God sal eendag genadig reg spreek

Minister: 
Ds EA de Boer
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Openbaring 20
Preek Inhoud: 

29-09-91

OPENBARING 20 : 12

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 139 : 1, 8
Wetslesing
Sing: Ps. 56 : 3, 4
Skriflesing: Daniël 7 : 9-14; 12 : 1-4, Openbaring 3 : 1-6; 20 : 10-15
Gebed
Kollekte
Sing: SB. 46 : 1, 4, 5
Tekslesing: Openbaring 20 : 12
Prediking
Sing: SB. 46 : 2, 3
Dankgebed
Sing: SB. 45 : 9, 10, 12
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

hoe kom 'n predikant daartoe om hierdie teks vir die preek te kies? Soms werk jy volgens 'n plan. Daar is ook tye dat jy die teks jou laat gee. Die Heilige Gees kan mos die planne lei wat jy met jou verstand opstel. Hy kan egter ook 'n ingewing van mens se hart gebruik.

In die eerste plek was daar in die preek van die vorige Sondag 'n natuurlike aanleiding. Die hoogtepunt van ons teks was die woorde van die Here Jesus: dit is mooi dat julle die bose geeste in my naam kan oorwin, maar "wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskryf is" (Luk. 10:20). 'n Vraag uit die gemeente laat jou verder daaroor nadink: is dit die bewys van die uitverkiesing wat seker is óf kan iemand se naam nog uit die boek van die lewe uitgewis word? Dit was die plan om te preek.

Ook het ek in hierdie week met iemand Psalm 56 gelees, die Psalm wat ons ook gesing het: "U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?". God sien dit mos wel, wanneer sy kinders hulle kruis moet dra en hulle trane voor sy aangesig laat loop. Ons hemelse Vader sê Hy onthou ons stryd en ons trane. Hy onthou ons name. Dit raak jou hart, dit het my geraak.

Wat is alles in God se boeke? Wat is daardie "boeke" waarin so baie by die HERE opgeskryf is? Wat sê die beeldspraak? Ek bedien u die Woord van die almagtige God:

GOD SAL EENDAG GENADIG REG SPREEK

  1. uit die boeke
  2. aan die name
  3. oor die werke

1. GOD SAL EENDAG GENADIG REG DOEN: UIT DIE BOEKE

Die gedeelte waarin ons teks staan, is 'n hoogtepunt. Die oorwinning op die satan is in lewendige beelde beskryf. "Vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp". Dit lees jy in vers 9-10. Nou verspring in vs. 11 die beeld in hierdie visioen. Die visoene in die Bybel is mos om te kyk: dit is beelde wat verspring. Die aandag word vasgevang deur die troon van God, 'n groot wit troon! Dit kom so sterk vorentoe, asof dit vooruit spring en die aarde en die hemel van hulle plek af wegdring. Hier kom God "voor wie se aangesig die aarde en die hemel wegvlug". Noudat die HERE God sigbaar verskyn, is dit tyd dat aarde en hemel gaan verander. [Die volgende hoofstuk, die beelde van die visioen in hf. 21 sal die nuwe hemel en aarde beskryf].

Nou sit God op sy magtig, helder wit troon! "En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan" (vs. 12a). Die opstanding word beskryf, asof dit besig is om te gebeur. Ook dit is 'n kenmerk van die visioene: alles is besig om te gebeur, jy sien hoe dit gebeur! Die "dode" is die mense wat uit die graftes mag opstaan. Hulle kom staan, hulle kom voor God se troon tot stilstand. Vers 13 beskryf die gebeure van die opstanding: "en die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was". Hoe mens ook gesterf het en waar jy ook al begrawe was, jy kry jou lewe uit die dood weer! Almal kom voor God se troon, "groot en klein". Of jy beroemd was in hierdie lewe of 'n eenvoudige mens, jy kom voor die troon van God Almagtig. Of jy volwasse geword het of nog 'n kind was. Of die lewe volgroei was of dat dit te vroeg afgebreek is, elke mens verskyn lewend voor God.

Nadat jy die dode sien herlewe en nadat elkeen voor God se troon kom staan het, word voor God "die boeke oopgemaak". Daar is boeke in die meervoud. Daar is ook nog "'n ander boek, die boek van die lewe" wat ook oopgeslaan word. Die verspringing van die beelde gaan vinnig: eers die troon, daarna God wat op die troon sit, dan die opstanding uit die dood en tenslotte die boeke wat oopgemaak word vir die groot oordeel. Kom gaan ons 'n bietjie langsamer. Wat is "die boeke"?

Ook in Daniël 7 is gepraat van die boeke. "Die gereg het gaan sit en die boeke is geopen" (:10). In daardie visioen wat Daniël mog sien, kom daarna die Seun van die mens. Dit is Jesus wat die Seun van God is: Hy het gekom en "aan Hom is gegee die heerskappy, die eer en die koningskap" (:14). Wat vervolgens beskryf word is: die geskiedenis wat deur God en Christus bestuur word! Dit is net soos in Openbaring 5: daar is die Lam wat die boekrol met die sewe seëls oopmaak. a.Die planne van God sal uitgevoer word in die geskiedenis. Dit is in die Bybel die eerste betekenis wanneer oor "die boeke" gepraat word: God se planne om die lewe op aarde te red of te rig.

Die boeke van God bevat ook die gebeurtenisse: wat nou in b.jou lewe is: dit gaan ook oor jou lewe. Ons sing in Ps. 139: "in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geen een van hulle daar was nie" (:16). Ons het ook Psalm 56 gesing. "U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?" (:9). Die HERE sien tydens u lewe die moeites, die hartseer en Hy onthou dit. Dit het waarde vir Hom. So kan dit ook uitgedruk word, wanneer mense onreg doen. As dit oor die hoogmoed van God se eie volk gaan, lees ons: "toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor en daar is 'n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees" (Mal. 3:16). Ook die hartseer oor die ongeloof het waarde by God. Hy onthou dit.

Die boeke: dit is wat God doen én wat mense oorkom in hierdie lewe. Dit is God se planne en die werklikheid op aarde. Dit is die aardse lewe met sy mooi en sy bose dade. God sal eendag genadig reg doen: uit die boeke. Ons praat van ons dagboek. Dit kan wees: die dagboek waarin jy jou planne en afsprake opskryf. Dan laat jou dagboek jou vorentoe kyk. 'n Dagboek kan ook wees jou "dairy": die boekie waarin jy opskryf wat almal op die dag gebeur het. Dan kyk jy in jou dagboek terug. Die boeke van God: dit is sy agenda en sy dairy, sy dagboek vir planne en gebeurtenisse.

Tydens die laaste oordeel sal die planne van God en die werklikheid op aarde met mekaar vergelyk word, asof daar boeke langs mekaar gelê word. Die vergelyking met boeke wat naukeurig volgeskryf is, sê: die dinge wa u in die diens van die HERE gedoen het, het waarde; dit staan opgeskryf!! Die dinge wat sondig was, was van 'n verskriklike belang, soos die HERE sê: "Kyk, dit staan voor my aangesig geskrywe; Ek sal nie swyg nie, tensy dat Ek dit vergeld" (Jes. 65:6). God kan die onreg nie vergeet en Hy wil die hartseer nie vergeet nie. God oordeel op daardie dag genadig en regverdig.

Die beelde in hierdie visioen gaan blitsvinnig verder. Nou alreeds hoor ons van die gevolge. Plotseling word die dood vernietig! Die afsterwe kry 'n einde, voorgoed. Ook die doderyk wat dan mos leeg is, sal verdwyn. Ook word in die laaste vers beskryf dat die mense wat nie in die boek opgeskryf was nie, in die poel van die vuur gewerp is (vs. 15). Die verskriklike gevolg dwing ons verder te vra: wat wil die Here verder sê met "die boeke"? Wat sal Hy met die boeke doen, as dit oor my gaan? Nou is ons by:

2. GOD SAL EENDAG GENADIG REG DOEN: AAN DIE NAME

Nou kyk ons spesiaal vir "die boek van die lewe". Ook al is dit hier in ons teks nie uitdruklik gesê nie, staan volgens die hele beeldspraak van die Bybel daarin die name. "Verheug u dat u name opgeskryf is in die hemele", sê ons Here Jesus. Moet jy dan aan 'n naamlijs dink, byv. soos 'n telefoonboek, 'n eindelose en lange lys met name? Nee, dit sou 'n onpersoonlike opsomming beteken en dit is nie reg nie. "Jou naam" sê in die hele Bybel: dit is jy, jou spesiale persoonlikheid soos jy geken word, soos mense lief vir jou is, soos die HERE jou ken en lief vir jou is. Jou naam het vir die Here 'n inhoudryke klank wat jou hele persoon oproep, soos Hy jou sien. As jou naam in sy boek staan beteken dit: Hy is presies op hoogte van jou lewe, Hy ken jou persoonlik. Net jou naam sê alreeds alles. God se dagboek bevat 'n naamlys, soos jy agterin jou dagboek 'n naamlys volgens die alfabet het, waarin alle name staan van mense wat vir jou belangrik is. Waar bly hulle (adresse), hoe kan jy hulle bereik (telefoon)? Jy mag is God se persoonlike naamlys staan, voorin sy dagboek.

Die opskryf van name in 'n boek: kom ons kyk waar die beeld, die gewoonte wegkom. In Exodus lees jy dat Moses na die sonde met die gou kalf vir sy volk pleit. "Nou dan, as U tog maar hulle sonde wou vergewe! En so nie, delg my dan maar uit u boek wat U geskryf het!" (32:32). Nee, antwoord toe die HERE, "wie teen My gesondig het, dié sal Ek uitdelg uit my boek" (:33). Dit is pragtig hoe lief Moses vir sy volk is. Dit is vreeslik dat wie sondig uitgewis sal word. Maar: waar het Moses die beeld van die name in 'n boek weg? Daar is tot dan toe nooit oor die boek van die lewe in die Bybel gepraat nie. Die beeldspraak is ontleen aan: die registrasie van die Israëliete, hulle bevolkingsregister.

Dit is 'n prosedure wat jy op talle plekke in die OT raakloop. Elke Israëliet was daaraan gewoont: jy word by God se volk gereken. Die opskryf van jou naam is van groot waarde. Dink byv. aan die Psalm waarin voorspel word dat die heidene in God se volk opgeneem sal word: "Die HERE tel as Hy die volke opskryf: hierdie een is daar gebore" (87:6). Hulle is ook opgeskryf! As jy bly is dat jou naam in die register van die kerk staan, is jy so ook by God ingeskryf.

Dat jy as lidmaat van God se volk opgeskryf is: dit kan 'n sterk dryfveer vir jou wees. Dit is jou sekerheid, jou trots. Daarom is uitwissing so 'n vreselike ding. Dink aan Moses se opoffering: "delg my maar uit U boek". 'n Wanhopige Psalm vra oor die mense wat God se kind vervolg: "Laat hulle uitgedelg word uit die boek van die lewe" (69:29). Daarom is die belofte so wonderbaarlik mooi: "Wie oorwin, ... Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie" (Openb. 3:5). Jou naam is belangrik vir die Here juis terwyl jy lewe! Dit is ook hoekom ons vir ons kinders dikwels 'n spesiale doopnaam kies. Die volle naam word op dié belangrike moment hardop uitgespreek: daardie kind met die spesifieke naam is 'n kind van God! U weet hoe die naam van u kind, van u broer of suster, van u geliefdes belangrik is: die naam kan jou bly maak of tot trane bring. Sulke name is in die boek van die lewe, in die naamlys by God se dagboek.

God sal eendag genadig reg doen. Hy bewaar die boek van die lewe. Wie daarin opgeskryf is, is die mens wat God verkies het óm in die geloof te oorwin. Die "boek van die lewe" praat nie van 'n abstrakte besluit van verkiesing nie: dit is God se verkiesing saam met die lewe in die geloof! God sal oor sulke name besluit: of mense uit die geloof geleef het, of hulle die roeping gevolg het. Ja, dan sê vers 15 ook: "en as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp". Daar is mos ook sulkes wat by die oordeel afgewys word. Nee, dan sê die Bybel nooit: die een was nooit opgeskryf in die boek van die lewe nie. Die Here praat ook nooit van 'n boek van die dood nie. Ons weet dat daar verwerping is, maar die Here ontmoedig niemand deur van 'n boek van die dood te praat. Die Here wil ons door die woorde oor die boek van die lewe juis almal aanmoedig en niemand ooit ontmoedig nie. Deur jou naam aan te spreek en oor sy boek te praat wil Hy almal trek: om met liefde te glo, om dankbaar en bly te lewe, om in God se boek, in sy gedagtes te wil bly.

Kom ons vat saam wat ons gesien het: "die boek van die lewe" is God se keuse vir jou saam met jou lewe in die geloof. Onthou uit punt 1: "die boeke" in meervoud is God se planne en ons lewe in mooi en in bose dade. Dit is geregistreer: so intens het God tot nou toe die geskiedenis, jou lewe beleef! So intens volg Hy of jy dankbaar bly vir jou roeping. Dan is die laaste dit:

3. GOD SAL EENDAG GENADIG REG DOEN: OOR DIE LEWE

Die boeke wat voor God se aangesig neergelê is, word oopgeslaan. Dan word "die dode" geoordeel. Die dode: die mense wat gesterf het en dan opgewek is en lewendig voor God staan. Almal sal geoordeel word, sê ons teks, "na wat in die boeke geskryf is, dit is volgens hulle werke". Dus: nou gaan dit weer oor die eerste boeke, die boeke in meervoud waaroor ons eerste gepraat het. Dit was die boeke waarin dit oor God se planne en oor jou lewe gaan, oor die mooi en die bose dade wat God in jou lewe saambeleef het. Dié boeke word vergelyk met die boek van die lewe: staan jou naam in altwee opgeskryf? Kom dit uit: die een boek met die andere?

Ons wonder: God oordeel tog genadig in Christus?! Dit maak tog nie saak hoeveel goeds jy gedoen het nie? En: as die sondes my vergeef is, sal God dit tog nooit onthou nie? Nee, dis reg: die HERE onthou nie die sondes wat vergeef is nie. Tog praat die Bybel baie kere oor die gerig oor die werke. Dit wil sê: van jou totale lewe moet 'n getuienis uitgaan dat jy die genade gesoek het, dat jy in die geloof geleef en gestry het. God doen reg: Hy beoordeel jou of jy werklik sy kind wou wees. Dit is die groot werklikheid van die verbond. Die HERE sê "jy is my kind". Dit kan jy seker weet, solank jy dan ook soos 'n kind van Hom lewe. Sodra jy nie opreg meer wil nie, is jou sekerheid weg.

Dit is pragtig hoe selfs die goeie werke 'n deel van God se planne is. Paulus skryf êrens: ons is die maaksel van God, ons is in Christus Jesus "geskep tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel" (Ef. 2:10). Die mooi werke van die christen is deur God voorberei: jy kan en jy sal daarin wandel! In die groot gerig vra God presies dieselfde wat Hy vandag vir jou vra: het jy daarin gewandel? Ek het dit vir jou voorberei! U hoef nie skrikkerig te word, wanneer u oor die gerig oor die werke hoor nie. Die werke is mos die werklikheid van die lewende geloof. God het voorberei hoe 'n christen sal lewe. Hy maak mee hoe u leef! Hy sal dit onthou! Wat in die boeke staan is hoe u vandag voor sy aangesig lewe. God doen reg. Hy doen dit met genade, wanneer jy uit die genade lewe. God doen niemand onreg op daardie dag.

Die Here maak baie mooi vir u duidelik dat almal opgeskryf is in die boek van die lewe wat saamwerk in sy diens. Vir sy dissipels het die Here gesê: "wees bly, omdat julle name in die hemele opgeskryf is". Paulus praat van "Clemens en my andere medewerkers wie se name in die boek van die lewe is" (Fil. 4:3). As jy besig is vir die Here, erken God jou skriftelik as syne. Dié sekerheid is 'n beskerming. Die Openbaring sê ook: die satan sal agterkom wie opgeskryf is en wie nie. Wie by God behoort, is veilig teen die versoekings.

Ja, daar is mense, daar is geliefdes oor wie ons twyfel. As jy self bly is met die sekerheid van God se verkiesing en van jou bewaring, sal die hartseer oor afdwaling groot wees. Jy sal vir hom bid, met haar praat, solank jy kan. Jy sal getuig van God se liefde in Christus, van jou eie blydskap in die geloof, van die lewe volgens sy wil. Daar is altyd hoop: die hoop rus in God. Hy is mos magtig en genadig om nog bekering te bewerk! Hy werk mos aan die boek van die lewe. Selfs wanneer die persoon vir wie jy lief is, gesterf het, is daar hoop. Jy mag mos nie oordeel nie. Jy het die reg nie. God sal dit doen, eendag: regverdig én genadig. Net Hy weet of daar ruimte vir genade is. Ons kan en hoef oor niemand in wanhoop met 'n oordeel in ons hart te leef nie. God weet alle dinge, net Hy ken die harte. Nee, jy ken die ander se hart nooit soos God dit ken nie. Jy kan egter wel jou hart wys. Jy mag die blydskap deel: om 'n ander te troos of te oortuig.

Dan sê die slot van Openbaring: wie mag in die ewige lewe op die nuwe aarde, in die nuwe Jerusalem kom? "Net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam" (21:27). Hoor u dit: dié boek is die boek van die Lam! Dit is Jesus wat Homself opgeoffer het om jou 'n kans te gee om vrolik en veilig te lewe. God doen genadig reg: wie die Lam volg, is alreeds vry. Sy lewe getuig vir God en mense alreeds van dankbaarheid. So 'n lewe bly opgeskryf, omdat God dit lewe met vreugde van dag tot dag volg! Niemand hoef vir die oopmaak van die boek van die lewe bang te wees, as jy net baie bly hieroor is: dat die Lam vir jou die sondes wegvat. Die oordeel sal dan volkome vryspraak wees! Vir jou wat die Lam volg, bevat die boek van die lewe nie 'n geheim oor jouself nie.

AMEN!

Liturgie: 

(kyk in preek)