Die regsinnige leer is nou uiteengesit.
1. Daarom verwerp die Sinode die dwaling van hulle wat leer: 'n Mens kan eintlik nie sê dat die oorspronklike sonde alleen voldoende is om die hele mensdom te verdoem of om tydelike en ewige strawwe te verdien nie.
Die Sinode leer: Hulle weerspreek immers die apostel wat sê: Deur een mens het die sonde in die wêreld ingekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het (Rom. 5:12), en: Die oordeel was uit één tot veroordeling (Rom. 5:16), en: Die loon van die sonde is die dood (Rom. 6:23).
2. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die geestelike gawes of goeie hoedanighede en deugde soos goedheid, heiligheid en regverdigheid kon nie deel van die wil van die mens wees toe hy in die begin geskep is nie. Daarom kan dit in die sondeval ook nie van die wil geskei word nie.
Die Sinode leer: Dit is in stryd met die beskrywing van die beeld van God wat, volgens die apostel in Ef. 4:24, in geregtigheid en heiligheid bestaan, en altwee setel sonder twyfel in die wil.
3. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Hierdie geestelike gawes is in die geestelike dood nie van die mens se wil geskei nie, aangesien die wil op sigself nooit verdorwe was nie. Dit is slegs deur die verduistering van die verstand en wisselvalligheid van die neigings verhinder. Wanneer hierdie hindernisse uit die weg geruim is, kan die wil dan weer sy vrye aangebore vermoë uitoefen. Dit wil sê dit kan allerhande goeie dinge wat hom voorgehou word, self wil en self kies of nie wil nie en nie kies nie.
Die Sinode leer: Dit is 'n nuwigheid en 'n dwaling waardeur die kragte van die vrye wil verhef word, en dit teen die uitspraak van die profeet: Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit (Jer. 17:9), en van die apostel: Onder wie (nl. die kinders van die ongehoorsaamheid) ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het (Ef. 2:3).
4. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die mens wat nie weergebore is nie, is nie werklik en nie heeltemal dood in sondes nie. Ook is alle kragte om die geestelik goeie te doen hom nie ontneem nie. Hy kan nog honger en dors na die geregtigheid en die lewe en kan die offer van 'n verslae en gebroke gees, wat God welgevallig is, bring.
Die Sinode leer: Hierdie opvattings stry teen die duidelike getuienisse van die Skrif: Julle was dood deur die misdade en die sondes (Ef. 2:1, 5), en: Al die versinsels wat hy in sy hart bedink, is altyddeur net sleg (Gen. 6:5; 8:21).
Buitendien is honger en dors na bevrydiing uit die ellende en na die lewe, asook die offer van 'n gebroke gees aan God slegs eie aan die wedergeborenes en aan hulle wat salig genoem word (Ps. 51:19; Matt. 5:6).
5. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die verdorwe en natuurlike mens kan die algemene genade (waaronder hulle die lig van die natuur verstaan) of die gawes wat ná die sondeval nog in hom oorgebly het, tot sy heil gebruik. Deur dit só te gebruik kan hy geleidelik 'n groter genade, naamlik die evangeliese of verlossende genade en die saligheid self, verkry. Op hierdie wyse betoon God Hom van sy kant bereid om Christus aan alle mense te openbaar. Hy skenk die middele wat vir die openbaring van Christus en vir geloof en bekering nodig is, genoegsaam en kragdadig aan almal.
Die Sinode leer: Behalwe die ervaring van alle tye getuig die Skrif immers ook dat dit vals is, want Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge. So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie (Ps. 147:19-20), en: God het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle, eie weë sou wandel (Hand. 14:16), en: Hulle (naamlik Paulus en sy reisgenote) is deur die Heilige Gees verhinder om die Woord in Asië te verkondig; en toe hulle by Misië kom, het hulle, probeer om na Bithinië te gaan, maar die Gees het hulle dit nie toegelaat nie (Hand. 16:6-7).
6. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Met die ware bekering van die mens kan geen nuwe eienskappe, kragte of gawes deur God in sy wil gestort word nie. Daarom is die geloof, waardeur ons die eerste keer bekeer word en gelowiges genoem word, nie 'n eienskap of 'n gawe wat deur God ingestort word nie, maar net 'n daad van die mens. Die geloof kan alleen 'n gawe genoem word vir sover die mens deur sy eie vermoë daartoe kom.
Die Sinode leer: Daarmee weerspreek hulle die Heilige Skrif, wat getuig dat God nuwe eienskappe van geloof, gehoorsaamheid en die besef van sy liefde in ons harte uitstort: Ek gee my wet in hulle, binneste en skrywe dit op hulle hart (Jer. 31:33), en: Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou nageslag giet (Jes. 44:3), en: Die liefde van God is in ons harte ingestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is (Rom. 5:5). Hulle is ook in stryd met die voortdurende gebruik van die kerk van God, wat in die woorde van die profeet so bid: Bekeer my, dan sal ek my bekeer (Jer. 31:18).
7. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die genade, waardeur ons tot God bekeer word, is niks anders as 'n ligte aansporing nie of - soos ander dit verklaar - is dit wat deur aansporing plaasvind, die edelste manier om die mens tot bekering te bring en pas dit die beste by die menslike natuur. Niks verhinder die aansporende genade alleen om die natuurlike mens 'n geestelike mens te maak nie. God bewerk die instemming van die wil inderdaad op geen ander manier as deur hierdie aansporing nie. Die krag van die Goddelike werking, waarin God die Satan se werking oortref, bestaan hierin dat God ewig goeie dinge maar die Satan slegs tydelike voordele belowe.
Die Sinode leer: Dit is suiwer Pelagiaans en in stryd met die hele Skrif, wat, behalwe aansporing, nog 'n ander, baie kragtiger en Goddeliker werkwyse van die Heilige Gees by die bekering van die mens ken: Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee (Eseg. 36:26).
8. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: God gebruik by die wedergeboorte van die mens nie daardie kragte van sy almag waardeur Hy die menslike wil kragtig en feilloos tot geloof en bekering ombuig nie. As al die genadewerkinge wat God gebruik om die mens te bekeer, voltooi is, kan die mens nogtans God en die Heilige Gees, wat sy wedergeboorte beoog en hom weer gebore wil laat word, só weerstaan - en hy doen dit inderdaad ook dikwels - dat hy sy eie wedergeboorte geheel en al verhinder. Dit bly dus in sy eie mag om weer gebore te word of nie.
Die Sinode leer: Dit beteken niks anders nie as om al die krag van die genade van God in ons bekering weg te neem en die optrede van die almagtige God aan die wil van die mens te onderwerp. Dit is in stryd met wat die apostels leer: Ons glo na die werking van die krag van sy sterkte (Ef. 1:19), en: dat God alle welgevalle aan wat goed is, en alle werk van die geloof in ons met krag volkome maak (2 Tess. 1:11), en: sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien (2 Pet. 1:3).
9. Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die genade en die vrye wil is gedeeltelike oorsake wat altwee saam die begin van die bekering bewerk. Die genade gaan in hierdie volgorde ook nie aan die werking van die wil vooraf nie. Dit wil sê: God help die menslike wil nie kragtig tot bekering voordat die menslike wil self in beweging kom en daarop besluit nie.
Die Sinode leer: Die kerk van ouds het hierdie leer al lankal by die Pelagiane veroordeel kragtens die woorde van die apostel: So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is (Rom. 9:16); en: Wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? (1 Kor. 4:7), en net so: Dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (Fil. 2:13).