Psalm 76-100

 

Psalm 76

 

1.  Die HEER wat woon in donker tent,
maak Hom by Juda's stam bekend;
daar word sy wonderdaad vertel,
sy Naam is groot in Israel;
in Salem met sy veil'ge skanse,
daar straal sy huis met vredeglanse.

2.  Hy het die vuurge pyl verbreek
waarmee Gods vyand hom wou wreek,
die skild en swaard en oorlogstuig.
Hoe heerlik bo die roofberg ruig
styg U, o God, ver bo die skare
van buiters en geweldenare.

3.  Die held is daar beroof, verswak:
hy het meteens in slaap gesak;
die sterk en dapper mensekind
het daar sy hande nie kon vind.
U dreigstem, HEER, op oorlogsvelde
bedwelm tesaam die perde en helde.

4.  Hoe vreeslik, HEER, is u gerig!
Wie kan bestaan voor u gesig?
U laat van bo die oordeel hoor,
u donderwoord, die wêreld oor;
die aarde, uit skrik vir u vermoë,
lê stilverlate voor u oë.

5.  In stortvloed van sy krag kom Hy
al die sagmoediges bevry;
want grimmigheid en wraakgeweld
van mense moet u lof vermeld. 
Die toorn wat oor is van die bende
dien, HEER, as gordel van u lende.

6.  Doen dan geloftes aan die HEER
en lê jul offers voor Hom neer;
laat almal wat die HEER omring,
uit vrees aan Hom geskenke bring.
Hy breek die mens se praalvertonings,
Hy's vreeslik vir die aardse konings.

 

Psalm 77

1.  Opwaarts klim my roep en rede,

o my God, verhoor my bede;
in benoudheid, altyd weer,
neem ek toevlug by die HEER,
En my hande, hele nagte,
met my worst'lend in my klagte,
bly, terwyl 'k mistroostig smeek,
sonder moeg word, opgesteek.

2.  In 'n nag so dubbelduister
wil my siel na troos nie luister.
En gedenk ek in my nood
aan die God, voorheen so groot
in ons redding en ontvlugting,
dan versink ek in versugting;
en my gees in my versmag,
waar ek raadloos hoop en wag.

3.  Slaap kom daar nie in my oë;
diep onrustig, neergeboë,
draai ek aldeur om en om,
maar my mond bly strak en stom.
Al die lank vervloë jare,
ook die juigtoon van my snare
kom voor my in stille nag.
Alles het my gees deurdag.

4.  Gans mistroostig, wederstrewig,
vra ek: Sal die HEER vir ewig
dan verstoot en nimmermeer
wees nie wat Hy was weleer?
Is dan sy beloftenis nie
onverbreekbaar en gewis nie?
Is sy goedertierenheid
nie bestendig vir altyd?

5.  Sou God sy gena vergeet het?
Van my onheil nie geweet het?
Is ontferming dan vir my
deur sy gramskap afgesny?
Ja, Gods hand, voorheen grootdadig,
red ons nou nie meer genadig,
ons wat diep ellendig is -
dit is my bekommernis!

6.  Maar 'k wil liewer wees indagtig
al u dade, groot en magtig,
dade van die ou tyd aan
wonderbaar deur U gedaan.
Ek wil let op al die merke
van u onvolprese werke
en in plaas van bitter klag,
daaroor nadink dag en nag.

7.  Heilig was, o God, u weë,
in die voortyd, lank geleë, 
toe u Naam en sterkte alom
groot was by die heidendom;
toe U, HEER, u mag gewek het,
Jakobs kinders uit laat trek het.
U het Josefs nakroos vry
uit Egipteland gelei.

8.  Watervloede, opgesteier,
wou u volk die deurtog weier;
maar toe hul u koms gewaar,
het 'n skrik in hul gevaar.
Donderwolke het hul water
uitgegiet, en fel geklater
het gedreun met swaar gerug
deur die vuurverligte lug.

9.  Hoog daarbo gerol van donder,
vuur van vlammesee daaronder;
aarde en wêreld, stormverlig,
het geskrik by die gesig. 
Ja, u pad was in die seë,
U verlos langs diepe weë;
en u nooit ontdekte spoor -
daar sweef donker waters oor.

10.  Kudde skape en hul herder;
veil'ge hoede en altyd verder -
Moses met Aäron lei
Isr'el deur die woesteny.

 

Psalm 78

 

1.  Merk op, my volk wat nou my roepstem hoor,
met ope hart en toegeneë oor!
Met wyse spreuke wil ek u vermaan,
wat waarheid is van vroegste tye af aan;
verborge goud wat net op koest'ring wag,
met stof bestrooi, haal ek weer voor die dag.

2.  'n Wysheidswoord wat vloei uit diepe wel
ons vaders het dit ons voorheen vertel -
sal ons laat hoor, en aan die stamverband
sal ons verhaal die wonders van Gods hand;
sodat ons kinders trou dit na kan speur,
sy dade kan verkondig altyddeur.

3.  Die HERE het aan Jakob sy bevel,
sy woord en wet gegee aan Israel;
'n vaandelteken om, met erns en trou,
gedurigdeur in oog en hart te hou;
'n teken om die nakroos toe te wink,
'n taal om diep hul in die hart te sink;

4.  sodat hul dit hul kinders kan vertel,
om hul vertroue alleen op God te stel -
nie wederstrewig in hul wandel weer
en koppig, soos hul vaders was weleer:
'n volk onvas van hart, ontrou van gees,
was hul nie trou teenoor hul God gewees.

5.  Ja, Efraim, die heldestam weleer,
het weggevlug - hul was geen helde meer!
Die Godsverbond het hulle nie betrag,
maar, weieragtig, dit gering geag,
Gods dade, met geen maatstaf afgemeet,
sy wonders het hul troueloos vergeet.

6.  In Soans veld, in gans Egipteland,
het hul gesien die wonders van sy hand;
en in die see, waardeur hul pad sou gaan,
het Hy die vloed soos walle hoog laat staan.
Hy was oordag met digte wonderwolk,
en snags met vuur die leidsman van sy volk.

7.  Uit barre rots, gehoorsaam as Hy spreek,
het Hy vir hul die waters uit laat breek,
wat soos 'n vloed gespoel het oor die sand.
Nogtans was hul weerspannig teen sy hand,
'n spys het hulle na hul hart begeer,
hul 't God versoek, opnuut gemurmureer:

8.  "Kan God vir ons hier ooit 'n tafel sprei?
Hy het geslaan, die rots in twee laat skei -
maar in 'n land van dors so dubbeldood,
hoe skaf Hy vir sy volk hier vleis en brood?"
Toe 't God gehoor, 'n vuur is aangesteek,
en gramskap het teen Jakob uitgebreek.

9.  Hy het beveel, en wolke 't aangewaai,
die hemeldeure 't ylings oopgeswaai:
geheimnisvol het manna neergestort,
en hemelkoring het hul brood geword.
Die wonderbrood, hul volop toegemeet,
die eng'lespys het hul op pad geëet.

10.  Daarna 'n windstorm deur die hemel heen!
En Hy het vleis soos stof op hul laat reen.
'n Kwartelswerm, oneindig in getal,
het binne-in die laers neergeval.
God het gegee, in oorvloed ongemeet;
die volk het tot versadiging geëet.

11.  Hul het geëet - die spys nog in hul mond -
toe het Gods toorn teen hul ontvlam terstond. 
'n Slagting! Uit hul laer het die blom
van Isr'els manskap smaadlik omgekom.
Tog het hul in hul sondes nog volhard,
in ongeloof aan God se mag verward.

12.  So het die HEER hul dae weg laat slyt
in skrik en smart, in moeite en nietigheid.
En as die dood hul tent oorval, dan vlug
hul soekend, sugtend na hul God terug,
gedagtig dat hul rotssteen, trou en vas,
die Allerhoogste, hulle redder was.

13.  't Was vleiery. In sy verbond en leer
was hulle nie opreg voor God, hul HEER.
Nogtans was Hy oneindig van geduld,
barmhartig en 'n delger van die skuld.
Hoe dikwels wend Hy weer sy gramskap af
en wek nie al sy toorn tot strenge straf!

14.  Hy het gedenk waarvan hul was gemaak;
hoe lig hul stof weer tot die aarde raak;
hoe gou dat hul net soos 'n wind verdwyn,
en, eenmaal weg, nie wederom verskyn.
Hoe wederstrewig was hul teen die HEER!
Hoe griewend was hul ondank keer op keer!

15.  Hoe menigmaal moes in die woeste land
die heil'ge God in heil'ge toorn ontbrand!
't Was altyd weer: Gods ongemete mag
het hul gemeet na swakke mensekrag;
hul 't nie gedenk hoe in hul slawetyd
die blyk gesien is van sy Godd'likheid.

16.  't Was wondertyd in Isr'els groot weleer!
Egiptes stroom het Hy in bloed verkeer.
Hy het die kwelgedierte in donker uur
kikvors en steekvlieg - in die land gestuur;
hul veldgewas, die spys van mens en ver,
het Hy aan ruspe en sprinkaan oorgegee.

17.  Hul wingerdstok het Hy deur hael laat sterf,
hul vyeboom deur koue laat verderf,
en oor hul vee het Hy die bliksemskig,
met haelbui, verwoestend aan laat lig.
'n Gloed van toorn en woede 't Hy gestuur
en onheilsbodes in benoudheids-uur

18.  Hy 't vir sy grimmigheid 'n pad gebaan;
hul nie gered, deur pes hul laat vergaan;
en al die eerstelinge van hul krag
het Hy laat sterf in donker onheilsnag.
Maar Hy 't sy volk soos skape uit laat trek,
die see het gou hul vyand gans oordek.

19.  Hy 't hul laat uittrek na 'n bergland skoon,
om in die tent van nasies in te woon;
die volke 't Hy verdryf deur hoë hand
en hul laat erf die wonderskone land.
Maar dit - en meer - voorheen so klaar geweet,
het nou sy volk, as ongeskied, vergeet.

20.  Gelyk voorheen, was hul afvallig weer:
't was Godverlating en gemurmureer.
Die Godsverbond het hulle nie gehou,
en soos hul vaders was hul ook ontrou -
net soos 'n boog, wat tot verweer gehef,
bedrieglik swik en dan geen doel kan tref.

21.  Hul het gebou die hoogtes van die land,
en ywervuur van God het toe ontbrand.
Die heil'ge plek waar Hy by hul wou woon,
het Hy verlaat; die ark van ouds sy troon,
sy sterkte, het in ballingskap gegaan,
sy heerlikheid weg uit hul land vandaan.

22.  Hul het 'n prooi van vyandswaard geword,
die HEER se toorn is oor hul uitgestort.
Hul jongmanne 't die oorlogsvuur verteer,
hul maagde is deur bruidslied nie geëer.
Selfs priesterbloed verf deur die mantel heen,
en by hul graf - geen weduwees wat ween.

23.  Soos een wat uit sy sluimer wakker raak,
en soos 'n held wat uit sy wyn ontwaak - 
so het die HEER, tot kragdaad aangegord,
in tyd van nood sy volk 'n held geword.
Die vyand, ylings op die vlug geslaan,
het Hy 'n eewge smaadheid aangedaan.

24.  Maar Josefs stam was nie sy woning meer;
dis Juda's stam wat opklim tot die eer,
en Sions berg waar Hy teen hemelblou,
sy heiligdom teen hemelhoogtes bou,
waar Hy omlaag, in rotsblok ingepas,
die grondslag lê, vir ewig diep en vas.

25.  O goedheid Gods wat altyd dieper daal:
uit herderstent word Dawid weggehaal,
uit agterveld waar skape rustig wei,
om nou Gods volk as herder-vors te lei.
Hy 't hul gehoed in sy opregtigheid
en hul beskerm deur dapper krygsbeleid.

 

Psalm 79

Psalm 79

1.  Die heid'ne het gekom, 'n woeste hoop,
U erfdeel, HEER, geweldig neergeloop,
U heiligdom se heiligheid geskend,
Jerusalem tot puinhoop omgewend.

2.  Die lyke van u knegte lê verstrooi,
hul vlees aan al wat skeur en aas ten prooi.
Daar's bloed soos water om die stad gestort;
en niemand wat daar meer begrawe word.

3.  Vir al ons bure is ons nou 'n smaad,
'n spot en skimp van almal wat ons haat.
Hoe lank sal nog u toorngloed oor ons duur?
U ywer, HEER, nog oor ons brand soos vuur?

4.  Stort uit u toorn op wie u Naam nie ag,
op konings wat U hoon in u gesag;
want hul het Jakobs erfland opgeteer,
sy woning is vir ons geen woning meer.

5.  Gedenk die kwaad, deur ons gedaan, nie meer.
Ons euweldaad wil ons vergeef, o HEER!
En maak u volk wat nou, verswak, moet ly,
deur u gena weer van die skuldstraf vry.

6.  Ons vra dit nie om ons verdienste, nee;
maar om u Naam die hoogste eer te gee;
en dat die vyand nooit met ons mag spot:
"Wie is die HEER? En waar is nou hul God?"

7.  Laat ons, laat hul wat ons os swaar laat boet,
aanskou die wraak oor die vergote bloed.
Laat die gesug van wie in bande is,
tog voor U kom uit hul gevangenis.

8.  Die kind des doods - wil U oor hom erbarm,
en red hom deur die grootheid van u arm.
Vergeld ons bure sewevoudig weer
die smaad waarmee hul U gesmaad het, HEER!

9.  Dan sal u volk, u eie kudde weer,
wat U wou lei en deur u staf regeer -
dan sal ons sing tot in die nageslag
van u vermoë en onverwinb're krag.

 

Psalm 80

Psalm 80

1.  O Herder Isr'els, neem ter ore,
wat Josefs kroos, deur U verkore,
soos skape rustig wil laat wei,
of deur gevare heen wil lei;
U wat u troon op gerubs stig -
verskyn weer blinkend in u lig!

2.  Wek op u mag voor Efraims oë,
toon Benjamin u alvermoë,
en wil Manasse red, o HEER!
O Herder, lei, herstel ons weer,
verkwik, verlos ons deur die lig 
wat afstraal van u aangesig!

3.  Hoe lank, o God der leërmagte,
verwerp U ons gebed en klagte?
Hoe lank verlaat U ons in nood?
U spysig ons met tranebrood,
en laat ons in ons jammerstaat
die trane drink uit volle maat.

4.  U maak u volk in donker ure
'n skyf en mikpunt vir sy bure;
ons vyande bespot ons, HEER!
Sien op ons in ontferming neer;
verkwik, verlos ons deur die lig
wat afstraal van u aangesig.

5.  U, HEER, het ons in vroeër dae
geken, en in u welbehae
'n wynstok uit Egipteland
gebring, en self hier ingeplant;
U het die nasies uitgeroei,
en in hul plek u volk laat groei.

6.  Sy wortels sprei na alle kante,
sy ranke slaan wyd oor die rante.
Hy dek die hoë bergetop
en klim teen hoë seders op;
hy 't uitgeswaai van see en strand
tot by Eufraat se wonderland.

7.  En nou, waar is sy pragverskyning?
Waarom verbreek U sy omheining?
Waarom gedenk U nie aan hom?
Die bosvark woel sy akker om;
'n ieder pluk en gaan verby,
en wilde diere kom daar wei.

8.  Keer weer, o God der leërmagte!
Verhoor ons in ons jammerklagte.
Skou uit die hoë hemel neer,
besoek u wynstok soos weleer;
en laat u hand die seun bewaak
vir U gekweek en grootgemaak.

9.  Hy staan verbrand op ope velde;
hy's omgekap; van al u skelde
vergaan die volk deur U geplant.
Ag, laat u sterke regterhand
wees met die seun wat U, o HEER,
gekweek, gesterk het tot u eer.

10.  O HERE, God der leërskare,
verlos u volk uit doodsgevare;
dan sal ons U weer dien en eer.
O Herder, lei, herstel ons weer,
verkwik, verlos ons deur die lig
wat afstraal van u aangesig.

 

Psalm 81

Psalm 81

1.  Laat ons nou die HEER
wat sy volk verbly het
deur sy sterkte, eer!
Hom, die grote God,
wat weer feesgenot
vir sy volk berei het.

2.  Laat die trommel hoor
by die toongemengel
van 'n jubelkoor!
Laat die harpenaar
klank van sagte snaar
deur die blydskap strengel!

3.  Laat basuine klink
as aan lae transe
nuwe maan weer blink!
Blaas hul nog 'n keer
as die Paasmaan weer
skyn met volle glanse.

4.  Want dis die bevel
wat alom weerklink het 
onder Israel;
dis die groot gebod
van 'n troue God
wat aan ons gedink het;

5.  wat ons wou bevry
aan die Nyl se boorde
van die slawerny.
Maar as nou my oor
dieper luister, hoor
ek die vreemde woorde:

6.  Ék was 't wat hul juk
eind'lik opgelig het
toe hul, hard gedruk,
hand en skouer vas
aan die draerslas,
slawediens verrig het.

7.  Jul 't geroep, en my
antwoord was 'n wonder;
om jul uit te lei,
het uit onweerskuil,
waar die dreunings skuil,
my bevel gedonder.

8.  Deur die dors gekwel
is hul, nooit tevrede,
op die proef gestel
in hul trou aan My,
wat hul uit wou lei
deur my wonderhede.

9.  Neig, my volk, jul oor,
dis wat Ek getuig het -
neig jul oor en hoor:
Ag, as Israel
maar op my bevel
voor my woord gebuig het!

10.  Onder jul mag geen
afgodsbeeld verrys nie:
Ek is God alleen!
Jul mag god of heer
wat die nasies eer,
met geen lofstem prys nie.

11.  Ek is God en HEER
wat die volk bevry het -
Ek en niemand meer!
Wat jul deur my hand
uit Egipteland
veilig uitgelei het.

12.  Open julle mond,
eis van My vrymoedig
op my trouverbond:
al wat jul ontbreek,
skenk Ek as jul smeek
mild'lik en oorvloedig.

13.  Maar my volk wou My
nie gewillig eer nie,
aan my diens gewy;
ver van My vandaan
het hul weggegaan
en My nie begeer nie.

14.  Toe 't Ek hul laat gaan
op hul donker spore,
weg van My vandaan;
in hul hart verhard,
in hul sin verward,
in hul weg verlore.

15.  Ag, as hul maar net
na my raad wou handel,
op my woord wou let!
As hul maar wou hoor,
in die veil'ge spoor
van my wet wou wandel!

16.  Vyande sou dan
voor my mag gebuk het - 
hul wat, saamgespan,
met 'n slaweband,
met 'n ysterhand
Israel verdruk het.

17.  Godverlaters sou
veinsend Hom gevrees het
met 'n skynberou;
maar my volk se tyd
sou in ewigheid
vrede en bloei gewees het.

18.  Koring, vet en goed,
sou die lande oorgroei het,
om hul mild te voed.
In die dorste streek
sou 'n heuningbeek
uit die krans gevloei het.

 

Psalm 82

Psalm 82

1.  God daag in regsvergadering
maghebbers tot sy strafgeding:
"Hoe lank sal jul geen onreg vrees,
partydig vir die bose wees?...
Doen reg aan wie in druk,
verweesd terneer moet buk;
bied swakkes onderstand
en red hul uit die hand
van wie hul goddeloos beroof."

2.  Van regdoen is daar geen verstand:
hul tas soos blindes na die wand.
Die aard' se grondves word onvas!
"Jul's gode, ja, my seuns, " dit was
my woord. "Nogtans - jul sal
soos alle vorste val."
Staan op, o God, vaag weg!
Lui in die eeu van reg;
want alles is u eiendom.

 

Psalm 83

Psalm 83

1.  O God, wees nie altoos
so stil en dadeloos
teenoor die onheilsmanne!
Hul steek met groot gerug
die hoof op in die lug
en dreig met onheilsplanne.
Teen ons smee hul verraad,
teen U, ons toeverlaat,
by wie ons, skuilgeboë,
teen storm en onweerswind,
'n skuil- en rusplek vind
uit krag van u vermoë.

2.  "Die slagorde opgestel!
Roei uit van Israel
die naam en die gedagte!
Versamel Edomiet,
Woestynstam, Moabiet
en Ismaels geslagte!
Gébal en Amalek
moet saam met Ammon trek."
By Filistynse magte
het nou, belus op buit,
ook Assur aangesluit -
die arm van Lots geslagte.

3.  Wil hul verdelg, verban,
o God, soos Midian,
soos Jabin en sy helde:
hul is gestuit, gestort,
het slyk en mis geword
op Endors vrugb're velde.
Maak hulle soos weleer
die Midians-vorste, HEER,
die saamverbonde konings.
Hul wat nou sê: "Komaan,
laat ons Gods volk verslaan
en intrek in Gods wonings!"

4.  Soos stoppels voor die wind,
verwilder hul geswind,
en jaag die vlugtelinge! 
Storm op die bendes los
soos vlamme in berg en bos
wat waai in wilde kringe!
Laat hulle voor U swig!
Oordek hul aangesig
met skaamte en skrik en skande,
dat hul erken u mag
en buig voor u gesag
as Hoogste oor alle lande.

 

Psalm 84

Psalm 84

1.  Hoe lieflik is u wonings, HEER
der leërskare! Hoe begeer
my siel en hunker van verlange
om na Gods woning op te gaan
en in u tempelpoort te staan
met jubelende lofgesange.
My hart en vlees, o God, roep luid
tot U wat leef, verlangend uit.

2.  Die mossie vind 'n huis, o HEER,
die swaeltjies lê in nessies neer;
en ek vind rus by u altare,
waar U vir my 'n woning maak
en U, my Koning, my bewaak.
Gedugte HEER der leërskare,
welsalig wie in u paleis
U altyddeur mag loof en prys!

3.  Welsalig is die mensekind
wat al sy sterkte in U mag vind,
en op mag gaan na Sions hoogte.
Wanneer hul haas van dors verkwyn,
dan is die HEER self hul fontein
waar dorsland smag van somerdroogte.
Ook sal 'n reën hul daar oordek
wat hul tot nuwe lewe wek.

4.  Hul sal van krag tot krag steeds gaan
totdat hul voet in Sion staan:
geeneen wat daar nie sal verskyn nie.
Let, HEER der leërskare, let
op my geroep, hoor my gebed,
en laat my nie in druk verkwyn nie.
Leen my 'n toegeneë oor;
o Jakobs God, gee my gehoor!

5.  O God, ons skild, ons teëweer,
sien tog op u gesalfde neer,
skenk hulp en heil aan Sions koning!
Een dag is in u huis my meer
as duisend waar ek U ontbeer;
veel liewer is ek in u woning
'n drumpelwagter, as gewend
aan yd'le vreugde in sondaarstent.

6.  'n Son en skild is onse HEER;
Hy sal genade gee en eer,
want Hy word nooit sy woord ontrou nie:
Hy sal aan almal wat opreg
Hom dien en wandel in sy weg,
die goeie nimmermeer onthou nie.
Welsalig, HEER, wie op U bou,
aan U geheel hom toevertrou.

 

Psalm 85

Psalm 85

1.  U het, o HEER, u land weer guns bewys
en Jakobs saad uit knegskap op laat rys:
hul misdaad, wat u heil'ge toorn verwek,
was weg; hul sondes almal toegedek.
U het u gramskap eind'lik afgeweer;
die hitte van u toorn was daar nie meer.
O God van heil, besoek nou weer u land,
en laat u toorn nie meer teen ons ontbrand.

2.  Sal dan u toorn ons altyddeur oordek -
die onweerswolk wat, grimmig uitgestrek,
ons lewenslig oordonker dag aan dag?
Sal dit nog rus op kind en nageslag?
Werk U nie meer in ons die lewensgees,
dat ons, u volk, in U verblyd kan wees?
Toon ons u goedertierenheid, o HEER,
en wek in ons verlossingsvreugde weer.

3.  Ek sal nou wag en luister, want ek weet
dat God die HEER sy volk nie sal vergeet.
Hy sal, wanneer sy gunsgenote smeek,
hul roepstem hoor en weer van vrede spreek.
Maar laat sy volk dan nie onagsaam weer
die voetstap na die pad van dwaasheid keer;
Gods heil's naby - dat luisterryk en skoon
die heerlikheid weer in ons land kan woon.

4.  Genade en trou sal dan mekaar ontmoet;
die reg sal vrede met 'n kus begroet;
getrouheid spruit dan uit die aarde weer,
geregtigheid sien van die hemel neer.
Die goeie ontvang ons dan weer uit Gods hand
as halme buig op vrugbare akkerland.
Geregtigheid gaan voor Gods aangesig
en bloei omhoog waar Hy sy voetstap rig

 

Psalm 86

Psalm 86

1.  HEER, my God, ontferm U oor my,
luister na my stem, verhoor my!
'k Is ellendig, diep in nood,
gans en al van hulp ontbloot.
O bewaar my, U 's almagtig;
maak my weer u guns deelagtig;
red u kneg, verlos my nou,
waar 'k alleen op U vertrou.

2.  Wie is tog, soos U, weldadig?
Wees my dan, o HEER, genadig,
want my roepstem en geklag
klim tot U die ganse dag.
Hoor my in my sielsverlange;
gee my vreugde en vreugdesange;
want ek hef my hart en oog,
troue God, tot U omhoog.

3.  HEER, u goedheid is die lewe;
U sal mild ons skuld vergewe;
wie U aanroep in die nood,
vind u guns oneindig groot.
HEER, my God, ontferm U oor my,
luister as ek roep, verhoor my!
Merk uit goedheid, as ek spreek,
op die stem waarmee ek smeek.

4.  'k Is gewoond in bange dae
my benoudheid U te klae:
U, o HEER, is dan naby,
U verhoor en antwoord my.
By die gode, hoog in ere,
is daar niemand soos die HERE;
en geen aardse werk hou stand
by die werke van sy hand.

5.  Al die volke in heidenlande -
eie maaksel van u hande -
sal hul neerbuig voor U, HEER,
en u Naam aanbiddend eer.
Want u grootheid ken geen perke;
U alleen doen wonderwerke:
daar 's geen God naas U, geeneen,
U is God, ja, U alleen!

6.  Leer my na u wil te handel,
'k sal dan in u waarheid wandel;
neig my hart en voeg dit saam
tot die vrese van u Naam.
HEER, ek hef my hart na bowe,
nuwe sangstem sal U lowe,
nuwe dank sal voor U rys -
'k sal u Naam vir ewig prys.

7.  'k Is behoeftig en ellendig,
maar u guns, oor my onendig,
het my siel - omlaag gedruk -
uit die dieptes uitgeruk.
O my God, 'n hele skare
trotsaards en geweldenare
soek my siel en span die boog -
daar 's geen Godsvrees voor hul oog.

8.  Maar barmhartig en lankmoedig,
groot van goedheid en oorvloedig
in genade, en altoos trou 
is die HEER wat my behou.
Wend U tot my in ontferming,
red my, toon my u beskerming!
Hoor my, HEER, 'n seun is dit
van u diensmaagd wat hier bid.

9.  Doen 'n teken my ten goede,
dat my haters in hul woede,
kan aanskou hoe U my red
en my troos op my gebed.

 

Psalm 87

Psalm 87

1.  Hoe grondvas staan Jerusalem se walle,
Gods eewge bergwerk wat nie skok of skud!
Bo al die Jakobswonings, huis of hut,
het God aan Sions poorte-'n welgevalle.

2.  O koninklike stad, maak wyd jou woning:
God self wil jou laat groei op grootser wys,
en wat ek hoor, is lof, jou naam tot prys;
die vyand selfs kom nou met eerbetoning.

3.  Egipte, Babel, Filistyn en More,
ook Tirus ken my Naam as hoogste skat.
Hul almal noem jou nou die moederstad.
Ek sien hul: Dié en dié is daar gebore!

4.  Hul almal, nou tot nuwe heil verkore,
sal kom, selfs uit die allerverste land.
Hul sien God hou die moederstad in stand
en jubel: Die en die is daar gebore!

5.  Die HEER self skryf hul op, die duisendtalle,
een-een, gebore uit die volkeskaar;
en singend, juigend klink die lofstem daar:
Ons heilsfontein stroom neer uit Sions walle!

 

Psalm 88

Psalm 88

1.  Ek roep tot U, o God,
op wie my hoop bly staan,
't sy dat die blye son oor my
of op- of ondergaan.

2.  As ek my bede bid,
en 't opklim in u oor -
ag, sluit dan nie u hart vir my,
maar wil my smeking hoor!

3.  My siel is sat en siek,
so klaag en kerm ek nou;
dit is of ek hier voor my oog
die dood alreeds aanskou.

4.  Ek word getel by die
wat in die graf verdwyn.
Ek voel my nietig, sonder krag,
en hoe 'k in onmag kwyn.

5.  'n Swaard-deurboorde is ek,
deur U welhaas vergeet;
'n dooie in die graf alleen,
waar niemand meer van weet;

6.  'n dooie in wie daar nou
geen lewenshoop meer is,
wat in die see verdronke lê
in diepe duisternis.

7.  U grimmigheid rus swaar
op my ellende, HEER!
U golwe staan op, ry aan ry,
en druk my dieper neer.

8.  My vriende, hulle wat
my vriende was weleer,
hul vlug uit afsku weg van my
en is geen vriende meer.

9.  Soos 'n gevangene,
so is ek ingesluit;
my oog versmag in my ellend';
ek kom daar nie weer uit.

10.  Maar nou, o HEER, my God,
verhef ek in geklag
smekend my hande na omhoog
en roep die ganse dag.

11.  Kan U die mens weer wek
wat al vergaan tot stof
Of kan 'n skim voor U verrys
en psalmsing tot u lof?

12.  Sal hulle in die graf
u goedheid kan vereer? -
u trou daar in die donker plek,
waar die verderf verteer?

13.  Word ooit u wondermag
bekend in duisternis?
Word u geregtigheid herdenk,
waar geen gedagte is?

14.  Maar ek, o HEER, ek roep,
ek swyg nie met hul mee;
en in die vroeë môre kom
my smeekstem U al teë.

15.  Waarom dan, HEER, verstoot
U sonder medely?
Waarom verberg U langer dan
u aangesig vir my?

16.  Vanaf my vroegste jeug
is ek verdruk gewees;
en altyd het ek ramp verduur,
of altyd ramp gevrees.

17.  U toorn verskrik my, HEER,
en raadloos sien ek hoe
dit soos 'n vloed van waters kom
al nader na my toe.

18.  Die waters rol om my,
ombruis my al geheel,
omsingel my in hoë vloed
en reik tot aan my keel.

19.  U 't vriend en metgesel
verwyder ver van my;
bekendes - hul is almal weg,
en duisternis - naby!

 

Psalm 89

Psalm 89

1.  Van goedertierenheid sal ek vir ewig sing,
en aan u trou, o HEER, altyd my hulde bring;
want soos 'n tempel wat op vaste grond verrys het,
so rys die eewge guns wat U aan ons bewys het;
en soos die hemelboog nooit uit sy stand sal wyk nie,
so seker sal u trou nooit wankel of beswyk nie.

2.  Ek het my trouverbond, so het die HEER gespreek,
met Dawid opgerig, en sal dit nooit verbreek.
Uit vrye guns sal dit My nimmermeer berou nie,
niks die vervulling van my eed aan hom weerhou nie:
Jou nageslag, o vors, bevestig Ek vir ewig,
jou rykstroon bou Ek op, van kind tot kind gestewig.

3.  Die hemel loof, o HEER, u wonderbare mag;
die eng'le prys u trou en waarheid dag en nag.
Want in die hemel is daar niemand U gelyk nie;
geen seraf wat voor U die vleuel nie moet stryk nie.
U's groteliks gedug en eind'loos in vermoë,
u onverbreekb're trou omring U voor hul oë.

4.  U tem die woeste see, dit luister na u wil;
hoe hoog die storm mag gaan, U wink en dit is stil!
Ook Rahab is verslaan; net waar u arm geswaai het, 
lê vyande verstrooi, soos kaf wat weggewaai het.
Die aarde en hemel, HEER, die volheid wat daarin is,
is uwe, daar U self hul oorsprong en begin is.

5.  Die noorde 't U geskep, die suide daarmee saam;
hier jubel Tabor, daar juig Hermon in u Naam.
U het 'n arm met mag; u hand het groot vermoë,
u regterhand is hoog, u troon bly onbewoë:
geregtigheid, die skraag u troon aan alle kante,
en guns en waarheid is u troue troongesante.

6.  Hoe salig is die volk wat luister na u woord,
hul wandel in die lig wat van U afstraal, voort.
Hul sal hul in u diens, waaraan hul toegewy is,
die ganse dag verheug, omdat hul in U bly is;
hul prys u grote krag wat alle krag oortref het,
en u geregtigheid wat hul weer opgehef het.

7.  U tog, U is hul roem, hul sieraad en hul prag,
wat hul beklee met sterkte en onverwinb're mag.
Uit vrye guns alleen, uit eewge mededoë,
hef ons die hoof omhoog, weer sterk deur Gods vermoë.
Want God is ons 'n skild, die weerkrag van ons lewe;
en onse Koning is deur Isr'els God gegewe.

8.  U het voorheen, o HEER, u goddelike lig
laat uitstraal voor ons heen in sienersvergesig;
U 't van 'n saak gemeld in donker nog verlore:
My hulp verleen Ek aan 'n held deur My verkore,
aan Dawid, aan my kneg, met kosb're salf oorgote,
wat Ek verhoog het uit sy stam- en ryksgenote.

9.  My hand sal hom bewaak, bestendig dag en nag;
my arm sal hom in nood versterk met moed en krag.
Val hom die vyand aan, dit sal hul nie geluk nie;
die man van onreg sal hom nooit kan onderdruk nie;
wie hom beangstig, of dit ooit teen hom wil wae,
die sal my hand besoek met strafgerig en plae.

10.  My goedertierenheid, hom altyd trou naby,
sal in die donker nag sy helder leidster bly.
My Naam sal vir hom wees 'n altyd sterke toring,
en in my krag swaai hy die hooggehewe horing.
Ek sal sy hand laat heers oor lande wydgeleë,
sy regterhand laat rus op stroomgebied en seë.

11.  Hy sal dit uitroep: HEER, U is my Vader trou,
my God, my Rots van heil waar ek alleen op bou.
Hy is vir My 'n seun tot hoogste rang gebore,
wat Ek tot koning van die konings het verkore.
Vir hom bly my verbond vir altyd vas en stewig,
my goedertierenheid bewys Ek hom vir ewig.

12.  Ek sal sy nageslag en troon nooit laat vergaan,
sy heerskappy laat duur so lank die hemel staan.
Maar wil sy kinders nie my wette onderhou nie,
bly hul aan my bevel en regte nie getrou nie,
maar dwaal hul verder af in hul onheil'ge weë -
Dan kom my tugtiging op sondaarspad hul teë.

13.  Dan sal Ek oor hul kwaad my strenge roede hef;
my hand sal nie verskoon, maar streng hul boosheid tref.
Nogtans sal Ek van hom my goedheid nimmer wend nie,
nog wankel in my trou, of ooit my waarheid skend nie.
Ek wil nie afgaan van my heilige verbond nie,
nog ooit herroep die woord wat uitgaan uit my mond nie.

14.  'k Het by my heiligheid aan Dawid trou gesweer,
beloftewoord wat Ek bevestig altyd weer;
sy nageslag en troon sal voor My wees onendig,
net soos die son se lig so glansryk en bestendig;
net soos die maan so vas. En bo die hemelboë
staan die Getuie, in getrouheid onbewoë.

15.  En nou?... U het verstoot, U het in toorn verag
hom wat gesalf was, in sy late nageslag!
Het U u kneg vergeet, dink U aan u verbond nie?
Lê nie sy koningskroon ontheilig teen die grond nie?
U gooi sy mure om en breek sy vestingwalle,
al wie verbygaan, roof en spot na welgevalle.

16.  Sy teëstander, HEER, het U bo hom verhef,
sy vyand bly gemaak, sy swaard kan nie meer tref;
sy heldehart is weg, geen krag meer in sy hand nie; 
sy glanse het verbleek, sy troon hou nie meer stand nie;
sy jeug het U verkort deur smaad wat hom oordek het.
Hoe lank nog?... HEER, hoe brand die vlam wat U gewek het!

17.  Gedenk, o HEER, hoe swak ek is: hoe kort van duur,
hoe nietig my bestaan, die dood wink ieder uur.
Wie leef daar wat die dood nie eenmaal sal aanskou nie?
Geeneen wat teen die mag sy lewe kan behou nie.
Skenk ons u guns, o HEER, help ons in donker stonde
na u beloftenis, aan Dawids huis verbonde.

18.  Gedenk, o HEER, die smaad waarmee hul ons oorstort,
hoedat ons siel deur volk op volk gepynig word.
Gedenk hoe skande en skimp die voetstap begelei het
van hom wat U gesalf, as vors Uself gewy het.
Nogtans, o HEER, u trou die volg U in u gange -
geloofd sy dus u Naam, en "Amen" sê my sange!

 

Psalm 90

Psalm 90

1.  U was, o HEER, vanaf die vroegste jare
vir ons 'n vlug- en skuilplek in gevare.
Voordat die rotsgebergtes was gebore,
die aarde uit niks geroep was, lank tevore -
is U, o HEER, dieselfde God van mag,
onwankelbaar in wese en in krag.

2.  Hoe nietig is die mens! Wat is sy lewe?
Wat het die mens, al is hom veel gegewe?
U knak die steel van sy geswinde jare,
en hy gaan heen net soos die najaarsblare.
Want in u oog is duisend jare, HEER,
'n enk'le dag, 'n nagwaak en niks meer.

3.  Wat is die mens as U hom soos met strome
so snel oorgolf? Sy lewe is slaap en drome!
Die môre staan hy nog omhooggehewe
soos gras wat spruit in eerste jonkheidslewe.
Maar sawens al, dan word hy afgesny,
dan droog hy weg, en dis met hom verby.

4.  U toorn verslyt ons in ons aardse swerwe,
deur skrik vir gramskap bly ons lewe - sterwe.
Ons sondes, ook uit dae lank vervloë,
ons misdaad, nog bedek voor mense-oë,
staan naak en klaar, o God, voor u gesig,
wat die geheim ontsluier met u lig.

5.  So gaan u gramskap met ons deur die lewe -
die skaduwee wat swart oor ons bly swewe;
ons lewe, 'n som van droewe dae en nagte,
ons jare bring ons deur soos 'n gedagte.
Die sterkste klim ten hoogste tot die top
van sewentig of tagtig jare op.

6.  En ag, wat is dit as dit klaar gebloei het?
Die yd'le pronk van wat ons net vermoei het!
Hul gaan so gou verby, ons lewensdae,
net soos 'n wolk gedryf deur onweersvlae.
Wie ken u toorn in al sy woede en krag,
wie ken u gramskap met 'n regte ontsag?

7.  Maar wie kan leef met enkel voort te klae?...
Leer ons dan so te tel ons lewensdae
dat wysheid ons kan voortlei in ons gange,
ons hart kan vul met dankb're lofgesange.
Hoe lank, o HEER?... Ons dae gaan verby!
Keer tot ons weer, betoon ons medely!

8.  En as die leed van jare uitgely is,
verkwik ons vroeg, wanneer die nag verby is;
ag, skenk ons, HEER, die blyk van welbehae,
verbly ons na die smart van al ons dae
en na die swaarte van die sware proef,
waarmee U ons wou tugtig en bedroef.

9.  Laat ons u werk aanskou wat nooit beswyk nie!
Laat van ons kroos u heerlikheid nie wyk nie!
Laat oor ons aanlig al u lieflikhede!
En, HEER, verhoor ons in ons laaste bede:
Bevestig by die onguns van die tyd,
bevestig tog ons werk in ewigheid.

 

Psalm 91

Psalm 91

1.  Wie toevlug neem in veil'ge hut
en skuil by die Alhoë,
hy word beskadu en beskut
deur God se alvermoë.
O HEER, my Rots, op wie ek bou,
by U is't my die beste;
my toevlug waar ek stil vertrou,
in nood my veil'ge veste.

2.  Daar's nette, waar jou voet ook gaan,
soos van die voëlvanger;
uit donker plekke waai jou aan
'n stroom van pesdamp swanger.
Maar eewge vleuels sweef oor jou,
geruis van reusevlerke;
rondom jou is Gods eewge trou,
die harnas van die Sterke.

3.  Geen vrees, wanneer by donker nag
die skrik 'n mens laat bewe;
geen vrees, wanneer die pyl oordag
geswind kom aangeswewe.
Geen vrees, wanneer die dood sy prooi
verslaan in middagstonde,
of as die pes sy gifkiem strooi
by nagtelike ronde.

4.  Al val daar duisend deur die pes,
die nagtelike swerwer,
al val tienduisende gekwes,
verslaan deur die verderwer -
jy staan daar onbeskadig, pal;
net maar dat jy gesien het
hoedat die goddelose val,
die loon wat hul verdien het.

5.  Wie toevlug neem in veil'ge hut
en skuil by die Alhoë,
hy word beskadu en beskut
deur God se alvermoë.
In onheilsnag sal geen geweld
jou pad onveilig maak nie,
jou reistent, eensaam in die veld,
geen kwaad of plaag genaak nie.

6.  Rondom jou ruis die eng'levoet
met liggewiekte treë,
hul kom die wand'laar tegemoet
en lei hom op sy weë.
Hul bied op Gods bevel hom aan
die hulp van will'ge hande,
en dra hom, waar die reispad gaan
oor ruwe rotserande.

7.  Hoog sal jy oor die leeukop stap,
vertree die roofbespringer;
jy sal op slang en adder trap
wat sluipend om jou slinger.
"Hy het my lief, hom maak Ek vry
wat dierbaar in my oog is;
Ek waak oor hom, want hy bely
my Naam wat hoog en sterk is.

8.  "Hy roep, en Ek beskerm hom daar,
totdat die nood verby is;
Ek lei hom na die hoogtes waar
'n eerkrans hom berei is.
Die menseleeftyd, vlug en kort,
verleng Ek uit genade,
sodat hy blye aanskouer word
van al my reddingsdade."

 

Psalm 92

Psalm 92

1.  Wie sou die HEER nie prys nie,
as weer met nuwe gloed
'n rusdag ons begroet?
Wie Hom nie dank bewys nie
in stille môrewagte,
as ons sy guns omring?
Wie vir sy trou nie sing
ln loflied in die nagte?

2.  Wie sou die troue HEER nie -
Hom wat sy gunste ons bied -
met hooggestemde lied
by harp- en luitspel eer nie?
Hy maak weer los my bande,
Hy maak my tong weer vry;
ek roem sy dade bly,
die werke van sy hande.

3.  Hoe groot is, HEER, u werke,
hoe diep gaan u beleid!
Hoe reik u moëndheid
oor alle aardse perke!
Maar dwase sit gevange
en in hul waansin vas;
hul weet nie dat hul ras
sal struikel in hul gange.

4.  Hul groei in pragverskyning
soos plante, groen en fris,
terwyl hul einde is
verdelging en verdwyning.
Maar U is hoog verhewe:
u vyand, HEER, moet val;
geen onregwerker sal
ooit strafloos voor U lewe.

5.  Van blydskap opgetoë
en deur u krag gedug,
swaai ek weer in die lug
die horing van vermoë.
U, HEER, laat op my druppel
u salf en laat my nou
die val van hul aanskou
wat oor my val wou huppel.

6.  'n Palmboom hoog en rustig,
'n seder sterk en skoon
met breë blarekroon -
so groei Gods volk, so lustig.
Hul groei deur Gods genade:
hul boei daar hoog en fris,
waar God se voorhof is,
in skone lofgewade.

7.  Hul groei in balsemlugte;
selfs in hul ouderdom
sal daar geen mind'ring kom
van bloei en eedle vrugte.
Hul lof sal nie verstom nie:
Die HEER is reg! en Hy,
Hy is 'n rots vir my!
Geen onreg is in Hom nie.

 

Psalm 93

Psalm 93

1.  Die HEER regeer. Die kleed van heerlikheid
wat Hom omstraal, is enkel majesteit.
En deur sy krag, wat enkel triomfeer,
hou alles stand, dit wankel nimmermeer.

2.  U troon, o HEER, het ewig vasgestaan.
U is de HEER van ewigheid af aan.
Rivier en meer het woedend opgebruis,
hul hoog gehef, geklots met groot gedruis.

3.  Maar oor hul, in die hoogte, sit die HEER,
geweldiger as vloed van storm en meer,
geweldiger as golwe van die see
as Hy van bo sy stormbevele gee.

4.  Al u getuig'nis, HEER, is gans getrou,
beloftewoord sal U vir altyd hou.
U tempel sal, wat ook om ons vergaan,
net soos u trou, onskendbaar bly bestaan.

 

Psalm 94

Psalm 94

1.  Verskyn weer aan die onweerstranse,
o God van wraak, in skitterglanse!
Vertoon u stralende aangesig,
o Regter, wat die wêreld rig!
Staan op, verhef U en vergeld
die trotsaards nou hul trots geweld!

2.  Hoe lank, o HEER, sal nog die bose
hier triomfeer... die goddelose
by al ons jammer en gesug
hul jubels uitstoot in die lug?
En giftig, by hul seëpraal,
ons uitspot met hul lastertaal?

3.  Hoe lank het hul ons nie laat buk nie?
Hoe ons, u erfdeel, nie verdruk nie?
Die weduwee van hulp ontbloot,
word met die vreemdeling gedood;
verdrukte wees word nie verhoor,
maar onder skyn van reg vermoor.

4.  Hul roem uit krag van hul vermoë:
"Die HEER slaan op ons daad geen oë!
Wie sal ons planne uitvind? Wie?
Die God van Jakob sien dit nie.
Hoe lank, o sondaars, bly jul doof?
O dwase, van verstand beroof?

5.  Sou Hy, die Skepper van die oor, nie,
sou Hy, die HEER, dit nie kan hoor nie?
Sou Hy ontbloot wees van gesig,
die Maker van die oëlig?
Wat volke straf, en kennis leer
aan hom wat waarheidslig ontbeer?

6.  Maar, mens, die HEER ken u gedagte -
van nietigheid is niks te wagte!
Gelukkig dan die man, o HEER,
wat uit u wet sy wysheid leer,
en weet hoe Gods geregtigheid
gehandhaaf word in nood en stryd.

7.  In stil vertroue is hy geduldig;
hy sal in lyde menigvuldig,
die roede wat hom tugtig, kus;
en onderwerping gee hom rus -
totdat die kuil gegrawe word,
waarin die sondaar neer sal stort.

8.  Die HEER sal in ons donker lewe
sy volk en erfdeel nooit begewe.
Die regspraak keer, vol majesteit,
terug weer tot geregtigheid.
En wie opreg is van gemoed -
hy volg die regspraak op die voet.

9.  Wie sal my bystaan as die bose
my aanval? En die goddelose
van alle kante my verras?
As nie die HEER my bystand was,
dan was my lewe gou verkort,
en ek diep in die graf gestort.

10.  As ek moet roep in donker stonde:
"My voet gly uit, ek gaan te gronde!"
dan ondersteun u goedheid my.
In my gepeins is U naby;
as duisend sorge my verskrik,
het u vertroosting my verkwik.

11.  Kan by U staan, gestrenge Rigter,
die setel van die onheilstigter
wat, teen u heil'ge wette in,
net moeite en onreg wil versin?
Op ons, onskuldig, storm hul af
en lê op ons die swaarste straf.

12.  Maar God die HEER is hoog en heilig;
by Hom, my vesting, is ek veilig,
my steenrots en my toeverlaat.
Hy stort die sondaar in die kwaad,
en delg, as Hy hul aanval stuit,
die sondaar met die sonde uit.

 

Psalm 95

Psalm 95

1.  Kom, laat ons jubel voor die HEER,
laat ons Hom toesing lof en eer -
die rots van heil wat ons oordek het.
Laat ons met lof en eerbiedsgroet 
sy vriend'like aangesig ontmoet
wat nuwe vreugde in ons gewek het.

2.  Bo al die gode en godeprag
troon God as Koning; sy gesag
is groot en ken geen grense of lyne.
Die aard' se diepste binnekant
is in die holte van sy hand;
die hoë berg daarbo is syne.

3.  Die woeste see het Hy gemaak,
die rotse wat ons kus bewaak
en wydgeleë wêreldlande.
Kom, laat ons voor sy voete aanbid:
sy grootste skeppingsdaad is dit,
en ons die maaksel van sy hande.

4.  Hy's onse God en Herder, Hy,
en ons die skape van sy wei
wat uittrek onder sy beskerming.
As jul vandag sy roepstem hoor,
verhard jul nie, maar neig jul oor,
merk op die roep van sy ontferming.

5.  Verhard jul hart nie, soos weleer
jul vaders wat - hoe dikwels weer! -
nie op my wondermag vertrou het.
Hul het My, deur die dors gekwel,
versoek, My op die proef gestel,
hoewel hul al my werk aanskou het.

6.  Ek het verdriet van hul gehad
wat aldeur weg wou van my pad,
en deur 'n dwaalsiek hart verlei is.
Daarom het Ek in toorn gesweer:
Die rusplek erf hul nimmermeer
wat vir 'n trouer volk berei is.

 

Psalm 96

Psalm 96

1.  Sing vir die HEER 'n nuwe lied!
Die aard' se verste perke
moet jubel oor sy werke,
en Hom die lof en hulde bied;
moet uitroep en verwag
sy heil van dag tot dag.

2.  Verkondig nou sy roem en eer
by al die nasies, onder
die volke: sterkte en wonder;
want groot, lofwaardig is die HEER.
Vreeslik in heerskappy
bo al die gode is Hy.

3.  Die gode wat die volke aanbid,
is nietig en onmagtig.
Die HERE is skeppingskragtig:
die hemel daar - sy werk is dit!
Voor Hom is majesteit
en heersersheerlikheid.

4.  By Hom is sterkte en sieraad; daar
is mag- en pragvertoning,
waar God sit in sy woning.
Gee dan, geslagte en volkeskaar,
gee prys en sterkte en eer
aan onse God en HEER.

5.  Gee aan sy Naam die hoogste eer.
Bring aan uit alle lande
sy tempelofferande;
buig daar in heil'ge kleding neer!
Die aarde - al wat leef,
moet voor Hom skrik en beef.

6.  Verkondig nou van mond tot mond:
oor al wat is, regeer Hy,
oor onreg triomfeer Hy -
dus is die wêreld vas gegrond.
Die volkestryd beslis
Hy wat regverdig is.

7.  Laat nou die aarde juig van vreug! 
Laat juig die hoë hemel,
die see met wat daar wemel!
Laat al die velde hul verheug!
Dan breek en boom en bos
in wilde jubels los.

8.  Laat aarde en hemel juig voor Hom!
Want Hy, die Wêreldregter,
die strenge Saakbeslegter,
groot in geregtigheid, Hy kom!
Hy kom, waar en getrou,
sy strafgerigte hou.

 

Psalm 97

Psalm 97

1.  God heers as hoogste HEER;
die aarde moet Hom eer,
en juig, saam met die strande
van afgeleë lande.
Daar's wolkedonkerheid
rondom sy majesteit;
sy rykstroon is gestig
op oordeel en gerig
en op geregtigheid.

2.  'n Vlam van vuurgerig
wat voor sy aangesig
ontbrand aan alle sye,
verteer sy teenpartye.
Sy skerpe bliksemspeer
skiet op die aarde neer
en straal na alle kant;
die aardryk sien die brand
en sidder vir die weer.

3.  Wanneer die onweersvuur
wat God het uitgestuur,
daarheen storm, smelt die trotse
gebergtes met hul rotse.
'n Ganse hemelveld,
van skok en skrik ontsteld,
het Gods geregtigheid,
sy eer en majesteit
aan alle volk gemeld.

4.  Beskaamd word alle siel
wat voor die beelde kniel, 
met lofwoord en gebede
gerig tot nietighede.
Hoog bo hul sit die HEER;
Hy's God, en niemand meer!
Hul buig hul, diep en stom,
die ganse godedom,
voor God se grootheid neer.

5.  Maar Sions burg die hoor, 
met Juda's dogterkoor,
en jubel van verblyding,
wanneer die oordeelstyding
oor Juda's berge kom.
Dan swyg die vyand stom,
want God, die hoogste HEER,
Hy sit en - triomfeer
oor lae godedom.

6.  Beminnaars van die HEER,
haat wat sy Naam onteer,
en wandel in sy weë.
Hy is sy volk geneë
en sal in doodsgevaar
sy gunsgenoot bewaar;
Hy red hom van die hand
wat dreig van alle kant,
van die geweldenaar.

7.  Gods vriend'like aangesig
straal vrolikheid en lig
deur duisternis en smarte
vir alle opregte harte.
Regverdiges, wees bly!
En sing 'n lied daarby!
Verheug u in die HEER!
Lofsing sy Naam tot eer,
Hy's hoog en heilig, Hy!

 

Psalm 98

Psalm 98

1.  Sing nuwe lof aan God die HERE, 
die God wat wonders het gedaan;
sy regterhand, vol sterkte en ere,
sy heil'ge arm bring redding aan.
Hy het sy heil en alvermoë
die volkere alom gemeld;
geregtigheid blink voor hul oë
soos sonnestrale oor berg en veld.

2.  Hy het gedink aan sy genade,
sy trou aan Isr'el nooit gekrenk;
dit slaan die wêreldeindes gade
nou onse God sy heil ons skenk.
Juig voor die HEER met blye galme,
o ganse aarde, juig van vreug!
Meld vrolik in verhewe psalme:
dit is Gods heil wat ons verheug.

3.  Laat by die psalm, in vreug gebore,
jul harp en stem Hom loof en dank;
laat opklink deur jul tempelkore
trompette en basuingeklank!
Laat vreug die HEER se huis deurbewe,
want groot is Isr'els Vors en HEER;
die see en alles wat daar lewe,
die ganse wêreld moet Hom eer!

4.  Laat al die strome nou die hande
in jubel saamklap van omlaag;
laat die gebergtes langs hul wande
die juigtoon altyd verder draag!
Hy kom, die Regter van die volke,
omstraal deur reg en majesteit;
Hy span sy vierskaar in die wolke
en oordeel in regmatigheid.

 

Psalm 99

Psalm 99

1.  God die HEER regeer. / Beef, o volke, eer,
eer die God wat troon, / waar die gérubs woon;
wat in Israel / sy gerig bestel.
Aarde en al wat lewe / laat dit voor Hom bewe!

2.  God wat help in nood, / is in Sion groot;
al die volkemag / niks by Hom geag!
Hoog gedug 's sy Naam. / Laat hul almal saam
lofsing tot sy ere! / Heilig is die HERE!

3.  Loof Gods mag: Hy's reg / in sy oordeelsweg;
volke 't Hy gestraf, / Isr'els reg verskaf.
Loof, verhef die HEER, / werp jul voor Hom neer;
en laat al wat lewe / voor die Regter bewe!

4.  Bidders het gepleit / in die worstelstryd;
daar het lig gekom / uit die wolkkolom,
dat hul dankbaar-trou / God se wet kon hou:
heil'ge lewensorde / hul van God geworde.

5.  By U, HERE, is / daar vergiffenis,
ook al het u trou / nie hul straf weerhou.
Loof, verhef die HEER; / werp jul voor Hom neer!
Bring Hom roem en ere - / heilig is die HERE!

Psalm 100

Psalm 100

1.  Juig, al wat leef, juig voor die HEER!
Dien God met blydskap, gee Hom eer;
kom nader voor sy aangesig,
en prys Hom met 'n lofgedig!

2.  Die HEER is God, erken dat Hy
'n eie volk vir Hom berei,
'n volk om Hom te dien en vrees
en skape van sy wei te wees.

3.  Gaan deur sy poorte in met lof,
met lofsang in sy tempelhof;
kom in sy huis, o bondsvolk, saam;
verhef sy lof en prys sy Naam.

4.  Want goedertieren is die HEER;
sy goedheid eindig nimmermeer;
sy trou en waarheid hou hul krag
tot in die laaste nageslag.