Die Here se volkome oorwinning in die geding oor die egtheid van Job se geloof

Minister: 
Ds FJ van Hulst
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Job 42
Preek Inhoud: 

Voor diens: Skb 49: 1-7
Ps 13: 1, 2
Ps 13: 3, 4, 5
Skb 24: 4, 5, 6, 7
Ps 134: 3, 4
Ps 130: 1-4 ber. I
Lees: Job 38: 1-21
Teks: Job 42: 1-6

Brs en srs,

Ons het ons die laaste maande intensief besiggehou met die boek Job. Vandag wil ons tot 'n voorlopige afsluiting kom van die serie preke uit die boek. Immers die Kersfees nader al weer. In der waarheid is dit vandag reeds die eerste Sondag van die Advent. Dus as ons nog 'n bietjie aandag wil gee aan direkte Messias verkondiging van profete uit die O.T. moet ons nou vir eers afskeid neem van Job.

Ons het Job gevolg in sy stryd. Ons het meegeleef in sy worsteling om die gang van die Here in sy lewe te verstaan. Om in al die ellende wat oor hom gekom het tog die hand van die Here vas te hou.

Ons het tot ons troos ook gesien hoe die Here self Job staande gehou het. Satan het beweer dat opregte vroomheid onder mense nie kan bestaan nie. 'n Mens dien God alleen maar as dit vir homself pas. As dit vir hom soos in die geval van Job voordeel oplewer. Maar om die Here te dien en te prys net omwille van die Here Self, dit is volgens Satan onmoontlik.

Wel, die Here het in sy kneg Job bewys dat dit anders is. Dit sal waar wees, niemand se hart staan van nature reg vir die diens van die Here nie. Niemand dien uit homself God of beoefen 'n godsdiens as dit vir hom niks oplewer nie.

Maar God kan menseharte vernuwe. Hy kan mense verander. Hy kan hulle so maak dat hulle Hom inderdaad begin met toewyding begin dien.

Hy betoon sy liefde sodanig dat Hy in menseharte 'n antwoord van liefde bewerk. En daardie liefde word vir 'n mens so kosbaar dat hy dit vir geen prys meer wil verloor nie.

Job het sy hart aan die Here gegee.

En toe die Here hom alles afgevat het wat hy gehad het en wat hy geniet het, was Job se hart nog steeds by die Here. Hy kon en wou sy God nie verloën nie.

Hy het swaar gekry. Hy het gehuil in sy verdriet. Hy het amper beswyk onder sy vrae. Maar een ding het hy vasgehou. Die Here is my God.

Ook al verstaan ek niks van die weg wat Hy met my gaan nie, ek kan Hom nie loslaat nie. Ek wil hom nie verloën nie.

In ons teks van vanoggend hoor ons hoe Job vir die laaste keer praat. Sy omstandighede het nog niks verander nie. Hy sit nog altyd op die ashoop. Maar hy prys nog steeds sy God.

En daarmee het Satan definitief die geding verloor.

Job se vroomheid is inderdaad heeltemal opreg.

Ons tema vir die preek van vandag is:

Die Here se volkome oorwinning in die geding oor die egtheid van Job se geloof.

  1. Job luister na die onderwys van die Here
  2. Job verbly hom oor die verskyning van die Here
  3. Job verootmoedig hom onder die vermaning van die Here

"Toe het Job die Here geantwoord en gesê: Ek weet dat U alles kan doen en geen plan is vir U onuitvoerbaar nie. "

Met hierdie woorde, gemeente, beweer Job niks nuuts nie. Ons het hom dit reeds eerder hoor sê. Immers dit was Job self wat met sy vriende saamgestem het dat God se grootheid en wysheid oorduidelik blyk uit die wonders van die natuur.

Job het toe ook erken dat God se weë vir 'n mens ondeurgrondelik is.

'n Mens kan nie verstaan hoe en waarom God dinge doen en gedoen het, soos Hy dit doen. God is ondeurgrondelik in sy weë. Dit het Job lankal erken.

En tog het Job juis daarmee 'n probleem gehad.

Hy het namelik wel die ondeurgrondelikheid erken, maar hy kon dit in sy eie lewe nie regkry nie.

Job het gesê: Goed, daar is vrae wat 'n mens se verstand te bowe gaan. God is vir 'n mens nie na te reken in dit wat Hy in die wêreld doen nie.

Maar het Job vervolgens opgemerk: dan is God blykbaar willekeurig. Hy seën hier iemand en Hy slaan daar iemand. Hy geniet dit seker maar om mense te laat swaarkry. Sy bestraffings dien geen enkele doel nie. God se dade is doelloos en sinloos.

Ja Job het selfs beweer: God is onregverdig. 'n Opregte vrome slaan Hy. 'n Goddelose kan sy gang maar gaan.

God is 'n God van willekeur! Dit is Job se uitspraak in Hfst 23, 24.

Daarop het die Here Job geantwoord in die storm.

Job 38: 2: Daar stel die Here aan Job die vraag: Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder verstand?

Daarmee sê die Here dit: Wie durf beweer dat my raadsbesluite willekeurig, sonder rede is?

Wie durf my besluite oor 'n mens se lewe kritiseer?

Wie is jy dat jy my besluite selfs sou kon verstaan?

Hierdie vraag van die Here uit Job 38: 2 word deur Job vrywel woordeliks herhaal in ons teksvers 3.

Wie verberg die raadsbesluit daar sonder kennis?

Nou moet Job erken: Dit was ek!

Dit was ek wat dit gedoen het. Ek het inderdaad God se raadsbeluit oor my lewe gekritiseer.

En ek nou ek na die Here geouister het besef ek: ek het dit inderdaad gedoen sonder dat ek geweet het waarvan ek praat.

Ek het geprobeer het om God af te meet aan die beperktheid van my menslike insigte. Ek het uitsprake gedoen oor God se willekeur in sy besluite sonder dat ek geweet het waarvan ek praat.

Job het sy vrae gehad. Dit mag. Dit is heeltemal legitiem om as mens jou vrae, groot vrae selfs te hê oor die werk van God in die algemeen. Of meer spesifiek oor Sy leiding in jou lewe.

Die vrae mag jy hê. Maar jy mag geen antwoorde eis nie. Jy mag geen konklusies trek uit onbeantwoorde vrae van jou nie.

Soos 'n mens natuurlik maar gou doen.

B.v. jy kan nie verstaan waarom die Here die een verkies en die ander wat nie slegter as hy is nie, verwerp. Dit is op sigself 'n legitieme vraag. Maar as jy sê: As God so maak dan is Hy dus onregverdig, dan maak jy 'n fout. Dan praat jy met jou verstand oor dinge wat jy nie kan begryp nie.

Waarom gaan dit dikwels sleg met die vrome en vaar die goddelose wel? Die vraag is wettig!

Maar elke antwoord daarop is onwettig.

Sowel die antwoord wat Job se vriende daarop gegee het as die antwoord van Job self.

Job het mos gekonkludeer: God tree dus willekeurig op. Hy speel met mense.

En daarop kom Job nou terug.

In vers 4: Here, laat my vra. Onderrig U my.

Hoor u, hier keer Job terug na die plek waar hy behoort.

Hy wil onderrig word.

Hy stel nie meer brutale vrae nie. Hy stel geen protesterende waarom-vrae meer nie, maar hy wil leerling wees.

Onderrig u my.

Met 'n psalm woord: Onderwys my Here u weg, dat ek daarop kan gaan.

Hoe het Job dan so skielik verander?

Het hy antwoorde op sy vrae gekry?

Het God homself verantwoord teenoor Job?

Het God vir Job gesê: Kyk Job, so en so het gebeur en daarom moes jy swaarkry. Ek is jammer vir jou, maar Ek hoop jy verstaan.

Nee, niks van dit alles.

God het Job net aangespreek vanuit 'n onweerstorm.

En daarin het Hy maar een ding vir Job gesê. Job, Ek is God die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. Wie is jy dat jy sou kon verstaan. Wie is jy dat jy My sou kon deurgrond? Wie is jy dat jy My ter verantwoording sou kon roep?

Hoor u, God het aan Job slegs sy ondeurgrondelikheid gepredik.

Hy het Job sy wysheid voorgehou.

God het sy grootheid as God gewys. En daarmee moet Job dit doen. Meer kry hy nie te hore nie. Meer kry hy nie te sien nie.

Job se situasie het nog niks verander nie. Nog altyd sit hy in sy ellende op die vullishoop.

Maar hy wil geen brutale vrae meer vra nie. Hy wil nie meer antwoorde eis op dinge wat hom as mens bo sy verstand gaan nie. Hy wil net as 'n leerling aan die voete van God sit.

Here, laat my aan U vrae vra. Ek wil leer. Ek sal probeer verstaan. Maar as ek nie verstaan nie, dan sal ek nog steeds leerling bly.

Hoor u hoe die Here hier 'n totale oorwinning op Satan behaal?

Want nou blyk dat Job inderdaad God om niet wil dien.

Job soek nie meer eerherstel nie. Job wil ook nie eers sy gesin terug nie. Hy eis nie eers materiele blyke van God se guns voordat hy Hom weer sal aanbid nie.

Nee, Job doen boete oor sy brutale vrae terwyl hy nog op die ashoop sit en sy swere krap.

God het nie nodig om mense baie te gee om homself van hul liefde en aanbidding te verseker nie.

God kom enkel met sy openbaring en dit is voldoende om dissipels, om leerlinge te maak.

2. Job se vreugde oor die verskyning van die Here

" Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. "

Ons hoor hier die geesdrif van Job. Hy het God geken uit sy Woord. Ongetwyfeld het Job die verhale geken van die volk Israel wat deur die Here uit die land Egipte gelei is. Hy het God leer ken as die God wat sy kinders liefhet en na hulle node omsien.

Hy het in God geglo soos God in die Woord na hom toegekom het.

Maar nou het hy God gesien.

En dit is vir hom 'n geweldige ervaring. Hy put weer moed. Hy weet waar hy met sy God staan.

Nou kom by ons die vraag op, maar wat het Job dan eintlik gesien? Het hy werklik wel iets of iemand gesien?

Al wat ons in die boek Job kan vind is dat God twee keer die woord neem in 'n onweerstorm(sien 38: 1 en 40: 1).

Hierdie onweerstorm is 'n oorweldigende ervaring vir Job.

Met groot geweld openbaar God Hom aan Job. Met vernietigende geweld sou ons amper sê.

Maar dit is tog hierdie ervaring wat Job laat jubel. Nou het ek God gesien!

Job het God gesien in sy oorweldigende majesteit. En tegelykertyd in sy wonderlike genade.

God openbaar Hom met geweld. Maar daarin het Hy 'n woord vir Job.

Job het moontlik 'n tydlank gevoel asof die hemel toe is.

Hy het gehuil in sy ellende. Hy het gesmeek om uitkoms. Maar God het ver weg gelyk. God het geen enkele smeekbede verhoor nie. Asof Job teen 'n muur gepraat het.

Dit is nie dat hy sy geloof verloor het nie. Dit is ook nie dat hy in teleurstellling opgehou het om te bid nie. Hy het bly roep. Maar geen reaksie vanuit die hemel nie. Job moes alleen verder. Met net sy geloof. Sy geloof dat God wel sy ellende sien. Sy geloof dat God wel sy smeekbedes kan hoor.

En toe het daar tenslotte skielik reaksie gekom.

Het Job skielik genesing ontvang?

Het God vir hom gesê dat sy lydenstyd verby is?

Het God vir Job laat weet dat hy die toets skitterend geslaag het?

Nee niks van dit al.

Job is nog middein sy ellende.

En al wat God gedoen het is vanuit die hemel sy majesteit te bevestig.

Job, ek is God. En jy is mens. Wie is jy dat jy My ter verantwoording kan roep?

En daarvoor het Job gebuig. Hy het God gesien getuig hy self.

Hy het God gesien en hy verbly hom.

Hoor u wel gemeente, watter oorwinning God hier behaal?

Waarom dien Job God?

Omdat God hom tog tenslotte weer herstel het in sy vroeëre lewe?

Omdat God vir hom belowe om alles weer reg te stel?

Nee, niks van dit al nie.

God het homself slegs vertoon in sy majesteit.

En dit het Job al sy eerdere woorde van verset laat terugneem.

Hy het God geprys om wat hy mog sien van God.

Gemeente, ons moet ook leef by wat ons van God gehoor het.

Daarby dink ons dan veral aan die Woord van God wat gepredik word. Dit is die wyse wat God verkies het om Homself te openbaar.

Soms is daar in die geloof baie om te sien en baie om te ervaar. Maar dit kan ook ontsaglik donker raak in 'n mens se lewe. Dit kan so donker raak dat jy nog maar net 'n belofte oorhet.

Daarmee moet jy dit dan doen. Maar die belofte kan voldoende wees.

Want God het bewys dat Hy in staat is om mense staande te hou met net 'n belofte om aan vas te hou.

En deel van die belofte is altyd dat jy eendag met eie oë mag sien.

Dan is die tyd van hoorsê definitief verby. Dan mag jy sien wat jy geglo het. Dan mag jy met die hande tas wat jy in hoop op grond van God se belofte altyd verwag het.

3. Job verootmoedig hom onder die vermaning van die Here

Job het ingesien dat hy verkeerd was met sy kritiese vrae aan God. Hy het nie die reg om antwoorde te eis in sake wat verstand te bowe gaan.

Daarom herroep hy sy woorde.

Hy het berou oor wat hy aan die Here verwyt het.

Die mooie van hierdie skuldbelydenis is dat dit gedoen word terwyl Job se situasie nog altyd maar dieselfde is.

Hy doen berou in stof en as. Maar hy hoef die stof en as nie ver te soek nie. Hy sit nog steeds daarin.

Hy skaam hom oor wat hy gesê het.

Maar wat was dan so verkeerd in sy woorde?

Was dit dan so erg dat hy boete moet doen?

In aanmerking geneem Job se omstandighede, lyk vir my sy woorde en sy opstand teen God se leiding heeltemal vergeeflik.

Maar dit is nie teenoor mense wat Job belydenis doen nie. Dit is teenoor die Here.

Job voel dat hy die Here ernstig tekort gedoen het. Dat hy met sy woorde hom teen die Here verhef het.

Wat was dan die sonde van Job?

Dit was veral dit dat hy God se liefde betwyfel het.

In sy opstand teen God se leiding het hy uit die oog verloor dat God se liefde na sy kinders uitgaan.

Job het God nie verloën nie, maar het in sy verwyte aan God nie meer oor God gepraat as die God van liefde nie, maar as 'n willekeurige heerser wat sy mag misbruik om te speel met menselewens.

En daarmee het hy God gekrenk in sy liefde. God se hart het na Job uitgegaan, ook in die ellende waarin God self hom gebring het.

Ek weet dit klink vir ons na 'n onoplosbare teenstrydigheid. Hoe kan 'n God wat sy kinders liefhet hulle in sulke situasies laat kom?

Hoe kan 'n vader wat lief is vir sy kinders hulle tog in die vreeslikste ellende laat kom?

Die oplossing wat dan dikwels gegee word is dan: dit is nie God nie maar dit is die Satan wat iemand laat swaarkry. Dit is b. v. die Satan wat iemand laat siek word.

Dit lyk simpatiek. God kry dan nie meer die skuld van narigheid waarin mense kan kom, maar dit is maar die vraag of dit 'n mens verder help.

Want dan stel jy God en die Satan teenoor mekaar. Die goeie kom van God. Die kwaad kom van Satan. As jy uit jou probleme gehelp word dan was God die sterkste, maar as jy nie uitkoms kry nie, dan was blykbaar die Satan magtiger.

Daarmee is sommer die vertroue wat jy in God stel heen.

Dan is Hy nie meer die Almagtige nie.

Dan kan Hy nog wel met jou meevoel, maar as dinge regtig verkeerd loop, kan Hy ook niks daaraan doen nie.

Wat help so'n God?

Laat ons dan liewers vashou aan die God wat Hom openbaar as die God van wie se liefde ons nooit geskei kan word nie.

God het sy oneindige liefde vir ons geopenbaar deur vir ons sy seun Jesus Christus te gee.

Na hierdie geskenk hoef ons nooit meer daaraan te twyfel dat sy liefde werklik na ons uitgaan nie.

In daardie liefde is ons veilig. Ook al word ons lewe hoe ook geskok. Ook al het ons hoeveel vrae en twyfels.

Aan een ding hoef ons nooit te twyfel nie. God se liefde het in Jesus Christus verskyn en gee vir ons die lewe.

Dit is vir ons die lig in 'n wêreld vol duisternis en donkerheid.

Job het nie vir Jesus Christus geken nie. Hy het nog niks daarvan geweet nie. Maar hy het wel verstaan dat jy alleen maar reg van God kan praat en dink as jy Hom sien as 'n God vol liefde en genade.

Aan daardie liefde en genade vertrou Job homself tenslotte toe.

En daarmee is die oorwinning oor Satan definitief.

Ons het nou genoeg gesien en gehoor uit die boek Job om te besef dat dit nie net Job se oorwinning is nie, maar dat dit veelmeer God se oorwinning is.

Hy het Job staande gehou in 'n bitter moeilike situasie.

Satan het God se werk in Job nie kon breek nie.

En dit gee vir ons goeie moed.

Dit gee vir ons ook 'n aansporing. Namelik om by onsself voortdurend op te let of ons onself wel laat voed vanuit die regte bron.

Die regte bron is dat ons steeds weer terugkeer na die liefde van God soos Hy dit eens vir altyd in Jesus Christus bewys het.

Wie daaruit leef sal in sy probleme steeds weer regkom.

Sy vrae sal tot rus kom. En daarvoor kom vertroue in die plek. Vertroue in die God wat hemel en aarde op onnavolgbare wyse gemaak het.

Vertroue in God wat in sy liefde sy seun Jesus Christus gegee het.

Vertroue dat die God ook my lewe lei en regeer. Sodat vir my net oorbly om Hom te eer en te dien.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)