Die eerste deel: Die ellende van die mens (Sondag 2-4)
3. Vraag: Waaruit ken jy jou ellende?
Antwoord: Uit die wet van God (a).
(a)Rom 3:20.
4. Vraag: Wat eis die wet van God van ons?
Antwoord: Dit leer Christus ons samevattend in Matteus 22:37-40: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete (a).
(a)Deut 6:5; Lev 19:18; Mark 12:30; Luk 10:27
5. Vraag: Kan jy dit alles ten volle nakom?
Antwoord: Nee (a), want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat (b).
(a)Rom 3:10, 20, 23;1 Joh 1:8, 10. (b) Rom 8:7; 2:3; Tit 3:3; Gen 6:5; 8:21; Jer 17:9; Rom 7:23.
6. Vraag: Het God die mens dan so sondig en verkeerd geskep?
Antwoord: Nee, God het die mens goed (a) en na sy ewebeeld geskep (b). Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys (c).
(a)Gen 1:31. (b) Gen I:26, 27. (c) Ef 4:24; Kol 3 2 Kor 3:18.
7. Vraag: Waar kom hierdie verdorwe natuur van mens dan vandaan?
Antwoord: Van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys (a). Daar het ons natuur so verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word (b).
(a)Gen 3; Rom 5:12, 18, 19. (b) Ps 51:7; Gen 5:3
8. Vraag: Is ons so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is?
Antwoord: Ja (a), behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word (b).
(a)Gen 8:21;6:5; Job 14:4; 15:14, 16, 35; Joh 3:6; Jes 53:6. (b) Joh 3:3, 5;1 Kor 12:3; 2 Kor 3:5.
9. Vraag: Doen God die mens dan nie onreg aan as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan doen nie?
Antwoord: Nee (a), want God het die mens so geskep dat hy dit kon doen (b). Maar die mens het homself en sy hele nageslag as gevolg van die aanhitsing van die duiwel (c) en deur moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof.
(a)Ef 4:24. (b) Gen 3:13; 1 Tim 2:13, 14. (c) Gen 3:6; Rom 5:12.
10. Vraag: Wil God hierdie ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly?
Antwoord: Nee, glad nie; inteendeel, sy toorn is verskriklik (a) sowel oor die erfsonde as oor die sonde wat ons self doen: Hy wil dit in die tyd en in die ewigheid met 'n regverdige oordeel straf (b). Hy het immers gesê: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie (c).
(a)Gen 2:17; Rom 5:12. (b) Ps 50:21; 5:6; Nah 1:2; Eks 20:5; 34:7; Rom 1:18; Ef 5:6. (c) Deut 27:26; Gal 3:10.
11. Vraag: Is God dan nie ook barmhartig nie?
Antwoord: God is wel barmhartig (a); maar Hy is ook regverdig (b). Daarom eis sy geregtigheid dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is; ook met die swaarste straf gestraf moet word - dit is met die ewige straf aan liggaam en siel.
(a)Eks 34:6, 7; 20:6. (b) Ps 7:10; Eks 20:5; 23:7; 34:7; Ps 5:5, 6; Nah 1:2, 3.