Wat swak is by God, is sterker as die mense

Minister: 
Ds EA de Boer
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 6
Preek Inhoud: 

08-03-92

SONDAG 6

Votum - seëngroet
Sing: SB. 7 : 1, 3
Geloofsbelydenis
Sing: SB. 7 : 4, 10
Skriflesing: 1 Korinthiërs 1 : 17-31
Kategismus : Sondag 6
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 89 : 12, 13, 14
Prediking
Sing: SB. 9 : 1, 2
Dankgebed
Sing: SB. 9 : 3, 4, 5, 6
Seën

Broers en susters in ons Here Jesus,

hoe goed ken jy die mense vir wie jy lief is? Almal kan wel aan iemand dink wat 'n spesiale plek in jou lewe inneem. En elkeen het sy eie plek. Man en vrou in die intimiteit van hulle huwelik, 'n seun en 'n dogter in die ontdekking van hulle liefde. Jy wil die ander mos ken! Hoe kan die hart van ouers na hul kinders uitgaan en wat kan 'n kind daarna verlang om sy pa of ma regtig te ken. Oopmaak vir mekaar. Dink ook aan vriendskappe: dit is almal vorme van liefde. Bo almal staan die Here wat sy liefde vir jou gewys het, baie meer oortuigend as die mense. Hy is die Vader wat ons sy kinders noem en Jesus wat sy dissipels "my vriende" noem, wat vir die gemeente "my bruid" sê. Hoe goed ken u Hom? Is dit u diepste wens om Hom u hart te wys en om sy hart te soek?

Die Kategismus praat in hierdie Sondag van die Middelaar. Hy word geteken soos wat Hy is: God en mens in die een persoonlikheid van Jesus Christus. Sy werk, sy opoffering, sy liefde word nou uit sy persoon verklaar. So 'n Sondag gee jou die geleentheid om vir jouself te vra: hoe goed ken ek Hom eintlik? Wil ek Hom met my verstand én met my hart leer ken? Elke keer dieper. Die kerklike jaar tel sewe weke wat op Goeie Vrydag uitloop: die lydenstyd. Dit is mooi om die kerklike jaar in die loop van die gewone tyd te laat saamkom. Midde-in die onsekerheid van die land vandag, onthou die christelike kerk die pad van die lyding en liefde van ons Heiland. Sodat die daaglikse lewe nie deur die gebeure van die samelewing oorspoel word nie. Ek preek vanaand in opdrag van Hom, jou Heiland, oor:

WAT SWAK IS BY GOD, IS STERKER AS DIE MENSE

  1. die swakheid van die seun van die mens (v/a 16+19)
  2. die krag van die Seun van God (v/a 17+18).

1. DIE SWAKHEID VAN DIE SEUN VAN DIE MENS

Die uitkoms van die vorige Sondae is duidelik: die mens het hoë waarde deur die skepping na God se beeld, die verlies van die waarde, die skuld is dus ook baie hoog. Daar is beslis geen ander skepsel wat jou plek kan inneem nie. Dus moet die mens selfs die verhouding met God regstel. Onthou u nog die verrassende woorde van Jesaja 59? "Die HERE het die onmag van die mens gesien en Hom verbaas dat niemand tussenbei tree nie". God self het tussenbei getree, midde-in die onreg en die sonde op aarde! Hy het vir ons 'n Middelaar beskik.

Die eerste wonder aan sy persoon is: dat Jesus werklik 'n mens geword het. Sy sondeloosheid is daarmee beslis nie in teenspraak nie. Adam was tog juis 'n egte mens?! Jesus is meer mens as wat ons dit is. Ons sonde maak dat ons dikwels ónmenslik handel. As 'n mens God nie liefhet nie, is dit ónmenslik, want God het die mens geskep óm Hom lief te hê. Jesus is sondeloos en dus meer normaal as ons. Hy het egter net soos ons: swak geword. Kyk, hierdie wonderlike woorde moet jy uit jou kop leer: "Ons het 'n hoëpriester was met ons swakhede saamvoel". En: "Hy kan saamvoel met die onwetendes en dwalendes, omdat hyself ook met swakheid bevange is" (Hebr. 4:15; 5:2). Want daar was wel die sondeloosheid in Jesus. Daar was egter nie dieselfde krág soos Adam s 'n nie. Christus het die verganklike, sterflike van ons menswees op Hom geneem. Daar was nie 'n paradys vir Jesus nie, maar 'n menslike liggaam met baie swaktes, soos ons s 'n. Nie 'n paradys om in rond te stap nie, maar 'n samelewing vol ellende. Christus is 'n regverdige (= sondelose) mens, ja, maar ook 'n ware (= 'n swak) mens.

Paulus skryf in 1 Kor. 1 oor die wese van die Evangelie. Dit is die evangelie van die kruis, van die Gekruisigde. Dit is grote dwaasheid in die oë van mense. Hoekom? Omdat die kruis glad nie 'n bewys van krag lyk nie, maar 'n teken van swakheid. Hoekom sou God sy Seun aan 'n kruis laat stérf?! Paulus sê: "vir ons wat [deur die kruis] gered word, is dit die krág van God" (vs. 18). Want deur die Gekruisigde hét God verlossing bewerk: die wonderbaarlike uitkoms vir die dwase en swak mensheid. Dan sê die Bybel: "want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense" (vs. 25). "Die swakke van God", staan daar letterlik. God het die pad van die swak mensheid op aarde gesien. Hy het die pad gevolg en daarop ingegryp. Die ewige Seun van God het op dié pad ingestap.

V/a 19 wys jou op die bron van jou kennis oor die Middelaar. Ek weet dit uit die heilige Evangelie! Dié "evangelie" word dan op 'n besondere wyse beskryf. Daar staan nie: 'ek weet dit uit die Bybel' nie. Nee, ons gaan terug na die bekendmaking van God op aarde: die bekendmaking vòòr die skriftelike vaslegging in die Bybel. Want al in die gee van sy Woord het God in ons swak wêreld ingegaan! God het die boodskap van verlossing alreeds in die paradys bekend gemaak. In die paradys? Ja, maar ons sal moet duideliker praat: al op die grens van die paradys. Want dit het ná die sondeval gebeur, toe die mens verdryf sou word. Toe die vyandskap aangekondig is: "Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, tussen jou saad en haar saad" (Gen. 3:15). Ons noem dit die "moederbelofte", die moeder, die eerste van alle verdere beloftes. Onthou: die HERE sê hierdie woorde vir die duiwel! Dus in hierdie swak, gebroke wêreld. Dit is 'n dreiging aan hom wat ons ewig pla! Uit daardie dreiging put ons moed: daarin kan jy 'n belofte aan jou hoor.

Want die saad van die vrou, sal "die kop van die slang vermorsel". Die saad: 'n nakomeling wat dan nog onsigbaar is, ongebore. 'n Belofte wat nog heeltemal in die swakheid van die mens opgesluit lê. Die kind uit die gevalle man en vrou sal redding bring. In die profesië van die Bybel is daar baie meer woorde wat die swakheid van die Middelaar aanwys. Hy word genoem: die seun van 'n mens (menseseun). Die profesie praat ook van "die kneg van die HERE". Jes. 53 teken die swakheid so: "Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, sodat ons Hom sou aansien nie". Die Messias word ook genoem: die "spruitjie", die klein takkie wat byna onsigbaar begin groei. Wat die Kategismus nie hier noem nie is: die mense wat as middelaar moes optree. Moses is die bekendste voorbeeld. Die man wag gebuig en bykans gebreek het onder die las om middelaar tussen die HERE en die volk te wees. Nee, nie profete of priesters of konings kon dié volk red nie.

Ook die wette en tempelseremonies wys op die offer wat God gesoek het: om die lewe van die mens te kan vryspreek en te seën. Dink aan al die bloed wat gevloei en van Jesus getuig het. Mooi vat die Kategismus dit saam: God het dié belofte van die Middelaar laat verkondig én laat afbeeld. Hoorbare en sigbare onderwys, die Woord en die illustrasies in die wet: dit het getuig van die swakheid wat God ken, dit het getuig van die Mens wat moes kom. En ons weet by elke bladsy in ons Bybel: Jesus is in sy mensheid die pragtige vervulling van die Evangelie. Die swakke van God: dis dat Hy sy Seun ons bestaan wou laat deel. Om by ons op aarde verlossing te bewerk. Sterker: in ons menslike natuur, in my vlees.

2. DIE KRAG VAN DIE SEUN VAN GOD

Die Ou Testament praat nog min oor die godheid, soos wat ons Here Jesus God en mens in een persoon is. In Jesaja 9 kom dit wel uit: "want 'n kind is vir ons gebore, 'n seun is aan ons gegee; en Hy word genoem: wonderbaar, raadsman, sterke God, ewige Vader, Vredevors". In ander profesië skemer die godheid van Jesus deur: "die HERE het tot my Here gespreek: sit aan my regterhand" (Ps. 110). Die "Heer" waar Dawid van praat in sy Psalm, is: die seun van Dawid wat belowe is, Hy wat ewig sal regeer.

'Waarom moet die middelaar terselfdertyd ware God wees?' vra die Kategismus. 'Om deur die krag van sy godheid die las van die toorn van God aan sy mensheid te kan dra'. Jy ontmoet Jesus se krag in die wonders wat Hy verrig het, in die gesag van die woorde wat Hy gespreek het. Sy geduld, sy liefde, sy volharding: dit kom uit die krag van sy God-wees weg. Broers en susters, ook die band tussen Vader en Seun mag ons sien. Dink aan die gebede van ons Here: wanneer jy dit in die Bybel lees, mag jy meelúister hoe Hy praat. Hoe werklik Hy deur die Vader gestuur is en hoe bewus Hy homself van daardie sending is. Só bewus en gewillig het Hy die lyding op Homself geneem. Dié vrywilligheid is nog indrukwekkender, wanneer jy bedink dat Jesus bewus was van die swaarte van die toorn van God. Dink aan sy gebed in Getsemané.

Ja, teenoor die 'las van die toorn van God' moes iets staan wat sterker is as ons. Dié las is baie swaar. Onthou u: die ewige toorn van God wat homself in strawwe in tyd en ewigheid uiter. 'n Hele mensheid het baie toorn opgeroep. Die Seun van God is die kind wat vir Maria belowe is. Ja, Hy kán dit regrky: 'om vir ons die geregtigheid en die lewe te kán verwerf en teruggee'. Hy het namens God gekom, van God af: dus is Hy alreeds sterker as ek, as ons almal saam. Sterker, suiwerder, liefdevoller!

Die 'teruggee van die geregtigheid en die lewe': dit wys die groot liefde. Daaragter skuil die wil om terug te gee wat ons op so vreeslike wyse verloor het. Om terug te gee wat ons op so ontstellende wyse kortkom. Ek hoop u besef baie goed wat u alles kortkom sonder God se bystand? Kyk, dit is een manier om te sê watter rykdom Christus vir my is: Hy gee my namens God terug wat ek verloor het. Jy kan dit egter op 'n ander manier, nog mooier sê. En dit is want antw. 18 doen. 'Wie is hierdie middelaar wat terselfdertyd ware God en werklik mens is?'. 'Dis ons Here Jesus Christus: wat God ons gegee het'! God het ons baie teruggegee, maar God het vir ons eerste Hom gegee! En in Hom, in dié persoon wat jy mag ken, kry ons 'wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing'. Dit is wat Hy is: Hy is wysheid, Hy is regverdigheid, Hy is heilig, ons Verlosser!

Hierdie opsomming is 'n letterlike aanhaling uit 1 Kor. 1, die bekroning van die Skrifgedeelte oor die dwaasheid en die swakte van die kruis. So swak en dwaas in die oordeel van mense, maar inderwaarheid so 'n groot krag: Jesus, menseseun en Seun van God, is vir jou gegee as die verpersoonliking van God se wysheid, sy geregtigheid, sy heiligheid, sy verlossing. So word dit van my, omdat Hy my Saligmaker is: ek word regverdig genoem, omdat ek Hom in my hart het, omdat ek om sy ontwil verlos is. Ek mag heilig wees en selfs 'n bietjie wys. My dwaasheid is voortaan my gelóóf. My swakheid is van nou af 'n basis vir God se krag. U weet, wanneer die sonde vergewe is, het die swakheid nog gebly. Elkeen weet wat die swakheide van sy lewe is. In die verlossing mag ons sê: my swakheid getuig nie meer teen my nie. Want in dié swak vlees het die Seun van God gekom. God het Hom nie geskaam om my natuur aan te neem nie! Dit is ook die krag van die godheid: om die menslike natuur te kan, te wil dra.

God het ons Here Jesus Christus (sy volle name!) gegee: tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing. Sien jy dié werk van God in jou lewe gebeur? Wens jy dit jou broer of suster, jou vriend of vriendin toe? Dit: dat daar wonderlike dinge in die lewe van mense gebeur. Dat hy en ek Christus navolg. Dat daar wysheid kom wat sig op die daaglikse lewe kry. Wysheid ook wat dit waag om die samelewing te ondersoek en in vertroue op God oor die toekoms te praat. Sien jy die werk van God in Christus gebeur? Dit: dat daar mense is wat téén die sonde is, teen die onreg, teen die ontheiliging van God se werk. Dit is die volkome verlossing. Ja, volkóme verlossing is die lang pad wat God met die mense loop. Volkome: om hulle die sonde te leer háát en om werklike liefde te wek. Liefde wat hele harte, die volle verstand en die totale krag van 'n mens vra. Is dit moontlik? Is dit realisties by swak mense wat beslis nie sondeloos geword het nie? Ja, dit is. Want wat swak is by God, is sterker as die mense.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)