Die vertrooster van Israel veroorsaak ook skeiding in Israel

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Lukas 2
Preek Inhoud: 

LITURGIE:
L. Jesaja 49: 1-7 & Lukas 2: 25-35
Ps. 26: 1, 2
Ps. 26: 5
SB. 40: 1-5
Ps. 19: 7
SB. 3: 1, 2

Broeders en susters,

Daar is baie gesing rondom die koms van ons Here Jesus Christus in hierdie wêreld. Veral Lukas het vir ons daarvan vertel in sy evangelie beskrywing. Die blye gebeurtenis dat God na sy volk omgesien het en verlossing sou bewerk, het heelparty tonge losgemaak.

Maria het 'n lofsang gesing oor die barmhartigheid van die HERE waarmee Hy hom oor sy kneg Israël ontferm het.

Die priester Sagaria, wat eers met stomheid geslaan is omdat hy wou teëpraat, het gaan saamsing toe sy tong losgemaak is en ook hy het oor die innige barmhartigheid van God gesing waarmee die opgaande Lig uit die hoogte sy volk beskyn het.

En in die nag waarin die beloofde Verlosser gebore is, het die engele dit vir die mense kom en voorsing dat God in die mense 'n welbehae het. Sodat herders hierdie lied wat hulle geleer het, het gaan nasing.

Ons lees nog van die lofsang van Simeon, en van Anna wat daarby kom en staan het en ook die HERE geprys het....

Een en al lofsang dus oor die koms van die Verlosser in die wêreld.

En ons verstaan dit mos? Blye nuus maak mense tog bly? En mooier nuus as destyds is daar op aarde nooit gehoor nie. Daardie nuus, daardie evangelie kan vandag nog altyd mense bly en verwonderd maak en 'n loflied ontlok.

Tog is daar nie alleen gesing oor die koms van Christus in die wêreld nie. Daar is ook deur een man ernstige en indringende woorde gespreek.

De ou Simeon, wat eers so'n blye lied na die hemel opgesend het, het vir die aarde 'n minder mooie boodskap gehad. Nadat hy oor vertroosting gepraat het, moes hy ook op die vetrskrikking wys wat terselfdertyd aan die koms van die Verlosser vir Israël verbonde is. Hy het gepraat oor mense wat oor die Christus sal val, en oor 'n swaard wat deur die siel sal gaan.

Want dit is die keersyde van die koms van die Christus, 'n keersyde wat deur alle vreugde nie na die agtergrond gestoot mag word nie.

Ons gaan luister vanaand na daardie ou Simeon, 'n profeet van die HERE, sodat ons bewaard bly vir 'n eensydige kuk op Christus se koms. En sodat so òns lied nog meer diepgang kry!

Ons hoor in ons teks:

DIE VERTROOSTER VAN ISRAEL VEROORSAAK OOK SKEIDING IN ISRAEL

En ons sal hoor wat dit beteken

  1. VIR SY EIE VOLK
  2. VIR SY EIE MOEDER

1. Dit is maar 'n skielike ommekeer by die ou Simeon, broeders en susters, as hy na sy uitbundige lofsang die ernstige woorde van ons teks begin spreek. Die lofsang vloei sommer plotseling oor in 'n onheilsprofesie. Die blye klanke oor die heil wat God vir alle volke berei het, het nog maar nouliks vervlieg of die sombere tone kom in plaas daarvan.

Ons lees in die eerste woorde van ons teks nog dat Simeon Josef en Maria as die opvoeders van die Christus seën, gelukwens, sterkte en wysheid van bo toewens, maar dit lyk asof die seën direk word verdring deur 'n vloek.

Want dit wat hy vervolgens gaan sê, spesiaal aan die adres van Maria, oor die Kind wat hy nog in sy arms hou, maak die ouerskap oor hierdie Kind nie bepaald tot 'n onverdeelde vreugde nie.

Hoekom het Simeon so skielik van toonhoogte verander? Hoekom het hy dit nodig geag om in die koor van sangers rondom die beloofde Verlosser 'n andere toon aan te slaan? Het dit nie 'n wanklank temidde van so veel dankbare blydskap geword nie? Het ons hier te make met die pessimisme van 'n somdere ou baas?

Lùkas vertel die Heilige Gees was op Simeon!! Hy noem hom 'n man "regverdig en vroom, wat die vertroosting van Israël verwag het".

Hierdie Simeon was een van die laaste profete van die Ou Verbond. Hy het tot 'n groep mense in Israël behoort wat nog naby God se Woord geleef het, ja, wat daaruit geleef het. "Hy het die vertroosting van Israël verwag", met ander woorde: hierdie man het die profesië van Jesaja goed geken en daarop het hy hom verlaat. "Troos, troos my volk", het die HERE gesê. "Ek is dit wat julle troos. Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos". Die woord "troos" klink soos 'n tema deur die tweede helfte van Jesja se profesië. En daarin mag Jesaja ook die koms van die Kneg van die HERE aankondig wat deur die HERE gesalf isom die jaar van die welbehae van die HERE uit te roep en "om al die treurendes te troos".

Simeon het met daardie profesië as 't ware opgestaan en hy het daarmee bed toe gegaan. Veral nadat die Heilige Gees op 'n dag vir hom laat weet het dat hy die koms van die Kneg van die HERE, die Vertrooster van Israel, nog sou mag beleef. Hy sou die dood nie hoef te sien nie voordat hy die Christus van die Here, die Vervuller van Jesaja se troosprofesië, gesien het nie.

En vandag is dit eindelik die dag waarop hierdie profeet van die Ou Verbond op die drumpel van die Nuwe Verbond mag staan. God se belofte is heerlik vervul! Hy màg die Christus van God sien. Nou kan hy maar gerus die dood onder die oë sien, want hy het op hierdie dag in die oë van Israël se verlosser gesien. Hy mog Hom selfs aanraak, ja, op die arm neem. Nog maar 'n baba, maar vir Simeon die sigbare, tasbare vervulling van al God se beloftes.

En met die kind Jesus in sy arms stamel hy met 'n skorre stem sy lied oor die ontslag uit sy diens wat daar nou kna kom noudat sy oë God se heil gesien het.

Maar, gemeente, Simeon sou nie rêrig 'n profeet wees nie as hy nie die volle raad van God aangaande ons verlossing sou geopenbaar het nie. Voordat hy nou metterdaad uit sy profete-amp ontslae sal word, verrig hy nog die laaste profetiese diens aan Josef en veral Maria. Hy doen aan alle vreugde niks af nie, maar laat tog ook nie na om die hele raad van God oor die kind op sy arms te verkondig. Die Heilige Gees dwing hom daartoe.

By alle blydskap moet Israël ook weet dat hierdie Jesus in God se raad bestem is tot 'n val en 'n opstanding van baie. Hy sal teëspraak oproep as Hy homself aan Israël gaan presenteer as die Vertrooster wat God gestuur het. Die weë van die mense sal by Hom uitmekaar gaan. Baie mense sal hulle oor Hom vererg en oor Hom struikel en val. En so sal sy koms vir baie 'n val en daardeur hul ondergang beteken. Terwyl ander mense juis hulle sal bekeer en opstaan in 'n nuwe lewe wanneer hulle met Hom in aanraking kom.

Sy koms sal geen onverdeelde blydskap beteken nie. Sy koms bring juis verdeeldheid. Skeiding.

Simeon moet dit by voorbaat vertel. Hy mag as 'n profeet nie daaroor swyg nie. Want dat dit so sal gaan, is nie 'n aaklige noodlot nie. Die Kind in sy arms is nie gedoem om ten spyte van alle goeie bedoelings tog telkens verkeerd verstaan te word nie.

Maar God self wou dit so dat die Vertrooster wat hy vir sy volk sou gee, terselfdertyd die Veroorsaker van 'n val en 'n opstanding van baie sou word. Sy verlossing moet tegelyk skeiding teweegbring.

"Sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word... ", so verklaar Simeon die raad van God oor Israël se Verlosser. God sal dit so lei dat deur die optrede van die Christus wie se naam Jesus is, aan die lig sal kom wat daar in die diepste van elke mensenhart leef. Want nou gee God eindelik die lank al beloofde Vertrooster aan sy volk, die verlangde Verlosser, die Messias oor Wie die profete gespreek het. Die Koning uit die geslag van Dawid wat oor die vervalle huis van Jakob sal heers tot in ewigheid, wat God se volk vir altyd sal verlos.

Maar nou sal dan ook duidelik word of Israël die Verlosser wat God gee wel aanvaar. Sal Israël eensgesind sy Koning begroet? Sal almal saam hulle knieë buig en die troos wat Hy bewerk, wil ontvang?

Want Israël kry nie 'n Man om mee te spog nie, maar 'n Middelaar oor wie baie sal spot. Een wat Homself verneder voor God en die mense.

Hier lê Hy is Simeon se arms: die teken van God se liefde en terselfdertyd 'n teken van noodsaaklike vernedering. Hierdie Verlosser oorwin nie die wêreld met geweld nie, maar deur sy offer. En sy enigste wapen is sy Woord. Hy sal geen greep na die troon doen nie, maar na die hart. Hy gaan preek oor sonde en Hy sal die eis van God se heilige verbondswet onontwykbaar vir die aandag van almal plaas. So sal Hy oopvlek dat geen mens voor God regverdig kan wees nie, maar dat God wel genadig wil wees.

Hy sal eet met sondaars, maar Skrifgeleerdes wat hulleself die vernaamstes in God se Koninkryk ag, sal Hy as skynheilige huigelaars ontmasker. En die einde sal 'n aanstootlike kruispaal wees waaraan Hy sal hang en doodbloei, onder die spot van Jode en Romeine.

Hierdie kruistog wat 'n borgtog moes wees, het die Heilige Gees vir Simeon geopenbaar. En die ou profeet mog nie verswyg dat God langs hierdie weg die gedagtes uit baie harte sou gaan blootlê nie. Christus het gekom om die geeste in Israël te beproef. Nou sal duidelik word wie in Israël 'n Messias begeer om hul eie religieuse hoogmoed te bevestig; en wie in Israël ootmoedig hul Vertrooster verwag as die Lam wat hul skuld moet wegneem.

Baie mense sal gaan teëpraat. Hulle wil van 'n vertroosting in hul sondes nie weet nie. Omdat hulle diep in hul harte nog nie verstaan het dat die werklike verlossing 'n vergewing van sondes moet word nie. Hulle sal begin skeld: "die Christus kom mos nie uit Galilea nie! Ondersoek en sien dat daar geen profeet uit Galilea opgestaan het nie". Hulle sal sê: "'n mens wat 'n vraat en 'n wynsuiper is, 'n vriend van tollenaars en hoere!" En, kwaadaardiger: "Hy is 'n trawant van Beëlsebul, . die owerste van die bose geeste". Hulle sal selfs klippe vat en Hom probeer doodgooi.

Maar hulle sal self op Hom doodloop!. As hulle oor hierdie Verlosser val, val hulle te pletter. God gee geen ander, beter Verlosser as hierdie Redder van sondaars nie. Slegs die wat voor hierdie Jesus dank en kniel, sal opstaan in 'n nuwe lewe.

U weet, gemeente, hoedat Simeon se voorsegging in die lewe van ons Heiland uitgekom het.

Maar ek moet vanaand daarop wys dat Simeon beklemtoon het dat Christus bestem was tot 'n val en 'n opstanding in Israël.

Die skeidslyn wat Christus veroorsaak, loop nie net tussen God se volk en die wêreld nie. Maar Christus bring skeiding onder sy eie volk. Onder almal wat deur God geroep is tot sy ene verbondsvolk is daar baie wat oor hul Verlosser struikel en val. Die skeidslyn loop dwars deur die kerk!

In Israël het baie mense gedink hulle is Abraham se nageslag, dus hulle is outomaties God se uitverkore volk en die verlossing is vir hulle 'n vanselfsprekende saak.

"Hulle is nie almal Israël wat uit Israel is nie", sal die apostel Paulus later skryf, "ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie".

En deur Christus sou daar onder God se volk dan ook baie as onegte kinders ontmasker word.

So het dit in Israel gegaan. En ons moet die lyn maar na onsself toe deurtrek: Simeon se profesie gaan nog altyd in vervulling in die kerk, broeders en susters. Onder ons, waar die evangelie van vergewing van sondes deur Christus gepreek word.

U beskou uself tog nie outomaties veilig omdat u 'n kerklidmaat is nie? So dikwels ons hoor en lees dat die hoogmoedige mens hom oor 'n Verlosser van sondaars vererg, is ons dadelik geneig om aan die wêreld te dink, aan die mense buite die kerk, of mense wat aan 'n kerk behoort wat toenemend dwalings en ongehoorsaamheid toelaat. Hùlle is dit wat hulle op die Christus te pletter loop, dink ons dan.

En ons het daarin natuurlik nie heeltemal ongelyk nie. Buite die kerk is daar baie baie mense wat nie wil hoor van 'n Verlosser wat die sondes moet vergewe nie, en dus oor Hom val. In die wêreld word die gedagtes uit die harte openbaar.

Maar Christus veroorsaak nie minder 'n val en 'n opstanding binne die kerk nie. Ook daar moet die gedagtes van die hart aan die lig kom. Ook in die kerk kan jy jou oor Christus vererg weens die vertroosting wat Hy skenk. Ook in die kerk kan jy oor Hom val. En dit gebeur.

Daar is mense in die kerk wat met plesier na die prediking van die evangelie luister solank daar oor verlossing, genade, heil, troos wat ons van God ontvang, gepraat word. Die preek moet altyd 'n gevoel van bevryding en bemoediging gee. Maar wanneer op die kansel ook reëlmatig allerhande sondes in die lewe van die gemeente se lidmate skerp en konkreet aangewys word en wanneer nadruklik op bekering aangedring word, sodat elkeen weer heeltemal op die genàde van Christus alleen teruggewerp word- dan word daardie mense geprikkeld en hulle gaan teëpraat dat dit in 'n goeie preek niet tuishoort nie.

En op huisbesoek wil sulke kerklede liefs maar daaroor gesels hoe mooi en lekker ons dit saam het in die kerk. Maar as die ouderlinge daarop wys dat dit by ons nog lank nie so goed en lekker is soos dit by God se volk moet wees nie, dan wil die gesprek nie meer so mooi vlot nie. Of hulle begin om aan te wys wat alles daar by ànder mense in die gemeente nie reg is nie...

Ook Gereformeerdes wil graag in hul godsdienstige gevoel van eiewaarde gestreel word. "Ons is mos die kerk, ons is die volk van God.. ".

Maar die Skrif predik vir ons 'n Christus wat alleen verstaan en aanvaar word deur mense wat eerste tot in die diepste van hul harte daarvan deurdronge geraak het dat hulle voor God nie kan bestaan nie. Dat hulle skuld en aanhoudende sonde en eiewysheid so groot is dat hulle die ewige dood verdien. Slegs verslae mense vind troos by Christus.

Dis hoekom mense wat in die kerk gebore is en grootgeword het, oor Christus val. Die evangelie wat oopvlek, maak openbaar wat daar in hulle harte leef. Dan kan dit gebeur dat gedoopte jong mense die rug op die kerk draai omdat hulle die klimaat te bekrompe vind. Dit kan gebeur dat al ouer mense hulle sommer op 'n dag aan die opsig en tug van die kerkraad onttrek omdat hulle die preke te skerp en die huisbesoeke en vermanings te lastig gevind het. Hulle wil nie werklik van genade alleen leef nie.

Maar die wat wil buig voor hierdie Koning Christus, wat juis vir die sondes van sy kerk moes ly, diè staan elke dag op tot 'n nuwe lewe, tot 'n lewe van nuwe gehhorsaamheid en 'n daaglikse bekering. Diè vind die enigste troos in lewe en sterwe dat al sy sondes hom alleen weens die lyding en sterwe van Christus vergewe is. Vir so'n mens word die lewe in die kerk, met Christus, met skerp preke partykeer en indringende huisbesoeke, al hoe meer 'n fees en 'n onbegryplike wonder.

2. Simeon het dus aangewys dat die ontmaskerende werk van Christus sy eie volk nie verbygaan nie.

Dit sal self sy eie moeder nie verbygaan nie!

Simeon rig hom spesiaal tot moeder Maria as hy in ons teks aanwys dat Christus bestem is tot 'n val en 'n opstanding in Israel.

"Ook deur jou eie siel sal 'n swaard gaan!" sê die ou profeet skielik in 'n tussensinnetjie.

Meestal is hierdie bekende woord van Simeon uitgelê as 'n aankondiging van die smart wat moeder Maria sou moet ondervind van die felle teëstand teen haar Seun. Ja, veral as Hy aanstonds bebloed aan die kruis sal hang, sal daar 'n swaard haar siel deursny.

Maar dis die vraag, broeders en susters, of Simeon dit regtig met hierdie uitdrukking bedoel het. Hy het 'n nie alledaagse beeld gebruik toe hy van die swaard wat deur Maria se siel sou gaan, gepraat het. Vir ons het dit inmiddels wel 'n baie bekende gesegde gewòrd, vanweë ons bekendheid met Bybelse uitdrukkings. As ons dit nou hoor, dink ons dadelik aan verdriet, as 'n gevolg van die gebruikelike eksegese.

Maar was dit daardie dae 'n normale uitdrukking vir 'n groot verdriet wat jou sou tref?? Ons vind so'n uitdrukking vir verdriet verder nêrens in die Bybel nie. Maar ook nie in andere destydse Griekse litteratuur nie.

Ons hoef die betekenis van Simeon se tussensinnetjie aan Maria se adres egter nie so ver te soek nie. Want ons moet ook hier nie vergeet dat Simeon uit die profesië van Jesaja geleef het nie.

Dis hoekom hy ook heeltemal teen die agtergrond van wat Jesaja oor die komende Verlosser gesê het, gepraat het. Simeon se lofsang wat hy eers gesing het, is om so te sê deurspek met die taal van Jesaja. Ondermeer die taal van Jesaja 49 waaruit ons 'n gedeelte gelees het. En dit is dieselfde met die woord wat hy nou tot Maria spreek. Dalk het hy by die woorde dat Christus tot 'n val vir baie sou word, aan Jesaja 8: 14 en 15 gedink. En noudat hy oor die swaard praat- lees ons ook in Jesaja 49 nie oor 'n swaard nie? Ek dink u moet u Bybel nog 'n slag opslaan by Jesaja 49.

In hierdie hoofstuk sê die Kneg van die HERE, die gesalfde Verlosser oor Homself: "Die HERE het My geroep van die meoderskoot af (Simeon sien diè moeder voor hom staan!), van my geboorte af het Hy my naam genoem. En Hy het my mond gemaak soos 'n skerp swaard... ".

Sou Simeon hierdie woorde nie in sy gedagte gehad het nie toe hy vir Maria aangesê het dat 'n swaard deur haar siel sou gaan?

God het die mond van sy Seun en Kneg tot 'n skerp swaard gemaak - ons vind dit terug in die boek Openbaring, hoofstuk 1 en 2, waar Christus van Homself sê dat Hy die tweesnydende skerp swaard het, dit is sy mond. En daardie woorde herinner ons weer aan wat ons in Hebreërs 4 lees, naamlik dat Christus se Woord "skerper as enige tweesnydende swaard is en deurdring tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, sodat dit 'n beoordelaar is van die oorlegginge en gedagtes van die hart".

As ons so Simeon se woorde uitlê, pas alles skielik inmekaar: Simeon kondig vir Maria en Josef aan dat Jesus deur sy optrede, en veral deur sy prediking die oorlegginge en gedagtes van baie harte openbaar sal maak. Met die swaard van sy mond lê hy bloot wat daar in elke mensehart leef. Die diepste gedagtes word oopgesny. "Ook deur jou siel sal 'n swaard gaan!" sê Simeon skielik in 'n tussensin vir Maria. Dis naamlik die beste vertaling: "Ook deur jou siel.... ". Die swaard van jou Seun sal hom meer as een keer ook teen jou, sy eie moeder rig en ook by jou verkeerde gedagtes oor die wyse waarop Hy die lewe verlos, openbaar maak. Jou Seun sal selfs die siel van sy eie moeder nie ontsien nie.

As ons so Simeon se woorde verstaan, het ons sommer dadelik die voorbeelde by die hand, broeders en susters. Ek dink selfs ons seuns en dogters ken al wel 'n voorbeeld dat die Here Jesus sy eie moeder moet teregwys omdat sy die pad wat haar Seun loop, nie mooi kan verstaan nie. Die eerste die beste voorbeeld vind ons al dadelik na ons teks: die geskiedenis dat Jesus as Seun van 12 jaar tydens 'n besoek aan Jerusalem in die tempel agterbly en later vir sy besorgde moeder moet sê: "Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie? "

En wat van die geskiedenis van die bruilof te Kana, as Maria Jesus wil aanspoor om 'n oplossing vir die probleem dat daar nie meer wyn is nie te soek. En Markus 3 as Maria met haar ander kinders Jesus huis toe wil haal aangesien hulle bekommerd is dat Hy oorspanne sal raak: "Wie is my moeder en my broers en my susters? Elkeen wat die wil van God doen, diè is my broer en my suster en my moeder".

Simeon leer hier vir ons dat Christus selfs die mees intieme bande nie ontsien by die verlossing wat Hy bring nie. Selfs deur die bande van vlees en bloed laat Hy Hoself nie belemmer nie. Daar waar Hy die onvoorwaardelike oorgawe aan sy evangelie vra en ons vir die onontwykbare keuse plaas: oor My val in eiewysheid en ongehoorsaamheid, of deur My opstaan- daar is die mees noue bande ondergeskik. Daar moet partykeer 'n seun 'n meisie los, omdat hy nie ten volle met haar die Here kan dien nie. Of 'n dogter moet om diè rede haar kêrel weer los. Dan moet soms 'n vrou teen haar eie man kies in 'n bepaalde situasie, omdat sy voor Christus kies. Dan word kinders gedwing om meer aan Christus gehoorsaam te wees as aan hulle ouers en moet ouers bereid wees om 'n kind los te laat om Christus te behou. Juis dan moet openbaar word vir wie die hart gekies het!

Want die wat man of vrou, vader of moeder, of kind of meisie of kêrel liefhet bo My, diè kan my dissipel nie wees nie, het Christus self gesê.

Dis reg, gemeente: die ou Simeon het 'n sware boodskap vir Josef en Maria gehad, en nog wel op die oomblik wat hy hulle geseën het. Maar dit is 'n boodskap wat nou maar eenmaal nie gemis kan word deur elkeen wat in die enigste egte troos van Christus wil deel nie.

Want God wil uit ons hart bo haal of ons regtig heeltemal vir hierdie troos kies. Of ons hart vol is van Hom.

Ook hierdie preek moet daaraan meewerk dat die oorleggings in u hart openbaar word. Laat dit so wees dat daar 'n lied uit u hart opwel waarmee u instem met die baie sangers wat hulle rondom die Vertrooster van Israel geskaar het.

AMEN.

(Pretoria, 8 Januarie 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)