Psalm 1
1. Welsalig hy wat op die spoor nie gaan
waar sondaars lok; wat op hul pad nie staan,
of neersit waar die spotglans in die oog is,
waar spotters vrolik spot met al wat hoog is;
maar wat Gods wet in stille mymering,
by dag en nag, weer in gedagt'nis bring.
2. Hy is 'n boom wat diep en vas geplant,
sy wortels uitsprei by die waterkant;
en mild versorg deur vrugb're lentelugte,
sy volle drag laat sien van somervrugte.
Geen onspoed wat hom in sy werk sal stuit:
wat hy begin, voer hy voorspoedig uit.
3. So is die sondaar nie; sy aardse tyd
is wisselspel en onbestendigheid.
Hy's soos die kaf aan stormwind prysgegewe;
in nietigheid, so eindig hy sy lewe;
hy hou nie stand waar God se volk Hom eer,
of waar die straf tot weervergelding keer.
4. God ken die pad waarop sy volk moet gaan;
sy oog is dit wat hulle gadeslaan
en met sy lig hul lewenspad bestraal het;
maar sondaarspad wat van Hom weggedaal het -
dit moet vergaan; onkeerbaar in hul spoed,
loop hul oplaas 'n afgrond tegemoet.
Psalm 2
1. Wat dring en dryf die wilde heidendom,
dat volke raas in opgewondenheid?
Gedugte konings staan gereed alom,
en wêreldgrotes raadslaag vir die stryd,
om God almagtig na die kroon te steek
en saam teen sy Gesalfde op te staan.
Hul sê: "Kom nou, laat ons hul bande breek
en van hul juk vir altyd ons ontslaan!"
2. Maar God die Heer wat sy gedugte stoel
bo sterre stig, sien van sy hoogtes neer;
Hy lag en spot dat hul so vrugt'loos woel
en, magteloos, verniet hul krag verteer.
God sal sy wraak laat neerstraal voor hul oog;
dan gloei die lug van vlammmende-onweerslig.
Dis God wat spreek! Hy donder van omhoog
en jaag sy skrik hul in die aangesig.
3. "Durf jy dit waag om met my krag te twis?
Sal niet'ge stof My my gesag ontwring?
Of weerstand bied aan wie almagtig is?
Ontsien my toorn, verdwaasde sterweling!
Vergeefs wil jul my ryksbestel weerstreef.
Ek het my Vors gesalf - wee, wie Hom hoon! -
op Sionsberg van heiligheid omgeef,
waar Hy sal heers en ewig sit ten troon."
4. En Ek, die Vors, so hoog in mag en eer,
sal Gods besluit die wêreld oor laat klink:
"Ek self (sê God) het U gegenereer:
U is my Seun, uit wie my beelt'nis blink.
Spreek dan u eis, Ek skenk dit U gewis.
En dat u troon vir ewig vas mag bly,
gee Ek die volke tot u erfenis
en wêreldwydtes tot u heerskappy.
5. "Die trotsaards sal U met u ysterstaf
soos erdepotte slaan tot gruis en skerf;
U sal, as eers u hand ontwaak tot straf,
hul opstandslus tot in die grond verderf."
O konings, graag gehuldig en geëer -
laat nooit u hoogheid Gods Gesalfde hoon!
O regters, wat oortreders regstug leer,
aanvaar die tug wat u sy liefde toon.
6. Kom, dien die HEER en wees in Hom verblyd
met blydskap wat Hom huldig as die HEER,
en kus die Seun in onderworpenheid,
buig jul voor Hom met vrees en bewing neer.
Want ligt'lik kan Gods gramskap jul verteer
net soos 'n vuur, eers alte klein geag.
Welsalig wie Hom huldig as hul HEER,
wie by Hom skuil en op sy bystand wag.
Psalm 3
1. Hoe groei my teenparty!
Hoe dring hul naderby!
Ek hoor al hoe hul laster:
"Hy het geen heil by God."
Hul hoon my met hul spot
en keer my altyd vaster.
Maar U sal hulle stuit;
U voer die oorlog uit,
my God, my skild, my ere!
U hef, trots hul gerug,
my hoof weer in die lug,
want U verhoor my, HERE!
2. Van God se trou bewus,
was slaap my veil'ge rus
tot ek versterk ontwaak het.
Ek sal hul nou nie vrees,
hoe sterk hul ook mag wees
wat my rondom genaak het.
Staan op, verlos my, HEER!
Verbreek hul tande weer!
U tem die oorlogsvolke!
Aan U die heil alleen!
Stort op u erf 'n seen
soos druppels uit die wolke.
Psalm 4
1. Verhoor my, HEER, in donker dae,
God van my reg, send troos vir my!
U wat my voer uit hinderlae,
hoor my uit vrye welbehae.
O manne wat my nou bestry,
hoe lank nog word in teënhede
my eer in skande omgekeer?
Hoe lank is jul met nietighede,
met ydelheid en wind tevrede?
Word leuentaal deur jul begeer?
2. Weet dat die HEER vir Hom tevore
'n gunst'ling afgesonder het,
en dat hy, deur God self verkore,
nooit op sy swerftog is verlore,
maar dat die HEER hom hoor en red.
Beef dan, o dienaars van die sonde,
oortree nie teen sy heil'ge wil.
Deursoek jul hart in stille stonde,
as eensaamheid omsweef jul sponde,
verwag die HEER en wees net stil.
3. Wil jul aan Hom 'n offer gewe?
Die offer wat die HEER aanskou,
is in opregtheid reg te lewe,
en Hom alleenlik aan te klewe,
op Hom alleen jul hoop te bou.
Hoe baie vra terneergeboë:
Waar vind ons ooit die ware goed?
Verhef oor ons u Vaderoë,
sien op ons neer in mededoë,
verlig ons hart en ons gemoed!
4. U het my hart meer vreug gegewe
as ander smaak in volop-tyd,
as hul deur skyngeluk verhewe,
by mos en koring lustig lewe
en fees hou in kortstondigheid.
Ek sal gerus gaan slaap in vrede
en ongestoord lê ek my neer;
want U alleen verhoor my bede,
U waak oor my in teënhede,
dat ek kan veilig woon, o HEER!
Psalm 5
1. O HEER, neem my gebed ter ore!
Kan ek die klare woord nie spreek -
U weet wat in my woel en smeek;
my sugte, -as spraak nog ongebore,
is nie verlore.
2. Ek roep om hulp, ek is onmagtig,
die vleuels van my siel geknot.
Maar U, my Koning en my God,
wees U my, arme, tog gedagtig,
en reddingskragtig.
3. Wanneer die daglig straal oor rande
van skemerende berge neer,
dan bid en wag ek op die HEER.
Dan lê ek klaar my offerande
met will'ge hande.
4. O God, wat groot is van vermoë,
wat woon in smettelose lig,
U sal die goddeloosheid rig;
U kan die sondaar voor u oë
geensins gedoë.
5. U, HEER, verdelg die leuenspreker.
Hy wat sy hand met bloed bevlek
en gruwels met bedrog bedek -
hy terg, as snode wetverbreker,
die hoogste Wreker.
6. Maar ek, uit krag van u meedoë
mag ingaan in u heiligdom,
tot voor u tempelwoning kom
met ware Godsvrees, voor u oë
diep neergeboë.
7. Lei my in u geregtighede
om my verspieders wil, en baan
die pad waarop my voet moet gaan.
O hoor my pelgrimsmôrebede:
Bewaak my skrede!
8. Hul mond is altyd onwaaragtig,
hul binneste-is op kwaad bedag,
hul keel 'n ope graf wat wag;
hul gladde tong, in woorde magtig,
is leuenagtig.
9. Waarom, o HEER, met hul geduldig?
Dis hemeltergers wat daar woel!
Verdryf hul van u regterstoel.
Hul leef in misdaad menigvuldig:
Verklaar hul skuldig!
10. Maar laat in eewge blydskap lewe
wie by U skuil in veil'ge hut,
en laat hul juig, deur U beskut.
U Naam, grootmagtig en verhewe,
bied vreugdelewe.
11. Daar's vreugde, want u mag bekroon hul,
u seën is oor hul ryk en mild,
u sorg is om hul soos 'n skild,
u welbehae, HEER, beloon hul,
u guns verskoon hul.
Psalm 6
1. Wil my, o HEER, nie straf nie,
wys my in toorn nie af nie,
sien my genadig aan;
laat in my teëspoede
'n alte strenge roede
my nie met gramskap slaan!
2. Laat, HEER, u oog in strakheid
nie neersien op my swakheid.
Genees my, merk tog hoe
die smart my siel beswaar het,
die skrik in my gevaar het
tot in my beend're toe.
3. My siel, deur skrik bewoë
smeek om u mededoë;
my hart keer om en om.
In my verbrysling kla ek,
o HEER, hoe lank nog, vra ek,
voor daar verligting kom?
4. Keer weer tot my bevryding,
verlos my uit my lyding,
straal goedheid op my af.
Want daar's geen lofgedagte
vir U in dood se nagte,
geen lofstem in die graf!
5. Hoe moeg is al my lede,
daar ek in bangighede
van geen verposing weet.
Die ganse nag deurweek ek
my bed met trane, smeek ek
om redding uit my leed.
6. My oog is deur my kwale
verdof en sonder strale,
verouderd van geween;
daar ek in my ellende
verdruk word deur 'n bende
van haters om my heen.
7. Wyk weg in julle broosheid,
o werkers van godd'loosheid,
want God kom naderby.
In my geween en smeking,
verbrys'ling en verbreking
verhoor die HERE my.
8. Waar is my teenpartyders?
'n Skrik het my bestryders
verstom en om laat keer.
Hul hoogheid lê aan bande,
'n oogwink - en hul skande
daal op hul koppe neer.
Psalm 7
1. HEER, my God, by wie ek skuiling,
redding soek - my teenparty
wat my jaag op al my spore,
dring gedurig naderby.
As u hand my nie verlos nie,
sal hul lewend my verslind,
soos 'n leeu die arme skaaplam
wat hy sonder herder vind.
2. HEER, my God, wat is my sonde?
Het die skuld my aangekleef
dat ek kwaad hom aangedoen het
wat met my as vriend wou leef?
Nee, ek het die hand van vriendskap
reddend na hom uitgesteek,
ook al was die band van vriendskap
deur sy vyandskap verbreek.
3. As ek met 'n valse weegskaal
leed vir guns en kwaad vir goed
aan my vyand toegeweeg het -
laat sy wraak my dan ontmoet.
Laat hom my dan jaag en inhaal
en my lewe nie verskoon,
my vertrap, my eer verneder
en my in die stof laat woon.
4. HEER, ontwaak en keer sy gramskap
met die vuurskerm van u wraak!
Daag hom voor u regtersetel;
laat my tot my reg geraak!
Straal u vonnis voor die oë
van die volke op hom neer!
Keer dan majesteitlik, HERE,
na die eewge hoogtes weer.
5. Hoor, o Regter van die volke!
Doen aan my, o God, tog reg!
Bid ek wél, o hoor my bede
na die waarheid van my weg!
Straf die goddelose bende,
stel hul boosheid perk en paal!
Help my, U wat hart en niere
met u kennislig deurstraal.
6. Soos 'n held met skild gewapen
aanstap sonder kommernis,
so voel ek by God my veilig
wat my skild en helper is.
Want Hy is die hoogste regter
wat die lyder reg verskaf;
elke dag ontvlam sy wraakvuur
wat die onregwerkers straf.
7. As die vyand in sy oormoed
hom nie in sy loop laat stuit,
dan ruk God, hoewel lankmoedig,
eindelik sy slagswaard uit.
Dan span Hy sy boog en mik Hy
met sy pyle, skerp en spits;
en die vyand voor hy neerplof,
sien die dodelike blits.
8. Want hy was van onreg swanger,
moeite-en leu'ns het hy versin;
en nou stort hy self, die grawer,
in sy eie vangkuil in.
Sal ek dan die HEER nie loof nie
en sy Naam nie hulde bring?
Vir sy groot verlossingsdade
sal 'k die Allerhoogste sing.
Psalm 8
1. Daar is geen land so ver of woes geleë,
geen strand, o HEER, of wilde waterweë,
geen hemelsfeer in die oneindigheid -
of orals blink u Naam en majesteit.
2. U het, o HEER, wat troon oor alle dinge,
uit kindertaal en stem van suigelinge
u mag gegrond, sodat die mens moet swyg
wat, hoog van hart, uit wraakbegeerte dreig.
3. As ek, o HEER, u nagtelike hemel
daarbo aanskou, die tint- en glansgewemel;
hoe, deur U toeberei, die skugter maan
met stille gang oor sterrevelde gaan -
4. wat is die mens dan dat U hom gedenk het,
die mensekind wat U so ryk beskenk het!
Met eer en heerlikheid is hy gekroon,
skaars minder as die eng'le om u troon.
5. U laat hom heers. Tot aan die verste strande
gebied hy oor die werke van u hande.
U het, o HEER, dit onder hom gestel,
dit hoor sy stem en beef voor sy bevel.
6. Die os en skaap en wat in wildheid lewe,
die voëls wat deur hoë lugte swewe,
al wat deurkruis die paaie van die see -
tesaam het U dit in sy mag gegee.
7. Ja, daar's geen land so ver of woes geleë,
geen strand, o HEER, of wilde waterweë,
geen hemelsfeer in die oneindigheid -
of orals blink u Naam en majesteit.
Psalm 9
1. Ek sal van ganser harte, HEER,
u wonders groot maak en U eer.
Ek sing omdat ek in U bly is,
aan wie my lofsang toegewy is;
2. omdat my vyand, hoe gedug,
teruggewyk het en gevlug;
omdat hy voor u aanskyn wég is,
en, HEER, my saak deur U besleg is.
3. As Regter 't U die troon bestyg,
U het die heidendom gedreig,
sodat die sondaars uitgedelg is
en daar van hul geen stam of telg is.
4. Die vyande het omgekom;
hul stede is nou stil en stom,
kliphope waar geen pad of spoor is,
dis al wat van hul grootheid oor is.
5. Maar bo wat wissel en vergaan,
bly ewig God se rykstroon staan.
Hy vel sy vonnis uit die wolke,
regverdig oordeel Hy die volke.
6. Die HEER sal, soos 'n rotsskans, dek
wie hier getrap word op die nek.
Hy is 'n vesting hoog verhewe,
en sal in nood hul nooit begewe.
7. Die hart van hul wat U bely,
sal in u naam standvastig bly.
Dié wat U soek in stil vertroue,
is by U veilig en behoue.
8. Psalmsing Hom wat op Sion troon,
vertel sy roem waar volke woon!
Geen bloedskuld waar Hy nie van weet nie,
of hulpgeroep wat Hy vergeet nie.
9. Bewys aan my genade, HEER,
en sien op my ellende neer!
U, wat my aan die dood ontruk het,
kyk, hoe my haters my verdruk het!
10. Dan vind my tong weer nuwe stof,
in Sions poort meld ek u lof.
Dan sing ek bly van u genade,
so groot in nuwe reddingsdade.
11. Die heid'ne, deur hul waan mislei,
stort in die kuil vir my berei;
die strik wat hul vir my bestem het,
is dié wat nou hul voet omklem het.
12. O oordeel vol geheimenis,
wat meld dat God regverdig is!
Hoe raak verstrik in eie nette
wie geen ontsag het vir Gods wette!
13. Die goddelose moet weer wyk,
teruggaan na die doderyk;
die grafkuil wat God wyd gemeet het,
daarin versink wie Hom vergeet het.
14. Nooddruftiges wat kwyn in leed,
sal God nie eindeloos vergeet;
Hy sal die hoop van hul bestendig
wat hier verdruk is en ellendig.
15. Staan op, o HEER; die mens word sterk!
Vergeld die heid'ne na hul werk!
Verskrik hul, groot in goddeloosheid,
maar nietig voor U in hul broosheid!
Psalm 10
1. Waarom, o HEER, bly U so ver weg staan?
Waarom is U verborge in die nood -
terwyl die trotsaard, in sy oormoed groot,
dring met geweld op die verdrukte aan?
2. Laat hom gevang word wat 'n lis beraam;
wat juig wanneer sy plan hom sal geluk,
wat prys wanneer die woekeraar verdruk,
maar God verag en grootspreek teen sy Naam.
3. Die goddelose wandel in sy waan:
hoogwys het hy sy neus omhooggesteek,
vermetel het sy mond dit uitgespreek:
"Daar is geen God!" En rustig stap hy aan.
4. Hy is voorspoedig waar sy voetstap gaan:
"Hoog in die hoogte, eind'loos ver, " dink hy,
"is Gods gerig: geen loon of straf vir my."
En hy verag al wie hom teëstaan.
5. Hy roem dat hy sal standhou vir altyd,
en dat hy nooit, nooit in die kwaad sal kom.
Hy vloek, bedrieg, gaan met verdrukking om;
sy tong spreek moeite-en ongeregtigheid.
6. Net soos 'n leeu wat loer, lê hy gereed.
Hy vang sy prooi deur aan sy net te trek
en sleep hom weg, diep in sy wegkruipplek;
die arme slag hy daar - wie sal dit weet?
7. Hy smaad die HEER en dink: "God het vergeet.
Hy sluit sy oog en sien dit nimmermeer."
Tree toe, en wil die arme red, o HEER;
dis ons genoeg as U maar sien en weet.
8. Ons gee dit oor in al ons kommernis
aan U, o HEER, die helper van die wees.
Verbreek die arm van hom wat U nie vrees,
vergeld die kwaad totdat daar niks meer is.
9. Die HEER is Koning, ewig en altyd;
geen heidendom of 't moet voor Hom vergaan.
maar die geroep hoor Hy goedgunstig aan
van wie ootmoedig op sy bondstrou pleit
10. God sal hul hoor en sal die hart verkwik
van arme-en wees aan wie Hy reg verskaf,
maar op verdrukkers daal sy strenge straf,
hul brose arm sal niemand meer verskrik.
Psalm 11
1. Ek skuil by God in al my onweersdae.
Hoe sê jul dan in kleingeloof vir my:
"Vlug soos 'n duif met snelle vleuelslae
na die gebergt' van vrees en vyand vry!"
2. "Hul span die boog; die pyle-is op die snare,
om die opregte heimlik om te bring.
Wat kan hy doen as die geweldenare
die reg verbreek en uit die land verdring?"
3. Daar is 'n God, 'n God wat hoog verhewe
uit sy paleis - sy bouwerk is so skoon! -
die oog het op wie laag op aarde lewe;
sy oordeel vel Hy van sy hoë troon.
4. Die HERE toets hul wat regverdig lewe,
maar haat hom wat vir geen gewelddaad vrees;
hy word aan strikke-en vuurgloed oorgegewe,
'n gloeiwind sal sy straf vir onreg wees.
5. Die HEER is reg, regverdig is sy handel.
Hy min die reg en bly daaraan getrou.
Opregtes vind die uitkoms van hul wandel:
hul sal die aangesig van God aanskou.
Psalm 12
1. Red, red, en hoor, o HEER,
geen vrome is daar meer;
getrouheid, in die land reeds klein,
het nou daaruit verdwyn.
2. Die mens spreek onopreg,
'n woord met leu'ns deurvleg;
die taal wat van hul lippe gly,
is enkel vleiery.
3. Mag God die lip uitroei
waarvan die vleitaal vloei,
die tong wat vry en onbewaak
vermetel is van spraak.
4. Hul sê: "Ons tong is sterk,
in slimheid onbeperk,
Ons lippe is aan ons getrou;
wie kan ons dan weerhou?"
5. "Oor wie verkwyn in druk
en sug in ongeluk,
sal Ek nou opstaan in verweer,
hul uitred, " sê die HEER.
6. Die woorde van die HEER
is rein, gelouterd meer
as allersuiwerste metaal,
gereinig sewe maal.
7. Die HEER sal in gevaar
sy volk altyd bewaar;
as lis en laagheid triomfeer
dan waak en sorg die HEER.
Psalm 13
1. Hoe lank is ek van hulp ontbloot,
my God, in u gedagte dood?
Hoe lank sal ek in donkerhede
geen antwoord hoor op my gebede,
en ongetroos wees in die nood?
2. Hoe lank, o HEER, sal sorg en smart
hul laer opslaan om my hart?
Hoe lank sal die vyand met behae
my aansien in my angs en plae -
my siel mistroostig en benard?
3. O HEER, my God, sien my tog aan,
wil my ellende gadeslaan;
verlig die donker van my oë,
en wil tog nimmermeer gedoë
dat ek in doodslaap ondergaan.
4. Laat hulle wat in oormoed my
vervolg en met hul swaard bestry -
laat hul nie roem op meerd're kragte,
of smalend sê in hul gedagte:
"Ons het oorwin, daar struikel hy!"
5. O HEER, ek sal U nooit laat gaan
My hoop bly op u goedheid staan
My hart sal oor u redding bly wees,
my lofgesang U toegewy wees,
want U het aan my welgedaan.
Psalm 14
1. Vermeetle dwaas wat hoogwys spot,
sê in sy hart: "Daar is geen God."
Hul dade is afskuw'lik sleg,
geeneen wat goed doen in sy weg.
2. God het die mens se werk betrag
uit hemelhoë-en helder dag,
of Hy ook by die mensekind
verstand mét ware Godsvrees vind.
3. Maar almal het tot groter kwaad
in hul ontaarding God verlaat.
Van almal is hul dade sleg,
geeneen wat goed doen in sy weg.
4. Is daar dan by die sondaarskind,
hul wat my volk soos brood verslind,
geen kennis van die waarheid meer,
dat hulle God nie soek en eer?
5. Maar skielik het hul skrik gekom:
God slaan hul deur sy oordeel stom.
Maar oor sy volk, tot spot gemaak,
het Hy regverdig opgewaak!
6. Hy is 'n rots om in te vlug
vir wie, ellendig, tot Hom sug.
Mag maar die bede nooit verstom:
"Laat Isr'els heil uit Sion kom!"
7. As Isr'els God in hul ellend
sy volk se lotgeval wil wend,
sal Jakob jubel bly van gees,
en Israel sal vrolik wees.
Psalm 15
1. Wie styg so hoog in heil en eer,
dat hy met U, die grote Koning,
met U, die allerhoogste HEER,
kan op u heil'ge berg verkeer
en intrek in u heil'ge woning?
2. Dié wat, opreg in sy gemoed,
na Gods verhewe eis wil handel,
hom vir bedrog en leuen hoed;
en is dit voor- of teëspoed,
die waarheid spreek in hart en wandel.
3. Dié wat nie steun op agterklap,
geen kwaad doen aan sy metgesel nie;
nie uit verborge vyandskap
met laster op die lippe stap,
en dit nie aanhoor of vertel nie.
4. Dié wat hom van die manne keer
wat God en sy bevel nie vrees nie;
maar die godvrugtiges wil eer,
en in sy eed nie valslik sweer,
of aan sy woord ontrou wil wees nie.
5. Dié wat geen hoop op roof wil stel
en woekerwinste nie begeer nie,
geen omkoopgeld hom af laat tel
om wie onskuldig is, te kwel -
hy sal nie wankel immermeer nie.
Psalm 16
1. Bewaar my tog, o God, op wie 'k vertrou!
Ek skuil by U, my toevlug in die lewe.
Daar is vir my, in wat die oog aanskou,
geen goed bo U, so eind'loos hoog verhewe.
En wie op aarde-U ken en vrees, o HERE,
húl noem ek groot, hul is my roem en ere.
2. Wie hier 'n ander god met gawes eer,
dié sal homself met baie smarte pynig.
Ek sal sy offers uitgiet nòg begeer;
sy afgodsnaam sal nie my mond ontreinig.
My erfdeel is die HEER, my vreugdebeker,
my lot is in sy hand vir ewig seker.
3. My erfdeel is op aarde skoon vir my;
die meetsnoer val in plekke lief en lustig.
Ek loof die HEER wat deur sy raad my lei;
selfs in die nag as alles sluimer rustig,
dan wek opnuut my niere die verlange
om God te dank in stille lofgesange.
4. 'n Yd'le vrees beklem my nou nie meer:
ek stel die HEER gedurig my voor oë.
My hart is bly, en juigend meld my eer:
"Sy regterhand sal nooit my val gedoë."
Ook sal my vlees, as hier my stryd gestry is,
nog veilig woon, omdat die HEER naby is.
5. U sal my siel nie oorgee in die dood,
my pad buig op langs skone heuwelrye.
U sal nie toelaat dat u gunsgenoot
verderwing sien in donker doodsvalleie.
By U is ewig vreugde-en volle vrede,
en in u hand 'n snoer van lieflikhede.
Psalm 17
1. 0 HEER, verleen my tog gehoor;
my saak - U weet dit - is regverdig.
En wil my smeking nou verwerdig
dat dit kan opklim in u oor.
Alleen deur waarheidsdrang bewoë
beef van my lippe die gebed:
ag, as U maar my saak wou red,
U wat geen onreg wil gedoë.
2. U weet wat in my hart is nou,
want dikwels in die stille nagte
het U my hart en my gedagte
tot in my diepste grond deurskou.
My oog, verhelderd deur u rede,
staar nou die mens se doen verby;
deur U geleer, sal ek vermy
die paaie van ongodd'likhede.
3. My treë hou vas aan u spoor,
en dat my voet nie weg sou gly nie,
is my geen helper so naby nie!
Ek roep; ag, wil my tog verhoor.
U is my redder - niemand anders!
Verleen my guns en onderstand,
wanneer ek wegskuil by u hand
vir alte sluwe teëstanders.
4. Net soos die appel van die oog,
bewaar my so, Getroue-en Sterke!
Oordek my met u eewge vlerke,
met u bewaring van omhoog;
sodat die skaar wat my omring het,
vergeefs na my sal soek, o God,
vergeefs sal jubel oor my lot
as hul al amper my bespring het.
5. Niks wat hul meegevoel meer wek,
en niks weerhou hul trotse rede.
Alreeds omsingel hul ons skrede
en wil hul op die grond ons strek.
Geen leeu is slimmer in sy planne
as hul wat op my lê en wag;
geen ondier, vinnig op die jag,
is sluwer as die sluwe manne.
6. Staan op, o HEER, en wil hul stuit!
Verlos my van die goddelose;
u hand, u swaard, laat dit die bose
terneer werp; manne wie se buit
as toornskat nie met hul sal sterwe,
maar wat dit as 'n sondesaad
weer aan hul kinders agterlaat,
wat dit húl kinders weer laat erwe.
7. 'n Beter lot is dan my deel:
as ek ontwaak, ná my benouing,
sal ek U sien in klare-aanskouing,
versadig met u beeld geheel.
Psalm 18
1. Ek het U hart'lik lief, o HEER!
U is my sterkte-en teëweer.
Die HEER 's my rots, my vesting stterk,
my redder wat my heil bewerk,
my rots wanneer die stormwind huil,
my skild, die weerkrag van my heil,
my vesting op die bergkrans steil,
by wie ek vas en veilig skuil.
2. Tot U, van wie my lofsang is,
roep ek in my benouenis,
en - van my vyand word ek vry!
Want bande van die dood het my
omring en strome van verderf,
wat aanstorm uit die donker wyk
van kuil en graf en doderyk,
met kwellings waar die hart by sterf.
3. Deur donker magte, troep aan troep,
omsingel, het ek uitgeroep;
ek het in doodsangs uitgebteek
en God, my God, om hulp gesmeek.
Hy het geluister, my verhoor:
my stem het luid omhooggerys,
het deurgedring in sy paleis,
en opgeklim tot in sy oor.
4. Toe het die aard' se ingewand,
die berge in hul vaste stand
gebeef, gesidder skrik-verras,
omdat die HERE toornig was.
Rook in sy neus het opgegaan,
vuur wat verteer na alle kant,
het uit sy lippe voortgebrand,
en kolegloed het uitgeslaan.
5. Die hemel het ontsag betuig
en by Gods neervaart neergebuig;
en donkerheid van watervloed,
'n onweersnag was om sy voet.
'n Gerub was sy oorlogswa.
Hy het gevlieg en aangesweef
terwyl dit om Hom skud en beef -
op vleuel van die wind gedra.
6. In duisternis het Hy genaak,
in donker nag wat Hom bewaak:
in waterduisternis alom
en diktes van die wolkkolom.
Deur glanse voor Hom, om Hom heen,
wat gans sy gloriewese-oordek,
het swaar sy wolk verbygetrek
met onweersvuur en haelsteen.
7. Die HEER 't laat dreun die hemel oor,
die hoogste God sy stem laat hoor,
sy stem mét vuur en haelsteen,
die drie tesaam en wild deureen.
Hy het sy pyle uitgestuur
en húl verstrooi wat my beveg,
sy bliksems deur hul heen gevleg
en hul verwar in onheilsuur.
8. In beddings waar die waters loop,
raak rotse tot hul wortels oop.
Die see wyk uit sy stille skoot
en sleep die aard' se grondves bloot.
So 't God die wêreld, stomverbaas,
laat sidder van sy dreigement,
Hom bulderend omlaag gewend
as Hy 'n storm van gramskap blaas.
9. Sy hand het Hy van bo gestrek,
gegryp, uit dieptes my getrek,
my vyande, te sterk vir my,
gebreidel in hul raserny.
Hul 't aangestorm. 'n Dag van nood!
Maar God, my helper, was naby;
in ruimtes is ek uitgelei,
want sy behae-in my was groot.
10. Die HEER het my, trots hul geweld,
na my geregtigheid vergeld;
en na die reinheid van my hand
doen Hy sy woord aan my gestand.
Ek het nie, aan sy stem ontrou,
sy pad verlaat, aan hul gelyk,
wat goddelooslik af wou wyk,
maar het my aan sy spoor gehou.
11. Sy ordening, dié was voor my,
ek het sy woord getrou gebly.
Ek was opreg van hart voor Hom
en wou op onregspad nie kom;
sodat die HEER, sy trou tot prys,
en na die reinheid van my hand,
sy woord gegee het as my pand
en my my reg het toegewys.
12. Barmhartig, vol van derenis,
is U vir wie barmhartig is;
en wie opreg is, U sal hom
ook met opregtheid teëkom.
By hul wat reinheid rein bemin,
hou U, die Heil'ge, U ook rein;
maar vir wie leef in valse skyn,
is U ook self verkeerd van sin.
13. Die HEER verlig die harde juk
van wie hier sug in leed en druk;
maar Hy verneder dié wat hoog
en ydel is van hart en oog.
My lamp brand in die donker uur;
God het my donker opgeklaar!
Met God storm ek 'n leërskaar
en met Hom spring ek oor 'n muur!
14. Gods weg is gans volmaak soos Hy,
sy woord van al wat smet is, vry,
soos goud, gelouter sewe maal.
Hy is 'n skild van keurmetaal
vir almal wat op Hom vertrou.
Want wie's daar buiten U, o HEER!
U is die Rots, geen ander meer,
op wie ons altyd weer kan bou.
15. God het met krag my aangegord;
deur Hom 't my weg gelyk geword.
Hy laat my voete op dié baan
so maklik soos die herte gaan,
en lei my na die hoogtes dan
van seëpraal en heerskappy;
my hande leer Hy om te stry,
dat ek 'n koperboog kan span.
16. Die skild van redding gee U my,
u regterhand was my naby;
u goedheid het tot my genaak
en my uit kleinheid groot gemaak.
My voet was deur u guns weer vry,
my enkels het my nie gefaal;
ek het my vyand ingehaal,
verdelg, geeneen het oorgebly.
17. Ek het hul gans en al verslaan,
van hul 't geeneen weer opgestaan.
U het my aangegord met moed,
gestruikel het hul voor my voet.
My teëstanders het geval,
U het my vyand weg laat vlug;
vir haters was ek so gedug
dat hul verslaan is, gans en al.
18. Hul het geroep, geen hulp gekry,
ook tot die HEER - Hy't stilgebly.
Toe het ek hul vergruis, verjaag,
soos straatslyk hulle weggevaag.
God red my as my dienaars twis,
en maak dat uit die heidendom
die nasies na my voetbank kom
en aan my onderdanig is.
19. Hul was gehoorsaam as hul oor
net van my roem en dade hoor.
Hul het al kruipende gekom;
uit vestings skuif hul kragt'loos, krom.
Die HERE leef! Lof aan my Rots!
Die HEER, my heil, sy groot gemaak!
Hy gee my op my vyand wraak
en breek die volke in hul trots.
20. U wat my red, my hoog verhef,
die vyand fnuik, tiranne tref -
U wil ek loof, U singend eer,
U by die nasies groot maak, HEER,
en U vir groot verlossings prys!
Aan u gesalfde-is guns bewys,
aan Dawid en sy nageslag:
U sy die eer en roem en krag!
Psalm 19
1. Die hoë hemelrond vertel met blye mond
Gods heerlikheid en eer,
en, wonderbaar deurglans, / vermeld die wye trans
die werke van die HEER.
Die dag roep orals luid / en duisendstemmig uit
dié loffelike sprake;
die nag se stille stap / meld kunde-en wetenskap
deur al sy donker wake.
2. Hoe goddelik en skoon / en wonderbaar die toon
wat deur die skepping gaan!
Geen volk so onbegaaf, / geen oor so onbeskaaf,
wat nie dié taal verstaan.
Die prag van hemellyn / wat deur die wydtes skyn,
spreek daar so luid en kragtig
dat nêrens hart of oor / dié skeppingstaal nie hoor -
tot roem van God almagtig.
3. Hy 't in die wonderbou / van eewge hemelblou
die son se tent gestig.
Dié 's soos 'n bruidegom / wat uit sy slaaptent kom
met glansende gesig.
Hy wandel soos 'n held / blymoedig in die veld
van hoë hemeltranse,
en het sy swaai en spoor / die ganse wêreld oor
wat blink van gloed en glanse.
4. Die HEER se heil'ge wet / is rein en onbesmet,
en sal die hart bekeer;
sy woorde sal gewis / aan wie eenvoudig is,
die ware wysheid leer.
Sy regte heerskappy / dié sal ons hart verbly en onreg nooit gedoë;
en wat sy wet berig / is suiwer soos die lig
wat afstraal op die oë.
5. Die HEER se vrees is rein, / dit open 'n fontein
van heil wat ewig bly.
Die wette van die HEER / is waarheid immermeer,
regverdig net soos Hy.
Hul's soos die fynste goud - / ja, fyner duisendvoud -
geen glans wat so kan straal nie;
geen heuning is so goed, / geen heuningdrup so soet -
daar's niks wat daarby haal nie.
6. Hoe word, deur U vermaan, / my weg 'n helder baan,
en my verwagting skoon!
Hy wat u wet bemin, / die vind, o HEER, daarin
'n groot genadeloon.
Wie kan van voor af aan / sy dwalinge verstaan
en al wat hom ontbreek het?
HEER, reinig U my tog / van sondes wat daar nog
diep in my hart bly steek het.
7. Bewaar my vir die kwaad / dat ek met trotse daad
u heil'ge wil weerstreef;
laat nie die sonde my / oorheers, dan sal ek vry
van groot oortreding leef.
Laat tog my tong en mond, / my hart se diepste grond,
o HEER, op wie 'k vertrou het,
U welbehaaglik wees / wat in my hart kan lees -
my Rots, op wie 'k gebou het.
Psalm 20
1. O, mag die HERE u verhoor
in dag van nood en stryd!
En mag die Naam van Jakobs God
u dek in oorlogstyd!
2. Mag Hy sy heil en bystand stuur
uit hoë heiligdom,
en u uit Sion ondersteun,
van waar u hulp sal kom.
3. Mag Hy aan al u offers dink
van fynste spys, en nou
u offerbrand wat voor Hom geur,
met welgevalle-aanskou!
4. Mag Hy, die ryke God, u gee
al wat u hart verlang!
Vervulling van wat u beraam -
mag u dié guns ontvang!
5. Ons wil oor u oorwinning juig -
die vaandels jubel mee!
Ons loof die Naam van onse God.
Mag Hy u wens u gee!
6. Nou weet ek dat die HERE sy
gesalfde sal verhoor;
uit heil'ge hemel antwoord Hy,
tot magsdaad aangespoor.
7. Daar is wat op hul strydwaens roem,
op oorlogsperde trots;
maar ons sal ons beroem in God,
ons toeverlaat en rots.
8. Hul almal 't inmekaargesak,
geval, voor ons geswig;
maar ons het kragvol opgestaan
en ons weer opgerig.
9. Verlos die koning, troue HEER,
en sterk hom in die stryd!
Verhoor ons as ons tot U roep
in druk en oorlogstyd!
Psalm 21
1. U maak, o HEER, die koning bly,
omdat u arm so sterk is,
sy heil deur u bewerk is.
Sy wens het hy van U verkry;
U het wat hy begeer.
geweier nòg geweer.
2. U kom hom vriend'lik tegemoet
met stroom van goeie dinge
en gulde seëninge.
U het 'n kroon van fynste gloed,
van voorspoed en geluk,
hom op die hoof gedruk.
3. Hy het van U, o God, begeer
die onverwelkb're lewe.
U het dit hom gegewe.
So word sy dae altyd meer,
so leef hy eindeloos,
vir ewig en altoos.
4. Hoe hoog is deur u hulp sy staat:
U 't majesteit en ere
op hom gelê, o HERE.
Sy seën ken geen tyd of maat;
en van u aangesig
straal vrolikheid en lig.
5. Die vors vertrou in vrede-en stryd
op God se alvermoë,
Hom seën die Alhoë;
en deur sy goedertierenheid
sal, hoe dit ook mag gaan,
sy voete vas bly staan.
6. U hand sal wis u haters vind;
vir hul is u verskyning
verbranding en verdwyning.
Die toorn van God sal hul verslind,
'n wraakvuur van die HEER
sal hulle gans verteer.
7. Hul somervrug, hul lenteblom,
hul kroos sal U verderwe;
U sal hul weg laat sterwe.
Ons vind van hul, waar ons ook kom,
geen spoor of teken meer -
só het U hul verteer.
8. Met onheil het hul U omring,
teen U hul slinkse planne
vergeefs gesmee, die manne
wat U nou tot die vlug sal dwing;
u pyle, wèl gerig,
skiet U in hul gesig.
9. Verhef U in u sterkte, HEER,
en laat u groot vermoë
gesien word voor die oë
van almal wat U roem en eer!
Ons buig ons voor u mag
en prys u heldekrag.
Psalm 22
1. My God, my God, waarom verlaat U my,
terwyl'k alleen my sware stryd moet stry,
alleen moet kerm wanneer 'k my lyde ly?
Op al my vrae
kan ek van U, deur al my lydensdae,
geen antwoord kry; deur donker lydensnagte
bly ek nie stil; maar daar's geen heil te wagte,
geen woord vir my.
2. Tog sprei U, HEER, u reddingsglans ten toon
waar U, die Heil'ge, by u volk wil woon
en op die vleuels van hul lofsang troon.
Die jammerklagte
het U gehoor van verre voorgeslagte;
hul is gered! In stille Godsbetroue
het hul ontvlug, gehandhaaf en behoue
op hul gebed.
3. Maar ek, ek is 'n wurm - 'n man nie meer,
'n smaad van wie deur spotsug my onteer.
"Laat dit maar oor, " so roep hul, "aan sy HEER!"
my heilsverwagting
krenk hul met hoofgeskud en diep veragting
van lipgebaar. "Wat klaag hy so verslae?
Laat God hom red. Hy 't mos in hom behae.
Vertrou Hom maar!"
4. Die lewenslig het U my laat aanskou;
aan moedersbors het U my laat vertrou,
verwagtingsvol die oog op U laat hou.
My ganse lewe
was aan u sorg blymoedig oorgegewe;
daar was by my, as suigling by my moeder,
geen vrees, want U, my helper en behoeder,
was my naby.
5. Wees dan my hulp, hou U nie ver van my!
My knel die nood, benoudheid is naby;
daar's buiten U, terwyl 'k so bitter ly,
geen hulp te wagte.
Die Basanstiere met hul reusekragte
omsingel my. Hoe wild en ongebonde
dring hul soos leeus met oopgespalkte monde
al naderby!
6. Ek 's uitgestort en vloei soos water weg;
daar is geen been wat aan sy been meer heg;
my hart, al klein, smelt uit my binnest' weg.
My krag versterwe
soos glans en kleur verdwyn uit erdeskerwe
al droog en dof. My tong verstom en klewe
was aan my mond; U lê my, uitgelewe,
dood in die stof.
7. Om my staan honde wat my wil bespring:
'n bende skenders staan om my 'n kring.
Hul staal het my deur hand en voet gedring.
Met welgevalle
sien hul die skouspel aan wat, gans vervalle,
my vlees hul bied. My klere die verdeel hul;
oor my gewaad werp hul die lot; so speel hul
met my verdriet.
8. Maar U, o HEER, wees U nie ver van my!
U is my krag, kom tot my hulp naby,
en maak my siel, my enigste, weer vry
van kloue-en tande,
van oorlogswaard en greep van moord'naarshande
Tog is dit goed met my; in die beklemming
van buffelshorings ruis die reddingstemming
deur my gemoed.
9. Ek wil, o HEER, u Naam my loflied wy,
in broederkring verkondig en bely
hoe goed U my gewees het, hoe naby.
Nakomelinge
van Jakob, volk van soveel seëninge,
en Israel, geslag van gunstelinge -
laat wie God vrees uit altyd wyer kringe
sy lof vertel.
10. Die HEER het nooit in die bekommernis
verag, verfoei hom wat ellendig is:
toe hy geroep het, was sy antwoord wis.
HEER, álle dinge -
my liefde, lof en soetste mymeringe,
uit U is 't ál. Al my geloftes bring ek,
en waar u volk vergader is, daar sing ek
met lofgeskal.
11. Sagmoediges sal aansit saam met my;
dié wat God soek, sal dan sy Naam bely.
Vir hul sal God áltyd sy dis berei.
Versprei die tyding:
"Die volke sal, in altyd voller wyding,
tot God hul keer; hul kom, die mensgeslagte
en konings met hul koninklike wagte,
om Hom te eer."
12. Die wêreldgrotes eet hul offermaal,
bid saam met hul wat in die stof moet daal,
met wie, verswak, nog nouliks asemhaal,
so klein van kragte;
wat leef en nog sál leef, 'n reeks geslagte,
húl kondig aan: "Groot is Gods reddingsdade.
Die HEER alleen, wat groot is van genade,
het dit gedaan!"
Psalm 23 (beryming 1)
1. Net soos 'n herder uittrek met sy skape
en hul laat neerlê in die veld van milde groen,
met sagte hand hul lei langs stille waters -
so is die HEER, so het Hy ook aan my gedoen:
Hy laaf my siel en lei my swakke skrede
in vaste spoor van sy geregtighede.
2. En is ek soos 'n skaap in doodsgevare,
wat in die velde as 'n prooi vn wolwe gaan,
en moet ek in die doodsdal, diep n donker,
van alle hulp ontbloot, in my alleenheid staan -
dan nog ken ek geen doodsvrees of verskrikking
omdat u staf my troos is en verkwikking.
3. U bring vir my die tafel in gereedheid,
my hoof druip olie en my beker vloei van wyn,
'n bron van goedheid stroom vir my gedurig;
dit is my gees 'n vreug, my vyande 'n pyn;
dit kroon my lewe met u welbehae;
en in u huis, daar bly ek al my dae.
1. Die HERE is my herder, Hy behoed my;
niks sal m'ontbreek, sy ryke volheid voed my.
So sag en soet is sy alwyse leiding
langs frisse waterstroom en groene weiding.
Hy sterk my siel en plant my swakke skrede
op vaste voet in sy geregtighede.
2. Ek vrees geen kwaad, al kom die skadu's nader,
wat in die doodsvallei om my vergader;
U bly in al my teëspoede by my,
u stok en staf vertroos altyd en lei my.
Waar haters loer, stel U tot my beskikking
'n tafel tot versading en verkwikking.
3. U salf my hoof, U maak my hart blymoedig
en vul my beker met u heil oorvloedig.
U goedheid, so onfeilbaar en weldadig,
omring my op my lewenspad gestadig
totdat ek eenmaal in Gods heil'ge woning
die troue Herder ewig eer as Koning.
Psalm 24
1. Die ganse aarde, land en meer
met al wat leef, is uwe, HEER!
U het die waters in hul woede
beteuel in die skeppingstond
en het die aarde vas gegrond
op wye seë-en watervloede.
2. Wie sal die Godsberg op kan gaan,
en wie sal op sy top kan staan,
omskitter deur Gods heilighede?
Die man wat rein van hart en weg,
sy siel aan nietigheid nie heg,
en trou is aan sy woord en ede.
3. Geregtigheid daal op hom neer;
'n seën verkry hy van die HEER,
wat stil Hom volg op al sy skrede.
Dit is die ware Israel,
die volk wat vra na Gods bestel,
en wat Hom soek in hul gebede.
4. Verhoog, o poorte, nou die boog;
rys, eewge deure, rys omhoog,
want Hy klop aan, die Erekoning!
Wie is die Vors, vol majesteit?
Die HEER, geweldig in die stryd -
dis Hy wat opstrek na sy woning.
5. Rys op, o poorte-en deure! Rys!
Wie is die Vors wat dit kom eis?
Hy, wat oordek met roem en ere,
sy tien en tien maal duisend tel
as Hy sy leërorde stel -
Hy is die Vors, die HEER der here!
Psalm 25
1. Tot U hef ek hart en hande;
op U, HEER, verlaat ek my;
laat die vyand oor my skande,
oor my val, hom nooit verbly.
Ja, U sal hul nooit verlaat
wat in u vertroue wandel,
maar U dek hul met u smaad
wat hier trouelooslik handel.
2. Leer my, HEER, u regte weë,
wys die regte pad my aan;
maak my hart daartoe geneë,
om met lus daarop te gaan.
Wil my deur u waarheid leer,
lei my dwalende gedagte;
want u is my heil, o HEER!
U is ek altyd te wagte.
3. Dink aan my in mededoë
as ek biddend voor u pleit;
milde hande, vriend'like-oë
is by U van ewigheid.
Dink nie aan die sondes meer
van 'n yd'le jonkheidslewe;
wil tog, om u goedheid, HEER,
ál my sondes my vergewe!
4. God is goed in al sy handel,
en sy pad is enkel reg;
daarom laat Hy sondaars wandel
in die waarheid van sy weg.
Hy sal met sy hand hul lei
wat verdwaal was en verlore;
wie sagmoedig is, laat Hy
wandel op sy regte spore.
5. Ja, Gods weg is goedheid, klaarheid,
en sy weg altyd getrou
vir wie wandel in sy waarheid
en op sy beloftes bou.
Wil my dan, u Naam ter eer,
al my sondeskuld vergewe;
want ek het teen U, o HEER,
swaar en menigmaal misdrewe!
6. Wie's die man wat hier benede
in Gods vrees sy weg wil gaan?
God sal self sy wank'le skrede
voortlei in die regte baan.
Al wat goed is, sal Gods hand
hom in stilheid laat verwerwe;
en die lank beloofde land
sal sy nageslag beërwe.
7. Gods geheim'nis is die lewe
vir wie wandel in sy vrees;
en Hy 't sy verbond gegewe
om vir hul 'n lig te wees.
'k Hou my oë op die HEER
wat my so getrou gelei het,
want Hy voer my voete weer
uit die net wat hul gesprei het.
8. O my God, ontferm U oor my
in my diepe ongeluk;
eensaam is ek - o verhoor my! -
gans ellendig en in druk.
Om my heen, aan alle kant,
is die skrik van duisend dode;
laat dan, HEER, u regterhand
my verlos uit al my node.
9. Slaan op my ellende u oë,
hoor my, HEER, uit medely;
neem my sondes uit meedoë
almal weg, vergeef dit my!
HEER, aanskou die leërmag
wat om my vermenigvuldig,
want hul lê op my en wag -
vol van haat en ongeduldig.
10. Red my van geweldenare;
'k steun op U in teëspoed.
Laat opregtheid in gevare,
met die onskuld, my behoed.
Red u volk, o troue HEER,
uit die hand van sy bestryder,
en wees Isr'el immermeer 'n genadige bevryder!