Die aanwesigheid van die Heilige Gees in ons lewe

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 20
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 20 HK

LITURGIE:
L. Joh. 14: 15-26 & Joh. 16: 12-15 & Rom. 8: 8-17
SB. 24: 7
SB. 24: 3
Ps. 139: 1, 3, 12
Ps. 145: 3, 5
Ps. 143: 8

Broeders en susters,

Ek moet in hierdie preek praat oor Iemand wat onsigbaar is.

Ons glo dat die Heilige Gees in die kerk en in ons lewe kom woon het. Maar alhoewel Hy nou daagliks by ons is, het niemand van ons Hom nog ooit gesien nie. Nooit het 'n dominee vir u kan wys: kyk, dáár is die Gees! nie. Nooit kon ouers die Heilige Gees persoonlik aan hulle kinders voorstel nie.

Dit maak dit vir ons moeilik om konkreet oor die Heilige Gees te kan praat en dink. Volgens die Kategismus mag u en ek en selfs ons kinders almal sê: "die Heilige Gees is ook aan my gegee". Maar hoé is Hy dan in ons lewe aanwesig? Waaraan kan ons weet dat Hy aan ons gegee is? Die Here Jesus het die Heilige Gees 'n keer met die wind vergelyk: die wind is ook onsigbaar, ongrypbaar. Geen mens kan op die wind beslag lê nie.

Maar wanneer die wind waai, kan elkeen dit sommer sien. Die wind self word nie sigbaar nie, maar dit wat hy uitwerk, kan almal opmerk.

So is dit ook met die Heilige Gees. Al kan ons Hom self ook nie sien nie, dit wat Hy in ons lewe bewerk, kan ons darem wel waarneem.

En dit mag ek in hierdie preek weereens vir u aanwys. Sodat u 'n oog hou, of weer 'n oog kry vir die aanwesigheid van die onsigbare Goddelike Gas wat in ons lewe sy intrek geneem het.

Ek verkondig u:

DIE AANWESIGHEID VAN DIE HEILIGE GEES IN ONS LEWE

Ons gee agtereenvolgens aandag aan:

  1. DIE WERK VAN DIE GEES
  2. DIE WEG VAN DIE GEES
  3. DIE WONDER VAN DIE GEES

1. Die Heilige Gees is die Plaasvervanger van die Here Christus in ons lewe, gemeente. Toe ons Here weer teruggegaan het na die hemel, het Hy sy kerk nie as wese agtergelaat nie. Hy het vanuit die hemel 'n Plaasvervanger gegee wat voortaan tot in ewigheid by ons sal bly. Die Heilige Gees van God. Soos Christus vroeër met sy dissipels saamgegaan het, hulle gelei het, hulle bemoedig het, hulle tereggewys het, so gaan voortaan die Gees met ons saam. Hy het sy intrek geneem in die kerk, ja in die lewe van al die kerk se lidmate persoonlik. En daarmee het Hy die leiding oor ons lewe in sy hande geneem.

Ons kan ons dit nie mooi voorstel nie: hoe kan die Gees in God wees en terselfdertyd ook in soveel miljoene gelowiges?

Ons hoef ons dit ook nie te kan voorstel nie. Ons kan maar op een plek tegelyk wees en maar een ding tegelyk doen. Ons is mense. Maar blykbaar kan die Gees hier én daar wees, en op allerhande plekke tegelyk persoonlik werksaam wees. Hy is God. En dis ook nie sommer dat die een Heilige Gees in die heilige Skrif ook wel in meervoud aangedui word nie: "die sewe Geeste wat voor God se troon is".

Ons hoef maar net te weet, te gló dat die Gees aan ons almal persoonlik gegee is en dat Hy ook regtig in almal as Christus se Plaasvervanger aanwesig is.

U weet hoe gaan dit dikwels met 'n plaasvervanger, broeders en susters. 'n Baie goeie plaasvervanger kan jou algaande heeltemal sy voorganger laat vergeet. Maar alhoewel die Here Jesus Christus die allerbeste Plaasvervanger gestuur het, beywer die Heilige Gees Hom juis daarvoor dat ons die Here Jesus Christus nooit sal vergeet nie. Die Gees bly self beskeie op die agtergrond. Hy vra min aandag vir Homself. Hy eis al ons aandag op vir Christus wat Hom gestuur het. Dit is feitlik sy enigste WERK in ons ons lewe: Hy moet daarvoor sorg dat Christus, wat op die oomblik uit die oog is, nie ook uit die hart sal raak nie.

Dis hoekom die Skrif Hom "die Gees van die waarheid" noem. Hy is dit wat ons oë moet oopmaak en oophou vir die waarheid waaraan ons in ons kortsigtigheid sommer verby kyk. Hy leer ons om omhoog te kyk en die werklikheid van God en die hemel raak te sien. Die Gees leer ons ook om ver terug te kyk, tot voor die sondeval, totaan die goeie begin van die wêreld. Hy leer ons om die oorsaak van alle ellende wat daar vandag in die wêreld is, in te sien: ons rebellie teen ons God en Vader, ons eiewysheid en selfgesentreerdheid as gevolg daarvan.

Maar Hy maak ons oë ook oop vir die liefde van God wat so groot is dat Hy, eerder as om ons sonde ongestraf te laat bly, sy eie geliefde Seun daarvoor gestraf het met die bittere en smadelike dood aan die kruis. En Hy help ons om vandag tot in die hemel te sien, waar Christus na sy hemelvaart ons Voorspraak is by die Vader.

Maar die Gees leer ons dit nie net raaksien nie. Hy word in die Bybel ook "die Gees van die geloof" genoem. Hy leer ons ook om dit alles gelowig te aanvaar. Hy bewerk in ons lewe 'n openheid, 'n ontvanklikheid vir God waardeur ons ons knieë buig vir die Vader in die hemel, waardeur ons ons skaam oor ons skuld en dankbaar skuil agter die offer van ons Here Jesus Christus.

Die Heilige Gees leer vir u en vir my om ons hande vol liefde uit te steek en "Christus en al sy verdienstes te omhels".

Ja, daardie woordjie word in die Nederlandse Geloofsbelydenis gebruik: "omhels" Dis 'n sterk woord. 'n Woord van 'n intieme liefdesgemeenskap. Dié soort woorde gebruik ons belydenis steeds, in navolging van die Skrif self. Ook in die Kategismus sal u die beeldspraak aantref. Die woord "ingelyf" word 'n hele paar kere gebruik: ons word deur die geloof by Christus ingelyf. Deur die werk van Heilige Gees word ons so "met Christus verenig dat ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente is".

Al hierdie uitdrukkings wil duidelik maak dat die Gees van die geloof nie maar net die Here Jesus by ons in gedágtenis hou nie; maar dat Hy so'n sterk band tussen ons Here in die hemel en ons hier op die aarde lê en instandhou, dat ons baie direk aan Hom verbonde bly. Christus en ons bly een, ten spyte van die liggaamlike afstand wat daar na sy hemelvaart tussen Hom en ons gekom het.

En u weet tog hoe belangrik daardie hegte eenheid tussen Christus en ons vir ons is? Daarsonder sou ons nie kan lewe nie!

Ons het mos self die lewe vir altyd verspeel. Ons verdien die ewige dood.

Christus het vir ons die lewe terugverdien. Hy het in ons plek die volle doodstraf gedra. Hy het ons skuld by die Vader versoen en sy toorn laat bedaar.

En slegs as Hy ons saamneem na die Vader toe, as Hy en ons as 'n eenheid: ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente, voor die Vader staan, ontvang ook ons met Christus die lewe de die toekoms terug.

So'n reddende eenheid met Christus kan ons nie self totstandbring nie. Dit kan alleen die Gees van ons Here Jesus Christus. Dis dié dat ons die Heilige Gees ook in navolging van die Bybel "die Gees van die lewe" kan noem. Sonder sy aanwesigheid in ons lewenshuis sou die lewe wat Christus vir ons terugverdien het, nogtans buite ons lewe bly staan. Maar Hy dra in ons lewe binne alles wat Christus deur sy dood en opstanding vir ons verdien het. Hy laat ons lewe weer saam met Christus opbloei vir God.

En dit kan u by uself agterkom, broeders en susters.

Want wanneer die Gees so'n sterk en intieme band tussen die Here Jesus Christus en u totstandbring, verander u hele lewe daarvan. U begin net so word soos Christus is: 'n mens wat die sonde haat en ontvlug.

"Die Gees van die heiligmaking", soos die Heilige Gees in die Skrif met weer 'n ander benaming genoem word, het besiggegaan om ons lewe net so heilig soos Christus te maak.

Dis vir ons nie genoeg om danksy Christus se offer vir ons vergewing van sondes te ontvang nie. Ons wil ook van die sonde self ontslae raak. Ons soek nie meer net onsself nie. Ons begin weer allereers God se eer en die heil van ons nasste te soek. Dit wat vir die meeste mense die gewoonste saak van die wêreld is, wíl ons nie meer doen nie. Ons begin walg van die leegheid en vuiligheid waarmee die mense van hierdie wêreld hulself vermaak. Die interesses van ons lewe kom anderste te lê as by die meeste ander mense. Ons is van heel ander dinge vervul as hulle- ons is vol van God se Koninkryk, sy kerk, sy Evangelie. En waar die hart van vol is, loop die mond van oor. U sing Psalms waar 'n ander spot en vloek. U bid waar 'n ander demonstreer. U kom ook openlik daarvoor uit dat u anders is. U is selfs trots daarop. Want u weet dat slegs dít die egte lewe is: 'n lewe met en vir God.

Maar u is nooit trots op usélf nie. Waar ander mense hoogmoedig teenoor mekaar hulleself handhaaf, buig u ootmoedig u knieë vir God in die binnekamer.

Aan so'n verandering in u lewenshuis kan u by uself agterkom dat die Gees van Christus daar die hef in die hande geneem het.

"Die Gees van wysheid" word Hy ook wel genoem in die Skrif. Hy leer ons mos om weer die HERE te vrees, en is die vrees van die HERE nie die begin van die wysheid nie? Die Heilige Gees wy ons in in die diepste geheime van God. Hy leer vir ons om met heel ander oë in hierdie wêreld rond te kyk as die ander mense. Ons beoordeel allerhande sake heeltemal anders as die meeste mense. Dit wat hulle belangrik ag, is vir ons glad nie belangrik nie. Ons bly rustig waar die ander mense vreesbevange raak. En andersom is ons met onrus vervul waar die meeste mense onbekommerd hulle gang gaan.

Wanneer u hierdie dinge in u eie lewe opmerk, gemeente, is dít die sigbare gevolge van die koms van die Heilige Gees in u lewe. En dan mag u weet dat hierdie eerste gevolge 'n heerlike gevolg gaan kry. Want die Heilige Gees is ook "die Gees van die heerlikheid". Hy wat vandag al 'n nuwe lewe in ons tevoorskyn bring, sal ons eendag in die volle heerlikheid bring. Sy vernuwende werk in ons lewe bly vandag nog beperk tot die binnekant: ons hart, ons gedagtes, ons woorde en dade. En onderwyl is ons buitekant, ons liggaam nog aan verval onderhewig. Maar eendag sal die Gees van die heerlikheid ons sterflike liggame aan Christus se verheerlikte liggaam gelykmaak en ons as volmaakte mense saam met Christus 'n plek gee op God se nuwe aarde.

Besef u hoe 'n belangrike Gas in u lewe kom woon het, broeders en susters?

Iemand wat heeltemal nuwe mense van ons wil maak. Iemand wat ons op die ewige lewe voorberei.

Hou Hom in ere!

2. Maar hoe moet ons dit doen? Hierdie Gas is mos onsigbaar. Hoe kan ons Hom ontmoet en met eerbied en vreugde ontvang?

Dit kan as u weet langs watter WEG die Heilige Gees na ons toe kom. Daaraan wil ons nou vervolgens aandag gee.

Ons lees in die Skrif êrens van "die die swaard van die Heilige Gees". Die Gees hanteer 'n swaard. Ons lewenshuis het blykbaar nie uitnodigend vir Hom oopgestaan nie. Inteendeel, die toegang moes met 'n swaard geforseer word. Met sy swaard moes die Gees deurdring tot in die binnenste dele van die mens om alle onwil en verset by ons weg te sny en ons lewe vir God en Christus ontvanklik te maak.

En daardie swaard is dan volgens die Bybel: "die Woord van God". Met dié oënskynlik simpele middel dring die Gees van Christus in ons lewe deur en neem Hy dit in beslag. Hy neem die weg van die Woord. Sêmaar: die prediking van die Evangelie met sy beloftes en sy eise, met sy bemoedigings en waarskuwings.

Ons het ook gelees in Johannes 14 dat die Here Jesus Christus gesê het: "Die wat my Wóórd bewaar, in hom sal die Heilige Gees kom woon.... ".

U ken natuurlik almal die bekende gedeelte uit die gebed in ons Doopsformulier na die kind gedoop is: "Ons bid u dat u hierdie kind altyd deur u Heilige Gees wil regeer sodat dit christelik en Godvresend opgevoed word en in die Here Jesus Christus mag opgroei en toeneem.... ". As ouers hul gedoopte kind volgens die Woord van God grootmaak, christelik en Godvresend, kom langs dié weg die Heilige Gees in die lewe van hul kind binne en neem daar die hef in die hande. Deur hul opvoeding regeer feitlik die Gees oor hul kind. En lyf Hy ook hulle kind al hoe meer in Christus in sodat dit in Hom opgroei en toeneem.

Ook die opvoeding volgens God se Woord deur die juffrou en die onderwyser in die skool word deur die Gees gebruik om die seggenskap te hou in die lewenshuis van ons gedoopte kinders. En vervolgens die onderwys in die katkisasieklas deur die dominee en die begeleiding deur die leier van die jeugvereniging.

Die sondagse prediking in die eredienste is 'n baie belangrike, weekliks weerkerende middel waardeur die Heilige Gees die heerskappy oor ons lewe behou of terugwin. Met die onderstreping deur die sakramente daarby.

En die besoeke deur die ouderlinge en diakens, selfs as daar vermaan of tugaankondigings gedoen moet word. Elke keer swaai dan die Heilige Gees sy swaard van die Woord om in ons lewe die septer te kan bly swaai. Elke keer sny Hy alle teëstand weg en sny Hy die ruimte oop om in ons lewe te kan woning maak.

Elke keer vestig Hy Hom langs dié weg stewiger in ons lewe om dit op die here Jesus Christus te rig.

Hy doen dit ook deur u reëlmatige Bybellesing by die huis, deur ons gesamentlike Skrifondersoek in die vereniging. Elke keer as ons die Woord van God oop maak en eerbiedig daarna luister, ontmoet ons dáárin die Heilige Gees.

En u laat dus die Gees van God in u woon as u die Wóórd van God in u laat woon.

Die apostel Paulus skryf dan ook rustig die een keer dat die Heilige Gees in ons harte wil woon, en die ander keer (u kry dit in sy brief aan die Kolossense, hoofstuk 3: 16): "Laat die WOORD van Christus ryklik in julle woon... ".

Ek het gesê, gemeente: hou die Gees as Gas in u lewe in ere!

U weet nou dus waarin u Hom ontmoet. Sal u bewus bly daarvan Wie dit is wat na u toe kom elke keer wat die Woord van God na u toe kom?

As u die Woord van God wat aan u voorgehou word, afwys, wys u dus niemand minder as die Gees van God af! As u u ore toemaak vir God se Woord, maak u u lewenshuis toe vir die lewendmakende Gees van Christus.

Die Bybel noem dit: "die Heilige Gees bedroef", of: "jou teen die Heilige Gees verset". U bedroef nie net die mens wat namens Christus die Woord van God aan u voorhou nie, jy verset jou nie net teen die dominee, die ouderling, jou pa of ma of die onderwyser nie. Nee, wie nie na die Woord van God wil luister nie, wys die Gees van God Self die deur.

En dit is die ergste sonde wat 'n mens kan bedryf! Hierdie sonde is onvergeeflik, het die Here Jesus Christus gesê.

U weet dalk: heelwat mense het al met die kwelvraag rondgeloop of hulle miskien die sonde teen die Heilige Gees begaan het. En dan het hulle gedink aan bepaalde seksuele sondes wat hulle gedoen het. Of ander verborge sondes wat hulle aan byna niemand durf bely het nie.

Dalk is daar vanaand hier wel broeders en susters wat nog met die probleem in hul lewe worstel: het ek nie die onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees gedoen nie?

Die sonde teen die Heilige Gees is egter niks anders nie as 'n hardnekkige verwerping van die Woord van God, gemeente. Dit is die weiering om die Gees van God sy bevrydende werk in jou lewe te laat verrig; die weiering om jou deur Hom by die Here Jesus Christus te laat inlyf, die weiering om jou deur Hom so te laat regeer dat jou lewe aan die lewe van Christus gelykgemaak word.

Daar is vir enige sonde vergewing, het Christus gesê; maar wie die Heilige Gees nie in sy lewenshuis wil toelaat nie- hoe kan hy of sy vergewing kry?

Ek kan dus die wat bang is dat hy of sy die sonde teen die Heilige Gees gedoen het, gerusstel: juis die angs dat jy die Gees bedroef het, is die beste bewys dat jou lewenshuis nie vir die Gees toegesluit is nie. Jou vrees dat jy nie volgens die Woord van God gehandel het nie, bewys alleen maar dat jy jou wel deur daardie Woord wil laat regeer.

Die wat heeltemal onverskillig staan teenoor God se Woord, die wat hom toenemend afsluit vir die vermaan van sy ampsdraers, dié broeder of suster moet eerder bevrees wees vir Christus se waarskuwing teen die onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees.

Moet maar u ore wawyd oophou om te hoor wat die Gees tot die gemeente sê, broeders en susters. Bly besef met Wie u te make het so dikwels die Woord van God aan u voorgehou word. Wie Hom afwys, wys die lewe af!

3. Daar is tenslotte nog een ding waarop ek u moet wys. En dit is die WONDER van die aanwesigheid van die Gees in ons lewe.

Die Kategismus begin sy antwoord in Sondag 20 met die belydenis dat die Heilige Gees saam met die Vader en die Seun ware en ewige God is.

Met ander woorde: in die Heilige Gees kom niemand minder nie as God Self in ons lewe woon. God wat weer alles in almál wil word, begin reeds om weer alles in óns te word.

Maar Hy wat in ons kom woon het, woon nie in almal nie. Daar is talle mense aan wie God verbygegaan het en wat Hy in die sonde en die dood laat lê het. Hul lewenshuis word steeds geregeer deur die duiwel en die dood.

God kón ook ons lewenshuis verbygegaan het. Ook ons deur was mos toe vir Hom. Dit was ook nie ons wat vol verwagting die deur vir Hom oopgesluit het nie. Ek het dit reeds vir u gesê: die toegang moes met 'n swaard geforseer word. Die Gees moes Homself met Goddelik geweld toegang in ons lewe verskaf deur die poort oop te breek met die Woord van God.

Maar Hy hét dit gedoen!!

Ook in ons lewe het Hy sy intrek geneem. Hy het die meeste van ons hier van kleinsaf geregeer deur die christelike en Godvresende opvoeding van ons ouers, deur die begeleiding volgens die Woord van God in die skool en die katkisasieklas en deur die weeklikse prediking in die kerk en die jaarlikse huisbesoeke. Ander van ons hier het Hy op later leeftyd in die hart gegryp en die lewenshuis soewerein in beslag geneem.

Ek het dit so pas die WONDER van die aanwesigheid van die Gees in ons lewe genoem, gemeente. Want daar is niemand hier vanaand wat dit verdien het. Ons het dit louter en alleen aan God se genade te danke waardeur Hy ons uitgekies het om weer sy kinders te wees.

Is dit dan vreemd dat die Heilige Gees in die Skrif ook, om nog een benaming te noem, "die Gees van genade" genoem word?

U kan die Gees nie sien nie. Hy gaan onsigbaar sy gang en doen onsigbaar sy werk. Maar ek mog vanaand die resultaat van sy koms en sy werk in u lewe weereens vir u aanwys. U kan dít mos sien en opmerk?

Ontdek daarin dan God se genade oor u lewe.

En verwonder u met 'n groot verwondering.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)