Salomo se gelowige gebed by die wyding van die tempel

Minister: 
Ds FJ van Hulst
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
I Konings 8
Preek Inhoud: 

Ps. 42: 1, 3
Ps. 42: 5, 7
Ps. 122
Ps. 115: 1, 2, 3
Ps. 115: 7, 9
Lees: 1 Kon. 8: 12 - 40
Teks: 1 Kon. 8: 27 - 29

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus.

Ons leef in 'n tyd van allerhande krisisse. Een van die krisisse is ongetwyfeld die krisis van die gebed. Die moderne lewensgevoel kan vir 'n gebed net nie 'n plek kry nie. Is daar wel 'n God in die hemel of op die aarde? En as jy die vraag nog met ja wil beantwoord, waar kry jy Hom? En is die God wel bereid en in staat om na stemme van individue te luister? En wie sal bewys dat so 'n gebed jou werklik sal help?

Met al die vrae kan ons ook besig wees. Ook al bid ons, dan nog kan ons die gevoel hê, dat God baie ver weg is.

En ons kan ook nie bewys dat ons gebed werklik sinvol is nie. Natuurlik kan ons ons getroos of opgelug voel deur 'n gebed, maar dit is darem nog nie 'n bewys dat God ons gebed gehoor het, en Hy 'n aksie onderneem het om ons te help nie.

Nee, bewyse met betrekking tot die gebed, kan ons nie lewer nie, dit bly altyd maar 'n saak van geloof. Ons glo daar is 'n God in die hemel. Ons glo, Hy het belowe om na ons te luister, en daarom glo ons, dit help om te bid.

Op hierdie punt kan ons die gedagte hê: Die Israeliete het dit darem maar makliker gehad. Die Here het hulle baie meer naby gekom. In die tempel kry hulle 'n plek waar die Here sigbaar op die aarde woon. Die offers wat jy bring is so tasbaar, dat dit 'n geweldige steun beteken vir die gelowige Israeliet.

In vergelyking daarmee het ons as Nieu-Testamentiese gelowiges tog baie minder.

Wat sien ons nou van God se aanwesigheid?

En van ons gebed, ons moet maar aanvaar, die Here hoor dit.

Maar tog broeders en susters, moet ons hier nie miskyk nie.

As ons goed luister na die gebed wat Salomo uitspreek by die inwyding van die tempel, dan moet ons hoor dat ook daar, voor alles, dit 'n saak van geloof is. Geloof in God se beloftes.

Dis waar, as sodanig is die tempel 'n sigbare ding.

Maar ook vir Israel is daar geloof nodig om in die gebou die huis van God te sien.

In die tempel kan 'n mens bid. Maar wat dit tot 'n bedehuis maak, is weer net die belofte van God dat Hy die gelowige bidder wil verhoor.

SALOMO SE GELOWIGE GEBED BY DIE WYDING VAN DIE TEMPEL.

Ons let op:

  1. Die tempel is 'n gebrekkige woonhuis vanweë God se majesteit.
  2. Die tempel is 'n geskikte bedehuis vanweë God se beloftes.

Met die verhaal van ons tekshoofstuk, gemeente, staan ons by een van die grootste oomblikke in die geskiedenis van die volk Israel.

Eindelik is dit sover. Die volk mag 'n tempel vir die Here bou.

Nou is daar 'n sentrale plek waar die diens aan die Here tot 'n hoogtepunt kom.

Hierdie tempel sal vir eeue lank die belangrikste plek vir die volk van die Here wees. Daar word die offers vir die Here gebring. Daar word die seën van die Here uitgedeel. Daar kan jy as enkeling en as volk na toe gaan, om jou vreugdes en jou sorge voor die aangesig van die Here te bring.

'n Mens moet maar net 'n slag die boek van die Psalms deurkyk om te besef hoe baie die tempel op Sion vir die Israeliet beteken. Dink aan Ps. 43: Dan gaan ek op tot Gods altare, of Ps 84, of die talle pelgringsliedere.

Al die Psalms wat die heerlikheid van Jerusalem en sy tempel besing, vind hulle bron in die vaste oortuiging: Daar woon die Here Self.

Die Here het nou 'n vaste plek van vestiging onder ons.

Natuurlik, vroeër was die Here ook wel daar, byvoorbeeld in die tabernakel, maar alles rondom die tabernakel het tog die tydelike karakter daarvan beklemtoon. Alles is so gemaak dat 'n mens vinnig die materiale bymekaar kan neem en verder trek.

Maar by die tempel is dit heeltemal anders. Dit is gebou van massiewe gekapte klippe, afgewerk met sederhout. Ook die gebruiksvoorwerpe in die tempel was almal groter en swaarder. Kortom, alles in die tempel het getuig van die definitiewe, die blywende.

Van nou af sal die Here blywend onder hulle woon. Die land is nou ons eie, en ook die Here het nou hier Sy vaste plek.

Nou kan by ons die vraag opkom, broeders en susters, was dit nou eintlik nie 'n bietjie 'n heidense gedagte by Israel nie? Steek in die begeerte na 'n eie tempel nie 'n stukkie wêreldgelykvormigheid nie? Die heidenvolke rondom het ook hul tempels gehad wat na bewering die woonplek van hul god was.

En nou wil Israel dit ook. Onthou: so het hulle ook 'n eie koning begeer!

Maar tog, en dit is belangrik om dit nou vas te stel, so het dit nie gegaan nie. Hulle het nie op eie houtjie 'n tempelbou begin nie. Israel is al 'n hele paar eeue in die land, sonder dat daar 'n sentrale tempel is.

Josua, die leier van die intog, het nie 'n tempel vir die Here gebou nie. Ook die tyd van die Rigters gaan verby sonder tempelbou.

Koning Saul het geen planne in daardie rigting gehad nie.

Eers by Dawid verneem ons iets van bouplanne vir 'n tempel.

Maar as Dawid sy planne deur middel van die profeet Natan aan die Here voorlê, wys die Here dit af. Dawid mag nie 'n tempel bou nie.

En dit is tog wel opmerklik, omdat die Here in sy wet lankal oor een sentrale plek vir die erediens gepraat het.

Pas Dawid se seun, Salomo, ontvang toestemming om vir die Here 'n tempel te bou.

Wat ons uit hierdie gang van sake kan vasstel, is dit: Die tempelbou is nie 'n aksie van die volk nie. Nog is dit 'n aksie van die koning. Dawid byvoorbeeld, het 'n plan en ook die middele gehad, maar hy mag nie. Nee, die Here Self bepaal die tydstip.

God is Self die inisiatienemer met betrekking tot die tempelbou.

En hier is 'n belangrike verskil met tempelbou onder ander volke.

Hulle bou self 'n tempel. Hulle stel self priesters aan en begin 'n offerdiens. Dit alles het by die heidene die bedoeling om God na hul toe te trek. Om hom vas te hou. Om hulle van die hulp van hul god te verseker.

Maar in Israel is dit volkome anders. God kom uit eie beweging na hulle toe. Hy laat vir Hom 'n tempel bou.

Salomo is hom van dit alles baie bewus. Dit blyk uit sy gebed by die inwyding van die tempel. Hy herinner aan Dawid se planne, en God se afwysing daarvan. Tewens herinner hy aan die belofte dat Dawid se seun die tempel moet bou.

Maar nou is dit sover. Die tempel is klaar.

Koning Salomo lewer self die openingstoespraak. Ook gaan hy self voor in gebed. Ook dit is 'n opmerklike gegewe van ons teks.

Nie 'n priester of hoëpriester gaan voor in gebed nie. Ook is daar nie 'n profeet genooi om die opening te verrig nie, maar die Koning doen dit self!

Dit is meer as net 'n eerbewys aan die man wat die finansiële middele verskaf het.

Hier tree Salomo op as 'n werklik teokratiese vors.

Hy is meer as net 'n staatsman. Hy is die voorganger wat sy volk voorgaan in die diens van die Here.

So sal dit in Israel moet gaan. 'n Koning wat waak vir die geestelike gesondheid van sy volk. 'n Koning moet 'n goeie voorbeeld gee. Dan sal dit goedgaan in die land. Dan kan ook die wonderlike beloftes in vervulling gaan, wat God vir Dawid belowe het.

In hierdie gebed staan Salomo duidelik op daardie vlak. Hier betoon hy hom die ware Seun van Dawid.

Tussen hakies, dit is ook die tema van hierdie Boeke Konings: Hoe gaan die seuns van Dawid om met die geestelike erfenis (wat ook die politieke erfenis insluit) van hul vader Dawid?

Wel, Salomo staan hier op dieselfde geestelike vlak soos Dawid. En daarom kan hy hier ook bid: Here laat nou tog U Woord waargemaak word, wat U gespreek het tot U kneg, my vader Dawid.

Maar nou hy sover is, kom daar opeens 'n kritiese vraag by hom op: Sou God werklik op die aarde woon?

Dit is hier 'n baie belangrike vraag, broeders en susters.

Die vraag: wat doen ons hier eintlik as volk van Israel? Ons het nou 'n tempel gemaak. Maar kan dit eintlik wel? Wat wil ons daarmee? Sal die Almagtige God van hemel en aarde wel ooit in so 'n menslike bouwerk kan woon?

'n Belangrike vraag. Maar ook wel 'n vreemde vraag. In elk geval, op hierdie oomblik, nou dat die tempel klaar is. Dit wil voorkom dat die vraag 'n bietjie laat gestel word.

Sou God werklik op die aarde woon? En dan nog wel in so 'n menslike bouwerk?

Tog is dit goed dat op hierdie oomblik die vraag aan die orde kom. Wat maak ons met so 'n tempel as woonhuis vir die Here?

Met hierdie vraag dwing Salomo homself en die volk wat toeluister, om na te dink oor die betekenis van die tempel.

O seker, dit is 'n woonhuis vir die Here. Maar ons mag nie dink dat God in die tempel pas nie. In Sy Hemelse Majesteit is Hy daar ver bo verhewe. Hy sal Hom ook seker nie in daardie tempel laat opsluit nie.

Sou God werklik op die aarde woon? Deur hierdie vraag maak Salomo duidelik dat spreke oor die tempel as 'n woonhuis van God, altyd maar 'n betreklike spreke is.

Selfs die hoogste hemel kan Hom nie bevat nie.

God gaan mos ver bo Sy Skepping uit.

Ons moenie dink dat ons op watter manier ook al, God die Skepping kan binnetrek nie.

Hoe pragtig die tempelgebou ook is, en watter grootse oomblik die tempelinwyding in Salomo se lewe is, 'n mens kan met so 'n tempel ook 'n verkeerde kant op. Naamlik as jy dink dat jy nou God wel aan Sy tempel kan bind. Dat jy Hom daarin kan opsluit. Dit is heidens. Dit is afgodery.

Met 'God opsluit in Sy tempel' bedoel ek dit. Dan word gesê: Ons het ons God. Hy bly in die tempel. En dus.. is ons outomaties van Sy hulp verseker. God moet ons help.

Ons het Hom in die tempel en daarom kan die tempel en die tempelstad nooit verlore gaan nie.

In die verder geskiedenis blyk dat Israel (met sy konings!) wel daardie rigting uitgegaan het. Met ons kan niks gebeur nie.

Ons het mos die tempel!

Teen daardie instelling het 'n profeet soos Jeremia streng opgetree: watter spreke is dit? Die tempel van die Here, die tempel van die Here is dit! As julle aangaan met jul sondes, sal die tempel met julle vergaan.

Wel hierdie gevaar word deur Salomo by voorbaat gewys.

Dat God in die tempel wil woon, dit is genade, maar God is oneindig baie groter. Hy sal Hom hier nie laat opsluit nie.

Dat Hy in Sy genade hier wil woon, geld maar net solank die volk gehoorsaam en gelowig vir Hom lewe!

Hierdie waarskuwing geld ook vir ons, broeders en susters, seuns en dogters.

Ons het wel nie 'n tempel nie, maar ook ons het ons spesiale plekke waar ons met ons God omgaan. In die kerk, of by die huis, by Skriflesing en gebed, of op die verenigings wanneer ons God se Woord bestudeer. Maar ons mag dit nooit isoleer van ons lewe nie.

Ons mag nooit 'n skeiding maak in oomblikke wat ons spesiaal bestee aan godsdiens of godsdienstigheid en daarteenoor die res van ons tyd waarmee God dan niks te make het nie.

Dan het ons God weggesluit in 'n hoekie van ons bestaan.

En dit is onmoontlik. God laat Hom nie wegsluit vir spesiale geleenthede, waaruit ons Hom dan weer te voorskyn kan haal as dit ons pas nie.

Wanneer ons ons hele lewe nie laat stel onder die lig van God se teenwoordigheid nie, dan is ook ons oomblikke van godsdienstigheid net so leeg soos eendag die tempel van die Jode geword het.

2. Die tempel is geskik as 'n bedehuis vanweë God se beloftes.

Ons het gehoor hoe Salomo by die inwyding van die tempel 'n kritiese vraag vra: Sou God werklik op die aarde woon? So op die eerste oog wil dit voorkom dat die vraag taamlik gelyk is aan die vraag wat vandag deur 'n tywfelende christenheid gestel word.

Dit is 'n moderne vraag: Waar is God? Waar kan 'n mens Hom vind? In die hemel? Maar dit is vir bewoners van hierdie aarde te ver en te onwesenlik. Op aarde? Maar waar dan? Die moderne teologie wil ons voorhou: Jy kan God vind in jou medemens.

Maar hoe sal 'n mens tot so 'n God kan bid?

As daar al 'n God is, dan is Hy nie bereikbaar nie.

Die gevolgtrekking is: dan kan 'n mens maar beter nie bid nie.

Maar dit is nie Salomo se antwoord op die vraag nie!

Salomo is bewus dat God die ruimte van die tempel ver te buite gaan. Selfs die hoogste hemel kan U nie bevat nie.

Maar sy gevolgtrekking is dan: Wend U dan tot die gebed van u kneg en tot sy smekinge Here my God. Die vasstelling dat God te groot is om in 'n tempel te woon, bring Salomo tot 'n intensivering van sy gebed.

Hier praat Salomo as 'n gelowige. Hoor na my gebed op hierdie plek. Salomo weet baie dat die tempel self nie 'n outomatiese garansie is vir die aanwesigheid van God met 'n luisterende oor nie.

Maar tog kan die tempel 'n bedehuis wees.

Waarom? Wel, omdat God dit Self belowe het. Waarom is dit moontlik om te bid?

Dis nie dat 'n mens so luid kan roep dat hy God kan bereik nie. Dis ook nie dat God hom kan laat ontbied op enige oomblik dat ons vir Hom nodig het nie.

Nee, dit is enkel moontlik om te bid vanweë God se eie beloftes. Op die belofte pleit Salomo hier in sy voorbidding.

As daar nie so 'n belofte was nie, dan kan 'n mens 'n hele ry tempels en bedehuise optrek, maar dit alles gaan nie help nie. As God nie 'n belofte van verhoring gegee het nie, dan kan 'n mens skree na die hemel so hard hy wil, maar dit bring geen hulp nie.

Maar met betrekking tot hierdie tempel het God self 'n belofte gedoen, en daarop pleit Salomo hier: Here U het Self gesê: My Naam sal daar wees!

God woon in daardie tempel met Sy Naam!

Dit is 'n pragtige uitdrukking. Dat God met Sy Naam daar is, beteken dat die Here daar aanspreekbaar is.

In die Naam stel die Here Homself ter beskikking van Sy volk. U onthou nog wat die Naam van die Here is: JAHWE. EK IS WAT EK IS.

Dit beteken: Ek sal in My dade wys wie Ek is.

Ek is die God wat Sy beloftes waarmaak. Dit is My Naam en so is Ek.

Wel as God nou met Sy Naam in die tempel wil wees, dan beteken dit dat Hy daar wil gee wat Hy het om te gee.

Aan Sy Naam mag 'n mens God hou, want Hy hou Homself daaraan. Op daardie belofte beroep Salomo hom.

Here U het gesê: U Naam is hier. En Here U Naam is: U is die God wat sondes vergewe. Here doen dit nou ook as u volk in U bedehuis kom.

In die vervolg van sy gebed noem Salomo 'n hele paar situasies wat daar kan kom. Oorlog, hongersnood, onreg - veroorsaak deur eie sondes van die volk. Here as U Volk dan met belydenis van skuld kom, handel dan na U Naam en hoor in die hemel na wat hulle vra.

Dus nogmaals: Die Naam van God, is God soos Hy Homself openbaar aan Sy Volk as 'n God van liefde, van trou, van barmhartigheid en genade.

So het ook ons vir die Here leer ken, en so mag ons Hom ook aanroep. Want ons het dieselfde belofte dat God se Naam by ons woon. Immers, die rykste openbaring van God se Naam is gegee in die koms van Jesus Christus, God se Seun.

In Hom blyk eers regtig hoe groot die Naam van God wel is. In vergelyking daarmee is die rykdom in die openbaring van God se Naam in die tempel nog maar gering.

Die Here Jesus sê van Homself: Meer as die tempel is hier.

In Hom, in Jesus Christus is God ons nog meer naby as in die ou tempel. Hy is die ware Immanuel: God met ons.

Die ou tempel het verdwyn omdat die Naam van Jesus Christus die plek van die tempel ingeneem het.

Wel, in Sy Naam mag ons tot die Vader gaan. En dan hoef 'n mens nie te twyfel of God jou wel hoor nie. Of God wel aanwesig is nie. Hy is daar Met Sy Naam. Nie net op een plekkie op die aarde nie, maar oor die hele wêreld. Jy kan dit nie sien nie. Ewemin bewys nie.

Dit kan 'n mens maar net glo. Op grond waarvan?

Wel op grond van Christus se eie belofte!

Waar twee of drie in My Naam bymekaar is, daar is Ek in hul midde. Die enigste garansie vir verhoring van ons gebed lê in Sy Naam, in Sy belofte. Wie meer vra as net daardie Naam, hy ontvang minder.

Wie wil probeer om God vas te lê binne die ruimte van ons aardse werklikheid, hy sal God nie vind nie.

Maar wie vertrouend op Sy beloftes, die Here soek, hy sal God vind.

Die beloftes kry ons maar net in God se Woord.

Wie van daardie Woord afdoen, as sou dit slegs 'n mensewoord wees, hy sal ook die God van die Woord verloor.

En dan verloor jy ook die moontlikheid om te bid.

Maar wie vir die Here leer ken het, as die God wat Sy beloftes waarmaak (So is Sy Naam!), hy mag die Here ook ontmoet in die gebed.

Wie die Bybel toesluit, hy vind ook die gebedspoort tot God gesluit.

Dus weet ons nou wat ons moet doen.

Ken die Here. Leer vir Hom uit Sy Woord.

Dan kan ons ook met Hom omgaan in die gebed.

Dan eers word 'n menselewe ryk.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)