By Christus is die lewensbron

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Johannes 7
Preek Inhoud: 

PREEK OOR JOHANNES 7: 37, 38

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 42: 1, 5
Wet
Ps. 42: 3
Gebed
L. Jesaja 11: 1-4 & Jesaja 12 & Johann. 7: 2, 14-17, 37-43
Prediking
Ps. 36: 2, 3
(Doopsbediening Ps. 87: 5)
Gebed
Kollekte
Ps. 63: 1, 4
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ek is van plan om in hierdie weke, as die HERE wil, met u te luister na 'n aantal gedeeltes uit die Evangelie volgens Johannes waarin die Here Jesus Christus oor Homself praat in beeldspraak.

Johannes het 'n hele aantal van sulke simboliese selfbenoemings uit Christus se mond opgeskryf. Ons het twee weke gelede reeds gehoor hoe dat Christus Homself "die lewende brood" genoem het. In ons teks van vanoggend vra Hy aandag vir Homself as die bron van lewende water. U ken waarskynlik ook die ander beelde wel: die lig van die wêreld, die goeie herder en die ware wynstok.

In al daardie gevalle het ons Here beelde gebruik wat vir God se volk in daardie dae baie vertroud was en 'n veelseggende inhoud gehad het.

Ook vir ons het dit nou vertroude vergelykings geword, van dat die apostel Johannes dit vir ons uit Christus se mond opgeteken het.

Ons ken hulle as mooie tekste met 'n bemoedigende inhoud. Dis vir ons tekste wat jy in jou huis aan die wand ophang.

Dit is inderdaad ook tekste wat 'n mens kan bemoedig en vertroos, maar ons moet nogtans die daaraan verby kyk dat dit allereers baie indringende tekste is wat baie skerp op die ore van die eerste hoorders geval het nie.

Dit het uit Jesus se mond glad nie as gemoedelike woorde geklink nie maar het elke mens tot 'n onontkombare keuse gedwing: jy moet hierdie Jesus volledig aanvaar soos Hy homself nou aan jou presenteer- of jy staan vir ewig eenkant.

"Ek is die lig van die wêreld- sonder My leef jy in die duister, Ek is die wáre wynstok- sonder My is jou lewe vrugteloos, Ek is die léwende brood"- sonder My ly jy vir ewig honger. Dit was ewesovele waarskuwings dat elkeen wat hierdie Jesus verwerp, niks meer oorhou nie omdat hy alles vergooi.

Dié klank het ook ons teks van vanoggend uit Joh. 7. Die oproep: "As iemand dors het, laat hom na My toe kom... " klink nie as 'n vriendelike uitnodiging nie. Dit is 'n dwingende bevel. Dit is niks minder nie as 'n saak van lewe of dood in ons teks: ewige lewe of die ewige dood.

So verkondig ek u:

BY CHRISTUS IS DIE LEWENSBRON

  1. DAARUIT MAG ONS ELF DRINK
  2. DAARUIT MAG ONS ANDER MENSE LAAT DRINK

1. Om ons teks reg te kan verstaan, broeders en susters, is dit nodig om mooi te kyk na die oomblik waarop die Here Christus sy oproep om by Hom jou dors te kom les, gespreek het.

Dit was "die laaste, die groot dag van die fees", sê ons teks. Al eerder in Johannes 7 is vertel watter fees hier bedoel is, te wete die huttefees..

Hierdie derde groot fees in Israel wat in die herfs, die oestyd gevier is, was vir God se volk 'n fees waarop hulle moes terugkyk en vorentoe kyk.

Die huttefees was deur God ingestel om sy volk te laat terugkyk op die tyd direk na die uittog uit die land Egipte, die tyd dus van die reis deur die woestyn, op pad na die beloofde land.

Om die herinnering daaraan lewendig te hou, het die HERE voorgeskrywe dat die volk 'n week lank hul betimmerde huise moes verlaat om te gaan woon in eenvoudige hutte wat hulle van allehande gebladerte opgebou het. Daardie baie eenvoudige woonsituasie het sprekend uitgebeeld dat God se volk eendag regtig so geleef het, in die woestyn.

Maar terselfdertyd moes daar in die eenvoudige pondokkies 'n welvoorsiene tafel staan met heerlike kos en goedgevulde bekers. Hulle mog die opbrings van die oes volop geniet. Want ook in die woestyn het Israel destyds mos niks kortgekom nie? God se hand was nie te kort om ook in 'n kale steppe 'n feesmaal aan te rig nie. En deur die woestyn heen het die HERE sy volk tog gebring in 'n land wat oorloop van melk en heuning?

So het die huttefees beeldend herinner aan God se goeie sorg in die verlede.

Maar hierdie fees het na verloop van tyd ook al hoe meer 'n fees geword wat die verlánge lewendig gehou het na 'n nog beter sorg van God in die toekoms.

Want met die intog in die beloofde land Kanaän het die heilstyd nog nie aangebreek nie.

Die tyd het al gou vir hulle geleer dat God se volk nog 'n beter rus te wagte is, dat daar 'n beter verlossing moet kom om die lewe regtig goed te laat word.

Ook Kanaän kon tot 'n woestyn word, en in die dae wat ons Here Jesus sy werk op aarde gedoen het, het dit vir die Jode ook gevoel asof hulle terug was in die woestyn. Die gebrokenheid van die lewe was in talle opsigte voelbaar. Al mog hulle ook God se uitverkore volk wees, die lewe was nog glad nie 'n fees nie.

So het die huttefees dus veral ook 'n fees geword van verlange na die tyd wat deur die profete in die vooruitsig was gestel, die tyd dat hulle weer sou sit elkeen onder sy wynstok en sy vyeboom.

Die "Hosanna"-geroep het tydens hierdie fees dan ook orals opgeklink: (Psalm 118) "Ag, HERE, gee tog heil, ag HERE gee tog voorspoed!"

Tydens hierdie fees het daar altyd ryklik water in Jerusalem gestroom, gemeente. Elke dag het die feesvierende menigte saam met 'n priester in optog na die Siloah-vywer aan die voet van die tempelberg gegaan, waarin die water uit die Gihonbron saamgevloei het. En onder vrolike tempelmusiek het die priester dan 'n goue kruik gevul met hierdie water om dit saam te neem na die tempel toe. Daar is dit vervolgens deur 'n ander priester vermeng met die wyn van 'n drankoffer en uitgegiet in 'n kom naas die altaar.

U verstaan natuurlik die bedoeling van hierdie waterseremonieel: dit was 'n herinnering daaraan hoedat die HERE selfs in 'n dorre woestyn sy volk van water voorsien en so selfs daar waar dit onmoontlik gelyk het die lewe in stand gehou en weer laat opbloei het waar dit onmoontlik gelyk het.

So het Israel mos deur die woestyn heengekom? God het sommer water uit 'n rots tevoorskyn geroep.

Maar ook hierdie waterseremonieel tydens die huttefees het tegelyk 'n vooruitwysende betekenis gekry. Want selfs in die land wat oorloop van melk en heuning het God se volk dors gely. Daarom het die HERE deur sy profete 'n tyd aangekondig waarin Hy alle dors sal les. U kan dit op talle plekke in die Ou Testament lees. "Kyk, Ek gaan iets nuuts maak", het die HERE deur Jesaja gesê: "Ek gee waters in die woestyn, riviere in die wildernis om my volk, my uitverkorene te laat drink. Ek sal water giet op die dorsland en strome op droë grond.... " (Jes. 43, 44).

"O, almal wat dors het, kom na die waters.... " (Jes. 58).

Het die ook profeet Esegiël in een van sy visioene nie 'n waterfontein sien ontspring in die tempel nie? 'n Fontein wat uitgegroei het tot 'n indrukwekkende rivier waardeur selfs die Dooie See tot nuwe lewe gekom het?

Juis sulke profesieë het voor die aandag van God se volk gekom tydens die huttefees. Dis dié dat hulle in 'n feestelike optog water na die huis van God toe gebring het. Dan het die verlange gegroei na die lewende water wat God mos beloof het, water waardeur die verlepte lewe eindelik vir altyd weer sou opbloei. Bly het die mense mekaar die woorde van Jesaja 12 toegesing: "En julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil".

Volgens Joodse beriggewing was daar aan die kom in die tempel by die altaar waarin die priester die water uitgegiet het, 'n pyp bevestig waardeur die water weer afgevloei het na die Kedrondal. Die betekenis van daardie simboliek was natuurlik, dat die verkwikkende water wat die HERE in sy huis laat ontspring, nie bedoel is om in die tempel te bly nie: dit wil vanuit die tempel uitstroom en God se land en volk tot nuwe bloei bring.

Maar die begin lê in die heiligdom, daar waar die HERE woon by sy volk, daar waar die sondes versoen word. Dáár word die fonteine van heil aangeboor. Wie dus as 'n dorstige mens die verkwikkende, heilsame water gesoek het, moes dáár wees, met die belydenis: By U, HERE, is die lewensbron. U laaf ons met 'n stroom wat bruis uit dieptes van ontferming.

So, gemeente, het Jerusalem ook die huttefees gevier op die moment van ons teks.

En dan staan daar skielik, op die laaste dag van die fees, as die feesvreugde, maar dus ook die verlange, die dórs na 'n hoogtepunt gegroei het - dan staan daar baie opvallend sodat Hy almal se aandag trek, ons Here Jesus.

Die mense het oor Hom reeds baie gesels in die afgelope dae. Hy het die gemoedere reeds volop besiggehou.

Wie is hierdie Jesus? Is Hy die Christus of is Hy 'n volksverleier? Het Hy gekom om die heilstyd te laat aanbreek, of is Hy deur die duiwel besete?

Die owerpriesters het al so ver gekom dat hulle dienaars uitgestuur het om Jesus gevange te neem (Kyk vs. 32).

In daardie gespanne situasie klink daar in Jerusalem skielik luidkeels die woorde van ons teks: "As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!"

Ons kry die indruk dat Christus met sy oproep opsetlik die feestelike waterseremonieel versteur het. Die teks vertel dat Hy 'n opvallende staanplek gekies het en vervolgens geskree het. Daardie woord wek die indruk dat die Here bo die feesvierende menigte probeer uitkom het.

Die Seun van God skree die volk wat smag na water uit die fonteine van heil, na Hom toe. Hulle moet by Hóm wees om hulle dors te les.

Voel u die klank van ons tekswoorde, broeders en susters? Hiernatoe, julle moet hiér wees roep Christus vir die menigte wat aan Hom verby beur. As julle die lewensbron van God soek, moet julle by My wees. Ek beskik oor die water van die lewe en slegs deur My kan die lewe weer opbloei. Ek maak van die sandsee 'n vrugbare vlakte en laat 'n mirt opskiet vir 'n distel. Hier by My wil God julle laaf uit 'n stroom wat bruis uit dieptes van ontferming.

Met hierdie woorde plaas Christus almal wat feesvier voor die keuse: wáár soek hulle die definitiewe beëindiging van hulle dors? By die seremonies van die Wet, of by Hom wat gekom het om die Wet te vervul?

Hulle het hulleself afgevra wie of Hy kan wees. Nou ja, hulle kan dit dan nou weet.

Elkeen wat nadink, moet besef dat Jesus hier 'n verreikende uitspraak doen. Wie mag Homself die bron van lewende water noem as God alleen? By die HERE is die lewensbron.

Maar dit beteken dus dat hierdie Jesus Homself sommer met God gelykstel! Opnuut. Hy sê niks minder nie as: Julle kry God se lewensbron, waarna julle blykens julle waterseremonieel so sterk verlang, hier by My. By My ontspring die lewende water van God vir elkeen wat glo. Kom na My toe en drink, as julle dors het, en julle sal in ewigheid geen dors meer ly nie.

U moet u probeer voorstel, broeders en susters, watter indruk Christus se woorde op die Jode daar in Jerusalem gemaak het. Want op daardie oomnblik het Jesus glad nie soos 'n goddelike verskyning gelyk nie. Dit is juis die probleem van daardie mense met Jesus. Hulle het reeds vertwyfeld vir mekaar gesê (kyk vs. 27): "Ons weet van waar hierdie man is -uit Nasaret mos, seun van Josef en Maria- maar die Christus, wanneer Hy kom, weet niemand van waar Hy is nie".

Hierdie Jesus, wat homself nou presenteer as die lewensbron, bewandel boonop 'n weg wat hom aan 'n kruis sal bring. Hy weet dit en Hy aanvaar dit. Eerder wou hulle Hom koning maak en was bereid om vir Hom te veg. Maar Hy het Hom onttrek en hul kroningskampanje in duie laat val. Kan Hy dan die goddelike Heilbrenger wees? ! Of is Hy besete, deur hoogmoedswaansin getref?

U verstaan: 'n mens benodig baie gelóóf om nogtans in hierdie Jesus die lewensbron van God te ontdek, die fontein waaruit kragte ontspring wat die hele lewe vir ewig tot bloei sal bring.

Tot dié geloof word ook u vanoggend weer opgeroep.

Watter mens op hierdie deur die sonde verdorde aarde is nie dorstig na die opbloei van die lewe nie? Ons almal verlang na die verkwikking van 'n nuwe aarde waar daar eindelik nooit meer spanning, angs, pyn en hartseer te vinde is nie.

Christus roep: u moet daarvoor by My wees! As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!

Maar om na Hóm toe te gaan om jou dors te les- daarvoor moet 'n mens eers begin insien dat daar 'n lydende Kneg van God nodig was om ons sondeskuld by God tot in die dood aan 'n vloekhout weg te dra. Hierdie Jesus word slegs as lewensbron aanvaar deur mense wat eers bely dat hulle voor God alles verspeel het, dat hulle selfs van hierdie aarde 'n doodse woestyn gemaak het, sodat daar vir die versoening van ons sondes meer nodig was as offers van bulle en bokke.

Vandag skenk God se Seun ons van sy lewende, dorslessende water hier in die kerk.

Die kerk is in die oë van trotse mense net so onaansienlik en ewe weinig indrukwekkend as Christus self tydens sy lewe hier op aarde. Watter bydrae tot verbetering van die lewe hier op aarde lewer die kerk eintlik? In die kerk word daar net gepréék. Gepraat oor sonde en versoening, skuld en vergewing, geloof en genade. Mooi woorde, maar wat help dit? Wat doen die kerk in hierdie weke van verskroeiende droogte in ons land? Hulle bid net! Weereens: wat help dit?

Ek hoop, broeders en susters, dat u nie so kortsigtig is soos al daardie mense wat so dink en praat nie. Ek hoop u weet van beter. Ek hoop u weet uit ervaring (ervaring ja, die woord waarop ons hierdie jaar as gemeente spesiaal konsentreer, want 'n mens kán dit mos ervaar!) ek hoop u weet uit ervaring hoe verkwikkend en verfrissend dit is om weekliks in die kerk te mag drink van hierdie water. Dit gee mos nuwe lewenskrag en lewensmoed. Daarmee kan 'n mens weer vorentoe, selfs as daar 'n woestyn voorlê.

2. Ek hoop dat u boonop ervaar dat drink uit die waterfonteine van die lewe in die kerk jou sélf ook tot 'n verfrissende waterbron vir ander mense maak.

Want dit het Christus mos in ons teks as 'n ekstra gevolg genoem as iemand na Hom toe kom en drink: "Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei".

'n Gelowige wat by Christus kom drink het, sal in staat wees om self ook ander mense se dors te les.

Terloops: daar is uitleggers wat die sinne in vs 37 en 38 effens anders aan mekaar verbind. Sal u 'n oomblik saam met My in u Bybel kyk assseblief? Hulle wil liewerste lees dat Jesus sê: "As iemand dors het, laat Hom na My toe kom en drink, hy wat in My glo. " En dan lees hulle die volgende woorde: "soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei" nie meer as Jesus se woorde aan die Jode in Jerusalem nie, maar as 'n verklarende toevoeging deur die evangelis Johannes.

Daardie uitleggers kies vir hierdie woordverbinding, omdat hulle geen duidelike teks in die Ou Testament kry waar staan dat daar uit die binneste van 'n gelowige strome van lewende water sal vloei. Daarom laat hulle daardie Skrifverwysing liewer slaan op Jesus self, en hulle verwys dan na die rots in die woestyntyd: Jesus is die vervulling van daardie rots. Uit sy binneste stroom daar nou die egte lewende, ja: lewendmakende water.

Hierdie uitlegging is nie onmoontlik nie, maar wel geheel en al onnodig. En ook by hierdie uitlegging kan hulle nie na 'n duidelike direkte Skrifgedeelte uit die Ou Testament aanwys wat Christus hier op Homself sou toepas nie.

Daarom is dit beter om by die tradisionele lesing van ons teks te bly dat ook in vs 38 Christus steeds aan die woord is en oor die effek van die lewende water in die lewe van die gelowige praat. Wanneer Hy die Jode in Jerusalem herinner aan wat die Skrif sê, is dit aanneemlik dat Hy nie aan een spesiale teks gedink het nie, maar aan meer as een Skrifgedeeltes uit die Ou Testament.

In die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling word in 'n voetnoot na Jesaja 58: 11 verwys en daardie teks kan beslis ook voor Christus se aandag gestaan het: "En jy sal wees soos 'n tuin wat goed besproei is en soos 'n fontein waarvan die water nooit teleurstel nie".

Die lewe sál opbloei deur die water wat Christus bied. Maar op 'n ander manier as wat die Jode in Jesus se dae verwag het en as wat vandag steeds baie mense dink.

Die Jode het allereers na 'n uiterlike herstel toe geleef, en vandag is daar nog talle van sulke mense. Hulle hoop op 'n uiterlike rus en vrede, welvaart en voorspoed met gelyke regte en gelyke kanse vir almal, 'n wêreld waarin siekte en lyding uitgeban is. Hulle verwag heil van 'n vernuwing van die strukture van die menslike samelewing.

Maar Christus gaan nie allereers die strukture vernuwe nie. Hy vernuwe die lewens. Hy maak met sy lewende water ménse stuk vir stuk tot waterbronne wat 'n verfrissende invloed op hulle omgewing het. Wanneer Christus se lewendmakende water in 'n menselewe binnestroom, fleur die mens allereers self daarvan op. Maar daarna is hy ook in staat om hierdie verfrissende kragte na ander te laat uitstroom.

"Dit het Jesus natuurlik gesê van die Heilige Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo", vertel Johannes. Christus se lewendmakende Gees vernuwe 'n mens allereers van binne, maar vervolgens breek daardie nuwe lewe ook na buite. Hy word soos 'n verfrissende bronwel waaraan ander dorstige mense hulleself kan laaf.

En u weet natuurlik wel, broeders en susters, in watter dinge die verkwikkende werk van die Heilige Gees in ons merkbaar word: die geduld en sagmoedigheid waarmee ons ander mense tegemoettree, ons vergewingsgesinde houding, ons onbaatsugtigheid en bereidheid tot selfverloëning......

Dit is in die kerk glad nie so dor en doods soos party mense maar alte dikwels ons wil wysmaak nie. Inteendeel, die egte opbloei van die lewe begin hier in Christus se gemeente. En dit stroom van ons af uit na ons omgewing en wek orals waar dit ingedrink word, nuwe lewe, nuwe bloei.

Baie mense beskou die kerk as 'n soort museum waar nog allerhande oudtydse gewoontes en gebruike gekonserveer word; waar nog 'n lankal agterhaalde lewensstyl bewaar word.

Maar inderwaarheid kan ons die kerk liewer met 'n ultramoderne kragstasie vergelyk. Hier word energieë opgewek waardeur die toekoms van die lewe op aarde 'n heeltemal ander aansien ontvang.

Word daar in die kerk net gepraat? Gepraat oor sonde en versoening en so meer?

Nee, daar word vanuit die kerk ook iets gedoen in hierdie wêreld. Die kerk lewer wel deeglik 'n bydrae aan die verbetering van die lewe op aarde. Gedrewe deur die Gees van Christus soek die kerk se lidmate die nood in hierdie wêreld op en probeer om dit weg te neem. Kerkmense kruip nie weg in hulle kerk nie, maar staan hulle plek vol in hierdie wêreld, in die maatskappy, in die politiek, in die kuns en kultuur. Maar hulle doen dit wel op 'n ander manier as so veel mense in hierdie wêreld. Hulle probeer die lewe weer tot bloei te bring deur die God van ons lewe weer sy regmatige plek te laat terugkry en die lewe weer aan Hom toe te wy.

En nou sê ek weereens: ek hoop u ervaar in u lewe iets van hierdie kragtige verkwikkende effek van die lewende water wat u voortdurend hier in de kerk mag drink, vir uself en vir ander.

Want dan weet u dit nog des te beter: elkeen wat dors het, moét na Jesus Christus toe kom. Sy oproep in ons teks is geen vriendelike reklameboodskap nie. Dit is dodelike erns. Wie weier om uit Hom as die lewenbron te drink, hét ook geen lewe meer nie. Die se lewe verdroog en verdor in die ewige dood.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)