,
geen ding in tyd of ewigheid -
niks kan ons van Gods liefde skei
wat ewig-vas in Christus bly.
Skrifberyming 11
1. Die laagte deur waar die olywe staan,
het hul met Jesus na die berg gegaan;
en daar het Hy, in stilte ongestoord,
tot hul gespreek sy laaste lewenswoord:
2. "Jul wat so na die Godsryk al verlang,
sal nou die kragte van die Gees ontvang,
en oor die wydtes dan van land en see
uit nuwe krag van My getuig'nis gee."
3. En toe het Hy, terwyl hul na Hom staar,
geruisloos opgestyg en weggevaar.
'n Digte waas het Hom geheel oordek,
'n wolk het Hom sag aan hul oog onttrek.
4. Terwyl hul smagtend na die hemel kyk
en Jesus altyd verder van hul wyk,
het daar twee manne in wit gewaad kom staan,
die spreek hul met 'n hemelboodskap aan:
5. "O manne, nou vereensaamd en alleen,
wat staan en staar jul na die hemel heen?
Die Jesus wat gevaar het na omhoog,
sal net so kom, verheerlik voor die oog."
6. En van die berg waar die olywe staan,
het hul met blydskap na die stad gegaan.
Skrifberyming 12
1. 'n Eng'lestem het ek hoor juig,
wat aanswel uit die hemel aan:
"Nou moet voor God die Here buig
die magte teen Hom opgestaan:
want heil en krag en heerskappy
het God nou skitt'rend aan laat lig,
en Christus - so 'n glans het Hy
dat Satan blind daarvoor moes swig.
2. Nou sal die duiwel nimmermeer
kan opstyg uit die diepte omlaag,
nou sal hy hier ook nimmer weer
Gods uitverkoornes kan verklaag.
Vors Migael - die tyd was ryp
dat hy tot kragdaad aangegord,
die Satan in sy vuis sou gryp
en in die afgrond neer sou stort.
3. Die Lam wat hul laat triomfeer
sy bloed het hul gedek as skild
en al die pyle afgeweer.
En hul getuig'nis, nooit gestild,
dit was hul wapen in die stryd.
Hul het hul lewe as hoogste skat,
in mart'laarskap en dure tyd,
tot in die dood nie liefgehad.
4. Kom, jubel dan op hoë toon,
o heemle, sing jul vreugde-psalm!
Laat al wie in die hoogte woon,
sy vertes met hul lied deurgalm!...
Bewoners van die aarde en see,
die duiwel 't op jul neergestort.
En daarom klaag ons oor jul: Wee!
Hy 's woedend, want sy tyd is kort.
Skrifberyming 13
1. Toe kom daar haastig 'n geluid
wat aanblaas uit die hemel uit:
'n rukwind wat met stormgedruis
daarheen vaar, vul die ganse huis
2. Hul sien - dit was 'n wonderuur -
verdeelde tonge soos van vuur,
deurgloeid en wonderbaar deurstraal,
wat glansend op hul hoof kom daal.
3. Toe was dit, op die dag van fees,
dat hul vervul is met die Gees.
In loftaal het hul uitgebreek
net soos die Gees dit uit laat spreek.
4. Dit is die saak wat die profeet
aan ons verkondig en laat weet:
"Die laaste tyd, dan sal dit wees
dat Ek sal uitgiet van my Gees.
5. "Dan stort Ek met 'n groot geluid
die Gees se reënstrale uit,
jul seuns en dogters, dan nie meer
van spraak ontbloot, sal profeteer.
6. "Jul kinders, uitsiend op die wag,
sal vergesigte sien by dag;
jul grysaards, in hul krag al loom,
die allerskoonste drome droom.
7. "Ook op die knegte en maagde, vry
om My hul dienswerk toe te wy,
stort Ek my Gees in mildheid neer,
en almal sal hul profeteer.
8. "'k Sal wonders in die hemel gee,
op aarde tekens van die wee
wat oor die mensheid heen sal kom:
bloedplas en vuur en rookkolom."
9. Die dag sal kom, deurlugtig-groot,
maar elkeen wat in sielenood
Hom aanroep wat die Redder is,
vind in sy Naam behoudenis
Skrifberyming 14
1. "Water sal ek op hul sprinkel,
water uit 'n springfontein".
En van alle onreinighede
was die HEER sy volk dan rein.
"Nuwe harte gee 'k aan julle,
en Ek gee 'n nuwe gees;
'k sal die hart van klip verwyder,
aan jul gee 'n hart van vlees.
2. "'k Gee my Heil'ge Gees aan julle,
wat die krag verleen en trou
om te wandel in my weë
en my wet te onderhou.
En jul sal die land van seën
deur my seën weer verkry
waar 'k 'n God sal wees vir julle,
jul 'n volk sal wees vir My."
Skrifberyming 15
1. "Laat jul kinders tot My nader
en geen hindernis hul weer,
want die koninkryk der heemle
is hul erfdeel, " sê die HEER.
2. "Wie nie needrig soos die kindjie
wat hier tussen julle staan,
so die Godsryk wil ontvang nie,
sal daar geensins binnegaan."
3. En die Here het sy arrems
koest'rend om hul heen geslaan,
met sy hande op hul hoofde,
hul geseën, en weer laat gaan.
4. "Sal die herder van die kudde
wat een enk'le skaap maar mis,
hom nie haas en in die berge
opspoor wat verlore is?
5. "En as hy sy skaap gevind het,
is hy daaroor bly, verras,
meer as oor die hele kudde
waar geeneen verdwaald van was.
6. "So 's die wil ook van my Vader,
onveranderd bly dit staan,
dat geeneen van die geringes
ooit meer sal verlore gaan."
7. En die Menseseun op aarde,
soos die Vader hom gelas,
het gekom, en Hy maak salig
hulle wat verlore was.
Skrifberyming 16
1. Salig die wat arm van gees is
en van God hul wysheid leer,
want die koninkryk der heemle
is hul erfdeel, sê die Heer.
2. Salig die wat kwyn in droefheid,
in hul weedom troosteloos,
want hul droefheid word tot vreugde
as die Heer hul hart vertroos.
3. Salig die wat stil-sagmoedig
hier geen hoogheid wil verwerf,
want 'n aarde sonder moeite,
nuut-herbore, sal hul erf.
4. Salig die wat, dors en honger,
smag na die geregtigheid,
want vir hul is daar versading,
laafnis na die dag van stryd.
5. Salig die wat nou, barmhartig,
hul ontferm oor die wat ly,
want hul sal, as God gaan oordeel,
self barmhartigheid verkry.
6. Salig die wat rein van hart is
en die oog omhoog bly hou;
as die newels weggetrek het,
sal hul klaar hul God aanskou.
7. Salig is die vredemakers
in 'n wêreld oud van twis;
"seuns van God" sal hul genoem word
as 't weer vrede op aarde is.
8. Salig die wat hier vervolg word
en vir reg en waarheid ly,
want die koninkryk der heemle
is vir hul as loon berei.
9. Salig die wat hier gesmaad word,
onder lyde lydsaam-stil;
die wat wegkwyn onder laster
en dit dra om Christus wil.
10. Juig, want hul het die profete
ook gemartel en gehoon!
Juig en Jubel! Uit die hemel
wink die skone oorwinnaarsloon.
Skrifberyming 17
1. Wees nie besorgd nie oor jul lewe,
oor wat die harte neerwaarts trek:
"Wat sal ons eet, waar vind ons laafnis?
Wie skaf die kleed wat ons moet dek?"
Is lewe en liggaam dan nie meer nie
as alles wat net kommer wek?
2. Aanskou die voëls van die hemel,
dat hul nie saai of maai of swoeg.
Tog voed die Hemelvader hulle.
Het Hy vir jul dan nie genoeg?
En wie kan ooit in sy besorgdheid
een el maar by sy lengte voeg?
3. En wat is jul besorgd oor kleding?
Let op die lelies, hoe hul leef,
hoedat hul opbloei uit die velde,
dat hul nie swoeg of spin of weef.
En Salomo in al sy glorie
was nie deur soveel skoons omgeef.
4. As God die gras, in duur kortstondig, -
wat hede in die veld nog groei,
maar môre aan dorheid oorgegewe,
verskrompeld in die vuurvlam gloei -
also beklee, hoe meer dan julle
wat julle in kleingeloof vermoei?
5. Vra dan nie meer: "Hoe sal ons lewe?
Waar is die kleed wat ons moet dra?"
Want hierdie dinge jaag die heid'ne
met kwelling en besorgdheid na.
Maar julle Vader in die hemel,
Hy ken jul nooddruf voor jul vra.
6. Soek eers die koninkryk der heemle
en Gods geregtigheid; dan laat
Hy seën druppel uit die hemel -
vir elke dag die dag se maat.
Want elke dag dra self die sorge
vir elke dag se nuwe kwaad.
Skrifberyming 18
1. Ek loof U, Vader, groot van mag,
dat U die dinge, diep en swaar,
vir wêreldwyse onbekend,
aan kindertjies wou openbaar.
2. Ja, Vader, dis u guns alleen,
die guns van al wat dwang is, vry,
waardeur ook alle dinge saam
al oorgelewer is aan My.
3. Wie kan die Seun ooit ken, as net
die Vader, met Hom wesens-een?
of wie die eewge Vader ken,
as net die Seun, net Hy alleen?
4. Wie kan die eewge Wese ken,
so diep en ontoeganklik klaar?...
Alleen die mens aan wie die Seun,
die heilgeheim wil openbaar.
5. Kom dan tot My, o almal wat
vermoeid is en so swaar belas,
Ek gee 'n rusplek vir die voet
waarvoor daar nêrens rusplek was;
6. verligting vir die skouer wat,
deur druk gemartel en gepla,
en onder lewensorge krom,
'n altyd swaarder las moet dra.
7. Maar leer: dat Ek sagmoedig is,
en dat Ek needrig is van hart.
Dan sal jul rus vind vir jul siel
en vrede by die wreedste smart.
8. En dra my juk: die juk is sag,
wat nooit gedruk het of geknel;
en dra my las: die las is lig,
wat nooit gekneus het of gekwel.
Skrifberyming 19
1. Nou sal ek opstaan, na die woning weer,
die vaderhuis my wank'le voetstap keer.
"My vader, sal ek sê, van misdaad sku,
"my sonde is teen die hemel en voor u."
2. "Ek het van hoë kindskap neergestort
en is nie werd u seun genoem te word,
as ek, my vader, wat u gramskap vrees,
as ek by u 'n huurling maar kan wees."
3. Hy 't opgerys, sy swerfpad weer gegaan:
"lig neem die vader my as huurling aan."
Die 't hom gesien en - eerste straal van hoop -
uit jammerte hom tegemoet geloop,
4. tot waar hy was, hom aan sy hart laat rus,
geliefkoos deur die vaderlike kus.
"My vader", roep hy uit, van misdaad sku,
"my sonde is teen die hemel en voor u.
5. "Van hoë kindskap het ek neergestort
en is nie werd u seun genoem te word;
as ek, my vader, wat u gramskap vrees,
as ek by u 'n huurling maar kan wees."
6. Die vader sien sy slawe wagtend staan;
"Bring hier die beste kleed, trek hom dit aan;
bring vir sy hand die ring van fynste gloed
en skoeisel vir sy afgesloofde voet,
7. "Want hy, my seun, oor wie ons vrolik is,
was dood en het, in bly herrysenis,
weer lewendig geword; en hy, my kind,
vir my verlore, is eind'lik weer gevind."
Skrifberyming 20
1. Bo 'n strandelose en donker see
van eindelose wêreldwee
verhef die skepsel hom -
die kop hooguit, om deur die nag
te speur wanneer die gloriedag
van al Gods kinders kom.
2. Die skepping, uit die oer-ou tyd,
is slaaf van die verganklikheid,
maar nie gewillig; nee,
ter wille van die mensekind,
van eeuskuld is die band gebind,
die lydensboei gesmee.
3. Die ganse skepping het in druk
altyd weer aan die boei geruk,
sterk-smagtend na die tyd
dat hy weer los van die verderf
die vryheid met Gods kind sal erf
in onverganklikheid.
4. Ons weet die ganse skepping sug -
geluidloos deur die hoë lug
en afgrond diep benee,
maar yslik as die stormwind brul,
die slagdier in sy bloedplas krul
en kerm die eewge wee.
5. Maar ons ook wat die eerst'lingsvrug
uit God se Gees ontvang, ons sug;
dit lyk so ver nog af
dat ons ons kindsdeel vol sal kry,
dat ons van die verderf'nis vry,
sal oprys uit die graf.
6. Ons sug, want daar 's geen oogbewys!
Maar hoop het ons weer op laat rys
in die ontkomingstryd;
want as ons sien, hoop ons nie meer;
maar as ons hoop dan leef ons weer
en wag in lydsaamheid.
7. En is ons swak en moedeloos,
dan kom die Heil'ge Gees ons troos.
Gods duif, so hoog van vlug,
het diep gedaal om saam te smeek,
in donker dal saam uit te breek
in diepe bidgesug.
8. En God wat in die hart kan lees,
die ken die sugstem van die Gees
en neig in guns sy oor;
en het die Gees met regte bee
vir ons by God weer ingetree,
dan 's ons gebed verhoor.
Skrifberyming 21
1. Al sou 'k die skoonste taal kon spreek,
in eng'le-lofstem uit kon breek,
en 'k had die liefde nie daarby,
dan was nogtans my stem en taal
net maar 'n klinkende simbaal
wat harteloos sy klank verbrei.
2. Al had ek kennis, dat ek wis
al wat verborge en donker is,
die gawe van die profesie;
al had ek die geloof, ook dit,
sodat ek berge kon versit,
en had daarby die liefde nie -
3. al deel ek al my goed're uit,
al gee 'k my liggaam self as buit,
al laat ek dit verbrand tot as -
dan was dit net vergeefse vlyt,
vergeefse moeite en ydelheid,
wanneer ek sonder liefde was.
4. Lankmoedig is die liefde in pyn
en vriend'lik waar sy ook verskyn.
Afgunstig is die liefde nooit,
of opgeblase of hoog van spraak;
niks wat hier onwelvoeglik maak,
kleef aan die daad van liefde ooit.
5. Sy soek haar eie voordeel nooit,
niks maak haar hart verbitterd ooit,
en sy vergeld geen kwaad met kwaad.
Geen ongeregtigheid wil sy,
maar net die waarheid maak haar bly -
die waarheidsklank van woord en daad.
6. Die liefde lê die kwaad nie oop,
sy dra, verdra en glo en hoop -
Die profesie sal nie bestaan,
ons taal en kennis gaan tot niet;
maar - hoogste lofprys van my lied -
die liefde alleen sal nooit vergaan.
Skrifberyming 22
1. Troos, troos my volk, sê God die HERE;
dreig nou nie meer met oordeelstem,
genees die wond, o sienerherder,
die hartseer van Jerusalem.
2. Vertel haar dat haar stryd verby is,
haar skuld vereffen is geheel,
dat sy ontvang het uit my hande
vir al haar sonde 'n dubbel deel.
3. Daar ruis 'n roep: Baan vir die HERE
'n weg waar nou net woestheid is;
en maak vir onse God al verder
'n grootpad in die wildernis.
4. Laat elke dal rys uit die diepte,
en elke berg en heuwel wyk.
Die bulte - laat hul wees 'n vlakte,
en maak die skurwe plek gelyk.
5. Want kyk, Gods heerlikheid verskyn weer,
en alle vlees sal dit aanskou.
Die HEER self het die Woord verkondig,
en as Hy spreek, wie sal 't weerhou?
6. 'n Stem sê: Roep! - Wat moet ek melde? -
En ruisend-ver die antwoord kom:
dat alle vlees hier enkel gras is,
en al sy goedheid net 'n blom.
7. Die gras verdor, die blom verwelk weer
wanneer dit oor die velde raas:
wanneer die asem van die Here,
die winterstormwind daar oor blaas.
8. Voorwaar, die mens is maar 'n stengel,
'n grasspriet wat verdor, vergaan,
'n blom wat wegwelk uit die velde.
Alleen die Woord van God bly staan.
9. Klim op 'n berg, o vreugdebode,
o Sion, en verhef jou stem!
Verhef dit hoog en vrees nie langer,
roep uit met vreug, Jerusalem!
10. Meld die verwoeste dogter-stede:
Hier is jul God! Die sterke is Hy!
Al voor Hom uit gaan sy beloning,
sy hoë arm voer heerskappy.
11. Hy lei sy kudde soos 'n herder,
die lammers sluimer in sy arm,
die lammerooie dryf Hy saggies -
oor almal sal Hy Hom erbarm!
Skrifberyming 23
1. Toe sien ek: alles was verby -
'n nuwe aarde en hemel skyn;
die eerste aarde en hemel het
in donker oordeelsnag verdwyn;
Die see, wat immer wend en keer
in ongewisheid, was nie meer
2. Ek sien toe dat die heil'ge stad,
Jerusalem in skoonheidspraal,
van God, haar bouheer-kunstenaar,
hoog uit die hemel neer kom daal.
'n Bruid gelyk, so skoon is sy,
wat vir 'n man is toeberei.
3. En 'k hoor 'n hemelstem wat sê:
Die tabernakel van die Heer,
die woning van sy heiligheid,
is by die mens op aarde weer.
Hul is sy volk, Hy's hul naby
en sal hul God vir ewig bly.
4. En God sal self, en vir altyd,
die trane van hul oë wis;
geen dood sal daar dan langer wees,
geen smart of rou of kommernis.
Dis alles nuut, van sonde vry;
die eerste dinge is verby!
Skrifberyming 24
1. Geseënd sy bo alle dinge
die eewge God en Vader! Hy
het in die hemel seëninge
vir ons in Christus toeberei.
Na die besluit, uit Hom gebore
en ewig in sy wese vas,
het Hy in Christus ons verkore
voordat daar tyd of wêreld was.
2. Hy het deur eie wil bewoë,
dat niks ons ooit weer sou vervreem,
om Christus wil, uit mededoë,
ons as sy kinders aangeneem;
dat ons, by guns so vry gegewe,
in hart en wandel onbevlek,
sou leef voor Hom, in liefde lewe,
wat lewe in dooie harte wek.
3. Tot roem en prys van Gods genade,
die grond van ons behoudenis,
sing ons nou van sy reddingsdade
in Hom wat die Geliefde is.
Uit Hom in wie ons nou weer vry is
van skuld, deur sy verlossingsbloed,
in Hom, in wie die heil berei is,
kom seënstroom ons tegemoet.
4. Die bron wat God vir ons bevry het,
wat mild'lik aanloop deur die tyd -
dis wysheid wat die stroom gelei het
en loutere bedagsaamheid.
Geheimenis eers diep en bondig
gevestig in Gods diepe wil,
sy welbehae word verkondig,
die ewigheid is nie meer stil.
5. Nou bring die tyd in volheidskringe
die vrug van Gods geheimenis -
tot Christus Hoof van alle dinge
op aarde en in die hemel is.
In hom is dit dat ons verkry het
die erfdeel ons verordineer,
wat God se wil ons voorberei het,
die wil wat alles hier regeer.
6. Gods werk, eers eind'loos hoog verhewe,
daal op 'n aarde in sonde oud,
sodat nou uit ons donker lewe
sy lof kan opstyg duisendvoud.
In toebereide harte en ore,
van volk tot volk, van oord tot oord,
ruis nou - 'n mensheid word herbore! -
die nuwe reddingsboodskap voort.
7. Ons sal, in lewe en in sterwe,
Gods eiendom vir altyd wees;
ons sal wat Hy beloof het, erwe,
verseël deur die Heil'ge Gees.
Hy is die waarborg ons gegewe,
die eerst'ling van die volle som;
ons sal die reddingsdag belewe -
die gloriedag van God, wat kom.
Skrifberyming 25
1. Genade en vrede sy oor ons
van God wat in die hemel woon,
wat is, wat was en kom, en van
die sewe Geeste voor sy troon;
2. van Jesus Christus, ons Heer,
in sy getuig'nis altyd trou;
die Eersgeboorne uit die dood,
wat dood en doodsmag nie kon hou,
3. wat oor die konings heers tot hul
die krone neerwerp aan sy voet -
Hy wat ons liefgehad het en
ons rein gewas het in sy bloed!
4. Tot konings het Hy ons gemaak,
tot priesters om sy Vader te eer;
Hom sy vir ewig eer en krag,
wat nou oor alles triomfeer.