Wie nugter is, verklaar oorlog teen die duiwel

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2017-04-23
Text: 
I Petrus 5 : 8-9
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 23 April 2017 AD, 10:15

Votum

Seën

Ps 22:1,5

Wet

Ps 119:20,22

Gebed

Skriflesing:
Efesiërs 6:10-20

Ps 55:1,10

1 Petrus 5

Teks: 1
Petrus 5:8-9

Preek
(tussensang tydens preek: Ps 7:1,7)

Ps 46:1,3

Gebed

Kollekte

Ps 46:4,5,6

Seën

Preek: 1 Petrus 5:8-9

Die afgelope
vakansie het sommiges van ons ‘n wiltuin besoek. En as julle gelukkig was, het
julle ook leeus gesien. Dit is ‘n voorreg wat ons hier in Afrika beskore is,
dat ons ‘n leeu in sy natuurlike habitat nog kan bewonder. Want in groot dele
van die wêreld het die leeu ‘n uitgestorwe diersoort geword. Vir die meeste
mense op die aardbodem vandag is ‘n leeu iets wat jy in die diertuin, of in die
sirkus, of op ‘n tekenfilm sien. ‘n Leeu hoort vir die meeste mense tuis in die
wêreld van ontspanning en vermaak. Dit is nie meer deel van die harde
werklikheid om ons heen nie. Dit beteken egter nie, hoe goed mense ook bekend
is met die uiterlik van ‘n leeu, dat die dier daarom minder gevaarlik geword
het nie. Ons lag soms vir buitelandse toeriste wat sommer uit hulle motors
klim, min beseffende dat ‘n leeu nog steeds ‘n wilde dier is.

Sommige
mense het hulle gevoel vir die werklikheid verloor, wat dit betref.

In ons teks
noem Petrus die duiwel ‘n brullende leeu. Nie ‘n leeu wat opgesluit sit in ‘n
hok nie, maar wat rondloop en verwoesting saai.

Ek verkondig
u die Evangelie met hierdie tema:

Tema: Wie nugter is, verklaar oorlog teen die
duiwel

  1. Die duiwel bestaan werklik

  2. Slegs die geloof is opgewasse
    teen die duiwel

  3. Ons stry almal saam

  1. Die duiwel bestaan werklik

    In ons tyd
    is dit vir baie mense moeilik om te besef dat die duiwel ‘n lewende werklikheid
    is. Die gedagte kan soms by ons opkom: bestaan die duiwel regtig wel? En as hy
    bestaan, hoe sien mens hom dan?

    Al die wilde
    verhale uit die Middeleeue klink nie meer baie geloofwaardig nie.

    Verhale van
    wrede duiwels wat teen engele veg. Of van ‘n bok met horings.

    Is die idee
    van ‘n duiwel nie iets uit die verlede nie? Van toe die mens nog nie alles in
    die wêreld kon verklaar nie? Ons in die 21e eeu frons met ons wenkbroue as ons
    die verhale oor duiwels uit die Middeleeue hoor. Of as iemand soos Marten
    Luther skryf dat hy die duiwel met ‘n inkpot probeer doodgooi het.

    In ons tyd
    is die duiwel nie meer ‘n realiteit nie. Oor vir baie teoloë is dit die geval. Hulle
    beweer: die idee van ‘n duiwel, van ‘n persoon wat mense bedreig en bang maak,
    is ouderwets. Dit hoort tuis by die Middeleeuse wêreldbeeld.

    Ons lewe in
    ‘n meer gevorderde tyd. ‘n Tyd waarin mens die duiwel nie meer rasioneel kan
    verklaar nie. En daarom bestaan hy nie meer nie.

    Wat teoloë
    in hulle boeke skryf – teoreties beweer – dit is waar baie mense vandag in
    hulle alledaagse lewe van uitgaan. As jy nugter is, hoef jy tog nie bang te
    wees vir die duiwel nie? Slegs bygelowige mense het daarmee probleme.

    Maar,
    gemeente, as ons ons teks van vanoggend lees, wag daar ‘n ontnugtering.

    Petrus
    skryf: wie nugter is, glo juis wel in die bestaan van die duiwel. Wie nugter
    dink, verklaar oorlog teen die duiwel. Die geloof in die bestaan van die duiwel
    is nie slegs gebonde aan die Middeleeue nie. Die duiwel is ‘n harde
    werklikheid, deur alle eeue heen. Soos daar in alle eeue mense bestaan het, en
    diere soos leeus, so het die duiwel ook altyd al bestaan. En hy is nog steeds hier.

    Mense wat
    dink dat hulle alles kan weet. Juis sulke mense wil nie weet van ‘n God of ‘n
    duiwel nie. Maar is dit eintlik wel nugter? Is dit eintlik wel objektief, om
    alle voorafgaande eeue te ignoreer?

    As alle
    vorige geslagte heilig oortuig was van die bestaan van ‘n onsigbare wêreld, van
    duiwels en bose geeste. Het soveel eeue mense hulleself bedrieg, en ons,
    moderne mense, ons weet nou uiteindelik wat reg en verkeerd is? Wat is eintlik
    nugter? Dit is algemeen bekend dat iemand wat hoogmoedig is, nie nugter oor
    homself kan dink nie. En, sê die spreekwoord, hoogmoed kom tot ‘n val. Dit sal
    ook wel met die moderne mens gebeur.

    Petrus skryf
    aan die Christene in Klein-Asië: moenie julle laat intimideer nie, maar word
    nugter. Die duiwel bestaan werklik. ‘n Mens het nie ‘n keuse nie, jy moet
    gewoon met hom rekening hou. As daar byvoorbeeld in die nag ‘n leeu naby die
    dorp opgemerk is, iets wat destyds in Klein-Asië gereeld gebeur het, dan kan
    mens so ‘n berig nie net ignoreer nie. Want die leeus was gevaarlik, en sommige
    leeus het nie teruggedeins om ook die mense wat in die nag rondloop aan te val
    nie. ‘n Leeu sal ‘n mens met huid en haar verslind.

    Daarom het die
    mense dit in die donker nie op straat gewaag nie. Net as dit baie dringend
    nodig was, en dan onder begeleiding van die polisie of buurtwag.

    Hierdie
    beeld roep Petrus by die Christene op, met die bedoeling: moenie die duiwel
    onderskat nie. Nou is die duiwel nie sigbaar soos ‘n leeu nie.

    Maar die
    Skrif laat geen onduidelikheid daaroor bestaan: die duiwel bestaan werklik en is
    ‘n groot gevaar.

    In die Bybel
    lees ons dat die duiwel ‘n magtige, maar aan God ongehoorsame engel is. Dit
    staan in Judas 1. Sy enigste doel is om alles wat mooi is en deur God geskape
    is, stukkend te maak. Om mense van God af te trek.

    Net soos
    hyself God verlaat het. God is goed. Wie teen God is en niks met Hom te make
    wil hê nie, kan ook die goeie nie meer bereik nie. Dit is die mag van die kwaad
    volgens die Bybel. Ja dit is eintlik onbegryplik dat daar in ons wêreld ‘n mag
    is, mens kan dit met ‘n virus of siekte vergelyk, wat orals in deurdring, en
    wat slegs as doel het om alles wat mooi en gesond is, te vernietig. Mens wil
    dit jou nie indink nie. Maar dit is wel die werklikheid. As jy tenminste op God
    se Woord afgaan. Hierdie mag van die kwaad merk mens dikwels eers agteraf.

    As die
    duiwel reeds êrens was. As hy niks heel en gesond agtergelaat het nie.

    Net soos ‘n
    woedende leeu. Dood, siekte, onmin, oorlog, dit is sy bloedspore.

    Petrus roep
    ons op om nugter te bly. Die duiwel is nie maar net ‘n lelike bok met horings
    nie. Ons het te make met ‘n baie reële en fisiese mag van die kwaad.

    ‘n Mag wat
    alles wil inflitreer. ‘n Mag wat hom ook in mense nestel, selfs kerkmense. ‘n
    Mag waarteen ons van nature nie immuun is nie. Daarom roep ons teks ons op:
    wees nugter en waaksaam. Die duiwel bestaan werklik.

    (Tema: Wie
    nugter is, verklaar oorlog teen die duiwel

  1. Die duiwel bestaan werklik)

  2. Slegs die geloof is opgewasse
    teen die duiwel

    In vers 8
    staan: word nugter en waaksaam.

    In vers 9 staan:
    hom moet julle teësteen, standvastig in die geloof.

    Kortom: wie
    vasstaan in die geloof, is dus nugter en waaksaam. En wie nie glo nie, loop die
    risiko om deur die duiwel beïnvloed, of nog erger: oorrompel en oorval en
    uiteindelik verslind te word. Die geloof in God is dus outomaties ‘n
    oorlogsverklaring teen die duiwel. Want die duiwel is God se groot teëstander.

    Die duiwel
    is die groot teëstander van alles wat goed en gesond en mooi is.

    En, as jy
    glo, dan hoef jy nie bang te wees vir die duiwel nie.

    Dink vir ‘n
    oomblik terug aan die geskiedenis van Daniël in die leeukuil.

    Daniël is
    tussen die leeus gegooi wat vir dae lank geen kos gehad het nie.

    Maar op een
    of ander manier kon die leeus die liggaam van Daniël nie beetpak nie. Die Bybel
    sê dat God hulle groot bekke toegesluit het. Die geloof waaroor Petrus skryf,
    kan mens goed hiermee vergelyk. Want wat beteken dit om te glo?

    Om te glo
    beteken om heeltemal op Christus gerig te wees. Lees ons nie in die boek Daniël
    dat hy alles van God verwag het nie? Drie maal per dag het Daniël in die
    rigting van Jerusalem gebid. En hierdeur, deur sy geloof, is Daniël gered.

    Danksy sy
    vertroue op God. Dat die leeus Daniël nie verslind het nie, was nie ‘n wonder
    wat nie bewys kan word nie. Mens kan dit juis wel bewys.

    Daniël het
    op God vertrou, en God, die Skepper van die leeus, het hulle beveel om Daniël
    nie aan te raak nie. Deur sy geloof is hy dus gered.

    Deur geloof
    word ook ons gered. Gered van die duiwel, die brullende leeu.

    Nou is dit
    belangrik om te besef dat om te glo nie ‘n eie prestasie is nie.

    Inteendeel,
    geloof is die handeling waardeur jy jouself afhanklik opstel van God.

    Ons het in
    Efesiërs 6 gelees oor die wapenrusting van God. Die geloof is die wapenrusting
    wat God ons aanbied. Die geloof is byvoorbeeld ‘n skild, staan daar in Efesiërs
    6, waarmee ons die vurige pyle van die bose kan afweer. Hoewel hierdie ‘n ander
    beeldspraak is as wat Petrus gebruik – Petrus skryf oor ‘n leeu – tog word
    dieselfde bedoel. En dit word bedoel: die enigste manier om te ontsnap aan die
    duiwel, die sonde en die ellende van hierdie wêreld, is deur jou op Christus te
    rig. Deur in Hom te glo. Om te glo is dus nie ‘n prestasie nie.

    Daarom kan
    die oproep om teen die duiwel oorlog te verklaar, ook nooit losstaan van die
    bemoediging wat ons in vers 10 vind nie:

    Daar staan:
    “mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid
    in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig,
    versterk en grondves!”

    Ons stryd
    teen die duiwel staan dus altyd in die lig van die oorwinning wat Jesus alreeds
    behaal het. Soos Romeine 16:20 sê: “die God van vrede sal die satan spoedig
    onder julle voete verbrysel.”

    Geliefde
    gemeente, vertrou God hierin. Elkeen wat vandag hier in die kerk aanwesig is,
    mag daarvan verseker wees dat Christus dieselfde vir jou sal doen as wat Hy ook
    vir Petrus gedoen het.

    In Lukas 22
    staan: “Simon, Simon, kyk, die satan het vurig begeer om julle soos koring te
    sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie.”

    Ja Christus
    bid ook vir jou, tree vir jou by die Vader in, dat jy sal standhou in die
    geloof, te midde van alle aanslae wat in hierdie lewe jou pad kruis.

    Vas staan in
    die geloof, noem Petrus dit. Vas staan, ook dit wil nie sê dat jy ‘n
    geloofsheld moet wees nie. Soiets bestaan nie. Vas staan beteken bloot dat jy
    op Christus bou. Hy is die hoeksteen, soos ons al eerder in hierdie serie preke
    oor 1 Petrus gesien het. Hy is die vaste rots. Bou op Hom. Luister na Hom.

    Elkeen wat
    Hom vertrou, sy Woord vertrou, bou op Hom. En saam vorm al die gelowiges ‘n
    Geestelike huis, skryf Petrus in hoofstuk 2. ‘n Geestelike huis, dit is ‘n huis
    waarin die Heilige Gees woon. ‘n Huis waar die duiwel dit nie sal waag om binne
    te kom nie. Gemeente, kom ons hou aan om op Christus te bou!

    Kom ons sorg
    so daarvoor dat die duiwel nie die kans kry om in ons in te dring nie. ‘n
    Brullende leeu in ons midde – wie sal dit oorleef?

    Ons
    onderskat dikwels die mag van die duiwel. Maar net ‘n bok met lelike horings? Maar
    net ‘n wesentjie wat op jou skouer sit en dinge in jou oor fluister?

    ‘n Mens is
    van nature geneig om die duiwel te onderskat. Soos Adam en Eva destyds, dink
    ons dat mens met hom kan redeneer. Mense dink, as jy nou nie vir God kies nie,
    maar vir die duiwel, dan sal jy nog steeds ‘n lekker lewe kan lei.

    As mens vir
    God kies, dan sal jy ‘n mooi lewe kry, maar dan is daar wel ‘n klomp dinge wat
    jy nie mag doen nie. En as iemand vir die duiwel en die wêreld kies, dan, word
    daar geredeneer, geld min of meer dieselfde.

    Dan, dink
    mense, sal jou lewe heel anders lyk, maar daar sal dan beslis dinge wees
    waarvan jy sal kan geniet, al is dit beslis nie dinge wat Christene sal
    goedkeur nie.

    Gemeente,
    wat in feite gebeur by hierdie voorstelling, is dat jy oor die duiwel redeneer
    as iemand aan wie jy jou lewe kan wy, net soos aan God. Maar wanneer ons na die
    teks kyk, gebruik Petrus ‘n totaal ander voorstelling, vele male
    skrikwekkender. Dit is hoegenaamd nie so dat daar ‘n keuse moontlikheid is nie.

    Hoekom nie? Simpelweg,
    omdat die duiwel ‘n verskeurende leeu is. As jy vir die duiwel kies, sal hy jou
    nie beloon met ‘n lekker lewe nie. Hy sal jou verslind.

    Dit is sy
    aard. Hoe meer hy kan stukkend maak, hoe beter. As jy vir hom ruimte gee in jou
    lewe, moenie dan ‘n lekker lewe verwag nie. Dat die duiwel ons wil bedrieg, ons
    dit wel voorspieël, dit is ‘n feit. Dit het hy ook by Adam en Eva gedoen. Maar
    juis daarom is dit so belangrik dat ons nugter bly.

    Ons praat
    dikwels van die wêreld met al sy verleidings. Maar besef u dat dit eintlik ‘n
    teenstelling is? Want die wêreld is mooi. God het die wêreld geskape.

    Die natuur,
    die liefde, musiek, voedsel, gesondheid, noem maar op. Dit alles vir die mens
    om van te geniet. Die wêreld hoort by God, nie by die duiwel nie.

    Maar helaas
    is die duiwel wel aktief in hierdie wêreld. Hy probeer om deur middel van al
    hierdie mooi dinge, dinge wat aan God behoort, deur dit te misbruik probeer hy
    mense in sy kloue kry. Hy stel die mooi dinge net iets anders voor as soos wat
    God dit bedoel het. Dit is sy werkswyse, al deur die eeue heen. Hy het dit al
    met Eva in die paradys gedoen. Hy het dit ook met Jesus gedoen, toe hy Hom
    versoek het in die woestyn. En met ons doen die satan dit ook. Laat ons daarom
    nugter wees. As u geheg is aan hierdie wêreld, aan God se skepping, moenie aan
    die hand van die duiwel hierdie wêreld probeer geniet nie.

    Want die
    duiwel is nie ‘n betroubare gids nie, hy is slegs daarop uit om jou te
    verslind.

    Maar, sou u
    dalk vra, hoekom het mense wat vir God kies, wat kies om op Christus te bou,
    hoekom het hulle dan nie ‘n onbekommerde lewe nie?

    Hoekom moet ook
    hulle nog so dikwels swaarkry? Op hierdie vraag kan ons as gelowiges ‘n nugter
    antwoord gee. Inderdaad, God se skepping ly swaar onder die las van die sonde. Die
    sonde waarvan die duiwel die oorsprong is. En waarin hy die hele mensdom met
    hom meegesleur het. Ook ons. Sonde maak mense stukkend. Die duiwel is ‘n
    verskeurende leeu, en sonde het dieselfde uitwerking.

    Waar vrede
    tussen mense is, bring sonde onmin. Sonde verbreek nie net die band met God
    nie, maar ook met mekaar. Die gevolge van sonde is katastrofaal.

    Sommige
    mense het ‘n hele lewe nodig om van bepaalde sondes te herstel.

    Die Bybel
    noem siekte ook ‘n gevolg van die sonde. Juis die feit dat ons gelowiges ook
    siek word, elkeen van ons op den duur ongeneeslik, juis dit is ‘n bewys van hoe
    die satan nog steeds rondgaan soos ‘n brullende leeu. Hy spaar niemand nie.

    Daar is net
    een manier om aan sy kloue te ontsnap.

    Petrus
    skryf: weerstaan hom, vas in die geloof.  Slegs die geloof is opgewasse teen die duiwel.
    En nogmaals: glo beteken om te hoop op Christus.

    Hoop dat Hy
    die wonde, wat die sonde geslaan het, sal herstel. Juis wat dit betref is dit
    dan ‘n onmeetlike troos om te weet dat juis God die toekoms in hande het.

    Die toekoms
    van hierdie aarde, die toekoms van die nuwe aarde.

    Die nuwe
    aarde, verenig met die hemel, waar die duiwel en sy bloedspore nie meer gevind
    sal word nie. Waar dood, smart, siekte, onmin, verdagmaking, noem maar op, waar
    al hierdie dinge beëindig sal wees. Maranata, kom tog gou, Here Jesus! Ons kan
    dit eintlik nie voorstel nie: geen dood, geen siekte, geen rusie, geen haat. Ons
    hoop daarop. En ons hoop het ‘n sterk basis.

    Want ons
    hoop is gebou op ‘n onwankelbare fondament en hoeksteen: Jesus Christus.

     

    (Tema: Wie
    nugter is, verklaar oorlog teen die duiwel

  1. Die duiwel bestaan werklik

  2. Slegs die geloof is opgewasse teen die duiwel)

    3         Ons
    stry almal saam

    Petrus skryf
    hierdie brief aan die  Christene in
    Klein-Asië, wat in die verstrooiing gewoon het. So staan dit in hoofstuk 1:1. In
    daardie dae was daar nog maar min kerke. Die Christene was omring deur ‘n see
    van ongeloof. Van tyd tot tyd moes hulle selfs lyding verduur as gevolg van
    hulle oortuiging. Vervolging van die kant van die heidene, of deur die Jode wat
    dikwels die heidene teen die Christene opgehits het. Hulle is uitgelewer om
    gestraf te word, nie as misdadigers nie, nie omdat hulle byvoorbeeld ‘n moord
    gepleeg het of gesteel het nie, maar slegs omdat hulle Christene was. Dit het
    wel gelyk asof die satan aan bewind was in Klein-Asië. In hierdie konteks
    bemoedig Petrus in sy brief die gelowiges:

    Bly
    standvastig! Staan vas in julle geloof! En dit moet julle weet: die
    broederskap, oftewel al die mense wat tot geloof gekom het, hulle ervaar
    presies dieselfde. Julle is nie die enigstes nie. Die lewenswyse van julle
    medegelowiges in ander dorpe, al ken julle hulle nie eers nie, hulle lewenswyse
    roep presies dieselfde reaksie op. Hulle lewe ook in dieselfde wêreld.

    Die wêreld
    waar dit lyk asof die satan kan doen net wat hy wil. Die broederskap, julle
    broers en susters in die geloof, word ook met die rug aangekyk en verdag
    gemaak. Maar wees dapper, en veral: wees nugter! Julle stry vir die goeie saak.

    Hierdie
    wêreld word nie deur die duiwel geregeer nie. Dit is ‘n leuen.

    Dit is
    gesigsbedrog. Jesus Christus het oorwin! Julle behoort aan Hom.

    Die
    broederskap behoort ook aan Hom. In watter land of stad of dorp ook al, orals
    stuit die satan op dieselfde weerstand. Hy kan nie meer houvas kry op die mense
    wat op Christus bou nie. Hy moet selfs voor hulle buig, net soos hy voor Jesus
    moes buig. Ook Jesus is deur die duiwel versoek.

    Drie keer in
    die woestyn, en nog baie meer. Maar die duiwel kon Hom nie verslind nie. Christus
    was gehoorsaam aan sy Vader.

    Slegs voor
    Hom het Hy gebuig. En daardeur het Hy weerstand gebied teen die duiwel. Daardeur
    het Hy ongrypbaar geword vir die kloue van die duiwel.

    En Jesus
    moes ook lyding verduur vir sy geloof. Selfs tot die dood toe.

    Maar die
    feite spreek vir hulleself. Christus het opgestaan! Hy is die Oorwinnaar.

    Daarom sal
    ons ook oorwin, as ons op Hom bou. Daarom kan ons vol vertroue die stryd
    voortsit. Ons is nugter en wakker. Ons dra God se wapenrusting.

    En Jesus
    Christus, ons Koning, gaan ons voor in die stryd teen die duiwel, die wêreld en
    sy hele ryk.

    Geliefdes,
    wat daar ook al mag gebeur. Hoeveel sorge ons ook al mag hê, oor onsself, oor
    ons geliefdes, oor ons kerk, oor ons land, laat ons voortbou op die rots, Jesus
    Christus. Ek besef dat dit veel gevra is. In geloof alleen bou op die rots
    Jesus Christus, en nie enigsins let op ander mense en hulle verwagtinge nie.

    Maar in
    geloof bou is nie dieselfde as blindelings lewe nie.

    Want om te
    glo beteken om op te kyk, weg van mense en die wêreld en al hulle verwagtinge. En,
    hoe vas ons ook alreeds in die strikke van die duiwel is, want die sonde sit
    selfs in ons gene, en hoeseer die gevolge van die sonde ons ook nog steeds
    tref: siekte, angs, gebrokenheid, miskien selfs vervolging soos die Christene
    destyds in Klein-Asië, laat ons maar net bly voortbou op ons rots en hoeksteen,
    Jesus Christus. Ons mag dit saam doen.

    In Hom vind
    sondige mense eenheid. In Hom vind sondige mense die sin van hulle lewe. In hom
    vind sondige mense hoop op die toekoms.

    Christus het
    die oorlog begin teen die satan, Christus het die beslissende veldslag gewen,
    Christus sal dit nou ook voltooi. Kom ons beaam dit met die woorde van Psalm
    46:

    God is ‘n
    toevlug in die nood,

    ‘n rots wat
    altyd vas bly staan,

    al dreig die
    vyand met die dood,

    al storm sy
    leërbendes aan

    ons sal nie
    beef of rugwaarts gaan.

    Want die
    Heer is daar, en Hy hou die wag.

    Amen.

     

     

     

     

     

     

Liturgie: 

(kyk in preek)